Die voorsienige God laat Homself nie onbetuig op aarde nie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2023-04-20
Text: 
Handelinge 14:16-17
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 14:16-17

 

Ons vier vandag Dankdag.

Ons dank die Here vir gewas, vir alles wat gegroei het.

Ons dank die Here vir arbeid, vir die werk wat ons gehad het en die inkomste wat ons daaruit ontvang het om te kan lewe.

Nou is ons wat vanaand hier bymekaar is om die Here te dank, nie die enigstes wat werk gehad het nie.

En die enkele boere onder ons wat ook gekom het om die Here te dank, dis nie net op hulle plase wat die gewasse gegroei het nie.

Orals in die land, orals op aarde het die Here dit geskenk.

Selfs die mees goddelose mense kon die afgelope seisoen hulle mae vol eet.

Hoe werk dit?

Kom ons kyk wat die Here met vanaand se teks vir ons wil leer.

 

Tema: Die voorsienige God laat Homself nie onbetuig op aarde nie

 

Dit is iets waarop ons teks ons aandag vestig.

Mens sou geneig wees om te redeneer: Die Here gee vrugbaarheid, voedsel en werk, vir hulle wat Hom opreg daarvoor dank.

Die wat Hom nie erken as die Gewer van alle goeie gawes nie, hulle laat die Here swaarkry.

Hy laat dit nie op hulle lande reën nie.

En as hulle vir werksonderhoude gaan, kry hulle nie die werk nie.

Die Here trek hulle voor wat Hom opreg vir sy gawes dank.

Dit is hoe ons geneig sou wees om te dink.

 

Maar gemeente, ons teks sê iets anders.

Paulus praat hier met volbloed heidene.

Mense wat nie God gedien het nie, maar afgode soos Jupiter en Mercurius.

Wat gewoond was om offers te bring by afgodstempels.

Offers om daarmee die gode om te koop om vir hulle reën en vrugbare oeste te gee.

En wat Paulus dan vir hulle sê, is konfronterend.

Konfronterend nie net vir hulle nie, maar ook vir ons.

 

Eerstens vir hulle.

Want Paulus maak duidelik dat hulle al die tyd hulle geld gemors het om offers te bring aan afgode wat nie gode is nie.

Wat ‘n ronde nul kan bydra aan reën en sonskyn, aan gunstige omstandighede vir hulle gewasse om te groei.

Dit was totaal nutteloos.

Paulus openbaar nou vir hulle wie die ware God is.

Die lewende God.

Dit is Hy wat reën en vrugbare tye gee.

Dit is Hy wat sorg dat daar voedsel en vrolikheid is.

Na eeue van onkunde en dwaalweë waarop hierdie mense verdwaald geraak het, besoek die lewende God hulle nou.

 

En Christus kom met krag.

Hy trek die aandag vir die prediking deur ‘n wonder.

‘n Man wat kreupel was van sy geboorte af en nooit geloop het nie, word ineens deur Paulus genees.

Die skare kon hulle oë nie glo nie.

Al verklaring wat hulle gehad het, was dat die gode soos mense geword het en neergedaal het aarde toe.

Met moeite moes Paulus en Barnabas keer dat die mense vir hulle offer.

Want hulle was vas oortuig dat Barnabas die oppergod was, dit is Jupiter, en dat Paulus Mercurius was, sy woordvoerder-god.

 

Hierdie wonder het Christus gegee om die mense ontvanklik te maak vir die Evangelie.

En dit verkondig Paulus en Barnabas toe aan hulle.

Dit is nie julle afgode nie, maar dit is die lewende God wat ons aan julle verkondig, wat jaar in jaar uit vir julle reën en vrugbare tye, en voedsel en vrolikheid gegee het.

Dit was natuurlik ‘n groot denkskuif vir die mense in Listre.

‘n Totale ommekeer, om voortaan by die tempels van die afgode verby te loop en te gaan na die plek waar Christus se gemeente bymekaar kom.

En gelukkig was daar mense wat hulle bekeer het in Listre, lees ons in vers 22.

Dit klink nie of Paulus en Barnabas lank in Listre gebly het nie, want daar het Jode uit Antiochië en Ikonium gekom om die Evangelie teen te werk, die skare om te praat dat dit wat Paulus-hulle sê nonsens is.

Die Jode het selfs vir Paulus gestenig, hy het daar gelê asof hy dood was.

Mens lees gou oor hierdie vers heen, maar dit was eintlik verskriklik!

Maar gelukkig het Paulus dit oorleef.

En God sy dank, toe hulle op die terugpad weer by Listre verbykom, lees ons dat hulle die siele van die dissipels kon versterk.

Daar het dus mense in hierdie stad tot geloof gekom in die lewende God.

Hulle het tot die oortuiging gekom dat dit nie Jupiter en Mercurius, of watter Griekse god ook al, was wat reën en vrugbare tye en voedsel en vrolikheid skenk nie, maar die God wat Paulus verkondig.

Dit was die Heilige Gees se werk.

Dit wat as ‘n konfronterende boodskap geklink het, was tog die waarheid, en eintlik vertroostend, ja die blye Evangelie, die beste nuus ooit.

 

Maar, gemeente, soos ek nounet genoem het, ons teks se boodskap was nie net konfronterend vir die mense in Listre nie, dit is vir ons ook konfronterend.

Daarna kyk ons nou in die tweede plek.

Ons teks openbaar ‘n eienskap van God wat ons nie altyd wil raaksien nie.

Dit is sy eienskap dat Hy oneindig goed is.

As gelowiges redeneer ons soms anders.

As daar iemand is wat die Here nie dien nie, wat die kerk verlaat, wat sy eie gang gaan, wat net vir homself lewe en sy geld net vir sy eie genot gebruik, dan wens ons so iemand swaar tye toe.

Ons wens soms dat daar net iets met hom sal gebeur, iets wat hom tot stilstand sal skok, iets wat hom tot besinning sal bring.

Ons hoop dat hy een of ander tyd, soos ons sê, ‘rock bottom’ sal tref.

En dan, totaal hopeloos en hulpeloos, weer sal terugkom na die Here en sy kerk.

Nou is dit waar dat die Here soms beproewings stuur om sy kinders weer nader te trek – daar is genoeg voorbeelde daarvan in die Bybel.

Maar net soveel voorbeelde is daar dat die Here ook juis deur sy seën mense na Hom toetrek.

En dit is ‘n metode wat Hy selfs baie keer by die heidene doen.

En soos ek gesê het, dit is iets wat ons dwars in die krop kan steek.

Dis mos nie eerlik nie!

Sou die kerke nie veel voller gewees het, as die Here die heidene laat swaarkry het en sy kinders oorvloedig sou geseën het nie?

Dan sou die mense op aarde tog kon sien waar hulle moes wees!

Maar nee, skynbaar is dit nie hoe God werk nie.

 

Selfs nog erger, mag dit voorkom.

Kom ek verduidelik.

Ek noem dit in die lig van die feit dat Paulus, wat hierdie blye boodskap bring, gestenig word, amper dood agtergelaat word.

En nie net hy loop deur nie, hy waarsku ook die nuwe gelowiges in vers 22:

“Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.”

Dit lyk amper asof hulle wat tot bekering gekom het, ‘n moeiliker lewe tegemoet gaan.

 

Nou is dit gelukkig nie die geval nie, en die feit dat ons hier vanaand in die kerk is, is ‘n bewys daarvoor.

Want ons is gelowig, troue kerklidmate, en ons het die afgelope seisoen beslis van die Here ontvang wat ons nodig gehad het.

Ek dink nie iemand onder ons kan kla dat hy hoegenaamd geen reën en vrugbare tye en voedsel en vrolikheid die afgelope jaar beleef het nie.

 

Maar gemeente, wat ons dus wel uit hierdie teks leer is:

Eerstens, hier op aarde werk dit nie so dat God net die gelowiges seën, en net die ongelowiges laat swaarkry nie.

En tweedens, dit werk ook nie so dat net die gelowiges moet swaarkry, en net die ongelowiges die lewe kan geniet nie.

Beide redenasies is te simplisties.

 

Ons teks openbaar wel vir ons iets wat bo hierdie simplistiese redenasies uitstyg.

Dit is waarmee vers 17 begin:

God laat Homself nie onbetuig nie.

Dit wil sê, Hy maak Homself bekend juis ook deur hierdie aardse dinge soos reën en vrugbare tye en voedsel en vrolikheid.

Hierdie aardse dinge kom van Hom af.

Hy is die Gewer van alle goeie gawes.

Laat die heidene dit tog raaksien, en Hom daarvoor erkenning gee, ja Hom daarvoor dank!

Laat hulle besef dat die ware God werklik ‘n ongelooflik goeie God is.

Hy is bereid om eeue en eeue waarin die nasies hulle eie weë gewandel het, oor te sien (Hand 17:13).

En dan het Hy selfs gedurende al daardie eeue vir hulle toegelaat om van al die rykdomme van sy aarde te geniet.

Dit is ongelooflik, dit is onbegryplik, dat God so goed is!

As gelowiges ervaar ons dit soms as te goed.

Daardie mense verdien dit nie.

Inderdaad, hulle doen nie.

Maar verdien ons dit enigsins wel?

In elk geval, dit is soos God werk.

In sy voorsienigheid sorg Hy vir al die mense op aarde, hoe goddeloos hulle ook lewe.

Dikwels skenk Hy aan goddeloses oorvloed tot in hulle ouderdom.

Hy doen dit al hulle lewensjare met die doel dat hulle des te meer geleentheid kry om Hom te leer ken, om na Hom terug te keer.

Want tot iemand se laaste dag is dit nie vir hom te laat nie.

Ja as hy gesterf het, dan gaan al hierdie dinge teen hom tel.

Dan gaan dit sy oordeel verswaar.

God het Homself nie sonder rede onbetuigd gelaat nie.

 

Geliefde gemeente, ons as gelowiges is daarom des te meer dankbaar as sulke seëninge ons te beurt val.

En hulle het die afgelope seisoen.

Daarom is ons hier, om die Gewer van alle goeie gawes te dank.

Daarom is ons hier om, in teenstelling tot hulle wat ook die gawes ontvang maar net vir hulle self gebruik het, ons gawes ook met ander te deel.

En laat ons dit ook leer aan ons kinders, wat in die geloof mag opgroei.

In die voorportaal staan daar baie produkte om aan die minder bevoorregtes te skenk.

Dit is God se seën in ons lewens wat ons in staat stel om ook met ander te deel.

 

Samevattend gemeente, so leer ons teks ons ‘n eienskap van God, naamlik sy onpeilbare goedheid.

Tans, solank dit hede is, is dit nog sigbaar op aarde, en geniet gelowig en ongelowig daarvan.

Hy is die voorsienige God.

Hy laat sy son opgaan oor gelowiges en ongelowiges.

Hy laat dit reën op die plase van gelowiges en op die plase van hulle wat Hom verwerp.

Hy skenk hierdie laastes dikwels ‘n lang lewe, lank geleentheid om na Hom terug te keer.

Dit is sy werkwyse in hierdie bedeling, hierdie genadetyd voorafgaande aan die oordeelsdag wat op koms is.

 

En dan is daar nog iets wat hierdie geskiedenis oor God openbaar.

Dit is, sou mens kon noem, ‘next level’.

Toe Paulus in Listre aangekom het, het hy nie daarmee begin nie.

Hy het begin met die feit dat die ware God wonders kan verrig, dat Hy dit is wat reën en vrugbare tye en voedsel en vrolikheid skenk.

Maar daar is meer.

En toe dit gebeur dat hy gestenig en byna dood agtergelaat is, kan mens jouself indink dat daar vrae gekom het by die pas bekeerdes.

En daardie vrae het Paulus beantwoord, toe hulle op die terugpad weer daar verbygekom het.

Want ‘n oppervlakkige geloof sou geredeneer het:

As Paulus wonders kan verrig, waartoe sy God hom in staat stel, hoekom word hy dan gestenig?

As sy God so magtig is, hoekom het Hy dit dan nie gekeer nie?

Op die terugpad verduidelik Paulus, en sorg so vir geloofsverdieping onder die dissipels in Listre.

Hy vermaan hulle om, ook as daar teenslae is, in die geloof te bly – vers 22: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.”

Noudat hulle Christene geword het, sal die toekoms nie net sonskyn wees nie.

Die toekoms sal nie net tye van voedsel en vrolikheid bring nie.

Daar sal ook tye kom van gebed en vas – vers 23.

Die werklikheid van gelowiges is nie net jolyt op aarde nie.

 

Dit is ‘n realiteit wat vandag – op Dankdag – nie sentraal staan nie.

Tog moet dit ook genoem word.

Daar was ook teenslae die afgelope jaar, en miskien gaan daar nog meer kom.

Daar is teenslae wat almal tref – dink aan die beurtkrag, wat vlak vir vlak erger word.

Daar is ook teenslae wat gelowiges spesifiek kan tref.

Ons mag dankbaar konstateer dat ons maar min daarvan beleef.

Maar laat ons vir ‘n oomblik stilstaan en bid vir ons medegelowiges in ander lande, wat beslis groot teenslae beleef omdat hulle gelowiges is.

Dink aan die Christene in Noord-Korea, in die Midde-Ooste, in lande in Noord-Afrika.

Mag die Here hulle tog vashou in hulle geloof!

En ook hulle laat besef dat as die Here hulle vervolgers seën met reën en vrugbare tye en voedsel en vrolikheid, Hy nie sy kinders vergeet het nie, maar dat Hy selfs vir hulle vervolgers genadig is solank hulle op aarde lewe.

En daarom dat ons as Christene ook vir ons vervolgers bid.

 

Ek kom terug by vandag, Dankdag.

Ons dank vandag die Here vir sy goeie gawes – reën en vrugbare tye en voedsel en vrolikheid.

En, iets ekstra wat die teks ons vanaand geleer het:

Ons dank nie net vir die gawes wat ons ontvang het nie, maar ook vir die gawes wat die res van die aarde ontvang het.

Ons dank die Here ook vir die gawes wat my ongelowige buurman ontvang het, en daardie boer wat nooit sy hande vou nie, en selfs daardie biljoenêr wat homself nie aan God of gebod steur nie.

Hoekom dank ons ook daarvoor?

Omdat daardie mense daardie dinge nie toevallig ontvang nie.

Daarin sien ons dat God Homself ook aan hulle nie onbetuigd laat nie.

En terselfdertyd bid ons vir hulle.

Ons bid dat die skille van hulle oë sal afval.

Dat die dag sal kom dat hulle ook die knie sal buig en die hande sal vou voor die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.

 

Gemeente, daar is ‘n verhaal uit drie vroeë kerk wat regtig gebeur het.

Dit was ongeveer 150 jaar na hierdie geskiedenis van Paulus in Listre.

Keiser Severus, hy was toe keiser van die Romeinse Ryk, het ‘n keer ‘n reis gemaak deur sy ryk.

Wat hom baie ontstel het, was om te sien hoe verlate al die tempels van die afgode was.

Die rede was omdat soveel mense Christene geword het.

Dit het daartoe gelei dat hy voortaan mense verbied het om Christen te word.

Waar dit my oor gaan is die volgende.

Die aantal dissipels in Listre was waarskynlik nog nie so groot toe Paulus en Barnabas vandaar vertrek het nie.

Die tempels van die afgode is nog druk besoek.

Maar 150 jaar later was dit anders.

En gemeente, nog 100 jaar later, rond 300 nC, was die tempels amper verlate.

God het dit so gelei dat daar toe ‘n Christen heerser van die Romeinse Ryk geword het, Keiser Konstantyn.

Inderdaad, God het Homself nie onbetuigd gelaat nie.

Hy het met ‘n plan gewerk.

Al daardie eeue het Hy hemel en aarde en al die skepsels met sy hand so onderhou en regeer, dat gelowiges en ongelowiges lower en gras gegee, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede, dit alles nie per toeval nie, maar volgens sy raad ontvang het (HK 10).

Dieselfde doen Hy vandag nog steeds.

 

En ons, wat reeds die hande vou en die knie voor Hom buig, ons gaan daarmee voort.

Ons dank, nie net vandag nie, maar elke dag, vir elke snytjie brood, vir elke rand wat ons verdien, vir elke dag as die son opkom, vir elke millimeter wat dit gereën het.

Of ons min of baie kry, vir alles dank ons Hom.

 

Vir spys en drank sê ons U dank,

Ons loof u naam, o Heer!

 

 Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Handelinge 14

Teks: Handelinge 14:16-17

Tema: Die voorsienige God laat Homself nie onbetuigd op aarde nie

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Hoekom wou die mense in Listre vir Paulus en Barnabas offer?
  2. Hoekom waarsku Paulus die gelowiges: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan”? Noem ‘n voorbeeld hoe hy dit self ervaar het.
  3. Hoekom skenk God reën en vrugbare tye en voedsel en vrolikheid ook aan die ongelowiges?
  4. Hoe kan ons ander sover kry om saam met ons Dankdag te vier?
  5. Het jy die Here al gedank vir die voorspoed van jou buurman?

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 145:1,2,6

Gebed

Skriflesing: Handelinge 14

Ps 146:4,5,7,8

Teks: Handelinge 14:16-17

Preek

Ps 67:1-3

Gebed (dankgebed op Dankdag)

Geloofsbelydenis (Heidelbergse Kategismus Sondag 9 – 10)

Ps 72:10

Kollekte

Ps 147:3,6,7

Seën