Soek die HERE in die aangesig van die rampspoed

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2021-07-11
Text: 
2 Kronieke 20
Preek Inhoud: 

Hoofstuk 20 begin met die woorde: En daarna.  Na wat?  Nadat hy rigters in elke stad aangestel het.

In ‘n land vol sondaars het hy hulle aangesê om op te staan teen sonde, teen boosheid, en nie toe te laat dat bose mense hulle intimideer nie.  Soos die laaste vers van hoofstuk 19 sê: Julle moet sterk wees en dit doen. En mag die HERE met die goeies wees!  Om die boosheid binne-in te hanteer, is dit dus nodig om die HERE te vertrou, dat Hy getrou sal wees aan die opregtes van hart.  Dit begin met die skoonmaak van die binnekant. Maar noudat die binnekant skoon is, is daar ‘n bedreiging van buite af.  Satan gee nie moed op aan hierdie kant van die ewigheid nie.

Die gevaar wat dreig, is die ou familie-vyande van Israel: Moab en Ammon wat verwant is aan Abraham se neef Lot, en Edom (Esau), die seun van Isak en die broer van Jakob.  Dit het nog altyd gegaan oor die twee linies vanuit dieselfde familie.  Broer teen broer.  En hulle kom van oor die see, die woeste see wat die plek is van die nasies, vanwaar die dier opkom, en hulle maak Jósafat se hart vreesbevange.

Jósafat het bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek (vers 3).  Hy was nie ‘n supermens nie; hy was ‘n normale man.  Die eerste stap vir enigiemand om op God se hulp te vertrou, in sy tyd én vandag, is erkenning van swakheid, om toe te gee dat die vyande te sterk is en ons sal vermorsel.  Dit mag vandag ook goeie medisyne wees om eerlik aan die HERE te vertel hoe dit met ons gaan.  Jy weet dat jy mag sê jy is bang, gefrustreerd, kwaad, eensaam, gewond, uitgeput.  Die doel van die blootlê van ons pyn is nie ‘n vingerwysing na God nie. Dit is om eerlik te wees en Hom te vertrou met ons diepste bekommernisse.  Ek bedoel, Hy weet dit.

En wat doen Josafat?  Hy het sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep.  En Juda het byeengekom om van die HERE hulp te soek.

Hy het sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek.  Wanneer laas het jy dit gedoen?  Dit behels die verwydering van alle aandag-afleiers, wegdoen van opinies, en jou doelbewus, pligsgetrou en aanhoudend na die HERE te wend.  En nie op te hou voordat Hy antwoord nie.  God roep sy volk hier op om ‘n les te leer in ‘n krisis.  Of dit nou oorlog of siekte is.  Wat doen jy?  Hou jy ‘n dinkskrum?  Spring aan die werk?  Beplan?  Roep die troepe byeen?  Haal jou wapens uit?  Bemoedig die swakkes?  Nee!  Wat doen die volk van God?  Hulle val op hulle aangesig, en werp hulleself heeltemal op die God van die Verbond.  Soek die HERE terwyl Hy te vinde is!

Soek die HERE in die aangesig van die rampspoed:

  1. Soek die HERE in gebed
  2. Luister na die Woord van die HERE
  3. Dank God vir sy Woord van verlossing

 

Soek die HERE in gebed

Hoe is jou gebedslewe in hierdie tyd?  Wat gebeur wanneer jy gespanne raak, as die lewe jou oorweldig?  Wat doen ons as ‘n pandemie die welsyn van die kerk bedreig?

Ons teks wys vir ons ‘n tyd toe die volk van God in groot gevaar was.  ‘n Tyd toe dit gelyk het asof alle hoop daarmee heen is.  Hulle kyk vas in die loop van ‘n geweer en die dood lyk onafwendbaar.  Uitwissing!  En wat doen hulle?  Hulle vergader om te bid.  Hulle vergader.

Net ‘n terloopse opmerking hieroor. Die woord “byeengekom” het in Kronieke die betekenis van gesamentlike aanbidding.  Dit is gebruik in die tyd van Dawid en Salomo, en dan nie weer totdat hierdie oomblik aanbreek nie.  En dan word dit nie weer gebruik tot die tyd van Hiskia nie (Qahal word 14 keer daar gebruik).  Hier is iets belangriks.  Aanbidding is vir die kroniekskrywer ‘n transformasie tot verbondsgehoorsaamheid, en die aanstig van geloof en hoop.  Gesamentlike aanbidding transformeer ons. Al die goeie van Israel – gemeenskap met God, vreugde en feesmaaltye, oorwinnings oor vyande, die kroning van konings – gebeur by en deur byeenkomste.  Daar is krag in die volk van God wat verenig is in aanbidding!

En hy bid ‘n pragtige verbondsgebed.  Wanneer jy hierdie gebed hoor, weet jy dat jy in die teenwoordigheid is van iemand wat die Woord van God ken, en wat die beloftes van God ken!  Soms sê ons net: “Vader, God, help so-en-so, wees met so-en-so, bewaar my, vergewe my, om Jesus wil, amen”.  Of daar is mense wat dieselfde oor en oor sê: “Vader dit, Vader dat, ...”.  Dit is nie sleg nie, maar dit is nie hoe jy met jou eie pa praat nie.

Hier het ons ‘n gebed gebaseer op God se Woord, soos alle effektiewe gebede behoort te wees.  Gebed is ‘n antwoord aan God.  Die inleiding herinner aan die Here Jesus se gebed: HERE, God van ons vaders, is U nie God in die hemel nie?  Klink dit nie soos Onse Vader wat in die hemele is nie (Matt. 6:9)?

Hy gaan voort en sê basies: "God, U het belowe om ons te verhoor en te red as ons U aanroep” (v.9).  Die Hebreeus lui as volg: “vetishma, vetoshia”.  Dit klink amper dieselfde, asof om te sê: As God hoor, dan red Hy.  Hy is 'n reddende God, omdat Hy 'n horende God is.  Dit is Israel se grootste bron van hoop: "Sou Hy wat die oor plant, nie hoor nie...?" (Psalm 94:9)  Hierdie wete gee ons die motivering om te bid.  Die God wat optree, is 'n God wat hoor.

God sal hom hoor ter wille van sy eie heerlikheid.  Hy bid nie om homself te red nie, maar om God te eer.  Dít is wat hier ter sprake is!  Kyk na verse 10 tot 12: aanskou hierdie mense onder wie U Israel nie toegestaan het om te trek nie ...  hulle vergeld ons dit deur te kom om ons uit u besitting te verdrywe wat U aan ons as ‘n eiendom gegee het.  Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie?  Hierdie is 'n Godgesentreerde gebed!

Dit is 'n gebed ten aanskoue van gevaar, die onbekende, te midde van die oorweldigende moontlikhede wat in hierdie boek uitstaan.  Ek hou van hoe dit eindig: ... en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U (vers 12).  Sedert ek Kronieke begin bestudeer het, is hierdie gebed in my hart en op my lippe.  Dit lei my deur hierdie tyd.  Dit is 'n erkenning van totale hulpeloosheid.  Let op, ek sê hulpeloosheid en nie hopeloosheid nie.  Baie mense voel hopeloos in hierdie situasie, maar nie die verbondsvolk nie, want God is hul hulp én hoop!

Josafat se destydse perspektief is meer van toepassing op Julie 2021 as wat ons dink.  Hy het hierdie gebed gebid omdat 'n enorme leër in aantog was.  Maar sy geloof was allesomvattend.  Hy het nie net die HERE vertrou in die lig van ‘n moontlike militêre neerlaag nie, maar vir enige moontlike ramp!  Kyk na 2 Kronieke 20:9: As daar oor ons onheil kom—swaard, straf of pes of hongersnood—sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig gaan staan; want u Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos.

Dít is die houding van 'n Christen: Beroep jou op God se karakter, erken jou onvermoë en rig jou oë op die Here.  En dan, wanneer Hy antwoord, luister jy.

Luister na die Woord van die HERE

Die hele gemeenskap van Israel is op hierdie stadium bymekaar.  Ek kan nie wag dat dit weer hier gebeur nie. Gedurende die afgelope jaar het ek meer en meer kinders hier gesien, en ek hou daarvan.  Hulle is deel van die kerk.  Hulle hoort by die vergadering.

En die Heilige Gees praat deur 'n persoon wat aanbid.  Ons sien weer hoe die Gees van God reageer op die gebede van sy volk.  En Hy sê, "Luister!"  Luister jy?  Dit is waar dit begin – deur te luister.

Dit is die Woord van die HERE.

"Moenie bang wees nie en moenie ontsteld wees nie."  Dit is God se herhalende boodskap aan sy volk.  Dit was die eerste woorde uit Jesus se mond na sy opstanding!

God sal die Oorwinnaar wees; Hy is altyd.  Hierdie is en was nog altyd God se stryd.  Miskien is die rede hoekom die kerk so swak is, omdat ons vergeet het om ons aangesig daarop te rig om die HERE te soek.  Omdat ons dink dat dit altyd en eerstens óns stryd is – maar dit is nie.  Ons God veg vir ons.

Dan gaan die profeet gaan verder en verduidelik die vyand se strategie: waarheen hulle gaan trek, wat hulle gaan doen.  Amper asof Hy ook hulle HERE en Koning is.  En Hy is!  Onthou dat Josafat Hom as Here van alle nasies erken het.

En dan sit hy Israel se plan van aksie uiteen.  Dit is briljant - is jy gereed daarvoor?  Dit is kort en kragtig: "MOET NIKS DOEN NIE!"  Staan vas en aanskou.  Moenie weghardloop nie.  Bly net waar jy is, want ek wil hê dat jy die heil van die HERE moet sien.  Hy wil hê die volk moet dit sien, sodat hulle in Hom kan groei.

Liewe gemeente, weet julle wat die strategie vir verlossing is?  Moet niks doen nie.  Ek kan dadelik sien wat julle nou dink!  Nee, Dominee, ons moet darem iéts doen.  Ek kan my voorstel dat sommige van Israel se troepe dieselfde gedink het, maar dan sê die profeet vir hulle om niks te doen nie.

“Ja, reg”, sou hulle dalk gesê het, “leërs val nie net om en sterf nie".  Ja, dit doen hulle as hulle hul Skepper teenstaan.  Onthou egter aan wie dit geskryf is – aan die volk ná die ballingskap.  God sê: "Hou my dop!  Ek gaan die verlossing bring.  Ek sal dit sélf doen.  Ek sal die eer ontvang."  Luister na die Woord van die HERE. Die verlossing kom van u God!  Sal jy dit ter harte neem?  Of gaan jy aanhou staatmaak op jou eie mag, krag, kennis, beplanning, ens.?

Hierdie verhaal is 'n klein voorbeeld van 'n groter, geestelike stryd waarin almal in alle tye gewikkel is.  Ons MOET die Woord van ons God hoor!  Die heerlikheid behoort aan Hom!  Ons sit met 'n dodelike probleem. Ons kan op ons eie niks daaraan doen nie, selfs al probeer ons.  Ons moet ons vertroue elders neerlê, want die stryd is nie ons s'n nie.  Soos wat ons op die Een vertrou wat namens ons stry, word ons uitgenooi om terug te sit en die verlossingswerk te aanskou.

Die Corona-besmettings mag afneem of vererger.  Maar steeds kyk ons na God se redding.  Nie omdat Hy noodwendig sy liefde aan ons bewys deur ons teen siekte te beskerm nie, maar omdat Hy reeds sy liefde bewys het deur Christus te stuur het om vir ons te sterf terwyl ons nog sondaars was (Romeine 5:8), sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Moet dus nie bang of ontsteld wees nie.  Die HERE sal deur die hele lewe met jou wees!  Tydens oorlog en pandemies, in armoede en rykdom!  En ja, deur die dood heen!  Kyk, sê ons Here Jesus Christus vir sy kerk: Ek is altyd met jou tot aan die voleinding van die wêreld!  Ons Koning stry namens ons!  Ons Koning is die sterk en almagtige God (Psalm 24)!  Luister – dit is God se stryd.  En die beste manier om te reageer, is in dankbare aanbidding.

Dank God vir sy Woord van verlossing

En die antwoord op God se beloftes van redding?  Aanbidding!  Hulle het die HERE gesoek, nou val hulle voor die aangesig van die HERE!  Aanbidding!  En die leiers van die volk het opgestaan om die HERE, die God van Israel, met ‘n baie groot stem te prys!

Aanbidding laat die poorte van die hel bewe en verkrummel!  Aanbidding laat die mure van Jerigo val! Aanbidding verslaan die vyande van God!  Dit is wat hier gebeur.

Let op die finaal: aanbidding.  Kyk na vers 21: voordat die oorwinning nog behaal is, lei die koning die volk tot lofprysing.  Dit is deur aanbidding dat die kerk die wêreld oorwin!  Sien julle wie voor loop?  Die koor!  Dit is nie juis die gevegsplan wat jy sou verwag nie!  Maar deur die volk se lofprysing en vreugde in die God van hul verlossing, en die verheerliking van sy Naam, kom God tot hul redding.  En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die HERE ‘n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is. (vers 22)

Hulle glo God en aanbid.  Glo jy nog in die grootheid van jou God?  Dat Hy verhewe is bo die aarde? Dat Hy in hierdie tyd regeer?  Dat al sy beloftes ja en amen is?  Geloof, en geloof alleen, in die beloftes van God alleen!  Hoe beweeg God se volk deur die eeue vorentoe?  Nie deur die vindingrykheid, krag en rykdom van die mens nie, maar deur die krag van die beloftes van God!  En hulle besef dit in aanbidding.

Aanbid Hom, en gee dank!  En aanskou die verlossing van jou God.  Die Judeërs gaan die volgende dag uit en sien dat die bedreiging weg is.  Ek sê nie God sal wonderbaarlik al jou probleme oplos as jy maar Hom maar net begin aanbid nie.  Dit is wel so dat jou grootste probleem – die probleem van ongeloof – opgelos sal word as jy begin om God te aanbid.

In ons teks is die verlossing volkome, en die oorlogsbuit groot!  Ons lees in vers 24: hulle kom by die uitkykpunt en sien die lyke op die grond gestrooi lê.  Niemand het ontkom nie.  En die buit was groot – meer as wat hulle kon dra!  Dit is die oorvloedigheid van ons God!   Hy self skenk ons die oorwinning en laat ons toe om in die oorvloedige buit te deel!  Die redding is ons s’n.  Dit is die werk van God.  Maar in hierdie redding skenk Hy nog baie meer!  Inderdaad, ons beker loop oor! Die oorwinning oor sonde en dood is volkome aan Hom te danke, en tog word die buit van die oorwinning – ewige lewe, gemeenskap met God, heiligmaking, aanneming – volkome aan ons toegereken.  Prys die HERE, maak sy Naam groot.  Soos Psalm 103 sê: Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!

Dit is wat hulle hier doen, soos ons in vers 26 lees: En op die vierde dag het hulle in die Lofdal byeengekom, want daar het hulle die HERE geloof.  Miskien het hulle selfs Psalm 103 gesing.

En wat was die gevolg van die oorwinning wat God bewerk het?  Vreugde, veiligheid en vrede!  Ons sien dit oor en oor.  Die mens se werke lei tot ontberings, vrees en oorlog – en uiteindelik die dood.  Maar in aanbidding is daar die verwesenliking van hoop wat lei tot vrede en veiligheid binne die grense van Israel!  O, mag daar vrede in die kerk wees!  Veiligheid kan hier gevind word!  Dit alles omdat ons ons oë op God gerig hou, op Hom alleen.  As ons almal dieselfde fokus het, sal ons eendragtig vorentoe beweeg.  Omdat ons ons aangesig daarop gerig het om die HERE te soek!

En ten slotte, aan die einde van die hoofstuk sien ons ‘n koning wat in aanbidding lei, maar met gebrekkige onderskeidingsvermoë nie die pad volhou nie.  Hy het nog nie sy les geleer nadat hy ‘n verbond met Agab gesluit het nie, en sluit nou ‘n ooreenkoms met Ahásia, die koning van Israel, en word getugtig.  Ons vergeet so gou, veral as ons God se verlossing ervaar.  Laat ons dit nie vergeet nie, en ag gee op God se tugtiging.

Josafat se regering is ‘n menslike regering.  Daar is swak en sterk punte.  Iemand wat deur God getugtig is.  Ons sien dat gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid gevolge het.  En dit strek deur alle geslagte heen.  In die volgende hoofstukke sien ons dat sy ongehoorsaamheid reik tot in die derde geslag.  Maar vir vandag, onthou dit: Rig jou aangesig daarop om die HERE in aanbidding te soek!

Amen.