God skenk die beloftes van die verbond aan u en u kinders

Minister: 
Jakob Mars
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-07-24
Text: 
Handelinge 2
Reference: 
Reeks: Verbond (4)
Preek Inhoud: 

Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus.

Ken u dalk ‘n gesin wat ‘n babatjie deur ‘n miskraam verloor het? Is u dalk self die pa of ma van so ‘n babatjie?
U sal weet dat daardie babatjie, maak nie saak hoe vroeg hy of sy gesterf het nie, as ‘n mens gesien word. ‘n Kind. ‘n Kind wat nou by die Here is. 
Daar is ook werklike pyn wat met die sterwe van ‘n ongebore kind saamgaan. ‘n Kind, my kind, het gesterf. Ja, ek het hoop en troos dat ek hom of haar gaan ken op die nuwe aarde. En tog het ek nou pyn. Ek het ‘n kind wat ek nie gaan sien opgroei nie. Daar is ‘n plekkie om my etenstafel waar iemand eintlik moes gesit het.
Oor die algemeen het Gereformeerdes ‘n duidelike oortuiging oor waar die kindertjies is wat jonk sterf. Ook die Dordtse Leerreëls verwoord ook die troos dat gelowige ouers nie hoef te twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie. Nie omdat die kinders van nature heilig is, of dalk deur die krag van hulle ouers se geloof gered word nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. En dit is waarop ons vandag ons aandag wil rig, in hierdie laaste preek oor die verbond.

Tema:

God skenk die beloftes van die verbond aan u en u kinders.

Die boek Handelinge handel oor die werk van Jesus Christus, deur die werking van sy Heilige Gees in sy apostels, na sy Hemelvaart.

U sal onthou dat ons in die vorige preek gekyk het na Christus as middelaar van die verbond. Aan die kruis is Sy bloed vir die vergewing van sondes uitgestort. Slegs in Hom is daar vergewing en versoening met God. 

Die belofte van die nuwe verbond het nie by die kruis gestop nie. Christus het ook opgestaan, oor ‘n tydperk van 40 dae het Hy aan sy dissipels verskyn, hulle geleer, en hulle die opdrag gegee om dissipels te maak van al die nasies, die nasies wat onderrig en gedoop moet word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Mattheüs 28:19). Christus het belowe dat sy dissipels met die Heilige Gees gedoop sal word en getuies van Hom sal wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde (Handelinge 1: 5 & 8).

Veertig dae na Sy opstanding uit die graf het Jesus vanaf die Olyfberg in die hemel opgevaar (Lukas 24 & Handelinge 1), en sy plek langs Sy Vader ingeneem (Markus 16) vanwaar Hy vandag nog die wêreld regeer.

Met groot blydskap, met die belofte van die Gees en ‘n enorme opdrag, is die dissipels terug Jerusalem toe (Lukas 24:52). In Jerusalem, so het die Here hulle opdrag gegee, moes hulle bly totdat hulle toegerus is met krag uit die hoogte (Lukas 24:49).

Tien dae na Jesus se opvaring het die Pinksterfees aangebreek.
Pinksterfees – ook genoem die fees van die weke, of die fees van die eerstelinge (van die opbrengs) – was een van die drie belangrikste feesdae wat God in die Ou Testament beveel het om te onderhou, waar groot skares Jode van heinde en verre gekom het om hierdie fees te vier. Een-en-vyftig dae gelede, op Paas-Vrydag, was die Jode ook in groot menigtes in Jerusalem aanwesig. 
Toe het die kreet “kruisig hom, kruisig hom!” deur die skare weerklink.

Nou, op hierdie Pinkster Sondag, was ook Jesus se dissipels eendragtig saam vergader, 120 van hulle volgens Hand1:15. Die opdrag en belofte is nog vars in hulle gedagtes. Maak dissipels van alle nasies, maar bly eers in Jerusalem totdat julle krag uit die hoogte ontvang.

Ewe skielik, terwyl almal so saam vergader was in afwagting op die Here se belofte, ewe skielik vanuit die hemel het daar ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind gekom wat die hele huis vul, en vlamme soos van vuur het onder die dissipels verdeel. Wat ‘n skrikwekkende gebeurtenis! ‘n Geluid wat klink asof die huis uitmekaar gaan val, terwyl daar geen sigbare bewyse van wind was nie. Maar wel vlamme van vuur! Die dissipels moes egter ongetwyfeld agterkom wat gebeur. Hulle is vervul met die Heilige Gees! Waarlik, God is getrou aan sy beloftes! Hy stuur Sy Gees op ons neer! Hy bekragtig ons om ons taak uit te voer! 

Hier sien ons weereens so duidelik dat God altyd die inisiatief neem in die verbond, dat Hy getrou is en Sy beloftes hou. Dis Hy wat op Sy tyd sy beloftes in vervulling bring en sy dissipels bekragtig.

En hoe het Hy hulle bekragtig! Hulle het almal begin praat in tale wat hulle die dag van gister nie kon praat nie! Al die Jode uit elke nasie onder die hemel (Handelinge 2:5) wat daar vir die fees was, het na hulle toe gestroom en was totaal en al verwonderd oor hierdie gebeurtenis.
Is daardie nie maar net ongeleerde Galiléërs nie? Hoe is dit dan dat hulle in my taal praat oor die groot dade van God? En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees? (Handelinge 2:12)
Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn. (Handelinge 2:13)

Maar dan volg die geïnspireerde toespraak van Petrus. Vervul met die krag van die Gees het hy opgestaan en die skare toegespreek.
Hierdie mense is nie dronk nie, maar voor julle oë word die langverwagte belofte van die hoop van die nuwe verbond vervul. 
Jesus Christus, wat julle gekruisig het(!), is op die tyd wat God bepaal het aan julle oorgelewer om gekruisig te word. En Christus het volgens die belofte van God uit die dode opgestaan (Psalm 16) en opgevaar tot die regterhand van die Vader (Psalm 110), waar alles onder Sy voete is.
Wat julle nou voor julle oë sien, wat julle die werking van soetwyn noem, dit is Sy werk. Dis die vervulling van Joël se profesie. God het belowe dat Hy sy Gees sal uitstort. Hy het belowe dat Hy sy Gees op alle vlees sal uitstort, op mense van alle geslagte en ouderdomme, ongeag status of klas - elkeen wat die Naam van die Here aanroep. Dit is wat julle nou sien en hoor (vers 33!). Christus wat Sy heerskappy uitoefen en Sy Gees uitstort op die wat in Hom glo. Hy wat julle gekruisig het!

Hierdie woorde het die Joodse skare geskok. Dit het hulle “diep in die hart getref” (2:37). Ons het die HERE se Messias gekruisig! “Wat moet ons doen, broeders?” vra hulle.

Daarop volg Petrus se antwoord in vers 38-40: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”
Bekeer julle! Ja, julle het die Messias gekruisig, maar daar is vergewing as julle julself voor Sy voete werp! Bekeer julle, draai weg van die verkeerde geslag en die bose ingesteldhede waarmee julle Jesus gekruisig het, en soek vergifnis by God deur die bloed van Christus die gekruisigde. Bekeer julle, en laat julleself doop, en julle sal ook die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe.

Petrus beveel die skare om gedoop te word. In die vroeë kerk het die doop anders gelyk as wat ons gewoond is, en dit het met die simbool van die onderdompeling te make. Die persoon wat gedoop is sou in ‘n rivier of ‘n bad heeltemal onder die water ingegaan het, wat simboliseer dat sy ou mens saam met Christus gekruisig is, en saam met hom sterf (die persoon moes simbolies in die water verdrink). Maar die persoon bly nie onder die water nie. Hy word weer uit die water opgelig wat simboliseer dat hy ook deel het aan Christus se opstanding. Hy is ‘n nuwe mens, in Christus en deur die inwoning van die Heilige Gees wat aan hom gegee is. Deur die doop word die gelowige in die liggaam van Christus inkorporeer en word hy deelagtig aan al die beloftes van die verbond, insluitend die belofte van die Heilige Gees.

Hierdie belofte, het Petrus gesê op Pinksterdag, kom julle toe (vers 39). Daardie dag is omtrent 3000 mense wat die evangelie met blydskap ontvang het gedoop en tot die kerk toegevoeg. In een dag het die kerk ver-dertig-dubbel, as ‘n direkte gevolg van die vervulling van God se verbondsbeloftes.

Vers 39 sê verder, Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
Geld dit ook vir ons? Petrus het met Jode gepraat. Beloof God ook sy Gees aan ons? Ons, gelowiges uit die heiden nasies, 2000 jaar later? 

Dit nie duidelik of die vroeë kerk die volle omvang van Petrus se Gees-geïnspireerde woorde direk verstaan het nie. Wanneer Petrus met die groep Jode praat en sê dat hierdie belofte julle toekom, en julle kinders, en almal wat daar ver is, almal wat God sal roep, bedoel hy die heidene wat daar vêr is, of die Jode wat in die verstrooiing is? As mens die boek Handelinge verder lees, raak dit duidelik dat die Jode self aan die begin moes worstel met die feit dat die evangelie ook na die heidene moes versprei, en hulle ook deel word van God se verbond.

In Handelinge 10, bv., agt hoofstukke verder, stuur God vir Petrus na Cornelius, ‘n heidense leërowerste. Daar verkondig Petrus die evangelie, waarna die Heilige Gees, tot almal se absolute verstomming, ook op die heidene val! Petrus gaan voort en doop die huishouding van Cornelius, maar moet hierdie aksie om die heidene te doop later in Jerusalem verdedig met die woorde: “As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?”
En toe hulle [die Jodse Christene] dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk. (Handelinge 11: 17&18) 

So raak dit vir die Jode al meer duidelik dat God besig is om, volgens sy beloftes van ouds, sy verbond te verbreed. En in die vervolg van Handelinge sal die evangelie net nog meer na die heidene versprei. Dus, beloof God ook sy Gees aan ons? Die antwoord is natuurlik: ja! Dis wat Jesus gesê het: Jerusalem, Judea, Samara, en tot aan die uiterste van die aarde (1:8) Christus het die evangelie gestuur tot die uiteindes van die aarde, en ons is ook deel van die groep wat Petrus noem “almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Dit was nog altyd God se bedoeling om ook die heidennasies en hulle kinders in sy verbond in te sluit. In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, so het God aan Abraham belowe.
God sê oor Sion: Ek wil Rahab en Babel vermeld onder hulle wat My ken; kyk, Filistéa en Tirus saam met Kus — hierdie een is daar gebore. Die Here sal tel as Hy die volke opskrywe: Hierdie een is daar gebore.
Laat ons nooit ons verwondering hieroor verloor nie, dat ook die heidene (ons!) nou, deur geloof, deel is van God se verbond. 

Maar mag ons terselfdertyd tog ‘n hart hê vir die Jode wat Christus verwerp. Romeine 11 praat van takke wat afgebreek is, sodat ons ingeënt kon word op die olyfboom. Hulle is deur ongeloof afgebreek, maar ons staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke (die Jode) nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou (‘n heiden) ook nie spaar nie. Dalk ken u ‘n Jood, ‘n toegewyde man wat met groot erns met sy geloof omgaan. Hoe ongelooflik hartseer is dit dan nie, as hulle hul Messias miskyk nie? Ook die Jode behoort die objek van sending te wees, en ook hulle behoort in ons gebede aan God opgedra te word. Want as mens Christus mis, dan mis mens die Lewe. Dis slegs deur geloof in Christus wat ons in Hom geënt is en deel het aan die verbond in sy bloed. 

Vers 39 sê, Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
As dit dan so is dat ons slegs deur geloof deel het aan Hom, hoe het ons ongebore kinders of babatjies deel aan hom? Moet ons nie wag tot hulle glo voor ons hulle doop nie?
Interessant genoeg, as ons die boek Handelinge lees, lyk dit of die vroeë kerk glad nie met die vraag gesukkel het of kinders gedoop moet word nie. Die groot vraag waarmee die vroeë kerk geworstel het, was of die heidene ook nou, in Christus, behoort tot die verbond of nie. Die vraag oor die kinders was doodeenvoudig nie ‘n twispunt nie. Maar was dit nie ‘n twispunt nie omdat almal dit vanselfsprekend geag het dat kinders behoort tot die verbond en daarom gedoop moet word, of was dit nie ‘n twispunt nie omdat almal dit vanselfsprekend geag het dat babatjies nog nie kan glo nie, en daarom nie gedoop behoort te word nie?

Dit is absoluut waar, soos die Baptiste tereg uitwys, dat daar geen eksplisiete voorbeeld van ‘n kinderdoop in die Nuwe Testament is nie, ja, maar net so is daar geen eksplisiete uitsluiting van kinders in die nuwe verbond nie. Die vraag of kinders gedoop moet word of nie, hang dus nie van ‘n vers af wat eksplisiet sê of dit moet of nie moet nie. Die vraag of kinders gedoop moet word of nie, hang af van die regte verstaan van die verbond. Die manier waarop God met sy verbondsvolk omgaan. So is die vraag oor die doop van die huishoudings van Cornelius die leërowerste, Lídia die purperverkoopster, die tronkbewaarder van Filipi, en Crispus die hoof van die sinagoge in Korinthe, die vraag of daar kinders in die huishoudings was is irrelevant. Niemand weet of daar kinders was nie. Die vraag is liewers, het die definisie van huishouding in God se oë verander tussen die ou en die nuwe verbond? Het God tussen die ou en die nuwe verbond die manier waarop hy met Sy volk omgaan verander?

Het insluiting in die verbond skielik verander na iets waar mens eers gelowig instemming voor moet gee? Nee. Ons sien hoe God in die nuwe verbond gewoon verder met sy volk werk op presies dieselfde manier waarop Hy nog altyd met sy volk gewerk het. Alleenlik nou is sy volk soveel groter en meer inklusief. God werk nog steeds met sy volk in gesinsverband. Soos Hy met Abraham gewerk het, en soos Hy met elke generasie na Abraham gewerk het wat hulle kinders deur die besnydenis moes inlyf in die verbondsvolk, so werk God vandag nog met sy volk in gesinsverband.

Hier moet ons die betekenis van die doop mooi voor oë hou. Nie die doop of die besnydenis is of was ooit ‘n teken of seël van geloof in die mens nie. Liewers is dit ‘n teken en seël van beloftes van God. Die besnydenis was ‘n bloederige teken wat vorentoe gewys het na die soenoffer van Christus. Die doop, daarenteen, is ‘n nie-bloederige teken wat terugwys na die belofte van die versoening in Christus se bloed, die afwassing van die sondes, en die inwoning van die Heilige Gees. In beide die ou en die nuwe verbond is die teken nie ‘n seël van die geloof van die mens nie, maar ‘n seël van God se beloftes.

Dis waar, geloof het natuurlik nog altyd ‘n sentrale plek in die verbond. Dis deur die geloof wat die beloftes aangeneem word. Maar dit was reeds so in die verbond met Abraham wat, volgens Galasiërs 3 en Romeine 4, geldig bly. Ook vandag. Dis nie asof geloof eers in die nuwe verbond ‘n vereiste word nie.
Net soos ons erfgename van die beloftes van die verbond is deur geloof, so was Abraham ook erfgenaam van beloftes van die verbond deur die geloof.
Eers nadat hy geglo het, het Abraham die teken van die besnydenis as 'n seël op God se beloftes ontvang. Maar sy nageslag wat op agt dae besny is, hulle het die teken en seël van die verbond ontvang voor hulle dit geglo het, maar ook daardie kinders moes, mettertyd, die belofte van die verbond in geloof aanneem. Dit was nog altyd die geval dat kinders wat in die verbond gebore is, die teken van die verbond ontvang het met die vereiste om ook die beloftes in geloof aan te neem.

Hier lê vir ons ‘n waarskuwing. Ons doop is nie iets wat ons in die kas kan wegbêre nie. Dis iets wat ons in geloof moet afstof en gebruik. Ons het slegs deel aan die beloftes van die verbond, die afwassing van die sondes, die inwoning van die Heilige Gees, en die nuwe lewe in Christus, as ons dit met ‘n gelowige hart aanneem. 

En dit beteken dat ons met ons doop moet werk. Dat ons elke dag onsself, mekaar, en ons kinders herinner aan die beloftes van God. Ons moet dus Sy beloftes ken vanuit die Woord, sodat ons dit op ons hart kan dra. Daarom moet ons werk met die Woord en die prediking, dit laat inwerk op ons harte. Herinner jouself daaraan, ek is ‘n kind van God. Hy het my Sy Gees belowe. Hy het belowe om my sondes te vergewe deur Christus se bloed, en vir my die krag te gee om te stry. Ek is gedoop in Sy Naam, en daarom is hierdie beloftes myne

Herinner dan ook mekaar aan die beloftes van God. Hoe troos u iemand wat sukkel? Alles sal fine wees? Probeer harder? More is nog ‘n dag?
Gemeente, moenie die Christus-lose raad van die wêreld gee nie, want daardie raad is uiteindelik hoop-loos.

Nee, wys mekaar op die beloftes van God, en jou identiteit in Hom. Jy is nie ‘n mislukking nie, want jy is ‘n kind van die die Hemelse Vader! Hy versorg en beskerm ons! God sal ons nooit alleen laat nie, om Christus wil sal Hy nie! Deelname aan die beloftes van die verbond is nie outomaties nie. Ons moet dit glo, net soos die gelowige Abraham!

En ons kinders dan? Ons babatjies? Die wat nog in die moederskoot sterf? Hoe word hulle gered as hulle nog nie hulle geloof kon uitspreek of die evangelie verstaan nie?
Die antwoord is eenvoudig: deur God se beloftes in sy genadeverbond.
Dis van die kindertjies wat Jesus sê aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele (Matt19:14). Ook die Apostel Paulus is baie duidelik daaroor dat die kinders van gelowige ouers aan God geheilig is (1 Korintiërs 7: 14). So is dit nie snaaks as Petrus vir die Jode op Pinkster toespreek en sê dat die belofte aan hulle en hulle kinders behoort nie. En ons wat uit die heidendom – die wat daar vêr is wat God geroep het, ook ons hoef nie te twyfel daaraan dat nadat ons in God se verbond ingesluit is, ook ons kinders deel het aan die beloftes van God nie. Ook aan ons kinders word die belofte van die afwassing van sonde, die inwoning van die Heilige Gees, en die nuwe lewe in Christus belowe. Ons hoef hieraan nie te twyfel nie.

Hierdie beloftes word aan u kinders geskenk. Nie omdat u geloof so sterk is nie, maar omdat ons God so goed is. Hierdie beloftes word aan u kinders beseël in hulle doop, en hierdie beloftes moet hulle, mettertyd, met ‘n gelowige hart aanneem. En daarin speel u, ouers, ‘n baie belangrike rol, om hulle op te voed in die liefde van die Here. Dit het u immers ook belowe by doop – om u kinders, wanneer hulle dit kan verstaan, in die genoemde leer na u vermoë te onderrig en te laat onderrig. Neem daarom erns met die geloof van u kinders, al van ‘n jong ouderdom. Leer hulle om hulle geloof op ‘n eenvoudige en opregte manier te kan verwoord. Leer hulle bid en persoonlik Bybelstudie doen. Wees vir hulle ‘n voorbeeld daarin, en moenie bang wees dat hulle u betrap daarin nie. Maak gebruik van goeie Gereformeerde onderwys en katkisasie. Want op die einde van die dag is daar niks belangriker vir U kind as sy/haar geloof in Christus nie, want slegs deur geloof in Hom, is daar redding.

Hierdie beloftes behoort aan u kinders, omdat hulle in God se genadeverbond gebore word. Dit is dus nie geoorloof om ons kinders se doop so lank uit te stel dat hulle eers moet glo of vir God kies nie, nee, God kom al met sy inisiatief na ons kinders as hulle pap babatjies is. As ons pap babetjies doop, getuig ons daarvan dat ons glo dat God na ons kom in die verbond. 

Ter selfde tyd mag ons weet dat God se verbond nie van die water van die doop afhang nie. Selfs al sterf ‘n kind voor hy of sy gedoop is, mag ons vas en seker weet dat daardie kind al ‘n verbondskind vanaf konsepsie is, en God se beloftes aan hom of haar behoort. En juis hierdie feit, dat ons kinders, vanaf konsepsie God se kinders is, dit dryf ons na die doopvont sodat Hy sy Naam oor hulle kan uitspreek en sy beloftes aan hulle beseël. 

Want aan u maar ook u kinders word die afwassing van die sondes, die nuwe lewe in Christus, en die inwoning van die Heilige Gees belowe.
Neem dit aan met ‘n gelowige hart aan, en leer dit vir die kinders

Amen