Wie jy ook is, die HERE begeer dat jy sal lewe!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-04-23
Text: 
Dordtse Leerreels 1,16
Preek Inhoud: 

Die vorige artikel, 15, het die moeilike onderwerp van verwerping behandel.

Nou, in artikel 16, word daarmee rekening gehou dat hierdie onderwerp mense onseker kan maak.

Daar is lidmate wat graag ‘n vaster geloof sal wil hê, wat nog nie rus vir hulle siel het nie, of wat nog sukkel om kinderlik gehoorsaam voor God hulle lewe in te rig, wat van hulle?

 

In artikel 16 word daar onderskeid gemaak tussen drie soorte mense, drie soorte gemeentelede.

Drie verskillende reaksies op die leer van die verwerping.

Verlede week is die verwerping inderdaad in die prediking genoem.

Dit is iets wat nie te veel aandag moet kry nie.

Dalk gebeur dit een keer in ‘n skrikkeljaar.

Die prediking mag nie oorheers word deur hel en verdoemenis nie.

In die Skrif is dit ook nie so nie.

Maar soos die Skrif wel hier en daar die verwerping openbaar, moet die prediking ook die Skrif volg.

En soos gesê, artikel 16 onderskei basies drie soorte reaksies hierop.

Die feit dat hulle in die Leerreëls onderskei word, is uit pastorale gevoeligheid.

Kom ons kyk kortliks na elkeen van hulle.

Want nie elke persoon reageer dieselfde nie.

Daar is hulle in die gemeente wat dalk te vinnig skuldig voel, te vinnig verworpe voel.

En dan is daar hulle wat, al preek mens hoe hard, nie kan ‘worry’ nie.

In elke preek kan nie altyd aan elke ‘soort’ gemeentelid aandag geskenk word nie.

Verskillende gemeentelede vind daarom aanklank by verskillende soorte preke.

Solank ons onthou dat die Skrif veel breër is as ons persoonlike belewing, en die Skrif woorde van ewige lewe het vir elke soort mens wat na Christus kom.

 

Tema: Wie jy ook is, die HERE begeer dat jy sal lewe!

1 Die onsekeres

2 Die hopeloses

3 Die roekeloses

 

1 Die onsekeres

Eerstens is daar hulle wat, al gebruik hulle die genademiddele, al kom hulle kerk toe, tog nie baie eksplisiet geloofsblydskap ervaar nie.

Hulle, soos die Leerreëls skryf, ervaar nog nie kragtig ‘n vaste vertroue en gewetensrus nie.

Wie is hierdie mense?

Hulle kom trou kerk toe, hulle neem aktief deel aan die kerklike lewe.

Hulle gebruik die genademiddele ook deur die week.

Hulle lees trou hulle Bybel deur die week, hulle bid as hulle opstaan en as hulle gaan slaap.

Hulle geniet dit ook wel om kerk toe te gaan.

Dis nie dat hulle die Sondag vir iets anders wou gebruik nie.

Tog ervaar hulle nie gewetensrus nie.

En as ander gelowiges die indruk maak dat hulle oorloop van vertroue, dan voel hierdie mense net nog onsekerder.

Hulle sukkel om te ervaar dat hulle sondes vergewe is.

Soms mag hulle hoop hê, maar onverwags kan ‘n somber bui hulle weer oorval dat hulle eintlik verdoem is.

Hierdie somberheid word net nog meer aangewakker as die leer van die verwerping genoem word, as die dominee se preek waarskuwend is.

Soms ervaar hulle die liefde van Christus, maar al gou begin die twyfel weer te knaag.

En as die vrugte van die regverdigmaking genoem word, dinge soos verdriet oor sondes en opregte vertroue in Christus, dan is hulle vinnig om te konkludeer dat hulle daardie vrugte nie dra nie.

Is dit vir jou bekend, broer, suster?

Is jy so ‘n gemeentelid?

Is jy gou negatief, pessimisties oor jouself?

Wil jy eerlik wees met jouself, en dus waag jy nie om te veel hoop te hê nie?

Knaag in jou hart die vrees dat jy tog deel is van hulle wat verwerp gaan word?

 

Gemeente, kom ons kyk wat die Skrif oor sulke mense sê, soos dit hier nagespreek word deur die Dordtse Leerreëls.

Is daar meriete in hulle redenasie, in hulle onsekerheid en angstigheid?

Wel die antwoord is duidelik: Nee!

En die advies is: Hulle wat nog nie vaste vertroue en gewetensrus ervaar nie, moet desnieteenstaande voortgaan om die genademiddele wat God skenk te gebruik.

Hulle moenie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie.

Hulle moet nie hulleself onder die verworpenes reken nie.

Hierdie is ‘n duidelike pastorale oproep.

In Hebreërs 11:6 staan: God is ‘n beloner van die wat Hom soek.

Wie op sy deur klop, vir hulle sal oopgemaak word.

 

Gemeente, daar is hoop vir sulke mense.

Baie meer as vir hulle wat redeneer dat as jy uirverkies is, dit in wese nie saak maak hoe jy lewe nie.

Jy sal in die hemel opeindig omdat dit tog van ewigheid so besluit is.

Dit is ‘n bitterlik gevaarlike houding.

Dit is ‘n houding wat tot jou ondergang sal lei!

In die daaglikse lewe het ons ook nie so ‘n houding nie.

Ons redeneer nie: God belowe dat Hy sal sorg en dus hoef ek nie te werk nie.

Ons opdrag is om elke dag betyds op te staan en skouer aan die wiel te sit, en dan sal God ook die vrugte op ons arbeid skenk.

So geld dit ook vir sake van die ewigheid.

Laat ons ywerig wees in die gebruik van die genademiddele.

Daarop sal seën rus.

Jesus sê in Lukas 11:

“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (Luk 11:9-10).

Wie kerk toe kom, is besig om die Here te soek.

Wie tot God bid in Jesus se Naam, is besig om op sy deur te klop.

Die duiwel plant onsekerheid in ons gedagtes.

Broer, suster, luister na Jesus.

Ook al ervaar jy dit nie elke keer nie, as jy bid in sy Naam, sal daar oopgemaak word!

As jy God soek in sy huis, sal Hy die ewige lewe vir jou oopmaak.

 

Ons kom nou by die tweede groep mense.

 

2 Die hopeloses

Tweedens is daar hulle wat hoewel hulle ernstig begeer om vir God te lewe en Hom te behaag, tog baie teleurgesteld is in hulle manier van lewe.

Hulle sukkel om verkeerde gewoontes, verkeerde begeertes agter hulle te laat, al wil hulle hoe graag.

Hulle het ‘n opregte strewe om beter te lewe, soos die Here van hulle verwag, maar hulle sukkel, hulle val elke keer weer terug.

Hulle maak ‘n puinhoop van hulle lewe.

Hulle voel hulleself ‘n ‘lost case’.

Hulle erken dat dit goed is wat die Here vra, byvoorbeeld in die huwelik.

Maar hulle temperament vlam elke keer weer op en maak baie stukkend.

Hulle erken dat God se wil om monogaam te leef goed is, maar tog is hulle swak en val in owerspel.

Ja in Christus se gemeente is daar ook sulke mense.

Mense wat moet leef met die gevolge van die sonde, dikwels eie sonde.

Geskeides, mense wat diep in die skuld is, mense wat die gevolge van drank- of dwelmverslawing moet saamdra, mense wat weens hulle hardkoppigheid familie of vriende van hulle vervreem het, mense met ‘n kriminele rekord weens iets wat hulle in die verlede gedoen het, ensovoorts.

Hulle is gereeld moedeloos.

Tog het hierdie mense God beslis lief.

Hulle erken dat sy gebooie die beste is.

Terselfdertyd is hulle al te bewus van hulle verdorwenheid, hulle aanhoudende verkeerde begeertes.

Hulle sit dalk braaf in die kerk, maar hulle sidder as ander mense moes weet watter sondige gedagtes daar in hulle koppe kan spook, soms selfs as hulle in die kerk sit.

Selfs as hulle na die wet luister, en ‘n gebod sê: Jy mag nie dit doen nie, dan begin hulle aan daardie einste sonde te dink.

Paulus beskryf hierdie mense baie raak as hy sê:

“Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek ... as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig ... ek verlustig my in die wet van God ... maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet ... Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom 7:19-24)

Ek is dikwels so teleurgesteld in myself.

Pleks van beter te doen, meer heilig te lewe, val ek elke keer weer in diep sondige valkuile.

Die duiwel maak natuurlik hiervan gebruik:

Sien jy, jy dink jy’s ‘n kind van God. ‘No ways’, jy is een van die verworpenes.

Kyk net hoe lyk jou lewe!

En ja, meeste van ons gaan meer of minder gereeld deur so ‘n dip.

Dit maak ons bang.

Die gedagte skiet deur jou kop: Die kans is inderdaad groot dat ek hel toe gaan, dat ek verworpe is!

 

Maar gemeente, die Leerreëls stem nie hiermee saam nie.

Sulke mense moet nie bang wees vir die leer van die verwerping nie.

Hoekom nie?

Omdat hulle vir die Here liefhet!

Omdat, al faal hulle, hulle wel ‘n ernstige begeerte het om volgens sy wil te lewe!

Hulle verlang so daarna dat die Here hulle op die skouer sal klop en sê, goed so my kind!

Maar weens hulle konstante mislukking voel hulle dat hulle nie meer werd is om God se kind te wees nie.

 

Geliefdes, dit is nie so nie.

Eerder as om hulleself ‘n mislukking te voel, moet hulle vashou aan die beloftes van die Evangelie.

As hulle aan Christus bly vashou, dan is hulle kinders van God.

Die Here belowe oor sy kinders:

“Die geknakte riet sy Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie” (Jes 42:3)

Pragtige beeldspraak.

‘n Geknakte riet kan weer uitloop.

‘n Dowwe lamppit kan weer opvlam.

Die Here weet hoe geniepsug Satan is.

En Hy weet hoe sterk die versoekings is waarmee sy kinders te make kry.

Daarom het Hy simpatie met sulke mense.

Hy is genadig as hy hoor hulle roep om hulp, as hy hulle hoor sug, as hulle teleurgesteld is met hulleself.

Hy skiet te hulp as hy sien hoe hulle op die punt staan om handdoek in te gooi.

“sonder My kan julle niks doen nie. “ (Joh 15:5)

Hy weet dit, daarom skiet Hy te hulp.

Hy ken sy bruid.

Hy het met haar getrou, al het Hy haar swakhede en gebreke geken.

Hy bly trou, Hy verwerp sy bruid nie.

Hy is geduldig en gee nie moed op met sy bruid nie.

Hy sal sy einddoel bereik, dat sy eendag vlekkeloos is.

Ja ons lewensheiliging gaan dikwels maar traag, maar laat dit ons nie aftrek nie.

 

Die boodskap is daarom duidelik vir hierdie tweede groep, alle hopeloses.

Moenie mismoedig word nie.

Gaan ywerig voort om die middele te gebruik wat God gee.

Hulle wat baie graag verlos wil word, moenie die leer van die verwerping vrees nie.

Want die wat wel verwerp word, hulle stel nie belang in verlossing nie.

Die begeerte om gered te word, wys al dat Christus met jou besig is.

 

Ons kom nou by die derde groep hoorders.

 

3 Die roekeloses

Derdens is daar hulle wat sonder om werklik sleg daaroor te voel geniet van die plesiere van die sondige vlees.

Al kom hulle kerk toe, aan die einde van die dag lewe hulle gewoon wêrelds.

Die Leerreëls skryf:

“Hier leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, vergeet en hulle geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.” (art 16)

Is hierdie die mense in die wêreld wat openlik en skaamteloos in sonde lewe en nooit kerk toe kom nie?

Nee, die Dordtse Leerreëls as belydenisgeskrif is nie vir sulkes geskryf nie.

Daar word hier oor kerkmense gepraat.

Soos ons al in ‘n eerdere preek gesien het, die leer van die uitverkiesing is bedoel om onderrig te word aan hulle wat in die kerk is.

Ongelukkig is dit ‘n feit dat sulke mense nie net in die wêreld, maar ook in die kerk gevind kan word.

Sulke mense vind mens veral in die sogenaamde volkskerke, in lande waar dit verwag word dat elkeen ‘n kerklid moet wees.

Maar nie net nie!

Ook in ‘n gemeente soos ons s’n is hulle aanwesig.

‘n Oppervlakkige geestelike lewe, koestering van, vashou aan sondige gewoontes, dit moeiteloos kombineer met jou kerklidmaatskap.

En nie net onder jong lidmate nie, net soseer onder ouer lidmate, ook onder bejaardes.

Hulle kom kerk toe, maar vir die res van die week leef hulle baie soos die wêreld.

In hulle besigheid en sakedoen is hulle eenders as die wêreld.

Op hulle werk het ander nie ‘n idee dat hulle kerklidmaat is nie.

Selfs by die huis is hulle lewe oppervlakkig, soek hulle nie die Here nie.

Hulle lees nie uit die Bybel, of slegs uit plig of uit tradisie.

Hulle dink nie veel na oor hulle toekoms na die dood, oor hulle ewige saligheid nie.

Hoewel hulle hulleself Christen en gelowig noem, geniet hulle of in die geheim, of openlik, van sondige plesiere.

Drankmisbruik, pornografie, verkeerde films en TV programme, noem maar op, dit gaan voort, week in week uit, daar is nie sprake van ‘n stryd daarteen nie.

Kortom, gemeente, so ‘n lewenswyse toon dat sulke mense vreemdelinge van die genade is, omdat hulle nie bereid is om duidelik met die sonde te breek, om met ‘n skoon bladsy te begin nie.

Hulle weet nie wat dit is, of hulle het dit verleer om uit genade te lewe.

Miskien redeneer hulle: As ek ouer is, dan sal ek ernstiger word.

Of as hulle reeds ouer is, dink hulle: Mens leef net een keer, en mens moet ook nie te streng wees nie ...

 

Broer, suster, as jy so iemand is, luister na wat die Leerreëls vir jou te sê het:

Hierdie leer is verskriklik vir hulle wat nie Christus se genade gebruik nie, vir hulle wat aangaan met sondige begeertes.

So begripvol en versigtig as die Leerreëls is met siele wat onrustig en angstig is, met die onsekeres en hopeloses, so waarskuwend en ernstig is hulle met hierdie mense.

Laat dit duidelik wees, hulle is oppad na die ewige verdoemenis!

Die hemel is daar, maar daar is ook ‘n hel.

As jy te sterwe kom terwyl dit nog jou lewenswyse is, dan wag vir jou die buitenste duisternis.

 

Gemeente, in die benadering van hierdie verskillende groepe herken mens die sleutels van die koninkryk van die hemel (dink aan Heidelbergse Kategismus Sondag 31).

Die prediking moet die koninkryk oopsluit vir hulle wat hulle sondes bely en opreg daarvan bekeer.

Die prediker mag sulke mense verseker van hulle vergewing.

Maar teen hulle wat hulle nie opreg bekeer nie, moet gesê word dat die deur van die koninkryk gesluit bly.

Hulle behoort hulleself wit te skrik, omdat die kans goed is dat hulle verwerp gaan word.

In die kerk is daar hulle wat sonder veel vrees, met ‘n ‘kannie worry’-houding, deur die lewe gaan.

Hulle moet betyds gewaarsku word dat as hulle so te sterwe kom, hulle vir ewig verdoem sal wees.

 

Gemeente, nou sê ek nie dat jy verwerp is nie.

Ek kan dit nie sê nie, want ek weet nie.

Gelukkig het God nie bekendgemaak wie die verworpenes is nie.

Daarom, hoe onverskillig ‘n kerklid ook is, ons moet hom behandel as iemand wat potensieel uitverkies is.

Moenie jouself vlei asof jy, omdat jy kerklid is, omdat jou ouers jou saamvat, asof jy daarom uitverkies is nie.

Jy word opgeroep om jou uitverkiesing vas te maak, soos die Skrif sê (2 Pet 1:10).

Soek die Here, terwyl Hy nog te vinde is.

Klop, noudat die deur nog oopgemaak kan word.

Moenie ontmoedig, moedeloos, raak nie.

Die HERE het selfs ‘n eed gesweer toe Hy gesê het:

“Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe.

Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë!

Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Es 33:11)

 

Lieflike woorde, en gemeente, broer, suster, by welke groep wat ons vanaand behandel het, jy ook hoort, dalk hoort jy by meer as een groep, put moed uit hierdie woorde.

Die Here het geen behae in jou dood nie, maar dat jy ewig gelukkig saam met Hom sal lewe!

 

Amen!

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Esegiël 33:1-20 & Romeine 7

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,16

Tema: Wie jy ook is, die HERE begeer dat jy sal lewe!

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wanneer die leer van die verwerping ter sprake kom, het dit ‘n verskillende invloed op verskillende mense. Noem drie voorbeelde.
  2. Watter advies is daar vir hulle wat hulleself onseker voel?
  3. Hoekom is daar hoop vir die hopeloses?
  4. Watter boodskap moet die roekeloses hoor?
  5. Hoe sal jy jou geloofslewe beskryf? Lyk dit op een van hierdie groepe?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 84:1,3,5

Gebed

Skriflesing: Esegiël 33:1-20

Ps 34:2

Skriflesing: Romeine 7

Ps 34:3

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,16

Preek

Ps 22:10,11

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 40:6,8

Seën