Staan vas teen die sonde

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-05-15
Text: 
1 Korinthiërs 5:1-9
Preek Inhoud: 

Ons het die vorige keer afgesluit met 1 Korintiërs 4:18–21 waar Paulus die Korinthiërs met streng dissipline dreig as hulle nie sy gesag erken nie.  En nou gebruik hy sy gesag om 'n groot probleem in die kerk aan te spreek. Kerklike tug, of eerder die gebrek daaraan.

Ons hou nie altyd daarvan om hieroor te praat nie.  Maar dit is iets waaroor ons moet praat.  Daar was al vrae in hierdie kerk daaroor of ons werklik Bybelse kerklike tug toepas.  Maar kerklike tug gaan oor meer as net kerklike tug.  Dit is die toekomstige oordeel van God in die hede.  Dit gaan oor die teenwoordigheid van Christus.  Dit gaan oor die identiteit van die kerk.  Kerklike tug is dus belangrik.  Want as ons dit nie verstaan en toepas nie, beteken dit ons het nie 'n volle begrip van Christus se werk of identiteit en die doel van die kerk nie.  Hopelik sal hierdie hoofstuk ons help om dit raak te sien.  Nog ‘n ding is dat aanvaarding van sonde in die kerk nie 'n teken van vooruitgang is nie, maar van trots.

Staan vas teen die sonde:

  1. ‘n Teregwysing aan die kerk weens gebrek aan optrede (v. 1-2)
  2. Redes om op te tree! (v. 3-8)

 

'n Teregwysing weens gebrek aan optrede (v. 1-2)

Vers 1: “'n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so 'n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.”  Hierdie berig het Paulus se ore bereik, en hy is glad nie beïndruk nie!  Hy kan dit skaars glo!  “’n Mens hoor waarlik…”, sê hy!

Hierdie spesifieke soort seksuele onsedelikheid is bloedskande – ‘n man slaap by sy stiefma.  Dit is goddeloos. Ons kan vra hoekom, in hierdie gedeelte, net die man uitgesonder word en nie die vrou nie.  Die meeste kommentators meen dit is omdat die vrou nie deel van die kerk was nie, maar die man wel.  Oordeel begin by die huisgesin van God.  Dit was nie die kerk se taak om die buitestaanders te oordeel nie, maar wel die wat binne hul gemeenskap was.  Heel waarskynlik het die vrou nie beweer dat sy deel van die kerk is nie, maar die man wel.

Maar ek wil hê julle moet iets oplet.  Die fokus is nie op die man se sonde nie, maar op die feit dat daar seksuele onsedelikheid “onder” hulle geduld word!  Paulus is nie net teleurgesteld in die man nie, maar net so baie in die kerk!  Slegs vers 1 handel oor die sondige mens, die ander 12 verse oor die skuld van die kerk.  Die hoofpunt van hierdie hoofstuk is nie die sonde van die mens nie, maar die reaksie van die kerk.  Hy is geskok dat hulle iets sou duld wat nie eers onder die heidene geduld word nie.  Dit is malligheid!  Hierdie mense was afgesonder van die heidene en behoort so op te tree.

Dit is dalk vir ons maklik om hierna te kyk en te sê: “Sjoe, ek kan nie glo hulle het dit gedoen nie!”  En ek is dankbaar teenoor God dat ons so dink.  Maar dit het my biddend laat nadink daaroor of daar enige sonde in ons midde is wat ons duld waarvan ons dink dalk nie so 'n groot ding is nie...  Miskien skinderpraatjies, of laster, of dronkenskap, of hebsug.  Dit is al die sondes wat Paulus in vers 11 insluit.

Hy sê in vers 2: “En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit.”  Moes julle nie liewer daaroor getreur het nie?  Treur oor die geestelike dood van iemand.  Ons treur oor die dood, maar hoeveel treur ons werklik oor die sonde?  Dit is hartverskeured – hoekom?  Want dit is 'n verwerping van die kruis van Christus – die Lam wat geslag is.  Dit is 'n verwerping van ons familieverhouding – een wat in die Gees van heiligheid gegrond is.

In plaas daarvan dat hulle treur, was hulle opgeblase, arrogant!  Hulle dink dat dit ‘n teken was van hul geestelike volwassenheid!  Dat hulle nie deur hierdie man se sonde geraak is nie.  Maar om toe te laat dat sonde in die kerk floreer, is niks anders as waaghalsige en gevaarlike arrogansie nie – as in ag geneem word dat dit die tempel van 'n heilige God is.  As ons in ag neem dat ons die liggaam van Christus is!  Dit is om te dink ons kan iets in die liggaam van Christus toelaat wat Hy nooit sou toelaat nie!

“… sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit.”  Dit is gevaarlik vir die hele kerk, en hulle moet radikaal wees in die hantering van sonde.  Net soos wat Jesus ons geleer het om radikaal te wees in die hantering van individuele sonde wanneer Hy sê: “as jou hand jou laat sondig, kap dit af,” so moet ons radikaal wees met die hantering van sonde in die kerk.  Ons sien regdeur die verbondsgeskiedenis dat God dikwels die hele nasie geoordeel het vir die sonde van 'n paar onder hulle.  Hoekom?  Want wanneer ‘n nasie die sondes van enkeles laat floreer sonder om dit aan te spreek, gooi hulle olie op die vuur van sonde.  Soos daar in die Heidelbergse Kategismus (vraag&antwoord 99) staan dat ons deel het aan die sonde van godslastering deur “stil te bly of dit toe te laat”.  Die beste ding wat jy teen sonde kan doen, is om dit aan te spreek en dit na vore te bring.  Sonde moet onmiddellik, konsekwent en ferm aangespreek word.

Dit moet onmiddellik aangespreek word.   Hoe langer jy wag om iets aan te spreek, hoe moeiliker word dit om dit aan te spreek.  Want die sondaar sal sê: “Ek doen dit al jare, en jy het nooit iets gesê nie, hoekom sê jy nou skielik iets.”  Dan wys jy ook dat jy nooit werklik ‘n oop en eerlike verhouding met daardie persoon gehad het nie, want jy was bang om 'n sekere onderwerp ter sprake te bring.

As dit die geval is, en jy voel dat jy ‘n sonde nie aangespreek het nie, is dit nou die tyd.  Gebruik hierdie preek as 'n verskoning.  En sê: “Ek het dit nie aangespreek nie, want ek het nie besef hoeveel dit jou en die hele liggaam seermaak nie.  Dit is nie net jy wat deur die sonde seergemaak word nie, maar dit beskadig die integriteit van die hele liggaam.”  Dit gaan alles oor wie jy die liefste het, en wie s'n jy is.  Is Christus alles, en is ons identiteit in Hom alles?  Net om dit te glo sal ons die moed gee om so te lewe.

Dit moet konsekwent aangespreek word.  Maak nie saak waar so 'n sonde sy lelike kop uitsteek nie, dit moet nooit as normaal beskou word nie.  Of weggeredeneer word nie.  In elke kultuur kan dit maklik gebeur.  Na ‘n rukkie raak ons moeg daarvoor om sekere sondes aan te pak.  Byvoorbeeld iets soos dronkenskap, of skinderpraatjies.  Dan bly ons net stil.  En stadig maar seker raak dit ‘n aanvaarbare sonde.  Die kultuur destyds was baie seksueel, nie veel anders as vandag nie.  Dit was normaal dat mense buite en binne die huwelik saam met ander slaap.  Hulle het gedink die Christene was mal om te sê dat seksuele verhoudings slegs binne die huwelik geniet moet word.  Dink mense in die wêreld steeds ons is mal oor ons seksuele etiek?  Of is dit iets wat ons begin aanvaar het?

Dit moet ferm aangespreek word. Sonde in onsself of in die gemeente behoort iets te wees waaroor ons huil, en dit behoort verwyder te word.  “… sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit,” sê Paulus.  Wat ons by ons tweede punt bring.  Presies hoekom moet ons so optree?

Redes om op te tree! (v. 3-8)

Die eerste rede waarom hulle ferm moet optree, is dat die kerk van Korinthe in die Naam van die Here Jesus vergader – en die apostoliese gesag van Paulus is onder hulle teenwoordig in die krag van die Here Jesus.  Kyk na vers 3 en 4: “Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het, in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus...”

Die Gees van die een wat deur die wil van God geroep is om die boodskap van Jesus Christus te verkondig, het ‘n oordeel uitgespreek!  En hy is in gees by hulle teenwoordig.  Met ander woorde: “Die gesag van Jesus Christus is deur my onder julle teenwoordig.”  Om verban te word is 'n teken van die laaste oordeel in die huidige oomblik! God is reeds besig om mense binne die kerk te oordeel, deur Christus.  Die Gees van Christus woon onder ons! Soos een skrywer sê: “die toekomende eeu maak inbreuk op die huidige eeu: beide die laaste oordeel en die finale regverdiging van God se uitverkorenes vind plaas op 'n semi-gerealiseerde wyse, ministerieel eerder as magisteriaal.  Die kerk se handelinge is nie finaal nie ... maar dit is tekens en seëls van die eeu wat kom.  Die uitvoering van Christus se toespraak word bemiddel deur sy aangestelde leiers.”

Met ander woorde, hierdie oordeel is niks anders as die oordeel van Jesus nie.  Hy is teenwoordig deur middel van die gesag van die leiers van hierdie kerk.  As Christus teenwoordig is – en Hy kan nie eers na die sonde kyk nie – hoe durf die kerk openbare, opstandige en onberoulike sonde aanvaar?  Hoe arrogant sal dit nie wees nie!

Dus, die eerste rede waarom ons moet optree, is omdat Jesus hier onder ons is en optree deur middel van die leiers.  Hier is die goddelike krag wat in Jesus woon, toeganklik vir beide Paulus en die Korinthiërs deur die Gees, en Paulus spoor die Korinthiërs aan om hierdie krag te gebruik soos hy doen: as gesag om binne die gemeente te oordeel.  Geliefde gemeente, Jesus is hier.  Kom ons hanteer die sonde soos Hy dit sou hanteer.

Die tweede rede is sodat die sondaar gered kan word.  Hy gaan voort in vers 5: “… om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.”  Wanneer hy hier praat van die vlees en die gees, dan praat Hy nie van die nie-materiële en die materiële nie, maar van die koninkryk van Satan en die koninkryk van God.  Hier verwys die vlees na sy sondige natuur.  Paulus sê iets soortgelyks vir Timotheüs in Efese, wanneer hy sê: “... Himenéüs en Alexander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om nie te laster nie.” (1 Tim. 1:20).  Die punt wat hy probeer maak is dat hulle moet weet hoe dit voel om buite die koninkryk te wees.  Om dit meer reguit te stel: om te voel hoe dit voel om in die hel te wees.  Dit is immers waar Satan regeer.

Die gemeente is in die Gees versamel, maar hierdie man leef volgens die vlees.  Hierdie twee is onversoenbaar met mekaar.  Paulus sê vir die Galasiërs: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar...”  Die koninkryk van God en die kerk is gebore deur die Woord van God, in die krag van die Gees, en is dus geestelik in teenstelling met die vleeslike.  Dus, as die kerk wil floreer, moet dit oorlog voer teen die vlees en enigiemand wat volgens die vlees lewe, moet: “... so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.”  As hulle nie die man aan Satan oorgee nie, dan sal die vlees in die res van die geestelike liggaam insypel.

Die tweede rede is dus sodat hierdie man gered kan word.  Let op daar staan: gered kan word.  Nie: gaan gered word nie.  Die oordeel is verlossend, selfs al word dit nie as sodanig ontvang nie.  Ons hou aan bid vir hierdie mense, selfs as ons hulle oorgee.  Dan moet ons juis nog meer bid!

Die derde rede volgens Paulus is die heiligheid van die liggaam.  Hy sê in vers 6: “Julle roem is nie mooi nie.  Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?”  Weer eens beskuldig hy hulle van grootpratery, en hy vra: “Weet julle nie...?”  Hierdie frase kom tien keer voor in 1 Korinthiërs en net een keer elders in Paulus se briewe.  Vir 'n kerk wat blykbaar 'n groot mate van wysheid en kennis vir hulself opeis, is dit ironies. Dit is dikwels daardie kerke wat dink dat hulle dit alreeds daar is en alles reeds weet, wat die versigtigste moet wees om nie te val nie.  Hoogmoed is geneig om te lei tot blindheid.

Kennis van Christus lei nooit tot arrogansie nie – maar lei altyd tot nederigheid, anders is dit nie ware kennis nie.  En wat is dit wat Sy kerk behoort te weet?  Dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak.

Suurdeeg is 'n klein gedeelte van 'n vorige week se mengsel deeg wat toegelaat is om te fermenteer.  As dit by die volgende mengsel gevoeg is, het die suurdeeg die brood laat rys.  Dit het ‘n klein risiko van besmetting ingehou, veral as die proses onbepaald toegelaat is om voort te gaan sonder om weer met 'n hele nuwe bondel te begin.  Paulus beklemtoon (deur nadruklike woordvolgorde in Grieks) dat, alhoewel dit slegs in 'n “klein” gedeelte van die kerk is – eintlik net een persoon – die boosheid onvermydelik, stadig maar seker, deur die hele gemeente sou versprei as dit nie beheer word nie.  Geliefde gemeente, een persoon onder 400 kan veroorsaak dat die hele kerk siek raak!  Dit kan die kleinste ding wees wat, as dit ongemerk toegelaat word, maklik buite beheer kan raak en die hele kerk ten gronde klan laat gaan.

Dit is waarom Paulus die gemeente in vers 7 bemoedig: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees — soos julle inderdaad ongesuurd is — want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.”  Een van die belangrikste gebeurtenisse by elke Pasga is dat hulle al die suurdeeg moes deursoek en weggooi.  Paulus sê vir hulle dat hulle reeds ongesuurd is.  Hulle is reeds verlos – want Christus, die Paaslam, is geoffer.  IS GESLAG!  Jy is reeds daar, is wat Paulus sê!  Jy is gewas.  Geheilig, gereinig!  Wanneer God jou na die lewe van dissipelskap in die kerk roep, word jy geroep om jouself meer en meer van jou ou lewe af te skei en die wêreld te verwerp terwyl jy die reis na heerlikheid aanpak.  Ons kan nie jubel en in sonde roem terwyl ons hierdie fees vier nie.  Die identiteit van ‘n gemeenskap van verlostes word gedefinieer deur die offer van Christus wat 'n nuwe toedrag van sake teweeggebring het.  Daardie toedrag van sake is ‘n werklikheid.

Paulus lees die hele Ou Testament deur die lens van Jesus se werk.  Een kerkvader het gesê: “Christus is gedood sodat die prediking ’n nuwe soort lewe sou voortbring.”  God se nuwe skepping – sy verloste kinders – word weergebore deur die dood van die Paaslam.  Christus is gedood.  Die uittog is voltooi.  Ons kan nie in die sonde bly nie.

Verlossing in sonde is nie moontlik nie, dit is altyd verlossing van sonde!

Daarom sê Paulus in vers 8: “Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.”  In die middel van hierdie hoofstuk oor kerklike tug is daar 'n opdrag om fees te vier!  Om te smul!  Met ander woorde: Word wakker, gemeente!  Jesus het gesterf en het opgestaan!  Die opstanding het gebeur!  Die nuwe skepping is hier.  Die Gees is in ons midde.  Die Gees wat ons leer om nee te sê vir goddeloosheid!

Die hele tydperk vanaf die opstanding tot die wederkoms is 'n fees vanweë alles wat aan ons gegee is.  Ons is bevry van die dood, die sonde en die tirannie van Satan, en geroep om in die koninkryk te wees!  Die Christelike lewe is 'n voortdurende Paasfees, van bevryding van die dood, deur die dood en opstanding van Jesus.  Ons leef vry van die sonde van kwaadwilligheid en die bose.  Ons het ons identiteit in Christus, ‘n lewe uit opregtheid en waarheid.  Of met ander woorde: lewe en leer.

Ons is afgesonder vir Christus.  Heilig, en daarom geroep om heilig te wees.  Kom ons lewe so, en hou mekaar aanspreeklik volgens daardie standaard.

Amen.