Genade oorwin driedubbele weerstand

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-06-18
Text: 
Dordtse Leerreels 2,6-7
Preek Inhoud: 

Die Skrif is soos ‘n menslike liggaam.

Dit is ‘n pragtige netwerk wat harmonieus inmekaar pas en saamwerk.

Verwyder jy een orgaan, dan het dit ‘n impak op die hele liggaam.

Mens kan nie jou hart uithaal en dink die liggaam sal verder OK wees nie.

Dis nogal duidelik vir almal.

Maar dit geld ook vir ander organe.

Wie die pankreas, of alvleesklier, uithaal, veroorsaak ook dat die liggaam gaan sterf.

En so geld dit nog vir baie ander organe.

 

Vir die leer van die Skrif geld dieselfde.

Wie die leer van die skepping verwerp, soos mens deesdae sien by hulle wat die ewolusionisme omarm, hou ook nie die Bybelse leer van verlossing oor nie.

En, nou kom ons by die Dordtse Leerreëls, wie die leer van die uitverkiesing verwerp, verloor in die proses ook baie ander dinge.

Daarom skenk die Leerreëls nie net aandag aan die leer van die uitverkiesing nie, maar ook – soos hier in hoofstuk 2 – aan die leer van verlossing.

Sien die opskrif bo-aan hoofstuk 2: Die dood van Christus en die verlossing van die mense deur sy dood.

Hierdie blye boodskap van verlossing word ook geaffekteer wanneer daar nie meer ‘n leer van die uitverkiesing is nie.

 

Vandag kyk ons verder na die pragtige netwerk van die hele Bybelse leer.

Soos die Skrif ons self voorhou:

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Tim 3:16-17)

 

Tema: Genade oorwin driedubbele weerstand

 

Verlede week het ons gekyk na die geskiedenis toe Moses ‘n koperslang in die woestyn op ‘n stok moes omhooghou (Num 21:5-9).

Almal wat deur slange gepik is, se lewens is gered as hulle in geloof na die koperslang opgekyk het.

Christus vergelyk Homself, in sy gesprek met Nikodemus, met die koperslang.

Hy gaan ook aan ‘n paal hoog opgehang word.

En almal wat na Hom opkyk, na sy kruisoffer, sal gered word van die ewige dood.

Ons het verlede week gesien dat hierdie oproep om op te kyk na Christus vir elke mens op aarde bedoel is.

Niemand kry nie daardie oproep, daardie uitnodiging, nie.

Soos ons bely in paragraaf 3: “Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.”

Daarom hoef die apostels, en dit geld ook vir elke prediker vandag, nie spaarsaam te wees nie.

Hulle kry die opdrag, soos ons in paragraaf 5 bely, om hierdie belofte van redding aan alle volke en mense sonder onderskeid en willekeur te verkondig en bekend te maak, met die eis tot bekering en geloof.

Die blye boodskap mag oor die lengte en breedte van die aarde uitgaan.

En, as daar dan tog mense is wat nie gered word nie, lê dit nie aan die krag van Christus se kruisoffer nie.

Dit lê aan mense wat self nie belangstel nie, wat almal redes uitdink om nie aan die oproep gehoor te gee nie.

 

Hierdie realiteit, waaroor die Skrif ook nie swyg nie, bely ons in paragraaf 6:

“Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie en glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof.”

En weer eens, dis nie omdat “die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie”.

Dit is “hulle eie skuld”.

 

En dan volg in paragraaf 7 die ander kant:

Daar is ook mense wat waarlik glo, wat van hulle sondes bevry word.

Tog is dit nie die spieëlbeeld van paragraaf 6 nie.

Die wat nie glo nie en dus in ongeloof sterf, dit is hulle eie skuld.

Maar die wat glo, dis nie hulle eie verdienste nie.

Ons bely duidelik: Dit is slegs uit die genade van God.

Dit is ook nie eers ‘n genade wat God bewys omdat sommige mense opregte belangstelling getoon het nie.

Nee, staan daar in paragraaf 7, dit is ‘n genade wat sy oorsprong in die ewigheid het, nog lank voordat iemand iets kon gedoen het om God te beïndruk.

 

 

Nou vra jy jouself dalk af: By watter groep hoort ek?

Is ek deel van hulle wat in paragraaf 6 beskryf word, hulle wat wel geroep is, maar nie hulle bekeer en nie glo nie en uiteindelik in ongeloof gaan sterf?

Of is ek deel van hulle wat in paragraaf 7 beskryf word, hulle van wie dit sal blyk dat van ewigheid af aan hulle genade bewys is?

 

Gemeente, eintlik is dit vir elkeen van ons so dat ons uit onsself by die groep van paragraaf 6 hoort, dat ons voorland is om in ongeloof te sterf en verlore te gaan.

En eerlik gesê, ons voel dit nog steeds in ons, daardie neiging tot ongeloof, daardie verset teen bekering.

Nou kan hierdie verset verskillende vorme aanneem.

En vanaand wil ek kyk na drie vorme van verset.

Soos die tema sê: Die genade oorwin driedubbele weerstand

 

Eerstens, daar is hulle wat sê: ek wil nie.

Vir hulle om te bekeer sal inhou dat hulle te veel dinge sal moet prysgee.

Hulle is te geheg aan ‘n wêreldse lewe.

Op Sondag het hulle lekkerder dinge om te doen as kerk toe gaan.

En dit sou ook inhou dat hulle hulle gawes, tyd en talente met ander sal moet deel.

En selfsugtig soos hulle is, wil hulle nie.

Hulle wil nie deel nie, dan bly daar te min vir hulleself oor.

‘n Bekeerde lewe pas nie in by dit wat hulle van die lewe verwag nie.

Die lewe is te kort om ook jou oor ander en hulle probleme te ontferm, die lewe is te kort om tyd te mors om na lang preke in die kerk te sit en luister.

Nou hoewel die een mens meer van hierdie houding het as ‘n ander, moet ons erken, as ons eerlik is, dat elkeen van ons hierdie houding by onsself waarneem, al mag die mate waarin ons dit uitleef, verskil.

En dit moet ons tot verootmoediging bring.

As dit van onsself afgehang het, sou ek nie belanggestel het om my te bekeer nie.

Ek sou agter al die wêreldse plesiere aangehardloop het, en die dood sou my oorval het en dan is dit te laat om my te bekeer.

Dink aan ‘n tipe soos die verlore seun.

As dit nie vir die Here se leiding in sy lewe was, wat hom op ‘n punt gebring het dat hy honger gely het, as sy geld nooit sou opgeraak het nie, sou hy nie uit homself na sy vader teruggekeer het nie.

So dit is die eerste manier hoe mense hulle teen bekering verset, deur eenvoudigweg te sê: Ek wil nie.

Ander dinge is vir my belangriker en lekkerder.

 

Maar, tweedens, is daar nog ‘n ander manier hoe mense hulle teen bekering verset.

En dit is ook nie vreemd aan ons ou mens nie.

En dit is as mens sê: Ek wil wel, maar ek kan nie.

Ek durf nie.

Sulke mense weet diep in hulle hart hulle behoort kerk toe te gaan, hulle behoort Bybel te lees, hulle behoort beter te lewe.

Hulle besef dat baie dinge wat hulle doen, nie reg is nie.

Maar hulle haak vas by die idee: Ek kan nie, ek durf nie.

Ek is nie waardig genoeg om ‘n gelowige te wees nie.

My sondes is te groot.

Gemeente, daar is baie mense daarbuite wat so in die lewe staan.

Hulle bly en bly uitstel.

Hulle weet hulle moet anders, maar hulle kom net nie tot die punt nie.

Hulle beskou hulleself te sleg vir die kerk, hulle sondes sal te groot wees om te vergewe.

Maar hierdies is nie net buite die kerk nie, sulke mense is net so goed in die kerk.

Hulle is dalk heel ernstig met hulle godsdiens.

Hulle ken die Bybel, hulle ken die gebooie.

Maar dis net asof hulle hulle gevoel vir onwaardigheid as verskoning gebruik om hulle nie te bekeer nie.

Ja die ou mens gebruik die mees snaakse verskonings om geloof en bekering uit te stel.

En so ook hierdie een, een wat dalk baie vroom klink, maar tog op die keper beskou tog hoogmoed is, nederige hoogmoed.

Ek bedank vir die geskenk, want dit is ‘n te groot geskenk.

Ek sal liewers beskeie bly.

Ek sal eers nog self ‘n bietjie voortploeter.

Miskien is ek oor 10 jaar minder sondig, dan sal ek meer vrymoedigheid hê om na Jesus te gaan.

Gemeente, dis soos iemand wat oor ‘n afgrond aan ‘n tou hang, ‘n tou wat enige oomblik gaan breek.

Maar gelukkig, daar ver onder staan mense met so ‘n vangmat, en hulle roep dat hy die tou moet los, hulle sal hom opvang.

Maar daardie persoon vertrou dit nie.

Hy dink dalk hy is te vet, die vangmat sal nie vir hom kan vang nie.

Geloof is eintlik baie eenvoudig.

Al wat dit inhou is om die tou te los.

Maar sy eie persepsies keer hom.

En net so is daar baie mense, en elkeen van ons – as ons eerlik is – kan ook daarmee identifiseer, mense wat dink hulle is te sleg om gered te word.

Totaal irrasioneel, natuurlik, maar dis soos dit werk.

Van nature vlug die mens weg van sy Skepper af.

Van nature wil hy nie deur Hom gered word nie.

Toe die verlore seun se geld op was, het hy nie skuldbewus na sy pa teruggekeer nie.

Hy het eers nog self aangekarring en voortgeploeter.

Hy het seker geredeneer: Ek wat gesuip en gehoereer het, hoe sal my pa my ooit weer wil terug ontvang ...?

En so het hy eers nog ‘n ruk harde klippe gekou, self daarvoor gekies om by ‘n ander boer varke op te pas, selfs die varke se kos begeer, terwyl sy pa se diensknegte oorgenoeg voedsel gehad het.

Daarom klink die oproep tot ons: Los die tou, jy kan maar val.

Jy kan maar jou Vader vertrou.

Sy Seun se verdienste is sterk genoeg, ook vir die grootste van sondaars.

Geliefde broer, suster, moenie dit as verskoning gebruik nie.

Geen sonde is te groot vir jou Heiland nie.

 

En dan derdens is daar nog ‘n ander manier hoe mense, al word hulle geroep, tot nie tot bekering en geloof kom nie.

En dit is dalk die mees hardnekkige manier.

Dit is die manier wat mens by sulke mense sien aan wie Jesus die gelykenis van die verlore seun vertel het, die Fariseërs en skrifgeleerdes.

Hulle het dag in dag uit die Skrifte bestudeer.

Hulle het die gebooie baie goed geken en dit stiptelik nagekom.

Hulle was baie vroom en regverdig in hulle eie oë.

Hulle het inderdaad ook in die Skrifte gelees dat God sy Messias beloof, en hulle het inderdaad ook na Hom uitgesien.

Maar toe God Hom stuur, het hulle Hom nie herken nie, al het hulle elke jota en tittel van die Woord geken.

Hoekom nie?

Omdat hulle blind was vir hulle eie trots, hulle self-regverdigheid.

Hulle dink hulle behoudendheid, hulle ortodoksie, is ‘n tou wat sterk genoeg is om te keer dat hulle val.

Dink aan die oudste seun van die gelykenis, wat ook verlore was.

Sy koue pligsgetrouheid het hom verhinder om sy vader se hart te leer ken.

Hy het geredeneer dat op grond van sy pligsgetrouheid sy pa hom ten minste moet beloon.

En so is ons ou mens ook geneig om te redeneer.

Verbondskinders wat opgroei, altyd kerk toe gaan, en katkisasie, dat hulle regsinnig is, op die regte manier oor die Bybelse leer dink, en en en, en dan begin hulle onwillekeurig redeneer dat hulle vir God aanvaarbaar is omdat hulle lewe soos hulle lewe.

Ook dit is ‘n meganisme wat ons ou sondige mens geneig is om in te span om ons weg te hou van ‘n hartlike oorgawe aan Jesus Christus.

Laat dit duidelik wees: Ons word nie deur die regte Gereformeerde leer gered nie.

Ons word gered deur Christus.

Ja, die Gereformeerde leer bring ons by Christus.

Maar ons regte skerpsinnige insig in die leer is nie wat ons gaan red nie.

 

So ja, gemeente, laat ons ook op ons hoede wees vir hierdie afleidingsmanoevre van ons ou mens.

Dit is hartseer as daar in regsinnige kerke tog mense is wat nog nie geleer het om uit genade te lewe nie.

Wat nog nie geleer het om werklik vergewing te vra, hulleself as ‘n hulpelose sondaar te sien, en dan tweedens ook bereid is om aan ander vergewing te skenk nie.

Dit veroorsaak dat ‘n kerk gebuk kan gaan onder sulke mense, mense wat ampsdraers moedeloos kan maak, omdat hulle altyd fout vind by ander en nooit fout sien by hulleself nie.

En net so was die Fariseërs en skrifgeleerdes die grootste kopseer vir ons Heiland toe Hy op aarde was.

 

Om saam te vat, gemeente, drie maniere, drie strategieë wat ons ou mens gebruik om geloof en bekering voor ons uit te skuif – wêreldse plesier, of ‘n skynnederigheid asof jy te sleg is om vergewe te kan word, of derdens eie geregtigheid.

Maar Christus se Gees ontbloot al hierdie strategieë.

Sy genade oorwin hierdie driedubbele weerstand.

En na ‘n Sondag soos vandag, wat ons nagmaal gevier het, mag ons dankbaar bely:

Christus se genade was te sterk vir my!

Aan die einde van hierdie dag kan ons maar net in verwondering uitroep:

U genade het my oorwin!

Dit ten spyte van die feit dat my ou mens op geen enkele manier daaraan meegewerk het nie, maar eerder die een na die ander strategie vorentoe geskuif het om geloof en bekering af te weer.

Tog het dit gebeur, hoe onbeskryflik groot is u genade!

Uit myself sou ek beslis verlore gegaan het.

Maar die feit dat ek nou hier is, in die kerk, aan die nagmaal, en U van harte mag dien, dit is nie uit myself nie.

In groot verwondering stamel ek en beaam wat die Woord self sê:

Sonder dat Hy dit aan my verskuldig was, het Christus tog van ewigheid af besluit om hierdie genade aan my te skenk.

Van nature hoort ek by daardie mense wat in paragraaf 6 beskryf word.

Maar uit genade mag ek nou ook hoort by die wat in paragraaf 7 genoem word.

Genade onbeskryflik groot.

Sola Gratia!

Daar is nie ander woorde daarvoor nie.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 86:1,8

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Ps 31:17

Nagmaalsviering: 1e tafel

          Skriflesing: Lukas 15:11-32

          Sb 19:1-7

Lofverheffing

Gebed

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 2,6-7

Preek

Ps 116:5-7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 33:11

Kollekte

Ps 145:5,10,11

Seën