Nie jy self nie, nie ‘n ander skepsel nie, Hy self sal jou verlos

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-02-11
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 5
Preek Inhoud: 

Die atmosfeer waarmee Sondag 5 begin, weerspieël die atmosfeer waarmee Psalm 130 begin.

Somber, deprimerend, moedeloos, uitsigloos.

Ons weet nie wie’s die digter nie, al staan daar wel dat dit ‘n bedevaartslied is.

Dit is ‘n soort lied wat die mense gesing het as hulle vanaf hulle blyplekke opgegaan het na die tempel.

By die tempel is offers gebring om die sondes te versoen.

Maar dit was nie ‘n outomatiese saak nie, dit was nie net ‘n pligpleging nie.

Daardie reis na Jerusalem was nie net vrolikheid nie.

Dit was ‘n reis waartydens daar besin is, meer nog, gewroeg is.

Die tempel het by uitstek die HERE se aanwesigheid onder sy volk op aarde gesimboliseer.

Maar om voor die HERE se aangesig te verskyn was ook huiweringwekkend.

Gemeente, in die week wat kom, gaan ons onsself voorberei vir die nagmaal.

En soos die nagmaalsformulier ons leer, daar moet selfondersoek plaasvind.

Broer, suster, hoe berei jy vir ‘n Sondag voor?

Is dit iets wat jy meer bewus sal moet doen?

By uitstek vir ‘n Nagmaalsondag geld dat ons nie onnadenkend kerk toe kan kom nie.

Psalm 130 herinner ons daaraan, dit herinner ons aan ons posisie.

Psalm 130 is ‘n geskikte psalm hiervoor, want dit is ‘n boetelied.

Reeds in die vroeg-Christelike kerk het dit bekend gestaan as een van die sewe boetepsalms.

 

 

Tema: Nie jy self nie, nie ‘n ander skepsel nie, Hy self sal jou verlos

1 Die dieptes van jou ongeregtigheid

2 Die veelheid van sy geregtigheid

 

1 Die dieptes van jou ongeregtigheid

Die digter sê: uit die dieptes.

Die woord dieptes word in die Ou Testament veral gebruik as daar na die dieptes van die see verwys word.

Die profeet Jona het afgesink na die diepte van die see, nadat hy ongehoorsaam was, die HERE ‘n storm gestuur en hy oorboord gegooi moes word (Jona 2:3).

Die dieptes van die see is beangstigend, vandag nog steeds.

Hoe dieper jy afsak, hoe donkerder word dit, tot dit absolute duisternis is.

Dis nie ‘n klimaat waar enige mens kan oorleef nie.

Die ongelooflike druk van die water sal jou laat ineenkrimp.

Onlangs toe ‘n duikboot na die Titanic wou gaan kyk, het dit geïmplodeer.

In ‘n fraksie van ‘n sekonde was die mense daar binne-in oorlede.

Die diepste dieptes van die oseaan is vir die mensheid nog onbekend, gevaarlik, onheilspellend.

 

In Psalm 130 gebruik die digter hierdie einste woord as hy na homself verwys.

Dis waar hy homself bevind.

Uit daardie dieptes skreeu hy tot God.

Gemeente, dit is ook ons posisie.

Uit die dieptes.

Maar dis nie dieptes in geografiese sin soos by die profeet Jona of soos waar die Titanic op die bodem van die see lê nie.

Dis ook nie dieptes waarin ons in ons lewe beland as ons sonder werk sit, of omdat ons ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, of omdat ons baie siek is nie.

Daar is slegs een rede hoekom ons in hierdie dieptes is.

Vers 3: As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, wie sal bestaan?

Wie sal bestaan ...? Dit beteken: Wie het enige reg om op aarde te staan, om te lewe?

Wie het enige bestaansreg hier op aarde?

Laat staan om ook nog op te trek na die tempel om die HERE daar te ontmoet.

Dit is die dieptes van Psalm 130.

Die dieptes van jou en my sondes.

 

Psalm 130 begin as ‘n klaaglied.

Die digter roep angstig: “Here, hoor na my stem; laat u ore luister na die stem van my smekinge.”

Gemeente, die Skrif kom nie met ‘n goedkoop Evangelie nie.

Wie nie die dieptes van sy ellende ken nie, sien ook nie die glans van die Evangelie nie.

Hy vir wie die sonde nie bitter is nie, sal ook nie smaak hoe soet Christus se verlossing is nie.

 

Sondag 5 spreek die Skrif na as dit aandag skenk aan die donker skaduwee van die mens se ellende.

Nie net in die algemeen nie.

Baie spesifiek: my en jou ellende.

Sondag 5 moet ons nie as ‘n skoolles lees, iets wat jy nou maar een maal moet leer, maar waarmee jy nie identifiseer nie.

Sondag 5 is ook jou en my outobiografie.

En dit is goed as dit insink hierdie week, as ons onsself voorberei om volgende week op te gaan na die nagmaal.

Ek verdien volgens die regverdige oordeel van God nie net die tydelike nie, maar die ewige straf.

Aan God se geregtigheid moet voldoen word.

As Hy die ongeregtighede in gedagtenis hou, wie sal bestaan?

Daar kom by dat ek op geen enkele manier kan betaal nie.

Ek maak die skuld juis elke dag nog groter.

 

Psalm 130 se digter het opgegaan na die tempel.

Hy het ‘n dier met hom saamgevat om daar te offer.

Maar soos wat hy nader kom, besef hy:

Hierdie dier kan nie ‘n betaling vir my sondes wees nie.

Hy het, soos die HERE in sy wet bepaal, sy beste dier gevat.

Nie ‘n gebreklike of sieklike dier waarvan hy tog ontslae moes raak nie.

‘n Gesonde vet dier.

Nietemin, kan dit my sondes wegneem?

Wie eerlik na God se Woord luister, sal net soos die digter erken:

Wie kan bestaan as hy op homself aangewese is?

Selfs al offer ek al my diere.

Selfs al vat ek al my spaargeld en beleggings volgende week saam en gooi dit in die nagmaalskollekte.

Vir die HERE is dit waardeloos.

Niks kan aan die eis van sy geregtigheid voldoen nie.

Ek maak juis my skuld nog elke dag groter.

Wie van ons hier in die kerk kan sê oor ‘n enkele dag in ons lewe: Vandag het ek sover ek weet nie gesondig nie ...?

Daagliks word daar weer nuwe sondes opgehoop.

Elke dag word die skuld groter.

 

Daar kom by, soos die Kategismus sê, dat ook geen ander skepsel vir my kan betaal nie.

Die digter van Psalm 130 vat wel sy beste dier saam, maar dit gee nie vir hom selfvertroue nie.

Inteendeel, uit die dieptes roep hy na die HERE.

Wie by God se Woord lewe, sal dit besef.

Dink aan Psalm 40: “U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie” (Ps 40:7).

Dawid bedoel hier nie dat die volk maar hulle offers kon oorslaan nie.

Hy bedoel dat daardie offers nie die skuld kan afbetaal nie, en dat God daarom ‘n gebroke hart wil sien.

“Gebroke hart en gans verslae gees – dit is u offers, Heer! Geen altaardiere,

geen bloed of vet van kleinvee of van stiere, kan voor u oog die ware offers wees.” (Ps 51:8 berymd)

 

God se geregtigheid hou ook in dat Hy geen ander skepsel sal straf vir die skuld wat die mens gemaak het nie.

Laat staan die feit dat geen enkele skepsel in staat is om die las van God se ewige toorn teen die sonde te dra nie.

Laat staan nog dat dit daarmee ander skepsels sal kan verlos.

 

Uit die dieptes.

Dit is waar hierdie bedevaartslied begin.

Die besef dat dit nie vanselfsprekend is dat die Here jou stem, jou smekinge sal wil hoor nie.

Nagmaal vier is nie vanselfsprekend nie.

As dit op myself aankom, sal dit maar beter wees om weg te bly.

En as die digter van Psalm 130 net op homself sou bly fokus, dan moes hy maar liewers omdraai terug huis toe en nie gewaag het om met sy voete die tempelterrein te betree nie.

Die dieptes van sy ongeregtigheid weerhou hom om ‘n voet verder te sit rigting die tempel.

 

Maar, daar is ‘n groot MAAR in hierdie Psalm.

Dit bring ons by die tweede punt van die preek.

 

(Tema: Nie jy self nie, nie ‘n ander skepsel nie, Hy self sal jou verlos

1 Die dieptes van jou ongeregtigheid)

 

 

2 Die veelheid van sy geregtigheid

In vers 4 staan daar: MAAR by U is vergewing.

By die HERE is daar goedertierenheid.

Goedertierenheid verwys na die HERE se verbondstrou, sy verbondsgenade.

By Hom is daar veel verlossing.

Die digter dink aan hoekom die HERE eintlik die tempel laat bou het.

Hoekom Hy eintlik die offerdiens ingestel het.

Hoekom Hy selfs sy kinders beveel om na die tempel te kom en hulle offers te bring.

Dit kon mos nie toevallig wees nie!

Die rede moet wees dat daar by die HERE vergewing is, selfs veel verlossing!

Veel, beskikbaar vir elke persoon wat met ‘n gebroke hart by die tempel aankom.

En veel, in die sin dat dit elke jaar, selfs elke dag daar is, as jy weer voor Hom verskyn met ‘n gebroke hart.

Dit is nie ekself wat dit verdien het nie, dit is nie die skaap of bees wat ek saamgebring het nie.

Dit is net Hy self.

Hy self, beklemtoon die Psalm aan die einde, Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede.

Hy self, gemeente!

Dit is waarna die laaste vraag en antwoord van Sondag 5 begin heenwys.

Hoe ‘n middelaar en verlosser moet ons soek?

Een wat ‘n ware en regverdige mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, wat terselfdertyd ware God is.

En soos ons weet uit die Skrif, daar is slegs een ware God.

Hierdie antwoord trek ons oë van onsself en elke ander skepsel af, en laat dit boontoe kyk, hemel toe.

Slegs van daar af kan betaling, verlossing, uitkoms verwag word.

En dit is presies die boodskap wat in die tweede deel van Psalm 130 ingehamer word.

Wag op die HERE, o Israel!

En gretig doen die digter dit.

Toe vier keer toe hoor ons sy hartgrondige belydenis:

Ek wag op die HERE.

My siel wag op die HERE.,

Ek hoop om sy woord.

My siel wag op die Here, meer as wagters op die môre.

Pragtige beeldspraak.

Destyds was daar nie elektriese verligting in die nag nie.

Op ‘n maanlose nag kon die wagte op die mure nie eers hulle hand voor hulle oë sien nie.

Hulle moes op wag staan.

Die ure het stadig gevat om verby te gaan.

Verlangend het hulle na die horison gekyk, na die eerste strepie lig om te verskyn.

“Soos brandwag deur die nagte na rooidag-môre smag, so bly ek in my klagte op sy verlossing wag.” (Ps 130:3 – 2e beryming)

 

Gemeente, laat ons onsself so voorberei om tempel toe te gaan.

Daar waar die HERE se verlossing veel is.

Daar waar ons sy goedertierenheid proe.

Daar waar die verlossende woord klink.

Ons tempel is nie meer in Jerusalem nie.

Ons Hoëpriester staan nie meer daar nie.

Ons Hoëpriester is in die hemelse heiligdom.

En Hy nooi ons volgende week uit na sy versoeningstafel.

Waar Hy veel verlossing sal uitdeel.

Sy liggaam en bloed was ons skoon van al ons sondes.

Brood en wyn prent hierdie verlossingswoord by ons in.

Hy is ons Hoëpriester, wat “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het” – Hebreërs 7:26.

Hy is veel beter as die hoëpriester wat Psalm 130 se digter by die tempel ontmoet het.

Want ons Hoëpriester het nie nodig om elke dag eers vir sy eie sonders offers te bring en dan vir die van die volk nie.

Hy het dit net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het (Hebr 7:27).

 

Geliefde gemeente, Psalm 130 is in ons Here Jesus Christus vervul.

Die Psalm eindig met: “Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede.”

God het dit waargemaak toe Hy sy eie geliefde Seun na die aarde gestuur het.

Dis Hy wat jou uit die dieptes kan uittrek.

Daarom, soos die digter homself voorberei oppad na die tempel, moet ons dit ook doen.

Fokus op die dieptes van jou ellende, maar kyk ook op na die hemel, hoop op sy woord, verwag dit van Hom.

Daarom bestaan die nagmaalsformulier uit twee dele.

Na die selfbeproewing volg die oordenking.

Daarin dink ons na, ons gedenk, ons kyk op, ons fokus op dit wat God gedoen het.

Die Vader het sy Seun in hierdie wêreld gestuur.

Hy het ons vlees en bloed aangeneem.

Hy het die straf gedra.

Hy het betaal.

Met sy dood en bloedstorting het Hy die verbond van genade en versoening veilig gestel, vir ewig bevestig.

Hy het uitgeroep: Dit is volbring!

 

Die twee dele van die nagmaalsformulier reflekteer die twee dele waaruit Psalm 130 bestaan.

Beangstigende dieptes.

Maar ook die oneindige hoogtes van Hom wat in die hemel troon en wat Hy vir ons gedoen het.

Ja, “so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.”

(Ps 103:11)

 

Die woordjie vrees staan ook in Psalm 130.

Dit is op ‘n manier ‘n komplekse woord.

Die Skrif roep ons op om Christus met vrees en bewing te gehoorsaam (Ef 6:5).

God se volk was baie bevrees toe hulle by die berg Horeb gekom en die HERE met hulle begin praat het.

Dink aan al die profete, hoe bevrees hulle was, toe God aan hulle verskyn het.

Om die HERE te vrees beteken dat jy konstant bewus is van jou eie kleinheid, sondigheid, ellende.

Selfs al het jy die verlossing van Hom ontvang.

God se grootheid, almag, heiligheid, hou ons op die knieë.

Selfvoldaanheid pas nie as jy voor Hom verskyn nie.

Eerder dit wat ons in Psalm 130 sing:

“So word U, HEER, met bewing reg kinderlik gevrees.” (Ps 130:2 – 2e beryming)

Terselfdertyd beteken die woord vrees nog meer.

Dink aan die parallelisme in Openbaring 15:4 “Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie?” (sien ook Openb 14:7)

Die HERE vrees beteken ook om Hom te verheerlik.

En om Hom met ‘n opregte hart gehoorsaam te wees – Kolossense 3:22.

En dat ons ernstig is met die heiligmaking in ons lewe – 2 Korinthiërs 7:1.

En dat ons nie hoogmoedig is nie, maar nederig – Romeine 11:20.

Samevattend kan ons sê dat die woord vrees inhou dat ons bang is om die Here te vertoorn, dat ons besef dat slegs nederigheid voor sy aangesig gepas is, maar ook dat ons Hom van harte bly en dankbaar wil dien.

Hom dien met eerbied en ontsag, in gehoorsaamheid aan sy gebooie.

Die HERE vrees is daarom ook ‘n blye en vertroostende saak.

Dink aan die beskrywing wat van die eerste gemeente in Jerusalem gegee word, Handelinge 9:31:

Hulle het gewandel “in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees”.

 

Gemeente, ek kom tot ‘n samevatting.

Sondag 5 herinner jou en my dat die Evangelie nie oppervlakkig is nie.

Die genade is gratis, maar dit is nie goedkoop nie.

Psalm 130 se digter kon dit nie gaan koop by die tempel nie.

Sy bedevaartslied getuig daarvan dat hy skuldbewus was.

Ons voorbereiding vir die nagmaal moet ook daarvan getuig.

Wie die diens aan die Here afskeep deur nie trou kerk toe te kom nie, en die persoonlike diens aan die Here deur die week afskeep, maar dan wel opdaag vir die nagmaal, besef nie die dieptes waarin hy of sy is nie.

Dan gaan die nagmaal vier nie jou skuld wegneem nie, maar selfs nog groter maak.

Tog is die selfverootmoediging op sig nie jou toegangskaartjie nie.

Psalm 130 se groot MAAR fokus op God se vergewing, dit laat jou boontoe kyk.

Jou toegang is dat jy jou lewe buite jouself in Christus soek.

Hy self sal jou verlos van al jou ongeregtighede.

Wie ken die diepste dieptes van die see?

Nog niemand nie.

Watter mens ken die dieptes van sy ongeregtigheid?

Niemand nie, net God.

Maar aan Hom die dank, want by Hom is daar ook ‘n veelheid aan geregtigheid.

Hy self sal jou verlos!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 143:5,6

Gebed

Skriflesing: Psalm 130

Ps 51:7,8

Skriflesing: Ps 40

Ps 40:6

Teks: Nav Sondag 5 Heidelbergse Kategismus

Preek

Ps 130:1-4 (2e beryming)

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 40:2,3,5

Seën