Die wysheid van God geopenbaar deur die Gees aan Geestelike mense

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2022-04-03
Text: 
1 Korinthiërs 2:6 - 16
Preek Inhoud: 

In 1 Korinthiërs bestaan die koninkryk van God uit Christus se bemagtiging van die Korintiërs se huidige bestaan.  Die kerk is die sigbare krag van God in die wêreld.  In Christus het hulle nou reeds alles wat hulle nodig het. Met Christus is hulle lewens nou geborge in God.  Nou het hulle die Gees.

Verlede keer het ons oor die persoon en die inhoud van die prediking gepraat.  Vandag gaan ons ‘n bietjie dieper kyk na wat tydens die prediking gebeur.  Een predikant definieer prediking as: “is God speaking in the power of His Spirit about His Son from His word through a man.” (Dit is God wat in die krag van sy Gees oor sy Seun praat vanuit sy Woord deur ‘n mens.)  Hierdie prediking word ontvang deur die wat die Gees het.  Of, soos Paulus sê, “geestelik is”.

Net vinnig iets oor die woord ‘geestelik’.  Wanneer Paulus hierdie woord gebruik, gebruik hy dit nie eintlik in kontras met die fisiese nie, maar plaas dit in teenstelling met iets wat nie van God is nie.  Daarom sê Paulus in 1 Korintiërs 15: “'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek.  Daar is 'n natuurlike liggaam, en daar is 'n geestelike liggaam.” (v. 44)  Hy praat nie oor ‘n ontliggaamde gees wat ons ontvang nie, maar oor ‘n ware liggaam, ontvang van bo – nie meer gemaak uit die stof van die aarde nie.

Die wysheid van God geopenbaar deur die Gees aan Geestelike mense:

  1. Die wysheid van God
  2. Geopenbaar deur die Gees
  3. Aan Geesvervulde mense

Die wysheid van God

“Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar 'n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie.”  Wie is hierdie volwassenes?  Is hulle ‘n groep eersteklas Christene?  ‘n Soort elite binnekring?  NEE!  Glad nie.  Dit is almal wat die wysheid van God ontvang het – dit is Christus en Hom as gekruisigde.  Die volwassenes is die wat onder die invloed van die Heilige Gees is.  Soos Carson sê: “The Spirit opens up entire vistas of understanding that would otherwise remain opaque to us.”  (Die Gees gee vir ons ‘n volle begrip van dit wat andersins vir ons ondeursigtig sou bly.)  Die Gees gee wysheid, maar nie die wysheid van hierdie tyd of van die heersers van hierdie tyd nie.  Die heersers van hierdie tyd is inderwaarheid onkundig oor hierdie wysheid.

Jy hoef nie baie ver te soek om die wysheid van hierdie tyd raak te sien nie.  Dit gaan oor selfvervulling.  Dit gaan daaroor om jouself uit te druk.  Dit gaan daaroor om jouself te wees.  Dit gaan daaroor om jouself te vind.  Dit gaan oor jou.  Die individu.  Dit gaan oor ons groepsdenke en identiteit.  Waar die stam die afgod word.  Dit is alles afhanklik van die mensdom.  Ons kennis, krag, wysheid.

Op hierdie Dankdag vir Gewas en Arbeid bid ons.  Die wysheid van hierdie wêreld sê: werk harder.  Dit is hoe die oeste en finansies meer word.  Hulle sien alle dinge as verdienste, ons sien alle dinge as ‘n geskenk.  Insluitend ‘n jaar van oorvloed.

Dit is ‘n “hond-eet-hond”-wêreld.  Doen wat ook al jy kan om bo uit te kom.  Maar uiteindelik is hierdie wysheid gedoem om verby te gaan.  Die werkwoord hier is in die teenwoordige tyd, wat beteken dat dit nou verbygaan.  Met elke dag wat verbygaan word die wêreld se wysheid gewys vir wat dit is.  Leeg.  Onvolwasse.  Ongeestelik.  Die wêreld se wysheid skei mense tussen sterk en swak.  Belangrik en onbelangrik.  Mooi en nie mooi nie.  Charismaties en nie.  Dit is nie die wysheid van God nie.  Hulle het deur hulle roem en verdeeldheid volgens die dwaasheid van die wêreld geleef en gedink soos onvolwasse kinders.

Dus, watter soort  wysheid dra Paulus oor?  Wel, op die mees basiese vlak is dit die wysheid van God.

Soos die teks sê: Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid.  Dit gaan nie daaroor om bo uit te kom nie, dit gaan daaroor om die minste te wees.  Dit gaan nie oor jou eie belang nie, maar dit gaan oor die belange van ander.  Dit is die wysheid van die kruis.

Dit gaan nie oor wat jy het nie, maar oor wie jy het.  Het jy vir God?  Het God Homself aan jou geopenbaar?  God het  hierdie wysheid tot ons eer bepaal!  Dit is niks minder nie as om deel te hê aan die werk van God in die komende tyd – wat alreeds in die teenwoordige tyd begin het deur die Gees.

Wat maak dit geheim en verborge?  Wel, daar is een manier waarop dit geheim en verborge is, naamlik as gevolg van die mens se sonde.  Wat vir ons heerlik lyk en wys is, is in werklikheid dwaasheid.  Maar selfs al was dit nie vir sonde nie, sou dit nog steeds verborge bly tensy God dit geopenbaar het.

Jy sien, as ek ‘n geheim het, sal niemand daarvan weet tot ek dit openbaar nie.  Ek moet my geheim openbaar.  Dit is oneindig meer waar van God.  Net God weet wat God weet.  Daarom kan net God aan ons openbaar wat God weet.

Maar die feit dat Paulus sê: “ons spreek” beteken dat dit nie meer geheim is nie.  Die geheime en verborge wysheid van God is die openbaring van ons Here Jesus Christus wat, soos die Bybel sê, “van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid”.  Of, soos 1 Petrus 1:20-21 dit so mooi sê:wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.”  Wat in die verlede geheim en verborge was, is nou geopenbaar tot ons saligmaking – tot ons eer!

Natuurlik kon nie een van die heersers van hierdie tyd dit verstaan nie.  Herodes, Pilatus en die Romeine was blinde dwase, want as hulle hierdie wysheid gehad het, sou hulle nooit die Here van heerlikheid gekruisig het nie.

Hulle sou nooit kon dink dat een of ander godsdienstige fanatikus van Nasaret, uit ‘n familie wat niks op hul naam gehad het nie, die Seun van God en die Verlosser van die wêreld was nie!  As hulle dit geweet het, sou hulle nooit die Here van Heerlikheid gekruisig het nie.

Paulus hanteer die trots van kerke wat deel geword het van ‘n wêreldse waardestelsel.  Van individue vir wie dit net gaan oor die nuutste en die beste, die sterkste en die mees oortuigende.  En hy slaan ‘n groot slag deur vir hulle te vertel dat hulle najaag van menslike wysheid hulle in dieselfde geselskap plaas as die mense wat die Here gekruisig het, vir Wie hulle beweer hulle aanbid.

Maar soos geskryf is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet”.  Wat geen oog gesien het nie.  Wat geen oor gehoor het nie, in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie.  Met ander woorde, jy kan jouself nie eens indink wat God voorberei het nie!  Jy kan dit nie waarneem met jou natuurlike oog, oor of verbeelding nie!

Die gewone maniere van verstaan (oog, oor, verstand) kan nie die geheimenisse van God waarneem nie.   Dit het nie by die mens ontstaan nie, dit is nie deur die mens bedink nie, dit is  nie deur die mens geïmplementeer nie.  En dit was ver bo wat die mens hom ooit kon voorstel.  Dit is dinge wat selfs engele verlang om na te kyk.  Lyk dit vir my en jou heerlik?  Lyk dit asof dit die verstandigste manier is om ons tyd te spandeer?  Nie vanuit ‘n wêreldse perspektief nie.  Dit lyk swak.  Gewoon.  Ronduit dwaas vanuit ‘n wêreldse perspektief.

Tog hou dit aan om die mees gebroke lewens radikaal te verander.  En gee plek aan die hoop van ‘n ewige koninkryk in ons!  Wie sou ooit kon dink dat die groep mense wat hier sit, verenig sou wees?  Dit is net ‘n werk van God deur die verkondiging en die Gees om ‘n nuwe mensdom te maak.  Want God gebruik die dwase, die lae en die veragte mense, en die dinge wat nie is nie, om die dinge wat is, tot niet te maak.  As jy nie ‘n Gees-bewerkte geloof het nie, kan jy nie iets besonders hier sien gebeur nie.  Jy sal meer fokus op hoe iets gesê word, en die welsprekendheid van die boodskap, eerder as op die inhoud.  Jy sal vir my sien, en nie die wysheid van God in Christus en Hom as gekruisigde nie.

Maar dit wat aan julle, wat die Gees het, meegedeel word, is ver bo julle verstand.  Dit behoort jou nederig te maak.  Dit is die boodskap van God Self wat vir jou ‘n weg baan om met Hom versoen te word en ‘n nuwe verenigde mensdom te maak in die kruis.

Geopenbaar deur die Gees

Dit is van God.  Soos ons lees in vers 10: Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar,   Sonder die Gees kan jy dit nie sien of hoor nie.  Soos wat ‘n toon-dowe mens nie ‘n Bach-konsert kan waardeer nie, of soos wat ‘n blinde nie ‘n pragtige Rembrandt-skildery kan waardeer nie.  Dit is ‘n gawe van God.  Die Vader het die Seun gestuur, en die Vader en die Seun het die Gees gestuur, sodat ons God kan ken.  Die feit dat God die Drie-eenheid is, is verstommend!  Want dit beteken Hy kan Homself openbaar.

Geliefdes, sonder ‘n sterk visie op die Drie-eenheid val alles uitmekaar.  Moet nooit toelaat dat iemand vir jou die leerstelling van die Drie-eenheid vertel nie.  Sonder God die Heilige Gees sou jy God die Vader nooit deur God die Seun leer ken het nie.  Alhoewel Jesus aan die kruis gesterf het, sou ons steeds in ons sondes en oortredings verlore geraak het as die Gees dit nie aan ons deur die Woord geopenbaar het en in ons lewe toegepas het nie.

Net die Gees van God openbaar hierdie wysheid.  want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.  Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?  Die Korinthiërs het natuurlik krediet gevat vir hul begrip van die evangelie en ander geestelike dinge, en gedink dat hulle dit deur menslike wysheid bereik het.  Ons kan dit maklik doen.  Om aan onsself krediet te gee vir al ons kennis en ons groot geleerdheid – eerder as om dit wat ons in ons belydenisskrifte het, as ‘n gawe van God te ontvang.  Ons kan spog en dink dat ons dit en dat gedoen het.  Maar, liewe gemeente, enigiets wat ons van God weet, is deur Hom deur die Woord en Gees aan ons geopenbaar.

As die Gees nie vir God aan ons openbaar nie, is dit ‘n hopelose saak dat ons Hom ooit sal leer ken.  Ons kan ons Bybels lees en ons hele lewe lank kerk toe gaan, maar sonder die Gees sal ons nie naby daaraan kom om God te ken nie.

C.S Lewis gee ‘n illustrasie hiervan wanneer hy sê: “As jy ‘n geoloog is wat rotse bestudeer, moet jy die rotse gaan soek.  Hulle sal nie na jou toe kom nie, en as jy na hulle toe gaan, kan hulle nie weghardloop nie.  Die inisiatief hang ten volle van jou af.  Hulle kan jou nie help of jou verhinder nie.  Maar gestel ‘n dierkundige wil foto’s van wilde diere in hul natuurlike wegkruipplekke neem.  Dit is ‘n bietjie anders as om rotse te bestudeer.  Die wilde diere sal nie na jou toe kom nie, maar hulle kan van jou af weghardloop.  Net as jy baie stil is, sal hulle kom.  Daar is ‘n begin van ‘n klein spoortjie van inisiatief van hulle kant af.  Gestel nou jy wil ‘n ander persoon leer ken.  As hy vasbeslote is om jou nie in sy lewe toe te laat nie, sal jy hom nie leer ken nie.  Die inisiatief kom van beide kante af, en dit is wat ons vriendskap noem.  Maar wanneer jy God leer ken, is die inisiatief aan sy kant.  As Hy Homself nie wys nie, sal niks wat jy doen jou in staat stel om Hom te vind nie.”

Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy sê:  So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.  En wat het gebeur?  Hy het Homself aan ons geopenbaar.  Paulus gaan verder: Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.”  Is dit nie interessant nie?  Ons het die Gees van God ontvang.  Vrylik.  Die Griekse werkwoord hiervoor (charizomai) dra gewoonlik die gedagte oor van gee sonder inagneming van verdienste.  Dit is verstommend.  Dit beteken die Een wat God ken en self God is, is die Een wat God aan jou openbaar sonder enige inagneming van hoe sondig of gebroke jy is.  Daar is hoop vir die slegste.  As jy vandag vir die eerste keer by ons is en dink dat daar geen hoop is nie, is ek hier om vir jou te vertel dat daar is.  As jy moed opgegee het nadat jy vir jare hier was en gedink het dat God jou nie kan red nie.  Hou op.  Moenie God belaster nie.  Hy gee vrylik.

En elkeen wat vandag in hierdie gebou is wat die evangelie van die Here Jesus Christus glo en in gehoorsaamheid aan daardie evangelie lewe, doen dit onder die invloed van die almagtige alwetende Gees van God.  Dit was nie menslike vernuf wat jou tot by hierdie plek van geloof gebring het nie.  Dit was nie wêreldse wysheid nie.  Dit was nie ‘n stelsel of ‘n tradisie nie, dit was nie ek of enige man wat voor my gekom het nie.  Dit was God.

Wat Paulus deel, kom van God af.  Hy is die Gees-bemagtigde boodskapper.  En die Gees gebruik daardie boodskap om die hart te beïnvloed.  Die boodskap self kom van God.  Ek is maar net ‘n mondstuk.  En die boodskap sal net ‘n tuiste vind by die wat ook die Gees het – of Geestelik is.

Aan Geesvervulde mense

Paulus skryf: “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.”  Wanneer ons die Bybel lees, wanneer ek preek, wanneer jy luister, het ons met God te doen.  Wat ons lees, is direk van die Gees van God.  Dit is gesaghebbend, asof God Self aan die woord is.  Sou jy luister selfs al hou jy nie daarvan nie?  Sou jy luister selfs al sou dit jou verneder?  Sou jy luister selfs al beteken dit lyding?  Sou jy luister selfs al sou God dit openbaar?  Nee, jy sou nie, tensy God dit aan jou geopenbaar het.  Dit is waar gebed en voorbereiding vir Sondag so belangrik is.  Om vir God te vra om jou voor te berei vir die boodskap.

Paulus daag ons en die kerk van Korinthe uit om in die spieël te kyk.  “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”  Dit is nie dat ‘n nie-Christen dit nie kan verstaan nie, soms weet hulle dit dalk beter as ander, maar hulle is nie in staat om die waarde daarvan te onderskei nie.  Dit lyk na ‘n sinnelose boodskap.  Dit verander nie die manier waarop hulle na die wêreld kyk nie.

“Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.”  Geliefde gemeente, ons is die tempel van die Heilige Gees.  Ons is vervul met die Gees.  Soos gelowiges se gedagtes deur die Gees beïnvloed word, neem hulle self die denke van Christus aan.  Hulle dink soos Hy dink; hulle evalueer die lewe soos Hy dit evalueer.  Hulle kyk anders na die hele lewe, nie in terme van dinge, of aansien, of belangrikheid nie, maar in terme van verhouding.  In terme van liefde vir God en die naaste.  En as hulle werklik verenig is met Christus en sy dood en opstandingslewe, dan kan hulle oordeel en onderskei wat reg en verkeerd is.  Die Geestelike mens onderskei alle dinge reg.

Sonder om dit reguit te sê, insinueer Paulus dat hy nie bang is vir hulle oordeel nie.  Hy ken vir Jesus.  Dit is oor Wie se oordeel hy omgee.  Dit is uiteindelik waaroor elke Christen die meeste omgee.

Paulus gaan verder: “Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig?”  Dit kom uit Jesaja 40:13.  Jesaja begin daardie hoofstuk met die prediking van die evangelie van troos dat Jerusalem se sondes betaal is.  Jesaja gaan dan voort om die ontsagwekkende omvang van God se krag te beskryf . En aan die einde van die hoofstuk vra hy: “Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die Here verborge, en my reg gaan by my God verby?” (v.27)  Hoekom sê jy dit? vra Jesaja.  Hoekom sê jy dat God se weë verborge is, dat daar geheime kennis is?  Spesiale krag?  NEE!  God het Homself geopenbaar!  Hy het Homself geopenbaar!    Sy weë is nie meer verborge nie!

Ons het die denke van Christus!  Teenwoordige tyd.  Hulle moes toepas wat hulle reeds gehad het.  Hulle moes uitleef wat hulle reeds geweet het.  Dit is dikwels waar van die kerk.  Daar is dikwels ‘n ontkoppeling tussen wat ons glo en hoe ons optree.

Die Korinthiërs het geleef asof hulle nie die Gees het nie.  Hulle het die wêreldse wysheid gevolg, wat neerkom op ‘n selfgesentreerde, soms kinderagtige, poging om dinge tot jou eie voordeel te manipuleer.  Ware wysheid van God word egter gesoek deur diegene wat voldoende volwasse (τέλειος) is om dit verantwoordelik uit te oefen tot voordeel van almal.

Ons moet hierdie gedeelte noukeurig oordink en seker maak dat ons ons lewenskeuses op God se ware wysheid baseer.  As ons dit nie doen nie, kan ons beste bedoelings ons ver weg neem van die regte pad. Soos een teoloog so gepas sê: “Die lam man wat die regte pad hou, oortref die hardloper wat die verkeerde pad neem.  Ja, dit is duidelik dat, wanneer ‘n mens die verkeerde pad hardloop, hoe aktiewer en vinniger hy is, hoe verder sal hy dwaal.”  Met ander woorde, ons kan hard werk en alles met groot oorgawe doen, maar as ons die pad byster geraak het, gaan ons al gou in die verkeerde rigting.

Eerstens moet ons erken dat Paulus se uitkyk so radikaal is dat dit moeilik is om op ‘n daaglikse basis vol te hou.  Dit verg voortdurende afhanklikheid van die Gees in eenheid met Christus.  Ons leef in ‘n wêreld waar die waarheid van die Christelike geloof elke dag bevraagteken en gespot word.  Televisie, boeke, tydskrifte, gewone gesprekke – noem maar op – ons vind dat mense vir wie ons respekteer vir hul geleerdheid en vaardighede met die aansprake van Christus spot.  Gevolglik begin ons dink dat Christelike perspektiewe minderwaardig, onvolwasse en ongeestelik is.

Paulus sê dat dit nie verder van die waarheid kan wees nie.  Dit is in feite baie beter, dit is die wysheid van die volwassenes, dit is van Bo.  Want die wysheid van God is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir die wat geroep is, is Christus die krag van God en die wysheid van God!  Jesus is die wysheid van God!  Jesus is die krag van God!  Dit word deur die Gees aan  ons geopenbaar.  Laat ons uit daardie werklikheid leef.

Amen.