Deur Sy verbond bring God toekomsverwagting aan Abraham

Minister: 
Jakob Mars
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-06-12
Text: 
Genesis 15 & 17
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

Soos u weet is die gedagte van verbond ongelooflik belangrik die Bybel. In die Gereformeerde leer is verbond dan ook iets wat sterk benadruk word. Die konsep van verbond, met verskillende klemme, vind ons bv. oor en oor in ons liturgiese formuliere.
  Nie net in die formulier vir die bediening van die doop aan kinders nie,
  maar ook in die van die doop aan volwassenes
  die aflegging van belydenis van geloof,
  die nagmaalsformulier (kort en lank),
  die formulier vir die bevestiging van bedienaars van die Woord,
  en die huweliksformulier.
Ons ken die woorde baie goed:
“Die Vader rig ‘n ewige genadeverbond met ons op...”
“Omdat alle verbonde uit twee dele bestaan...”
ens.

In die komende weke, DV, hoop ek om ‘n kort reeks preke te hou oor die verbond. In hierdie eerste van die reeks gaan ons dan veral daarop let: Wat is die verbond?

So ‘n algemene woord, verbond. Maar wat beteken dit? Meeste van ons het dalk ‘n redelike duidelike idee van wat die verbond is, ‘n konsep daarvan in ons gedagtes, maar probeer dit ‘n keer in woorde om te sit dan kom dit miskien nie so maklik nie. Veral ook omdat die konsep van die verbond so ongelooflik ryk is. 

In my studie vir hierdie preek het ek ‘n teoloog gelees wat die situasie mooi opsom. 
Hy sê:
Om te vra vir ‘n definisie van “verbond” is amper soos om die definisie van “moeder” te vra.
Wat sal sal julle sê, kinders? Wat is ‘n ma?
Natuurlik is dit ‘n regte antwoord om te sê dat ‘n ma ‘n vrou met ‘n kind is, maar elkeen van u wat hier sit en aan u eie ma dink, sal aanvoel dat dit ‘n bietjie van ‘n hol antwoord is. ‘n Ma, u ma, is tog soveel meer as dit! En dieselfde is waar vir die verbond. Die verbond is nie ‘n blote praktiese kontrak tussen God en mens, ‘n ding wat uit twee dele bestaan sodat God die mens sal verdra nie. Nee. Die verbond is ten-diepste ‘n verhouding. Die liefdes verhouding wat God met die mens oprig. En ja, die verbond bevat kontraktuele elemente, maar dit moet altyd in die lig daarvan gesien word dat die verbond ‘n liefdes verhouding is. 

In die OT lees ons van verskillende verbond-sluitings. In die Gereformeerde leer word oor die algemeen die Ou Testamentiese verbond-sluitings met Noag, met Abraham, met Israel as volk by die berg Sinai, en met David onderskei. Noag (in Genesis 9) met die reënboog na die sondvloed. Abraham (Genesis 15 & 17) waar God in die gelykenis van ‘n vuuroond en ‘n fakkel deur die stukke vleis beweeg. Israel by die Sinai berg (Exodus 24) waar Moses hulle met bloed besprinkel. En dan natuurlik David in 2 Sam 7, waar God vir David beloof dat sy koningskap ‘n ewige koningskap sal wees.

Ten spyte van hierdie onderskeie verbond-sluitings, is dit veral belangrik om te onthou dat dit hier oor een verbond gaan. Selfs die nuwe verbond is nie ‘n ander verbond nie, maar is deel van hierdie een genadeverbond. (Die nuwe verbond sal, DV, spesiale aandag in kry in ‘n latere preek) Dit is dus een verbond. God is altyd dieselfde, en ook die manier hoe hy met die mens omgaan bly konstant. In die verskillende verbond-sluitings sien ons dan ‘n sekere patroon wat keer op keer terugkom, nie altyd ewe duidelik nie, maar tog. Die verskillende verbond-sluitings in die OT (Noag, Abraham, Moses, Dawid) is gewoon die voortsetting van een en dieselfde verbond, waar God elke keer iets meer van homself openbaar. Met Noag sien ons byvoorbeeld die konsep van die behoud van die aarde as werkterrein van God se verbond. Met Abraham sien ons veral baie duidelik die insluiting van die nageslag in die verbond. Met Moses gee God sy wet, en met David sien ons hoe die Koningskap vir ewig bevestig word.

Vanoggend gaan ons kyk na wat hierdie een verbond is wat God met die mens sluit, en wat die kenmerke daarvan is. Inaggenome die verskillende verbond-sluitings in die OT (Noag, Abraham, Moses, Dawid), gaan ons veral deur die lens van die verbond met Abraham kyk na die patroon wat ons in God se verbond sien, aangesien dit hier by Abraham so duidelik sigbaar is.

Tema:
Deur Sy verbond bring God toekomsverwagting aan Abraham. 
Die verbond:
1) kom deur God se inisiatief
2) bevat spesifieke beloftes
3) sluit ‘n nageslag in
4) is ewig
5) word beseël deur ‘n sigbare teken.

Die verbond kom deur God se inisiatief.

Die eerste keer wat ons van Abraham (dan nog Abram) te hore kom in die Bybel, is in die stamboom van Sem in Genesis 11. Abraham se vrou Sara (dan nog Sarai) word ook spesifiek by naam genoem, saam met die feit dat sy onvrugbaar en sonder kinders was. (vir gerieflikheid onthalwe sal ek net Abraham en Sara gebruik, ook in plekke waar hulle name nog nie verander het nie). In Genesis 12 kom God na Abraham en roep hom op ‘n hoë ouderdom uit Ur van die Chaldeërs om te gaan woon in ‘n land wat God hom sal wys, ‘n land wat sy nageslag, ‘n groot nasie, sal erf – al het Abraham op daardie stadium nog nie ‘n kind van ‘n dag oud nie. 
Die Bybel vertel dat Abraham ‘n baie ryk man was (13:2), met slawe (12:5), vee, silwer en goud (13:2), en daar was selfs 318 geoefende manne in sy huis (14:14), maar hy het geen kind gehad wat dit alles sou erf nie. Eliëser die Damaskéner, ‘n kneg in sy huis, was sy erfgenaam. As Abraham later in Kanaän kom, die land wat God aan sy ongebore nageslag beloof, dan beloof God nog ‘n keer in Genesis 13 dat alles wat Abraham sien, Noord, Suid, Oos, Wes, dit alles sal God tot in ewigheid aan sy nageslag gee.

Tot dusvêr het Abraham homself baie getrou bewys. Hy het God se beloftes geglo en sy land, sy familie, en sy vaderhuis agtergelaat. Toe hy Lot bevry het van Kedor-Laómer, in Genesis 14, en hy die koning van Sodom se beloning van die hand gewys het, het hy sy volle vertroue in God se voorsiening geuiter.

U kan uself wel voorstel, wanneer ons by ons teks kom, dat Abraham moontlik al begin moedeloos word. Sedert God die eerste keer aan hom verskyn het, het daar al heelwat tyd verby gegaan. Hy was al ‘n ouer man (75+) en sy vrou (10 jaar jonger) was ook nie meer jonk nie. Nog steeds het hulle geen kinders nie. Abraham se testament lui nog al die jare dieselfde: my getroue dienaar Eliëser die Damaskéner sal my rykdom erf. 

God se beloftes het nog nie ten volle bewaarheid nie. Ja, hier staan hy in die land wat God beloof, maar waar is tog die kind wat God beloof? Sal dit ooit gebeur? 
Nadat God in Genesis 15 vers 1 na Abraham kom en sê dat sy loon groot is, kan mens Abraham se diepe, tog gelowige, versugting hoor in vers 2: “Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan.”

Vanoggend in die teks kom God dan weereens met dieselfde belofte van land en nageslag na Abraham. Maar hierdie keer is daar ‘n verskil – hierdie keer kom God om homself onlosmaaklik aan sy beloftes te verbind. Ons lees in 15:18 - Op dié dag het die Here met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier.
God kom om Sy beloftes met sy verbond te bekragtig. God kom met sy verbond. So sterk is God se inisiatief in die oorsprong van hierdie verbond, dat hy dit weer en weer sy eie verbond noem.
Ek wil my verbond sluit tussen My en jou (17:2)
my verbond is met jou (17:4)
my verbond ... tussen My en jou en jou nageslag ná jou (17:7)
jý moet my verbond hou (17:9)

Dit is God se verbond. Nie Abraham se verbond nie, ook nie God en Abraham se verbond nie, nee, God se verbond, Sy inisiatief.

Gemeente, dit kan ook nie anders nie. Waar het ‘n mens al ooit uit sy eie God opgesoek? Die mens in sy sondige staat hardloop weg van die heiligheid van God. Hy probeer wegkruip met vyeblare om sy skaamte te bedek. Van die begin af is dit God wat kom en die mens opsoek. Gemeente, dit kan nie anders nie. Die mens is van nature geestelik dood. Geestelik onvrugbaar. Met absoluut niks om vir God te bied nie. Abraham, net soos ons, is vir alles afhanklik van Hom. Om vir Abraham ‘n kind te gee, ja, maar nog meer fundamenteel, om in ‘n verhouding met Hom te tree. Dit is vir die mens onmoontlik. God moet afbuk na ons, want ons sal nooit opreik na Hom nie. En so, in Abraham se kinderlose nood kom God deur sy eie inisiatief na Abraham en gee vir hom toekomsverwagting.

Dieselfde Goddelike inisiatief om die mens in hulle nood tegemoet te kom, sien ons bv. ook in die verbond-sluiting met Noag. In Genesis 9 het Noag bv. pas uit die ark geklim nadat die hele wêreld vir hulle sonde deur ‘n globale watervloed uitgewis is. En tog weet Noag al te goed dat die sonde waarvoor die wêreld gestraf is, saam met hom in die ark oorgekom het na die nuwe begin. Sal ons oorbegin, net om weer uitgeroei te word? Maar dan kom God na Noag en rig “MY verbond” (Genesis 9: 9, 11, 15) met hom op en belowe hom dat die aarde nooit weer deur ‘n wêreldwye watervloed sal vergaan nie. God neem die inisiatief.

Dit klink so eenvoudig nie, nie waar nie? Dat God die inisiatief in die verbond neem. En tog gaan dit lynreg in teen ons tydsgees in. Ek wil in beheer wees! Ek sal my eie besluite maak. Ek sal kies met wie ek vriende wil wees, met wie ek verhoudings het, watse rekeninge ek oopmaak. Ek sal my eie lewe beheer. En as ek nie van jou hou nie, dan hoef ons regtig nie vriende te wees nie. Maar in God se verbond sien ons ‘n totaal ander prentjie: jou wil, jou inisiatief, jou voorkeur is irrelevant. Ek, die Here, Ek sal besluit. Die verbond is my inisiatief.
Dit sien ons ook so duidelik in die doop: daardie klein, pap babatjie, sonder enige keuse of sê in die saak, word deel van God se verbond. En dis pragtig! Die kind het nog nie halwe ‘n gedagte om te dink dat ek vir God kies nie, dan sê God al, jy is myne! En ek sluit my verbond met jou!

Dit bring ons by die tweede kenmerk van die verbond

Die verbond bevat spesifieke beloftes.

Vir Abraham was God se belofte drievoudig: ‘n erfgenaam uit sy eie liggaam (15:4), ‘n nageslag so ondenkbaar groot soos die hoeveelheid sterre in die hemel (15:5), en ‘n land vir daardie nageslag om in te woon (15:18). Elke aspek hiervan was ongelooflik. ‘n Man en vrou wat ‘n kind verwek terwyl hulle vêr verby die tyd is? Dan nog dat die kind ‘n groot nasie gaan word, so baie soos die ontelbare sterre? En boonop dan dat hulle hierdie land, wat reeds met 10 nasies bewoon is, gaan erf? ‘n Mens kan jouself skaars voorstel dat iemand ‘n klein gedeelte van so ‘n belofte sou glo. Maar Abraham? 15:6 sê: “En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” Is dit nie ongelooflik nie?
Genade op genade. Daar is nog nie eens sprake van ‘n verbondseis nie. Slegs die ryke beloftes en geregtigheid wat toegereken word vir die geloof in God. Hier sien mens duidelik dat die verbond oor verhouding gaan. God beloof en Abraham vertrou.

Eers in hoofstuk 17 lees ons van die twee kante van die verbond. En juis dan ook moet ons nie vergeet dat dit in die konteks van verhouding is nie. In 5 verse spel God sy kant van die verbond uit, ‘n lang lys dinge wat hy alles vir Abraham sal doen. 17:4-8
- God sal hom ‘n Vader van ‘n menigte maak,
- hom buitengewoon vrugbaar maak
- hom tot nasies maak
- konings sal uit hom voortkom,
- sy nageslag sal die land as ‘n ewige besitting erf.
- God sal vir hom en sy nageslag vir ewig ‘n God wees.
En dan, in die volgende 6 verse, vers 9-14, gee God Abraham se kant van die verbond. Ook ‘n lang lys dinge? Nee! Een ding! Elke seuntjie wat gebore word moet op 8 dae besny word, anders sal hy uitgeroei word. Slegs daardie een ding moet Abraham doen. 
Is Abraham se verbondsgehoorsaamheid dan die basis vir die verbond? Nee! God se genade is en bly die basis van die verbond. God gee hom in sy verbond aan ons, en verwag dan ook dat ons onsself vir Hom gee. Hy verwag verbondsgehoorsaamheid terug vir wat hy vir ons doen. Hierdie verbondsgehoorsaamheid is gewortel in liefde en geloof in God. Dis die geloof wat God aan Abraham as geregtigheid gereken het, nie sy gehoorsaamheid nie. Maar daardie geloof gaan oor in gehoorsaamheid.

‘n Duidelike voorbeeld van die verhouding tussen die God se beloftes in die verbond en die eis van gehoorsaamheid, sien ons in God se verbondsvernuwing met Israel in Deut. 28. Lees dit gerus maar ‘n keer. Die pragtigste seëninge word aan Israel belowe as hulle slegs luister na die stem van die Here en hom met vreugde dien (Deut. 28:1, 47).
(5) Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel.
(7) Die Here sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug.

Hierdie pragtige beloftes word dan teenoor die mees gruwelike nagevolge geplaas as Israel ontrou sou wees. Israel sal op 7 paaie voor sy vyand vlug. Hongersnood sal hulle tref sodat hulle oorgaan in kannibalisme. 
Maar self daarna, selfs in die geval van ontrou beloof God vir Israel in Deut. 30 dat Hy homself sal ontferm as hulle hulself bekeer.

Die Here gee Homself vir sy volk. Al wat Hy vra is dat hulle in antwoord, in dankbaarheid, liefde en geloof hulleself aan Hom teruggee. Dis is immers ‘n verhouding
Ja, God alleen inisieer die verhouding. Die verhouding is eensydig in ontstaan. Maar die verhouding is wel tweesydig in bestaan. Dis ‘n verhouding wat soos enige ander verhouding gebreek en geskend kan word deur sondige mense. 

‘n Goeie, alledaagse, voorbeeld om die beloftes en eis in die verbondsverhouding te verstaan, is die voorbeeld van ‘n huisgesin – ‘n pa en ma en kinders. Die voorbeeld is selfs nog meer duidelik in die geval van aangenome kinders, wat soms, verkeerdelik, kan voel dat hulle die liefde van hulle ouers moet verdien. Is die goeie funksionering en voortbestaan van die gesin gebaseer op die nakoming van huisreëls? Moet die kinders hulle brood verdien deur takies? Natuurlik nie! Alles in daardie gesin is gebaseer op liefde alleen. Natuurlik is daar huisreëls, maar dit is nie die basis vir enigiets in die gesin nie. Die liefde is. En die feit kan net dankbaar aanvaar word en oorgaan in gehoorsame uitvoering van huistake.

Gepraat van huisgesinne en kinders,

Dit bring ons by die derde kenmerk van die verbond.

Die verbond sluit ‘n nageslag in.

In ons teks vanoggend, in Genesis 15, het ons gesien hoe God ‘n verbond met Abraham sluit en vir hom ‘n nageslag belowe. Baie indrukwekkend dan, in hoofstuk 17 sien ons hoe die verbond nie slegs met Abraham as individu is nie, maar ook met sy ongebore kinders. ‘n Enkele voorbeeld is Genesis 17:7 -
En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou.

Die verbond bevat nie slegs ‘n nageslag as deel van die ryke beloftes nie, dit sluit ook die nageslag in. Dit wil sê, die nageslag is nie alleen dit wat belowe word nie, maar die belofte word in en deur die nageslag oorgedra.
In ons individualistiese samelewing kan dit soms moeilik wees om te verstaan. Kyk maar net hoe baie mense aanstoot neem aan die leer van die erfsonde. Dis vir hulle onbegryplik dat ons die gevolge moet dra van iemand anders se sonde. 
Maar God werk met die mens primêr as ‘n kollektief. Adam het in sy sonde die hele menslike geslag verteenwoordig. En die vloek van sy sonde gaan van geslag tot geslag. Is dit onregverdig? Nee, want die omgekeerde is ook waar, en selfs baie ryker: God se seën word ook oorgedra van geslag tot geslag. 
Ons lees dit elke Sondag as ons die wet lees wat God in die verbond-sluiting met Israel openbaar het:
Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

Of te wel – duisend geslagte, volgens Deuteronomium 7:9. God is die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte.
God sluit ‘n verbond met iemand, en met daardie persoon se agterkleinkind se agterkleinkind wat nog nie eens gebore is nie. Duisend geslagte selfs. Probeer dit voorstel met ‘n ryk man wat sy dinge so reël dat na sy dood elke maand ‘n x bedrag uitbetaal sal word aan sy seun. En na sy seun dood is, daardie selfde bedrag aan al die kleinkinders wat nog nie daar is nie, en dan aan al hulle kinders, en hulle kinders en so aan.

Dit is hierdie konsep dat die verbond gesluit word met ‘n persoon en sy ongebore nageslag wat ons by Moses en Israel sien. Nadat die volk vir 40 jaar in die woestyn geswerf het, en die oorspronklike geslag gesterf het, sê Moses vir die nuwe geslag Israeliete: “Die Here onse God het by Horeb met ons 'n verbond gesluit.
Met ons vaders het die Here hierdie verbond nie gesluit nie, maar met ons self, ons wat hier vandag almal in die lewe is.”
(Deuteronomium 5:2,3)

Dat die nageslag in die verbond ingesluit word, is natuurlik ook niks nuuts nie. In Genesis 9 het God met Noag en sy seuns gepraat en gesê:
Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle,

Net so het die verbond later met David ook sy nageslag ingesluit:
In 2 Samuel 7 lees ons dat God David se troon aan sy nakomeling gegee sal word, en dat sy huis en koningskap sal vasstaan tot in ewigheid.
Soos die profeet Jeremia sê: Want so sê die Here: Daar sal vir Dawid nie 'n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie (33:17)

Die feit dat God die verbond sluit deur die geslagte heen, dít is tog die rede waarom ons soveel erns maak met die kinders in die gemeente. Hulle is hier onder ons, Ons bring hulle Sondae saam sodat hulle deel kan wees van eredienste. Ons voed hulle ook op in die die Gereformeerde leer en rus hulle toe om met erns in die verbond te lewe. In die kerk, in die gesin, in die skool, in die katkisasieklas. Hiervoor mag ons baie dankbaar wees. En ons maak soveel erns hiermee omdat die verbond nie vryblywend is nie – die verbond bestaan, of ons nou daaraan aandag gee of nie – dit is ‘n ewige verbond

Dit bring ons by die vierde kenmerk van die verbond.

Die verbond is ewig.

Moontlik het u al gaan stilstaan by die grafiese manier waarop die verbond-sluiting met Abraham plaasvind. In Genesis 15: 9,10 vra God vir ‘n driejaaroud vers, ‘n bokooi, en ‘n ram, en daarby ‘n tortelduif en ‘n jong duif. Die diere het Abraham dan op ‘n spesifieke manier opgesny en die dele teenoor mekaar gelê. Redelik grusaam, sou u nie sê nie?
Die gebruik in Abraham se tyd was om juis so ‘n verbond te sluit. In Hebreeus is die woorde “om ‘n verbond te sluit,” letterlik, “om ‘n verbond te sny.” In ‘n verbond-sluiting is diere dan opgesny en die stukke teenoor mekaar gelê, die verwagtinge van die verbond gestipuleer, waarna beide partye tussendeur die stukke vleis gestap het. Hierdie aksie het die partye dan onlosmaaklik aan hulle beloftes verbind. Hulle bring hierdie vloek op hulleself as hulle die verbond sou breek. As ek die verbond verbreek mag dit met my gebeur. Mag daardie kop wat daar lê my kop wees. Mag my bloed net so vergiet word.

In Jeremia 34:18 sien ons dat God net so mense verantwoordelik hou vir hulle mislukking om hulle beloftes om Hebreeuse slawe vry te stel, na te kom. En Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat die woorde van die verbond nie gehou het wat hulle voor my aangesig gesluit het nie, maak soos die kalf wat hulle in twee stukke gesny het en tussen die stukke waarvan hulle deurgegaan het.

Abraham het die diere gevat en gemaak soos God vra. Omdat hy presies geweet het wat God bedoel, kan ons aanneem dat Hy verwag het dat ‘n verbond-sluiting gaan plaasvind. En dan wag hy. Hy wag en hy wag. Roofvoëls kom selfs om die vleis te eet, maar Abraham jaag hulle weg, amper asof hy sy erfenis probeer beskerm. En toe dit skemer raak val hy in ‘n diepe slaap, en vers 12 sê skrik en groot duisternis het hom oorval. En juis op daardie moment kom verskyn God weer en herbevestig sy belofte aan Abraham. En nadat God sy kant van die verbond duidelik gemaak het, gebeur iets wonderliks. God self, alleen, gaan deur die stukke vleis in die gedaante van ‘n rokende oond en vurige fakkel. God spreek eintlik ‘n vloek oor Homself uit indien Hy sy eie beloftes sou breek. 

Vir hierdie rede kan God in hoofstuk 17: 7, 13 en 19 dit uitspel – Hierdie is ‘n ewige verbond tussen My en jou en jou nageslag na jou. ‘n Ewige, onbreekbare, verbond. So waar as wat God leef, en Hy kan nie lieg nie, Hy sal sy beloftes hou. Jy hoef nie te twyfel nie, Abraham.

Weereens was Abraham nie die eerste (of die laaste) wat gehoor het dat die verbond wat God met hom sluit ‘n ewige verbond is nie. Noag en sy seuns het ook gehoor dat ‘n ewige verbond met hulle gesluit word. Ons het reeds gesien dat die Israelite, voor hulle die beloofde land betree het, gehoor het dat hulle getroue God sy verbond hou vir duisend geslagte van die wat hom liefhê en sy gebooie onderhou. Duisend geslagte, wat nie net simbolies is vir “ewig” nie, maar ook die belofte dra dat daar altyd ‘n ononderbroke lyn van gelowiges sal wees. Vir David is belowe dat sy troon en sy koningskap vir ewig bevestig word.

En as God iets belowe, dan is sy belofte onbreekbaar. Israel, David, en Noag moes dit glo. En dieselfde geld vir Abraham. Maar ons mense is dikwels so kleingelowig, is ons nie?

Dit bring ons by die vyfde kenmerk van die verbond.

Die verbond word beseël deur ‘n sigbare teken.

In Genesis 15 neem God die inisiatief en kom sluit sy verbond met Abraham wat in nood verkeer. God gee ryke beloftes, wonderlike beloftes. Hy sweer by homself dat hy dit sal nakom. Abraham kan maar toekyk en geniet van hoe God sy wil gaan laat geskied. En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. 

Tog het God nog steeds nie onmiddellik vir Abraham ‘n kind gegee nie. In Genesis 16, die hoofstuk net na die verbond sluiting, was Abraham en Sara al 10 jaar in Kanaän. Abraham was nou al in sy 80s en Sara in haar 70s. Hulle het nog geen kind gehad nie. Het God dan van sy verbond vergeet? 
En dan maak hulle hulle eie plan. Sara gee haar slavin Hagar vir Abraham. 
En so is dit duidelik dat selfs ons groot geloofshelde se geloof soms baie swak is, en dat hulle ten spyte van God se beloftes op eie krag probeer regkom. 

Maar God se kinders moet soms leer om geduldig te wees. Dit is verbasend om te dink dat die verskil tussen Genesis 15 en Genesis 17 meer as 13 jaar is. Abraham en Sara woon nou al meer as 20 jaar in Kanaän en ‘n 13 jarige seun met die naam Ismael hardloop buite rond, as God weer aan die 99 jarige Abraham verskyn. En dan kom God om die verbond wat hy 13 jaar terug gesluit het weer met Abraham te vernuwe, en te beseël. Abraham ontvang die teken van die besnydenis as sigbare seël, en dit sal ook die teken van die verbond wees vir sy hele nageslag. Net soos Noag die teken van die reënboog gekry het om, elke keer as dit reën, hom te herinner aan God se belofte: “Ek sal nooit weer die hele aarde met water verdelg nie,” so word Abraham, en sy hele nageslag, elke keer aan God se beloftes herinner as hulle aan besnydenis dink. 

Ons goeie God, soos ons bely in die NGB, hou rekening met ons stompsinnigheid en swakheid. Daarom gee Hy ons sakramente om ons geloof te voed en in stand te hou.
Die teken van die verbond draai die mens dan weg van homself en lig sy oë op na bo. Kyk op! Moenie jouself bly vas staar aan jou kleingeloof, jou nood of jou bekommernisse nie. Kyk op! Moenie op jouself vertrou nie, kyk op! Word herinner aan God se beloftes – dit wat hy beloof het, sal Hy doen. Want God kan nie lieg nie. Hy doen wat hy sê. As jy wysheid kortkom en daarvoor bid, sal hy dit vir jou gee. As die kerk lyk of dit vergaan, sal dit vas bly staan. As jy vergewing van sondes soek, sal jy dit dit kry. Want God het dit alles in sy Woord belowe, en hy kan nie lieg nie.

Ook ons vandag het die teken van die verbond ontvang. In ‘n latere preek gaan ons, DV, meer aandag gee aan die doop as teken van die verbond. Vanaand mag u weet dat u doop God se waarborg is aan u dat hy u in sy verbond insluit. Dat u, saam met u kinders, in die huishouding van God ingelyf is. Dat, net so seker as wat daardie water op u besprinkel is, u met Christus se bloed en Gees van die onreinheid van u siel, van al u sondes, gewas is. Is hierdie belofte te wonderbaarlik om te glo? Dink aan wat God aan Abraham beloof het! Glo God! En dit sal u tot geregtigheid gereken word! En as u twyfel, onthou u doop, die teken en seël wat God ons gegee het om vir ons te sê: Ek is getrou! Kyk op! Weg van jou kleingeloof, kyk na my!

Slot.

Broers en susters,
Ons het vanaand, veral deur die lens van God se verbond aan Abraham, gekyk na die verskillende aspekte van die verbond. Die verbond is ten diepste die liefdesverhouding wat God met die mens het. Die verhouding:
1) kom deur God se inisiatief
2) bevat spesifieke beloftes
3) sluit ‘n nageslag in
4) is ewig
5) word beseël deur ‘n sigbare teken.
In kort, die verbond is ‘n ewige, twee-rigting verhouding tussen God en sy volk, wat deur een party, God, geïnisieer word. In hierdie verhouding gee Hy ryke, onbreekbare, beloftes, en gee ook sigbare tekens om dit te bevestig.

Dít is die aard van die verhouding waarin jy met God mag staan. Hy het met u ‘n liefdesverhouding begin – of u nou wil of nie. Hy gee vir u heerlike beloftes, vir u en u kinders, sonder dat u enigiets daarvan verdien. Hy belowe dat hy altyd getrou sal bly, omdat hy nie kan lieg nie. En omdat hy weet dat u soms twyfel, gee Hy vir u die doop sodat u herinner kan word aan sy getrouheid.
Dit is die verbond. ‘n Liefdesverhouding waarin God homself heeltemal aan ons gee. Glo dit, geliefdes, en gee uself in dankbaarheid en liefde terug aan God.

Amen