Pas op! Vir wolwe in skaapsklere

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2020-11-08
Text: 
Mattheus 7: 15 - 23
Reference: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

Mag God ons vandag eerlikheid gee as ons weer voor God en sy Woord staan; hier waar ons Here en Koning tot ons spreek.  Mag Hy aan elkeen van hierdie broeders wat vandag in die ampte van ouderling en diaken bevestig word, die moed gee om altyd in waarheid, liefde en geduld die kudde te lei, en die krag om onder die aanvalle van die duiwel sterk te staan terwyl hulle Jesus Christus volg.  Hy staan sentraal in hierdie gedeelte.  Daar word gepraat met die gesag van Iemand wat selfversekerd is en homself ken as die Een voor wie alle mense, van Adam se tyd tot vandag toe, eendag rekenskap sal moet gee.

En die eerste woorde in ons gedeelte van vandag is ’n opdrag in die vorm van ’n waarskuwing: Pas op!  Die eerste kontras wat ons in hierdie gedeelte gesien het, is die pad waarop ons kies om te loop.  Die smal of die breë pad; hier gaan dit oor die persoon vir wie ons wil volg, en aan wie ons toestemming gee om die verkeer op daardie pad te beheer.  As ons nie versigtig is nie, sal die leiding aangebied word deur diegene wat lyk asof hulle baie weet oor geestelike dinge, maar die verkeer tot hulle eie voordeel beheer.  En ons self, as leiers, moet begin en eindig met die evangelie sodat ons nie op ’n dwaalspoor gelei word nie.

Pas op!

  1. Vir wolwe in skaapsklere
  2. Vir ’n Christus-lose Christenskap

Wolwe aangetrek soos Christene

Pas op vir die valse profete.  Pas op! sê Jesus.  Dit beteken dat ons met gespitste ore luister.  Ken jou Bybel. Ken Jesus, en wees voortdurend in gemeenskap met Hom.  As jy nie is nie, is dit onmoontlik om op te let vir valse profete.  Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.

Waaraan sal jy weet dat hulle valse profete is?  Nie eerstens aan dit wat hulle sê nie, maar aan hoe hulle lewe.  Dit is hoe vers 16 begin en vers 20 eindig. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.

‘n Valse profeet loop nie rond met die woorde “valse profeet” op sy voorkop nie.  ’n Dominee of ouderling loop nie rond en sê: “Ek is ’n huigelaar, moenie vir my stem nie”.  ’n Valse profeet is daardie man wat elke Sondag kerk toe kom.  Wat mooi praat, wat lyk asof hy al die regte dinge sê.  Hy is aangetrek soos ’n goeie middelklas voorstedelike man.

Satan val die kerk byna nooit van voor af aan nie; hy wil die kerk eerder van binne skeur.  Die Fariseërs was die godsdienstige elite van die samelewing, die mense wat regverdig was.  Dit is hierdie mense wat die gevaarlikste is en teenoor wie Jesus Hom die strengste uitgespreek het.

Hulle lyk goed van buite, maar dra geen vrug nie.  Kyk met watter woorde spreek Hy hierdie sogenaamde heilige manne van ouds aan: “Alles wat hulle dan vir julle sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie.” (Matt. 23:3)  Of: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self.” (Matt.23:15).  En in vers 28: “So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.”

Dit is die profete van die Ou Testament wat vrede verkondig terwyl daar geen vrede is nie.  Dié wat meer besorg is oor vrede as oor die heerlikheid van Christus en die diens aan Hom – die enigste plek waar ware vrede gevind word.  Dit is die profete wat, voordat hulle ’n besluit maak, mooi sal kyk om seker te maak dat niemand ontsteld sal raak nie, eerder as om mooi te kyk na dit wat God in sy Woord wil hê.

Hierdie broeders wat julle gekies het, is broeders wat bo alles hulself aan die Woord van God toegewy en onderwerp het. Hulle begeer om Hom te volg, en jou te wys op die weg in woord en lewe vir Hom.  Die teenoorgestelde van valse profete.

Valse profete is leiers of lede van die kerk wat niks weet van die regverdigheid van die hart waarvan julle die afgelope jaar gehoor het nie.  ’n Regverdigheid wat slegs van Christus kom.  Hulle het niks geweet van wat dit is om jou lewe, aansien en eer prys te gee vir God nie.  Hulle wou op hul eie geregtigheid vertrou, hoe gebrekkig ook al, in plaas daarvan om deur die nou poort te gaan, Jesus te bely en in Hom rus te vind. Hulle lyk soos ons, hulle ruik soos ons.  Maar hulle is nie van ons nie.  Regverdigheid deur die werke.  Ek sal op my eie daar uitkom.  Dit is die breë pad.  Ek het niemand nodig nie.

Selfs iemand met die beste bedoelinge kan om die bos gelei word as hulle nie versigtig is en hulle oë op Christus hou nie.  Profete kan maklik deur mense onder druk geplaas word in ’n reeks onskadelike en amper onmerkbare kompromieë, sodat hulle moontlik sélf ook deur hulle eie skaapsklere mislei kan word.  Die profeet moet alle versoekings vermy wat die oortreffende regverdigheid in die gedrang kan bring; kompromieë sal lei tot dit wat “’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” Geliefde gemeente, bid vir ons dat ons in Christus mag groei; dat ons Hom sal liefhê en Hom aan julle sal wys.

Ons word geroep om hulle te identifiseer en raak te sien.  Vrugte is ’n wonderlike metafoor vir dit wat die Christen voortbring.  Dit wys dat die Christelike lewe ’n resultaat is van die eenheid met God.  Die lewe wat ons leef is nie net iets wat ons vir God doen nie, maar wat God in ons en deur ons doen.

‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!  Jy hoef nie ’n plantkundige te wees om dit te verstaan nie.  “So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte.”  Met ander woorde, as jy ’n distel is, sal jy slegte vrugte dra – maak nie saak wat nie.  As jy in Christus, die wynstok, is, dan sal jy goeie vrugte dra – maak nie saak wat nie.  wat is die vrugte wat jy deurgaans dra?  As jy nie in Christus is nie, kan jy nie goeie vrugte dra nie.  Al die goeie wat jy doen, is nie goed nie; dit is goddeloos.  Dit is werke wat buite God gedoen word.

Wat is die goeie vrugte?  Dit is die vrug van die Gees.  Vrugte wat wys dat Christus in jou is.  Hierdie gedeelte eindig met ’n sterk waarskuwing:  “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”  Vuur is die oordeel van God.  Wat jy glo, sal verander hoe jy lewe.  As jy dit nie uitleef nie, dan het jy nooit werklik geglo nie, en dan is jou geloof leeg!  Dit bring ons by ons tweede punt.

Vir ’n Christus-lose Christenskap

Jesus maak hier een van die mees ontstellende opmerkings in die hele Skrif in vers 21: Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Wie is hierdie mense wat sê: “Here, Here!”? Dit is die eerste vraag. En die volgende vraag is: wie is die mense wat die wil van die Vader doen?

Wat betref die mense wat sê: “Here, Here!”  Kom ons kyk na wat Jesus oor hulle vertel in vers 22:  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

Eerstens moet ons oplet dat die woord “baie” hier gebruik word.  En baie beteken baie.  Daar sal baie wees wat dit sê.  Nou is my diepste gebed dat daar geeneen van hierdie “baie” onder ons is nie.  Hierdie woorde moet ons tot gebed bring.  Dit moet ons na God toe dryf.  Dit moet ons laat kniel voor God en ons laat pleit op sy barmhartigheid en genade.  Pleit op sy genade.  Want ons is swak, maar Hy is sterk.  As ons dink dat ons sterk is, moet ons oppas dat ons nie val nie.

Tweedens gebruik hulle die Messiaanse titel vir Jesus.  Hulle noem Hom “Here”!  Nie net een keer nie, maar twee keer bely hulle hul sogenaamde trou aan Jesus.  Hulle is mense wat oor Jesus praat en sê dat hulle in Jesus glo!

Derdens, sommige van hierdie mense het wonderlike bedienings!  Suksesvolle bedienings!  Hulle profeteer in Jesus se Naam, hulle dryf duiwels uit in Jesus se Naam, hulle doen kragtige werke in Jesus se Naam. Hulle gaan maklik om met die Naam van Jesus.  Dit is nie so dat hierdie bewerings vals is nie.  Maar dit is onvoldoende.  Maar let op: hulle argument om die koninkryk binne te gaan, is hulle eie werk.  Here, ons het dit gedoen!  Selfs in hulle werk vir Jesus wil hulle die eer ontvang en nie die eer aan Jesus gee nie.  Hulle staan gereed met hul argumente.  Jesus, ons het dit en dit en dit en dit vir U gedoen!  Wat bedoel U dat ons nie die koninkryk mag binnegaan nie?!  Ons het U werklik gehelp!  Ek was my hele lewe lank ’n ouderling!  Ek was my hele lewe lank ’n predikant!  O, hoe versigtig moet ons wees om hierdie dinge ons toegangskaartjie na die hemel te maak!  Nee, ons doen hierdie dinge weens sy lewe in ons.

Kyk na dit wat Jesus sê:  “En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”  Jesus sê: Ek het julle nooit geken nie?!  Hoekom?  Want hulle het dit nie vir Hom gedoen nie, maar vir hulself.  Dit was nie Christus in hulle nie.  Let op die verskil tussen hierdie mense en dié wat wél die koninkryk binnegaan.  Hulle besef nie eers dat hulle die Koning dien nie.  Hulle doen dit vanuit hulle hart.  Dit is wie hulle is.

Hulle weet van Hom.  En gebruik Hom, maar aanbid Hom nie.  En daarom, helaas, ken Hy hulle nie.  Want Hy sê: “Ek het julle nooit geken nie, julle wat die ongeregtigheid werk.”  Die vraag is: gebruik jy Jesus, of dien jy Hom?  Is Hy die Meester in jou hele lewe?  Of slegs in sekere areas waar jy Hom wil hê?

Dit behoort ons almal te laat nadink.  Dit kan so maklik wees om jouself te vergelyk met ’n algemene breë kulturele pad van Christenskap en te dink dat jy nog reg is.  Jy kom nie in die hemel omdat jy baie oor Jesus praat nie.  Of omdat jy sê dat jy alles in sy Naam en vir Hom doen nie.  Jy kan sy Naam heeldag elke dag sê, maar nie ’n stappie nader wees aan die koninkryk as jou buurman wat niks van Christus weet nie.  Om net Jesus se Naam te noem of goeie werke in sy Naam te doen sal jou nie in die koninkryk van die hemel laat kom nie.  Onthou: Jesus stel nie belang in wat jy doen nie, maar in wie jy is.  Hy stel nie belang in jou werke nie, maar in jou verhoudings.  Dit gaan nie daaroor dat jy God ken nie, maar dat Hy jou ken!  Herken Hy Homself in jou?!

In die program genaamd “Evangelism Explosion”  (“Evangelisasie-ontploffing”) is een van die vrae wat gevra word: “As jy nou sou sterf en voor God sou staan, waarom dink jy moet God jou in die hemel toelaat?”  Baie mense sal sê: “Wel, ek was nie ’n slegte man nie.  Ek het niemand besteel, bedrieg of vermoor nie.  Ek probeer almal respekteer.  Ek gee baie aan die armes.”  Dit is soortgelyk aan die argument wat hierdie mense gebruik; hulle kyk na die buitekant.  Hulle onthou al die goeie dinge wat hulle gedoen het.  En as iemand hulle vra, het hulle ’n lys van twaalf bladsye lank.  Maar hierdie hele preek gaan oor jou hart voor God, en jou uiterste behoefte daaraan dat die dood en die lewe van Jesus Christus in jou te werk.

Wie is dan die mense wat die wil van die Vader doen?  Hulle is mense wat ware geloof het.  ’n Geloof wat vrug dra.

In Johannes 6 word Jesus gevra: “Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?”  Jesus antwoord hulle: “Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”  Die eerste en belangrikste vraag is: glo jy in Jesus?  Nie: wat doen jy vir Jesus? nie, maar: wat glo jy het Hy vir jou gedoen?  Het jy ’n ware en lewende persoonlike verhouding met Hom?  Indien wel, da sal die wil van die Vader gekied.  Jy sien, dit gaan nie oor ’n klomp goeie werke nie; en dit neem ons terug na die saligsprekinge.  Dit is waar jy die ware Christelike karakter sien.

Want hierdie werk van geloof – wat wys dat dit alles van God is – lei dan tot ’n groei in heiligheid.  Ware Christus-gevormde heiligheid.  Luister na die woorde van 1 Johannes: “Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.  Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.  En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.  Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.  En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie” (1 Joh. 3:1b-6).

Niemand wat in Christus leef, hou aan om te sondig nie.  Dit beteken om onder die slawerny van die sonde te lewe.  Geliefde gemeente, hierdie woorde is sterk waarskuwingswoorde aan ons almal.  En dit moet ons almal na Jesus laat hardloop!

Let op hoe baie Jesus hier fokus op Homself en sy rol in oordeel en verlossing.  “Nie elkeen wat vir My sê...”  “Baie sal in daardie dag vir My sê...”  “Dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My...”  Dit is die toepassing van die bergpredikasie.  Dit gaan nie daaroor of jy vir Jesus ken nie, maar of Jesus vir jou ken.  As Hy jou ken, sal jou lewe vir altyd verander word.  Jy sal begin om ’n koninkryk-tipe lewe te leef in jou daaglikse lewe.  Jy sal die saligsprekinge uitleef. Jy sal jou armoede besef, nie hoe goed jy is nie, jy sal treur, jy sal in nederigheid lewe, jy sal honger en dors na die geregtigheid!  Dit is hierdie mense wat tot die koninkryk behoort.  Dit is wat ware geloof in ons werk!

Die grootste en diepste vraag wat enigiemand ooit aan jou kan vra, is dit: het jy ’n ware geloof?  Jy kan nie staatmaak op jou belydenis nie, op jou goeie werke nie.  Die enigste en laaste ding waarop jy kan staatmaak, is die werk van Jesus.  En as jy dit het, sal jy gered word.

Amen.