Gemeente van God, alles moet ordentlik en ordelik gedoen word:

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2023-11-05
Text: 
1 Korinthiërs 14:26-40
Preek Inhoud: 

Paulus sluit hier die hele gedeelte oor openbare aanbidding af en bind al die dinge saam waarvan hy reeds sedert hoofstuk 11 gepraat het.  Hy praat oor manlike en vroulike rolle in aanbidding waarmee hy in hoofstuk 11 begin het.  Hy praat oor orde, wat 'n probleem in die kerk van Korinthe was in verband met die nagmaal en hulle aanbidding in hoofstuk 12, en hy praat oor die gawes, wat die onderwerp van hoofstuk 14 is.  En wat is sy gevolgtrekking?  Dat alle dinge ordentlik en in goeie orde gedoen moet word.

Ordelike aanbidding maak voorsiening vir: 1) opbou van die heiliges, 2) 'n behoorlike weerspieëling van die aard van God – dat Hy die God van orde is, en nie van chaos nie, en 3) derdens 'n behoorlike getuienis vir die ongereddes in ons midde.  Wanordelike aanbidding, aan die ander kant, maak behoorlike opbou moeilik, reflekteer swak wie God is en laat die ongereddes dink dat Christene van hulle verstand af is.

 

Gemeente van God, alles moet ordentlik en ordelik gedoen word:

1. Opbou van die heiliges

2. Hoe om dit met ons verhoudings te doen

3. Want dit gaan nie oor ons nie, maar oor God.

 

Opbou van die heiliges

“Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging – laat alles tot stigting geskied.”  Hier verduidelik Paulus hoe om dinge ordentlik en ordelik te doen wanneer ons ons gawes gebruik.

Let op die "elkeen".  Almal van ons het gawes, en dit is mooi – maar daardie gawes is nie vir onsself nie, maar vir ander, sodat ons almal in mekaar se gawes deel.  Soos een skrywer skryf: die drie-enige God hou van diversiteit – soveel so, soos iemand opgemerk het, dat wanneer hy 'n sneeustorm stuur, hy elke vlokkie anders maak.  Ons vervaardig ysblokkies.  Die kerk is ongetwyfeld in 'n sekere sin soos 'n magtige leër, maar dit beteken nie dat ons in ongedifferensieerde uniforms aan onsself moet dink nie.  Ons moet meer soos 'n orkes wees: elke deel lewer sy eie unieke bydrae tot die simfoniese harmonie.

Bellville, ons is 'n simfoniese harmonie wat tot eer van God speel!  In die wêreld lei diversiteit tot chaos, soos almal meeding om gehoor te word, maar in die kerk behoort dit tot orde en skoonheid te lei, aangesien al die diversiteit in die band van liefde bymekaarkom om eer aan God te bring.

Die probleem is nie dat elkeen met 'n psalm, lering, openbaring, taal of uitlegging kom nie.  Die probleem is dat hulle almal eerste wou wees.  Dit is nie gedoen om die kerk op te bou nie, maar om hulself op te bou.  Dit is gedoen om raakgesien te word, nie om die veelvuldige wysheid van God uit te lig nie.

Dit is soos een van daardie gesinsmaaltye toe jy klein was, of dalk is dit nog so, wanneer almal tegelyk praat, en almal praat net harder en harder, totdat een van die ouers uiteindelik byna moet skree om gehoor te word, en sê: "Hou op! Een op ‘n slag!"  Want niemand hoor meer enige iemand nie, en almal wil net gehoor word. Wanneer die kerk meer daaroor gaan om jou stem te laat hoor, eerder as om geduldig na ander te luister, is daar 'n probleem.

Hoe bou ons dan op?  Ons leer drie lesse uit hierdie gedeelte.

 

Maak beurte

Hy maak ‘n paar keer hierdie stelling in hierdie gedeelte. Vers 27 sê: "En as iemand in 'n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogtens drie, en by beurte." Vers 30:  “Maar as daar iets geopenbaar is aan ander wat daar sit, laat die eerste swyg."  Vers 31: "Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word."   Die einddoel van die profesie is nie om die een wat dit gegee het, te laat uitstaan nie, maar om diegene aan wie dit gegee is, te bemoedig en te leer. Dit gaan dus nie daaroor om gehoor te word nie, die vraag is: "Luister iemand?!"  En hulle kan nie luister as dit 'n deurmekaarspul is nie.  Ons wil saam na Christus wys, ons wil 'n simfonie wees wat God se heerlikheid verkondig en nie elkeen ons eie trompet blaas nie.

Dit is soos 'n Bybelstudie wanneer almal net opdaag om te wys wat hulle daardie week geleer het.  Om te wys hoe slim hulle is.  Hulle hou op om na mekaar te luister, en kan nie wag totdat dit hul beurt is om hul eie stem te laat hoor nie.  En niemand gaan bemoedig en opgebou huis toe nie.  Sommige mense vertrek opgeblase, en ander voel dat hulle niks weet nie.  As ons dit ter wille van liefde sou doen, sou ons primêre doel wees om te luister. 

Dit beteken ook dat daar nie iets soos 'n onbeheerbare gawe bestaan nie.  Dit is wat soms beweer word oor die gawes van tale of profesie. En ander kan so optree met hul tong.

 

Maak seker dit is verstaanbaar

Die tweede ding wat die apostel duidelik maak is dat dit verstaanbaar behoort te wees.  Oor tale sê hy  in vers 27: “En as iemand in 'n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogtens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê.”  En oor profesie sê hy: "Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word."  As dit moet opbou en ordelik moet wees, moet die kerk weet wat gesê word.  Jy kan met my praat oor die skoonheid van die evangelie in Frans, of Xhosa, of Chinees, maar dit sal my glad nie baat nie.  Die punt is dat alles moet wees soos vers 31 sê: "sodat almal kan leer en almal bemoedig word."  Let weer op die  "almal".  Dit gaan oor die hele liggaam.  Die gawes word eerstens gegee vir die opbou van die liggaam.  Ons wil hê dat niemand in hierdie kerk nie sal groei nie.  Daarom moet die prediker ook sorg dat hy sy preek voorberei op 'n verstaanbare manier.  Sodat dit sal opbou.

 

Dink daaroor!

En uiteindelik moet ons beoordeel wat gesê word.  Vers 29 sê: "Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel."  En  dan weer in vers 32: "En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe."

Niemand in die kerk moet iets aanvaar bloot omdat die predikant of ouderling so sê nie. Die feit dat hulle so sê, behoort gewig te dra, maar die gemeente moet die Skrif gretig ondersoek om te sien of dit werklik die Woord van God is waarmee hulle besig is.

En hy sluit hierdie gedeelte af en lei die volgende gedeelte in met die feit dat  "God nie 'n God van wanorde is nie, maar van vrede."  Hy is 'n God, nie van wanorde nie, maar van vrede, wanneer dit kom by hoe ons ons gawes gebruik, maar ook in ons verhoudings.

As 'n behoorlike weerspieëling van die aard van God sê hy in vers 33-34: "Soos in al die gemeentes van die heiliges.  Julle vroue moet in die gemeentes swyg."  Soos in al die gemeentes, dit is nie iets wat beperk is tot die Korintiese gemeente nie.  Dit is 'n beginsel wat in alle gemeentes gevolg moet word.  “want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.”

Net 'n paar aantekeninge hier:  1. In ander afdelings waar Paulus oor die rol van mans en vroue praat, gaan hy terug na die skeppingsverslag wat deel van die wet was.  Hy doen waarskynlik dieselfde hier as hy sê: "soos die wet ook sê."  En tweedens dink hy heel waarskynlik: die kerk het sopas 1 Korintiërs 11 gelees, dus hoef ek nie alles te herhaal wat ek daar gesê het nie.  Ek dink hy verwys terug na 1 Korintiërs 11, want die woord ‘lelik’ (‘skande’, 2020-vertaling) kom net hier en in vers 11:6 voor, waar Paulus weer van onderdanigheid praat.  Daarom, as jy vrae hieroor het, moedig ek jou aan om weer na daardie preek te luister.  Ek dink dit is belangrik om hier te sê dat die manier waarop ons as mans en vroue omgaan met die rolle wat God in die kerk en in die huis gegee het, God se skoonheid weerspieël, sy struktuur in die skepping, en dit is tot opbou van die kerk en 'n getuienis vir die wêreld.

Hy gaan voort: "Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir 'n vrou om in die gemeente te spreek."  Voordat ek in die moeilikheid kom, dit is wat die Bybel sê.  Dit is glad nie 21ste-eeuse taal nie. Wat gaan in hierdie verse aan?  Weerspreek hy homself in 1 Korintiërs 11:5, wat sê dat vroue in  die kerk "bid en profeteer"?  Paulus bestraf nie daar hulle gebed en profesie in die gemeente nie.

Daar is een kommentator wat tien verskillende interpre-tasies vir hierdie gedeelte gee.  Die meeste van hulle verskil baie van mekaar.  Maar in elk geval, daar is verskil van mening.  Ek dink ons moet dit in konteks lees.  Paulus beperk stilte wanneer dit kom by die openbare interpretasie van die Woord van God.  Of soos Paulus in die vorige vers sê: "Laat hulle beoordeel wat gesê word."  Dit pas goed by die ander Bybelse bewyse oor hierdie gedeelte.

En weer eens, hy is nie daarteen gekant dat hulle leer nie!  Dit sou in daardie tyd die geval gewees het.  Nee, hy moedig hulle aan om dit met hulle mans op te neem.  Om daaroor te praat en daaroor te vra.  Mag dit in ons huise gebeur!

En waarom al hierdie orde en struktuur? Dit gaan daaroor om God te verheerlik, die kerk te bou en aan die wêreld te getuig.

 

God is 'n God van Orde.  Laat ons Hom in ordelike aanbidding verheerlik

Ons het 'n ordelike erediens nodig tot eer van God en tot opbou van die heiliges en tot eer van die wêreld wat toekyk.

Paulus verwag dat daar mense is wat hom sal teenstaan oor wat hy sopas gesê het, daarom sê hy in die laaste paar verse: "Of het die Woord van God van julle utigegaan, of het dit tot julle alleen gekom?" (1 Kor. 14:36).  Eintlik weet hy dat daar, soos vandag, destyds mense sou wees wat sê: "Wie sê jy is reg, Paulus?  Ons glo daar is 'n beter manier om ons eredienste in te rig." Paulus sê dan: "Is jy die een aan wie die Woord van God gegee is? "

"As iemand meen dat hy 'n profeet of ‘n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is." (1 Kor. 14:37).  Hy sê dus: "Moenie my uitdaag nie, ek weet dat dit opdragte van God is."  Dit is 'n onsubtiele manier om te sê dat diegene wat sy woord verwerp, valse profete en ongeestelik is.

Soos hy in vers 38 sê: "Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly."  Dan is hy regtig nie deel van die koninkryk nie.  As jy die Woord van God verwerp soos deur Paulus gegee – dan behoort jy nie aan die koninkryk nie.

 "Daarom, my broerders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie." (1 Kor. 14:39).  Weer eens, Paulus is nie teen hierdie geestelike gawes nie.  Hy sê net: gebruik dit op die regte manier.

"Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan." (1 Kor. 14:40).  Dit is die gevolgtrekking vir die hele gedeelte. Hoe moet ons dit sien, gemeente van Bellville?  Hoe lyk ordelike, ordentlike aanbidding? Ek dink daar is objektiewe beginsels om te onderskei of 'n erediens God behaag of nie.  Dit is nie gebaseer op gevoelens nie, dit is gebaseer op openbaring.  Dit is Bybels gefundeerd  en is relevant in vandag se kultuur in die sin dat dit verstaan-baar is.  Dit skep 'n omgewing waar ons almal kan groei en dit gaan nie oor een persoon se gawes nie.

Ons kan alles volgens tradisie doen en dit lyk ordelik, maar daar vind dalk geen aanmoediging plaas nie.  'n Begraafplaas is ordelik.  Maar dit is nie wat die kerk is nie, die kerk is die kerk van die Opgestane.

Nee. ons streef nie na orde ter wille van orde alleen nie. Wat ons op 'n ordelike wyse doen, moet daarop gemik wees om op te bou en nie vir vertoon nie.  Ek dink dit is 'n groot gevaar, of dit nou 'n prediker of die lidmaat in die kerkbank of by die Bybelstudie is. Dit geld veral vir hierdie manne wat julle hier sien.  Hulle is hier om te dien.  Hulle word opgeroep tot nederige diens.

Die aandag moet op Jesus en Jesus alleen wees – dit is wat Paulus bedoel.  Jy sien, ons hou daarvan om deel van die prentjie te wees.  O, ons wil hê Jesus moet in die prentjie wees, maar ons wil ook in die kollig wees!  Ons wil die evangelie verdraai en onsself deel maak van die goeie nuus. Ons wil hê mense moet dink God is wonderlik is en ek ook!   Maar dit is nie 'n gemeente nie.  Dit is 'n persoonlikheidskultus!

Een teoloog het gesê: "Daar is 'n fyn lyn tussen die begeerte dat God jou tot Sy eer moet gebruik en die begeerte dat almal dit moet weet.  Dit is 'n fyn lyn tussen rein aanbidding en afgodery."  En ek dink dit is veral relevant vir diegene wat voel dat hul gawes sterk is.  Vir ouderlinge, diakens predikante, leiers.  Vir diegene wat as Christene grootgeword het. Ons groei nie in nederigheid nie, maar in trots.  Jou gawes kan kragtig gebruik word om God se kinders te dien, maar dit kan ook goddeloos verdraai word om eer aan jouself te bring.  'n Gawe is 'n goeie ding, maar as 'n goeie ding vir selfsugtige doeleindes aangewend word, word dit 'n verskriklike ding.

Dus, vandag is dit ‘n vraag vir ons.  Hoekom doen jy wat jy doen?  Hoekom gee jy klas in die Sondagskool?  Hoekom lei jy ‘n Bybelstudiegroep?  Hoekom maak jy 'n maaltyd?  Hoekom sal jy as herder dien?  Hoekom is jy 'n ouderling of ‘n diaken?

Soek jy erkenning?  Is jy moedeloos wanneer niemand jou toejuig nie of, erger nog, is jy platgeslaan wanneer kritiek na jou kant toe kom?  Is jy gefrustreerd as jy sien dat dit met ander goed gaan?  Deel jy jou swakheid en sonde?  Dien jy graag ongesiens?  Ek hoop deur die genade van God kan ons almal soos Johannes die Doper bid: "Hy moet meer word, maar ek minder."  Dan sal alles gedoen word tot opbou van die liggaam van Christus, die gemeente, tot eer van die Vader, as 'n getuienis vir 'n toekykende wêreld.

Amen.