My God het sy Engel gestuur

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-11-05
Text: 
Daniel 6:23a
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 6:23a

 

Daniël in die leeukuil is een van die eerste verhale wat ‘n ouer aan sy kind voorlees.

In die Kinderbybel is daar meestal afbeeldings waarna kinders ure kan kyk.

Hoe Daniël tussen die leeus sit, wat net mak daar rondlê, glad nie honger lyk nie.

En dit terwyl die leeus by die paleise in die oudtyd bewus uitgehonger is, sodat hulle die gevangenes onmiddelik kon verslind van kop tot tone.

 

Veral hier in Suid-Afrika weet ons dat jy nie met leeus moet speel nie.

Chinese toeriste mag dalk in die wildtuin uit hulle motor klim om ‘n mooi foto van ‘n leeu te neem, ons weet hoe onvoorspeelbaar ‘n leeu kan wees.

Dit bly ‘n wilde dier, selfs hulle wat al jare lank in ‘n hok aangehou is.

En ‘n hok, veral ‘n leeukuil soos by Koning Darius se paleis, dis nie waar hierdie pragdiere hoort nie.

In die oop grasvelde van Afrika, dis waar ‘n leeu kan lewe soos God hom geskape het.

Maar ja, in die oudtyd was dit ‘n algemene gebruik om wilde diere aan te hou.

Hulle is byvoorbeeld gebruik om die koning se paleis te beskerm.

Rondom die muur van die paleis was daar ‘n ruimte waar byvoorbeeld bere aangehou is.

En, soos in hierdie geskiedenis, is diere ook gebruik as ‘n manier om gevangenes die doodstraf te gee.

 

Vandag se preek, ek noem dit net vir die gaste wat hier is, is onderdeel van ‘n serie wat ek hou oor die boek Daniël.

Daar was nou al vyf hoofstukke, en ons het al ‘n patroon begin raaksien.

Elke keer is daar ‘n koning in Babel wat hoogmoedig raak, wat openlik die God van die hemel verneder.

Daarna kom God in aksie en gebruik Hy een van sy diensknegte – dink aan Daniël en sy drie vriende – om daardie koning op sy plek te sit.

Die eindresultaat was elke keer dat daardie koning erken dat Daniël se God die lewende God is, almagtig, in beheer oor alle maghebbers op aarde.

Daniël is ‘n troosboek.

Juis noudat God se volk in ballingskap so magteloos is, word hulle getroos deur Daniël se profesieë en deur dit wat met hom gebeur het.

Dit het hulle moed gegee, omdat hulle God almagtig is ook oor die konings van Babel.

 

Tema: My God het sy Engel gestuur

 

In vandag se hoofstuk sien ons die soveelste voorbeeld hiervan.

God, wat mag gehad het oor die vlamme van die vuuroond waarin Daniël se vriende gegooi is, wat drome in Nebukadnesar se kop kon plant, wat hierdie koning kranksinnig kon maak en later weer genees, wat onspeillende woorde op die muur kon skryf terwyl Balsasar feesvier en daardie selfde nag sterf toe die Meders en Perse die stad inneem, hierdie God bewys nou dat ook die mees gevreesde dier op aarde na Hom luister.

 

Nou wil dit voorkom of Koning Darius ‘n goeie verhouding met Daniël gehad het.

Hy was een van die drie ministers, en omdat hy uitgemunt het, omdat hy betroubaar was, was die koning selfs van plan om hom oor sy hele koninkryk aan te stel.

 

Soos ons Daniël ken, het hy sy geloof nie onder stoele of banke gesteek nie.

En al het Darius Daniël se God nie ook as syne beskou nie, dit lyk wel of hy enige respek vir Hom gehad het, danksy die goeie verhouding wat hy met Daniël gehad het.

 

Dit is belangrik om dit raak te sien, broers en susters, en met name jongmense, julle wat vandag belydenis doen.

Jy word opgeroep om soos Christus te lewe, om sy beelddraer op aarde te wees.

In jou en deur jou moet die ongelowige wêreld vir Christus ontmoet.

Daar is ‘n verhaal wat opgeskryf is uit die tyd van die vroeë kerk, toe die kerk nog verbode was.

Christene is as gevaarlike mense beskou.

Maar, skryf iemand dan, hy het ‘n kollega wat ‘n Christen is, en hy verstaan nie mooi nie.

Want daardie kollega van hom is die beste kollega wat hy het, die vriendelikste, die hulpvaardigste, die betroubaarste, maar ... hy is ook ‘n Christen.

Hoe kan hierdie dinge saamgaan? het hy gewonder.

Christene is mos slegte mense ...

Wel, so het Christus sy volgelinge gebruik om ander te wen.

Die mense het begin besef dat hulle sulke vriendelike, hulpvaardige, betroubare mense is, juis omdat hulle Christene is.

 

Daniël was ook ‘n mooi voorbeeld hiervan.

Daniël was ‘n goeie mens, en omdat hy Daniël waardeer het, sou hy nie sommer iets doen wat hom kwets nie.

Uit hierdie hoofstuk is redelik duidelik dat Daniël se God nie onbekend was vir hom, en ook nie vir sy ander ministers en landvoogde nie.

Dit was skynbaar goed sigbaar dat Hy die een en al was in Daniël se lewe.

En juis daarom probeer hierdie jaloerse kollega’s hom daarop uitvang.

Ons kom nounou daarby.

 

Eers nog die vraag aan julle:

Is jou lewe ook ‘n leesbare brief van Christus?

Sien mense in jou lewe dat jy ‘n Christen is?

Is jy vriendelik?

Is jy behulpsaam?

Is jy betroubaar?

Sien mense in jou lewe dat dit vir jou belangrik is om Christus te dien?

Of is jy iemand wat rook en drink en vuil grappies maak?

Lag jy ook vir rassistiese opmerkings?

Kroek jy ook met geld as jy die kans kry?

Daniël het nie verniet ‘n goeie reputasie gehad nie.

Dit was omdat hy sy geloof uitgeleef het.

Vers 5 sê: Hy was betroubaar, daar was geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde nie.

Betroubaarheid, dit is in die samelewing dikwels so skaars soos hoendertande.

Maar dit het dus sy kollegas jaloers gemaak.

Korrupte kollegas, gesien dit wat hulle bereid was om te doen.

 

En ook dit sal julle as volgeling van Christus meemaak, een of ander tyd.

Gelukkig is dit meestal so dat ‘n Godvresende lewe respek afdwing, soos Koning Darius groot respek vir Daniël begin kry het.

Maar dit kan ook gebeur, laat ons daarop voorbereid wees, dat ander jaloers raak.

Veral as jou betroubaarheid, jou toegewydheid, jou hardwerkendheid, by die werk jou laat uitstyg bo die ander.

Inderdaad, wie ‘n Godvresende lewe lei, sal ervaar dat God se seën ook daarop rus.

Maar soms gebeur dit – en ons bely dat God dit skynbaar in sy wysheid toelaat – dat bittere jaloesie by ander die kop opsteek, en hulle dan bewus probeer om jou af te trek.

 

Daniël se kollegas was jaloers en wou hom uitwerk.

Daniël was al ‘n ou man, om en by 85 jaar oud.

Dit was nou sy tyd om te gaan, het hulle gedink.

Daniël se kollegas se plan was geraffineerd.

Daniël se sterkste eienskap was tegelyk sy swakste.

Dit is dat hy op sy knieë gegaan het, gebid in die rigting van Jerusalem, en sy God geloof het.

Sy lewe was nie vir hom belangriker as sy God nie.

So roep die Here Jesus ons op: “moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak maar die siel nie kan doodmaak nie ...” (Matt 10:28)

Maar, nêrens wys Satan sy slagtande meer as hy spesifiek die gelowiges aanval wat betref hulle godsdiens nie.

Kerke wat binnegeval word deur Islamstryders of deur kriminele.

Mense wat doodgeskiet of beroof word juis omdat hulle in die kerk sit.

Verskriklik.

Dis nie ‘n gekamoefleerde aanval nie, dis die rou haat van Satan en ‘n afvallige wêreld, wat sigbaar word.

So het Daniël dit ook geproe.

Dat sy kollegas hom so in die rug kon steek.

Maar, soos ons geleer het uit die eerste hoofstuk, die HERE het hom sterk gemaak.

As jong seun het hy by gelowige ouers opgegroei, en hy het onder die bediening van God se Woord opgegroei, onder andere deur die profeet Jeremia.

En, noudat Daniël al ‘n ou man geword het, het hy nog steeds die vrugte daarvan gepluk.

Vertrou op Hom, die HERE sal jou krag gee, ook in omstandighede soos hierdie.

Daniël het rustig voortgegaan met sy geloofsroetine.

 

Ja, dis gesond om ‘n roetine te hê in jou geloofslewe.

Nie ‘n leë tradisie nie, maar wel vaste gewoontes.

En vir julle as jongmense is dit van wesenlike belang om nou jou eie roetine op te bou.

As jy jou ouerhuis verlaat, of as jongmens baie minder by die huis is as vroeër, kan jy nie meer net terugval op jou ouers se roetine nie.

‘n Gesonde en deurleefde geloofsroetine gee jou ook die krag wanneer dit op die proef gestel gaan word.

So het julle, jongmense, al soveel in die lewe ontvang wat julle sterk gemaak het, net soos Daniël.

Julle mog in gelowige huise opgroei.

Julle mog in die kerk opgroei.

Om ‘n lewe te lei in diens van die Here het vir julle normaal geword.

Vandag word julle opgeroep om daarmee voort te gaan, maar nou self, in eie verantwoordelikheid, en steeds inhoud daaraan te gee.

Moenie jou gebed oorslaan, aan die begin van die dag, ook nie aan die einde van die dag nie, ook nie deur die dag nie.

Drie maal per dag, dag in dag uit, was dit Daniël se geloofsroetine om te bid.

So sal die HERE jou bly sterk maak, dag na dag.

En as so ‘n aanval van Satan kom, sal dit jou daardeur dra.

Soms is die duiwel se aanval baie openlik, soos in hierdie hoofstuk.

Hy het gegaan vir ‘n kop-aan-kop botsing.

Soms werk die duiwel meer subtiel.

Soms kan dit selfs mede-Christene wees wat jou van die regte pad wil aftrek.

Jou dalk belaglik maak omdat jy wel ernstig is oor jou geloof, wel nee sê teen wat sondig is.

Hierdie subtiele maniere is dikwels nie makliker om die hoof te bied nie.

Want ons almal is uit onsself swak en sondig.

Ons is vatbaar vir groepsdruk.

Ons is ydel.

Al het Koning Darius baie waardering vir Daniël gehad, daardie voorstel van sy ander ministers het tog sy ego gestreel.

Dit het hom blind gemaak vir wat hulle bedoeling daarmee was.

En toe die komplot op die proppe kom, was dit te laat.

Toe kon Darius nie meer terug nie, want dit was ‘n wet van Meders en Perse.

Verskriklik eintlik, hoe die duiwel dit waarin ‘n mens die beste is, so kan misbruik.

Die Meders en Perse was beroemd vir hulle standvastige wette.

Satan kry dit reg om dit nou totaal te misbruik.

Darius het in die vangnet van sy eie ego geval.

Toe hy dit agterkom, was dit te laat.

Hy is op sleeptou geneem deur ‘n sataniese plan.

Al wat hy nog kon doen, was om die hoop uit te spreek dat daardie God wat Daniël so standvastig gedien het, hom dalk kon help.

 

En ja, die res is geskiedenis.

Ons weet wat God daardie nag gedoen het.

“My God het sy engel gestuur” hoor die koning die volgende oggend uit die leeukuil.

Terwyl Daniël se gebede opgestyg het na die hemelse troonsaal, het van daar af engele neergedaal.

“Rondom jou ruis die eng’levoet”, sing ons met Psalm 91.

Op Gods bevel bied hulle hulp met will’ge hande.

Vir hulle is dit min moeite, geen gevaar, om ‘n leeu se bek te sluit.

En dit sodat Daniël oor die leeukoppe kon heenstap, soos die trop daar in die kuil gelê het.

Onvoorstelbare tafereel, maar dit is geskiedenis.

Dis wat gebeur het.

Ja die engele het ‘n groot invloed op aarde.

Hulle is die gewillige uitvoerders van God se bevele.

En waar hulle optree, waar hulle tussenbeide kom, verander die geskiedenis.

Twee keer lees ons oor die engel van die HERE in Daniël.

Een keer toe hy Daniël se vriende in die vuuroond beskerm het.

En nou die tweede keer hier in die leeukuil.

Soos by hulle geld dit ook vir ons.

Dikwels ervaar ons die beskerming van die engele juis op sulke krisisoomblikke.

Maar dit neem nie weg dat hulle altyd daar is nie.

Hulle dra ons, soos ons ook in Psalm 91 sing, waar die reispad ook gaan (vers 6 berymd).

En wat nog ‘n veel en veel groter wonder was, en dit is ook geskiedenis, is toe daardie Engel van die HERE uit die hemel neergedaal het, met die mees beslissende opdrag van alle tye.

Naamlik nie net om die leeus se bekke toe te sluit nie, maar die Satan self te verslaan.

Hierdie Engel van die HERE was en is God se eie Seun, ons Here Jesus Christus.

Gewillig het Hy daardie beslissende opdrag uitgevoer, hoe gevaarlik dit ook was.

Suksesvol het Hy dit uitgevoer.

Daarom kan julle saam met Daniël bely:

Ja, my God het sy Engel gestuur!

En dis al wat my lewe gered het!

Daniël het nie die aandag op homself gevestig nie.

Hy was nie iemand wat ‘n spesiale aanvoeling vir leeus gehad het nie.

Hy was ook nie so sterk soos Simson dat hy die leeus met sy hande kon in toom hou nie.

Hy het ook geen wapens gehad nie, niks nie.

Dis al wat sy lewe gered het, dat God sy engel gestuur het.

Hy het ook nie eers gespog met sy godsdienstigheid nie.

En ja, hy was baie godsdienstig, dit het die koning en al sy kollegas geweet.

Maar die engel se koms was nie ‘n beloning daarvoor nie.

Ons lees niks van die aard in die Bybel nie.

Daniël se redding was nie die gevolg van sy toewyding aan God nie, dit was die gevolg van God se trou aan hom.

Eerder verootmoedig Daniël homself, saam met die res van God se volk.

Dit kan ons byvoorbeeld in hoofstuk 9 lees.

Daar vind ons die bekende gebed van Daniël, ‘n gebed wat Daniël ook in hierdie tyd toe Darius koning geword het, gebid het.

Daarin vertootmoedig hy homself, saam met die volk, voor God, en smeek Hom om sy belofte na te kom, omdat Daniël opgemerk het dat die 70 jaar nou verby was.

Genade, nie jou eie godsdienstigheid nie, dit is wat jou red!

 

En dit is al wat ons ook kan bely.

As dit nie vir God se Engel was nie, en dit totaal onverdiend, sou ek al lankal verslind gewees het deur die satan wat soos ‘n brullende leeu rondgaan.

Hy dra my, waar my lewenspad ook gaan, Hy lei my op my weë.

Broers en susters, ons is nog meer bevoorreg as Daniël.

Want ons ken nou die naam van hierdie spesiale Engel van die HERE.

Daniël het oor Hom geprofeteer toe hy die koning se droom verklaar het – daardie klip wat van ‘n hoë berg af losgeraak het.

Maar Daniël het nog nie sy naam geken nie.

Ons ken hierdie Engel.

Hy is ons Here Jesus Christus.

Hy is uniek, ver verhewe bo die ander engele.

Hy is nie geskape soos die ander engele nie.

Want Hy is God se Seun.

Hy is God self.

As ons in Psalm 91 sing dat ons skuil by die Alhoë, dan dink ons aan Hom.

Hy het, nadat Hy sy missie op aarde voltooi het, teruggekeer na die hemel.

Hy regeer nou in die hoë hemel.

Julle is onder sy konstante bewaring, dag en nag, week in week uit, jaar in jaar uit.

Bly trou aan Hom, dien hom standvastig soos Daniël.

Handhaaf jou gesonde ‘geloofsroetine’ vir die res van jou lewe.

Hy het jou lewensduur reeds bepaal, jy is veilig in sy hande.

Leef vir Hom.

In hierdie lewe berei Hy jou voor op die ewige lewe.

Jy word selfs ingeskakel om medebouer aan sy koninkryk te wees hier op aarde, en dat die ongelowiges ook sy grootheid bely – soos danksy Daniël koning Darius al die volke, nasies en tale op die hele aarde opgeroep het om te sidder en beef voor die God van Daniël!

Geen ander heidense koning het in die Bybel ooit so ‘n kragtige oproep gedoen nie.

En werklikwaar, dit was profetiese woorde, dit wat die heidense koning daar uitgespreek het: “Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie”.

Broer en suster, jongmense, julle is burger van daardie koninkryk, die ryk van ons Here Jesus Christus.

Dien Hom standvastig, totdat Hy jou kom haal, of self terugkom.

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Daniël 6

Teks: Daniël 6:23a

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoekom het Daniël in die rigting van Jerusalem gebid?
  2. Satan het die Meders en Perse se reputasie dat hulle onveranderlike wette gehad het, misbruik. Noem ‘n voorbeeld hoe die duiwel jou kan laat struikel juis deur een van jou sterk punte.
  3. Noem enkele diere waarmee die duiwel in die Bybel vergelyk word.
  4. Kan ons Jesus Christus die Engel van die HERE noem?
  5. Is Darius se oproep in vers 26-28 al vervul?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 138:1,2

Wet

Ps 34:4,6,8

Gebed

Skriflesing: Daniël 6

Ps 91:5-8

Teks: Daniël 6:23a

Preek

Sb 8:2-5

Aflegging van Openbare Geloofsbelydenis & Seën

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 138:3,4

Seën