Die HERE lei sy kind deur diepe smart

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-03-12
Text: 
2 Samuël 18:33-19:8a
Preek Inhoud: 

Preek: 2 Samuel 18:33-19:8a

 

In verband met ons jaartema, Ons LIG in ‘n donker wêreld, skenk ons ook aandag aan onderwerpe wat met die dood te make het.

Dinge soos sterwensbegeleiding, begrafnis of verassing, en rouverwerking.

Dit is alles dinge waaroor die Skrif nie swyg nie.

Die lig van die Skrif skyn oor hierdie onderwerpe.

Daarom kan ons as gelowiges ook met betrekking tot sake rondom die dood die lig van die Skrif, dit is die lig van Christus laat skyn.

Kom ons kyk vandag na ‘n bekende geskiedenis uit die Ou Testament, naamlik van Koning Dawid wat sy seun Absalom verloor het, en hoe Dawid oor hom getreur het.

 

Tema: Die HERE lei sy kind deur diepe smart

 

Wat betref alle onderwerpe sien mens in die Bybel ‘n antitese, ‘n teenstelling.

En dit geld ook vir die onderwerp van rouverwerking.

Wat betref die omgaan met die dood van ‘n geliefde, is daar verskillende maniere.

In die eerste plek is dit ‘n feit dat elke mens op sy eie manier rou.

Die een voel die behoefte om met almal te praat oor wat gebeur het.

Die ander een verkies juis stilte.

Die een stel dit baie op prys dat dae gedenk word, byvoorbeeld die dag waarop ‘n geliefde oorlede is.

Ander mense het nie behoefte daaraan nie.

Die een vind dit belangrik om dinge wat aan die oorledene behoort het – byvoorbeeld klere – te bewaar.

Ander doen dit juis nie.

Daar is niks verkeerd daarmee dat mense verskillend rou nie.

Dit is belangrik dat ons daarvan bewus is, en nie iemand anders in ‘n patroon probeer indruk wat volgens jou die regte manier van rou is nie.

Dit kan in ‘n huwelik byvoorbeeld tot spanning lei.

Die een rou deur stil te bly, die ander een wil juis praat.

En waar mens in die huwelik leer om met mekaar rekening te hou, die uniekheid van mekaar te waardeer, is dit in ‘n rouperiode juis moeilik.

In so ‘n periode het ‘n mens geen buffer het nie.

Daarom sien mens dat daar juis in tye van rou verwydering tussen mense kan ontstaan.

 

Dan is daar ook sosiale gewoontes met betrekking tot rou.

Uit die Bybelse tyd ken mens heelwat voorbeelde.

Mense het stof op hulle koppe gestrooi.

Hulle het hulle gesig bedek.

Hulle kon selfs hulle hare en baard uittrek.

Hulle het rouklere aangetrek – dikwels swart.

Hulle het hulle juwele afgehaal.

Hulle het kaalvoet geloop.

Hulle het gevas.

Hulle het klaagliedere gesing.

Daar was selfs gehuurde rouklaers.

En, lees ons oor die heidene, hulle het selfs snye in hulle liggaam gemaak.

 

Elkeen van hierdie vorme van rou was nie reg net omdat hulle in die Bybel staan nie.

So sien ons in die Nuwe Testament dat Jesus nie baie simpatie met die gehuurde professionele klaagvroue gehad het nie.

En die heidense gewoontes soos snye in jou liggaam maak, dit is duidelik deur God se wet verbied.

“Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.” (Lev 19:28)

 

Ek het die preek begin met die opmerking dat ons in die Skrif ook ‘n antitese sien wat betref rouverwerking.

Rou op sig is nie verkeerd nie.

Rou is noodsaaklik.

Ons sien baie gelowiges in die Skrif met intense rou.

Dink aan Job.

Dink aan Jakob wat oor sy seun Benjamin gerou het.

Dink aan Dawid, die keer toe hy oor sy vriend Jonatan gerou het.

Dink selfs aan die Here Jesus, wat oor sy vriend Lasarus gerou het.

“Jesus het geween”, lees ons in Johannes 11:35.

Mens kan sê dat die Skrif ons leer om te rou, maar dan wel op die regte manier.

En die regte manier sluit dan nie al die verskillende persoonlike variasies uit nie, maar dit gaan oor die basiese teenstelling in die Skrif, naamlik die tussen geloof en ongeloof, tussen diens aan die Here en diens aan jouself.

 

In ons teks vind ons ook iemand wat rou, en miskien wel die ergste rou wat mens op aarde kan kry, naamlik die van ‘n ouer wat treur oor die dood van sy kind.

Die fokus is hier nie soseer op die uiterlike tekens van rou nie.

Al wat ons lees is dat Dawid opgeklim het na die bovertrek van die poort.

Hy het eensaamheid gesoek, wat mens heeltemal kan verstaan.

Later, in hoofstuk 19:5, lees ons dat hy na sy huis teruggekeer het, weggegaan het van die poort af, dit was naamlik’ n publieke plek, waar daar geregeer en reggespreek is.

Ook het hy sy gesig toegemaak, lees ons in hoofstuk 19:4.

Dit was dinge waarop daar geen enkele kritiek uitgespreek word nie.

 

Tog word Dawid wel gekritiseer oor sy rou, spesifiek deur Joab, die leërowerste.

Want Dawid se rou was volledig selfgesentreerd.

Hy het getreur sonder hoop.

Hy’t selfs as ‘t ware van sy seun Absalom ‘n afgod gemaak.

Die hele wêreld kon vergaan, solank hy maar net sy seun kon terugkry.

Gemeente, onthou die konteks van hierdie gebeurtenis.

Absalom het in opstand gekom teen sy pa, koning Dawid.

Absalom het met opset die volk verdeel.

Absalom het sy pa uit Jerusalem weggejaag.

Absalom het aktief sy pa probeer doodmaak.

Absalom het veroorsaak dat daar ‘n burgeroorlog ontstaan, waarin baie gesneuwel het, twintig duisend staan daar in hoofstuk 18:7.

Die rou onder die volk was groot.

 

En nou, noudat Joab en sy manne met groot gevaar vir eie lewe Absalom verslaan het, nou was al wat Dawid gedoen het, om te fokus op homself en sy eie verdriet.

Natuurlik was dit nie goed soos die Kusiet die nuus oorgebring het nie.

Hy was gevoelloos, hy het glad nie rekening met Dawid se gevoelens gehou nie.

Met die feit dat die dood van ‘n kind vir ‘n ouer in alle omstandighede ‘n verwoestende berig is.

Ook as die kind volledig van die pad afgedwaal het.

Selfs as die kind, soos hier, probeer het om sy eie pa dood te maak.

Volledig verstaanbaar, dat Dawid baie ontroerd geword het, soos daar staan.

In die oorspronklike Hebreeus staan daar: Dawid het gebewe.

Mens kan dit voor jou sien!

En vanuit die bovertrek het die klaaggeroep geklink:

“My seun Absalom! My seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!” (vers 33)

Ouers wat al ‘n kind verloor het, kan volledig saamvoel met Dawid.

Dis een van die mees normale dinge vir ‘n ouer om te dink:

Het ek maar in jou plek gesterf, my kind!

‘n Ouer wat sy kind moet begrawe, dit is die verkeerde volgorde.

Ja, ons het alle begrip vir Dawid.

 

Tog was daar iets nie reg in Dawid se rou nie.

Die Skrif vestig ons aandag daarop.

Soos Joab in vers 6 sê: As ons vandag almal dood was en Absalom lewendig, sou dit in u oë reg gewees het.

Ander mense se swaarkry het hom nie meer getraak nie, dit was net sy eie verdriet.

En daar was nog ‘n rede hoekom daar ‘n sondige element in Dawid se manier van rou was.

Dit het te make met die feit dat dinge reeds skeefgegroei het voor Absalom se dood.

Absalom was naamlik Dawid se gunsteling kind.

Absalom was beeldskoon.

Ons lees in 2 Samuel 14:25: “In die hele Israel was daar nie ‘n man so mooi soos Absalom ... nie. Van kop tot tone was daar geen gebrek aan hom nie.” (2020-Vertaling)

Dawid het vir Absalom voorgetrek.

Geen wonder Dawid was vermorsel die oomblik toe Absalom van hom af weggevat is nie.

Hierdie was maar een voorbeeld van hoe dinge in Dawid se gesin nie reg was nie.

Hy het kinders van verskillende vroue gehad.

Daar was kompetisie, sommiges is voorgetrek.

En oor die algemeen was dit vir Dawid moeilik om sy kinders te korrigeer (1 Kon 1:6).

Inderdaad, as dinge tydens die lewe nie in orde is nie, het dit ook ‘n impak op die verwerking van iemand se dood.

 

Gemeente, die feit dat Dawid gesondig het, ook in sy rouverwerking, is nie omdat Dawid baie slegter as ander mense was nie.

Ook ons is wat dit betref net soos Dawid.

Die wat al deur ‘n rouverwerkingsproses gegaan het, sal dit herken en erken.

Ook in my en jou rou was daar dinge wat sondig was.

Waar ek selfgesentreerd was.

En ja, die omstandighede het dit soveel makliker gemaak om selfsugtig te wees, maar daarom was dit nog nie reg nie.

Ja ook daarvoor moet mens vergewing vra.

En ook daarvoor is God vinnig om te vergeef, as ons dit om Christus’ wil vra.

God weet wat dit is om oor ‘n kind te rou!

 

By Dawid sien ons ook dat Joab se vermaning vir hom goed was.

Die feit dat hy gerou het, was nie verkeerd nie.

Maar dit moes nie net oor homself gegaan het nie.

Die HERE het hom nog steeds geroep om sy taak op aarde te vervul, spesifiek in sy geval as koning.

Was dit nie baie hard van Joab om Dawid dadelik daarop te wys nie?

Ja en nee.

Ons weet uit die res van die Skrif dat Joab ‘n baie ongevoelige man was.

Maar dit was nie verkeerd dat hy sy koning daarop gewys het dat hy en sy manskappe met gevaar vir eie lewe hom en die volk beskerm het nie.

En vir Dawid was dit ook terapie.

Ja dit was genade dat die HERE deur middel van Joab met ‘n ferme hand hom uit die put uit opgetrek het.

Juis die feit om tydens rou raak te sien dat die HERE jou nog steeds ‘n taak gee, en dat jy daarmee moet voortgaan, al voel jy nie lus daarvoor nie, tog is dit terapie wat deel is van die rouverwerking.

Nie net aangaan en hard werk sodat jy nie daaraan hoef te dink nie.

Dis ook nie reg nie.

Dan steek jy die verdriet weg, dan bly dit onverwerk.

Dis nie of-of nie.

Maar dis aandag gee aan die verwerk, en voortgaan met die lewe.

Hierdie twee sluit mekaar nie uit nie, maar oorvleuel en help mekaar.

En so sien ons ook by Dawid.

Deur die Here se genade mog hy tog ook weer oog kry vir die volk se verdriet.

En erkenning gee aan sy weermag, wat die staatsgreep en burgeroorlog tot ‘n einde gebring en die vrede herstel het.

En, hoe moeilik dit ook was, voort te gaan met sy amp, soos ons lees in vers 8:

“En die koning het opgestaan en in die poort gaan sit”.

Dis ‘n uitdrukking vir die feit dat hy weer sy taak as koning opgeneem het.

 

Geliefde gemeente, rou is ‘n onderdeel van die lewe op aarde wat ons nie kan wegneem nie, hoe graag ons ook sal wil.

Sedert die sondeval het die dood sy intrede gemaak, en rou daarmee saam.

Die eerste ouerpaar, Adam en Eva, het oor hulle seun Abel gerou.

En so was daar miljoene na hulle.

Tog rou ons as gelowiges nie soos hulle wat geen hoop het nie.

Ja ook wat betref ons rouverwerking is die Skrif ‘n lig op ons pad.

 

En net so mag ons ‘n lig wees in ‘n donker wêreld – dink aan ons jaartema.

Nie dat ons as gelowiges nie rou nie.

As dit van ons verwag sou word, dan sou ons lewe kunsmatig word.

Diepe rou is ‘n integrale onderdeel van ‘n gelowige se lewe.

Tegelykertyd rou ons met hoop.

En ons hoop is nie gevestig op die mens nie, byvoorbeeld die feit dat die oorledene so ‘n goeie persoon was nie.

Dit is tipies vir die wêreldse rou.

‘Oor die dooies niks anders as goed nie.’

Geen persoon wat sterf was net goed nie.

Beslis Absalom ook nie.

En of die HERE hom genadig was en ewige redding geskenk het na die dood, dit moet ons aan die Here oorlaat.

Dis nie vir ons om Absalom te oordeel nie, die Here sal.

Maar ons hoop is gevestig op Jesus Christus.

Hy is die enigste hoop vir hulle wat gesterf het en vir hulle wat lewe.

 

Dit is begryplik dat rou erger is wanneer ‘n geliefde sterf wat afvallig van die geloof geraak het, sterf.

Laat ons dit aan die Here oorlaat.

Net Hy ken die hart, sien tot in die diepste van ‘n mens se hart.

Net Hy weet wat in iemand se gedagtes omgaan, tot die laaste oomblik wat hy sterwende is.

Die Here is stadig tot toorn en groot van lankmoedigheid.

 

Gemeente, laat ons ‘n lig wees in ‘n wêreld wat ten dode opgeskryf is.

By die dood van ‘n geliefde sit ons nie ‘n kunsmatige glimlag op nie, maar ons bly outentiek.

Die rou is rou en seer, en mense kan en moet dit op ons gesigte sien.

Na die dood van ‘n geliefde kom die plooie, onomkeerbaar.

Terselfdertyd het Christus ook ‘n outentieke deel van ons geword.

Ons behoort aan Hom.

Hy gee ons ‘n nuwe lewe, reeds tydens hierdie lewe.

Ons lewe met hoop.

Ons treur nie soos hulle wat geen troos en hoop het nie (1 Thess 4:13).

 

Geliefde broer en suster, daar sal ‘n dag kom wanneer jy in diepe rou gedompel gaan word.

Jy kan dit nie keer nie.

En dan sal daar ook momente kom waarop jou rou selfsugtig raak, wanneer jou rou ander gaan beskadig.

Ons is almal sondige mense, en alles wat ons doen is met sonde bevlek.

Daarom, wees voorbereid daarop dat ook in jou rou ander jou soms tot die orde gaan roep.

Dis nou hard gesê, ek hoop u verstaan die bedoeling.

Laat ek eerder sê dat ander jou gaan probeer optrek uit die put.

Dit is die Here, sy genadige hand wat jou dan optrek.

Hy gebruik daarvoor jou broers en susters.

Al was Joab byvoorbeeld maar ‘n hardvogtige man, sy bedoeling was goed.

Dis ‘n voorreg dat ons deel mag wees van die gemeenskap van die kerk.

Ook hierin is ons as kerk ‘n lig in ‘n donker wêreld, ja Christus se lig skyn in ons.

Ons staan rondom hulle wat rou, ons staan hulle by.

Hulle hoef nie alleen te rou nie.

Mens hoor soms dat iemand selfmoord pleeg nadat hy ‘n geliefde wat baie na aan hom was, verloor het.

So wanhopig kan die rou word.

In die veilige omgewing van Christus se kerk mag ons op mekaar let, en mekaar dra deur sulke tye heen.

Ons dra mekaar omdat die HERE ons dra.

Ja Hy lei sy kind deur diepe smart.

 

Ook oor die HERE sê die Skrif dat Hy droefheid ken.

“Dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart” – Genesis 6:6.

En nog veel dieper was sy droefheid toe sy eie Seun aan die kruis gesterf het.

Maar sy droefheid was nie selfgesentreerd nie, dit was juis om ons, verlore mense, te red.

Sy genadige aangesig skyn oor ons.

En sy lig mag ons uitstraal, selfs in tye van rou.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 2 Samuël 18:19-19:8a

Teks: 2 Samuël 18:33-19:8a

Tema: Die HERE lei sy kind deur diepe smart

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Is dit verkeerd om op verskillende maniere te rou?
  2. Hoekom was Dawid so platgeslaan toe spesifiek sy seun Absalom gesterf het?
  3. Wat was sondig in Dawid se rou?
  4. Noem drie dinge waarmee jy iemand in rou kan bystaan.
  5. Watter troos is daar in Openbaring 21:4?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 3:1,2 (‘n Psalm van Dawid, toe hy gevlug het vir sy seun Absalom)

Wet

Ps 119:6,13

Gebed

Skriflesing: 2 Samuël 18:19-19:8a

Ps 41:1

Teks: 2 Samuël 18:33-19:8a

Preek

Ps 43:2-4

Gebed

Kollekte

Ps 30:7,8

Seën