Alles hang af van ons Leidsman en Held

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-12-03
Text: 
Dordtse Leerreels 5, paragraaf 4-9
Preek Inhoud: 

Volharding.

Hoofstuk 5 van die Dordtse Leerreëls behandel die moeilikste maar ook die mooiste tema.

Dit het ons in verlede week se preek gesien.

Volharding in die lewenswedloop.

Net soos as atlete ‘n maraton hardloop.

Hulle spring weg vol goeie moed, gespanne verwagtinge.

Maar na soveel kilometers begin die bene te pyn, die bors te brand, die sweet tap af en die mild begin te steek.

Dan verg dit uiterste inspanning om steeds die een voet voor die ander te kry.

Die Skrif roep ons op om so te volhard in die geloofswedloop.

“Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.” (Hebr 12:4)

Ten bloede toe beteken nie net vervolging nie, dis ook spreekwoordelik, wat daarop dui hoe verbete ons stryd teen die sonde moet wees.

Ons geloofslewe kan nie net voortkabbel nie.

Daar is meters hoë deinings, golwe wat breek bo-oor ons lewensbootjie.

Die pad van volharding is ‘n moeilike, ‘n opdraende pad.

En, beklemtoon die Leerreëls in navolging van die Skrif, as ons aan onsself oorgelaat sou gewees het, sou ons nooit kon volhard nie.

 

Tema: Alles hang af van ons Leidsman en Held

1 Uitverkorenes is nie helde nie

2 Uitverkorenes ervaar wel heldedade in hulle lewe

 

1 Uitverkorenes is nie helde nie.

Paragraaf 4 herhaal hierdie versekering.

God se mag bewaar ons.

Sy krag is groter as die kragte wat ons terugtrek terug in ons sondige lewe in.

Dit neem nie weg, beklemtoon paragraaf 4 weer, dat die lewe nie rustige waters is nie, dis nie ‘n wedloop sonder bloed, sweet en trane nie.

Die realiteit is dat deur ons eie skuld ons tog nog van tyd tot tyd verlei en oorweldig word deur die begeerlikhede van ons ou sondige natuur.

Die Heilige Gees het ons wil vernuwe.

Danksy Hom wil ons nou ook regtig goed lewe.

Maar dit gaan soms, eintlik baie keer, mis.

Daar is genoeg voorbeelde van hierdie werklikheid in die Bybel.

Dawid word genoem, dink aan sy droewige val.

Owerspel met Batseba.

Moord op Uria.

En dink aan Petrus.

Opvlieënd, het maklik sy swaard getrek.

Trots, het aanvanklik sy Heiland gevolg met die doel om binnekort langs hom op die troon in Jerusalem plaas te neem as ‘n minister of so.

En onbetroubaar, aan die einde van die dag ‘n lafaard.

Dink aan hoe hy sy Heiland verloën het.

Die Leerreëls noem hulle heiliges.

Dit wil nie sê hulle is sondeloos nie.

Allermins.

Heilig beteken dat hulle toegewy is aan die HERE.

Met al hulle gebreke en sondigheid wat nog in hulle oorgebly het, wy hulle hulle lewens aan Hom.

 

Ons is nie anders nie.

In ons lewens is daar geen rede vir trots nie, net vir nederigheid.

In ons Kerkorde is daar ‘n artikel – Artikel 80 – wat ‘n lys gee van sondes wat dit noodsaaklik maak om ‘n ampsdraer te skors.

‘n Ampsdraer – ‘n ouderling, ‘n predikant, ‘n diaken – dis mense van wie verwag kan word dat hulle ‘n toegewyde lewe lei.

Dat hulle voorbeelde is vir die gemeente.

Tog spreek dit boekdele dat daar so ‘n artikel moet wees.

Dit bewys maar net dat gelowiges, ampsdraers inkluis, se lewe op aarde nog ‘n geestelike stryd bly.

Om enkele sondes te noem wat in hierdie artikel gelys word:

Godslastering, meineed, egbreuk, ontug, diefstal, geweldpleging, gereelde dronkenskap ...

Hierdie is nie net klein foutjies nie.

Dit is 100% sondes.

 

Die Bybel is nie ‘n heldeboek nie, en net so is daar in die kerk geen helde nie.

Dit Bybel skets hulle nie vir ons as mense sonder gebreke, met die oproep om soos hulle te lewe nie.

Ook die allerheiligstes, bely ons in die Kategismus, het nog maar net ‘n klein begin gemaak met die nuwe lewe.

En voor hulle hulle weer kan vind, het hulle in gruwelike sondes geval.

Hulle drie aartsvyande word hier genoem in paragraaf 4:

Eie sondige natuur.

Die wêreld.

Die Satan.

En paragraaf 5 vryf dit verder in.

Gelowiges se sondes is nie minder erg as die van ongelowiges nie.

Dit word hier growwe sondes genoem.

Dinge wat God vreeslik vertoorn.

Dinge wat die dood verdien.

Wat die Heilige Gees bedroef.

Wat die gewete baie ernstig verwond.

Wat die geloofslewe tot stilstand bring.

Dit alles met die gevolg dat die besef van genade agter hierdie yslike golf verdwyn.

Dit totdat God weer die lig van sy vaderlike aangesig te voorskyn laat kom.

As ons deur opregte berou weer die regte koers terugvind.

 

Gemeente, in die ou dae, toe seilskepe nog oor die eindelose oseane gevaar het, dink aan die seereise vanaf Europa na die Kaap, was dit ‘n vaste gewoonte om voor vertrek die vaart in gebed aan God op te dra.

Dan is daar spesifiek gebid of God die Stuurman van die boot sal wees.

Die matrose het uit ervaring geweet die see is nie altyd rustig nie.

Daar is bepaalde breedtegrade waar dinge moeilik word en die uiterste stuurkuns geverg het.

En behalwe vir dit kon daar op enige plek op enige tyd ‘n storm losbreek, of – die omgekeerde – weke van windstilstand waardeur die voorrade varswater opgeraak en siektes aan boord uitgebreek het.

Hierdie reis vol potensiële gevare is in gebed aan die HERE opgedra.

En net so is gebed vir ons onmisbaar.

Vir ons lewensreis.

Gelowiges moet voortdurend waak en bid om nie in versoekings gelei te word nie.

Versoekings kom soms soos ‘n onverwagte storm.

En soms, nog erger, soek ons versoekings selfs op.

Gaan dobber ons aspris met ons lewensbootjie in waters wat bekend staan as baie gevaarlik.

Ja sulke plekke soek ons soms bewus op.

 

Maar, as dit gebeur het, as jy dit jouself aangedoen het, draai om.

Draai dadelik om, met die besef dat God oneindig barmhartig is.

Dat daar ‘n onveranderlike besluit van Hom lê, die besluit van sy uitverkiesing.

Dat Hy sy Heilige Gees nie heeltemal van sy eiendom sal wegneem nie.

Oftewel, dat Hy nie heeltemal sy hande van jou sal aftrek nie.

Hy sal nie toelaat dat jy uit die genade uitval nie.

Maar uit myself gee ek alte dikwels daartoe aanleiding.

‘n Uitverkorene is verre van ‘n held.

Die profeet Jona is ‘n pragtige voorbeeld daarvan.

Hy is oorboord gesit, het soos ‘n klip in die diep see gesink.

Maar selfs daar diep onder het God se genade vir hom gewag.

In die vorm van ‘n vis wat Hy gestuur het.

 

Jona was baie opstandig.

Hy wou heeltyd die stuur van sy lewe oorneem.

Maar, al het dit baie naby gekom, God het gesorg dat sy eie opstandigheid nie tot sy dood gelei het nie.

So laat die HERE by sy uitverkorenes nie toe dat hulle eie sonde hulle in die ewige verderf stort nie.

Ja, daar is gelowiges wat sterf, soms selfs deur hulle eie onverskilligheid.

Maar om te sondig teen die Heilige Gees, in sy genade sorg God dat hulle nie sover kom nie.

Dat hulle nie tot die bodem val nie.

Sonde teen die Heilige Gees, dit is volgehoue herhaaldelike bewuste verwerping van die diens aan God.

Nie val in sonde nie, maar leef in sonde, en dit baie bewus en aspris.

Om die Gees te bedroef is nie dieselfde as sonde teen die Gees nie.

Die Gees bedroef, dit doen ek en jy as ons van die regte pad afdwaal.

Maar genadiglik kom die HERE agter jou aan, en dan bedroef Hy jou!

Dit wil sê, Hy werk droefheid in jou omdat jy so afgedwaal het.

Hy werk die verlange om weer terug te kom na die regte pad.

Hy maak dat jy moeg raak vir die sonde.

Hy sorg dat die sonde vir jou bitter raak.

Dink aan hoe Dawid dit beskryf in Psalm 32:

“Toe ek geswyg het [dit wil sê sy sonde nie bely het nie], het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed.” (vers 3-4)

 

Maar sonde teen die Gees is om bewus die regte pad te verlaat, en bewus jou eie dwaalweë te bly stap, en bewus nie na sy roepstem meer te wil luister nie.

Die apostel Johannes praat in sy brief van ‘n sonde tot die dood.

Daarmee bedoel hy basies dieselfde as om te sondig teen die Heilige Gees.

Hy skryf: “As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee ... Daar is ‘n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is ‘n sonde wat nie tot die dood is nie.”

Ons hoor hier basies die verskil tussen iemand wat val in sonde en iemand wat bewus kies om te leef in sonde.

As iemand in elk geval nie berou toon nie, moenie God bid of Hy hom tog wil vergewe nie.

So werk Christus se vergifnis nie.

Iemand wat baie bewus die Gees se werk deur die Woord in sy lewe blokkeer, en bewus sy eie rigting inslaan en sy ore toestop vir die roepstem van die Gees, Christus vergewe so iemand nie outomaties nie.

Dan maak ons van die kruis ‘n bespotting.

So iemand maak in sy lewe reeds duidelik dat hy nie uitverkies wil wees nie.

 

(Tema: Alles hang af van ons Leidsman en Held

1 Uitverkorenes is nie helde nie)

 

2 Uitverkorenes ervaar wel heldedade in hulle lewe

 

Paragraaf 7 verduidelik verder God se wonderlike werking in die uitverkorenes.

Hy bewaar die wedergeboorte in hulle.

Teken daarvan is dat Hy hulle deur sy Woord en Gees sover bring om berou te begin kry oor die wat hulle gedoen het.

Dink aan Dawid wat in sonde geval het, hom daarna verhard het en toe die een na die ander sonde begin doen het om sy eerste sonde weg te steek.

Dit was een groot afdraende pad.

So werk dit by elkeen wat sondig en dit nie wil bely nie, ook ek en jy.

As daar iets is tussen God en jou, dan is jy ook nie lus om Bybel te lees nie.

Dis ook moeilik om te bid, en as jy dit moet doen uit gewoonte omdat dit van jou verwag word, dan hou jy dit oppervlakkig en vaag.

Kerk toe gaan is ook nie meer lekker nie, jy sien daarteen op.

As die Nagmaalsondag nader kom, sien jy eers daarteen op.

Dit is die gevolg van die sonde.

En, so word dit in die Gereformeerde leer genoem, dit gebeur onder aktiewe toelating van God.

Dis soos ‘n ouer wat sien sy kind is besig om iets stouts te doen.

Maar die ouer gryp nog nie in nie, hy hou hom wel fyn dop.

Die ouer laat aktief toe dat die kind seerkry.

Bietjie seerkry, om te skrik.

Pedagogies, so laat die HERE soms aktief toe dat ons die bitter vrugte proe van ons eie sondes.

 

En die feit dat Dawid uiteindelik berou gekry het, was omdat God sy Woord na hom gestuur het.

Die profeet Natan het God op hom afgestuur.

Sy indringende woord van vermaan het Dawid in sy spore gestuit.

Toe het Dawid uiteindelik ‘n gebroke hart gekry, en ook die begeerte om vergewe te word.

En deur boetvaardigheid, deur berou en bekering het die sekerheid teruggekeer.

Die sekerheid dat jy die HERE se kind is en bly, dat Hy jou nie sal verstoot nie.

Ja gemeente, dis genade as die HERE met sy Woord in jou lewe aanwesig is.

Die onverganklike saad van die wedergeboorte, soos hier staan, dit is die Woord.

Dink aan wat die apostel Petrus skryf:

“want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” (1 Petr 1:23)

God het sy Woord nie heeltemal uit Dawid se lewe weggeneem nie.

So werk die Gees met die Woord in jou lewe berou, dat jy weer vergifnis deur die bloed van die Middelaar begeer.

En na die droefheid oor die sonde volg daar die heerlike ervaring van bevryding.

Dis ‘n heldedaad, ‘n oorwinning op my doodsvyande, wat ek in my eie lewe mag ervaar.

‘n Heldedaad in my lewe, sonder dat ek self die held is.

 

Maar weer eens, hierdie werk van God Drieënig maak nie van ons stokke en blokke nie.

Daarom eindig paragraaf 7 met die oproep, dat ons, juis nadat ons geval het en deur God weer opgehelp is, voortaan ons eie heil met vrees en bewing uit te werk.

‘n Bybelse frase wat die Leerreëls leen – dink aan Filippense 2:12-13:

“werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”

Onverstaanbaar, maar wel pragtig hoe God se werk en die oproep vir ons om te werk inmekaar vervleg is.

En die Dordtse Leerreëls probeer dit uit mekaar te trek en logies te verklaar nie.

Dit skryf net as ’t ware die frases oor wat ons in die Skrif vind.

 

Aan die eenkant is daar die oproep om te volhard in die lewenswedloop.

Dit is ’n wedloop waarby ons nie verbaas moet wees as dit swaar gaan wees nie.

Dink aan die voorbeeld – na soveel kilometers gaan jou bene pyn, die sweet by jou gesig aftap, jou bors brand en jou mild steek.

En dit is dan nog nie eens tot bloedens toe nie, soos wat ons opgeroep word om teen die sonde weerstand te bied nie.

 

Maar terselfdertyd kan ons die wedloop hardloop met die wete dat nie ons eie verdienste of inspanning nie, maar die genadige barmhartigheid van God ons oor die eindstreep gaan kry.

Want, sê paragraaf 8, as dit van ons afgehang het, sou ons verlore gegaan het.

Maar omdat dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie.

Want sy raad kan nie verander, sy belofte nie verbreek, sy roeping nie herroep, die voorbidding van Christus nie kragteloos, en die verseëling deur die Gees nie vernietig word nie.

Wat ’n indrukwekkende woorde!

Dit gee sekerheid.

Christus is die goeie Herder.

Hy ken sy skape, niemand sal hulle uit sy hand ruk nie (Joh 10:14,28).

 

En as jy jouself afvra: Kan ek ook hierdie sekerheid hê?

Is ek ook een van sy skape?

Hoe weet ek of ek een van daardie uitverkorenes is?

Dan roep die Bybel ons op:

Fokus op Christus, bly na Hom kyk.

Hy is jou Kompas deur die lewensoseaan.

Bly by sy kerk.

Want sekerheid van jou uitverkiesing is onlosmaaklik verbonde aan jou kerklidmaatskap.

Moenie oorboord spring nie.

Ek sê nie dat kerklidmate outomaties salig word nie.

Wel, soos die ou kerkvader Cyprianus gesê het: Buite die kerk is daar geen saligheid nie.

En met kerk word dan spesifiek bedoel die plek waar die lewende Woord bedien word.

Die plek waar Hy gedien word, aanbid word, waar lofsange tot Hom klink, waar die mense funksioneer as ’n hegte eenheid, as die liggaam van die Here Jesus Christus.

As jy naby Hom en sy liggaam, die kerk, bly, elke dag weer, dan sal jy die sekerheid hê van jou saligheid en dit ook behou.

Die Bybel leer nie dat hulle wat uitverkies is, daarvan versekering sal ontvang deur een of ander stemmetjie uit die hemel nie.

Of deur een of ander bonatuurlike teken nie.

Die sekerheid kom deur Christus, jou Kompas, te bly volg, en naby sy Woord te bly.

Alles hang af van Hom, ons Leidsman en Held.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Filippense 2:1-13 & 1 Petrus 1:13-25

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 5, par 4-9

Tema: Alles hang af van ons Leidsman en Held

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Hoekom is uitverkorenes nie helde nie?
  2. Hoe kan dit dat uitverkorenes soms bewus die sonde opsoek?
  3. Hoe kan uitverkorenes heldedade in hulle lewe ervaar as hulle nie helde is nie?
  4. Hoe word ‘n gelowige verseker van sy uitverkiesing?
  5. Noem ‘n voorbeeld toe jy konkreet gebid het dat Jesus die Stuurman van jou lewe moet wees.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 21:9

Gebed

Skriflesing: Filippense 2:1-13 & 1 Petrus 1:13-25

Ps 138:4

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 5,4-9

Preek

Ps 94:6,8,9

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 32:2-5

Seën