Reinheid en ware liefde

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2020-05-10
Text: 
Mattheus 5: 27 - 30
Reference: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

‘n Paar jaar gelede het die “#Me Too” (Ek ook)-beweging gewys dat daar soveel misbruik en seksuele teistering plaasvind sonder dat die samelewing daarvan kennis neem.  Al hoe meer vroue het na vore gekom en daar kom steeds by.  Die beweging het die alomteenwoordigheid van seksuele aggressie, objektivering en teistering as ‘n gedeelde vroulike ervaring onthul.

Dit het alles begin met ‘n twiet in die middel van die dag: “As jy al seksueel geteister of aangerand is, skryf ‘me too’ (ek ook) as ‘n antwoord op hierdie twiet.”  Aan die einde van die dag het die woorde ‘me too’ meer as 200 000 keer verskyn op twitter alleen.  Binne ‘n jaar het hierdie getal 19 miljoen of 55 000 (vyf-en-vyftig duisend) twiets per dag geword.  As jy ooit getwyfel het dat Jesus se woorde nie relevant is in ons wêreld nie, dink weer.  Die wêreld het Jesus meer as ooit nodig.  Net Hy kan die harte van mans en vroue verander.

Dit het nie lank geduur voordat dit opgevang is nie en daar ontstaan ‘n ”#Church too” (Kerk ook)-beweging, wat begin is deur mense wat moedig opgestaan het in die kerk en begin praat het oor seksuele aanranding in die kerk. 

En vandag, te midde van sosiale isolasie, hoor ons aaklige verhale dat mishandeling toeneem.  Dat vroue nie eers in hulle eie huise veilig is nie.  Dit lyk asof niks verander het nie.  Hoekom nie?  Want die mens se hart het nie verander nie. Daar was geen ware berou en ‘n nuwe lewenswyse nie.  Nuwe begeertes.  Net Jesus kan dit doen.

Reinheid en ware liefde:

  1. Vernuwe jou gedagtes
  2. Die opoffering werd

Vernuwe jou gedagtes

“Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie.  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”  Jou hart.  Dit is wat Jesus wil hê.  En Hy wil nie net jou hart hê nie, maar ‘n nuwe mensdom.  ‘n Koninkryk waar daar geen verbinding is tussen die manier waarop ‘n mens optree en wat ‘n mens voel, dink en begeer nie.  Waar jy nie op ‘n sekere manier hoef op te tree as jy in die openbaar is nie, maar dat jy op ‘n sekere manier is.

Jesus verander ons en maak ons weer na Sy beeld, sodat ons mekaar nie sien as objekte wat gebruik moet word nie, maar as mense wat uniek geskape is na die beeld van God, om gerespekteer, liefgehê, versorg te word.   Sodat ons na mense kyk deur die oë van ons Here Jesus Christus.  Sodat ons in plaas van om te neem (wellus), gee (liefde).  Om dit te kan doen, moet ons gevul word met die Gees van Christus, wat die lewe van Christus aan ons oordra. 

Die Een wat Homself vir ons gegee het, stel ons in staat om nee te sê vir daardie begeertes en ja te sê vir godsaligheid en reinheid.

“Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”  Hier wys Hy vir ons die waarde van die menslike liggaam.  Daar is twee maniere waarop dit gelees kan word.  Aan die een kant kan dit iemand wees wat na ‘n vrou kyk om haar te verlei, of verleidelik owerspel gepleeg het (flirtasies).  Of dit kan ook beteken dat elkeen wat in sy hart begeer, owerspel pleeg.  Met ander woorde: kyk en staar.  Ek dink hy kan beide bedoel.  Die woord hier beteken om aan te hou kyk met die begeerte om mee saam te slaap of ‘n seksuele verhouding te hê.  Dit gaan oor daardie aanhoudende blik wat ‘n dierlike begeerte in die mens aanwakker, wat jou minder menslik maak en die ander as minder as mens behandel.

Net om dit duidelik te maak.  Vroue kyk ook verlangend na ander mans en wens hulle het met daardie man getrou wanneer hy aan ‘n ander vrou behoort.  Dit is die versoeking dat die gras altyd groener is aan die ander kant.

Dit is ook nie net die fisiese daad van egbreuk wat die probleem is nie, maar wat daarvoor gebeur het.  Die daad is bloot gebore uit die gedagte.  Owerspel gebeur in die hart lank voordat dit in die bed gebeur.  Dit is nie net wat ons doen met ons geslagsdele nie, dit is wat ons doen met ons gedagtes, oë en hart.  Daarom het Job gesê: “Ek het 'n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op 'n jonkvrou?”  Hoekom met sy oë!  Nie met sy hande nie!  Want hy het geweet dit is die mooi voorkoms wat tot die daad sou lei.

Vir ‘n Christen is dit nie normaal om begeerlik na ‘n vrou te kyk nie.  Nie as Jesus in jou woon nie.  Dit kan eenvoudig nie normaal wees nie.  Dit is abnormal.  Gruwelik.  As dit vir jou normaal is, kyk na jou hart.  Dit is nie hulle wat sê Here, Here, wat gered sal word nie, maar hulle wat werklik die wil van die Vader doen.  Bekeer jou.

Jesus praat met die persoon wat kyk, maar sodoende sê Hy ook baie oor die persoon na wie gekyk word.  Daar moet nie na haar gekyk word of selfs begeerlik aan haar gedink word nie.  Asof sy iets is wat jy net kan vat nie.  Sy is nie iets nie.  Sy is iemand – ‘n weerspieëling van God.  Iemand vir wie Jesus gesterf het.  Deur haar te begeer, verneder jy nie net jouself en vir haar nie, maar jy respekteer nie vir God nie.

Om te kyk is so ‘n ernstige oortreding, omdat die ander persoon so baie werd is.  Liefde vereer, wellus degradeer.  Ons verlaat die wellus nie omdat die liggaam nie belangrik en seksualiteit goedkoop is nie, maar omdat die liggaam uiters belangrik is.  En seksualiteit heilig!  Dit is hoekom ons dit so sterk beskerm!

Hoe kan ons dit doen?  Vir ons as dissipels gaan dit alles oor die vernuwing van jou gedagtes.  Dit is waar alle sondes ontstaan.  Eva moes eers daaroor dink om die vrug te neem voordat sy dit geneem het.  Ons denke is die fabriek wat alle ander dinge in ons lewens produseer.  Romeine sê: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed.”  (Rom. 12:2)

Die morele verontwaardiging wat uit die “#Me too”-beweging voortgekom het, was goed, maar van korte duur, want daar was niks wat die morele verontwaardiging onderskraag het nie.  Die wêreld kan sien daar is iets verkeerd – en is kwaad, maar hulle het nie die oplossing nie.  Want dit gaan alles oor die daad – nie oor die hart nie.  Hulle reël is: “as dit konsensueel is, sê hulle dit is aanvaarbaar”.  Hierdie reël kan op ‘n miljoen verskillende maniere verdraai en ondermyn word.  Dit sal uiteindelik niks verander nie.  Dit is die hart wat moet verander – en net Jesus kan dit doen.

‘n Begeerlike gedagte is soos ‘n torpedo wat meedoënloos, onder die water, reguit op die romp van ons skip afpyl. Ons sien dit aanvanklik nie raak in ons lewe nie. Ons is geneig om die impak daarvan te verminder. Die meeste van ons glo dat ons geestelik sterk genoeg is om ‘n paar slae te kan vat.  Veral as ons jonger is.  In hierdie tyd van selfisolasie en ‘n oorvloed van tegnologie is dit so maklik om in te gee en net van een prentjie te geniet.  Net een keer se kyk sal nie skade doen nie.  As ek vleiende boodskappe vir ‘n vrou stuur, sal dit mos niemand seermaak nie, al weet ek dat ek nooit ‘n verhouding met haar wil hê nie.  As ek een aanloklike foto stuur, sal dit nie seermaak nie.  Dit sal my siel nie skade berokken nie.  Ek is sterk genoeg om na daardie film te kyk.  Moenie so dink nie!  Jou siel is in die helse gevaar.  God in Jesus wys ons op die erns van sonde en op die hoë standaarde van heiligheid.

Om die waarheid te sê, ons kan dit nie bekostig om wellustige gedagtes in ons kop toe te laat nie.  Ons kan hulle nie daar laat bly nie, selfs nie vir ‘n paar sekondes nie.  Daardie klein opening is net wat die vyand nodig het; hy is baie vaardig daarin om deur die kleinste krake in te gly totdat daar ‘n gapende gat in jou geestelike wapenrusting is.

Die meeste van ons weet hoe dit voel: net nadat ons klaar ‘n sonde gepleeg het, begin ons dadelik daarna om onsself te bevraagteken:  Hoe het dit gebeur?  Wat het verkeerd gegaan?  Dit het goed gegaan met my, en toe skielik gebeur DIT.  Wees verseker, DIT het begin as ‘n klein, stille gedagte in jou kop.

Lank nadat mans (of vroue) ophou om seksueel op te tree, erken hulle dat hulle steeds ‘n konstante stryd voer met wellustige gedagtes.  Sommige sal die stryd opgee en uiteindelik terugval in hul voormalige seksuele sondes. Maar ander sal deurdruk en die oorwinning behaal wat gevind word in Jesus Christus.  Ja, selfs hier is radikale dissipelskap slegs moontlik deur ons oë op Jesus te hou. Deur nooit moed op te gee nie. Deur onophoudelik in gebed te wees.  Ek dink dit is in die stryd teen sonde wat ons spesifiek nodig het om Jesus se woorde oor gebed te hoor en in gebed te volhard.

Die opoffering werd

“As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.”

Die Covid 19-siekte het ons geleer dat ons enigiets sal doen om ons lewe te beskerm.  Selfs dit wat seermaak.  Wat is jy bereid om op te gee om jou siel en die siel van ander te beskerm?  En dit is die punt hier.  Doen wat ook al jy moet doen, want hierdie siekte is baie meer dodelik en is baie moeiliker om af te skud.  En as jy dit nie doen nie en dit beheer jou, sal dit lei tot ‘n dood wat tot in die ewigheid sal voortduur.

Hy sê twee keer dat dit beter is om een van jou ledemate te verloor as dat jou liggaam in die hel gewerp word. Met ander woorde, as dit help om jou liggaamsdele af te sny of jou oë uit te haal, dan is dit die moeite werd. Maar ons weet dat dit nie die geval is nie – dit is die hart wat die probleem is.  Nou is my vraag:  het jy alles in jou vermoë gedoen om op te hou?  Ek bedoel alles.  Deur met ander te praat, deur sagteware te installeer, deur gedurig in gebed te wees.  En indien nie, hoekom nie?  Wat keer jou?  Eiegeregtigheid?  Trots.  Moet dit nie toelaat nie.  Ek weet jy is ‘n sondaar. Jy weet dat ek ‘n sondaar is.  Dit is waar ons moet begin, en dan kan ons daaraan werk.

Die oë is dikwels ge-assosieer met begeerte, soos in Numeri 15:39: “moet julle aan al die gebooie van die Here dink, dat julle dit doen en nie jul hart en jul oë navolg waar julle agter aan hoereer nie;”  Of Spreuke 21:4: “Hoogheid van oë en trotsheid van hart — die glans van die goddelose is sonde.” Die regterhand wys dat wellus ‘n sort diefstal is.  Sommige kommentators dink dit is ‘n eufemisme vir die manlike geslagsorgaan.

Sommige het dit ernstig opgeneem en ledemate van hul eie liggaam afgesny.  As dit maar net so maklik was as om ‘n liggaamlike ledemaat af te sny. Dan kon ons almal in die hemel ingaan, dis geen probleem nie, sny net die ledemaat af.  Maar dit is nie die probleem nie, is dit?  Dit is die hart, dit is waar al die sondes opborrel voordat ons lewe daaraan gee.  Verbeelding is ‘n God-gegewe geskenk, maar as dit gevoed word deur die vuilheid van die oog, dan sal dit vuil wees.  Ons moet die fontein van die sonde afsny by die oorsprong.

Jesus gebruik drastiese taal hier om vir ons te wys watter opoffering dit verg om Hom te volg.  ONS LEEF NIE VIR ONSSELF NIE!  MAAR VIR HOM!  Ons moet vir onsself sterf.  Ons harte moet in ‘n sekere sin gesny word, en Jesus moet regeer.  Jesus het gesterf vir hierdie sonde, sodat jy saam met Hom daaroor kan regeer.  Soos die Bybel sê: “Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.  So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (Rom. 6:10-11)  Vir elke begeerlike gedagte is die spykers dieper ingedryf en het die bloed vrylik gevloei.  Jesus is totaal en al afgesny van die land van die lewendes vir ons sondes.

Om die waarheid te sê, die grootste probleem op die pad na oorwinning oor wellustige gedagtes is dat ons dalk nie regtig wil hê dit moet weggaan nie.  Die enigste manier waarop jy werklik daarvan ontslae sal wil raak, is as jy iets beter voor oë stel!  Stel Christus dus voor jou aangesig!  Laat sy skoonheid jou oorweldig!  Sy vergifnis jou omring, en sy liefde jou omvou!  Sien Hom as die duur pêrel waarvoor jy bereid sal wees om alles te verkoop.

Net om duidelik te wees, die pad is moeilik.  Dit is ‘n stryd. ‘n Oorlog!  Daar is geen geheime formule om onmiddellike oorwinning te behaal nie.  Daar is nie so ‘n kortpad nie.  Wellustige gedagtes word een vir een oorkom, gedagte na gedagte.  Wellustige gedagtes gaan daaroor om die teenwoordigheid van God te beoefen – om elke oomblik te beleef, gevul met die liefde van Christus, gemotiveer deur sy skoonheid in heerlikheid, en die prag van sy reinheid en heiligheid.

Dit begin met: uit die oog, uit die hart.  Moenie jou gedagtes vul met hierdie dinge nie, of dit nou vuil tydskrifte, webwerwe of films is.  Hou op daarmee.  Kolossense 3:5 sê: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is;”  Wat beteken dit? Dit beteken om op te hou om daardie ding te voed.  Enige lewendige ding wat nie gevoer word nie, sal uiteindelik doodgaan, of ten minste sy krag verloor.  Soos Owen gesê het: “Maak sonde dood, of dit sal jou doodmaak.”  Of jy voed die ou mens, of die nuwe mens.  Beide kry ‘n groter eetlus hoe meer hulle gevoed word.  As jy saai om jou sondige natuur vanuit die natuur te voed, sal jy vernietiging oes.  As jy saai om jou nuwe natuur te voed, sal jy die ewige lewe maai.

Dit is die moeite werd.  Die ewige lewe is jou beloning.  God is jou beloning!  Hy is meer as wat jy ooit sou kon dink!  Dink net as al die mense in die kerk altyd na al die ander gekyk het, nie om te vra wat kan ek neem nie, of hoe kan ek hulle gebruik nie, maar hulle werklik van harte liefgehad het en gevra het wat kan ek gee!  Dit sal ‘n ongelooflike gemeenskap wees. Dit is die gemeenskap wat Jesus bou. Dit is die teenkultuur.

Liewe gemeente, die Woord van God gee ons opdrag om elke gedagte gevange te neem (2 Kor. 10:5), en die beste manier om dit te doen is om te bid.  Weerstaan die duiwel en hy sal van jou wegvlug.  Gebed is die manier waarop ons die krag toepas om sonde te oorkom.  Ons het Hom nodig.  En sy krag.

As jy nie die dissipline het om te bid nie, bel dan ‘n familielid, ‘n vriend of ‘n geestelike mentor wat saam met jou kan bid.  Verootmoedig jouself en erken jy het gebed nodig om hierdie wellustige gedagtes te oorkom. Sulke nederigheid maak die deur oop vir God se guns.  Onthou:  “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petr. 5:5)

‘n Nuwe en getransformeerde denke is gevul met gedagtes van Jesus en sy liefde soos dit aan die kruis openbaar is.  ‘n Getransformeerde denke mediteer dag en nag oor die lewe en krag wat beskikbaar is deur sy Woord.  ‘n Getransformeerde denke veroorsaak dat die rigting van jou lewe omgedraai word sodat, in plaas daarvan dat alles na jou toe vloei – dinge na ander toe vloei.  Op dieselfde manier waarop jy jouself eens aan wellus oorgegee het, moet jy jou nou oorgee aan die behoeftes van ander.

God wil ons gedagtes vernuwe en transformer.  Hy wil ons lelike, selfgesentreerde, wellus-gevulde gedagtes transformeer en aan elkeen van ons ‘n ‘pragtige gees’ gee, een wat Hom waarlik behaag en verheerlik.

Laat ons dus wreed en brutaal wees as ons die sonde doodmaak, en heiligheid bevorder.  Laat ons bely, laat ons bod.  Laat ons vertrou dat God getrou sal wees deur ons mooi te maak.  Laat ons heiligheid ernstig opneem, want Hy roep ons om heilig te wees, omdat Hy heilig is.  Om perfek te wees soos ons Hemelse Vader perfek is.  Dit is net moontlik in Jesus, ons Here. 

Amen.