Jesus die Prediker in Sy tuisdorp

Minister: 
br Jakob Mars tydens internskap in Kaapstad
Church: 
Kaapstad
Date: 
2025-05-18
Text: 
Lukas 4:14-30
Reference: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

In ons vorige preek het ons gekyk na Jesus se geslagsregister

  • hoe Jesus se afkoms lig skyn op sy taak en missie om mense van alle volke, nasies en tale te red

en sy doop

  • Hoe God Jesus afgevaardig en toegerus het vir hierdie taak en missie deur die Heilige Gees.

In die teks wat daarop volg (wat Dominee Bruintjes gepreek het) het ons gesien dat die eerste ding wat Jesus doen nadat hy die amptelike afvaardiging en toerusting van God ontvang het, is om in die woestyn in te gaan en die versoeking van die duiwel te weerstaan.

Nou, met vanoggend se teks kon ons eintlik met ‘n nuwe hoofstuk begin het. (u sal weet dat die hoofstuk en teks verdeling van die Bybel later bygekom het)

En hoekom ek sê dat ons eintlik ‘n nuwe hoofstuk kon begin - is omdat al die agtergrond informasie; nou afgehandel is, en die res Lukas - Jesus se hele bediening - volg nou; baie mooi opgedeel; in twee blokke:

  • Hoofstuk 4:14 - 9:50 is Jesus se bediening in Galilea - in die noorde van Israel - die provinsie waar hy opgegroei het
  • En hoofstuk 9:51 tot die einde is Jesus se bediening terwyl hy doelbewus op pad is na Jerusalem in die suide om daar gekruisig te word.

Dus in vanoggend se teks, kom Jesus uit die woestyn uit, en gaan Galilea in, in die krag van die Gees wat op hom neergedaal het, en hy begin sy bediening in sy tuis provinsie.
Meer spesifiek - ons sien Jesus in sy tuis dorp - Nasaret.

En die aspek van Jesus se bediening wat Lukas heel eerste beklemtoon is Jesus se prediking. Nog voordat hy praat van enige bonatuurlike wonderwerk of genesing, word die kollig heel eerste geskyn op Jesus as verkondiger van die evangelie - die goeie nuus.

Dus die tema vir vanoggend se preek is 

 

Jesus die Prediker in Sy tuisdorp.

  1.  sy prediking ontlok belangstelling
  2.  sy prediking ontlok verwerping

 

 1) sy prediking ontlok belangstelling

In ons teks vanoggend sien ons dat Jesus met ‘n reputasie in Nasaret inkom.

Lukas beweeg redelik vlugtig deur hierdie brokkie inligting, omdat Hy ons aandag in Nasaret wil vestig en sodoende die toon stel waarmee Jesus se prediking in die res van die evangelie ontvang sal word.
Maar dis belangrik om op te let dat Nasaret nie die eerste dorp is wat Jesus in Galilea besoek nie.
In vers 14 en 15 lees ons baie kortliks dat Jesus reeds in verskeie sinagoges in die area geleer het, en dat daar ‘n gerug aangaande hom versprei het deur die hele gebied.

Sommige verklaarde bereken dat Jesus moontlik al ‘n jaar in Galilea werksaam was vóór hy sy eie dorp besoek het. In die ander evangelies sien ons bv. dat dat eintlik al heelwat dinge gebeur het voor Nasaret.
Hy het reeds baie gepreek, siektes genees, en demone uitgedryf.

Sy heel eerste wonder, (waar hy water in wyn verander het,) het ook by die pad af in buur-dorpie Kana plaasgevind. Net 7km verder.

Hy was dus al op verskeie plekke, en Sy reputasie was besig om te groei.
(Moontlik het hulle ook gehoor van wat Johannes die Doper oor Jesus getuig het, hoe die hemel oopgeskeur het met die stem van God en die Gees wat op Hom neergedaal het.)

In vers 16 kom Jesus nou uiteindelik by dorpie waar hy opgevoed was. En op die Sabbatdag gaan hy die sinagoge in.
Nou is dit nie die groot punt wat die teks wil maak nie, maar ek dink dis pragtig hoe die teks noem dat dit Jesus se gewoonte was om na die sinagoge te gaan.
Want as daar al ooit iemand was wat kon redeneer dat dit meer opbouend vir sy geloof en sy verstaan van die Skrifte sou wees om op die Sabbat eenkant met sy Bybel te sit, dit self te interpreteer en tyd in gebed deur te bring, liewers as om saam met gebroke mense onder die prediking van gebroke te sit - dan was dit Jesus.

Maar as kerkgang vir Jesus, die sondelose Seun van God, belangrik was, hoeveel te meer sal dit nie vir ons belangrik moet wees om nie ons onderlinge byeenkomste te versuim, en om onder die prediking van God se Woord te sit nie?
Maar dis net terloops - want Jesus het hierdie dag nie gekom om te luister nie, maar om in die sinagoge te leer.

Die sinagoge is iets wat waarskynlik ‘n paar 100 jaar voor Christus gedurende die Babiloniese ballingskap ontwikkel het - nadat die tempel verwoes was.
Die woord “sinagoge” beteken letterlik “samekoms” of “vergadering” - wat dui op wyse waarop die gemeenskap bymekaargekom het om die Here te aanbid.

Aanbidding in die sinagoge was redelik parallel met wat ons vandag nog steeds in ons eredienste doen.  (nie heeltemal dieselfde nie.)
Die diens het bv. bestaan uit

  • die Shema wat opgesê is (“Hoor, Israel, Yahweh onse God is een. Daarom moet jy die Yahweh jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. ens.)
  • dan is daar gebid
  • die Bybel is gelees - in ‘n staande posisie; (tipies eers ‘n gedeelte uit die boeke van Moses en dan uit die profete)
  • die prediker het gaan sit om te preek, - die Skrif uit-te-lê en toe-te-pas.
  • daar is ook gesing
  • en die seën is uitgespreek

In daardie tyd was dit ook algemeen dat ‘n sinagoge gas-predikers sou uitnooi om die Woord te lees en uit-te-lê.
(‘n Gewoonte wat dit maklik gemaak het vir Jesus, en later ook mense soos Paulus - om die evangelie wyd en syd te verkondig.)

So ons kan onsself indink dat die mense van Nasaret te hore gekom het dat Jesus, wie hier opgegroei het en elders besig was om baie bekend te word, terug in Nasaret is. So hulle het hom (wat amper nou ‘n local celebrity is) gevra om hier ook te preek.

In vers 16 is Jesus dan in die sinagoge, hy gaan staan om te lees, en in vers 17 word die boekrol van die profeet Jesaja aan Hom oorhandig. En dan blaai Jesus doelbewus na ‘n baie spesifieke plek: Jesaja 61 - ‘n gedeelte waar die Kneg van die Here - die Messias, praat.

  • net weer baie vinnig terloops - hier sien ons hoe ongelooflik vertroud Jesus met die Bybel was. As ek vandag vir u vra: waar staan die psalm: “die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie” dan sê u dalk - dis psalm 23 en blaai gou vinnig daarheen. Om Psalm 23 te vind hoef ons bv. nie te weet wat in Psalm 28 staan en hoe vêr dit daarvoor of daarna hoort nie.
    Maar die Bybel wat Jesus voor hom gehad het nie hoofstukke of verse gehad nie, so om die skrifgedeelte te vind wat hy gesoek het moes hy presies weet waar dit staan, en wat in die gedeeltes daarvóór en daarná staan!

In elk geval - Jesus vind die plek in Jesaja 61 en hy lees:

Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;
om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Hy gee die boekrol terug aan die dienaar, Hy gaan sit om te begin preek,
en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.” vers 20.

Ons kan onsself die intensiteit van daardie moment indink.
‘n Doodse stilte. So stil dat jy ‘n speld kon hoor val.

Die mense sit gefokus. Hulle het die gerugte aangaande hierdie man gehoor. Hulle het gerugte gehoor van sy gesag volle prediking en insigte in God se Woord. Gerugte dat God kragtig met Hom is. Hulle het gehoor van ongelooflike wonderwerke. Selfs gerugte dat Hy dalk die Messias is waarop hulle wag.
Maar hulle ken hierdie man.
Hulle het hom sien opgroei
sien speel in die strate
sien werk in sy pa se werkswinkel.
dalk het sommige van hulle selfs ‘n tafel of ‘n stoel by Hom gekoop.

Is dit waar wat ons hoor van hierdie man wie ons so goed ken? Of nie?
So hulle luister aandagtig. Wat gaan hy sê as Hy Sy mond oopmaak?

Dan sê Jesus (vers 21): “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.
Dis Skokkend. revolusionêr.
In geen onsekere terme identifiseer die man wie hulle ken Homself met die Kneg van die Here, met die Messias, in Jesaja.

Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.
Ek is die beloofde Messias. Die gesalfde van God wie gekom het om die goeie nuus aan die armes te verkondig.
Ek het gekom om vryheid aan die onderdruktes te gee
Om sig aan blindes te herstel
Om gebroke harte te genees
Ek het gekom om die aangename jaar van die Here aan te kondig - die jubeljaar. Die jaar waarin alle skuld vrygeskeld word - dit is hier. En nou.
Ek bring die vryheid wat alle vryheid oortref. Die tyd van heil en verlossing het aangebreek! In My!

-----------------

Seker die mees verbasende vers in ons teks is die vers wat hierop volg - vers 22.
En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie?”

Hoe moet ons hierdie positiewe reaksie van die mense op Jesus se preek verstaan? Veral in die lig van Jesus se duidelike identifikasie so pas as die Messias, en die negatiewe reaksie wat ons weet gaan spoedig hierop volg?

Sommige verklaarders meen dat die positiewe reaksie gaan net oor Jesus se retoriek, die manier waarop Hy gepreek het. Jesus het met soveel innerlike oortuiging en gesag die Woord van God uitgelê, dat dit soos ‘n vars briesie vir sy ou kennisse was.

Maar die feit dat die mense van Nasaret gemeen het dat Jesus se woorde aangenaam was (letterlik gevul met genade) - moet tog daarop dui dat hulle bereid was sy woorde te aanvaar. Selfs dat Hy die Messias is.

Hulle stel belang in sy boodskap.
Wie sou nie wil hê dat die blindes in die dorp se oë geopen word nie? Dat die armes uit hulle armoede opgelig word? Dat die juk van die Romeinse onderdrukkers vir eens en vir altyd van hulle skouers afgegooi sou word, dat die tyd van ewige vrede aangebreek het?

Natuurlik stel ons belang. Dis selfs fine dat jy ons in hierdie tyd inneem, Jesus.

Maar ons ken jou. Jy - die (heel moontlik) buite-egtelike seun van Josef. Ons weet uit watse gesin jy kom - uit watse agter hoekie van Nasaret.
Ons stel wel belang in alles wat jy sê, maar voor ons heeltemal op hierdie wa klim, gaan jy jouself eers maar moet bewys.

En dit bring ons by die tweede punt.

 2) sy prediking ontlok verwerping

Dat Jesus die harte van mense kan lees, is ‘n tema wat gereeld in Lukas na vore kom.
In ons teks vanoggend sien ons dit vir die eerste keer.

Jesus weet presies wat op daardie oomblik deur die mense se gedagtes gaan.

Vers 23 - sekerlik sal julle vir my sê: “Geneesheer, genees uself!

Dit beteken iets soos - vat maar eers van jou eie medisyne voor ek dit vat. ek wil eers sien dat dit werk. “Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook.”
Ek wil eers sien.

Heel aan die einde van Lukas hoor ons ‘n ego van hierdie ingesteldheid - terwyl Jesus aan die kruis hang bespot hulle hom en sê: “Ander het Hy verlos; laat Hy Homself [nou maar] verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is.

Kom nou! Sit die proof in die pudding! Jy het nou baie gepraat, nou wys vir ons die goedere! Dan sal ons glo dat jy die ware Jakob is.

U sien: al stel die mense van Nasaret belang, wil eers sien, en dan glo.

-------

Maar dan sê Jesus: “Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie.
En dan vertel Jesus twee verhale uit die OT - Elía met die weduwee van Sarfat in Sidon, en Elísa met Naäman, die Siriër.

En hierdie woorde vul die sinagoge met woede. Hulle oorspronklike positiewe reaksie verander, in n oogwink, in wraak.

Wat is dit van hierdie verhale wat die Nasareners so bitterlik omgekrap het?

---------------

In die eerste plek moet Jesus se woorde gesien word in die lig van mense se verkeerde verstaan van die evangelie. Hulle is op soek na iets uiterlik. “Die wonders wat jy daar gedoen het - doen dit hier ook.”

Nou, die twee voorbeelde wat Jesus gebruik speel af in ‘n laagtepunt in Israel se geskiedenis. ‘n Tyd van verskriklike sonde en afvalligheid van God se verbond. Die probleem wat Israel toe gehad het was nie uiterlik (die hongersnood) nie, maar sonde - daarom het God sy seën van sy volk onttrek.

So met Jesus se weiering om in te gee tot die mense se eis om ‘n teken, maak Hy dit duidelik dat Hy nie in die eerste plek gekom om mense uiterlik, van hulle siektes en kwale, te genees nie.

Hy doen dit, ja, en deur die hele evangelie van Lukas het Hy ongetwyfeld ‘n diepe besorgdheid oor mense wat tot die rand van die samelewing uitgestoot is, onderdruk word en aan allerhande kwale lei; -
maar die primêre fokus van die evangelie wat Christus verkondig is vryheid van sonde. Om harte, wat gebroke is deur sonde, te genees. Om oë wat blind is deur sonde, te open. Dat mense hulle God mag aanskou en vertroosting in Sy arms mag vind.

Dis die evangelie. Definitief vir mense wat regtig arm is, maar in die eerste plek vir mense wat arm van gees is. Wie hulle eintlike kondisie en nood ken.

Dus het die mense ‘n verkeerde verstaan van die evangelie. Maar In die tweede plek maak Jesus dit duidelik: begeer jy die evangelie? Begeer jy dat jou gebroke hart deur God vertroos word? Moet Hom dan nie versoek dat Hy Hom moet bewys deur ‘n wonder nie.

Besef eers jou nood. Glo sy beloftes. En dan sal jy Sy verlossing smaak.

Dis wat ons sien in beide die voorbeelde wat Jesus gebruik.

Die weduwee van Sarfat se kos was op, sy het haar laaste meel in ‘n brood gebak waarna sy en haar seun sou sterf. Maar die HERE, die God van Israel het deur Elia het belowe, as sy eers vir Elia laat eet, en dan sou haar olie en meel nie opraak nie. Dit het sy gedoen. Eers geglo, en toe het God Homself getrou bewys.

Die selfde geld vir Naäman. Hy moes eers sewe maal in die Jordaan bad, eers glo, en toe het Hy genesing gesien.

Die punt is dit: Nasareners - Glo eers, en God sal homself getrou bewys aan die wat Hom soek. Hy sê eintlik: in hierdie opsig is julle meer ongelowig as melaatses van Sirië en weduwees van Sidon.

En in die derde plek is dit waardevol om mooi op te let wie hierdie twee mense was. Beide die weduwee van Sarfat en Naäman die Siriër, was heidene.
Toe God se volk Hom verwerp het, het Hy sy knegte gestuur na heidene.
Dus as Nasaret, Jesus se tuisdorp, Hom verwerp, dan sal Hy ook uitgaan na ander. Na ‘n ander dorp, maar uiteindelik selfs na die heidene.
En dit kon die Nasareners nie vat nie.

Dit is ook presies wat ons later in Handelinge 13 by die Jode in Antiochië sien. Paulus sê vir hulle: “Aangesien julle [die evangelie] … verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie — kyk, ons wend ons tot die heidene.”
En dan skop hulle Paulus en Barnabas uit die stad uit.

Die mense van Nasaret het egter ‘n veel erger straf vir Jesus in gedagte gehad, as net by die stad uitdryf. Vers 29
In hul woede dryf hulle Hom uit die stad uit in, en hulle bring Hom tot by ‘n krans om Hom daar af te gooi. Hulle wil Hom vermoor.

Maar, hetsy deur ‘n bonatuurlike ingryping van God, of wat dan ook - die teks verduidelik nie presies hoe dit gewerk het nie - maar Jesus is in staat om gewoon tussen hulle deur te loop, en hierdie dood te ontsnap.

Hy sou nie vandag, op hierdie plek, en op hierdie manier sterf nie.
Ja, Hy sou deur die hand van sy eie mense sterf, maar eers later, wanneer sy bediening volbring is en Hy alles gedoen het wat die Vader hom gegee het om te doen, op Golgota aan ‘n kruis, en op Sy eie outoriteit.
Tot vergifnis van die einste mense wat Hom aan die kruis gespyker het.

Eers dan sou Hy sterf.
Nou loop Hy deur die mense heen, en ons teks sluit af met daardie hartroerende woorde - Hy het weggegaan.

Daar is geen rekord dat Jesus ooit weer na Sy tuisdorp teruggekeer nie. Hierdie dorpie wat Hom eens sien grootword het, kon Hom nie aanvaar as hulle Messias nie, en Hy is daar weg.

Maar as gevolg van hulle verwerping, en uiteindelik die verwerping deur die Jode as ‘n geheel, mag u, geliefde gemeente, vandag aan die suidpunt van Afrika die evangelie van Christus aanhoor.

Dus, laat ons onsself afvra.

Wat maak ons met die evangelie?

Want dit is nie vanselfsprekend dat heidene die evangelie van Christus makliker sal aanvaar as Jode nie.

Paulus sê in 1 Korintiërs 1: die Jode vra 'n teken (soos ons ook in ons teks gesien het) en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, 'n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.

Boonop - waar die evangelie van Lukas die verwerping van Christus deur sy eie volk beklemtoon, sien ons in Handelinge ook die verwerping van Christus deur baie heidene - veral as daar oor die opstanding of teen hulle afgode gepreek word.

Eintlik is die verwerping van Christus nie net ‘n Joodse ding nie, maar ‘n sondige menslike ding.

Johannes sê in sy evangelie:
Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.
Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Dus, wat maak u met die evangelie van Christus, geliefde gemeente?

Stel u dalk belang in die verlossing wat God in Christus belowe? Stel u belang daarin dat daar ‘n lewe na hierdie lewe op ‘n nuwe aarde is? ‘n Lewe tot in ewigheid, sonder droefenis en trane?
Stel u belang; maar as daardie daardie groep mense ook gered is, dan is dit net een te veel…?

Of as dit kom by die eis van Christus op u lewe,
u gewoontes,
u tyd,
u geld,

dan neem u aanstoot?

Of is u wel bereid om in Christus te glo -
selfs te breek met daardie sonde wat beheer neem van u lewe;
selfs ‘n goeie werk en ‘n blink toekoms prys te gee;
uself geheel en al met al u gawes aan die kerk toe te wy;

maar eers as Jesus Homself kragtig aan u bewys het?
Eers as hy vir my gegee het wat ek nou graag verlang?

Geliefde gemeente, laat ons tog nooit die Here so versoek nie.
Die evangelie wat Christus verkondig het, en wat vandag nog die wêreld oor weerklink, is ‘n vrye uitnodiging vir almal.
Glo in Hom. Kom na Hom met u verbryselde hart. Kom arm van gees.

En hy sal u gebroke hart genees. Hy sal u vryheid skenk. Hy sal Homself getrou bewys, vêr meer as wat ons ooit sou kon hoop of verwag.

Amen.

Liturgie: 
  • Lees: Lukas 4:14-30

  • Teks: Lukas 4:14-30

  • Sing: 

    • Ps 96: 1, 2

    • Ps 38: 1, 5, 6, 7 

    • Ps 146: 5, 6

    • Ps 95: 4, 5, 6

    • Ps 105: 2, 3 / Hymn 81 - O for a Thousand Tongues to Sing: 1, 4-7

 

Liturgiese notas:

 

Die Wet van God

Elke Sondag het ons die geleentheid om weer na die Wet van God te luister.
Daar is verskeie redes hoekom ons dit doen, maar een van die redes is sodat ons groei in die kennis van hoe arm en ellendig ons eintlik is.
In die boek Romeine beskuldig Paulus Jode sowel as Grieke, almal, van ons natuutlike onregverdigheid voor God.

In Rom 3 sê hy -

soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.
Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.
Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.
Hul keel is 'n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe.
Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.
Haastig is hulle voete om bloed te vergiet.
Verwoesting en ellende is in hulle paaie,
en die weg van vrede ken hulle nie.
Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.
Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir dié wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;
aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

As ek nou Exodus 20 lees, mag ons dan ook so luister dat: ja, ek kom regtig met leë, vuil, hande na God toe.
uit myself is ek heeltemal doemwaardig.

Lees Exodus 20

In Antwoord op die lesing van die wet, gaan ons nou 4 verse van Psalm 38 sing.
Dis een van die mees intense psalms van skuldbelydenis in die Bybel.
In sy pyn en lyding roep Dawid uit tot God, hy stort sy hart uit voor God, en daardeur erken hy dat dsy sonde die bron van sy smart is.

Sing Ps 38: 1, 5, 6, 7

Hierdie is woorde van iemand wie hart-verskeur is deur sonde.
Arm en gebroke kom hy na God.
Hoe kan ‘n hart wat so gebroke is deur sonde, genees word?
In vanoggend se teks gaan Jesus die boekrol van Jesaja oopmaak en hy gaan na hierdie gedeelte in Jesaja 61 blaai en hierdie woorde direk op Homself toepas:

Jesaja 61:1-2
DIE Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges;
Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenesvan hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis;
om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die Here en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;

 

Na die preek:
In antwoord op die woordverkonding gaan ons nou die laaste 3 verse van Ps 95 sing.
Dis ‘n oproep om God te glo, en nie ons harte te verhard soos die volk in die woestyn nie.
Vir hulle het God in sy toorn gesweer het: Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!
Met hierdie skokkende waarskuwing eindig die psalm, maar u sal agterkom dat Totius in ons beryming ‘n bietjie digterlike vryheid op homself geneem het en ‘n heel laaste gedagte bygevoeg het sodat dit so eindig:

Daarom het Ek in toorn gesweer:
Die rusplek erf hul nimmermeer
wat vir 'n trouer volk berei is.

Hierdie sinnetjie sluit mooi aan by ons preek vanoggend - want as ons in Christus glo (Jode, Grieke, almal) is ons daardie trouer volk wat wel God se rus mag ingaan.  

Sing Ps 95: 4, 5, 6 

 

Slotsang:
As slotsang, laat ons nou saam sing Hymn 81 - O for a Thousand Tongues to Sing: 1, 4-7
Dis ‘n lied waarin ons die Here prys, presies vir die werk wat Hy in Christus kom doen het - daardie werk wat Jesus self aanhaal uit Jesaja

 

1) O for a thousand tongues to sing
my great Redeemer’s praise,
the glories of my God and King,
the triumphs of his grace!

4) He breaks the pow’r of reigning sin,
he sets the pris’ner free;
his blood can make the foulest clean;
his blood avails for me.

5) He speaks, and, list’ning to his voice,
new life the dead receive;
the mournful broken hearts rejoice;
the humble poor believe.

6) Hear him, you deaf; you voiceless ones,
your loosened tongues employ;
you blind, behold your Saviour come;
and leap, you lame, for joy!

7) To God all glory, praise, and love
be now and ever given
by saints below and saints above,
the church in earth and heaven.