Die HERE herstel die sabbatsrus met woord en daad

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2022-09-04
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 38
Preek Inhoud: 

Toe die volk van God teruggekeer het uit die ballingskap, in Nehemia se dae, het hulle teruggekeer in ’n land waar die heidene oorgeneem het.

As groepie teruggekeerdes was hulle omring deur heidene en heidense leefgewoontes.

Met die gevolg dat hulle van die heidense gewoontes oorgeneem het.

Een van hierdie gewoontes was dat handel en sake doen gewoon op die sabbat voortgegaan het.

Ons het daaroor gelees.

Vir Nehemia was dit ’n doring in die oog.

En ons het gelees van die maatreëls wat Nehemia geneem het om hierdie ontheiliging van die sabbat stop te sit.

Watter ryke seën is dit nie, as ’n land of stad ’n regeerder soos Nehemia van God ontvang, wat die bevolking op die regte pad lei.

Nie dat dit vir Nehemia maklik was nie.

Hy het baie teenstand ondervind, nie net van die heidene nie, maar ook van sy eie volk.

Tog het die HERE se wil sy kompas gebly, en was hy nie afhanklik van die mense se goeddunke nie, maar hy het telkens homself afgevra wat die HERE van hom dink.

En so was hy ’n soutende sout.

 

Tema: Die HERE herstel die sabbatsrus met woord en daad

 

Nou is dit goed om te besef dat Nehemia nie ‘n profeet of ‘n priester was nie, maar hy was die regeerder oor die volk wat teruggekeer het uit ballingskap.

Hy het gesorg dat daar nie net liturgiese reformasie gekom het nie, maar ook burgerlik, wat betref die regering van Juda en in besonder die stad Jerusalem.

Toe hy sien dat daar mense was wat op die sabbat die parskuipe trap, het hy sy verantwoordelikheid besef.

Parskuipe trap was werk.

Dit het ook gegeld vir die vragte koring wat, op esels gelaai, die stad ingebring is.

Dit was ook werk, nie net vir die mense nie, ook vir die esels.

Sê die vierde gebod nie dat jou diere moet rus net soos jy nie?

Onthou, in daardie tyd was daar nie trekkers en vragmotors nie.

Diere moes daardie werk doen.

En so is daar allerhande vragte op die sabbatdag in Jerusalem ingebring – wyn, druiwe, vye ensovoorts.

Verder het die Jode ook die heidene toegelaat om op sabbat handel te kom dryf.

Ons het dit gelees: Ook die Tiriërs wat daar gewoon het, het allerhande koopware ingebring en dit op die sabbat aan die kinders van Juda verkoop, selfs in Jerusalem.

Sê vierde gebod nie ook dat die vreemdeling in jou poorte moet rus op die sabbatdag nie?

So is die gebod van die HERE drievoudig oortree:

Die Jode het die sabbat self ontheilig, hulle het hulle diere laat werk, en hulle het die buitelanders laat werk deur op sabbat met hulle handel te dryf.

 

Soos ek gesê het, Nehemia was nie ‘n profeet of priester nie, hy was ‘n burgerlike leier van die volk.

En wat die sabbatsheiliging betref, sien ons dat hy hier twee dinge doen.

Eerstens, as die volk die HERE se wet nie meer geken het nie, was daar onderrig nodig.

En so het Nehemia gedoen.

Onderrig is nie net kennis oordra nie, maar ook sorg dat die volk die kennis ter harte neem.

Daarom het Nehemia die mense gewaarsku.

Het het selfs met die edeles, die vooraanstaandes, van Juda getwis, mens kan ook vertaal, hy het hulle verwyt dat hulle die slegte voorbeeld stel.

En dit nadat hulle onlangs nog iets anders aan die HERE belowe het.

Enkele hoofstukke eerder, Nehemia 10, kan ons lees hoe die volk die verbond met die HERE vernuwe het.

Hulle het toe plegtig belowe, Nehemia 10:31: “as die volke van die land koopware en allerhande soorte koring bring om op die sabbatdag te verkoop, dat ons niks van hulle sou neem op die sabbat of op ‘n heilige dag nie”.

So konkreet het hulle dit belowe.

En nou, nie lank daarna nie, kyk net wat daar by die stadspoorte besig was om te gebeur!

Geen wonder Nehemia was geskok nie.

Indringend vertel hy dan wat daar met hulle vaders in die verlede gebeur het.

Die ontheiliging van die sabbatdag was een van die redes hoekom die HERE onheil oor sy volk gebring het.

Nehemia verwys spesifiek na die ballingskap.

Oortreding van die vierde gebod was ‘n rede vir die ballingskap.

En nou is hulle nog maar net terug uit die ballingskap, hulle sien hoe ‘n puinhoop Jerusalem is, en nou begin hulle direk al weer met dieselfde sondes?

Geen wonder Nehemia het wanhopig geraak.

Later in die hoofstuk lees ons selfs dat hy sommige van hulle se hare uitgepluk en hulle geslaan het.

Reformasie, terugkeer na die HERE se gebooie was vir hom ‘n heilige, ‘n ononderhandelbare saak.

Deur Nehemia herstel die HERE die sabbatsrus met woord en daad.

Hoe op dees aarde kon hulle, so kort na die ballingskap, terugval in die leefwyse van die heidene, deur die sabbat nie te hou nie, deur selfs met die heidene se dogters te trou?

Was Nehemia hier wetties besig, dat hy so op die wetsonderhouding gehamer het?

Nee, hy was onder die indruk hoe groot die wonder van God se bevryding uit ballingskap was.

Wat in Babel so moeilik was – naamlik om volgens God se wette te lewe – daarvoor was daar nou weer alle geleentheid, noudat hulle terug in die beloofde land was, en hulle self kon besluit hoe hulle sou lewe.

Maar waaragtig kies hulle nou om tog die HERE se wette nie na te kom nie.

Hoe op dees aarde is dit moontlik?

Dit het Nehemia stomgeslaan.

Vandaar sy heftige reaksie.

Wie vol is van dankbaarheid vir die HERE se bevryding, doen nie so iets nie.

Wie besef hoe genadig die HERE is, begin gehoorsaam die pad van God se gebooie stap.

Daarom die indringende onderrig, die waarskuwing van Nehemia.

Dit volk moet goed besef wat hulle doen.

Dit dus in die eerse plek, Nehemia het die volk onderrig, gewaarsku, herinner aan die wet van die HERE.

 

Maar dan tweedens, gemeente, sien ons dat Nehemia ook die wet handhaaf.

Dit is nie net woorde nie, ook dade.

Onthou, soos ek gesê het, Nehemia was ‘n burgerlike leier van die volk, nie ‘n profeet of priester nie.

In daardie hoedanigheid het hy dan ook die bevoegdheid gehad om die wet te handhaaf.

Sonder handhawing beteken ‘n wet niks nie, het dit nie tande nie.

Nehemia neem maatreëls.

Hy bepaal dat, sodra die sabbat aanbreek, die poorte van die stad gesluit moes word.

Sodra dit donker geword het in die poorte, moes die poorte gesluit word.

Onthou in daardie tyd het die rusdag begin sodra die son gesak het op Vrydagaand, en die sabbat was verby die Saterdagaand, as die son weer ondergegaan het.

So was dit volgens die HERE se wet, Levitikus 23:32: “van aand tot aand, moet julle die sabbat hou.”

Nehemia het gesorg dat hierdie wet toegepas word.

Hy het ook wagte aangestel by die poorte om seker te maak mense gaan nie aan met hulle sondige gewoontes nie.

Die handelaars het nog ‘n paar keer buite die poort oornag, met die hoop dat dit net tydelik sou wees.

Maar Nehemia het met hulle gaan praat, hulle gewaarsku dat hy hulle in hegtenis gaan neem as hulle langer daar rondhang en probeer handel dryf.

Dit het hulle afgeskrik en hulle het nie meer op die sabbat gekom nie.

Nehemia het daarna die Leviete opgeroep om hulle taak ernstig te neem, en voortaan as poortwagters by die poorte stelling in te neem.

So sien ons dus, in die tweede plek, dat Nehemia die wet ook toegepas het.

 

Ons kan hieruit leer, gemeente, dat die vierde gebod nie net relevant is vir gelowiges, en vir die kerk nie.

Die vierde gebod moet in die hele samelewing toegepas word.

As owerhede die vierde gebod in hulle land of stad toepas, is dit nie omdat hulle aan die leiband van die kerk loop nie.

Dit is omdat hulle God eerbiedig, wat met sy Woord ook direk tot hulle spreek.

God het owerhede in hulle gesagsposisies aangestel.

Die vierde gebod is goed vir die samelewing, die hele samelewing.

Waar ‘n owerheid die vierde gebod nie handhaaf nie, sien ons dat die swakkes in die samelewing eerste geraak word.

Ryk mense kan rus op Sondag.

Maar die arm mense word gedwing om te werk.

Buitelanders wat as kelners in restaurante werk, word afgedank as hulle weier om op Sondag te werk.

Ons medegelowiges in Soshanguve en Mamelodi wat as kassiere in supermarkte werk, word afgedank as hulle nie op Sondae wil werk nie.

En hier rondom ons, in Waverley, sien ons hoe daar van bediendes en tuinmanne verwag word om op die dag van die HERE te werk, gras te sny, die motor te was, noem maar op.

Wat doen ons daaraan?

Laat ons, soos Nehemia, onderrig en waarsku.

In die eerste plek deur ons goeie voorbeeld.

Ons gun ons dienskneg en diensmaagd ook rus op Sondag.

Ons sorg dat die armes ook kan rus, deur nie op die dag van die HERE winkel toe te gaan vir ons normale inkopies nie, so te beplan dat ons nie op Sondag petrol hoef in te gooi nie,

En dat ons nie restaurante besoek nie.

Ja, om te gaan uiteet is baie ontspannend.

Maar daar is min gebooie waar die reg van die arme en buitelander so beklemtoon word as die vierde gebod.

Ons rus mag nie ten koste gaan van hulle, die armes, se rus nie.

 

Gemeente, hierdie dinge mag lyk soos ‘n druppel op ‘n gloeiende plaat.

Maar as al die 85% Suid-Afrikaners wat sê dat hulle Christene is, dit doen, was daar werklik ‘n rusdag in ons land.

En dan, behalwe vir ons voorbeeld, laat ons voortdurend die owerhede oproep.

Mag die HERE mense soos Nehemia aan ons land skenk, wat sorg dat die poorte toegemaak word, wat maatreëls neem dat winkels toebly.

 

Nou is dit so dat die vierde gebod om een of ander rede maklik misbruik word deur hulle wat wetties wil lewe.

In teenstelling tot Nehemia se tyd, was dit in die Here Jesus se tyd op aarde die geval onder baie Jode, veral die Fariseërs.

Ook daarteen moet gewaarsku word.

Ons sien hoe Christus die goue middeweg bewandel.

Hy heilig die sabbatdag, maar Hy steur Hom nie aan die bepalinkies van die Fariseërs nie.

Die sogenaamde sabbatsreis, ‘n maksimum afstand wat jy op sabbat mog aflê, keer Hom nie om heerlik met sy dissipels deur die koringlande te wandel nie.

Die rusdag mag nie ‘n las op die mense se skouers word nie, dit moet juis as ‘n dag van bevryding beleef word, ‘n dag om bly te wees, om op kragte te kom, liggaamlik en geestelik.

 

Die Gereformeerde etiek het, op basis van Christus se onderrig oor die sabbat, en op basis van sy eie voorbeeld, twee riglyne geformuleer.

Want die sabbatsrus mag nie so rigied wees dat dit mense verhinder om goed te doen, om op die sabbat aan hulle naaste liefde te bewys nie.

Daarom moet sommige arbeid op sabbat voortgaan.

Naamlik eerstens arbeid van nood, en tweedens arbeid van noodsaak.

Arbeid van nood was soos die kalf wat in die put was, en om sy lewe te red, op sabbat uitgehaal moes word.

So behoort dokters en verpleegsters, en veeartse op die rusdag reg te staan om hulle te help wat in lewensgevaar verkeer.

En noodapteke is oop.

En tweedens arbeid van noodsaak, juis om te voorkom dat mense op die rusdag seerkry.

Daarom behoort die verkeerspolisie op Sondag te werk, sodat die paaie veilig is.

En ook die polisie, sodat misdadigers nie die rusdag misbruik vir hulle sondige praktyke nie.

Arbeid van nood en arbeid van noodsaak.

Dit is ‘n goeie riglyn uit die Gereformeerde etiek vir die samelewing, vir die burgerlike lewe.

 

So het die vierde gebod nie net ‘n boodskap vir die kerk nie, maar vir die hele samelewing.

Hierdie gebod is goed vir gelowige en ongelowige.

En geseënd is ‘n land waar die owerhede in hulle regering hierdie gebod ernstig neem.

 

En gemeente, solank as wat ons nie ‘n burgermeester of ‘n president soos Nehemia het nie, laat ons nie moeg word om goed te doen nie.

Konkreet, as ons die vierde gebod nakom, dan doen ons goed.

Ons doen dit uit die regte motiewe, nie om uit te straal dat ons as streng kerk beter is nie.

Wel mag ons almal rondom ons oproep: Kom en maak soos ons.

Want dit is die HERE se wil.

En sy wil is goed.

Sy wil is dat mense tot rus kom, nie net fisies nie, maar tot rus in Christus.

Die Sondagsrus staan nie los van die Evangelie nie.

Daarom is ‘n onmisbare onderdeel van die rusdag dat ons kerk toe gaan, om daar die Evangelie te hoor, om daar te ervaar dat die Sondagsrus ‘n begin is van die ewige rus, die ewige sabbat.

Dit mag in hierdie lewe reeds begin.

Vanuit die Sondag, as eerste dag van die week, word die Maandag tot Saterdag ook geheilig.

Deur die Gees, wat in die Woordbediening tot my kom, kry ek die krag om elke dag van my bose werke te rus, soos die Kategismus skryf.

 

As die Kategismus die vierde gebod behandel in Sondag 38, trek dit die konsekwensies ver deur, en tereg.

Onderdeel van die vierde gebod is naamlik ook dat die Woordbediening en skole in stand gehou word.

Nehemia het nie net die uiterlike rus herstel nie, hy het die Leviete ook opgeroep om die tempeldiens te herstel, hy het die volk opgeroep om hulle tiendes te betaal, sodat die erediens in stand gehou kon word.

Nehemia 13:10: “Ook het ek verneem dat die aandele van die Leviete nie gegee is nie, sodat die Leviete en die sangers wat die dienswerk moes verrig, elkeen na sy grond gevlug het.”

Sien ons dit nie ook vandag gebeur nie, dat Christene hulle tiendes nie gee nie, en dat Woordbedienaars ook ander werk moet gaan doen om hulle gesinne te onderhou?

Ook dit is onderdeel van die vierde gebod.

Ook dit is iets wat die jeug moet aanleer, om jou liefdesgawes bo-aan jou begroting te plaas.

Die Woordbediening en die skole moet in stand gehou word.

By skole bedoel die Kategismus nie net Gereformeerde onderwys nie, maar ook die opleiding tot die diens van die Woord.

 

En dan gemeente, dit spreek vanself, maar tog word dit al hoe minder vanselfsprekend in ons tyd:

As ons dan op Sondag rus, dat ons ook ywerig met die gemeente van God saamkom, soos die Kategismus dit verwoord.

Met ons mobiliteit raak dit al hoe makliker vir mense om gedurende naweke weg te breek.

Ek praat laas met ‘n predikant van ‘n kerk in die Swartland.

Op Sondag sit daar ‘n handjievol mense in die kerk, omdat al die lidmate in die naweke na hulle vakansiehuise aan die Weskus gaan.

Maar op nagmaalssondae is die kerk stampvol.

Begin ons nie ook so ‘n tendens in ons gemeente sien nie?

Dit is nie wat bedoel word met ywerig op die rusdag met die gemeente van God saam te kom nie.

Ook is dit nie ywerig om net een diens op ‘n Sondag by te woon nie.

Hierdie laksheid onder God se volk het in die Ou Testament tot die ballingskap gelei.

As hierdie laksheid onder ons posvat, gaan dit ook die HERE se toorn opwek.

Dit sal nie ongestraf bly nie.

 

Dit is verbasend hoe vinnig die volk hulle belofte aan die HERE vergeet het, nadat die verbond vernuwe is.

Ons het dit gelees in Nehemia 10 hoe konkreet hulle belowe het om nie op sabbat handel te dryf nie.

En maar net kort daarna, was dit asof hulle dit nooit belowe het nie.

Maar gemeente, moenie te gou kopskud oor hulle nie.

Gebeur dit nie ook net so by ons nie.

Hoe dikwels staan daar nie jongmense voor in die kerk, wat baie plegtig hulle geloof bely.

En dan, een of twee jaar later, ten spyte van wat hulle aan die kerkraad belowe het, ekskuus, nie net aan die kerkraad nie, aan die HERE belowe het, sien mens een of twee jaar later hulle nie meer op Bybelstudie nie, en hulle kom nog maar net een keer per Sondag kerk toe.

Hoe vinnig kan ook ons ons beloftes aan die HERE vergeet!

 

Geliefde broers en susters, julle is bevry uit die ballingskap.

Christus het julle teruggebring.

Hy het julle verlos onder die heerskappy van die Satan uit.

Hy is besig om die sabbatsrus met woord en daad te herstel.

Deur die prediking van die Evangelie.

Ook deur die bediening van die tug.

Ja, hulle wat die eredienste nie trou besoek nie, moet deur die ampsdraers, in opdrag van Christus, getugtig word.

Hulle wat hulle belofte nie nakom nie, is tugwaardig.

Die HERE herstel sy dag met woord en daad.

Hy doen dit deur vandag se Woordbediening.

En as sy volk nie luister nie, volg daar ook dade.

Die kerkraad gaan nie, soos Nehemia, mense se hare uittrek nie, maar hulle wat nie die erdienste trou besoek nie, gaan wel van die nagmaal afgehou word.

Dit is die geestelike gesag wat die ampsdraers van Christus ontvang het, en wat hulle moet gebruik.

 

Laat ons nie vergeet nie, hierdie sabbatsrus, elke Sondag weer, is die begin van die ewige rus, die ewige saligheid!

Moenie terugkeer na die slawerny van ‘n wêreldse lewe nie!

Toon julle dankbaarheid deur ywerig die eredienste te besoek.

Besef die noodsaak om die Vader se seën te ontvang vir die week wat wag.

Besef die noodsaak om elke week weer vergewing in Christus se naam te ontvang.

Besef die noodsaak om gevoed te word deur sy Gees en Woord, sodat jy elke dag van die week van jou bose werke kan rus.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Nehemia 13

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 38

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Watter amp het Nehemia beklee?
  2. Die Jode het op drie maniere die vierde gebod oortree. Noem hulle.
  3. Wat was die gevolg van die feit dat God se volk in die Ou Testament die sabbat nie onderhou het nie?
  4. Watter arbeid moet op die rusdag voortgaan?
  5. Is daar dele van jou belofte aan die Here met jou geloofsbelydenis, wat jy nie meer nakom nie?
  6. Wat gaan gebeur met hulle wat nie die eredienste getrou bywoon nie (soos die nagmaalsformulier dit verwoord), maar tog nagmaal vier?

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 84:1,2

Gebed

Skriflesing: Nehemia 13

Ps 122:1

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 38

Preek

Ps 84:4,5

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 52:4

Kollekte

Ps 65:2,3

Seën