Die wat roem, moet in die Here Jesus Christus roem

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-02-19
Text: 
1 Korinthiers 1:31
Preek Inhoud: 

Preek: 1 Korinthiërs 1:31

 

Ons het die afgelope weke aandag geskenk aan die Fariseërs.

Hulle posisie onder die volk, hulle leer, selfs hulle blywende invloed op die eerste gemeentes.

Ons het gesien dat die apostel Paulus ook ‘n Fariseër was.

Hy was dus ook deel van die strengste party onder die Jode.

Self was hy een van die strengstes onder die strenges.

Maar, wanneer hy hierdie brief aan die Korinthiërs skryf, beroem hy homself nie daarop nie.

Hy wys op God se onverdiende genade: “wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” (1 Kor 1:27-29) 
Paulus se onberispelike afkoms het vir hom vullis, drek, geword.

Al wat vir hom nou nog saak maak, is Christus:

“Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (1 Kor 1:30).
Ja, “Die wat roem, moet in die Here roem.” (1 Kor 1:31).

 

Tema: Die wat roem, moet in die Here Jesus Christus roem

 

Die geloof is nie ‘n prestasie nie.

Baie goeie dinge doen – goeie werke – daarmee verdien ons nie by God iets nie.

Nou wat is geloof dan?

Wel, dis duidelik, geloof is nie harde werk nie.

Die moordenaar aan die kruis het nie hard gewerk nie.

Al wat hy gedoen het, was om te sê: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” (Luk 23:42)

Selfs iemand op sy sterfbed, wat tot niks meer in staat is nie, kan tot geloof kom.

Dus weer eens, geloof is nie ‘n harde werk nie.

In Sondag 23 bely ons: Ons is regverdig, nie omdat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie.

As Gereformeerdes moet ons nie geloof inskuif in die plek van die goeie dade van die Roomses nie.

 

As die Skrif ons oproep: “wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8), dan is dit reg doen uit dankbaarheid, wetende dat Christus se reg doen reeds vir my skuld betaal het.

Dit is wat geregtigheid beteken: Reg doen voor God se aangesig.

Lewe volgens sy verbondswette.

En selfs ons geloof, iets wat mens doen sonder enige moeite, selfs daardie geloof is nie ‘n prestasie nie.

Geloof is nie 1% of selfs ‘n half % van die geregtigheid wat ons verskuldig is nie.

Christus se geregtigheid is die volle 100%.

Laat die prestasie van die geloof nie die plek van die prestasie van goeie werke inneem nie.

Geloof is nie ‘n prestasie nie, net soos bedel nie ‘n prestasie is nie.

Ek word geregverdig sonder enige verdienste van my kant.

Klaar punt uit.

Alles is uit genade.

Meer hoef daar nie gesê te word nie.

 

Maar maak dit ons nie onverskillig nie?

Kan ons nou maar lewe soos ons wil, en elke tweede maand nagmaal vier, wetende dat Christus daar is om ons sondes te vergewe?

Christus kan mos vergewe, dit is as ‘t ware sy beroep.

Maar so is dit nie.

Dan tuimel ons met ‘n ingebeelde hemel direk die hel in.

Die genade is gratis, maar nie goedkoop nie.

 

Soms hoor mens dat mense sê by die afsterwe van iemand:

Daardie neef van my was nie kerklik nie, maar hy het wel ‘n goeie lewe gelei.

Hy was ‘n voorbeeld vir ander.

Hy het altyd gereedgestaan om ander te help.

Hierdie word as ‘n soort van troos gesê.

Al was hy nie kerklik, nie gelowig nie, miskien sal God hom genadig wees, want hy was so ‘n goeie mens.

Hierdie is natuurlik uit en uit ‘n goeie werke redenering.

 

Maar wat van die volgende voorbeeld, ‘n voorbeeld van ‘n bejaarde broeder in die kerk wat te sterwe kom ...

Van hom word daar dan gesê:

Hy was iemand wat sterk gestaan het in sy geloof.

Hy het nooit getwyfel nie.

Hy was ‘n voorbeeld vir ander in sy standvastigheid.

Sy Skrifkennis was fenomenaal.

Hy het dinge altyd helder gesien.

Gemeente, volg u die redenering?

Want ook hierdie is uit en uit ‘n goeie werke redenering.

Nee, mens sal nie die woorde goeie werke daarin hoor nie.

Maar tog is die aandag gerig op daardie broeder, en sy geloofstandvastigheid.

Laat ons, tydens hierdie Nagmaalsondag, sulke redenerings agter ons laat.

Rig u aandag nie op die persoon nie.

Rig u aandag nie eers op die geloof nie.

Op grond van die waarde van jou geloof is jy nie voor God aangenaam nie.

Rig jou aandag op Jesus Christus!

Alleen sy voldoening, geregtigheid en heiligheid is jou geregtigheid voor God.

En dit is hoekom ons getroos is, as ‘n gemeentelid te sterwe kom.

Omdat daardie persoon in Christus mog ontslaap.

Alles is genade.

Sy of haar laaste woorde was:

Here Jesus, het medelye met ‘n sondige mens.

Dink aan my, ek, ‘n moordenaar, dief, owerspeler, kwaadspreker, kleingelowige, dink tog aan my, as U in u koninkryk kom.

Here Jesus, wil U my vashou!

Roep hierdie woorde uit, ook nou elke keer as aanvegtinge jou beetkry.

Want wie die Naam van Christus uitspreek, gee ‘n doodsteek aan die Satan.

Sê vir die Satan:

Ja, ek is baie sondig, jy is reg.

Maar Christus se voldoening is myne.

Daarom staan ek in die boek van die lewe.

Ja, ek is nog vuil van die sonde, maar tog staan ek regverdig voor God.

Sonder skuld.

 

En regverdig voor God beteken selfs nog meer as sonder skuld wees.

Jy kan geen skuld vir die belasting hê, maar dit wil nog nie sê dat jy ‘n vertrouensband met die belastinggaarder het nie.

Regverdig voor God beteken nie net nie skuld hê nie, maar ook dat daar ‘n lewendige vertrouwensband gegroei het met jou hemelse Vader.

 

En nou verbonde aan jou regverdiging, is ook jou heiliging.

Daaruit blyk die Vader se liefde.

Hy wil dat jy steeds meer die sonde agter jou laat, dat die Satan en die sonde jou steeds minder lastigval.

Hierdie heiligmaking duur tot jou sterfdag, en tot dan het jy nog nie die sonde in alle opsigte agter jou gelaat nie.

Daarom het ons ook die heiligheid van Jesus Christus nodig – sien vraag en antwoord 61 van die Kategismus.

Ja ook vir super gelowige en voorbeeldige mense is dit onontbeerlik dat nie net Christus se regverdigmaking nie, maar ook sy heiligheid op hulle naam te staan kom.

 

Geen vlees, geen enkele mens, kan voor God roem nie.

Maar Christus Jesus het vir ons geword geregtigheid en heiligmaking – vers 30.

Paulus noem ‘n hele ry dinge: wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing.

So laat die wat roem, in die Here Jesus Christus roem!

Laat ons onsself voorneem, net soos Paulus, om as dit by ons redding kom, van niks anders te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

 

Iemand het die geloof ‘n keer met ‘n emmer vergelyk.

Dan moet mens aan so ‘n ou emmer dink, waarmee arm mense op die platteland hulle water vir die dag gaan haal.

Die emmer is geroes, dit lek al.

So is jou geloof.

Dit gaan nie om die emmer nie, maar om die lewende water daar binne in.

Sonder die water beteken die emmer niks nie.

Met net die emmer gaan jy nie oorleef nie.

So ook jou geloof.

Jou geloof gaan jou nie salig maak nie.

Net met geloof sal jy ewig doodgaan.

Maar as jy die geloofsemmer vul met die lewende water van Christus, dan het jy die ewige lewe.

Die geloof is die emmer, die instrument, waarmee ek die geskenk van God mag gaan ophaal en gebruik.

 

Gemeente, gaan skep die lewende water met jou geroeste geloofsemmer, so veel as wat jy wil.

Moenie ophou skep nie.

Drink na hartelus!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 1 Korinthiërs 1:26-2:2

Teks: 1 Korinthiërs 1:31

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Paulus roep die Korinthiërs op om in die Here te roem (1 Kor 1:31). Waarin het die Korinthiërs geroem?
  2. Wat beteken die woord geregtigheid?
  3. Noem ‘n voorbeeld hoe Gereformeerdes die geloof in die plek skuif van die Roomses se goeie werke.
  4. Wat beteken dit dat Christus nie net vir ons geregtigheid geword het nie, maar ook heiligmaking (1 Kor 1:30)?
  5. Verduidelik hoe die geloof met ‘n geroeste emmer vergelyk kan word.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 99:1

Wet

Ps 24:2,3

Gebed

Skriflesing: 1 Korinthiërs 1:26-2:2

Ps 143:9

Teks: 1 Korinthiërs 1:31

Preek

Sb 34:2

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sind van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: 2 Korinthiërs 5:11-21; Ps 116:1,2; Sb 10:1

2e tafel: Heidelbergse Kategismus Sondag 23 v/a 60-61; Ps 138:3

3e tafel: Lofverheffing; Ps 138:4

Dankgebed

Kollekte

Ps 99:5

Seën