Om te bid sonder ‘n masker

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2020-07-19
Text: 
Mattheus 6: 5 - 8
Reference: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

En wanneer jy bid...  

Hoe gaan dit met jou gebedslewe?  Dit is ‘n vraag wat ek gereeld vra.  Jesus maak alweer ‘n aanname oor iets waaroor ek nie ‘n aanname maak nie.  Ek is bang dat Christene vandag net toevlug neem tot gebed wanneer dinge veral baie sleg of baie goed gaan.  Of ons wend ons tot gebed wanneer ons ekstra tyd vir God het.  Liewe kind van God!  Bid jy?  Kan Jesus aanneem dat jy bid en kan Hy sê wanneer jy bid...?

Is gebed ‘n gewoonte in jou lewe? Soos Daniël wat drie keer per dag gebid het, of die Psalmis wat sewe keer per dag gebid het (P. 119:164).  Of Anna wat dag en nag met vas en gebed in aanbidding was (Luk. 2:37), of Jesus wat die hele nag in gebed deurgebring het.

En wanneer jy bid – hoe bid jy?  

Want sonde gaan so diep; die trots van die mens is so groot dat dit ons volg tot in die teenwoordigheid van God!  Sonde is nie iets wat jy doen nie; dis ‘n gesindheid van die hart! Telkemale weer dring die evangelie van ons Here Jesus Christus in hierdie preek tot die kern van die mens – die hart.  Sonde is self-aanbidding.  En dis so verleidelik dat ons, selfs wanneer ons onsself probeer oortuig dat ons God aanbid, maar net onsself aanbid.

In die hart van die bergpredikasie kom Jesus tot die kern van die Christelike lewe.  Gebed.  Ons verhouding met Hom.  In hierdie hoofstuk begin Hy met die hantering van ons verhouding met ander in verse 1-4, dan ons verhouding met God in verse 5-15, en dan ons verhouding met onsself in verse 16-18.  ‘n Mens sou kon sê dat Hy die hele lewe – die uiterlike, opwaartse en innerlike – aanraak.

Die gebedslewe wys jou begrip van God en jou verhouding met Hom.  Gebed is die belangrikste deel van jou dankbaarheid teenoor God.  Aan die begin van hierdie preek doen ek ‘n beroep op jou om te bid.  Nie net omdat die Bybel so sê nie, maar omdat God bestaan, en omgee, en almagtig is om jou te help.  As jy dit glo, dan sal jy in gebed wil groei.

Om te bid sonder ‘n masker:

  1. Bid vir ‘n gehoor van Een

  2. Bid met Fokus

 

Bid vir ‘n gehoor van Een

En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word.  Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het.

So ‘n gebed in ‘n openbare plek sou in die tyd van Matthéüs nie so ongewoon wees nie, soos dit vandag sou wees in Bellville middestad.  Die vaste ure van gebed wat die Jode gehad het, sou maklik, soos in die Moslem-praktyk, tot openbare gebed kon lei deur diegene wat op die vasgestelde tyd besig was om te bid.  Jy sou hulle vind besig om te bid beide binne en buite, op godsdienstige en sekulêre plekke (sinagoges en straathoeke).

Net om duidelik te wees, Jesus gee nie om hoe lank jou gebed is, of presies waar jy bid nie.  Dit is nie die probleem met die skynheiliges nie.  Die probleem is dat hulle skynheilig is.  Hulle dra ‘n masker.  Hierdie mense se gebed is slegs ‘n masker van vroomheid en heiligheid.

Die probleem is nie die liggaamshouding of plek nie, maar die mense.  Dit is mos die trots van die lewe, om gesien en opgemerk te word!  Hier lê die probleem.  Gebed is nie daar om raakgesien te word nie; dit is ‘n middel van genade om met ons hemelse Vader te praat.  Die vraag is: bid jy tot God of vir die gehoor?  Is jou gehoor God of mense?  In ‘n bekende boek oor gebed skryf Torrey: “Ons mag nooit een lettergreep van gebed, in die openbaar of privaat, uitspreek voordat ons verseker daarvan bewus is dat ons in die teenwoordigheid van God gekom het en eintlik tot Hom bid nie.”

Bid sonder ‘n masker.  Dit beteken dat jy eerstens besef wie jou gehoor is: GOD!

Stel jou voor dat ek besig is om met my vrou te praat midde-in ‘n skare mense, en ek gee meer om oor wat die mense rondom my dink van wat ek vir haar sê, as wat ek omgee oor wat sy dink van wat ek vir haar sê.  As ek in die openbaar allerhande mooi dinge oor haar, maar as ons alleen is sê ek niks vir haar nie, dan sal sy gou agterkom dat ek net ander mense wil beïndruk en nie regtig vir haar gelukkig wil maak nie.  Sy sal baie ongelukkig wees.  Dit maak nie saak hoeveel mense daar is nie, sy sal wil hê ek moet met haar praat asof sy die enigste een daar is.  Maar die skare sal beïndruk wees.  Kyk hoe goed behandel hy sy vrou.  Kyk hoe life het hy haar!

Op dieselfde manier geld dit vir God wanneer ons bid.  Of dit nou in die openbaar of privaat is.  In die openbaar moet ek jou uitsluit en bid asof net God vir my luister.  Ek moenie dink aan wat jy sal dink nie.  In die privaat is dit dieselfde.  Ons sal net opreg bid as ons werklik weet wie God is!  En Jesus maak die punt hier baie duidelik! Hy herhaal Homself keer op keer.  VADER!  Die woord word hier sewe keer herhaal!  Jou Vader!  Jou Vader!  Jou Vader!  Jou Vader!  Jou Vader!  Dit is Wie dit is tot wie jy bid.  As jy maar net verstaan dat hierdie Vader die almagtige Heer en Meester van die heelal is.  Die oneindige Een.  Dan sal dit jou gebede verander namate jy besef dat Hy jou nie net oneindig liefhet as jou Vader nie, maar ook die vermoë het om jou ook oneindig lief te hê as jou God.

Hoe dom is dit dan om meer aandag te gee aan die mense wat luister en aan wat hulle dink, as om aandag te gee aan die Een vir Wie ons aanspreek, ons Vader.  Ek dink dit kan vir ons as predikante en ouderlinge in die besonder ‘n gevaar wees.  Trek allerhande lang teologiese woorde saam in gebed om almal te probeer beïndruk, terwyl hulle nie werklik iets sê vir die Een met Wie ons praat nie.  In gebed moet jou hele wese op God gerig wees.  In wese moet daar iets spontaan en waar wees in nagmaal en gebed.  As ons wil bid sonder ‘n masker, moet ons bid vir ‘n gehoor van Een.

Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.  Want sien, jou openbare gebed moet vloei uit die innerlike gebedslewe.  Hoe is jou gebedslewe?  Jy is dalk die tipe wat net in die openbaar bid, met jou gesin, vrou, op besoeke, maar nog nooit ‘n gereelde, gewoonlik diep persoonlike verhoudingslewe met jou Vader gehad het nie.  Dit was nog altyd sodat almal dink dat jy ‘n Christen is.  Jy het selfs jouself mislei om te dink dat jy ‘n verhouding met God het, terwyl jy nie kan onthou wanneer laas jy  werklik tot Hom alleen gebid het nie.  Ek probeer nie hard wees nie; ek probeer net die diepte van Jesus se woorde beklemtoon.  Dit is van toepassing op ons almal.

Skynheiliges beskou hulself nie altyd as skynheiliges nie.  As jy altyd net in die openbaar bid, is dit tyd om jou hart te ondersoek, want daar is ‘n baie goeie kans dat jy net bid omdat daar ander mense is.  Jy mag dalk dink dat jy opreg is.  Maar jou optrede wys die teenoorgestelde.  En soos Jesus sê: ‘n boom word aan sy vrugte geken.  

Sommige mense bid nooit in die privaat nie.  Maar ander bid weer nooit in die openbaar nie, ook omdat hulle te bang is vir wat ander sal dink.  Selfs as man en vrou, omdat jy bang is vir hoe dit sal klink.  Liewe gemeente, wie gee om wat die mens dink, wanneer God die Een is wat na jou luister.  Sy oor is geneig tot jou.  Jy bid vir ‘n gehoor van Een.

Gebed is nie daar om jou beter oor jouself te laat voel nie, dit is daar omdat jy 'n Vader het vir Wie jy nodig het. 'n Vader wat voorsien.  'n Vader met Wie jy wil praat.

Die geheim om hierdie vers te verstaan, skuil in die woord ‘geheim’.  Die geheim van gebed is om seker te maak dat die enigste oë wat vir ons oop is tydens ons gebed, is van die Een wat in die geheim sien, of die Een wat oral teenwoordig is, die alwetende God.  Wat nie gesien kan word nie, maar alles sien.  Bid ons vir ‘n gehoor van Een?

Die ding is dat daar sekere dinge is wat ons moet uitsluit, of ons nou in die openbaar of privaat bid.  Hier is ‘n paar van hulle:  Jy sluit ander mense uit en vergeet van hulle.  Dan sluit jy jouself af en vergeet van jouself.  Dit is wat bedoel word met die ingaan in jou binnekamer.  Ons praat met God.  Ons moet ander uitsluit en onsself afsluit.  Watter goed doen dit as ek in my binnekamer gaan om alleen te bid, terwyl ek net dink aan hoe goed dit is dat ek bid en trots is op my gebed.  Dan kan ek net sowel op ‘n straathoek staan sodat ander kan deel in my trots.  Nee, ek bid tot God en Hom alleen.  En die gebed sou nooit eers by Hom uitkom as dit nie was vir die Heilige Gees wat saam met my bid nie, en die Seun wat vir my as Middelaar intree nie.

Jesus wil jou hê.  Geheel en al.  Totale en absolute afhanklikheid van Hom.  Dit is veral waar in die gebed as jy sê dat jy Hom nodig het; maar weerspieël jou gesindheid jou woorde?  Hou jy daarvan om met God te praat?  Hou jy van daardie persoonlike intieme gesprekke?  Gee jy meer daarvoor om dat mense glo jy is ‘n Christen as wat God sien en hoor?

Bid met Fokus

As jy bid vir ‘n gehoor van Een, dan sal dit wat jy sê en hoe jy dit sê ook duidelik wees.  ‘n Ander probleem kom na vore wanneer ons so gefokus is op die vorm van ons gebed, die lengte van ons gebed of die woorde wat ons gebruik, eerder as om te fokus op die Een met Wie ons praat.  Of ons sê net woorde, sonder om werklik daaroor na te dink.  Of ons sê baie net omdat ons dink dat God ons sal hoor.  Geen ware gesprek tussen seun en vader vind op hierdie manier plaas nie.  Of soos Jesus sê: “En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.” Jy hoor gereeld dat ‘n mens sê dat hy twee ure per dag gebid het.  Of hierdie een of daardie een bid so lank.  Maar net sodat dit vir almal duidelik is: hoe langer jou gebed is beteken nie hoe beter is die kans dat dit verhoor sal word nie.  Net so maak dit ook nie saak hoe kort jou gebed is nie.  Wat saak maak is die hart van die een wat bid.  Daar is kort en lang gebede in die Bybel.  Jesus het ‘n hele nag lank gebid, en hy het net een reël op ‘n slag gebid.  Sy lewe was gebed.

Groot heiliges het altyd baie tyd in gebed in die teenwoordigheid van God deurgebring.  Daarom dink ons dat as ons baie bid, ons ‘n groot heilige sal wees.  Nee, moenie dink dat jou gebed kan dien as ‘n goeie werk om God se arm te draai om jou heilig te maak nie.  Soos die profete van Baäl op die berg Karmel wat gebid en gebid en gebid het, en hulself gesny het, omdat hulle gedink het dat hul god hulle sou hoor as hulle harder skree, of vir hom wys hoeveel hulle omgee deur hulself te sny.  Onthou dat God ‘n Vader is.  ‘n Seun is iemand wat graag met sy Vader wil praat.  En ‘n Vader wil net sy Seun se hart hoor.  As jy bid vir ‘n gehoor van Een, sal jy net oop, eerlik en afhanklik wees.  Die groot heiliges het nie die horlosie dopgehou en gewag totdat hulle kon sê dat hulle vir twee ure gebid het nie.  Nee, vir hulle het daardie ure te kort gevoel omdat hulle in gemeenskap met die Vader verkeer het. 

In gebed het hulle geweet dat hulle in die teenwoordigheid van God was, hulle het die ewigheid binnegekom en wou nie weer weggaan nie.  In gebed reik ons na die hemelse hemel en tyd staan stil.  Gebed is ‘n lewenswyse.  ‘n Christen kan eenvoudig nie daarsonder leef nie.  ‘n Christen is nie bekommerd oor die lengte van tyd nie.  Die oomblik wanneer ons die horlosie stel, word dit meganies.  Nee, jy bid met Fokus.

So gepraat van leë woorde, sommige van julle sal dalk onthou dat julle dieselfde gebed keer op keer gehoor het toe julle opgegroei het.  Jy het dit uit jou kop geken.  Herhaling op sigself is nie verkeerd nie.  Ons moet gereeld vir dieselfde dinge bid.  Maar as dit onnadenkende woorde word wat jy aframmel, dan babbel jy net en kan jy maar ophou.  Ons kan dit doen met ons gebede, selfs in die manier waarop ons daarmee begin of eindig.  “God en Vader” (of op watter manier jy jou gebed ook al begin), ons rammel daardie woorde af sonder om te dink oor wat ons sê; en wanneer ons aan die einde kom: “In Jesus se Naam” of “Om Jesus ontwil”, Amen.  Dink jy oor die woorde?  Is dit werklike versoeke?  Elke keer wat jy God vra om jou kos te seën, of Hom dank vir sy genade, dink jy daaroor na?  Bedoel jy dit?  Indien nie, hou dan op.  Dan bespot jy God.  Gebed is nie ‘n goeie werk wat jou ekstra punte by God sal gee nie – dis ‘n intieme verhouding en gesprek met die Een wat sy Seun vir jou gegee het, sodat jy met Hom kan praat.  Bid dus met fokus.  Met opset.  Bewustelik.

Diegene wat werk vir mooi gebede, ter wille van ‘n pragtige gebed, of wat bid uit gewoonte, of om gesien en gehoor te word, sal hulle beloning hier vind.  Maar die arme, hartseer siel wat nie eers een sin aanmekaar kan sit nie, maar in angs treur tot God, het God op ‘n manier bereik, en sal ‘n beloning ontvang waarvan hierdie wêreld niks weet nie.  Sê wat jy wil sê.

As jy lief is vir iemand, sal jy met hulle wil praat.  En hoe meer jy lief raak vir hulle, hoe meer sal jy saam met hulle wil wees.

Gee jy werklik om wat God dink?  Wat Hy wil hê?  Is jy lief vir Hom oor wat Hy gedoen het?  Ken jy Hom?  As volkome heilig, uiters regverdig, oneindig liefdevol.  Ken jy Hom as Vader?  Ken jy Hom?  Indien wel, sal jou gebede dit weerspieël.

Hy is op soek na aanbidders wie se gees (dit wil sê gemoed, hart en gedagtes) ingestel is daarop om die betekenis van daardie woorde uit te druk.  Net ‘n vinnige nota ook oor sing.  Dit geld ook vir gebed in sang.  Dis maklik om melodieuse lirieke van Christelike liedere te herhaal, maar dit verg konsentrasie, opregtheid en bedagsaamheid om waarlik in sang te aanbid.  Ons moet nooit wegkruip agter mooi klinkende woorde terwyl ons gedagtes dwaal in ‘n heeltemaal ander rigting nie.

Almal van ons het al die een of ander tyd heeltemaal verlore geraak in ons gedagtes gedurende gebed of sang.  Ons was vasgevang in ‘n groef, en vir dieselfde dinge op dieselfde manier gebid.  En as ek praat van almal van ons, praat ek van myself.  Maar ek neem aan ek is nie alleen nie.

Ek onthou dat ek een aand uit my kantoor gekom het, om saam met my gesin aan te sit en te dank vir ons aandete.  Toe ek my mond oop maak, begin ek om te bid vir ‘n goeie dag.  Ek het al oomblikke soos hierdie gehad in gebed, waar ek begin en eers later besef wat ek eintlik doen.  Dis hoekom ek ‘n gewoonte daarvan gemaak het om eers vir ‘n oomblik stil te wees voordat ek begin bid.  Sodat ek waarlik aan die gebed kan deelneem, en nie ter wille van die gebed sal bid nie.  Kinders kom gou agter wanneer jy ‘n gebed outomaties herhaal, vinnig en onopreg.  God kom dit selfs gouer agter.  ‘n Gebed moet nooit ‘n algemene seën wees wat net automaties herhaal word nie, maar eerder ‘n opregte begeerte om met ons Vader kontak te maak.

Liewe gemeente, gebed is die Christen se lewe.   Dit is wat ons doen.  Ons is mense in gemeenskap met die God en Vader van ons Here Jesus Christus.  Ons bid vir ‘n gehoor van Een en ons bid met Fokus.  Niks meer of niks minder nie.  Dis immers die wat rein van hart is, wat God sien.  Diegene wat geen versteekte motiewe het nie, behalwe dat God hulle sou ken en dat hulle deur Hom geken sou word.

Amen.