Die konsekwensies as elkeen doen wat reg is in sy oë

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-05-14
Text: 
Rigters 21:25
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 21:25

 

Die boek Rigters eindig met twee verhale wat mens se wenkbroue laat lig.

Meer nog, dit was bomskokke van gebeurtenisse.

Eintlik, as mens die Rigterboek lees, sien mens steeds ‘n afgaande lyn.

Aan die begin is daar nog redelik goeie rigters, wat voorbeelde was in terme van geloofsvertroue en moraal.

Maar die laaste rigter, Simson, was nie werklik meer ‘n morele voorbeeld vir die volk nie.

Daarna volg nog twee verhale.

In beide speel ‘n Leviet ‘n prominente rol.

Leviete was veronderstel om die volk te onderrig in God se wet.

Hierdie twee Leviete was egter die omgekeerde.

Die eerste is deur ene Miga gehuur om in sy huis ‘n privaat heiligdom te bedryf waar daar selfs ‘n gesnede beeld was (hoofstuk 17).

Later is hy deur die Daniete geroof om hulle priester te wees (hoofstuk 18).

Hy was die begin van ‘n tradisie van afvallige Godsverering wat eeue lank geduur het, selfs tot in die tyd van Koning Jerobeam.

Die goue kalwers wat Jerobeam opgerig het was ‘n voortsetting van die beeldediens wat hierdie Leviet destyds in Dan begin het.

 

Die tweede Leviet, waarmee Rigters 19 verder gaan, was niks beter nie.

Inteendeel, die Rigterskrywer onthul dat hy ‘n sadis was, en ook ‘n aartsmanipuleerder.

Hy was selfs bereid om ter wille van sy eie belang die hele volk in ‘n burgeroorlog te stort.

En dit is met hierdie burgeroorlog en die nasleep daarvan waarmee die Rigterboek eindig.

‘n Droewige einde, ‘n absolute dieptepunt.

Dit eindig met twee Leviete wat die omgekeerde was van die rigters.

Hulle name word nie genoem in die lys van Ou Testamentiese gelowiges in Hebreërs 11 nie (Hebr 11:32).

Nie leiers deur God gestuur nie, maar verleiers.

Tipes wat die volk op die rand van die afgrond gebring het.

 

In vandag se preek kyk ons na die afloop van hierdie geskiedenis wat met hierdie tweede Leviet begin het.

 

Tema: Die konsekwensies as elkeen doen wat reg is in sy oë

 

Soos gesê, hoofstuk 21 gaan oor die nasleep van die burgeroorlog, waarin een stam van Israel byna uitgeroei is.

In die vorige hoofstuk, en in verlede week se preek, het ons gesien hoe Israel verontwaardig was oor die skanddaad wat in Gibea gebeur het.

Die verontwaardiging het nie gelei tot ‘n eerlike regsproses waarin na beide kante geluister is, en waarin die oortreders gevonnis is, daardie bende Sodomiete en die Leviet nie.

Die verontwaardiging was soos ‘n ongeleide projektiel, dit het ‘n burgeroorlog ontketen waarin meer as 50 000 man gesneuwel het, die vroue en kinders nog nie meegetel nie.

Boendoegeregtigheid.

 

In hoofstuk 21 gaan hierdie impulsiewe verontwaardiging van die volk voort.

Die manne het al aan die begin van die stryd gesweer dat niemand sy dogter voortaan meer aan ‘n Benjaminiet as vrou mag gee nie.

Daar is nie hier sprake van ‘n sorgvuldige eed aflê soos die HERE die eed ingestel het nie.

Hierdie was ‘n onbesonne eed.

Nou sit hulle met die gevolge van ‘n onbesonne eed.

 

Dit was eers toe hulle in Bet-el terugkom, daar waar die heiligdom van die HERE was, dat hulle bietjie tot hulle sinne gekom het.

Dat hulle geskrik het van dit wat gebeur het.

Die feit dat ‘n hele volkstam op die rand van uitwissing gebring is.

Nie dat dit tot verootmoediging gelei het nie.

Dis asof hulle nou vir die HERE die skuld gee:

“Waarom, o HERE, God van Israel, het dit in Israel gebeur dat daar vandag een stam uit Israel vermis word?” (vers 3)

Dit het skynbaar gebeur, so verwoord hulle dit.

Nie dat dit hulle was wat dit gedoen het nie ...

Nie dat dit hulle was wat ook die vroue en kinders uitgemoor het nie ...

Nie dat dit hulle was wat ‘n onbesonne eed gesweer het, waardeur daardie mans van Benjamin nou in die penarie is nie.

 

Tog het hulle Benjamin op ‘n manier jammer gekry.

Daardie laaste 600 man wat dit reggekry het om te vlug en te gaan wegkruip in die grotte by die rots Rimmon, watse toekoms was daar nou vir hulle?

Want hulle eie vroue en kinders het die Israeliete eiehandig met die banvloek getref.

Hoe gaan hulle nou weer vroue kry, want ons het gesweer dat ons ons dogters nooit aan hulle sal gee nie.

Moet hulle kinderloos sterf?

Of moet hulle maar by die heidene gaan vroue soek?

In beide gevalle sou dit die einde van die stam Benjamin beteken het.

 

Maar nog steeds was die bloeddorstigheid nie ten einde nie.

Nog steeds is daar nie uit foute geleer nie.

En weer word na geweld gegryp as skynbaar die enigste manier om probleme op te los.

Want in stede van verootmoediging en die herstel van vrede, word daar nou weer ‘n skuldige gesoek om te straf.

Wie het nie by die volksvergadering van Mispa opgedaag nie?

Wie het lyf weggesteek?

Wel, daar was een dorp in Gilead, die dorp Jabes, wat afwesig was.

Pleks van te besef dat hierdie dorp eintlik reg was om nie aan die vergeldingsaksie teen Benjamin deel te neem nie, is al gedagte wat nou opkom: Hierdie dorp moes gestraf word!

En laat ons eerlik wees, die primêre rede vir hierdie strafekspidisie was nie om geregtigheid te laat geskied nie, dit was ‘n rookskerm wat die eintlike rede van die ekspidisie moes verberg.

Impulsief word daar 12 000 man gemonster om met hulle te gaan afreken.

En weer lees ons oor die banvloek.

Die banvloek, dit wat Israel met die goddelose Kanaäniete moes doen, dit tref nou weer mense van God se eie volk.

Net omdat die mans van Jabes nie by die vergadering in Mispa was nie, moet die hele Jabes uitgeroei word, selfs vroue en kinders.

Wranger kan dit nie, omdat Benjamin van die gevolge van die banvloek te red, word Jabes met die banvloek getref, mense wat dit nog minder as Benjamin verdien het.

 

Daar was een uitsondering.

Want hierdie wraakaksie was mos bedoel om vroue vir die mans van Benjamin te kry.

Die jongmeisies moes bly lewe en teruggebring word.

Met die buit binne, benader hulle toe die oorblywende 600 mans by die rots Rimmon.

En wonder bo wonder, vrede word hulle aangebied.

En selfs 400 jongmeisies.

So is daar hopelik weer ‘n toekoms vir Benjamin.

 

Tussen hakies, gemeente, in hierdie geskiedenis is daar soveel detail waaruit blyk tot watter heidense vlak God se volk gedaal het.

Neem byvoorbeeld hierdie feit dat die meisies as oorlogsbuit beskou is.

Waar dit duidelik is in die wette van die HERE wat Hy deur Moses aan die volk gegee het, dat ongetroude meisies ook regte gehad het, is daar hier nie veel meer van oor nie.

Hulle word as ‘t ware op ‘n hoop gegooi en die mans van Benjamin kon elkeen vir hulleself een kom kry.

Die meisies het geen enkele sê in dit alles gehad nie.

Dis wat gebeur in ‘n samelewing wat nie meer ‘n regstaat is nie.

Die swakkes word die eerste slagoffers, vroue en kinders.

En hoe hard die regering in ons land ook roep dat geweld teen vroue en kinders moet ophou, dit sal nie gebeur voordat hulle nie self bereid is om die land in regverdigheid te regeer nie.

Want as hulle nie die wet en orde handhaaf nie, is hulle self skuldig as die geweld die swakkes tref.

 

Maar, nog was al die probleme nie opgelos nie.

Die strafekspidisie teen Jabes het nie genoeg meisies opgelewer nie.

Daar bly nog 200 mans oor wat nie vir hulleself ‘n vrou kon vat nie.

Israel sit daarmee in die knoop, in die lig van die eed wat hulle gesweer het.

Al meer kere het ons in Rigters gesien dat dinge soos die eed, ‘n gelofte, of ‘n vervloeking, op ‘n heidense manier benader is.

Daar was ‘n soort bygelowige angs om ‘n eed te verbreek (sien bv. Rigt 11:30-31; 17:2).

En pleks van te erken dat dit ‘n onverskillige eed was, dit voor God te bely en te vra of dit ongedaan gemaak kan word, pleks daarvan, word nou eerder gekies vir die opsie om nog meer onreg te pleeg.

Die chaos duur voort.

‘n Skelm plan word beraam om tog daardie 200 Benjaminiete aan ‘n vrou te help, maar op so ‘n manier dat die Israeliete nie hulle eed hoef te breek nie.

 

Ons het gelees wat gebeur het.

Nogal komies, iets om oor te lag, filmmateriaal.

Manne wat in die wingerde lê en loer vir meisies wat dans.

Wat op ‘n onverwagte oomblik uit die bossies bars, vir hulle ‘n meisie gryp en weghardloop.

Hierdie keer het die dorp Silo deurgeloop.

En as die mans van Silo, die meisies se pa’s, ‘n saak maak – weer eens sal daar nie geregtigheid geskied nie.

Hulle sal met ‘n kluitjie in die riet gestuur word – moenie ‘worry’ nie, julle het darem nie julle eed verbreek nie.

Asof so ‘n onbesonne eed belangriker was as hulle dogters.

Ai, ai, ai ... is al wat mens kan sê.

Klomp heidense barbare ...

Wat moet van ‘n volk word met sulke tipe mans as leiers ...?

Watter tipe leiers is dit, wat ander laat sondig net sodat hulle self nie hulle eed hoef te breek nie?

Hulle skep ‘n situasie in die land waarin reg verkeerd is en verkeerd reg is.

Klink dit nie bekend nie?

Bankrotskap van ‘n nasie.

 

Dit, gemeente, is die einde van die Rigterboek.

Die geskiedenis van die Leviet, sy byvrou wat verkrag en in stukke gesny is, die burgeroorlog, die uitwissing van Benjamin op 600 man na, die manier hoe om vir hulle weer vroue te kry ...

Dit is die konsekwensies as elkeen doen wat reg is in sy oë.

 

Maar skynbaar was almal toe uiteindelik moeg vir oorlog.

Die kinders van Israel het elkeen teruggegaan na sy stam en geslag, na sy erfdeel toe.

Die veglus het bedaar, die stof het vir tyd en wyle gaan lê.

Gemeente, is dit nie maar die patroon deur die geskiedenis nie?

Ons sien dit in ons tyd ook.

Aan die begin van die vorige eeu was die hele wêreld lus vir oorlog.

Die Eerste Wêreldoorlog was toe die gevolg daarvan.

Na daardie verskriklike oorlog, is die sogenaamde skuldige, Duitsland, buite proporsioneel swaar gestraf.

So erg dat hulle by wyse van spreke al daardie oorlogskuld nooit in der ewigheid sou kon betaal nie.

Uit reaksie staan daar toe ‘n man op wat leier van die Duitse volk word, van die gevaarlikste soort mans wat mens kry.

Met die gevolg dat die wêreld in nog ‘n wêreldoorlog gedompel word.

Die veglus was nog nie ten einde nie.

En nadat Europa voos geskiet is, het daar ‘n oomblik aangebreek vergelykbaar met wat ons aan die einde van Rigters vind dat die mense moeg was vir oorlog.

Nie dat daar terugkeer tot God was nie.

Net soos die Israeliete destyds, het mense hulleself afgevra:

Hoe kon God toelaat dat soiets gebeur?

Hoe kon God toelaat dat ‘n hele volk byna vergas is?

Sonder verootmoediging, sonder die erkenning dat dit alles gebeur het juis omdat ‘n kontinent sy God verlaat het.

Om God te blameer vir dit wat mense oor hulleself gebring het, dit is ‘n strategie so oud soos die mensheid.

Die vrou wat U vir my gegee het ... so het die eerste mens Adam alreeds vir God geblameer (Gen 3:12).

 

Dieselfde gebeur ook in kerke.

Gelukkig word mense in ‘n kerkstryd nie fisies vermoor nie, al was dit soms anders, dink aan die vervolgings in die tyd van die Reformasie.

Kerkstryd is nodig, maar dikwels word dit onbesonne gevoer, driftig, sondig, eiebelang voorop.

Onbesonne leiers neem die voortou.

Mense word beskadig.

Daar val slagoffers.

Vergelykbaar met hoe Israel vir Benjamin afgestraf het.

Gebrek aan die bereidheid vir hoor en wederhoor.

Na jare van kerkstryd kom daar dan gewoonlik ‘n tyd waarin mense moeg gestry is.

Hulle wil net rus in die kerk hê.

In sulke tye is daar ander tipes wat die leiding kry.

Nie die onbesonnenes nie, maar hulle wat flegmaties is, stert-tussen-die-bene tipe leiers.

Maar sulke vrede ter wille van die vrede kan ook ‘n valse rus wees, ‘n tyd waarin ronduit verkeerde dinge deur die vingers gesien word, onder die mat ingevee word.

Ongelukkig is dit so dat probleme wat nie ordentlik opgelos word nie, nie sal weggaan nie.

Dit sal aanhou broei, en siedaar die resep vir ‘n volgende stryd.

Ai, ai, ai.

Laat ons maar nie te gou dink ons is beter as die mense in die Rigtertyd nie.

Uit onsself maak ons van die wêreld, maak ons van die kerk nie ‘n beter plek nie.

Laat dit ‘n waarskuwing wees.

Selfs Israel wat al die voorregte van die verbond geniet het, kon so laag val.

Dit gebeur as trou aan God se Woord losgelaat word.

 

Ons leef ook in ‘n individualistiese tyd.

‘n Tyd waarin dit selfs as ‘n deug aangeprys word om veral dit te doen wat goed is in jou eie oë.

As jou gevoel so sê, dan moet dit reg wees.

Een mens mag nie ‘n ander mens se gevoel bevraagteken nie.

Dit is onaanvaarbaar, dan gaan jy oor ‘n grens wat nie geoorloof is nie.

Selfs ons as Christene begin so te dink.

Mens mag nie meer oor ander se gevoelens oordeel nie.

Steeds meer begin die samelewing egter die bitter vrugte van hierdie lewensinstelling proe.

As mense se gevoel, en nie God se wil, leidinggewend is, dan kom daar konsekwensies.

Ja daar is konsekwensies, bitter vrugte, as elkeen doen wat reg is in sy oë.

‘n Volk, ‘n kerk, vernietig homself.

 

Dit was die HERE self wat weer orde op sake moes kom stel in sy volk.

En gelukkig, Hy was nog daar!

Vir ‘n tyd het Hy toegelaat dat sy volk die bitter vrugte van hulle eie afval proe.

Maar gelukkig nie vir altyd nie.

Dit was Hy wat weer vrede en eenheid gebring het onder die leiding van ‘n Godvresende koning.

En so kry ons dit ook nie reg om die vrede in die kerk te waarborg nie.

Net as ons telkens weer teruggaan na ons Here Jesus Christus, sal die vrede herstel kan word.

Hy is die Hoof van die kerk.

As mense eindverantwoordelik was, sou die kerk nie meer bestaan het nie.

Maar gelukkig, Christus is nog daar!

Dit is Christus wat deur sy Gees en Woord die kerk bly vergader.

Dit is Hy wat vir eenheid sorg in die ware geloof.

Dit is Hy wat sy kerk sal beskerm en onderhou tot die einde van die geskiedenis.

So daar is hoop, God sy dank, vir die kerk, vir die aarde.

 

Laat ons net agter ons Heiland, ons Rigter, Jesus Christus aangaan.

Laat Christus alleen regeer in sy gemeente, laat elkeen van ons nie doen wat reg is in ons eie oë nie.

Laat ons die oorloë voer wat Hy voer, nie ons eie oorloë nie.

Laat ons sy vrede nastreef, nie ons eie rus en vrede nie.

Laat ons nie vyande maak van hulle wat nie vyande van Christus is nie.

En laat ons nie eenheid nastreef met hulle wat Christus nie opreg dien nie.

Elke keer weer reformasie in ons eie lewe, in die kerk se lewe, elke keer weer terug na ons Rigter toe.

Hy is ‘n betroubare Rigter.

Die rigters van destyds was net flou skaduwees van Hom.

En Hy is ons Hoëpriester.

Die Leviete van destyds kon nie vir die volk doen wat Hy gedoen het nie.

Hoe bevoorreg is ons nie.

Ons leef wat dit betref in beter tye as God se kinders uit die Rigtertyd.

Ons kan opkyk en alles verwag van ons hemelse Rigter, ons Leidsman.

God sy dank dat Hy daar is, dat Hy regeer op die troon.

En ons weet dat Hy terugkom.

Ons sien uit na die blywende vrede wat dan op aarde sal neerdaal.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Rigters 21

Teks: Rigters 21:25

Tema: Die konsekwensies as elkeen doen wat reg is in sy oë

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Hoekom is daar in die laaste hoofstukke van Rigters nie ‘n rigter nie?
  2. Hoe het die twee Leviete aan die einde van Rigters die volk gelei?
  3. Evalueer die banvloek wat Israel in Rigters 21 toegepas het.
  4. Het iemand anders al kritiek gehad op jou gevoelens? Was dit tereg?
  5. Dink jy Christus se kerk is tans op die randjie van die afgrond?

 

 

 

Liturgie: 

Votum
Seën
Ps 90:1
Wet
Ps 90:4,7
Gebed
Skriflesing: Rigters 21
Ps 1:1-3
Teks: Rigters 21:25
Preek
Ps 1:4
Gebed
Kollekte
Ps 89:12,13,17
Seën