Beklee julle met die nuwe mens

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-03-10
Text: 
Kolossense 3:10
Preek Inhoud: 

Preek: Kolossense 3:10

 

Die kerkraad het vir 2024 ‘n jaartema vasgestel: Ons nuwe lewe in Christus.

‘n Jaartema is tipies ‘n onderwerp wat bedoel is om die gemeente op te bou, ‘n tema waarin die gemeente nog kan groei, wat relevant is vir die gemeente en die omstandighede waarin ons lewe.

Die bedoeling is dat ‘n jaartema aandag kry in die gemeentelike lewe op verskillende maniere, ook in die prediking.

Hierdie jaar se tema is wel baie wyd: Ons nuwe lewe in Christus.

Daarom het die kerkraad besluit om dit spesifiek toe te spits op ‘n paar subtema’s.

Ek noem hulle net weer kortliks (op die onlangse gemeentevergadering is dit meer uitvoerig verduidelik):

Die nuwe lewe is aansteeklik – ons gaan aandag skenk aan evangelisasie.

Dan nog ‘n subtema:

Die nuwe lewe in Christus is ‘n jubelende lewe.

Hier wil ons bietjie aandag skenk aan aspekte soos die liturgie in die erediens, sang en musiek.

Ons nuwe lewe in Christus is ‘n geskenk van die Heilige Gees.

Hy werk in ons – wat genoem word – die heiligmaking, dat ons lewe al hoe meer toegewyd is aan Christus, dat ons groei na die volmaaktheid.

Die vraag by hierdie subtema is: Hoe sien ons dit in ons liturgie, sang en musiek?

Dan is nog ‘n subtema ‘n meer dogmatiese onderwerp, naamlik die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament.

Watter bepalings uit die Ou Testament is afgeskaf, en watter moet ons nog steeds nakom?

Wat is nuut?

En dan om af te sluit, ons wil met die jaartema deurgaans fokus op ons persoonlike verhouding met ons Heiland, ons aanbidding van Hom, ons voluit leef vir Hom in die genadeverbond waarin Hy vir ons ‘n kosbare plek gegee het.

Die nuwe lewe in Christus gaan nie net oor onderwerpe, leerstukke nie, maar primêr oor ons persoonlike geloof en groei in die diens aan ons Here Jesus Chistus.

Dit is iets wat baie belangrik is.

Vir die jeug, en net so vir die oueres.

 

In vandag se preek begin ons by die begin.

Ons gaan terug na die Skrif om te vra: Wat is daardie nuwe lewe in Christus?

 

Tema: Beklee julle met die nuwe mens

1 Dit is die gawe van Christus

2 Dit is die werk van die Heilige Gees

 

1 Dit is die gawe van Christus

In die Griekse stad Kolosse het Christus deur sy apostels die Evangelie gebring.

Die krag van die Evangelie het onder die heidene wat daar gewoon het, begin werk.

Baie het tot bekering gekom.

En in hierdie brief wat Paulus aan hulle skryf word hulle nou heiliges genoem.

Allermins sondeloos, maar soos die 2020-vertaling die woord heiliges in ‘n voetnoot verduidelik:

“Mense wat vir die diens van God afgesonder en aan Hom gewy is”.

Hulle het die gawe van Christus ontvang.

Hulle is vernuwe.

 

Gemeente, in die Nuwe Testament vind ons dikwels die woord nuwe of nuut.

Christus kondig self aan dat daar iets nuuts op koms is.

“'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke” (Matt 9:17).

Paulus verduidelik dat Christus se opstanding vernuwende implikasies het: “sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.” (Rom 6:4)

Ons nuwe lewe in Christus het dus met sy opstanding te make.

Soos Hy opgestaan het tot die ewige lewe, so is die nuwe lewe sterker as afbraak en dood.

2 Korinthiërs 4:16: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.”

Hierdie nuwe lewe is dus ‘n wonder, net so groot soos die skepping van ons eerste lewe.

In Galasiërs 6:15 word genoem dat ek in Christus Jesus “’n nuwe skepsel” is.

Ook in 2 Korinthiërs 5: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel” (vers 17).

 

Dit is die konsekwensie van ’n groot geskenk.

En daardie geskenk is Christus se opstanding, met die implikasie dat die wat aan Hom behoort, ook sal opstaan.

Daardie geskenk is ook Christus se hemelvaart, dat Hy nou op die troon regeer.

Paulus roep op om boontoe te kyk, na Hom wat op die troon sit:

“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.”

Ons moenie hierdie verkeerd verstaan, asof ons hemelse geestelike wesens moet word wat nie meer in die aarde belangstel nie.

Om die dinge te bedink wat daarbo is, beteken dat ons opkyk na die hemelse troon.

Vandaaraf ontvang ons ons instruksies hoe ons op aarde moet leef.

Vandaaraf ontvang ons krag.

Ja selfs ontvang ons in hierdie lewe al die kragte van die opstanding, die kragte van die ewige lewe.

 

In ons teks word daarna verwys dat ons hierdie nuwe lewe aantrek, soos nuwe klere.

In die vorige vers staan dat ons die ou mens en sy gewoontes moet uittrek.

Altans, dit staan so in die Grieks, in die ou vertaling vind ons nie die woord uittrek nie, wel in die 2020-vertaling.

Hierdie twee woorde is antonieme, dit staan teenoor mekaar: eers uittrek, dan aantrek.

Die ou mens met sy gewoontes word uitgetrek.

Paulus gebruik dieselfde woord ook in hoofstuk 2:11:

Dat ons die liggaam van die sondige vlees uittrek.

Dit word gedoen, staan daar, deur die besnydenis van Christus.

Dit is simboliese taal, verwysende na die doop, wat ’n belofte is van die vergifnis, die reinigende water, wat Christus elke dag sal skenk as ons dit van hom vra.

So kan ons wat oud is afwas, en die nuwe mens aantrek.

Hierdie aantrek van die nuwe mens is nie ons goeie werke nie.

Jy het nie daardie klere gemaak nie.

En ook, as jy nuwe klere geskenk kry, is dit glad nie ’n werk om dit aan te trek nie.

Dis ’n plesier om dit aan te trek, jy doen dit graag.

En dan wys jy dit vir almal hoe mooi jy lyk.

En jy vertel vir almal, my ouers, of dalk my man, het vir my hierdie pragtige rok gekoop.

As ek dit aan het, voel ek sommer ’n nuwe mens!

 

Net so is die nuwe mens die gawe, die geskenk, van Christus.

Die nuwe lewe word selfs Christus in eie Persoon genoem.

Hyself is die geskenk!

Dink aan vers 4: “Wanneer Christus, wat ons lewe is” ...

Hy is die geskenk!

Ons moet met Christus beklee word.

So staan dit letterlik in byvoorbeeld Romeine 13: “maar beklee julle met die Here Jesus Christus” (vers 14).

 

Hoe doen ons dit?

Dan dink ons eerstens aan sy regverdiging.

Danksy sy kruisdood kan my sondes vergewe word.

Elke dag as ek vergewing vra, is dit soos ou vuil geskeurde klere wat ek kan uittrek, en pragtige nuwe klere wat ek mag aantrek.

Ek hoef nie meer in ou klere rond te loop nie.

Christus skenk my elke dag pragtige nuwe klere – dit is sy regverdiging.

 

Nou gaan dit nie in die teks net oor klere nie, maar oor ons hele mensheid.

Ek trek my nuwe mens aan.

Ek is geregverdig deur Christus.

Ek is ’n nuwe skepsel.

En ek mag al hoe meer soos ’n nuwe mens begin dink en lewe.

 

Eers nog die vraag:

Broer, suster, trek jy elke dag nuwe skoon klere aan?

Kan jy dit bekostig?

Ja, jy kan!

As jy aan die einde van elke dag opreg vergewing van sondes vra, vra dat Christus se geregtigheid, sy betaling aan die kruis, vir jou gegee word, dan kry jy elke nuwe dag nuwe klere.

En dit beïnvloed jou lewenstyl.

Dit is waarna ons in die tweede punt gaan kyk.

 

(Tema: Beklee julle met die nuwe mens

1 Dit is die gawe van Christus)

 

 

2 Dit is die werk van die Heilige Gees

Ons teks sê: ek mag na die beeld van my Skepper vernuwe word.

Noudat ek ’n nuwe skepsel is, leer die Heilige Gees my om ook soos ’n nuwe skepsel te lewe.

Die eerste mense, Adam en Eva, is na die beeld van hulle Skepper geskape.

In die paradys het hulle dit verloor.

In Christus – die tweede Adam – mag ons weer herstel word na die beeld van ons Skepper.

Dit is die werk van die Gees in ons, dit is ’n gawe, maar ook ’n opdrag, ’n proses.

 

Dink aan een van die bekendste gedeeltes in die Bybel oor ons nuwe lewe, Efesiërs 4: “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” (vers 22-24)

Dink ook aan 1 Korinthiërs 5: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees” (vers 7).

Ook in Kolossense 3 vind ons ’n duidelike opdrag: “Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.”

In die Grieks staan: sorg dat hierdie soort lelik gepratery uit julle mond kom, oftewel, spoeg dit uit!

En verder: “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol 3:8-10).

Tog is dit nie ’n opdrag wat op homself staan nie.

Daar is kragte in my wat my nuut maak.

Dit is die krag van die Heilige Gees.

Hy sorg dat ek in staat is om die opdrag uit te voer.

Die opdrag kom nadat ons die geskenk ontvang het.

 

In hierdie hoofstuk word die ou mens en die nuwe mens met mekaar vergelyk.

En die kontras, die verskil, is byna ongelooflik.

Deel van my ou mens se lewe was:

  • oneerlikheid;
  • onsedelikheid;
  • onreinheid;
  • wellus;
  • slegte begeertes;
  • gierigheid;
  • afgodediens;
  • woede, driftigheid;
  • laster en onwelvoeglike taal.

Gemeente, broer, suster, is daar dalk een van hierdie woorde wat nog iets van jou lewe beskryf?

Dan het jy nog vodde aan jou lyf wat jy nie uitgetrek het nie.

Dit lyk lelik!

En dit maak jou nie net lelik nie, dit sleep Christus se Naam ook deur die modder.

Want ongelowiges wat dit sien, dink: Is Christus dan nie ryk genoeg om ook daardie vodde te vervang nie?

Is sy Gees nie kragtig genoeg om die gelowiges te genees van hulle slegte begeertes, wellus, hulle onsedelikheid nie?

Is Christus nie sterk genoeg om daardie persoon se driftigheid en woede tot bedaring te bring nie?

Is die Heilige Gees nie in staat om daardie persoon te laat ophou met skinder en kwaadpraat nie?

Broers en susters, daar klink ’n duidelike opdrag:

Trek uit daardie vodde!

Moenie bang wees dat jy dan koud gaan kry, of naak gaan staan nie.

Daar is klere in oorvloed, waarmee jy oorklee sal word!

Daarom, moenie die Gees se werk blus nie, soos die Bybel sê (1 Thess 5:19), moenie sy wedergeboorte van jou lewe vertraag omdat jy lief bly vir sondige dinge in die wêreld nie.

Laat sy werk in jou sigbaar word!

As sy werk in ons sigbaar word, dan is dit asof ons daagliks met splinternuwe klere rondloop.

Ander kyk graag daarna, hulle staan verwonder.

Hulle wil met hierdie mense assosieer, hierdie mense wat so mooi lyk.

Hulle vra: Waar koop julle sulke mooi klere?

En so is die nuwe lewe aansteeklik.

Want ons kan getuig: Hierdie Kleremaker is ons Heiland, en Hy deel dit gratis uit.

Hierdie klere word ook by die naam genoem.

Die nuwe mens word naamlik geklee met:

  • goedheid;
  • nederigheid;
  • meelewing;
  • sagmoedigheid;
  • geduld;
  • vergewingsgesindheid;
  • verdraagsaamheid;
  • en die mooiste: die liefde.

So word ons vernuwe, meer en meer.

 

En wat ook ’n gevolg is van die feit dat hierdie klere gratis uitgedeel word, is dat alle onderskeid wegval.

Danksy Christus is ons almal ewe ryk.

Sy Gees beklee ons almal met dieselfde nuwe mens.

In Christus is daar nie meer ryk en arm, of soos daar in vers 11 staan: Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër; slaaf of vryman nie.

Maar Christus is alles in almal.

Hier op aarde dien klere dikwels ’n diskrimenerende doel.

Mense wat ryk is, trek klere aan wat aan ander wys hulle is ryk.

Mense wat arm is, probeer ook sulke klere aantrek met die gevolg dat hulle groot skulde het by klerewinkels.

Hoewel ryk mense dan nog steeds hulle neus daarvoor sal optrek.

Die spreekwoord sê: Klere maak die man.

Of, jy takseer iemand op sy baadjie.

Die mode-industrie profiteer hiervan.

Hulle word ryk omdat hulle misbruik maak van mense se sondige neiging om altyd beter en mooier as ander te wil wees.

Daarom word die mode elke jaar verander.

Want as jy volgens die nuutste mode aantrek, dan weet almal jou klere is nuut.

Maar die wonderlike van die nuwe lewe is dat hierdie diskriminasie volledig wegval.

Die band van die volmaaktheid bind ons saam.

Dit kom uit die onderlinge liefde wat in Christus se gemeente heers.

 

Geliefde gemeente, die nuwe mens, hierdie gawe van Christus, hierdie werk van die Gees, is sigbaar in ons midde.

Baie nuwe klere is sigbaar hier in Maranata.

Tog, as mens rondkyk, is daar ook nog vodde sigbaar.

Die bedoeling van die jaartema hierdie jaar is dat ons aangemoedig word, opgeroep word, om nog meer van hierdie vodde uit te trek en weg te gooi.

Laat ons nie agterbly op pad na die volmaaktheid nie.

Ons is oppad om – soos die teks die noem – heeltemal herstel te word na die beeld van ons Skepper.

 

Dit is iets wat aansteeklik is.

Daarom wil ons hierdie jaar aandag skenk aan evangelisasie.

Dit is ook iets wat ons so bly maak dat ons wil sing.

Daarom gaan ons ook aandag skenk aan die feit dat die nuwe lewe ’n jubelende lewe is.

In hierdie hoofstuk wys Paulus uitdruklik daardie verband aan.

Die nuwe lewe word gekenmerk deur die sing van psalms, lofsange en geeselike liedere – vers 16.

Dat ons in ons harte met dankbaarheid tot eer van die Here sing – vers 16.

Dat ons alles doen tot eer van die Here Jesus – vers 17.

Want Hom verwag ons.

Ons nuwe lewe is ons oppad na ’n eindbestemming, dit is die doel van ons vernuwing.

Daardie bestemming is wat Johannes in Openbaring mog sien:

“ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan.” (Openb 21:1)
Op daardie nuwe aarde pas mense wat vernuwe is.

Die Heilige Gees maak ons nuut sodat ons eendag ’n plek kan kry op daardie herskape aarde.

 

Wat ’n voorreg om hierop voorberei te word.

Want as dit oor ons nuwe lewe gaan, gee ons alle krediet daarvoor aan God.

Dis ’n voorreg, nie ’n reg nie.

Alle eer aan Hom.

Hy is ons Vernuwer.

“Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.” (Openb 21:5)

 

Ons ervaar dat daardie waaragtige en betroubare woorde werklikheid word in ons lewens.

Ons begin alreeds steeds meer lewe soos hoe dit op die nuwe aarde gaan wees:

’n Lewe gekenmerk deur goedheid, nederigheid, meelewing, sagmoedigheid, geduld, vergewingsgesindheid, verdraagsaamheid, en bo dit alles: die liefde.

In die wêreld is hierdie vrugte van die Gees skaars soos hoendertande.

In die gemeente van Christus begin dit al die norm, ja selfs normaal te word.

Aan Hom alle eer daarvoor!

 

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 84:3,5

Wet

Sb 26:11

Gebed

Skriflesing: Romeine 13:8-14 & Efesiërs 4:17-32

Ps 86:6

Skriflesing: Kolossense 3:1-17

Ps 87:4

Teks: Kolossense 3:10

Preek

Sb 24:5,6

Gebed

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën