Om ander te oordeel as ‘n dissipel van Jesus

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2020-09-06
Text: 
Mattheus 7: 1 - 7
Reference: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

“Moenie oor my oordeel nie – jy het geen reg nie.”  “Die Bybel sê mos ons mag nie oordeel nie.”  Dit is wat ons heeltyd hoor.  “Jy het geen reg om vir my te sê wat om te doen nie.”  “Die kerk is so veroordelend.”  Of ons beroep ons op Jesus van Nasaret om die politikus van wie ons hou, maar wat korrup is, by te staan, of die beroemde rugbyspeler wat betrap is in die nuutste skandaal en vir mense sê dat hulle hom nie moet oordeel nie.

Wat maak ons met hierdie opmerkings, geliefdes?  Hoe reageer ons?  “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.”  Waaroor praat Jesus hier?  Is dit hoe ons Here bedoel het hoe ons dit moet gebruik?   Dat ons nooit sal sê of enige iets in onsself of ander moreel verkeerd is nie?  Ek glo nie.  Die Bybel is vol oordele.  Dit sluit Jesus se bevel in: “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel” (Joh. 7:24); en Paulus se retoriese vraag: “Oordeel julle nie die wat binne is nie?” (1 Kor. 5:12). Duidelik word nie alle oordeel verbied nie.  As dit die geval was, dan sou die kerk geen grense kon hê nie; die liggaam van Christus sou nie ‘n identifiseerbare liggaam wees nie, maar ‘n gasagtige damp!

Daar is twee soorte oordele: hoe God ons oordeel en hoe ons mekaar moet oordeel.  Die een vloei uit die ander.  Hoe ons mekaar oordeel, moet vloei uit hoe God ons in Christus oordeel.  Wanneer Jesus sê: “Moenie oordeel nie”, praat Hy oor ‘n vorm van oordeel wat jou nie langs jou medemens plaas nie, maar oor hulle.  Jy oordeel vanuit ‘n posisie van selfregverdiging.  Jesus sê ons moenie op hierdie manier oordeel nie, maar dit is nie ‘n algehele verbod om nie te oordeel nie.

Om ander te oordeel as ‘n dissipel van Jesus beteken

  1. Om nie regter te speel nie
  2. Om na binne te kyk
  3. Om duidelik te sien

Om nie regter te speel nie

Sjoe!  Ek kan nie glo dat hy of sy dit kon doen nie!?  Het jy gehoor?  Ons kan so vinnig na iemand se lewe wat onderstebo gedraai is, kyk en dink: “Hulle kon dit verwag het.  Dit is hul eie skuld.  Hulle moes van beter geweet het.”  Die kerk kan so maklik hierdie liggaam word waar dit net daaroor gaan om goed te probeer lyk, uit vrees dat jy sal uitstaan en as die swart skaap veroordeel word.  En wanneer dit gebeur, kan dit so maklik gebeur dat daardie persoon in skaamte uit die kerk vlug, omdat hulle veroordeel voel.  Dit moenie so wees nie.

Hoe voorkom ons hierdie manier van oordeel? Weer eens, dit begin met die verstaan van wat Jesus vir ons doen.  Ons struikel elke dag.  Ons val.  Ons volg plesier na in plaas van Hom.  Ons plaas onsself voor Hom.  Elke dag vra ons vir genade.  Vir daaglikse brood.  Vir daaglikse vergifnis.  Elke dag voorsien Hy.  Ons leef uit genade.  Dit is deur genade dat ons gemotiveer word om heilig te lewe.  Dit is deur die menswording – deurdat Jesus ‘n mens geword het – en langs ons kom loop en met al ons swakhede simpatie het, dat ons in ons tyd van nood gehelp word.

Ons verwerp Jesus en sy werk vir ons wanneer ons bo ‘n persoon staan, eerder as om langs hom te wandel. Ons verwerp Jesus wanneer ons ‘n oordeel oor hulle uitspreek, eerder as om ontvangers van God se genade saam met hulle te wees.

“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.  Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”  Dit beteken om nie enige iemand met ‘n superieure, morele houding te oordeel nie.  Dit beteken om nie net te sê wat die ander persoon verkeerd doen nie, maar om hulle op te roep om saam met jou in die liefde en genade van die Here Jesus Christus te wandel.  Dit beteken om met integriteit en empatie te oordeel, nie met skynheiligheid nie.  Dit beteken om te sê: “Weet jy wat, broer/suster, ek is soos jy is, ek maak soos jy maak.  Ek weet dit is ‘n stryd.  Laat ons na Christus kyk.  Laat ons hierdie euwel saam beveg.  Wat jy doen is verkeerd.  Maar ek wil saam met jou stap om hierdie sonde te oorwin.  Sal jy die reis saam met my aanpak?”

Is daar ‘n beter stukkie Bybelse wysheid, wat op die internet meestal geïgnoreer word, om nie te praat van in ons eie hart nie, as Spreuke 18:17? – “Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë.”  Ons hoor iets en ons staan so gou klaar met ons oordeel.  Sonder om dit goed te deurdink.  Om dit van alle kante te oorweeg.  Om ware Bybelse wysheid te wys.  In plaas daarvan spreek ons net ons opinies uit en maak so baie seer in die proses.

Voordat ons iemand van ernstige wangedrag beskuldig, dink aan die boek Spreuke.  “Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit 'n sotheid en 'n skande wees.” (Spr. 18:13).  Luister eers na iemand.  Luister na alle partye.  Dit is so maklik om iemand wat jy nie eintlik ken nie, te sien val en dan oorhaastig te oordeel.

Te dikwels is ons gou om te praat en stadig om te luister.  Die wêreld, die vlees, die duiwel en die internet wil hê ons moet haastig oordeel, terwyl die Bybel ons aanspoor om die oordeel uit te stel totdat ons beide kante gehoor het.  Dit gebeur gereeld: predikante oordeel sondig oor gemeentelede gebaseer op hoorsê, gemeentelede kritiseer predikante sonder om die hele storie te ken, burgers neem die slegste aan van politici wanneer nog ‘n skandaal opduik.  Die armes oordeel oor die rykes dat hulle gierig is, en die rykes oordeel oor die armes dat hulle lui is.  Kinders sal hul broer of suster vir die geringste ding aanval.  Mans oordeel in plaas van om te luister, en vroue oordeel in plaas daarvan om eers te probeer verstaan.

Wil jy op hierdie manier geoordeel word?  Wanneer jy so oordeel, sê Jesus dat jy dieselfde oordeel kan verwag.  “Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” Watter maatstok gebruik jy?  Ek vind dat mense baie keer die meeste oordeel oor die sondes waarmee hulle self die meeste sukkel.  Uiteindelik is Jesus die regter vir wie ons nodig het en na wie ons verlang.  Hy is regverdig en maak regverdig die mens wat op Hom vertrou (Rom 3:26).  Hy ignoreer nie die sonde nie, maar Hy sien dit – en dan vel Hy die oordeel wat ons verdien, sodat ons geregverdig kan staan en onder sy wyse heerskappy kan leef.  Sodat ons werklik openlik en eerlik teen ons onreg kan begin veg.

Hoe oordeel jy?   Oordeel jy op so ‘n manier dat almal te bang is om jou enige iets te vertel, want jy sal dit òf aan die hele wêreld vertel, òf jy sal minder van hulle dink?  Of oordeel jy op so ‘n manier dat mense voel dat hulle dinge aan jou kan vertel en weet dat jy iemand is wat eerlik oor hulle sonde sal wees en nogtans geduld sal hê met die sondaar wat daarmee worstel?

Sien, soms begin dit by jouself.  Jy moet jouself in Christus sien.  Sodat jy, aan die een kant, nie jouself veroordeel nie.  Of dat jy, aan die ander kant, nie jouself probeer regverdig nie.

Jy oordeel so erg oor jouself dat jy nooit jou sonde bely nie, omdat jy dink dat daar nie ‘n uitweg is nie en jy verlore is!  JY IS NIE!  Daar is genade.  Daar is Iemand wat langs ons kom staan in ons tyd van swakheid.  Die Heilige Gees, die Vertrooster, die Parakleet.Of jy is besig om jouself te regverdig deur jouself met ander te vergelyk en jouself nie in Christus te sien nie, en jy word hard en onvergewensgesind en liefdeloos.  Laat Jesus jou hart van klip breek.

Om na binne te kyk

“En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?  Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!  Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”  Neem ‘n oomblik om jou hierdie toneel voor te stel.  Die een man het ‘n splinter in sy oog, die ander een het ‘n massiewe houtbalk in sy oog.  Ons het al almal ‘n irriterende ding soos stof in ons oë gehad, maar hopelik kan ons nie dieselfde sê van ‘n houtbalk nie.  Maar verbeel jou dat jy het.  Wat sou gebeur?

Wel, ‘n paar dinge.  Eerstens sou jy blind gewees het. En tweedens sou jy almal rondom jou seergemaak het soos wat jy hierdie balk rondgeswaai het.  Jy sou dus nie in staat gewees het om iemand anders te opereer nie, maar jy sou hulle ook ernstig beseer het elke keer wanneer jy beweeg, deur hulle oor die kop te slaan met die balk in jou oog.  Die balk sal die ander persoon net verder seermaak.  En dit is presies wat gebeur, is dit nie?  Ons dink ons kan ander mense se probleme oplos, hulle vertel waarom hulle so verkeerd is en, voor ons dit weet, het ons die verhoudings vernietig.  Hoekom? Want dit het begin deur vir hulle te vertel, eerder as om eers te luister.  Wanneer dit gebeur, dan maak ons ander seer en laat ons onsself toe om op dieselfde manier geoordeel te word.

Nou is die vraag hoe enige iemand ‘n splinter kan raaksien sonder dat hulle die balk in hul eie oë sien? Wel, dit gebeur die heeltyd by ons.  Ons sien die kleinste sonde in ander raak, maar besef nie dat ons daagliks mense belaster, of skinder, of lieg, of begeer, of lui is, of inhalig is nie.   Ons sien groot probleme in die kerk, maar geen probleem in ons hart nie.

Hierdie geveinsdes het nie eers besef dat hulle skynheilig is nie.  Dit is die ergste soort skynheilige.  Ten spyte van al hul erns en vroomheid, was die godsdienstige leiers geteister met ‘n blindheid veel erger as die een wat hulle raakgesien het.  Hulle het ‘n balk in hul eie oë gehad en dit het hulle gediskwalifiseer as splinter-verwyderaars.  Hulle het hul Bybel en wet gekoester, maar hulle het God nie geken of hoe om na Hom te luister nie.  Hulle het gedink die ander het die balk en hulle die splinter.  Dit was die tollenaars en sondaars wat die balk gehad het.  Maar weet jy, die erkenning van sonde in jou eie lewe is die eerste stap om die balk te verwyder.  Selfregverdiging is die balk hier.

Hulle was nie bereid om te erken dat hulle op dieselfde vlak as die prostitute, tollenaars en sondaars was nie. Sou ons?  Die vrae begin by jouself.  Bely dat jy ‘n sondaar is.  Wanneer jy dit oop en eerlik doen, sal jy baie beter kan sien om jou broeder en suster te help.  Ons is nie beter as die prostitute of bendelede nie, dis alleen deur God se genade.  Wanneer ons meer en meer so begin dink, hoe sal ons die grootste sondaar onder ons behandel?  Ek is so dankbaar dat ek hierdie gesindheid onder so baie van julle oplet.  Vervul met genade.  Daar waar julle die gevangenes bedien en jul bure.  En ek wil julle aanmoedig om daarmee vol te hou!

Besef dat jy in nood is, sien ‘n refleksie van jouself wanneer jy met iemand anders praat.  Dit is wat dit beteken om met die balk te begin.  Dit beteken om te verstaan wie jy voor God as ‘n dissipel van Jesus is.

Ek dink as ons teenwoordig was toe Jesus hierdie woorde vir die fariseërs gesê het, sou ons verbaas wees.  Ons sou maklik kon dink: “Wie sou kon dink dat die vrome Judaïsme, verteenwoordig in die priesters en fariseërs, so ‘n balk in hul eie oë kon hê?  Wie sou kon dink dat leiers, wat so behep was met die wet, dit so kon misbruik vir eie gewin?  Of dat hulle wat gesê het dat Jesus van die duiwel besete was, self van duiwels besete was?”  Tog is dit hoe die vader van die leuen terugkeer om die volk van God te mislei vanuit hul eie vroomheid, nie net in die ou Israel nie, maar net so ook in die kerk.

Dit is waar die belydenis van sonde inkom.  Daar waar dinge die suiwerste lyk, dit is waar Satan die balk plant.  Laat ons altyd waaksaam wees.  Altyd ons sondes bely, altyd onsself bekeer.  Altyd opkyk na Jesus en ons lewens in die lig van sy heiligheid sien.  Altyd groei in sy genade sodat ons ook meer genade aan dié rondom ons kan bewys.  Liewe gemeente, die oordeel begin by die huisgesin van God.  Die dag het gekom toe die wat Jesus veroordeel het, verhoor is.  Die ondersoekers het die ondersoektes geword.  Die gretige chirurge moes chirurgie ondergaan.

Laat die Woord van Christus ryklik in ons woon.  Ons kan so bewus wees van die balke en splinters in ander mense of ander kerke.  Maar ons is net in staat om hulle te verwyder vanuit ‘n posisie van nederigheid in Christus, terwyl ons besef dat ook ons daardie genade nodig het, daardie chirurgie.  Ons oë geopen.

Wat is dan die oplossing?  Sê Jesus vir altwee om ‘n spieël te gaan haal en self hul oogprobleme op te los? Nee.  Jesus sê vir die een met die balk om dit uit te haal voordat hy sy broeder met die splinter help.  Nietemin, Hy neem nie die verantwoordelikheid van die gelowiges weg om die sondes in die lewens van diegene wat hulle liefhet, te help raaksien en verwyder nie: “en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal” (7:5).

Om duidelik te sien

“en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal” (7:5).  Jesus sê nie vir ons dat ons glad nie moet oordeel nie.  Hy sê met die maat waarmee jy oordeel, sal jy geoordeel word.  Ons word geroep om sonde uit te wys.  Groot en klein.  Ons word geroep om mekaar te vermaan.  Ons word geroep om tussen reg en verkeerd te onderskei.  Ons word geroep om reg en verkeerd in God se huisgesin uit te wys.  Jesus het werklike mag aan die ouderlinge van die kerk gegee om presies dit te doen.  En hulle word geroep om dit te doen, vanuit die posisie dat hulle in Jesus is.  Vanuit die posisie van iemand wat self die genade van God ervaar het.

“Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.”  Duidelik sê Hy hier dat ons moet oordeel.  Wie is die honde, wie is die varke?  Dit is dié wat nie verstaan nie.  Die blindes.  Die ongelowiges. Daardie godsdienstige leiers wat weier om na teregwysing te luister.  Veral die skynheiliges wat, selfs al gee jy hulle die evangelie en is genadig in jou oordeel, teen jou sal draai en jou veroordeel.  Jou aanval.  En hulle sal alles doen wat hulle kan om jou te vernietig.  Hulle kan alles weet wat volgens hulle die fyner detail van godsdiens is, maar niks weet van die evangelie nie.  Soos Paulus sê: “Maar vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos.  Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermanin, wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan.” (Titus 3:9)  Hulle is selfveroordeeld.  Hulle oordeel hulself op grond van hul houding.

Ter afsluiting.  Hierdie gedeelte is nie moeilik omdat Jesus ons verbied om te oordeel nie; dit is moeilik omdat Jesus van sy volgelinge vereis om nederig te wees wanneer hulle oordeel – iets wat nie maklik kom nie.  Jesus verbied hulle om skynheilig te wees en skynheilige oordele te vel.  Veral in die kerk gebeur dit maklik.  Die wat reeds lank Christene is, moet hiervoor oppas.

Ons as kerk moet altyd probeer om beter te kan sien. Ons doen dit deur in die lig van Jesus en sy Woord te staan.  Deur sy Woord tot ons te laat spreek, ons te oortuig, ons te help groei.  Ons doen dit deur daagliks na die kruis te gaan.  Ons doen dit deur na die Woord te luister en te bid dat God dit in ons harte sal laat werk.  Dat sy Woord sal aanhou om ons af te breek en in die donkerste plekke te skyn.  En ons skynheiligheid te ontbloot.

Ons doen dit hoofsaaklik deur ons verstaan van die evangelie te verdiep.  Deur daardie evangelie verwyder God die een balk na die ander, sodat ons ook deur Hom gebruik kan word om die een splinter na die ander te verwyder wat in ons harte of in die kerk ingeplant is as gevolg van ons eie sondige natuur, die wêreld of tradisies.

Ons word dus geroep om te oordeel, maar slegs as ons onsself in die lig van die evangelie sien.  Laat ek dus ter afsluiting vier beginsels uitwys hoe om nie te oordeel nie.

  1. Wees versigtig om ‘n enkele Bybelvers te gebruik om ‘n punt te bewys.  Ek ken niemand wat daarvan hou as hulle woorde verdraai word nie.  Laat ons dus ons bes doen om dit nie aan Jesus of die Skrif te doen nie.
  2. Oordeel met empatie en genade.  Volgelinge van Jesus moet morele oordele vel, met die volle bewustheid van hul eie sondigheid en noodsaak van vergewing (Gal. 6:1-2).
  3. Moet nooit skynheilig oordeel nie.  Jesus beveel sy volgeling om te oordeel oor sonde; ons moet egter ywerig vermy om onsself as beter te beskou as ander wat sondig.
  4. Moenie wegskram in vrees wanneer ‘n oordeel gegee moet word nie.  Ons moenie Jesus se waarskuwing teen skynheiligheid gebruik as ‘n verskoning om onsself daarvan vry te stel om ‘n ongewilde waarheid te verklaar nie.

Kom ons streef daarna om saam te floreer in Jesus se koninkryk.  Mag Hy ons bemagtig om te oordeel met helderheid, nederigheid, moed en met oë sonder balke.

Amen.