God se regverdige straf vir die mens word vervul in Jesus Christus

Minister: 
Student A van der Meer
Church: 
Pretoria
Date: 
2025-04-06
Text: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 4
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

Veronderstel jy is ‘n ingenieur. Jy het gestudeer en jou graad voltooi. Jy is opgelei om sekere take te kan verrig. Dalk ontwerp jy masjiene, teken paaie en brûe, of werk jy met stroombane. Waarmee jy ook al besig is, jy het gestudeer daarvoor. Met die kennis en vermoë wat jy het, kan jy jou werk goed doen.

Nou word daar dalk van jou verwag om ‘n operasie uit te voer. Jy moet ‘n hart oorplanting doen. Dit gaan in chaos uitdraai, omdat jy dit nie kan doen nie. Dit is nie waarvoor jy opgelei is nie. Dit sal waarskynlik noodlottig uitdraai. As jy daarvoor dan gestraf word, is dit onbillik. Jy is nie opgelei daarvoor nie, en daarom is dit onregverdig indien jy gestraf word, skuldig bevind word aan moord. Dit is onregverdig. 

Maar as jy opgelei is om paaie te ontwerp en jy teken ‘n pad wat gevaarlik en noodlottig is, dan kan jy daarvoor verantwoordelik gehou word. Jy het die kennis en opleiding ontvang om paaie te teken wat veilig is. Jy kan dus ‘n veilige pad ontwerp, maar jy het nie. Daarvoor kan jy wel aanspreeklik gehou word.

Iets soortgelyk vind ons nou in Sondag 4. Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie? Dit is onregverdig om van ‘n ingenieur te vra om ‘n hart oorplanting te doen. Dit is sekerlik tog onregverdig van God om van die mens te vra om die eis van die wet na te kom as hy dit tog nie kan doen nie? 

Nee, gemeente, dit is nie onregverdig van God nie. Die probleem dat die mens nie die eis van die wet kan nakom nie lê nie by God nie, maar die mens. God het die mens so geskape dat hy die eis van die wet kon nakom. Daarom lê daar nie onreg by God nie, maar lê die probleem by die mens. 

Tema: God se regverdige straf vir die mens word vervul in Jesus Christus. 
1. Ons verdien God se regverdige oordeel.
2. Ons ontvang God se barmhartigheid. 

Gemeente, God is nie onregverdig nie. Hy doen die mens geen onreg aan nie. Maar sal daar gevra word, ons word geleer dat ons van nature sondig is. Ons kan dus nie die eis van die wet nakom nie. Daarmee moet ons saam stem. As ons dan daarmee saam stem, dan lyk dit of die vraag of God die mens onreg aandoen tog wel geldig is? 

Die probleem is egter dat ons nie op die regte plek begin nie. Ons moet nie na ons eie natuur kyk soos hou nou is nie. Ons moet kyk na die begin. Na die skepping van die mens. Ons het dit gelees in Genesis 1. God het die mens na sy beeld geskape. Man en vrou het hy hulle geskape. Die skepping van God was goed. Baie goed. 

God het die mens geskape met die vermoë om te kan doen waarvoor hy geskape is. Die mens kon sy werk doen, oor die skepping heers, en ten diepste sy Skepper reg ken, Hom van harte liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid lewe om Hom te loof en prys (Sondag 3). 

Die mens voor die val in sonde kon dus doen wat God van Hom eis. Hy kon die eis van die wet nakom en in volkome liefde met God en sy naaste lewe. Dat God dus van die mens iets vra wat hy kon doen is nie onredelik nie. God doen geen onreg nie. In sy regverdigheid kan hy van die mens eis waarvoor hy geskape is. 

So waarom kan die mens dan nie die eis na kom nie? Die probleem lê nie by God nie. So waar lê die probleem dan? Die antwoord is vir ons bekend gemeente. Die probleem lê by die mens. Daarvan het ons ook gelees in Genesis 3, en dit word ook so deur die kategismus bely. 

Aan die een kant gee die kategismus vir ons die rede waarom God nie onregverdig is nie, en nou aan die anderkant word die rede gegee waarom die mens skuldig staan. Ons moet onthou dat ons nog besig is in die afdeling oor die sonde en ellende. 

Maar die mens. Nie God nie, maar die mens het homself van hierdie vermoë beroof. Die mens in hierdie vraag en antwoord verwys spesifiek na Adam en Eva. Adam en Eva het hulself en die hele menslike geslag van die gawes beroof. 

Hoe hulle dit gedoen het is vir ons baie bekend. Die slang het na Eva gekom met ‘n leuen. Die slang maak God uit as ‘n onregverdige God. Is dit so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? In die pragtige tuin vol bome en plante wat vrug dra, mog die mens vrylik eet, behalwe van die boom van kennis van goed en kwaad. Die mens het dit ook geweet. Uit Eva se antwoord aan die slang is dit ook duidelik dat sy (en Adam) geweet het wat God gesê het. Ook die straf was vir die mens bekend as hulle nie sou luister nie. Julle sal sterwe. 

Maar die slang in sy listigheid gaan aan met sy leuen. Julle sal gewis nie sterwe nie, maar God weet dat as julle daarvan eet julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 

Gemeente, deur die aanhitsing van die duiwel kyk Eva na die boom en sien dat die boom goed was om van te eet. Die slang speel ‘n rol in die sondeval, maar die mens is nie onskuldig daarin nie. Nee, die mens deel ook in die skuld. Indien slegs die duiwel ‘n aandeel gehad het, sou die mens homself nog kon verontskuldig. Maar nee, alle verontskuldiging is die mens ontneem. Die mens het presies geweet wat van hom gevra word, maar het doelbewus besluit om tog te doen wat hulle nie mog doen nie. Die vrou vat van die vrug en eet, en gee ook aan haar man by haar. 

So word die mens en sy hele nageslag deur die aanhitsing van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van die gawes om God reg te ken en hom lief te hê, beroof. 

Nou kan ons dalk nog teenwerp en sê: ja, maar ons het nie gesondig nie, maar Adam en Eva het gesondig. Dit mag dalk so wees. Ons was nie in die begin daar nie, maar die effek van die sonde van Adam en Eva word oorgedra van geslag tot geslag. Al klink dit nie altyd ewe reg nie, is dit tog wat die Skrif vir ons leer. Dink maar aan Romeine 5:12. Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. 

Adam en Eva is ons eerste ouers. Omdat hulle in sonde geval het, daarom is ons natuur ook sondig. Ons word in sonde ontvang en gebore. Ook lees ons in Handelinge 17:26: En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon. Uit een bloed. Ons is een groot familie (laas week se preek). Ons het deel aan die sonde en skande van Adam en Eva. 

Adam en Eva het gesondig. In God se regverdigheid mag God die straf van die sonde oor hulle bring. Die dood. Hulle het immers geweet wat die straf sou wees. Jy sal sekerlik sterwe die dag as jy daarvan eet (Genesis 2:17; 3:3). God se toorn oor die sonde is verskriklik gemeente. Dink maar aan Nahum 1:3-6. Wie kan bly staan voor die grimmigheid en toorn van God? 

God straf Adam en Eva dan ook vir hulle oortreding. Aan die vrou sê God dat Hy grootliks sal vermeerder haar moeite en swangerskap; met smart sal sy kinders baar, en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers. 

Ook vir Adam is daar straf: die aarde is vervloek om sy ontwil; met moeite sal hy daarvan eet al die dae van sy lewe; dit sal dorings en distels voortbring; in die sweet van sy aangesig sal hy brood eet totdat hy terugkeer na die aarde. Die dood het ingetree gemeente. Die mens sal na die aarde terug keer. 

Maar gemeente, hierdie straf geld nie net vir Adam en Eva nie. Soos ons gesien het deel ons in die sonde van Adam en Eva. In sonde word ons ontvang en gebore. Die erfsonde kleef aan ons. Dit moet ook gestraf word. Maar nie net die erfsonde nie, maar ook die sonde wat ons self doen. God wil daardie sondes tydelik en ewig met ‘n regverdige oordeel straf. 

Daar staan immers geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. Gemeente ons staan dus onder die vloek van die wet, en verdien daarom die regverdige oordeel van God oor die sonde. 

Die kategismus skryf dat God die sonde tydelik straf. En God doen dit ook. God is betroubaar. As Hy sê dat hy die sonde gaan straf dan doen hy dit ook. Ons sien dit dan ook raak. Reeds vir Adam het God gesê: Vervloek is die aarde om jou ontwil. Adam en Eva het hierdie vloek ervaar, en so ervaar ons ook daardie vloek. Natuurrampe soos vloede, droogtes, vulkane wat uitbars, veldbrande is bewyse van God se straf. Epidemies en siektes soos Covid-19, VIGS, voël griep, bek-en-klou seer is bewyse van God se oordeel en straf oor die sonde. 

Maar nie net natuurrampe en siektes is straf nie, maar ook die magstryd tussen man en vrou. Na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers. Wat beteken dit vir ons? Daar waar daar sonde heers, daar sal die vrou begeer om die man te oorheers. Dit is wat hierdie begeerte beteken.. Sy begeer om oor hom die oorhand te kry. Maar, die man sal oor haar heers. Daar waar die sonde is, daar sal die man oor die vrou heers as ‘n meester. 

Gemeente, dit is nie hoe dit moet wees nie. God het die mens gelyk geskape. In die huwelik het man en vrou verskillende take en rolle wat vervul word, maar die een mag nie die ander oorheers of regeer nie. Ja, die man is die hoof van huis, maar dit beteken nie hy regeer met ‘n ysterhand oor sy vrou nie. Nee, dit beteken hy lê sy lewe af vir die vrou, soos Christus sy lewe afgelê het vir sy bruid, die kerk.

Vanweë die sonde en die straf op die sonde, is daar egter hierdie magstryd tussen man en vrou. 

Ja gemeente, God straf die sonde. Die rampe en siektes is nie net gevolg van die sonde nie, maar is ook straf op die sonde. Dink maar aan Dawid se sonde, toe hy die volk getel het (2 Samuel 24). Of aan die sonde van Ananias en Saffira in Handelinge 5. Of die gemeente van Korinthe, waar Paulus ‘n direkte lyn trek tussen die siekes en swakkes en sterftes in die gemeente en die onwaardige viering van die nagmaal (1 Korinthiërs 11:30). 

God straf die sonde, gemeente. Laat ons nie dink dat die straf oor die sonde net oor die goddeloses is, of vanweë die sonde van Adam en Eva nie. Nee, ook ons staan onder die vloek van die sonde, onder God se regverdige oordeel. 

Daarmee saam moet ons ook bely dat ons die ewige straf van God oor die sonde verdien. Ons verdien die swaarste straf – die ewige straf aan liggaam en siel- omdat ons teen die allerhoogste majesteit van God gesondig het. Sonde is nie in die eerste iets wat ons teen die mens doen nie, maar teen God. Toe Dawid owerspel gepleeg het met Batseba, bely hy dat hy teen die Here alleen gesondig het (Psalm 51:6). Ja, ons naaste word ook deur ons sonde geraak, maar ten diepste word sonde gepleeg teen God en sy heerlikheid. 

En juis daarom, omdat dit teen die allerhoogste majesteit van God gedoen word, verdien dit die grootste en swaarste straf. Slegs die diepste straf, kan die hoogste majesteit van God herstel. Dit eis God se regverdige straf. En dit is hierdie regverdige straf wat ons verdien.

Maar kan ons weer vra: Is God dan nie tog ook barmhartig nie? God is liefde. In sy liefde sal hy mos nie ons vir ewig straf nie. Hy kan mos maar die sonde onder die mat in vee, of maar net dit oor die vingers sien. Ja, gemeente, God is wel barmhartig, maar ook regverdig. God se geregtigheid eis dat die sonde gestraf moet word. In God se karakter kan dit nie gebeur dat God die sonde oorsien of onder die mat in vee nie. Dit druis teen God se regverdige karakter in. Dit druis teen sy allerhoogste heerlikheid in. Die sonde moet met die ewige straf gestraf word. 

Is dit waarna toe ons oppad is gemeente? Is ons op weg na die ewige straf aan liggaam en siel? Is dit die evangelie? Nee gemeente, dit is nie die evangelie nie, maar dit beklemtoon die noodsaaklikheid van die evangelie. Onthou in watter afdeling ons van die HK is. Dit gaan oor ons sonde, en nie oor ons verlossing nie. Hierdie Sondag wys ons die diepte van ons sonde en ellende aan. Dit bring ons op ons knie om uit te roep, ek ellendige sondaar, wie sal my kan verlos? 

Dit bring ons dan by die tweede punt: Ons ontvang God se barmhartigheid. 

Toe Adam en Eva in sonde geval het, was God genadig en barmhartig. Die mens het die verhouding tussen hom en God gebreek. Hy het homself in die geestelike en liggaamlike dood gestort. Maar God het die mens weer opgesoek. Ons het dit gelees in Genesis 3:9. Terwyl die mens van God af weg vlug en hom vir God verberg, kom God in sy barmhartigheid na die mens. God roep na die mens en sê: waar is jy? In hierdie drie woorde vind ons goeie nuus. God reik uit na sy kinders en skenk aan hulle genade. 

Daarmee saam kom daar ook ‘n belofte van verlossing. Hierdie belofte is aan ons welbekend. Die moederbelofte. Die belofte waaruit alle ander beloftes voortvloei. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt. Reeds met hierdie belofte word God se barmhartigheid aan die mens betoon. 

In hierdie belofte vind ons ryk evangelie. In Galasiërs 3:16 praat Paulus oor die saad, en dat dit dui op Christus. Alhoewel Paulus verwys na die belofte aan Abraham in Genesis 12, is die selfde woord in die Hebreeus gebruik, naamlik saad in die enkelvoud. Daarmee saam moet ons rekening hou dat daar staan “Hy sal jou die kop vermorsel”, weereens in die enkelvoud. 
As daar dus dan staan dat “Hy jou die kop sal vermorsel”, dan moet ons dink aan Jesus Christus. God troos die mens deur aan Hom ‘n belofte te gee, naamlik dat Hy sy Seun sal gee om die mens salig te maak. 

God doen dan ook sy belofte gestand. Regdeur die OT is God besig om daardie belofte in vervulling te bring. Daarmee saam kom egter ook die stryd tussen die slang en die vrou. Die duiwel probeer met alle mag om die oorhand te kry. Telkens lyk dit weer of die slang tog die oorhand kry. Vir die mens lyk die situasie baie maal dood. Maar God is getrou aan sy belofte. Hy sal nie toelaat dat sy belofte tot niet gaan nie. Dit sien ons dan ook telkens weer. God kan uit ‘n skynbare dooie situasie weer nuwe lewe wek. Uit ‘n dooie stomp bring God weer nuwe lewe, ‘n  loot wat uitspruit en nuwe lewe bring. 

Soos ons reeds gesê het, moet ons die vervulling van die belofte sien in Jesus Christus. Hy het gekom om verlossing te bring. Die Vader stuur sy Seun sodat daar verlossing kan kom vir Sy kinders. Hierdie verlossing kom omdat Jesus Christus die straf van God teen die sonde gedra het. God se regverdigheid word uitgestort oor Sy geliefde Seun. Die straf wat ons moes dra, het Christus vir ons gedra. 

Deur een mens kom daar verlossing vir die volk. So het die hoëpriester Kajafas geprofeteer sonder om dit te besef (Johannes 11:50-51). Maar nie net vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ‘n eenheid saam te voeg. Soos deur die ongehoorsaamheid van een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Een baie tot regverdiges gestel word (Romeine 5:19). 

Jesus word gekruisig en hy sterf. Daar aan die kruis word God se regverdigheid oor Christus uitgegiet. Hy dra die las van die sonde, die swaarste straf van God. God maak sy Seun tot sonde, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (2 Korinthiërs 5:21). Aan die kruis word Christus ‘n vloek sodat ons van die vloek van die wet losgekoop word (Galasiërs 3:13). 

Gemeente, aan die kruis word God se regverdige oordeel oor die mens vervul in Jesus Christus. Ons wat die dood verdien het, ontvang nou barmhartigheid. God straf die sonde van die mens in sy regverdigheid aan sy Seun, en tegelykertyd ontvang ons geregtigheid. Daarin sien ons God se barmhartigheid. 

Gemeente, dit wat ons verdien, naamlik die regverdige oordeel van God, dit word gedra deur ons Verlosser, Jesus Christus. Daarmee saam ontvang ons dit wat ons nie verdien nie, naamlik God se barmhartigheid, verlossing, geregtigheid, nuwe lewe. 

God se barmhartigheid was reeds sigbaar in die tuin van Eden. God kom met sy belofte na die mens. Maar dit eindig nie daar nie. Terwille van die mens stuur God die mens uit die tuin van Eden sodat hy nie van die boom van die lewe eet en in ewigheid lewe nie. Sou die mens in sy sondige staat van lewe van die boom van die lewe eet, sou dit vir hom vir ewige ellende wees. Daarom stuur God die mens weg in sy barmhartigheid en laat woon Hy gerubs aan die oostekant van die tuin om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak. 

Die pad na die ewige lewe is vir die mens versper. Die toegang word hom ontneem. Vanweë die geestelike en liggaamlike dood van die mens kan hy nie toegang verkry tot die ewige lewe nie. Die pad na die paradys is geblok. Maar gemeente, daardie pad word oopgemaak deur Jesus Christus. Hy het die weg weer oopgemaak. 

Ons mag op daardie weg wandel, omdat ons deur die Gees weergebore is. Ons is nie opweg na die ewige oordeel nie, maar ons is opweg na die ewige lewe, die paradys waarin die boom van die lewe sal staan. En van die vrug van daardie boom sal ons dan vrylik eet, omdat ons deur Christus weer toegang het tot die boom.  

Laat ons, terwyl ons nog opweg is na die ewige lewe in gehoorsaamheid leef. Johannes skryf op Patmos: Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad (Openbaring 22:14). Gemeente, slegs die wat die gebooie van God doen, het die reg op die boom van die lewe. En net in die volgende vers lees ons: Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen. 

Laat hierdie vir ons ‘n ernstige waarskuwing wees. Die wat die leuens liefhet en doen, volg in die spore van Satan, die vader van die leuens. Laat ons nie met ons moedswillige ongehoorsaamheid voortgaan nie. So baie keer weet ons wat reg is, maar ons doen die verkeerde. Ons weet ons moet ons naaste liefhê soos onsself, maar tog breek ons ons naaste af.

Sê ons hulle sleg. Ons weet ons moet mekaar vergewe, maar ons is nie bereid om die eerste stap te neem nie. In ons harte is ons moordenaars, wat ander haat, afgunstig is en kwaad bly. Maar dit is nie wat van ons gevra word nie. God vra dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik teenoor ons naaste moet wees (Sondag 40). Gemeente, die wat in hulle sonde volhard sal buite bly. Hulle sal die ewige straf van die sonde aan liggaam en siel dra. 

Laat ons daarom nie meer deur die opstandigheid en verset van die ou mens oorheers word nie, maar laat deur die werking van die Gees begin dat daar ‘n gewillige en opregte gehoorsaamheid die oorhand kry. Hierin lê die ware en geestelike vernuwing en die vryheid van ons wil. (DL 3/4 : 16). As ons deur die Gees in Christus is en opgewek word tot ‘n nuwe gehoorsaamheid, dan kan ons ook getroos wees deur God se beloftes. Dan mag ons uitsien om deur die poort in te gaan in die nuwe Jerusalem, om in ewigheid by God te wees en saam met Hom te leef, sodat ons die doel waarvoor ons geskape is, ook kan bereik en uitleef, naamlik om God te loof en te prys tot in ewigheid. 

Amen.

Liturgie: 

Seën
Sing: Psalm 107:1,10

Teks: Heidelbergse Kategismus - Sondag 4
Sing: Psalm 6: 1, 2, 4

Lees:
Genesis 1: 26-31
Genesis 3: 1-24

Woordverkondiging
Sing: Skrifberyming 45: 3, 8

Geloofsbelydenis (Nicea)
Sing: Skrifberyming 27:5

Slotsang: Psalm 68: 1, 9
Seën