God sê: ek sal…!

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-11-27
Text: 
Exodus 6: 6-13
Reference: 
Preeknr. 2244
Preek Inhoud: 

Inleiding

Ek het gedink die volgende tema sou nogal oulik wees:
Twee 80-jariges verander die wêreld!
Sit dit op die internet, en dis goeie ‘clickbait’!

Maar… dit lyk nie asof daardie twee 80-jariges so suksesvol is nie.
Die bevryding is nie ’n gemaklike projek, wat Moses en sy broer gou gou regkry nie.
In hoofstuk 5 lees ons van die eerste teenslag – en dis ’n groot een. 
En dadelik klink daar verwyte. 
Nee, die verhaal van die eksodus is nie ’n suksesstorie van twee begeesterde leiers nie. Hulle word verwerp.
Hierdie hoofdstuk lei na hoofstuk 6. Daar hoor ons Gods antwoord. 
Kyk wat sê hy: dis nie twee manne wat die volk gaan bevry nie. God doen dit.
‘Ek is Jahweh, en ek sal julle bevry.’
Dis dan ook die tema: God sê: ek sal…!

Tema: God sê: ek sal…!
1. Gehoorsaamheid lei tot onderdrukking.
2. God bemoedig met sy beloftes.
3. Voorwaarts in geloof!

1. Gehoorsaamheid lei tot onderdrukking

So spreek die Here, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My ’n fees kan hou in die woestyn.

• Moedig staan Moses voor die vyand

So staan Moses voor die magtige farao: met gesag. En ’n eis: laat my volk gaan!

Jy herken Moses amper nie!
Moses het vroeër sy eie ding gedoen en probeer om Israel te red. Toe het hy gevlug.
Toe roep God hom by die brandende struik, en hy het allerhande besware gemaak. Ja maar,…. En: ‘Stuur asb ’n ander!’

Maar Moses het gehoorsaam op pad gegaan.
Hebr11,27: “Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.”

(Egipte verlaat: is die einde vd bevrydingsproses; hierdie is die eerste stap: om farao tegemoet te tree en te konfronteer, en die vrylating van Israel te eis.)
Farao was magtig en kon Moses ook gegryp het en ’n slaaf gemaak het.
Maar Moses was nie bang nie. Hy het nie die toorn van die koning gevrees nie.

Hoor, hy spreek met die gesag van God:

So spreek die Here:

Dit is die woorde wat profete daardie tyd altyd gebruik het om letterlik die woorde van hulle god aan te haal en deur te gee.
Farao is daarmee dus vertroud, en weet dat Moses namens die God van Israel spreek.
Dis ’n regstreekse uitdaging van farao: hier spreek God, die almagtige, die God van Israel. Luister! Laat my volk gaan!

• Farao verwerp God

Maar farao verwerp die claim van God halsstarrig:

   Pah - Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.

Moses en Aaron sê dan dat hulle God self ontmoet het. En jy kan daarin ook hoor: hy staan aan ons kant, ons kom met sy gesag.

Moses en Aaron praat die taal wat die farao verstaan: die koning was bekend met feeste en offerplegtighede, dit het hulle in Egipte ook gedoen. 
Moses sê: ons moet ons God vereer; as ons dit nie doen nie, sal hy ons straf – en farao ook. Dan sou die koning minder slawe oorhou!
Hier is reeds die eerste waarskuwing aan die koning: as hy die volk sal verhinder, sal God hom straf – die 10 plae.

• Die evangelie vandag

Die boodskap van bevryding klink steeds.
Die situasie het verander, en farao is lankal dood.
Maar daar is steeds die oorheersing en onderdrukking deur die duiwel. Hy het mag oor die wêreld, hy is met sy demone “die wêreldheerser van die duisternis van hierdie eeu” (Ef6,12).
Alle mense word as sondaars gebore, en die meerderheid leef in sonde en is slawe van die duiwel.
Ook kinders van God kan met die sonde speel, en in die sonde verstrik raak. Dan het jy ’n slaaf van die duiwel geword.
Tot almal kom die boodskap van redding, en dit kom met gesag na ons toe: 
Bekeer jou en glo die evangelie. Laat jou met God versoen!
Dit is bevrydend. En teselfdertyd is dit ook veeleisend. Met die gesag van God roep predikante en sendelinge ons binne die kerk en ook almal buite die kerk tot geloof en bekering. Erken God as jou skepper. Aanbid hom en gehoorsaam hom! En as jy nie gehoorsaam nie, sal God jou straf.

Dis vir baie mense intolerant. Die evangelie pas nie mooi in in die self-help kultuur en die konsumpsiekultuur nie.
Maar dit is ons getuienis in die wêreld, en dis ’n boodskap wat ons self in die eerste plek nodig het.
God spreek met gesag. Luister, dan is daar redding, bevryding! 

• Farao se reaksie

Nou verwag ons natuurlik iets.
Dit het dekades geneem voordat Moses reg was en God hom gestuur het. Eindelik, nou het die tyd aangebreek!
Nou gaan dit gebeur.

Maar nee, daar is ’n groot teleurstelling. Die koning van Egipte weier beslis. Hy is obstinaat.
Wat? Julle God eis dat ek julle laat gaan?
Vergeet dit. Ek is die baas hier. Julle het duidelik teveel tyd omhande sodat julle aan vryheid en religie dink. Aan die werk! Julle is lui. 
Moses vertel die verhaal baie beeldend. Daar is baie detail in die woorde en die beskrywing. So neem die spanning in die verhaal toe: hoe sal dit verder verloop? Jy sit op die randjie van jou stoel: wat gaan nou gebeur? Hoe gaan hulle ontsnap?

Farao wys dat hy oppermagtig is.
Hy is die menswording van die Egiptiese God Ra. Hy gaan nie vir ’n ander god luister nie. ‘Ek kan doen wat ek wil’ dink hy. En hy wil selfs Moses en Aaron dwing om te werk.
Wil julle gaan? Daar is net een plek om te gaan: na jou werkplek!
En hy maak die werk swaarder.
Die slawe het ’n daaglikse kwota van stene gehad wat hulle moes vervaardig. Hierdie kwota bly dieselfde, maar hulle moet nou meer werk verrig: hulle moet boonop self die strooi gaan haal wat in die klei gemeng word om stene te maak.
Studie van die oudheid wys uit dat dit inderdaad die manier was waarop in Egipte stene gemaak is. Aan die klei uit die Nyl is strooi toegevoeg om stewigheid aan die steen te verleen. Soos vandag beton met staalstawe versterk word, sodat dit gewapende beton word en laste kan dra.
Die detail in die verhaal wys dat ons nie met mites of versinsels te doen het nie. Wat in die Bybel beskryf word, het regtig in die geskiedenis gebeur. Dis feit, dis waarheid. Dis belangrik dat ons dit onthou en ook vir ander vertel, want in ons tyd dink mense maar heel oppervlakkig oor waarheid en feite. Wat maar vir jou werk en vir jou waar is, nou ja, glo dit maar. Maar vir my is dit nie so nie…
Ons geloof is stewig veranker in die waarheid van die Bybel, en dit berus op feite. Moenie daaraan twyfel nie, of toelaat dat ander jou onseker maak nie.
Glo dit maar!

• In beroep

Die slawe kon dit natuurlik nooit regkry: om dieselfde hoeveelheid stene te produseer terwyl hulle nou self die strooi orals moes gaan versamel.
Daarom het die Israelitiese opsigters slae gekry: dis nie genoeg nie! Julle is lui! Aan die werk!
Hulle het geprotesteer. By farao.
Is dit nie snaaks nie?
Hulle roep nie tot hulle God nie, en hulle bid nie. Maar hulle gaan in beroep by farao. Hulle blameer die Egiptiese drywers, en hulle kruip voor farao. Jy kan sien hoe die slawerny hul harte oorgeneem het.
As farao sy ware aard wys en hard teen hulle optree, is dit duidelik hoe baie hulle in die moeilikheid is.
Die situasie het geweldig versleg!

Maar wag, wat is die rede?
Moses en Aaron!
Toe hulle met farao gepraat het en geëis het dat hy Israel moes laat gaan, toe het dit gebeur!

Dus wanneer die opsigters vir Moses en Aaron raakloop, giet hulle hul verwyte en bitterheid oor hulle uit: God sal julle straf!
Julle het ons geur (goeie naam) by farao in ’n stinkende geur verander, en daarom het ons 
‘Ag, as ons maar net rustig slawe kan bly, dan kan ons dalk oorleef. Hierdie gepraat van bevryding en God dien, dis nie vir ons nie. Dit maak net ons situasie slegter.’

Hulle is reeds so lank slawe, dat hulle die musiek van vryheid nie meer herken nie, en graag wil bly in die status quo. Hou dit veilig, dan oorleef ons darem.
Maar hulle vergeet, dat hulle nie besig was om te oorleef, én dat God iets beters vir hulle beplan het: nie net sal die slawerny ophou nie, maar hulle mag Gods volk wees en by hom woon en hom vereer!

Moses begin nou ook aan sy missie twyfel, en verwyt God: 
   waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur?
   ‘U sou die volk tog bevry? Ek sien nie dat u dit doen nie, die lyding word net erger!’

Dit is ook ander mense se ervaring.
’n Moslem soek na God en kom tot bekering. Hy ontvang die vryheid van Jesus, hy leer Gods genade ken en is bly dat hy gered is. Maar kort daarna word hy deur sy familie verwerp en sy pa sê vir hom: ‘jy is nie meer my seun nie. Ek ken jou nie meer nie.’ Die redding wat hy ontvang het, lei tot groot moeilikheid, verwerping, lyding. Is dit nou wat Jesus beloof het? Is dit wat hy soek?
Ook ons kan dit so ervaar.
Wanneer jy Gods wil ernstig neem en gehoorsaam, kan jy teenstand of selfs verwerping ervaar. Jou lewe word moeiliker, by die werk, in jou familie, of in jou eie gesin. Jy verwag dat jou situasie beter sal word as jy God gehoorsaam (lees maar in die Psalms en die Spreukeboek: die regverdige en die verstandige sal geseën word).
Dan bring dit ’n krisis, en twyfel: hoe kan dit? Ek gehoorsaam God tog? Hoekom seën hy my dan nie? Hoekom word my situasie slegter?

2. God bemoedig met sy beloftes

Na die lang hoofstuk 5 het die spanning toegeneem: hoe gaan die bevrydingsverhaal aan? Wat sal nou gebeur?

God antwoord:
   Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen. Want deur ’n sterke hand sal hy hulle laat trek, ja, deur ’n sterke hand gedwing, sal hy hulle uit sy land uitdrywe.

• Jahweh maak homself bekend

God het dit reeds in hoofstuk 3 aangekondig:
   Maar Ek weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie, ook nie deur ’n sterke hand nie.

En hoofstuk 4:
   Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.

En nou sê God:
   Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen.

Die tyd het aangebreek dat God sy mag sal wys. En daarmee sal hy bekendmaak wie hy is.
Dis wat hy vervolgens in hoofstuk 6 sê:

   Ek is Jahweh (die Here).
   En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam Here het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie.

Aan Abraham, Isak en Jakob het hy as die Almagtige verskyn. So het hulle hom geken.
Maar nou gaan hy sy nuwe naam orals bekendmaak:
Hy gaan sy naam Jahweh uitskryf in die geskiedenis van Egipte en van Israel en van die Midde Ooste en die hele wêreld: almal sal hom leer ken.
Farao sal die antwoord kry op sy trotse vraag: 

   Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.

Na die ingrype van Jahweh sal farao God deeglik ken.
En hy sal Israel ook laat uittrek.
Selfs sal hy Israel uitdryf, van hulle ontslae wil raak, na al die oordele wat God oor Egipte laat kom het. As die eersgeborenes dood is, smeek farao hulle om asseblief weg te gaan.

Na die 10 plae en die uittog is die stryd beslis: wie is God? Wie is die lewende God wat alle mag het?
Dit is Jahweh.
En hy gebruik sy mag om sy volk te bevry.

Daarom gee God in hoofstuk 6: 5-7 ’n herhaling en bevestiging van sy beloftes aan Israel:

   Ek is Jahweh  (die Here),
      en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ’n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte;
         en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ’n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.
      En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as ’n besitting gee, 
   Ek, Jahweh (die Here.)

Kyk na die struktuur:
- Hy begin en eindig met sy naam: Jahweh.
- Met sy hand sal hy hulle uitlei uit Egipte en bring na die beloofde land
- En in die middel: julle sal my volk wees en my erken.

Dis waaroor dit gaan:
Dat God sy naam en reputasie in die hele wêreld bekendmaak
En dat hy Israel sy volk maak, en dat hulle hom erken en vir hom gaan leef.

Nou ken hulle God nog nie.
En hulle vertrou hom nie en buig nie vir hom nie.
Hulle is vas in hul slawerny.

Maar God kom na hulle toe met sy beloftes.
Ek sal julle bevry!
Hulle kan nog nie dink hoe dit sal wees om vry te wees nie.
As Moses vir hulle hierdie beloftes herhaal, luister hulle nog steeds nie:

   hulle het nie na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid en weens die harde diens. (v.8)

Hulle is moedeloos en oorweldig deur die lyding wat hulle ervaar, en wat net erger geword het.

Maar God is hul enigste hoop, al sien hulle dit nie raak nie.
En hy kom na hulle toe en hou hulle weer sy beloftes voor:
Ek het aan my verbond gedink
Ek sien julle lyding raak en het julle lief.
Ek sal julle red.
En hy sê dit heeltyd:
“Ek sal …. Ek sal…. Ek sal….”

• God het sy mag gewys

Sy beloftes het inderdaad gebeur!
God het presies gedoen soos hy gesê het:
Egipte gestraf en vernietig. Israel bevry uit die slawerny, en hulle na die beloofde land gebring.
En hy het hulle as sy volk aangeneem, hulle is uit alle volke sy spesiale eiendom! (Eks 19)

3. Voorwaarts in geloof!

Die uittog was ’n groot verlossingsdaad.
Maar God het toe reeds gedink: ‘julle het nog niks van my mag en goedheid gesien nie!’
En toe stuur hy Jesus…

• Finale redding

Want die eksodus is nog nie God se grootste reddingsdaad nie!
God het dit oortref deur sy eie Seun te stuur.
Sy magtige hand het op ’n verrassende manier bevryding gebring: nie deur krag en geweld nie, maar deur die wonderwerk van die menswording van Jesus, deur die selfopoffering van Jesus aan die kruis, deur Gods magtige unieke werk van die opwekking van Jesus uit die dood.

Almal wat gehoorsaam Jesus volg, kry nie die belofte van ’n gemaklike lewe nie. Inteendeel, hy kondig lyding en verdrukking aan vir sy volgelinge. Want die duiwel wil hulle geloof ondermyn en hul vertroue vernietig, en probeer alles om hulle lewens te versuur of te beëindig.
Die verlossing is nog nie voltooid nie. Ons leef tans in afwagting van die koms van die koninkryk en die bekendmaking van die glorie van Christus.

Maar ons mag leef met die vaste beloftes van God. Leef daaruit, en onthou dat God al sy beloftes altyd vervul!
Hy is die troue God, wat sy verbond hou en sy naam bekendmaak in groot reddingsdade.

Dis die moeite werd om op hom te vertrou.
Volg Jesus gehoorsaam, ook wanneer dit moeilik is. Moenie tou opgooi wanneer jy dinge moet opoffer vir sy koninkryk nie. Die lyding van die teenwoordige tyd weegnie op teen die heerlikheid wat oor ons bekendgemaak sal word nie!

Bid daarom dat God jou volharding in die geloof sal gee.

En gebruik intussen heeltyd Gods beloftes om jou geloof te versterk.

Gebruik Gods beloftes om te veg teen ontmoediging.
Lees en onthou wie God is:

   Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie altyd toornig bly nie. (Psalm 103)

Hou die oog gevestig op Christus, wat die smaad en skande verdra het vanweë die vreugde wat voor hom gelê het. (Hebreërs 12:2)
God tugtig sy kinders omdat hy hulle liefhet (Hebreërs 12:6)
En omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.

So is daar beloftes en bevele om ons te bemoedig.
Laat dit jou denke beinvloed. Memoriseer hulle, sodat jy die beloftes en bevele ook daadwerklik kan gebruik en gehoorsaam op die regte tyd, wanneer dit moeilik raak en wanneer daar verleidings is.

Hy het ’n ewige land beloof, waar hy met sy volk sal woon: die nuwe hemel en nuwe aarde. Dit is seker vanweë die dood en opstanding van Jesus.
Hou vas aan die beloftes van Jahweh, die Vader van Jesus Christus.

Amen

Liturgie: 

Psalm 121: 1 (votum)

Psalm 81: 1, 9, 11, 12

Sing Geloofsbelydenis

Lees: Eksodus 5,1-6,13

Psalm 119: 35, 39, 40

Preek: Eksodus 6: 6-13

Skrifberyming 2: 1-2

Psalm 146: 1, 4-8

Seën