Nie gevoed met vaste kos nie, omdat julle die vlees navolg

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2022-04-24
Text: 
1 Korinthiërs 3
Preek Inhoud: 

Vers 1: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.”  Is daar soiets soos vleeslike en geestelike Christene?  Nee.  Paulus gebruik die woord sarkanoi, nie die ander woord vir vleeslik, naamlik psyschikoi nie, wat verwys na hulle wat nie Christelik is nie.  Paulus bedoel dat daar dié is wat jonger en ouer in die geloof is.  En ons weet dat kinders, veral kleintjies, dink dat die wêreld om hulle draai; hulle tree op soos dié wat vleeslik is.  En alhoewel die kerk weer gebore en geheilig is, het hulle steeds soos kindertjies opgetree.  Dit beteken nie dat hulle minder lewe het, of dat hulle minder verseker is van ewige lewe nie.  ‘n Kind is net iemand wat nie volwassenheid bereik het nie.  ‘n Kind se verstand is alles daar, dit moet net ontwikkel.

Selfs al het die Korinthiërs die denkwyse van Christus gehad, het hulle dit nie gebruik nie.  Hulle was nog kindertjies in die geloof.  Aan die een kant is dit ontmoedigend. Hulle is nog steeds kinders.  Maar die goeie nuus is dat kinders groei.  Paulus sê immers hulle is nog nie gereed vir vaste kos nie.

Hoe tree hulle op soos kinders, en hoekom kan hy nie aanbeweeg na die vaste kos van die evangelie nie? Omdat daar onenigheid is.  Vers 3: “… aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?”  As daar verdeeldheid in die kerk is, moet die predikant eers dít aanspreek voordat hy regte, vaste kos kan aanbied.

En wat dit so duidelik maak dat hulle die vlees navolg, is dat hulle gewone mense navolg.  Hulle volg letterlik die vlees na – Paulus, Apollos, Céfas – wat bloot net mense is van vlees en bloed (vers 4).

Nie gevoed met vaste kos nie, omdat julle die vlees navolg:

  1. Landbouers en landerye, 5-9

  2. Vuur en fondamente, 10-16

  3. Dwaasheid en nutteloosheid, 18-23

 

Landbouers en landerye

Vers 5: “Wie is Paulus dan, en wie Apollos…?”  Kom ons praat hieroor, sê Paulus.  Kom ons kyk na hierdie mense vir wie julle so hoog ag.  Wie is hulle?  Wie is die gerespekteerde predikante, professore en ouderlinge?  “Dienaars deur wie julle gelowig geword het”.  Net dienaars; dit is al.  Die kerk moet nooit oor die dienaars gaan nie, maar oor die Meester.  Wêreldse leiers soek magsposisies, sodat hulle gedien kan word.  Christelike leiers is almal se dienaars.  As God se dienaars voer kerkleiers hul verantwoordelikhede uit soos God dit aan hulle opgedra het.  Die verdeeldheid was dus oor blote dienaars! Hulle het nie hulle oë hoog genoeg gerig nie.  Die goeie dinge wat hulle van Paulus en Apollos ontvang het, moes hulle getrou aan God gemaak het, en nie aan God se aangestelde dienaars nie.

Hulle is dienaars, “deur wie julle gelowig geword het.”  Paulus sê dieselfde as in Romeine 10, dat geloof bewerk word deur die verkondigde Woord.  Maar dit is nie die persoon wat preek wat die verskil maak nie, maar wel die Woord wat gepreek word.  God gee aan elkeen sy opdrag, maar Hyself doen die werk.

Paulus verduidelik dit deur ‘n voorbeeld uit die landbou.  Ek hou van tuinmaak, maar ek is nie ‘n boer nie. Baie plante het na ons huis gekom net om dood te gaan, dikwels omdat hulle die verkeerde groei-omgewing het.  Maar soms misluk oeste deur dinge buite die boer se beheer – vloede, droogtes, siektes.

Al wat ‘n landbouer kan doen, is om die beste moontlike omgewing te skep vir die saad om te groei, maar hy kan nie ‘n enkele saadjie laat ontkiem en groei nie.  Slegs God kan dit doen.  In vers 6 sê hy: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.”  In vers 7 word die woordorde in die Grieks verander, en dit lui as volg: “So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.”  Hy beklemtoon sy punt, asof hy sê: Julle jaloesie, julle onenigheid, wys dat julle die punt mis!  Dit is God wat julle laat groei!  Die planter en die waterdraer is niks nie!  As die prediker niks is nie, dan is God alles!

Uiteindelik laat perfekte toestande nie sade ontkiem en groei nie.  God is die Een wat dit doen.  God gee geloof en laat dit opbloei. God is die Een wat sy kerk versamel, beskerm en bewaar.  Deur ‘n sekere ouderling of prediker op ‘n voetstuk te plaas en na te volg, mis jy die punt totaal.

Hy sê voorts: “Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een.”  Ons is besig met dieselfde werk – die skep van die beste groei-omgewing.  Dit is dwaas om vir Apollos na te volg en nie vir Paulus nie – as die een plant en die ander natmaak, het jy albei nodig!  Dit is belaglik om te dink jy kan plant sonder natmaak, of om water te gee waar daar nie geplant is nie!  Ons vergelyk dikwels predikers met mekaar.  Dis wat ons doen.  Maar miskien gee God ons die prediker wat ons op ‘n bepaalde tyd nodig het.  Hy gee ons nie wat ons wil hê nie, maar wat ons nodig het.  Elke werker het sy eie take in die akker van God.  Die akker behoort aan God, nie aan ons nie.  Hierdie is nie Johan se kerk, of die kerkraad se kerk nie.  Dit is God s’n.  Ons is net werkers in hierdie tyd en op hierdie plek in die groot historiese akker.

VGK Bellville is God se akker.  Daar was al baie ouderlinge en predikante voor dié wat ons vandag hier sien. En daar sal later nog kom.  Elkeen het sy eie gawes, sy eie spesifieke taak in die geskiedenis van hierdie kerk.  Plant, natlei, kweek.  En hulle is almal een. Moenie een prediker verhef bo ‘n ander nie, omdat almal uiteindelik dieselfde werk doen, en dit is om ‘n omgewing te skep vir maksimum groei.

Almal werk aan dieselfde taak – en elkeen ontvang sy loon in ooreenstemming met sy werk.

Pragtig – daar is ‘n beloning vir hulle wat hul werk getrou doen.  ‘n Beloning wat pas by die werk.  Die eerste beloning is reeds hier, om te sien hoe mense hulle bekeer en groei.  Paulus sê van die kerk in Thessalonika: “Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?  Want julle is ons eer en blydskap.”  (1 Thess. 2:19-20)

Geliefde gemeente, julle is die blydskap en die glorie van die ouderlinge; dit is vir julle dat ons werk.  En die beloning van ons werk is om te sien hoe julle Christus en die krag van sy opstanding leer ken, soos wat julle jul blare oopmaak, jul blomme na die Son van Geregtigheid keer, soos wat Hy oor ons skyn met genesing in sy vlerke.

Vers 9: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.”  Medewerkers.  Die belangrikste woorde hier is “van God”.  Soos wat dit God se gebou en sy akker is, is die werkers ook God s’n.  Hulle behoort aan God in dié sin dat hulle sy dienaars is. Maar hulle is ook medewerkers (‘sounergoi’).  Soos ‘n dienaar wat lewe in gehoorsaamheid aan die opdrag van die koning. Dit is die koning se werk, maar hy laat toe dat sy dienaars betrokke is in die bou van sy koninkryk!

Dit is wat die ouderlinge en die diakens is.  Dit is wat ek is.  Dienaars van God – medewerkers van Christus.  Dit is wie Apollos was.  Dit was nie ‘n gewildheids-kompetisie nie.  Dit was alles in diens van die oes, van die bouwerk.  Dit is wie julle is: God se akker, God se gebou.  Met ander woorde: julle behoort aan Hom.  Hy is die Eienaar van die akker; Hy is die Argitek.

Vuur en fondamente

Paulus verskuif die beeld van ‘n landbouer na dié van ‘n bouer van ‘n gebou.  En hy sê vir die Korinthiërs: “Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop.” (v.10)  Ek hou daarvan hoe hy die genade van God kombineer met sy eie verantwoordelikheid om sy gawes te gebruik.  Die genade van God bekragtig ons om te bou.  Ons het telkemale gesien hoe genade aan ons krag gee, ons verander, ons motiveer, ons lewend maak om vir Hom te lewe.  En in ooreenstemming met hierdie genade, met die sorg, presiesheid en selfvertroue van ‘n meester-bouer, het hy die fondament gelê.

En wat is hierdie fondament?  Paulus het gekom en Christus gepredik, en Hom as Gekruisigde.  Hy sê in vers 11: Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.”  Die fondament is reeds gelê.  Moenie dit weer doen nie.  As jy op enigiets anders bou, sal die kerk sink en verkrummel in die stof van die tye.  Dit moet op die rots gebou wees – die hoeksteen.  Om te bou, verg sorg en noukeurigheid.  ‘n Mens bou nie vinnig ‘n pragtige tempel nie.  Hy sê: “elkeen moet oppas hoe hy daarop bou.”

In die bediening is dit so maklik om kortpaaie te vat.  Om nie diep na te dink oor kerkbou nie.  Om nie voor te berei en te bid oor ‘n huisbesoek nie, om net op besoek te gaan en ‘n paar verhale te vertel en ‘n paar gemeenplase te deel eerder as om regtig te luister, te leer en te lei, in die genade en kennis van Christus.  Die kerkraad moet deeglik nadink oor die materiaal wat hulle gebruik om die kerk te bou.  Die predikant en ander voorgangers kan nie net ‘n paar verhale vertel om elke Sondag die uur te vul omdat dit maar die manier is waarop dinge hier gedoen word nie.  Dit gaan oor die ewigheid.  Die tipe materiaal, die krag daarvan en die diepte daarvan, sal blyk uit hoe lank dit hou.  Is dit sterk genoeg om die kerk deur die donkerste nag en die hewigste storm te dra?

Dit is hoekom ons as kerkraad toegewyd is om te preek en die Woord te leer.  Dit is hoekom ons begin het met toerustings-bediening om die evangelie op elke aspek van die lewe toe te pas.  Daarom het ons katkisasieklasse.  Daarom preek ons uit die Belydenisskrifte sowel as uit die Woord van God.  Vir ons as kerkraad gaan dit nie oor vermaak nie, maar eerder oor groei in genade en kennis van Christus.  Dit is waarop al die lering gebou is.  Op die persoon en werk van Christus.  Alles in die lewe moet in ooreenstemming daarmee wees.  Kerkleiers moet die evangelie hoog hou in die oë van hul lidmate, sodat Jesus Christus altyd die primêre fokus van die kerk se lojaliteit is.

Op die oordeelsdag sal blyk watter soort kerk dit is. Dit sal die lering openbaar.  Aan hierdie kant van die ewigheid is dit dalk nie so duidelik nie, want ons beoordeel die leier met menslike standaarde van sukses.  Maar aan die ander kant van die ewigheid sal alles duidelik gemaak word.  Net omdat dit ‘n groot gehoor trek, beteken dit nie dat dit altyd heilig is in God se oë nie.  Hulle wat werk in die Here se diens, vir sy kerk, sal hulle loon ontvang.  Maar: “As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (v. 15)  Dit gaan hier nie oor elke Christen nie.  In die konteks van hierdie hoofstukke gaan dit duidelik oor kerkleiers.

Indien ‘n kerkleier se werk verbrand word deur ‘n goddelike oordeel, sal die ware gelowige gered word, maar slegs soos een wat uit ‘n brandende gebou ontsnap.  Oordeel oor kerkleiers is strenger as oor ander gelowiges.  Jakobus 3:1 : “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.”  Daarom moet leiers God se kinders noukeurig lei.  Hulle moet die Woord bestudeer en die Here Jesus liefhê.  Hoekom is dit so belangrik?  Vanweë die kosbaarheid van die kerk en aan Wie die kerk behoort.

Dwaasheid en nutteloosheid

Twis en verdeelde lojaliteit tussen menslike leiers is nie net teen die Christelike bediening nie, maar dit is ook teen die ware aard van die kerk.

Vers 16: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”  Die woord wat hier vir tempel gebruik word, is nie die normale woord nie, maar ‘naos’, wat die deel van die antieke tempel aangedui het waar mense geglo het die god teenwoordig was.  Die mees heilige plek.  Die binnekamer.  Dit is merkwaardig dat Paulus glo dat selfs hierdie erg verwarde Christene steeds God se tempel is, waar God steeds teenwoordig is.

Net soos die Naam van God steeds in Salomo se tempel teenwoordig was (1 Kon. 8:29; 2 Kron. 6:2), net so leef die Heilige Gees in die Nuwe-Testamentiese tempel wat die liggaam is van die gelowiges wat in die Naam van Jesus vergader (Matt. 18:20).  Geliefde gemeente, weet julle dat julle God se tempel is?  Die plek wat Hy gekies het om te woon?  En die Gees van God leef in jou!  Dit is veral ‘n waarskuwing vir daardie kerkleiers wat nie bou op die fondament van Christus nie, maar wat hoorsê en skeuring bring.

Christene dink soms dat as hulle hul waarde as die tempel van God en as erfgename van Christus se Koninkryk besef, dit altyd tot sonde en hoogmoed lei.  Dit is nie waar nie!  Dit kan lei tot heiligheid en nederigheid.  Paulus vertel ons dat die kerk te kosbaar is om misbruik te word deur leiers wat hulle eie belange dien.  Ons moet goed let op die eer wat die kerk toekom.  As ons dit doen, sal ons sien dat menslike leiers diensknegte is van die een Leier wat alleen ons totale lojaliteit waardig is: Christus.  En Hy is goed.

“Ek verdien nie beter nie.”  Dit is wat baie vroue glo wat ly onder fisiese en emosionele mishandeling deur hulle eggenote.  Hulle dink hulle is onwaardig om goeie behandeling te ontvang.  Een van die eerste dinge wat ‘n berader moet doen, is om hierdie vroue te oortuig dat hulle te kosbaar is om hulle aan misbruik te onderwerp.  Dit is ook waar van die kerk.  Die kerk moet as heilig behandel word. “As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend…”  As ‘n kerkleier die kerk geestelik, emosioneel of fisies vernietig, sal God hom vernietig op die oordeelsdag.  God sal dit doen, want sy kinders is sy heilige woonplek.  Diegene wat God se kinders sleg behandel, mishandel die liggaam van Christus.  Die leiers van Korinthe moes die eenheid van die tempel bewaar, en nie vernietig met verdeeldheid nie.  As hulle die gemeenskap verdeel het, het hulle God se heilige tempel aangeval, sy liggaam en sy bruid.

En ten slotte gee hy ons nog een sterk aanmoediging:  Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word.” (v. 18)  Moenie dat mense vir jou lieg nie.  Moenie jou hoop en vertroue op ‘n mens plaas nie!  Moenie meegevoer word deur ‘n gewildheids-kompetisie nie.  Moenie dat julle harte jaloers word nie.  Word ‘n dwaas!  Hiermee word bedoel ‘n dwaas wat die evangelie van die gekruisigde Christus glo!

Die kerk kan so maklik deel raak van ‘n verbruikers-kultuur – ‘n gejaag na die nuutste en die grootste.  Wedywering met ‘n ander kerk in die buurt.  Wysheid in die oë van die wêreld is dwaasheid voor God.  Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is.” (v. 20)

Ons word weer eens in hierdie boek daaraan herinner dat die koms van die Koninkryk dinge omgekeer het:  menslike wysheid is dwaasheid, wat onlogies lyk is God se wysheid, leiers is diensknegte, die armes word opgehef.

Geliefde gemeente, laat ons nie roem in mense nie.  Laat ons nie hoogmoedig word in ons wysheid nie.  Hoogmoed lei altyd tot twis.  Hoogmoed lei altyd tot jaloesie.  Kinders baklei as hulle iets wil hê.  Daar ontstaan jaloesie as jy iets wil hê wat iemand anders het.  Maar Paulus sê: Julle het alles!  Daar is niks oor om oor te baklei nie.  Daar is niks oor om oor jaloers te wees nie!  Dit is absoluut dwaasheid en nietigheid!  Julle mors julle tyd om oor hierdie dinge te argumenteer.

Hy sê in vers 21: “alles behoort aan julle.”  As hulle tog maar mense vol geestelike wysheid sou word, sou hulle sien dat alles in Christus vir hulle gegee is.  Hulle het niks méér nodig nie!  Maar as jy nie die evangelie verstaan nie, dan sal daar verdeeldheid wees.  Maar die evangelie sê daar is niks meer om oor te baklei nie.

Alles is Christus se erfenis, en Hy deel die erfenis met alle gelowiges (Ef. 1:10-14).  Die geskenke wat die Korintiërs in Christus ontvang het, was grensloos, dit het leraars soos Paulus, Apollos en Céfas ingesluit.  Hierdie manne was geskenke van God aan die kerk en moes nie bronne van verdeeldheid geword het nie.  Boonop het die wêreld, lewe, dood, hede en toekoms alles aan hulle behoort.  Christus beheer al hierdie dinge en Hy sal dit onder die voete van sy gelowiges plaas.

Ons het geen basis van verdeeldheid nie, Vrye Gereformeerde Kerk van Bellville.  Hierdie manne is ook julle s’n.  Paulus is julle s’n, want hy behoort aan Christus!  En vandag bou ons steeds op hierdie fondament!  Christus en Hom as gekruisigde.  Die kerk het gesê: “Ek behoort aan Paulus of Céfas”.  Maar Paulus draai hierdie woorde om en sê: “Nee, julle redeneer verkeerd; hulle behoort aan julle!”  Die leiers behoort aan die Korinthiërs!  “Ons is julle s’n”, sê Paulus, en selfs Petrus.  Maar dit is so slegs in Christus, en Paulus voeg nog gou daaraan toe dat die Korinthiërs aan Christus behoort.  Slegs in Hom het hulle alles wat in vers 22 gelys is.

Dit is net wanneer jy jouself prysgee en aan Christus behoort dat jy al hierdie dinge verkry.  Dit is slegs as jy nie self die middelpunt van die wêreld is nie, maar Christus die middelpunt maak dat jy alles as wins verkry.

Geliefde gemeente, besef julle dat julle aan Christus behoort?  Dat daar niks meer oor is om voor te veg nie?  Daar is geen uitstaande skuld behalwe as om mekaar lief te hê met ‘n self-opofferende liefde nie.  Dit is waarop hierdie gedeelte afstuur: 1 Korintiërs 13.  Hy gee jou alles wat jy nodig het!  Ten slotte: Christus is van God; die Seun behoort aan die Vader wat oor alles regeer.  Die seëninge van die gelowiges is veilig, want Christus se plek by sy Vader is veilig.  Elke Christen – volwasse en onvolwasse – is in Christus.  Die verskil is hoe ver hulle hierdie kennis toegepas het.  Volg Christus, geliefdes, moenie die vlees volg nie.

Amen.