Die eerste bede openbaar die rede vir ons bestaan

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2022-11-20
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 47
Preek Inhoud: 

Hoekom bestaan jy?

Hoekom leef jy op aarde?

Waar kom jy vandaan?

Waar gaan jy heen?

Hoekom gaan jy hierdie week jou werk doen?

Hoekom gaan jy aan die einde van die jaar vakansie hou?

Hoekom koop jy dinge vir jouself, ‘n huis, klere, ‘n voertuig ensovoorts?

Gemeente, glo dit of nie, maar al hierdie vrae het te make met die eerste bede van die Onse Vader, die bede Laat u Naam geheilig word!

 

Tema: Die eerste bede openbaar die rede vir ons bestaan

1 Wat met God se Naam bedoel word

2 Wat om te heilig beteken

 

1 Wat met God se Naam bedoel word

God het in die Bybel sy Naam aan ons bekend gemaak.

Sy Naam ... die is Hyself.

HERE is sy Naam – Jahweh.

Dit word dikwels vertaal as: Ek is wie Ek is, waarmee bedoel word:

Ek is betroubaar.

Ik verander nie.

Ek is nie onvoorspelbaar nie.

Jy kan om My vertrou, op My jou lewe bou.

Ek is altyd daar, gister, vandag en in die toekoms.

 

Die eerste bede, laat u Naam geheilig word, beteken volgens Sondag 47 allereers:

Gee dat ons U reg ken.

Ons kan nie sy Naam heilig, as ons Hom nie ken nie.

Ken is meer as net teoreties ken.

Mens kan ook sê: erken.

Ons onderskei in die onderlinge omgang dikwels tussen vriende en kennisse.

Kennisse staan verder van mens af as vriende.

Met kennisse het mens min of meer ‘n oppervlakkige verhouding.

Met vriende deel mens veel meer.

Jy ken hulle en hulle jou, maar nie net oppervlakkig nie.

Vriende het jy lief, hulle is kosbaar vir jou.

Om God reg te ken, beteken ook dat daar van ‘n hegte band sprake is, ‘n liefdesband.

 

Om God reg te ken hou vervolgens ook in dat jy bereid is om jou beeld van Hom reg te stel, soos wat jy groei in jou verhouding met Hom.

Die bereidheid om jou persepsies te laat vaar, as dit nie waar blyk te wees nie soos wat jou kennis oor Hom toeneem.

Ons ou sondige mense is immers gou geneig om uit allerlei ervarings ons eie denkbeelde te vorm.

 

Hoe leer ons God dan reg te ken?

Ons doen dit deur Jesus Christus.

Hy het die Vader aan ons verklaar (Joh 1:18).

Hy het God se karakter aan ons geopenbaar.

Dit waarvoor sy Naam staan.

“Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het.” – Johannes 17:6.

En: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” – Johannes 17:26.

Daar bestaan geen regte kennis van God, sy Naam en sy karakter buit Christus om nie.

 

Hierdie stelling sal in ons huidige samelewing as baie onverdraagsaam bestempel word – die feit dat daar geen regte kennis van God moontlik is buite Jesus Christus om nie.

Dit beteken heel konkreet, dat mense wat God dien volgens die Islam, en mense wat hulle gode dien in Indië volgens die godsdiens Hindoeïsme, en mense in Afrika wat God dien deur hulle voorvaderverering, dat al hierdie mense God dus nie reg ken nie.

Daar is maar een weg wat na God toe lei, na egte betroubare kennis van God, en dit is die weg deur Christus.

 

Wat ‘n feit is, is dat elke mens op aarde kan weet dat God bestaan, dat Hy alles geskape het.

Elke mens het daardie besef diep in sy wese, hoe hard hy ook probeer om dit te onderdruk.

Mense kan dit raaksien in die werklikheid om hulle heen, hulle kan dit aflees uit die sogenaamde boek van die skepping, soos artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dit beskryf.

Maar egte betroubare kennis van God, kennis wat ook lei tot ons redding van die dood, dit kan ons self nie nie bereik nie.

As mense veroorsaak ons sondige geaardheid dat ons die waarheid onderdruk.

Daar is maar een roete tot die bevrydende kennis van God en dit loop deur Christus.

Ken jy Christus se Woord, vertrou jy op dit wat Hy in sy Woord sê?

 

Laat u Naam geheilig word.

Daarmee bid ons dus eerstens dat ons God ken soos sy Seun Hom aan ons geopenbaar het.

Slegs Hy, wat van die Vader af gekom het, kan presies vertel wie Hy is, en wat sy Naam inhou, wat daar met sy Naam bedoel word.

So is die eerste bede dus eerstens ‘n oproep aan ons om erns te maak met die bestudering van die Woord.

Dit is Christus se weg tot betroubare kennis van die Vader.

 

(Tema: Die eerste bede openbaar die rede vir ons bestaan

1 Wat met God se Naam bedoel word)

 

2 Wat om te heilig beteken

In hierdie woord, heilig, skuil die betekenis van afgesonder, apart, anders.

God is heilig.

Hy is anders.

Totaal anders.

Hy behoort nie by die sondige werklikheid van die wêreld waarin ons lewe nie.

Hierdie werklikheid dra ons stempel, die stempel van die sonde en die gevolge daarvan.

God is nie deel van hierdie gevalle, onvolmaakte werklikheid nie.

God is wel aktief in hierdie gebroke wêreld.

Hy is nie ‘n afsydige God nie.

Hy is ons Vader, wat aanwesig is.

Maar Hy is wel ‘n heilige Vader.

Hy moet daarom gevrees word.

 

As ons bid: laat u Naam geheilig word, dan lê ons met hieride bede ‘n verband tussen God se Naam en ons lewe.

Dat ons lewenswyse nie God se Naam skade sal berokken nie.

Dit ons lewe sy Naam nie sal ontheilig nie, maar juis sal heilig.

Hierin is ons heeltemal aangewese op Christus.

Die straf vir die ontheiliging van sy Naam hier op aarde, het Hy aan die kruis gedra.

By die kruis begin ons heiliging van God se Naam.

By die kruis begin sowel vrees as vertroue.

 

God het ons in Christus geheilig, dit wel sê afgesonder, apart geplaas, toegewy.

Dit gebeur konkreet deur die werk van Christus se Gees in ons.

Hy maak ons anders, soos Hy anders is.

Hy maak dat ons op Christus begin lyk.

Wees heilig, want Ek is heilig! beveel die HERE sy kinders.

Dit is die bekende oproep in die Bybel vir hulle wat by God se volk hoort.

Uit onsself kan ons dit nie, maar in Christus begin ons om steeds meer heilig te wees.

Sy Gees lê steeds meer beslag op ons lewe, sodat ons meer en meer sy Naam heilig.

 

Julle moet geheel anders wees!

Dit is waartoe die eerste bede oproep.

Julle kan die wêreldgelykvormig bly nie.

Wie naby die Vader leef, word heilig.

Wie naby die Vader leef, ja selfs sy kinders genoem word, mag sy Vadernaam nie in die skande steek nie, maar moet Hom met hulle lewens eer en prys.

Eer, roem en prys.

Dit is waaroor die lewe uiteindelik gaan.

Die verering, die aanbidding van God.

Dit is die doel van ‘n menselewe.

Dit is die doel van die hele skepping.

Dink bietjie hieroor na!

Om ‘n voorbeeld te noem: Wat is die doel van ‘n boom?

Is die doel van ‘n boom om afgesaag te word vir houtproduksie?

Is die doel van ‘n boom om skaduwee te verskaf in ‘n tuin?

Is die doel van ‘n boom om as verfraaiing van die landskap te dien?

Is die doel van die boom vir kinders om in klim?

Is die doel van ‘n boom om die stormwind te keer?

En dan oor mens soms nog hier in Afrika: Die doel van ‘n boom is om ‘n blyplek vir geeste te wees.

Wat is eintlik die hoofdoel van ‘n boom?

 

Net so kan ‘n mens vra: Wat is die doel van my lewe?

Leef ek vir my beroep, om daarin goed te wees, om ‘n diens aan ander te verskaf?

Leef ek vir my kinders, om ‘n pa of ma vir hulle te wees?

Leef ek om te geniet, om te reis en die hele wêreld te sien?

 

Gemeente, as ons die eerste bede behandel, dan klink hierdie vraag:

Wat is die doel van jou lewe?

En dan is dit geweldig ryk om te besef dat die mees fundamentele doel van ‘n mens se lewe, grondliggend aan alle ander dinge waarmee ‘n mens homself besig hou en waarna hy streef in sy lewe, die mees fundamentele doel is om God te loof en te prys.

Om die Skepper van die lewe daarvoor te dank en Hom te verheerlik.

Dit wil nie sê dat jy die hele dag jou hande vou en bid nie.

Maar gewoon doen wat jy doen, so verheerlik jy God.

God is die Skepper van jou lewe.

Aan Hom kom toe die eer vir die lewe.

Net soos die bome, die diere en heel die skepping God eer en prys deur te wees wie hulle is, soos hulle geskape is, so werk die ook by die mens, die kroon van God se skepping.

 

In die paradys het alles Hom geëer en aanbid.

Die mens het daar ook in die regte verhouding met God geleef.

Dit is nou nie meer so nie.

Maar daar kom ‘n dag dat dit weer so sal wees!

Dat die woorde van Psalm 8 ook weer vir die mense volledig sal geld:

“O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (vers 2)

Sy heerlikheid skitter in sy werke.

Sy heerlikheid skitter die meeste in die werk, die verlossingswerk, wat sy Seun op aarde gedoen het.

Ons het dit vandag aan die nagmaal herdenk.

Sy werk gaan voort in dit wat die Heilige Gees doen – vernuwing van die kroon van die skepping, herskepping van alles wat deur die sonde vernietig en beskadig is.

So word sy heerlikheid op aarde hervestig.

 

Sy heerlikheid is nog steeds te sien in die natuur, hoeseer dit ook beskadig is.

Sy heerlikheid is ook te sien in die geskiedenis, al val die skaduwee van die sondige mense ook oor die geskiedenis.

Maar Hy bestuur steeds die wêreld.

Hy bestuur dit so dat dit ten goede meewerk vir wie Hom vrees, en dat dit afstuur op die herskepping.

 

Eer, roem en prys.

Dit doen ons dus saam met die hele skepping.

En ons doen dit met ons hele bestaan.

In ons gedagtes, woorde, dade, in ons gebede en liedere, ons werk en slaap, vakansie hou, of ons kerk toe gaan of winkel toe, of sportveld toe, waar ook heen, ons eer, roem en prys Hom.

Met heel ons bestaan heilig ons sy Naam.

Jy behoort aan Hom.

Deur Hom te eer en prys word jou lewe die moeite werd.

Dit is die doel van jou lewe, om vir Hom te lewe.

Wees in alles gerig op sy eer, op die heiliging van sy Naam.

Want as elke dag en elke aktiwiteit in jou lewe nie op Hom gerig is nie, dan ontheilig jy sy Naam.

Deur ‘n verkeerde lewenskoers word sy Naam gelaster.

Dus nie net as jy letterlik vloek nie, maar ook as jy primêr vir jouself lewe, dan laster jy sy Naam.

Jy lewe moet die regte rigting hê.

Om vir Hom te lewe, bring orde in jou lewe, en vreugde, en die besef dat jou lewe sin maak.

Hierin mag ons ligtende voorbeelde wees in ‘n donker wêreld, ‘n onseker wêreld, ‘n koerslose wêreld, ‘n ankerlose wêreld, ‘n wêreld wat bang is vir die toekoms.

So het die eerste bede ‘n missionêre spits.

Die Here wil ons lewens gebruik.

Die feit dat ons uitstraal dat ons lewe sinvol is, dat ons in alle omstandighede tog blymoedig is, dit werk aansteeklik.

Dit maak ander ook lus om so te begin lewe soos ons, om ook hulle lewensanker te vind in Christus, en in sy kerk, die ark van die nuwe verbond wat in Christus geanker is.

Laat ons so sy Naam aan ander bekend maak, nie net deur wat ons sê nie, maar ook deur hoe ons lewe.

Ons getuig hoe goed dit is om met God deur die lewe te wandel.

So neem God ons in diens om sy Naam te heilig, aan sy Naam bekendheid te gee, om ontsag vir sy Naam te bevorder, om hierdie ontheiligde wêreld weer vir Hom te heilig.

Dit is sy herskeppingsplan.

Soos dit so mooi verwoord word in die volgende lied in Openbaring:

“Groot en wonderlik is u werke, Here God, almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.” (Openb 15:3-4)

Dit moet die rede wees vir alle nasies se bestaan, om sy Naam te heilig en verheerlik.

En al gebeur dit vandag nie, al jaag die nasies agter hulle eie selfsugtige belange aan, die dag sal kom dat dit weer waar sal wees, dat elke nasie, elke mens op aarde, slegs sal leef om Hom te loof.

Dan sal die vreugde en vrede op aarde volmaak wees.

In die heiliging van sy Naam vind ‘n mens sy hoogste vreugde.

In die verheerliking van Hom, bereik ‘n mens sy volmaaktheid.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 145:1-4

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed

Ps 145:5

1e tafel: Psalm 8 & Openbaring 15:1-4; sing: Ps 8:1-4

Lofverheffing & Gebed

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 47

Preek

Sb 37:1-3

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 145:6,7

Kollekte

Ps 145:10-12

Seën