Die verbondsgod is te midde van sy volk

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2021-03-07
Text: 
2 Kronieke 5 - 7
Preek Inhoud: 

Die tempel, die huis van God, is gebou.

In hierdie hoofstukke sal ons nou sien wat dit vir God se volk beteken om daarmee te lewe. Hierdie hoofstukke gaan oor die verbondsliefde en trou van God. Ons sien heeltyd verbondstaal. In hoofstuk 5 word God se verbond die duidelikste geteken in die Ark. Dit word in verse 2 en 7 die verbondsark van die HERE genoem, en dit was ‘n herinnering aan die heilige teenwoordigheid van God. In hierdie verhaal word die verbondsbeloftes vervul.

Hulle het uiteindelik in die beloofde land aangekom. Hier was rus en vrede. Hulle kon hul vestig omdat God Hom tussen hulle gevestig het. As daar een woord is wat hierdie hoofstukke omvat, is dit die woord verbond.

Die verbondsgod is te midde van sy volk:

  1. ‘n Verbondsgod kom woon by sy volk
  2. ‘n verbondsgebed tree in vir God se volk
  3. ‘n verbondsantwoord

God kom na sy mense

Hoofstuk 5:1 en 5:14 het ‘n pragtige verband. Salomo bou eers die tempel, dit word voltooi, en dit eindig met die heerlikheid van die HERE wat die huis so vervul dat daar vir niks anders plek is nie.

Dit staan weer in verband met die tyd van Moses. Eksodus 40 beskryf die voltooiing van die tabernakel, en Eksodus 40:34 is amper woordeliks dieselfde as 2 Kronieke 5:14. Die wolk, die heerlikheid, was die beliggaming van God se teenwoordigheid. God se heerlikheid is wie Hy is. Is dit nie wat ons wil hê nie? Vanoggend, dat God tussen ons kom woon? Ons wil hê dat die heerlikheid van God ons gemeenskap kom vervul! Openbaar wat Hy is! En hierdie heerlikheid word by uitstek gevind in Jesus.

Haggaï 2:7: “Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die leërskare.”

Johannes 1:14: ”En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.”

2  Korintiërs 4:6: “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.”

Liewe gemeente, hierdie heerlikheid was ‘n skadu van die heerlikheid wat u gesien het! Dit is Christus in julle midde. In Hom het die volheid van God by ons kom woon. As almal van julle die oë op Hom gerig hou, sal hierdie plek met sy heerlikheid gevul word.

Verbeel jou die tafereel. Maak jou oë toe. Hierdie oomblik het honderde jare gevat. Vandat Moses hulle uit Egipte gelei het, het God in ‘n tydelike plek gewoon. En nou, na sewe jaar se bouwerk, was die tempel voltooi. En in die sewende maand, op een van die groot Joodse feeste, laat die koning almal saamkom. Dit was in Sukkot, waar hulle ‘n tydelike bousel gehad het om die uittog uit Egipte te gedenk. En dit was ook die fees van die insameling van die oes. Die priesters het hulle gewas, en hulle is seremonieel gereinig, afgesonder vir diens. Die simboliese reiniging het gewys na die was in die bloed van die Lam. ‘n Volk afgesonder vir God deur ‘n bloedoffer!

Ja waarlik, hierdie gedeelte is vol bloed. Ons lees in vers 6 dat die diere so baie was dat hulle nie getel kon word nie. In 7:5 lees ons dat koning Salomo 22 000 beeste en 120 000 stuks kleinvee geslag het. Geen hoeveelheid bloed is voldoende om die mense die oomblik waardig te maak nie, om die teenwoordigheid van God te geniet nie. Geen dierebloed is ooit genoeg nie. En dit is deur hierdie bloedige spoor heen dat die teken van God se teenwoordigheid, die ark, die tempel binnegaan. Die weg tot God is deur bloed. Die ark is die teken van God se uiterse heiligheid soos voorgestel in die Tien Gebooie. Niemand kan tot ‘n heilige God nader behalwe deur bloed nie. En dit is wat gebeur!

En wanneer Hy sy heilige tempel betree, is daar sang en lofprysing. Van sy verbond en onwankelbare liefde. Die kerk deur die geskiedenis heen, van die begin tot die einde en tot in ewigheid, sing en prys God. Ons lees dat hulle begaafde Levitiese sangers was, mooi geklee, met musiekinstrumente, saam met 120 priesters wat op trompette geblaas het. Ons lees in vers 13 dat die trompetblasers en die sangers almal saam eenstemmig die HERE loof en prys. Ek hou daarvan. Dit is julle taak om God eenstemmig te prys en te dank, omdat Hy goed is, en sy liefde is vir ewig. Hulle sing van HESED, wat vertaal kan word as verbondsliefde en getrouheid. Ons sien hierdie woord in 5:13, 6:42, en weer in 7:3.

God kom woon by sy mense te midde van offers en aanbidding. Die verband tussen die offer en God se inwoning kom weer na vore in hoofstuk 7, waar ons lees: “die vuur uit die hemel [het] neergedaal en die brandoffer en die slagoffers verteer, en die heerlikheid van die HERE het die huis vervul”.

Geliefdes, is dit nie ‘n wonderlike prentjie van die evangelie nie? Ons Here Jesus Christus, opgevaar na die hemelse tempel, waarvan hierdie tempel maar net ‘n skaduwee is! Deur offers! Deur bloed! Bloed, oneindig meer waardevol en waardig as die bloed van diere. Hebreërs sê dat die bloed van stiere en bokke nooit genoeg was om mense te heilig nie. Maar Hy was waardig, oneindig waardig. En sy bloed sou die gevangenes verlos. Die HERE het Hom verteer, en sy offer was aanvaarbaar, sodat God weer by sy mense kon woon. En dit is wat gebeur het!

Wat was die reaksie toe Hy opgevaar het? Gesang! Lofsange soos dié van die tempelsangers, so sing die kerk in Openbaring  toe die Lam wat geslag is die troon bestyg. En wat het gebeur nadat Hy opgevaar het? Hyself het tussen sy mense kom woon wat in sy tempel is, in die Persoon van die Heilige Gees.

‘n Verbondsgebed

Hoofstuk 6:1 is wonderlik! Salomo sê dat God dit nog altyd belowe het. Die verwagting was dan ook dat God sy belofte sou vervul. Mag daardie verwagting ook in óns lewe! En die koning seën die volk voordat hy vanaf die verhoog, wat hy gemaak het, in die teenwoordigheid van die volk, sy hande ophef en bid; intree by God vir sy mense, en vir hulle sondes.

Voor ons verder gaan, ‘n terloopse punt. Sommiges stel dat dit die houding van die hart is wat saak maak, nie liggaamlike houding nie. Maar in die Skrif is die liggaamshouding dikwels ‘n weerspieëling van die hart. Soos by die gelykenis van die fariseër en die tollenaar. Die fariseër staan regop, die tollenaar slaan op sy bors en kan nie hemelwaarts kyk nie.

Die gebed is gebaseer op God se verbondsbeloftes van die verlede, vervul in die hede, en vervolmaak in die toekoms. Gebed is die hart van erediens, wat verseker dat dit nie roetine word nie. As jy jou lewe lank kerk toe gekom het, maar nie persoonlik bid nie, is die kanse goed dat jou erediens net skyn is. In 6:1-15 prys Salomo God vir sy verbondsbeloftes wat nou in die Seun van Dawid vervul is. En in die res van die hoofstuk vra hy God om getrou te bly aan sy beloftes. Ons sien die oorgang in verse 15 en 16. Tot vers 15 prys Salomo God vir wat Hy gedoen het, en vanaf vers 16 vra hy dat God getrou sal wees aan sy beloftes.

Dit is wat mense in elke generasie konstant behoort te doen. In gebed. God, U het dit gedoen. En dit. En U het beloftes vervul! Ons kan wys op die vervullling van elke belofte in Jesus Christus. Ons ken die Seun van Dawid! Die beloftes is vervul! Hy regeer! God woon by sy volk. Selfs Jesus Christus, die Seun van Dawid, bid of tree in by die Vader op basis van al die beloftes wat vervul is in sy dood en opstanding. Soos wat die Vader die gebed van die Seun van Dawid gehoor het, so hoor Hy die gebede van sy kinders.

Net so hoor Hy die gebed wat die ander seun van Dawid, Salomo, na die tempel rig. Dit is ‘n voorstelling van wat Jesus Christus doen waar Hy pleit voor die Troon weens ons sondes. Hy vra dat God sal vergewe, of Hy in ‘n sekere sin die vervloekings van die verbond sal omkeer, wanneer die mense hulle aangesigte keer na die offerplek, waar versoening vir sondes bewerk is.

Kyk na die refrein van die gebed. Vers 24: “omdat hulle teen U gesondig het”. Vers 26: “omdat hulle teen U gesondig het”. En in vers 30: “wil U dan hoor ... en vergewe”. Jy sien die tema: in hierdie gebed is daar koue, harde realisme wat die sondigheid van God se volk direk aanspreek. En ook die skoonheid dat, ten spyte van sonde, versoening en vergifnis beskikbaar is in God se heilige tempel. Ons slaan ons oë op na die Lam wat geslag is. Ons kyk na Jesus Christus. Na die plek waar God sy volk ontmoet het.

Die sonde van God se kinders sal hulle nie in ‘n doodloopstraat vol skulgevoelens, depressie en ‘n uitsiglose toekoms laat nie. Selfs in hul sonde is daar ‘n toekoms en hoop, want die God van die Bybel bring sy oordeel oor sy volk om hulle terug te lei na sy genade.

Daar is slegs twee bedes wat moontlik nie oor sonde gaan nie, en dit is dié in vers 32 tot 33, en 34 tot 35. En hier het ons een bede oor die verbreiding van God se heerlikheid en missie, en die ander oor die oorwinning van die koninkryk. In vers 32 het ons ‘n gebed vir vreemdelinge.

Salomo het nie verwag dat die tempel Israel se bes bewaarde geheim moet bly nie. Hy het verwag dat dit ‘n soort sendingstasie sou wees. In hierdie gebed sien ons ‘n afbeelding van wanneer alle volke en nasies na God se huis sal stroom. Die tempel was God se geskenk aan Israel en was ook bedoel om mense ver buite Israel nader te trek in die vreugde van versoening en gebed! Ja, Hy roep mense vandag nader deur sy kerk, gevul met die heerlikheid van God – Jesus Christus – sodat almal op aarde Hom mag ken en vrees soos ons. Dat hulle kan weet dat hierdie kerk die Naam van Jesus Christus dra. Ons is nie hier vir onsself nie, ons is hier vir die nasies! Ons is hier om elke taal, stam en nasie te roep! Om die gebede van die Seun van Dawid te vervul! Dat mense na Hom getrek sal word en dat elke knie voor Hom sal buig.

En die laaste bede wat nie direk met sonde verbind word nie, is die gebed van Salomo waarin hy bid dat God se volk oorwinning sal vind deur gebed na die tempel toe! Dit eggo die gebed van ons Here wat ons bid tot die hemelse tempel waar ons groot Middelaar staan wat al God se vyande verslaan het en wat vir ons vrede gebring het. “Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose.”

‘n Verbondsfees

Die eerste wat ons in hoofstuk 7 sien, is weer die offer. Ons het al daaroor gepraat, dus kyk ons na vers 8 tot 10.

Ons sien ook ‘n fees, waar ons God en sy volk die verbond uitleef en feesvier. ‘n Dankseggingsfees. ‘n Fees van vreugde. En ons sien dat dit gevier word deur al God se verbondskinders “van die ingang na Hamat tot by die spruit van Egipte”. Dit is presies die gedeelte van die land wat God aan Abraham beloof het. Al God se kinders het saam feesgevier in reaksie op sy verbondsbeloftes wat aan Dawid en Salomo vervul is.

Hoeveel te meer het ons rede om fees te vier! Dit is nie verniet dat die nagmaal dikwels “eucharistie”, wat “danksegging” beteken, genoem word nie. Dit is ‘n verbondsfees waar ons sy beloftes en goedheid herdenk, en ons sien uit na die groot dag waar ons sal feesvier saam met die groot Seun van Dawid, die Prins van vrede, wie koninkryk nooit sal eindig nie.

Nie net vier die mense fees nie, maar God verskyn ook en antwoord en sê: “Ek het jou gebed gehoor”. God se oë en ore is oop vir sy heilige tempel.

Vers 14 word dikwels buite konteks misbruik; ek het dit hier en in Amerika gehoor. “[As] my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

Ons gebruik die vers verkeerdelik om God en ‘n land te kombineer. Baie mense is bekend met die vers, en gebruik dit dan om te sê ons moet Suid-Afrika terugeis tot waar dit eens was. ‘n Tydperk word dan voorgehou om te wys waar die land moreel goed geleef het. Dit is maklik om die teks verkeerd te verstaan, want dit is maklik om die Evangelie in die Suid-Afrikaanse lewe verkeerd te verstaan. Maar soos wat kultuur verander, het hierdie teks alles te doen met hoe ons as Christene na die toekoms kyk. Dit lyk asof die kerk krimp. Maar dit was nie die geval nie. Dit was eerder dat almal geglo het in ‘n Christelike moraliteit, maar sonder die kruis. Maar dit is nie die evangelie nie.

Hierdie deel is geskryf vir die ballinge, nie vir die Suid-Afrikaanse nasie nie, maar vir God se verbondsvolk, wat die tyd onder Salomo se regering moes onthou. Hulle het ongemaklik en onseker gevoel in hierdie nuwe veranderde realiteit.

Dit sê: “AS my volk”. Ons moet weet wie ons is. Wat is ons identiteit? Baie mense maak dit van toepassing op Suid-Afrika. Maar dit sê: “As MY volk”. Liewe gemeente, ons is nie in die eerste plek Suid-Afrikaners nie, maar mense wat in die Naam van God geroep is. Hierdie is nie gerig tot die wêreld nie, maar tot die kerk. Nie ‘n kultuur nie, nie ‘n nasie nie, maar inwoners van God se Koninkryk.

En die Koninkryk word gedefinieer deur die tempel, die offers, en die teenwoordigheid van God wat alles verenig in die Persoon en werk van ons Here Jesus. Ons moet verstaan wie ons is. Daar is druk om onsself te identifiseer deur plek of demografie of status of nasionaliteit. Maar die evangelie vra dat ons onsself identifiseer deur die verbond. Ons het ‘n identiteit wat bo elke ander identiteit is, en dit is dat ons deur God geroep is deur Jesus Christus.

Dit gaan nie daaroor om Suid-Afrika in pas te kry met die kerk nie, maar om die kerk uit pas met Suid-Afrika te kry. Een van die dinge wat nou besig is om te gebeur terwyl ons kultuur verandering ondergaan, is dat dit minder moed vra om te erken dat jy nie glo nie of iets anders glo. As kulturele Christendom verdwyn, is dit nie tyd om paniekerig te raak nie. Nou sien ons dat God in sy groot genade wys wie sy kerk en wie sy volk is, met ‘n duidelike getuienis en boodskap vir die res van die wêreld.

Dit sê: “[As] my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” Ons aanvaar dat dit sê: Suid-Afrika moet hom bekeer van sy boosheid, dan sal God die land heelmaak. Maar dit is gerig aan die volk van God.

Dit is gerig tot die volk van God, nie as morele waarnemers van die wêreld nie, maar as sondaars wat vergewing en genesing nodig het.

Wat sommige mense probeer doen het, is wat die welvaartspredikers ook gedoen het. As ‘n nasie maar net wil terugkeer na God, dan sal hulle gesond, ryk en gelukkig wees. God sê nee! Jou reiniging, jou terugkeer, jou heelwording, kom deur dissipline en swaarkry.

Dit gaan oor Jesus die Messias en sy volk. En dan gee God ook ‘n vervloeking as hulle nie sy weg volg nie. Die tempel sal vernietig word. Hoofstuk 7:19 en 20: “Maar as júlle afkerig word en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal Ek hulle uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het, en hierdie huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp en daarvan ‘n spreekwoord en ‘n spotlied maak onder al die volke.” Dit het tydens die ballingskap gebeur, en dit sou baie later ook gebeur, maar dit het uiteindelik aan die kruis gebeur. Dink daaroor dat Jesus gesê het dat Hy die tempel van God is. Hy is afgesonder. En wat het gebeur?

Toe Hy buite die poorte van Jerusalem gekruisig is, het almal wat verbygekom het, gekyk na die Man wat gesê het Hy is die Gesalfde van God. God het Hom verlaat, God vervloek Hom. Wat die verbygangers nie gesien of geweet het nie, is dat die vervloeking wat Jesus gedra het, die vervloeking was wat op ons gerig was. Dit was nie die straf op sy eie sonde nie, maar op ons sonde. Hy het die vervloeking ontvang sodat Hy ook God se seën kon uitdeel.

Die ergste wat kon gebeur, het al gebeur. Die verbondsvloek van God is van jou af verwyder. En die beste ding ooit het gebeur: Christus is joune, vir altyd. God se koninkryk is vir ewig. Kom ons wees burgers van sy koninkryk. ‘n Gemeenskap gekoop deur die bloed van die Lam. ‘n Tempel waarin die heerlikheid van God woon. Ons offer ons lewens as dankoffer vir sy werk. Want ons God is ‘n Verbondsgod. Die God van Abraham, Isak, Jakob, Dawid en Salomo. God van Jesus Christus. Die antwoord op God se verbondsseën en -vervloeking word gevind in Christus.

Amen.