Christus is Middelaar is van 'n beter verbond

Minister: 
Jakob Mars
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-07-17
Text: 
Hebreërs 8
Reference: 
Reeks: Verbond 3
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

Stel uself voor dat u ‘n Israeliet is wat onder die ou verbond geleef het.
U ken die wet van God baie goed. U het dit vasgespyker teen die voordeur, sodat u elke dag daaraan herinner word as u in die oggend werk toe gaan en as u in die laatmiddag terugkom. U oordink dit daagliks en dit leef in u hart. U skerp dit vir u kinders in, wanneer julle in die huis sit, wanneer julle wandel, in die aand as julle gaan slaap, en die oggend as julle opstaan. U is lief vir die wet, dis vir u beter as duisende stukke goud en silwer.

Elke jaar gaan u op Jerusalem toe om ‘n spesiale dag, dalk selfs die belangrikste dag van die hele jaar, in Jerusalem te gaan bywoon.
Dit is die groot versoendag, ‘n heilige dag, ‘n dag van volkome rus, ‘n ewige instelling vir Israel.

Hierdie dag, waarop versoening gemaak word vir al Israel se sondes van die jaar wat verby is, het die verhouding waarmee Israel met hulle God staan, herbevestig. Hierdie dag en die ritueel wat plaasgevind het ‘n sentrale plek gehad in die verbond, en het dit moontlik gemaak vir ‘n allerheilige God om in die midde van ‘n sondige volk te woon en hulle te seën met sy teenwoordigheid.

Op hierdie plegtige dag het daar iets baie spesiaal gebeur. Op hierdie dag het die hoëpriester iets gedoen wat hy op enige ander dag van die jaar nie mog doen nie. Hy het die allerheiligste, die teenwoordigheid van God self, betree. Sodat hy nie sou doodgaan nie, moes hy eers ‘n bul vir sy eie sondes slag. Nadat hy dit gedoen het, het hy ‘n ram vir die sondes van die volk geslag. Daarna het hy het die bloed gevat en daarmee tot in God se heilige teenwoordigheid gestap, en dit op die versoendeksel van die ark gesprinkel.

Kan u die gevoel van dankbaarheid van die volk in daardie dag aanvoel? Nog ‘n jaar se sondes is vergewe! Nog ‘n jaar wat dit moontlik was, ondanks ons sondes, vir God om in ons midde te woon.
Terselfdertyd, kan u die verlange van die volk aanvoel? Die verlange na volkome versoening? So pragtig soos die ritueel was, en die versoening wat dit gebring het, soos die volk daar sou wegstap sou hulle gekonfronteer gewees het met die feit dat hulle alreeds weer begin het om sondes te begin ophoop waarvoor volgende jaar weer versoening gedoen moet word. En so het dit jaar na jaar gegaan.

Ek verkondig vanoggend vir u die evangelie onder die volgende tema:

Christus is Middelaar is van 'n beter verbond
1)    Die oudheid van die ou verbond
2)    Die nuutheid van die nuwe verbond

1)   Die oudheid van die ou verbond

In die eerste preek oor die verbond, het ons met ‘n breë lens gekyk na wat die verbond is. Die verbond is ‘n ewige, twee-rigting verhouding tussen God en sy volk, wat deur een party, God, geïnisieer word. In hierdie verhouding gee God ryke, onbreekbare, beloftes, en gee Hy ook sigbare tekens om die beloftes te bevestig.

In die tweede preek het ons na Esegiël 16 gekyk het – God se oordeel oor sy volk, sy bruid, nadat die volk skaamteloos God se onverdiende goedheid en genade verwerp het. God se oordeel was dat Hy sy volk sou skei en die nasies sou stuur om hulle in ballingskap weg te voer.

In ‘n glinstering van hoop het Esegiel 16 geëindig met die woorde:
En Ek sal my verbond met jou oprig, en jy sal weet dat Ek die Here is ... as Ek vir jou versoening sal bewerk oor alles wat jy gedoen het, spreek die Here Here.

In vanoggend se teks uit Jeremia 31 het ons iets soortgelyks gelees. 
Jer31:31 Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit;
Hierdie profesie het God deur Jeremia uitgespreek rondom die tyd wat Juda in ballingskap weggevoer is, gedurende die tyd wat die oordeel oor hulle sonde voltrek word. Gedurende hierdie tyd van oordeel beloof God dat Hy ‘n nuwe verbond met Israel en Juda sal sluit.

Dit is hierdie profesie uit Jeremia wat die skrywer van die brief aan die Hebreërs aanhaal, as hy praat oor die nuwe verbond in Christus. En as daar ‘n nuwe verbond is, sê hy, het God die eerste oud gemaak, en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning (vers13).

Nou is die logiese vraag, hoe kan ‘n ewige genadeverbond oud word? Is dit nie vreemd nie? Maak dit nie God tot ‘n leuenaar as Hy ‘n ewige verbond oprig met sy volk, maar dan die verbond laat verouder en ‘n nuwe een oprig nie?

Inderdaad, met die eerste oogopslag lyk dit asof God ‘n fout gemaak het:
Heb8:7 Want as daardie eerste [verbond] onberispelik was, sou daar nie plek vir 'n tweede gesoek word nie.

Die Griekse woord wat ons Bybel vertaal met “onberispelik”, beteken iets soos blaamloos of foutloos. Dit is ook hoe die 2020 vertaling die vers vertaal – “as daardie eerste [verbond] foutloos was, sou daar nie behoefte gewees het aan 'n tweede een nie.”

Het God dan ‘n fout gemaak met die eerste verbond dat Hy ‘n nuwe verbond moes oprig?

Nee glad nie! Daar was as sulks niks fout met God se eerste verbond nie. Nie net is dit onmoontlik vir God om ‘n fout te maak nie, maar die ou verbond was pragtig, en goed, en pure genade. Maar as die verbond so goed was, wat daarvan is dan “oud”? Wat was die “probleem” of “fout” met die ou verbond?

Dit word duidelik as mens net bietjie verder lees. Die Hebreërs skrywer gebruik immers ‘n vorm van presies dieselfde woord net daar in die volgende vers:
Heb 8:8 “Want Hy berispe hulle,” of soos die 2020 vertaling sê: “Hy vind inderdaad fout met hulle wanneer Hy sê.” (en dan volg die aanhaling uit Jeremia 31). In God se belofte van ‘n nuwe verbond in Jeremia 31, lê daar ‘n bestrawwing van die volk, omdat hulle ‘n nuwe verbond nodig gemaak het. Hy vind fout met hulle, met hulle hardnekkigheid en hulle onvermoë om die eerste verbond te gehoorsaam. Hy vind fout daarmee dat hulle nie by sy verbond gebly het nie (Heb 8:9)

Die “tekort” of “fout” van die ou verbond lê dus geheel en al nie by God, sy plan, sy liefde, of sy institusie van die ou Testamentiese verbondsverhouding nie. Inteendeel, die ou verbond was pragtig, en goed, en pure genade.
Die “probleem” van die ou verbond lê by die mense met wie die verbond aangegaan is. 

Mens kan dit vergelyk met ‘n huwelik. In ‘n huwelik waar een party daarop uit is om ontrou te wees terwyl die ander party heeltemal skuldloos is – ons sal sal sê dat daar in daardie huwelik huweliksprobleme is. Maar die “probleem” is glad nie met die institusie van die huwelik nie! Nee, die huwelik is ‘n pragtige institusie! Die probleem lê ook nie met die onskuldige party nie. Die “probleem” in die huwelik lê by die ontroue party wat daarop uit is om ontrou te wees.

So begin die onvolhoubaarheid van die ou verbond duidelik word. Ons sien ‘n volk wat daagliks hulle sonde vermeerder, met geen manier om werklike vergewing daarvoor te kry nie. Dat die ou verbond onvolhoubaar was, is ‘n punt wat die Hebreërs skrywer baie duidelik maak. In die vorige hoofstuk (7) het hy gesê dat die Levitiese priesterskap onvolkome was (7:11). Die rede is doodeenvoudig dat die priesters onvolkome middelaars tussen God en die volk was. Hulle was self sondige mense (7:27). Hierdie feit alleen maak ware versoening onmoontlik. Maar om die spykers deeglik in die kis van die onvolkomenheid van die ou verbond te slaan, voeg die Hebreër skrywer ook nog daarby dat die priesters van die ou verbond deur die dood verhinder is om aan diens te bly (7:23), en dat die offers wat hulle voor God bring nie waarlik sonde kan wegneem nie: want dit is onmoontlik dat die bloed van stiere en bokke sonde kan wegneem. (10:4).

Dit is die oudheid van die ou verbond. Dis onvolhoubaar en moet daarom tot ‘n einde kom. Nie omdat dit sleg is, of omdat God ‘n fout gemaak het nie. Dit is onvolhoubaar omdat die menslike party kroniese verbondsverbrekers is en daar geen vergewing vir sondes is in die blote onderhouding van die ou testamentiese rituele nie. Daarom, as die mens ooit waarlik vergewing sou kon kry, moes daar nog iets volg na die ou verbond. Iets sou moes gebeur wat die “probleem” in die verbond – die mens en sy sondes – moet oplos. En dis waar die nuwe verbond inkom. Nou moet ons nie dink dat die sondige aard van die mens in die nuwe verbond enigsins beter is nie: die krag van die nuwe verbond lê nie in die feit dat die menslike party – ons! – nou meer betroubaar geword het nie. Laat ons nie hoogmoedig wees teenoor ons Ou Testamentiese broeders en susters nie! Maar waar lê dan die krag van die nuwe verbond? Wat is nuut van die nuwe verbond? Wat is beter?

Hierna gaan ons nou kyk in die 2de punt

2) Die nuutheid van die nuwe verbond

Die Bybel leer ons dat daar geen vergewing vir sondes in die onderhouding van die Ou Testamentiese wette en die rituele is nie. Die bloed van bokke en stiere het in die ou verbond niemand se sondes vergewe nie. En tog was daar vergewing vir sondes in die ou verbond.

Dit is omdat die ou verbond altyd vooruit gekyk het na die nuwe verbond. Ingebou in die wese van die ou verbond, is die feit dat dit onlosmaaklik is van dit waarheen dit wys. Die ou verbond is soos die saad van ‘n boom wat vorentoe kyk om volmaak te word in die boom van die nuwe verbond.

Wanneer die skrywer van Hebreërs in 8:13 praat oor die nuwe verbond, en oor die ou verbond wat oud raak verouder en verdwyn, dan moet ons nie dink dat die nuwe verbond iets totaal en al anders is as die ou verbond nie. In wese is die nuwe verbond nog dieselfde verbond as die ou verbond.

Soos die saad en die boom wat daaruit groei dieselfde DNA het, soos die saad ook die bouplan van die boom in hom dra, so dra die ou verbond ook die bouplan van die nuwe verbond en bereik die verbond sy volle glorie wanneer die oue oorgaan in die nuwe

Dit beteken dus dat, in die oorgang van die ou na die nuwe verbond, God nie oorgaan van een tipe verhouding na ‘n ander tipe verhouding nie. Die struktuur van die verbond bly konstant. Al die kenmerke van die verbond, God se inisiatief, die insluiting van die nageslag, ryke beloftes wat bevestig word deur ‘n sigbare teken, die feit dat die verbond ewig is, dit alles bly deel van die een genade verbond. Dis nie so dat God die ou verbond opfrommel en in die drom gooi asof dit ‘n totale mislukking was, en dan terug moet gaan na die teken bord om ‘n nuwe verbond te ontwerp nie.

Terselfdertyd is dit nie so dat die ou verbond ‘n lagie verf kry, paar krakies toegepleister word, en dit ‘n nuwe verbond genoem word nie. Die nuwe verbond is anders as die ou verbond omdat dit ‘n radikaal beter verbond is. 

Die Hebreërs brief noem die wette en rituele van die ou verbond ‘n afbeeldsel en skaduwee van hemelse dinge. Die oorgang van die ou na die nuwe verbond is dus ‘n oorgang van skaduwee na realiteit. Van beloftes na die werklikheid van daardie beloftes. En dis waar die absolute kern van die verbond lê. Waarvan is die ou verbond ‘n skaduwee? Waaroor gaan beide verbonde ten diepste? Wat is die realiteit van die verbond wat ware vergifnis moontlik maak in die ou sowel as in die nuwe verbond?

Christus!!! Al die bloed wat in die tempel gevloei het, het immers vorentoe gekyk na die bloed van Christus wat sou vloei. Dis slegs in Christus se bloed wat daar waarlik vergewing van sondes kan wees. Daar is slegs versoening moontlik as Christus die middelaar van die verbond is. In Hom kom al die lyne van die verbond bymekaar, en sonder hom maak niks sin nie.

En dis die hele punt van die Hebreërs brief – Christus is die perfekte, volmaakte, middelaar tussen God en mens, daar is geen versoening buite Hom nie.

Christus is die perfekte middelaar omdat Hy sondeloos is. Moses, die groot profeet, wie namens die volk ingetree het toe hulle ‘n goue kalf gemaak het, was ‘n sondige mens. Die Ou Testamentiese hoëpriesters was sondige mense wat slegs in God se Heilige teenwoordigheid mog staan omdat hulle die simbool van Christus se bloed in hulle hande gedra het. Christus, die perfekte hoëpriester, die sondelose, Hy mag wel tot in God se heilige teenwoordigheid nader, ons verteenwoordig, en offer.

Hieruit volg dat Christus die perfekte hoëpriester is omdat hy die perfekte offer bring. Hy is die offer! Die ander hoëpriesters het slegs met die skaduwees van die werklike offer kom offer. Christus se onskuldige bloed is die perfekte offer wat versoening tussen God en mens moontlik maak. En omdat dit die perfekte offer vir die sonde is, het Hy slegs nodig gehad om die offer eens en vir altyd te bring. Daar is geen verdere soenoffer nodig om u verhouding met God te herstel nie, en enige verdere offer sou lasterlik wees. Niks kan by Christus se offer gevoeg word nie.

Christus is verder ook die perfekte hoëpriester omdat Hy, volgens die orde van Melgisedek, ‘n hoëpriester is wat vir altyd lewe. Dit mag ons nie vergeet nie. Dis maklik om oor Jesus te praat asof Hy 2000 jaar terug geleef het. Maar Jesus het nadat hy opgevaar het nooit weer gesterf nie! Hy leef vandag, op hierdie oomblik, so waarlik soos wat u en ek leef, leef Hy met ‘n menslike liggaam, in die hemel in die Vader se teenwordigheid. Al die ander hoëpriesters moes sterf en opgevolg word. Maar Christus leef vir ewig en is nou in die Vader se Heilige teenwoordigheid besig om vir ons voorspraak te maak. Daar, in die hemel, in God se troonsaal, op hierdie oomblik, is daar ‘n menslike liggaam. ‘n Menslike liggaam met gate in sy hande en gate in sy voete en sy sy. Vir almal in die hemel om te sien. God die Seun het ‘n menslike liggaam met gate in, wat in die hemel getuig dat die prys vir u wat in Hom glo, betaal is.

Daar, voor God se troon is Christus verder die perfekte hoëpriester omdat hy met ons swakhede medelye het (4:15). Omdat Hy mens geword het, is Hy net soos ons in alle opsigte versoek. Hy verstaan wat dit is om in die swakheid van die menslike vlees bekleed te wees, en Hy het medelye met ons. En dit maak hom waarlik ‘n barmhartige hoëpriester (2:17), en daarom kan hy ook ons wat versoek word regtig help (2:18)

Sonder Christus as middelaar van die verbond is ons, en almal wie in die ou verbond geleef het, nog steeds in ons sondes. Al die rituele in die tabernakel het vorentoe gewys na Christus wie die Middelaar van ‘n beter verbond is. In Hom het God sy belofte bewaarheid dat Hy “barmhartig [sal] wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.” (Heb8:12)

Christus het die volkome prys vir ons sondes betaal, en omdat hy dit gedoen het mag ons sekerheid hê dat die skuld van die sonde van die wat in Hom glo ook heeltemal betaal is. As u in Christus glo, dan hang daar nie ‘n las van sondeskuld tussen u en God nie. Daardie skuld bestaan nie meer nie. God dink nie meer daaraan nie! U verhouding met God is herstel. Die voorhangsel van die allerheiligste het geskeur, en ons self mag nou, sonder enige skuldelas tot God se troon nader. Mag ons, as Nuwe Testamentiese Christene nooit die bewondering verloor oor hierdie wonderlike gawe nie.

Daar is nog ‘n aspek van die nuwe verbond wat dit regtig nuut maak, en hiermee wil ons afsluit. God sê in vers 10&11- Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle.

Met hierdie belofte is dit duidelik dat die fokus van die nuwe verbond nie net op die vergewing van sondes is nie. Ja, versoening is die kern, maar versoening beteken meer as die vergewing van sondes. Versoening beteken ook dat, as gevolg van die vergewing van sondes, daar nou ‘n herstelde verhouding is. En hierdie is ‘n twee rigting verhouding, met wedersydse liefde.

Die belofte van die nuwe verbond stop dus nie op Golgota nie, maar dit strek verder, deur die oop graf, verby die opvaring in die hemel, en reik tot pinkster en die uitstorting van die Heilige Gees. Nie net is die nuwe verbond ‘n beter verbond omdat daar ware vergewing van sondes is nie, maar ook is dit ‘n beter verbond omdat in hierdie verbond die kennis van die Here, deur die inwoning van die Heilige Gees, universeel sal wees. Die verbond word nie meer beperk tot ‘n spesifieke volk in ‘n spesifieke land nie, maar word verbreed tot alle volke en tale en nasies oor die hele aarde.

Nadat Christus opgevaar het na die Hemel, waar hy nou vir ons intree, het Hy ons nie alleen agtergelaat nie. Op pinkster het God sy Gees op sy kinders uitgestort, die druppende kraan van die Ou Testament is wawyd opgedraai, die damwalle het oopgebars, die sluise van die stortreën uit die hemel is oopgemaak, en dit bring lewe oral waar dit val.

Almal, klein en groot, sal My ken, het die Here belowe. Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Jes11:9&Hab2:14).
Hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken. Die Here is getrou aan sy beloftes en het hierdie beloftes ook waar gemaak. Vervul met die Gees en kennis van die Here mag selfs die eenvoudigste mense getuig van die goedheid van God en die vergewing van sondes. God se Gees is uitgestort oor die hele aarde, oral word Sy Naam aanbid en geëer. Oor die hele aarde, van die Midde-Ooste, tot China en Rusland, Amerika en Australië, en ook hier in die suidpunt van Afrika word God geken. Mense oor die hele wêreld kom tot bekering omdat hulle hul eie nood ken vanuit die wet van God, wat nie meer iets ekstern is nie, maar die tafels van ons harte geskryf word. 

Dis hoekom die nuwe verbond beter is as die ou verbond – omdat die nuwe verbond met krag gepaard gaan. U wat deur Christus se bloed deel het aan die nuwe verbond, het deel aan ‘n beter verbond omdat U volle toegang het tot die krag van die Gees wat in u hart uitgestort is. Die Gees skryf die wet van God op die tafels van u hart en bekragtig u om die wet van God te onderhou en te wil onderhou. 

Vir hierdie rede is ons as gelowiges in die nuwe verbond regtig verder as die gelowiges in die ou verbond. Ons is nie beter as enige Ou Testamentiese gelowige nie. In ons aard is ons net so sondig soos Moses wat die rots slaan, Jona wat van God weg wil vlug, en David wat owerspel pleeg. Maar ons is verder in God se heilsgeskiedenis, omdat ons in ‘n beter, nuwe verbond lewe, met ‘n perfekte middelaar, en beter beloftes – die uitstorting en die inwoning van die Gees.
Ons kan daarom nie leef asof ons nog nie met God versoen is en die Gees nog nie uitgestort is nie. Ons kan nie bly skuil agter ons sondige aard, asof ons noodgedwonge sondig nie, asof ons sondige aard sterker is as die Gees nie. Ons kan nie bly leef asof ons nog in die ou verbond lewe nie. Ons het die Gees ontvang, die belofte en die krag van die nuwe verbond, en daarom kan ons nie in ons sonde bly lê nie. Indien ons wel in die sonde bly lê, dan vertrap ons die bloed van die verbond! Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God (10:28-31).

Die krag om Hom welbehaaglik en met eerbied te dien, lê nie by onsself nie. Die krag om met sonde te breek lê nie in onsself nie, dit lê in die Gees wat in ons werk. U wat in Christus is het direkte toegang tot die krag van die Gees wie in U hart uitgestort is. En daarvan moet ons gebruik maak!

Wil u waarlik breek met daardie sonde? Dan moet u, deur die krag van die Gees, by God wees! 
Wil u met erns omgaan met die wet van God wat ook deur die Gees in u hart geskryf is? Dan moet u, deur die krag van die Gees, by God wees! 
Skoongewas met Christus se bloed mag u met vrymoedigheid op die nuwe en lewende weg die heiligdom ingaan deur die voorhangsel heen (10:9&10). U het direkte toegang tot God! Boonop het u toegang tot sy liggaam in wie en deur wie hy ook kragtig met sy Gees werk. Laat ons daarom nie ons onderlinge byeenkomste versuim nie (10:25).
Gemeente, mag ons ons krag put by die enigste ware bron van krag, die bron waartoe ons vrylik toegang het deur ons perfekte middelaar, Jesus Christus.
Hierdie gawe het Hy vrylik vir ons gegee. In Christus, die perfekte middelaar, en deur die kragtige werking van die Gees, is ons erfgename van die nuwe, en beter verbond.

Amen

Liturgie: 

1. Seën
2. Sing Ps 103:1
3. Gebed
4. Lees Jer 31:31-36 & Heb 8
5. Sing Ps110:2,3,5
6. Preek
7. Sing Sb.14:1,2
8. Lesing van die Wet
9. Sing Ps 40:3,4,5
10. Gebed
11. Kollekte
12. Slotsang Sb 8:2,4,5
13. Seën