Die gebed is God se middel by uitstek om ons verhouding met Hom heel te maak.

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2023-01-22
Text: 
Jakobus 5:13-18
Reference: 
Jakobus-reeks #10
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

Ons is amper aan die einde van Jakobus se brief – vandag kyk ons na verse 13-18, en dan nog een preek, as die Here wil, oor verse 19 en 20. En hooplik onthou jy nog – en as daar een ding is wat jy van hierdie reeks moet onthou, dan is dit dít – dat Jakobus se groot doel met sy brief was om heelheid van geloof by sy lesers te bewerk. Heelheid – dus, dat hulle geloof heel en volkome sal wees; dat hulle nie hálfhartige gelowiges is nie, maar héélhartige gelowiges! Dink terug aan wat ons reg aan die begin van die brief gelees het, hoofstuk 1:4: “sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.” Dís Jakobus se doel... en hooplik is dit ook ons hartewens! En heelheid van geloof het natuurlik te make met jou verhouding met jou naaste (dis die horisontale verhouding, en dis waaroor baie van Jakobus se onderwerpe tot dusver gegaan het), maar heelheid van geloof het ook (en veral) te make met jou verhouding met God – die vertikale verhouding. Hoe word jou geloof heel in jou omgang met God?

Wel, sê Jakobus in hoofstuk 5:12, jou geloof word in elk geval nie heel deur die hele tyd te sweer nie. Hoekom sou Jakobus hier skielik oor eedswering praat? Dit is, broers en susters, omdat eedswering alles te make het met die vertikale verhouding – immers, wanneer jy ‘n eed sweer, so bely ons in Sondag 37 van die Kategismus, dan “roep jy God aan as die enigste Kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee.” Dus, in enige eedswering betrek jy God by jou woorde en dade. En dit was iets waarvoor die Jode – en moontlik ook die Joodse Christene aan wie Jakobus skryf – baie lief was; hulle het sommer maklik in die gewone omgang met ander mense ‘n eed gesweer. Sommer so lukraak! En dan sê Jakobus: Nee, dis nie hoe dit werk nie – die vertikale deel van jou geloof, jou verhouding met God, word nie heel deur te pas en te onpas God se Naam by jou woorde en dade te betrek nie; jou geloof word nie heel deur formeel God te betrek (dit klink baie vroom), maar in die praktyk speel Hy geen rol nie. Inteendeel, dis selfs baie skadelik vir jou geloof – dis vormgodsdiens, dis skynheiligheid! Nee, daar is ‘n ander manier om jou verhouding met God heel te maak – en dit, so wys Jakobus in ons teks, is die gebed! Daar is geen beter, geen mooier, geen kragtiger middel om tot ‘n heel geloof te kom nie... as om te bid. Dit is daarom nie verniet dat ons in Sondag 45 bely dat die gebed die vernaamste / die belangrikste deel van die dankbaarheid is nie. En dit is waarop ons vanaand gaan let.

Tema: die gebed is God se middel by uitstek om ons verhouding met Hom heel te maak.

  1. Bid persoonlik
  2. Vra voorbidding
  3. Bid vir mekaar

 

1. “Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid.” Dis nie die eerste keer dat Jakobus hierdie oproep doen nie. Nee, hy gryp hier aan die einde van sy brief weer terug na die begin, na sy oproep in hoofstuk 1 – daar gaan dit, in verse 2-4, oor beproewing van die geloof, oor lyding (is daar iemand onder julle wat ly?). En dan roep hy sy lesers in vers 5 op: “As iemand van julle wysheid kortkom” (d.w.s. wysheid om hierdie beproewing en lyding te kan hanteer), “laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” Bíd as daar moeilike dinge in jou lewe is! Praat met God daaroor, lê dit aan Hom voor! Vra vir wysheid! Gemeente, dit is so voor die handliggend, dis so deel van ons geloofserfenis – gebed! – maar hoe trou en aktief is ons werklik hierin? Jakobus self was vir seker aktief! Die eerste kerkhistorikus, Eusebius, vertel vir ons dat Jakobus se knieë so hard was soos ‘n kameel s’n as gevolg van die feit dat hy voordurend in gebed op sy knieë was. Net soos wat ‘n bouer se hande getuig van sy beroep, en ‘n langafstand-atleet se voete getuig van sy strawwe oefenprogram, so het Jakobus se knieë getuig van ‘n lewe van gebed.

Maar wat doen ons dikwels wanneer daar lyding in ons lewens kom – liggaamlike lyding, finansiële probleme, psigiese swaarkry, moeites in verhoudings? Toets ‘n slag jouself! As jy ‘n lysie van oplossings vir jou probleem of lyding sou moes optrek, watter plek neem die gebed in jou lysie in? Hoe dikwels tref dit my nie dat ek worstel met ‘n probleem, met ‘n moeilike saak, en na ure of selfs dae van worsteling moet ek tot die besef kom... ek het nog glad nie hieroor gebid nie. Ek het oplossings gesoek, ek het wakker gelê, ek het my kop gebreek oor hierdie saak, maar gebid? Gebed maak sigbaar dat nie óns in beheer is nie, maar Gód – en dit bring sy krag en sy genade in ons moeilike omstandighede in. En belangrikste van alles: gebed bring sy vrede in ons harte in! Dis wat Paulus ons leer in Filippense 4: “... laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” Dus, bring julle sorge en probleme by die Here, en laat dit by Hom! En wat is die gevolg? “Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” “Is daar dus iemand onder julle wat ly? Laat hom bid.”

Maar gebed is nie slegs vir swaarkry of lyding nie, broers en susters. Gebed is nie soos ‘n motorversekering, wat jy net gebruik wanneer iets breek of wanneer jy in ‘n ongeluk is nie. Nee, sê Jakobus vervolgens in vers 13, “is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.” En met psalmsing is ons nie skielik weg van die gebed nie. Nee, gebed neem in hierdie geval die vorm aan van ‘n lofprysing, ‘n dankgebed. Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons wél tot God bid in lyding en nood, maar vergeet om Hom vervolgens ook te dank wanneer Hy uitkoms gee? En daarom maak ons Kategismus in Sondag 45 ‘n punt daarvan om te sê dat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.” Die dankbaarheid mag nie agterweë bly nie! Ook in goeie tye, ook in voorspoed, is gebed die middel om ons geloof heel te maak.

 

Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing. Sien u die twee uiterstes? Ly en opgeruimd wees – doelbewus noem Jakobus hierdie twee uiterstes, sodat ons verstaan dat ons by hierdie twee uiterstes, maar daarmee saam ook by alle omstandighede tussen-in, ‘n biddende lewe moet lei. Baie persoonlik die gesprek voer met jou God. En dit kan en dit mag op enige oomblik van die dag of nag gebeur – immers, die enigste persoon wat dit waag om 3 uur in die oggend ‘n koning wakker te maak vir ‘n glas water, is ‘n kind. Dis die soort toegang wat ons tot God het. Daar is selfs ook ruimte vir, wat ons noem, ‘n skietgebed – soos wat ons dit vind by Nehemia in Nehemia 2:4-5 – daardie gebed op die ingewing van die oomblik, terwyl jy narkose kry vir daardie groot operasie, wanneer jy by die deur instap vir ‘n belangrike vergadering, wanneer jy by die voordeur staan van ‘n lidmaat wat jy besoek: “Here, help my! Here, seën my!” Maar, gemeente, ruim asseblief ook spesifieke tye in jou dag in vir gebed. Stiltetye, tye waarin jy alleen met jou God kan praat. Daar is geen beter manier om jou geloof heel te maak nie! Daar is geen beter manier om die gemeente heel te maak nie!

Maar ek haas my na ons tweede gedagte: vra voorbidding.

 

2. Want dit is hier, in verse 14 en 15, waar die wa van die eksegese gewoonlik die spoor byster raak. Skielik, so word dikwels beweer, bevind ons onsself nie meer in die sfeer van die gebed nie, maar in ‘n genesingsdiens – met opswepende musiek en flikkerende ligte. Mense met allerhande ernstige siektes word na vore geroep. Die gebedsgeneser lê sy hande op die siek liggaamsdeel, en hy begin luidkeels roep en eis dat die bose gees uit hierdie sieke moet uitgaan. ‘In die Naam van Jesus’ – dit is die woorde wat telkemale opklink, en intussen mompel die gehoor ‘amen, amen’. Is dit wat Jakobus bedoel wanneer hy sê: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het” (vers 14)? Dit is wat baie charismatiese en pinkstergroepe vandag glo – en dan word spesifiek hierdie Skrifgedeelte as bewysteks gebruik. Sien jy, hier staan dit dan: “laat hulle oor hom bid... en die gebed van die geloof sal die kranke red.” Dis mos duidelik! En daarmee saam word, op grond van die laaste woorde van vers 15, siekte dikwels aan ‘n spesifieke sonde gekoppel, en die genesing daarvan aan die krag van jou geloof; dis mos wat ons daar lees: “En die gebed van die geloof sal die kranke red ... selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word” (vers 15). En daar staan ons dan as gereformeerdes met ‘n mond vol tande, en ‘n hart vol vrae en twyfel: het ons dan iets gemis? Is ons geloof nie sterk genoeg nie?

 

Gemeente, ons moet ons nie deur hierdie skouspele laat omgooi nie; kom ons kyk baie nugter en gelowig na wat hier gebeur:

  • In die eerste plek moet ons opmerk dat die sieke baie dikwels deur hierdie gebedsgenesers op sy eie geloofskrag teruggegooi word – “as jy maar net glo, dan sal die wonder gebeur!” En as dit nie gebeur nie? Het ek dan te min geloof gehad? Dikwels is dit die implikasie. Ongeloof, twyfel, vashou aan ‘n sekere sonde – dit is die rede waarom genesing nie plaasvind nie. En so word die sieke teruggewerp op sy eie geloof, op sy eie geloofskrag, in plaas daarvan dat sy geloof op Christus gerig word.
  • In die tweede plek bevat hierdie genesingsdienste baie dikwels misleidende boodskappe, veral die boodskap dat God nie siekte wil hê nie! “God is teen siekte, God wil nie siekte hê nie!” En as iemand nogtans siek word, is dit as gevolg van sonde of bose geeste. Nou, die Bybel lê ook soms ‘n verband tussen sonde en siekte (1 Kor. 11:30, Joh. 5:14), maar ander kere word hierdie verband eksplisiet ontken (dink maar net aan die blindgeborene in Johannes 9). Wanneer ons daarom sonder enige bewys beweer dat ‘n siekte die gevolg is van ‘n sekere sonde, dan maak ons eintlik net soos Job se vriende – hulle het baie hoogmoedig gemeen dat die ellende in Job se lewe die gevolg moet wees van ‘n verborge sonde in sy lewe. Nogmaals, broers en susters, dit beteken nie dat daar nie ‘n verband kan wees nie – hartsiektes kán te make hê met ‘n ongesonde lewensstyl, ‘n blywende gestremdheid kán die gevolg wees van ‘n ongeluk na dronkbestuur; spanning en slapeloosheid kán die gevolg wees van verbittering of ‘n onbelyde sonde. Maar hierdie verband moet heel eerste deur die sieke self gelê word, en nie deur allerhande buitestaanders nie.
  • In die derde plek moet die sentrale plek van die gebedsgeneser vir ons ‘n gevaarteken wees. Die apostels het nooit enige genesings geadverteer nie, en Jesus verbied selfs sommige om hulle genesing bekend te maak. Maar in die meeste genesingsdienste staan die geneser sentraal, en word hy tussen Jesus en die sieke ingeskuif as ‘n soort middelaar. Maar Jesus is die enigste Middelaar!
  • En ten slotte moet ons raaksien dat, in die meeste genesingsdienste, die plaaslike gemeente geïgnoreer en omseil word.

En dit bring ons terug by ons teks. Want in ons teks gaan dit nie oor allerhande kwaksalwers wat probeer geld maak uit die ellende van ander nie – nee, in ons teks gaan dit oor die ouderlinge van die (plaaslike) gemeente, wat deur die sieke ingeroep word. En in ons teks gaan dit nie oor die uitspreek van ‘n dwingende magswoord nie (“in die Naam van Jesus beveel ek jou...”) – nee, in ons teks gaan dit oor voorbidding. In ons teks verkeer ons nie skielik in die sfeer van genesingsdienste nie, nee, ons is steeds in die sfeer van die gebed. Nou nie die persoonlike, eie gebed nie, maar die gebed déúr ander vír my – voorbidding! Want daar kan tye wees dat ons nie self kán bid nie, dat liggaamlike of geestelike siekte – soms deur sonde veroorsaak, maar baie dikwels ook nie – ons so kan verlam dat geen gebed oor ons lippe kom nie. Dit is ellendig (veral vir diegene wat nie kan bid nie), maar dit gebeur. Maar selfs dan, selfs wanneer jy nie self kan bid nie, hoef jy nie sonder gebed deur die lewe te gaan nie; jy hoef nie sonder gebed deur jou dal van doodskaduwee te gaan nie. Laat die ouderlinge kom, en laat hulle vir jou bid! Dít is wat sentraal staan in hierdie gedeelte.

 

En nee, hulle doen dit vandag nie meer met salfolie nie – dit was ‘n simbool uit daardie beginperiode. Ongelukkig het ons nie die tyd om dit breed uit te werk nie, maar ek noem net die volgende: toe Jesus sy dissipels uitgestuur het, “het hulle baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak” (Mk. 6:13). Dit was iets van die periode tydens Jesus se lewe en kort daarna, toe daar ‘n groep begaafde oudstes was wat saam met die apostels die gawe van genesing gehad het om daarmee die aanvanklik verkondiging van die evangelie te bekragtig. Ons is by daardie periode verby. Dit beteken nie dat genesing nie meer kan plaasvind nie – dit kan, die gebed van die gelowige het groot krag! Wanneer ons siek is, hetsy liggaamlik of geestelik, moet ons nie bid vir genesing, maar intussen diep in ons harte dink: ag, dit sal tog nie gebeur nie! Jy sal vreemd opkyk wanneer die Here doen wat jy nie verwag nie. En verder is daar ook vandag nog diep gelowige mense met ‘n sekere gawe van genesing – gaan vra maar vir die ouer generasie, daar was op ‘n stadium so iemand in hierdie gemeente; dis mense wat hulle gawe baie oordeelkundig en baie versigtig gebruik, maar hulle bestaan. Dus, die gawe van genesing is by uitsondering nog aanwesig, en genesig vind vir seker nog plaas. Maar ons moet die fokus reg hou: dit gaan hier oor die gebed, die gebed in ‘n baie spesifieke vorm, naamlik die vorm van voorbidding. Vra vir voorbidding van die ampsdraers in jou tyd van siekte en swakheid; roep hulle na jou huis en laat hulle vir jou bid. En ampsdraers, wanneer julle voorbidding doen, doen dit met oorgawe – smeek die Here, pleit by Hom, lê die lidmaat en sy / haar siekte opreg voor die Here neer. En wanneer daardie siekte of swakheid die gevolg is van ‘n sonde, en die lidmaat dit bely, verkondig dan vrymoediglik aan hulle die evangelie van genade, vertel vir hulle dat die Here hulle vergewe het. Wat ‘n heerlike taak!

En dan is ons laaste gedagte: bid vir mekaar.

 

3. Aan die einde van vers 15 gaan dit oor siekte as gevolg van sonde. Nou, in vers 16 sit Jakobus hierdie gedagte voort. Maar nou beperk hy die scenario nie meer net tot die ouderlinge nie, maar rig hy hom tot al die gemeentelede. Die spesiale amp van ouderling maak die amp van gelowige nie oorbodig nie; gemeentelede word nie uitgeskakel nie, maar ingeskakel in Jakobus se oproep tot gebed. Om mee te begin roep hy gemeentelede op om hulle sonde teenoor mekaar te bely. En wat moet die een, wat daardie skuldbelydenis aanhoor, daarmee doen? Wat doen jy wanneer ‘n broeder of suster jou vertel van sekere sondes in sy of haar lewe? Of nog meer persoonlik (en dis waarskynlik wat Jakobus hier bedoel): wat doen jy wanneer ‘n broeder of suster bely dat hy of sy teen jóú gesondig het? Jakobus se antwoord hierop is: bid vir mekaar! As iemand kom om sy sonde teenoor jou te bely, dan moet jy saam met daardie persoon bid; bid om vergifnis, bid om herstel. Nou, dit kan baie moeilik wees, veral as iemand jou ernstig te na gekom het. Maar slegs só, sê Jakobus, kom daar genesing – nie net vir die een wat gesondig het en as gevolg daarvan siekte of wonde opgedoen het, maar ook vir die een teen wie gesondig is en as gevolg daarvan dalk baie dieper wonde opgedoen het. Bid vir mekaar, gaan saam na die Here met die onreg wat gedoen is, met die seer wat daardeur ontstaan het, met die verswakte verhouding, met die hartseer en die pyn – sodat daar genesing kan kom, sodat julle gesond kan word. Jakobus betrek die hele gemeente by die gebed vir mekaar. Doen ons dit, broers en susters? Bid ons met en vir mekaar? O ja, ons bid baie – by kerklike vergaderings, in die eredienste, by die Bybelstudies. Maar bid ek ook een-op-een met my broeder of my suster wanneer hulle met hulle probleem, hulle sonde, by my kom? Dis baie persoonlik, ek weet, soms selfs ongemaklik-persoonlik. Maar daar kom die harte bymekaar voor die Vader in die hemel; daar word die knieë gebuig voor die kruis van Christus. Hoe baie van ons onderlinge verskille sou nie bygelê kon word wanneer ons op dié manier ons hande kan vou en ons harte voor die Here kan oopmaak nie. En hoe sal ons nie sien watter effek dit in die gemeente sal hê nie!

“Want die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag”, sê Jakobus. Eintlik sê hy: “Die gebed van die regverdige vermag baie wanneer dit werksaam word.” En hierdie ‘werksaam word’ hang nie af van die een wat bid nie, maar van God deur sy Gees – Hy gee aan ons gelowige gebede groot krag. Hy maak dat ons gebede groot effek het, dat dit iets uitwerk in ons lewens en in die lewe van die gemeente. Hy gebruik ons gebede in sy Koninkryk, net soos wat hy Elia se gebede gebruik het om sy volk tot Hom terug te bring (verse 17 en 18). Gebruik daarom hierdie wonderlike middel, broers en susters. Bid vir mekaar, en bid met mekaar. Vat mekaar se hande, gaan saam na die Vader.

-------------------------

En so word ons geloof hoe langer hoe meer heel in ons verhouding met God en met mekaar. God se Naam is nie maar net ‘n magiese staffie wat ons kan swaai – soos wat die Jode in hulle voortdurende eedswering gedoen het, en soos wat ons ook maar dikwels op allerhande maniere doen nie. Nee, God se Naam is ‘n sterk toring, ‘n magtige rots, ‘n veilige skuilplek. Welgeluksalig is elkeen wat sy toevlug neem by hierdie God – in die persoonlike gebed (maak tyd daarvoor!), in die voorbidding deur die ampsdraers (roep hulle na jou huis!), en in die gebed vir mekaar (vat mekaar se hande!). So word ons geloof volmaak, heel. En so word ons knieë hard, soos dié van ‘n kameel.

Amen

Liturgie: 

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

Sing Ps. 66:2, 7, 8, 9

Lees: Jakobus 5:12-20 (teks: verse 13-18)

Sing Ps. 25:1, 3, 7

Gebed

Preek

Sing Onse Vader (Skr. 28b; staande)

Gebed

Sing Geloofsbelydenis

Kollekte

Slotsang Ps. 118:4, 9 en 10

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.