Christus se gemeente is aantreklik omdat sy haar as bruid vir haar Bruidegom versier

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-04-07
Text: 
Openbaring 21:2
Preek Inhoud: 

Preek: Openbaring 21:2 & 22:17

 

Op my lessenaar staan daar al vir jare ‘n foto van my vrou in haar trourok.

Dis nie ‘n straf om daarna te kyk nie, inteendeel.

Dis die bedoeling dat ‘n bruid op haar troudag onvergeetlik lyk.

Daar gaan maande se voorbereiding aan vooraf.

In vandag se teks word Christus se gemeente met ‘n bruid vergelyk.

‘n Stralende bruid.

Ons kyk vandag na hierdie twee verse uit Openbaring in verband met ons jaartema: Ons nuwe lewe in Christus.

Danksy Christus se opstanding op Paassondag staan sy gemeente ook op in ‘n nuwe lewe.

Sy Heilige Gees werk dit in ons.

 

Tema: Christus se gemeente is aantreklik omdat sy haar as bruid vir haar Bruidegom versier

  • Die bruid se klere
  • Die bruid se aantreklikheid

 

1 Die bruid se klere

Christus se kerk word in die Ou en Nuwe Testament meer as een keer met ‘n bruid vergelyk.

God wat met sy volk ‘n verbond gesluit het is die Bruidegom, sy is die bruid.

Van hierdie beeldspraak gaan daar ‘n sterk oproep uit.

As ons so ‘n belangrike Bruidegom het, dan behoort ons as bruid op ons mooiste te lyk.

As ‘n kerk afvallig word, is sy soos ‘n bruid wat haar uiterlik afgeskeep het.

Die profeet Jeremia sê: “Kan 'n jonkvrou haar versiersel vergeet, 'n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet ...” (Jer 2:32)
Maar vir die bruid om op haar mooiste te wees, moet sy alles van haar Bruidegom verwag.

Haar Bruidegom is skatryk en sal haar alles gee wat sy vra.

So verduidelik die profeet Jesaja dit: “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel ... soos 'n bruid wat haar versier met haar juwele.” (Jes 61:10-11)

Of soos Jesaja in hoofstuk 62 beskryf: “Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die getroude; want ... soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.” (Jes 62:4-5)

 

Ook in die Bybelboek Openbaring word die kerk met ’n bruid vergelyk.

En wat opvallend is – net soos in Jesaja – hoef die bruid nie self vir haar bruidsrok en juwele en versiersels te betaal nie.

Die bruidegom verskaf dit aan haar.

Meer as een keer word genoem dat die bruid, die nuwe Jerusalem, uit die hemel neerdaal:

“ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is.” – Openbaring 21:1.

En vers 9-10: “En een van die sewe engele ... het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op ’n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal”.

 

Die bruid se voorkoms moet dus hemels wees.

So stralend dat niemand hulle oë van haar kan afhou nie.

Waar sy ’n vertrek binnekom, daar draai alle koppe in haar rigting.

 

Dat die nuwe Jersulem uit die hemel neerdaal, het nog ’n betekenis.

Sy is as bruid geklee en versier op ’n manier wat vir Christus mooi en aantreklik is.

Soos alle dames onder ons weet, daar is trourokke en trourokke.

Deesdae se trend is dat trourokke al hoe meer uitdagend, oftewel bloot, raak.

Die bruid lyk hoe langer hoe minder soos ’n bruid, en steeds meer soos ’n prostituut.

Dit sal niemand verbaas dat dit nie die soort bruid is waarmee die kerk behoort te vereenselwig nie.

God se volk, sy kerk, word in die Bybel inderdaad soms met ’n prostituut vergelyk.

Maar dit is ’n aanklag.

“Ag, hoe het die getroue vesting 'n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag – en nou moordenaars!” – Jesaja 1:21
En Esegiël 23:19: “Ja, sy het haar hoererye baie gemaak deur te dink aan die dae van haar jeug toe sy 'n hoer was in Egipteland.”

As God se volk hoerery pleeg, is dit telkens ’n aanduiding dat sy ander gode begin dien.

Soos die afgode van Egipteland, of van die land Kanaän.

Die afgode is soos vreemde mans wat haar verlei, terwyl die HERE haar egte Man is.

’n Kerk wat afvallig raak, is soos ’n hoer.

Sy verruil die versiersels wat sy van haar Man, van Christus gekry het, vir die glinster van nagemaakte juwele, wat gemors is, wat nie sal bly blink nie, maar spoedig verdof.

Hoe meer ’n kerk afvallig raak, hoe goedkoper lyk sy, hoe meer soos die armoedige wêreld om haar heen.

Uiteindelik sal haar lot dieselfde wees as die van die sondige wêreld.

Daaroor lees ons ook in die Bybelboek Openbaring, hoofstuk 17:

“En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer ...” (Openb 17:1)

Die stad Babilon word die groot hoer genoem, en staan metafoor vir die wêreld wat in sonde van God afgedwaal het, wat eie afgode gekies het om te dien.

En die afvallige kerk sal een word met Babilon, hierdie groot verderflike stad.

Selfs geld dit vir die afvallige Jerusalem, wat haar Messias, haar wettige Bruidegom, verwerp het.

Dit maak Johannes duidelik in Openbaring.

’n Afvallige kerk mag aantreklik lyk, soos ’n hoer.

Maar dis ’n verbindtenis wat nie gaan hou nie.

Dit trek almal wat met haar assosieer in die afgrond in.

 

Daarenteen, soos ek genoem het, is die nuwe Jerusalem geklee en versier op ’n manier wat vir Christus mooi en aantreklik is.

Johannes noem, om dit te beskryf, die kosbaarste juwele wat daar op aarde bekend is:

Jaspis, suiwer goud, saffier, chalcedoon, smarag, sardoniks, sardius, chrisoliet, beril, topaas, chrisopraas, hiasint, ametis, pêrels.

Nou soos ons weet kies ’n bruid vir haar troudag ’n bepaalde kleurskema.

’n Bruid sal nie al bogenoemde edelstene tegelyk dra nie.

Goud is geel, saffier is blou, topaas is ligblou, jaspis is rooi, smarag is groen, ensovoorts.

Hierdie was egter segmente van die stadsmuur wat reg rondom die stad gestrek het.

Soos elke bruid haar unieke smaak het, so ook in die nuwe Jerusalem.

Christus, haar Man, het ’n bodemlose skatkis waaruit elke lidmaat in sy kerk kan kies.

Solank sy kies dit wat Christus aan haar bied.

En so sien ons ’n ryke verskeidenheid in die nuwe Jerusalem.

Elkeen wat geroep is uit elke volk en stam en nasie, bring sy of haar uniekheid in die stad in.

Soos Johannes dit beskryf in vers 26: “hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.”

Christus se kerk wat die nuwe aarde gaan beërf gaan oogverblindend mooi wees, die bruid van Christus aan wie alle skatte van die aarde behoort.

 

Nou is hierdie nie net toekomsmusiek nie.

Die dag waaroor ons in die teks lees, is die troudag.

Maar soos ons weet, ’n bruid begin al lank vantevore vir daardie dag voorberei.

Die materiaal vir die trourok moet uitgekies word, die trourok moet gemaak word, dit moet verstel word.

Passende juwele moet gekoop word, skoene, ensovoorts.

So is die bruid besig om haar voor te berei op daardie groot dag.

En gemeente, as bruid van Christus is ons nou in daardie fase.

Ons berei ons voor op die bruilofsdag.

Dinge kan nie uitgestel word nie.

Want soos ons weet in die geval van ons bruilof, die dag is vooraf nie bekend nie.

Christus kan enige dag terugkom, en dan sal die fees aanbreek.

Tog skenk Christus alles wat nodig is nou reeds, sodat ons onsself kan mooimaak, onsself kan gereedmaak vir die groot dag.

 

Gemeente, hierdie is alles natuurlik beeldspraak.

Want in die geval van Christus se gemeente dui al die juwele op iets anders.

Dink aan hoe die apostel Petrus daaroor skryf as hy homself spesifiek tot die vroue rig:

“Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar ... in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig” (1 Petr 3:3-5).

 

Wat is dan Christus se juwele?

Jesaja het al iets daarvan genoem:

“Ek is baie bly in die HERE ... want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel ... soos 'n bruid wat haar versier met haar juwele.” (Jes 61:10-11)

Heil en geregtigheid.

Heil is ’n ouer woord vir redding, verlossing.

Dit is die eerste juweel, dat ons danksy Christus gered word van die sonde en die gevolg van die sonde, naamlik die ewige dood.

En geregtigheid, dat ons wat teen ons Skepper in opstand gekom het, weer met Hom versoen word danksy Christus se kruisdood.

Dinge is nou weer reg tussen jy en jou Skepper.

En so beskryf die Nuwe Testament vele juwele, edelstene, wat Christus ons skenk.

Vergifnis, afwassing van die sondes, daaglikse vernuwing van ons lewe, heiligmaking, volharding.

Ook kan ons dink aan die vrugte wat sy Heilige Gees in ons lewens werk: getrouheid, goedheid, lankmoedigheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, vriendelikheid, blydskap, liefde, vrede ensovoorts.

’n Gemeente wat hierdie juwele dra, is soos ’n skitterende bruid.

Dit is Christus se bruid se kosmetika.

Tussen hakies, gemeente, die woord kosmetika is afgelei van die Griekse woord wat hier in ons teks gebruik word.

Christus se kerk se kosmetika is hierdie vrugte van die Gees.

Sy trek almal se aandag, almal se koppe draai in haar rigting.

En dit is iets wat nie eers gaan gebeur die dag as Christus terugkom nie.

Christus is nou al besig om sy bruid te versier.

Ons is nou al sy bruid.

Hy het ons reeds gekoop.

Sy Gees werk reeds in ons, sodat ons groei na die volmaaktheid toe.

 

Dit het die Gees ook reeds gedoen in die sewe gemeentes in Klein-Asië, aan wie Openbaring eerstens geadresseer was (Openb 2-3).

Hulle is opgeroep om hulle eerste liefde nie te versaak nie.

Om nie af te dwaal deur dwaalleer in hulle midde te tolereer nie, om nie iets weg te laat of toe te voeg aan die boek van die lewe nie.

Om nie aan te pas by ‘n wêreldse leefstyl, soos die Nikolaïete begin doen het, om hulle klere nie te besoedel nie, maar te bly wandel in die wit klere wat pas by ‘n bruid.

Om te volhard in liefde, lydsaamheid, reinheid, om eendag ‘n pilaar te word in die nuwe Jerusalem.

Om uit te sien na die dag as die Bruidegom kom.

Om verlangend te roep: Kom, Here Jesus! Maranata!

In ons teks – 22:17 – roep die Gees en die bruid saam vir die Bruidegom se koms.

Dit is ‘n vrug van die Gees om die begeerte na sy koms steeds brandende te hou.

 

2 Die bruid se aantreklikheid

Nou in die geval van Christus se kerk is daar twee aspekte om mee rekening te hou.

Eerstens is groei in diepte.

En die tweede is groei in aantal.

Hierdie twee het alles met mekaar te make.

Groei in diepte beteken dat die kerk steeds mooier, steeds aantrekliker, word.

Steeds meer gereed is en verlang na die Bruidegom se koms.

Die juwele van Christus steeds meer begin dra.

Ons het hulle hierbo genoem: getrouheid, goedheid, lankmoedigheid, sagmoedigheid, vriendelikheid, blydskap, liefde, vrede ensovoorts.

En wat so wonderlik is, hierdie groei in diepte lei dan tot groei in aantal.

Want in ons teks – Openbaring 22:17 – roep die kerk nie net na haar Bruidegom om te kom nie, sy roep ook almal wat dors het om te kom drink van die lewende water – verniet!

 

In hierdie verband verwys ek na die tema wat ons as gemeente hierdie jaar behandel:

Ons nuwe lewe in Christus.

Een van die aspekte wat ons hierby wil behandel is dat die nuwe lewe in Christus aansteeklik is.

Dit het te make met evangelisasie.

Hoe bereik ons ander?

Hoe kom ons wens in vervulling dat hulle by ons gemeente aansluit en saam met ons Christus dien?

Wel gemeente, hierdie is waarmee ons begin.

Mooimaak – om aantreklik te wees – dit is evangelisasie.

’n Bruid wat haarself mooimaak, wat die juwele van Christus dra – goedheid, vriendelikheid, blydskape, vrede – noem maar op, so ‘n kerk is aantreklik.

Aantreklik beteken, dit het aantrekkingskrag.

Dit help nie ons het evangelisasie vakansiepakkette, ons hou filmaande, ons doen deur-tot-deur aksies, maar hierdie basiese dinge van ons gemeentelike lewe is nie in orde nie.

Ek sê niks verkeerd van vakansiepakkette, filmaande ensovoorts nie – laat dit duidelik wees.

’n Gemeente wat die vrugte van die Gees dra, is aantreklik.

’n Stralende bruid is aantreklik.

Hierdie is ’n gawe en opdrag.

Christus se skatkis is bodemloos.

Hy het sy Gees aan ons geskenk wat al hierdie skatte en gawes ons deel maak.

Jy en ek, ons as gemeente word opgeroep om nie sy werk te blus nie, maar dankbaar die pad van die vernuwing van ons lewe te stap.

Identifiseer en benoem wat watter vodde daar nog aan die kerk hang, raak ontslae daarvan.

Laat ons ons meer en meer met Christus beklee, dit wil sê met sy juwele.

Ek gaan nie nou hierop uitwy nie, maar ons weet as gemeente al te goed dat, behalwe vir al die moois wat die Gees reeds in ons gewerk het, daar dinge is wat ons nog agter ons moet laat.

En dan is dit nie gepas om ons met ander gemeentes te vergelyk en te sê – ons is tog wel beter as hulle nie.

Ons fokus op ons Bruidegom en hoe Hy wil hê ons behoort te lyk.

En dan is daar altyd nog genoeg om te doen.

En soos wat ons op daardie pad vorder, raak ons ook aantrekliker.

 

Daarom is evangelisasie nie net ‘n aparte kompartiment van ons gemeentelike lewe nie.

Dis nie net iets vir ‘n kommissie nie.

As jy vrede maak met jou medegemeentelid, is jy besig met evangelisasie.

As jy vriendelik en belangstellend is teenoor almal in die kerk, en natuurlik ook teenoor die besoekers, is jy besig met evangelisasie.

As jy selfbeheersing aan die dag lê tydens ‘n funksie waar jou kollega’s of jou mede-studente hulleself dronk drink, is jy besig met evangelisasie.

As jy self trou elke erediens besoek, is jy besig met evangelisasie.

As jy omgee vir ander, jou naaste liefhet, is dit ook evangelisasie.

Verstaan u wat ek bedoel as ek sê dat evangelisasie nie net nog ‘n aktiwiteit is, net nog ‘n kompartiment van ons gemeentelewe nie?

Laat ons hele lewe ‘n leesbare brief wees van Christus.

Dit is deel van die gemeente se DNA om evangeliserend te wees.

Want daar is mense uit elke volk en stam en taal en nasie wat in die nuwe Jerusalem moet ingaan.

Pragtig soos ons teks, Openbaring 22:17, dit verwoord:

“En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Christus se gemeente is nie ‘n eksklusiewe groep nie.

Daar is gratis lewende water om uit te deel.

In die Bybelse tyd het lewende water gedui op ‘n fontein, ‘n bron wat uit die grond borrel.

Daardie fonteine is in die droë Israel soos goud opgepas.

Nie elkeen kon daar kom water skep nie.

Christus het egter ‘n fontein van lewende water wat nooit sal opdroog nie en waaruit almal gratis kan kom skep.

Lewende water, selfs water van die ewige lewe.

As kerk mag ons so ‘n fontein van Christus wees.

Omdat ons van hierdie water drink, word ons lewe nuut.

En hierdie nuwe lewe in Christus is aansteeklik.

 

Ek het al gesien, sommige mense in lane waar daar baie gedraf word, het ‘n kraan geïnstalleer wat buite hulle hek uitsteek, sodat die moeë drawwers bietjie water kan drink.

Laat ons hierdie jaar nadink oor hoe ons soiets kan doen.

Want ons is nie ‘n geslote gemeenskap nie.

Ons moet dit maklik maak vir ander om by die lewende water uit te kom.

Dit is ook belangrik om aan sulke praktiese dinge aandag te skenk.

Al verloor ons nie uit die oog nie dat alles begin by die stralende bruid wat ons behoort te wees.

Mag so, saam met die roepstem van die Gees, die bruid se stem helder klink in die wye omtrek.

Sodat hulle wat hoor, soos ons teks sê, ook ander sal roep: Kom!

Sodat die gerug sal uitgaan in die wye omgewing: Hier is daar lewende water!

Kom saam met ons, want hierdie is ‘n goeie plek om te vertoef!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 45:1,2,9,10

Wet

Ps 16:2

Gebed
Skriflesing: Openbaring 21-22

Sb 38:1-3

Teks: Openbaring 21:2 & 22:17

Preek

Sb 23:1-4

Gebed

Kollekte

Sb 45:1,3,7,10,12

Seën