Die Geliefde Seun maak Sy publieke verskyning

Minister: 
br Jakob Mars tydens internskap in Kaapstad
Church: 
Kaapstad
Date: 
2025-05-04
Text: 
Lukas 3:21-38
Reference: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

Vandag kom ons by ons 6de preek in ons reeks uit Lukas.

Vir die afgelope paar hoofstukke het Lukas ons bekendgestel aan Jesus.

         Sy geboorte

         Sy identiteit

         Sy missie

         Johannes die doper se rol in dit alles as voorloper

Dis alles informasie wat die Heilige Gees vir ons openbaar oor ons Here Jesus Christus vóór hy met sy publieke bediening begin toe hy ongeveer 30 jaar oud was.

Ons teks vanoggend is ‘n belangrike draaipunt in die evangelie.

Ons kry die laaste bietjie “agtergrond informasie” oor wie Jesus is, en noudat Hy ongeveer 30 jaar op die agtergrond geleef het terwyl Johannes die Doper besig was om die pad vir hom voor te bery, nou is Jesus uiteindelik gereed om in die publiek in te gaan, waar Hy nou self gesien en gehoor gaan word soos hy met sy bediening onder die mense gaan begin.

Johannes die Doper was al vir ‘n geruime tyd met sy bediening besig, en was eintlik op die punt “af te tree” as mens dit so kan sê.

In die evangelie van Johannes sê Johannes die Doper kenmerkend - Hy moet meer word, maar ek minder.

En so het ons vorige teks geëindig met die gedagte dat Johannes binnekort in die tronk gegooi sou word. Sy werk is klaar - die pad is voorberei - en nou moet die Messias oorneem.

 

Die Geliefde Seun maak Sy publieke verskyning

  1. Sy afkoms
  2. Sy afvaardiging

 

U sal onthou van die eerste preek - daardie eerste 4 verse waarmee Lukas die evangelie begin - dat Lukas skryf sodat ons sekerheid mag hê.

Sekerheid dat Jesus Christus waarlik die langverwagte Messias is. Dat Hy waarlik die een Wie deur God gestuur is om reg te maak wat ons (as mens) verbreek het.

Nou in vanoggend se teks gee Lukas vir ons die geslagsregister van Jesus.

Ek dink, as ons eerlik is, is geslagsregisters in die Bybel soms een van die moeilikste tekste waardeur ons worstel. Ons kan ‘n lang geslagsregister lees, en aan die einde daarvan vra ons onsself af - okay wat het ek nou geleer? As ek ek nou gaan bid, wat moet ek eintlik bid?

Maar ook hierdie geslagsregister het die Heilige Gees vir ons gegee om ons geloof te versterk in Wie Jesus is en wat Hy vir ons kom doen het.

In my voorbereiding vir hierdie preek het ek ‘n pragtige verhaal gelees oor ‘n sendeling in Papua New Guinea wie die Bybel vertaal het vir die mense daar.

Toe hy met die evangelie van Matteus begin (die evangelie van Matteus begin mos met ‘n geslagsregister) toe dink die vertaler by homself, “die laaste ding wat ek wil doen is om hierdie mense te verveel met ‘n geslagsregister.” min wetende dat hulle ‘n sterk tradisie het om geslagsregisters te memoriseer.

So toe begin die sendeling by hoofstuk.

En eers toe die res van die evangelie klaar vertaal was, het hy teruggekom na die geslagsregister.

Hy roep toe almal wat hom gehelp het bymekaar, en hulle besluit toe saam wat die beste manier is om die werkwoord “ge-vader” te vertaal (die persoon het daardie persoon “ge-vader”), en toe begin hulle -

Abraham het Isak ge-vader

Isak het Jakob ge-vader

ens.

En hoe verder hulle gaan hoe groter rek die mense se oë, en hy sien net hoe hierdie mense meer en meer opgewonde raak

Op ‘n punt vra hy toe “wat gaan aan?” en hulle sê vir hom: “so jy sê vir ons dat hierdie regtige mense was?

Maar dis mos wat ek vir julle gesê het?

Ja maar tot nou toe het ons gedink dat dit net stories is van die wit man. Nou glo ons dit.”

Daardie selfde aand het die mense die hele dorpie bymekaar geroep en gesê: luister hier! toe lees hulle die geslagsregister in Matteus 1. En baie het asgevolg hiervan geglo.

Dit het vir hulle sekerheid gegee

Dit is die tiepe sekerheid wat die Heilige Gees vir ons wil gee met die geslagsregister van Jesus. Hy was waarlik ‘n mens. ‘n Jood. ‘n Man van vlees en bloed.

En dit geld vir almal in die geslagsregister.

Dit is maklik om al hierdie name te lees, en te mis dat elke naam ‘n regte mens verteenwoordig, wat regtig geleef het, in tyd en geskiedenis.

Dis mense net soos u en ek. Mense met elkeen ‘n unieke storie.

Daar is Israeliete, pre-Israeliete

aartsvaders en konings,

maar ook arbeiders en gewone mense van wie ons niks weet nie.

Daar is mense wie met God gewandel het, en mense wat in verskriklike sonde geval het.

daar is dronkaards, lafaards, en leuenaars

Egbrekers, diewe, en moordenaars

Regte. Sondige. Mense.

---------------

Op hierdie punt kom ons wel by ‘n uitdaging.

Want waar die geslagsregister bedoel is om ons sekerheid te gee, is dit juis die ding wat baie mense laat twyfel.

Want enigiemand kan met net ‘n vlugtige vergelyking met die geslagsregister in Matteus sien dat die twee geslagsregisters nie ooreenstem nie.

Daar is ‘n paar uitdagings wat maklik is om op te los - bv.,

  • alternatiewe spellings - dis nie ‘n probleem nie.
  • ‘n paar name word oorgeslaan - dis ook nie ‘n probleem nie - dit kan dieselfde lyn wees al word paar mense uitgelaat
  • Matteus werk van Abraham af vorentoe na Jesus, en Lukas werk van Jesus af terug - dis ook nie ‘n probleem nie - dis net ‘n ander manier om dieselfde ding te doen

Maar die groot uitdaging is in al die name tussen David en Josef (Maria se man). Matteus gaan deur David se seun Salomo en lys Jakob as die vader van Josef, terwyl Lukas deur David se seun Natan gaan en Eli lys as die vader van Josef.

Dit is duidelik dat daar tussen David en Josef ‘n heel ander lyn gevolg word. En dus is ‘n skeptikus gou geneig om te sê - kyk ‘n fout in die Bybel.

As daar so ‘n groot fout is kan jy niks glo nie.

Eintlik wys dit ‘n verskil in die uitgangspunt wat ons het - en dit kan ons ook help om vir onsself af te vra wat ons eie uitgangspunt is.

Is ons uitgangspunt om verkeerd te vind met die Bybel? Dus elke keer as ons by ‘n uitdaging soos dit kom bevestig dit vir ons dat die Woord van God onbetroubaar is?

Of is ons uitgangspunt - die Woord van God is betroubaar -- elke woord  - daarvan deur die Gees geïnspireer, waar en betroubaar, en as daar ‘n uitdaging is wat ek nie kan verstaan nie, dan lê die fout nie by die Bybel nie, maar by my beperkte begrip?

Ons uitgangspunt moet wees dat beide hierdie twee geslagsregisters waar is.

En daar is ook oortuigende oplossings wat die uitdaging redelik eenvoudig kan verduidelik.

((Om te bewys watse een van hierdie oplossings korrek is, is nie so maklik nie ; --

En ek wil nie te veel aandag aan die oplossings gee nie; -- ))

Maar laat ek net noem dat daar ‘n oorweldigende konsensus tussen die verskillende oplossings is dat Matteus Jesus se wettige lyn volg, en Lukas Jesus se biologiese lyn.

Dit is óf deur Maria (soos vers 23 lyk om te impliseer - hulle het gemeen dat Jesus die seun van Josef was; -- (maar ons weet natuurlik reeds hy was nie); Josef is dan nie die seun van Eli nie, maar die skoonseun van Eli);;

óf deur ‘n leviraatshuwelik - soos mens ook in sommige geslagsregisters in die OT sien. Dit is ook ‘n interpretasie in die vroeë kerk - dat Josef uit ‘n leviraatshuwelik gebore is.

  • Hy het ‘n biologiese pa (Eli - wie se DNA hy het,) en ‘n afgestorwe wettige pa (Jakob - deur wie Jesus reg tot die troon het).

Hoe dit ook al sy, daar is meer as een Skrif-getroue opsie om te verduidelik hoe albei geslagsregisters waar is (sonder om die betroubaarheid van die Bybel in twyfel te bring).

En wat regtig van kardinale belang in hierdie gesprek is, is die doel waarmee die skrywer skryf.

Mattheüs, omdat hy primêr vir ‘n Joodse gehoor skryf, kies om Jesus se wettige lyn te volg om uit te wys dat Jesus die geregtigde erfgenaam tot die troon van David is;

en Lukas, (wie primêr vir heidene skryf (Theophilus) en self uit heidense agtergrond is en) kies, gedrewe deur die Heilige Gees, om Jesus se biologiese bloedlyn te volg.

En daardeur trek hy ‘n lyn al die pad tot die eerste mens.

U sien, hy stop nie soos Matteus by Abraham, Isak, en Jakob nie.

Maar hy gaan verby die Aartsvaders tot voor daar selfs sprake van ‘n volk Israel was.

Hy gaan terug nog voor Peleg en die verdeling van die aarde in onderskeie volke, nasies en tale.

Hy gaan selfs nog terug voor Noag wie gesien het hoe die eerste wêreld deur water vergaan het

Al die pad tot die vader van elke mens op aarde - Adam

 

Dit is die punt wat Lukas wil tuis dryf deur Jesus se biologiese bloedlyn al die pad terug te volg: Die evangelie van Christus is nie net vir die Jode nie. Maar vir almal.

Want elke liewe mens op aarde is op ‘n manier biologies verwant aan hierdie lyn - in Adam.

Soos Paulus ons leer - en u sal van die eerste preek onthou dat Lukas en Paulus baie goeie vriende was - vir Paulus het Adam ‘n sentrale plek in die Evangelie.

“deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom .. en deur die sonde die dood, en so [het] die dood tot alle mense deurgedring …, omdat almal gesondig het” - Rom 5

Elke liewe mens - in Adam - is onder die die vloek van die sonde

Maar Paulus gaan verder: “net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe.”

Jesus het gekom vir mense van alle volke, nasies en tale. Daar is geen kunsmatige grens wat sekere groepe mense van die evangelie uitsluit nie.

 

Is jy mens? Afstammeling van Adam? Dan is die belofte van evangelie vir jou.

Dit maak nie saak wie jy is, waar jy vandaan kom, of wat jy gedoen het nie - as jy ‘n sondige mens is, dan het Christus gekom vir jou.

Die tweede Adam, het gekom om jou te red van die oordeel wat die eerste Adam in die wêreld ingebring het toe hy na die woord van die duiwel geluister het.

----------

Net hierna - presies die volgende gedeelte na ons teks gaan die tweede Adam in die woestyn doen wat die eerste Adam in die tuin versuim het om te doen. Hy weerstaan die versoeking van Satan.

En drie jaar later verbreek hy die mag van Satan. Hy oorwin die sonde en die dood wat die eerste Adam in die wêreld ingebring het.

Vir alle mense wat in Hom glo.

--------------

--------------

Dit bring ons by die tweede punt

Die Geliefde Seun se afvaardiging

--------------

--------------

Waar ons in die geslagsregister veral beïndruk word deur die omvang en reikwydte van Jesus se taak, is dit in sy doop waar ons sien hoe hy vir hierdie taak toegerus word.

U moet uself indink dat Jesus nou op die drumpel staan om met sy bediening te begin.

Vir die volgende drie jaar gaan Hy op baie verskillende plekke preek en soveel mense gesond maak dat Hy fisiek uitgeput sal raak. Hy gaan voortdurend bespot, belaster en uitgedaag word. Hy gaan ernstig beproef en versoek word – en dit terwyl Hy in alles sondeloos bly, in volmaakte gehoorsaamheid aan sy Vader, tot die heel einde toe.

Sy bediening gaan nie maklik wees nie.

Nou, In die Ou Testament, as profete, priesters en konings in hulle bediening ingetree het, dan is hulle gesalf met olie. Dit was ‘n bevestiging dat God self hulle vir hul taak afvaardig, en dat Sy Gees hulle vir daardie taak sou toerus.

In ons teks, net voor Christus met sy amptelik werk begin, kry Hy ook eers die amptelike bevestiging en toerusting vir Sy groot taak.

Maar op ‘n heel ander vlak as die priesters, profete en konings van die OT.

Jesus word nie met olie gesalf nie, maar met die Heilige Gees self.

 

Sien hom daar, geliefde gemeente. Sien Christus daar in die Jordaan rivier staan om ‘n ritueel te ondergaan wat Sy dood voorafskadu.

Die afwassing van sondes. Sien Hom daar, sonder enige sonde om homself van te bekeer, maar gewilliglik assosieer Hy met ons. Sondaars. Hy staan daar waar u en ek moes gestaan het. En hy neem as’t ware die sondes wat van die mense afgewas word, op Homself.

Jesus begin sy bediening met ‘n beeld wat die einde einde van Sy bediening voorafskadu.

Sien u Hom, geliefde gemeente? In hierdie moment, wetende wat hierdie doop beteken, en waarop dit gaan uitloop?

Sien u hom biddende? In totale afhanklikheid en gehoorsaamheid aan Sy Hemelse Vader?

Hy staan in gebed. Sien u dit?

 

En dis in antwoord op sy gebed, wat die die hemel oopskeur - moontlik vir almal om te sien -

en die Heilige Gees daal visueel op hom neer,
en ‘n stem uit die hemel sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek 'n welbehae.

Sien u wat hier gebeur, geliefde gemeente?

Al drie Persone van die Drie-eenheid is hier aan die werk in komplete harmonie.

Hulle werk nie los van mekaar, teen mekaar, of ten spyte van mekaar nie, maar as Een, ewige God, met dieselfde missie en liefde vir verlore sondaars.

  • Die Seun neem die verlossing-werk gewilliglik op homself. Hy word gedoop. Hy Bid.
  • Die Vader, vol vaderlike liefde, bevestig en bemoedig die Seun in Sy taak. Die Vader verheug homself in Sy Seun - Wie Hy is, wat Hy gedoen het, en wat Hy nog gaan doen.
  • En die Heilige Gees rus die Seun toe vir hierdie taak.

Om ons verlossing te bewerk.

 

Vir die res van die evangelie word dit oor en oor herhaal hoe Jesus Homself in gebed aan God toe wei en op die krag en leiding van die Heilige Gees berus.

Net hierna gaan Christus vol van die Gees die woestyn in om deur die duiwel versoek te word.

En direk daarna kom Jesus terug uit woestyn, hy tel die boek van Jesaja op en Hy sê:

"Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;  om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Geliefde gemeente, besef u dat dieselfde Gees wat daar in Jesus te doop op Hom neergedaal het, Hom toerus, en in staat gestel het om sy werk van verlossing te volbring;

ook op ons uitgestort is?

Dit is die belofte van die evangelie.

Dat elkeen wie in Hom glo - maak nie saak wie jy is, waar jy vandaan kom, of wat jy gedoen het nie - dit geld vir enigiemand - as u uself bekeer en in Hom glo tot die vergifnis van sondes - dan het u ook hierdie Gees ontvang.

Wat ‘n ongelooflike troosvolle werklikheid.

Want Rom 8 sê: almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.

As ons deur geloof met Christus verenig is in sy doop - in sy dood en opstanding, dan word ons gelei word deur dieselfde Gees wat op Hom neergedaal het - en is ons ook kinders van God.

Dan geld daardie woorde wat die Vader oor Jesus uitgespreek het vir ons ook. U is my geliefde seun. My geliefde dogter. In U het ek ‘n welbehae.

Mag hierdie werklikheid tog beheer vat van ons lewens - geliefde gemeente.

Hierdie werklikheid wat u ook as ‘n belofte in u doop ontvang het:

Dat die Vader u tot sy kinders en erfgename aanneem

Dat die Seun u met sy bloed was

En dat die Heilige Gees in u woon en lewende lidmate van Christus maak.

Hy vernuwe ons daagliks, totdat ons eendag volkome rein ’n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe.

Mag ons dan ook in totale afhanklikheid op Sy krag biddend deur hierdie lewe gaan,

in tye van reën en droogte,

vrugbare en onvrugbare jare,

gesondheid en siekte,

rykdom en armoede

want biddend sal die Gees ons ook toerus op ons pad na die ewige Jerusalem.

Amen

Liturgie: 
  • Skriflesing & Teks: Lukas 3:21-38

  • Sing: 

    • Ps 98: 1,2

    • Ps 68:9,15

    • Ps 2: 3, 4, 6

    • Sb 14:1,2

    • Sb 24: 2, 3, 6, 7

Liturgiese Notas

 

Psalm 2 (na die Woordverkondiging)
Psalm 2 is ‘n Psalm waarin David reflekteer op God se belofte om vir hom ‘n ewigdurende koningkryk te gee wat oor die hele wêreld sal verspry en regeer sal word deur ‘n ewige koning uit sy nageslag.
Die Psalm is aan die een kant ‘n sterk waarskuwing vir almal wie in opstand teen die Seun van God kom, maar terselde tyd ook ‘n uitnodiging om by Hom te skuil
Dit geld selfs vir die nasies

Psalm 2 (in die 53 vertaling):

Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.
Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!
Dien die Here met vrees, en juig met bewing.
Kus die Seun! ….
Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!