Salig is die wat vervolg word, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2020-02-02
Text: 
Mattheus 5: 10 - 12
Reference: 
Saligsprekings
Preek Inhoud: 

Daar is mense wat vir hulself leef.  My koninkryk.  My geld.  My gesin.  My huwelik.  My werk.  My kerk.  My manier van leef.  My kultuur.  My....  Die lys gaan aan en aan.  En dan is daar dié wat die realiteit van Jesus ervaar het en daarin leef.  Wat ingetrek is in die koninkryks-lewe.  In die realiteit van die hemel.  In die persoon van Jesus Christus.   Wie se oë geopen is vir die regte lewe.  Waar hulle koninkryk Syne word.  “Myne” word “Syne”.  My geld word Sy geld.  My gesin word Sy gesin.  My huwelik word ʼn spieëlbeeld van Sy huwelik. My werk in diens van Hom.  My kerk word Sy kerk.  En my manier van leef is Sy manier van leef.

Dit gaan oor ʼn gemeenskap van mense wat anders lyk, wat uitstaan as ʼn gemeenskap.  Nie net as individue nie – jy in jou hoekie en ek in myne.  Dit is ʼn lewe wat in feite die selfsoekende lewe ontbloot, want dit is ʼn uittog uit jouself en tog is dit die weg waar ʼn mens jouself waarlik weer vind.  Maar hierdie keer nie in homself nie, maar in die Een vir Wie hy geskape is – God.  Dit lê dié wat vir hulself in die hier en nou lewe, bloot.  En dit bring vreeslike vervolging, maar tog sal dit ook eer bring aan God die Vader.  In hierdie preek wil ons fokus op hoe dit vervolging bring en in die volgende preek sal ons kyk hoe dit eer aan die Vader bring.  

 

Salig is die wat vervolg word, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”  Sjoe, Rabbi, dit is ʼn groot sprong.  U gaan nou van vrede na vervolging.  Waarom volg hierdie twee mekaar op?  ʼn Mens sou nie dink dat vredemakers vervolg sal word nie.  Maar dit is hoeveel die wêreld die haat wat hy koester, geniet.  Die wêreld floreer op konflik.  Die wêreld hou van verdeeldheid. Dit gee hom die illusie van superioriteit.  Ons sien dit met vandag se geslags- en rassepolitiek.  Ons wil verdeeldheid skep.  Of dit nou jou status, jou kleur, jou rykdom of geslag is.

Egte vrede benodig armoede, gebrokenheid en belydenis, nederigheid, ʼn diep honger en dors na regverdigheid.  Vredemakers vernietig hierdie kenmerke van verdeeldheid in Christus.  Die wêreld hou daarvan om by hul soort mense te wees en agterdogtig te wees teenoor daardie mense.

Maar as jy as ʼn vredemaker leef – soos wat Jesus was – dan lê dit sonde bloot, en selfregverdiging.  Dit ontbloot die manier waarop die wêreld met sy eie omgaan.  En die wêreld hou niks daarvan nie.  Niemand hou daarvan om daarop gewys te word hoe hulle rêrig is nie.  Niemand hou daarvan om daarop gewys te word dat hulle ʼn wrok hou en hulle moet bekeer nie.  Niemand hou daarvan om op sy eie armoede gewys te word nie.  Dit is waar van my en van elkeen van ons.  En wanneer jy op hierdie manier leef, dan lyk dit anders, selfs ʼn bietjie vreemd vir ʼn wêreld wat toekyk.  Daar gaan twee reaksies wees, hoe langer iemand 'n Christen ken – ʼn hart wat versag, of vervolging.  Soos wat Paulus vir Timotheüs sê: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (2 Tim 3:12)  Hoe kan hy so ʼn groot veralgemening maak?  Omdat dit waar is. Jy sal gevloek word as jy nie saamdoen met die laster van ander nie, wanneer jy nee sê vir daardie ekstra drankie, wanneer jy opstaan vir Christus by die werk. Wanneer jy opstaan teen die soeke na mag binne en buite die kerk.  Inderdaad, soms kan die vervolging vanuit die verbondsvolk kom, soos wat ons regdeur die Skrif sien.

Maar in dit alles kan ons ons verheug.  Want ons weet dat Jesus hierin verheerlik word.  Die kruis is die pad na heerlikheid.  En selfs te midde van hierdie lyding is ons diep verenig met Christus.  Soos wat die volgende vers duidelik maak.  “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.”  Lyding vir geregtigheid en lyding vir Christus word hier saamgevoeg.  Onlosmaaklik.  Ons sal vervolg word.  Maar waarvoor?  Is dit omdat ons iets verkeerd gedoen het?  Nee.  Is dit omdat ons moeilik is, hardkoppig, fanaties, oorywerig of dwaas?  Nee.  Omdat ons veg vir ʼn doel, selfs ʼn goeie een, ʼn religieuse politieke doel?  Nee.  Omdat ons goed is, edel en selfopofferend?  Nee.  Waarom dan?  Vir jou identifisering met Jesus die Christus.

Ons volg nie die wet nie, maar Christus.  Dit is wat geloof is.  Geloof is om met Christus, in Wie die wet vervul is, te wandel.  Geloof verenig ons met die geregtigheid van Christus.  Geloof gaan daaroor om die oppergesag van die wet te omskep in die verhouding met Christus, wat daardeur verdiep.  Sodat om vervolg te word vir geregtigheid en vervolg te word ter wille van Jesus, identies word.  Want dit is uiteindelik nie ter wille van geregtigheid nie, maar ter wille van die Regverdige Een wat ons vervolging ondergaan.  Die geregtigheid van die lewe wat gesien word, is die nabootsing van Jesus. Die dissipel van Jesus word so geïdentifiseer deur geregtigheid dat daar geen plek is vir beweerde trou aan Jesus wat nie vol geregtigheid is nie.

Die mensdom verlang daarna om vry van God se wil te wees en sy eie wil te volg.  Deur die geloof word daardie verlange omgekeer, sodat ons verlang om God se wil in Christus te doen en ons eie te versaak.

Deur die geloof sal ons die gewone koninkrykslewe, wat skyn, leef.  Ons sal opkom vir die verdruktes en die vertraptes!  Ons sal heilig wees, en anders, terwyl ons ons Verlosser volg.  Ons sal opstaan teen korrupsie en die misbruik van mag waar ons dit teenkom.  Ons sal ons teenkanting teen oormatigheid en vir selfbeheersing uitspreek.  Ons sal omgee vir diegene vir wie die wêreld nie omgee nie, die kindjie in die baarmoeder, die immigrant, die hulpelose in die samelewing.  In Christus vind ons weer vreugde in ons werk.  Ons vind ewige betekenis in verhoudings.  Dit is dinge wat die wêreld begeer, maar nie kan kry nie, totdat hulle Jesus sien!  En hiermee saam sal ons die Here Jesus Christus luid verkondig!  Ter wille van sy Naam word ons soos slagskape na die slagpale gelei!  Maar ons weet dat in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars!  Dit was toe waar; dit is vandag waar!

Een Romeinse historikus het die volgende oor Christene (AD 100) geskryf: “...Die arme siele het hulself allereers oortuig dat hulle onsterflik is en vir ewig gaan lewe, daarom verag hulle die dood en gee hulle hulself selfs gewillig oor in aanhouding... hulle verag al hierdie dinge voor die voet en deel alles wat hulle het.  As daar enige skelm tussen hulle kom, dan sal hy van hulle profyt kan trek en vinnig rykdom vergaar deur misbruik te maak van eenvoudige mense.”

Daar sal vir ons gelag word, omdat ons te barmhartig is en te genadig.  Gevloek omdat ons ʼn hoër standaard van geregtigheid het.  Beskou word as eenvoudig omdat ons nie eerstens geld najaag nie.  Wanneer is die laaste keer dat jy vervolg is ter wille van geregtigheid?  Wanneer is die laaste keer dat jy vervolg is ter wille van Jesus?  Baie van julle is waardig geag en verheug julle in die feit!  Jesus sê teenstand is ʼn normale eienskap van dissipelskap, so normaal soos honger en dors na geregtigheid.  Om nie vervolg te word vanweë die kleur van jou vel, of omdat jy jonk is nie, maar ter wille van geregtigheid – omdat jy passievol was in jou dissipelskap.

Wat ons dus hieruit leer is dat ware geregtigheid – die geregtigheid wat die geregtigheid van die skrifgeleerdes en Fariseërs oortref (Mat. 5:20) – altyd ʼn verhouding met Jesus behels.  Ware geregtigheid word nie ter wille van jouself gedoen nie.  Dit word gedoen ter wille van Jesus.  Die genade en die suiwerheid en die vredemakery van ʼn dissipel van Jesus kom van Jesus (“Sonder My kan julle niks doen nie.” Joh. 15:5) en word tot eer van Jesus gedoen.  Dit is hierdie verbondenheid met Jesus wat ons geregtigheid sy unieke karakter gee.

Soos wat Jesus vir sy dissipels gesê het en vandag ook vir julle: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê.   Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.  Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ʼn Dienskneg is nie groter as sy heer nie.  As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg.” (Joh. 15:20)

Dit is baie belangrik.  Anders kan dit baie maklik gebeur dat ons eie vervolging ons eiegeregtig maak.  Dat ons dit nie ter wille van Jesus doen nie, maar ter wille van onsself, om uit te staan.  Om drama te veroorsaak.  Om aan ander te wys hoe goed ons is.  Dit is nie geregtigheid as dit nie gedoen word om te verheerlik nie.  As dit die Naam van Jesus op enige wyse minder maak, dan is dit nie reg nie. Dit is beter om verkeerdelik te ly of nie te reageer nie, as om die oorsaak daarvan te wees dat mense die Christendom belaster, omdat jy sonder genade en barmhartigheid reageer.

En ons kan ons verheug in hierdie lyde om twee redes.

1. Ons beloning in die hemel is groot.  Die hemel is nie eerstens ʼn plek nie, maar ʼn realiteit. Dit is nie ʼn quid pro quo nie. Ons ly nie so baie, omdat God ons so baie gee nie.  Nee, dit is ʼn beloning.  Dit is God se koninkryk wat jy sal beërwe!  En dit word nou openbaar gemaak. Selfs deur lyding.

2.  En die tweede rede hoekom jy jou kan verheug is omdat dit bewys dat jy deel is van ʼn lang ry gelowige volgelinge, insluitend die Here self. Dit is ʼn uitnodiging om met die liggaam van alle tye en plekke onder die kruis te verenig.

Dit is die gekruisigde Christus – Hy is die vervolgde regverdige man wat in die Ou Verbond se profesieë voorgestel word, veral in die gesange van Jesaja as die lydende dienskneg.  Die saligsprekinge is ʼn uitnodiging om die gekruisigde Christus te volg – ʼn uitnodiging aan die individu sowel as aan die kerk.  Jesus belowe vreugde, verheerliking en ʼn groot beloning.  In feite deel ons in alles wat Syne is.  Hy is beloon met die koninkryk van die hemele en nou gee Hy dit aan hulle wat hul kruis opneem en Hom volg.  Die Een wat praat is die verwysingspunt van al die saligsprekinge.  Getrouheid aan Jesus word die kriteria vir geregtigheid.

Om vir Christus te ly is niks nuuts nie, en dit is nie net iets wat ons opnuut teëkom in ons generasie nie.  Dit was altyd reeds daar, soos wat Jesus self gesê het: “Want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”  Die legende lui dat Jeremia in Egipte gestenig is, ʼn ander profeet, waarskynlik Sagaria, is gedood in die binnehof van die tempel en die koning het sy bloed teen die mure van die tempel gespat.  Daar word gesê dat Jesaja doodgemaak is deur in twee gesaag te word terwyl hy in ʼn boom weggekruip het.  Ongeag of dit waar is of nie, het hierdie profete teen erge vervolging te staan gekom.  En dit het nie daar opgehou nie.  Die meeste van die apostels is gemartel. En dit het nie daar opgehou nie.

Wat het die beroemde martelare Rowland Taylor en biskop Ridley en John Bradford daartoe beweeg om die brandstapel te soen waarop hulle verbrand is?  Wat het ʼn ander predikant daartoe beweeg om, na negentig sweepslae wat sy rug in jellie verander het,  vir die magistraat te sê: “Jy het my met rose geslaan”?  Waarom het een teoloog, wat vreeslik gely het, gesê dat vervolging ” ʼn kosbare seisoen van genade” is?  Waarom was die apostels verheug toe hulle met swepe geslaan is ter wille van Jesus?  Waarvoor het al hierdie manne gewag?

Ek dink ons vind die antwoord in 2 Korinthiërs 4:17-18: “Want ons ligte verdrukking wat vir ʼn oomblik is, bewerk vir ons ʼn alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare ding nie, maar op die onsigbare.”  Hy sê dat verdrukking ons “voorberei” en ewige heerlikheid “teweegbring”.  Soos Charles Hodge sê: “Verdrukking is die oorsaak van ewige heerlikheid.  Nie die verdienstelike saak nie, maar steeds die verkrygende saak.  God het dit goedgedink om sy doel te openbaar, nie net om die verdrukking van sy volk met oorweldigende vreugde te beloon nie, maar om daardie verdrukking die middel te maak om daardie vreugde uit te werk.”   

Dit laat my dink aan Job wat gesê het: “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit.” (13:15)  Of in die woorde van die lied (“Though You Slay Me” / “Al Maak U My Dood”) wat op daardie teks gebaseer is:

My hart en vlees mag faal

Die aarde onder my padgee

Maar met my oë, met my oë sal ek die Here sien

Omhoog gehou op daardie dag

Kyk, die Lam wat geslag is

En ek sal weet dat elke traan die moeite werd was.

Liewe gemeente – as jy voluit gaan, as jy rêrig jou lewe wil aflê, as jy bereid is om jouself tweede te plaas in elke situasie omdat Christus eerste aan jou gedink het, dan sal jy vervolg word.  Jy sal bespot word!  Maar skep moed!  Wees bemoedig!  Luister na die beloftes van jou Verlosser, van jou Koning, van jou God!  Want aan jou behoort die koninkryk van die hemele!  Groot is jou beloning in die hemel.  O, laat ons ons oë gerig hou op Jesus, die Outeur wat ons geloof perfek maak, wat die kruis verduur het vir die vreugde wat voor Hom was, die skande minag het, en gaan sit het aan die regterhand van die troon van God.  Inderdaad, die vreugde was onvergelykbaar met die lyding aan die kruis. En dit was die lyding wat die vreugde moontlik gemaak het en ons vreugde ʼn realiteit gemaak het.

Dit is vir my pragtig hoe die Bybel dit stel: “vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.  Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.   Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word.” (2 Kor. 4:9-11)  So is die dood dan aan die werk in ons, maar die lewe is ook aan die werk in jou...  Ons weet dat die Een wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met jou voor Hom sal stel.  Dit is alles tot jou voordeel, sodat die genade, wat al hoe meer mense bereik, mag lei tot oorvloedige danksegging tot eer van God.

Daarom word ons nie moedeloos nie.  Alhoewel ons van buite af vergaan, word ons innerlik dag vir dag vernuwe.  Want ons ligte en tydelike moeites bewerk vir ons ewige heerlikheid wat dit alles by verre oortref. Ons rig ons oë dus nie op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare, want dit wat ons sien, is tydelik, maar dit wat ons nie sien nie, is ewig.

Liewe gemeente.  Die ewigheid lê voor jou.  Ewige vreugde, seën, vrede, heiligheid, geregtigheid, goedheid en genade.  Ewige lewe.  ʼn Ewigheid in die teenwoordigheid van God, van Jesus.  Jy mag die gesig van Hom wat vir jou gesterf het, aanskou, Hy wat vir ewig leef.  Hy is die lewenspad, die volheid van vreugde, vreugde vir ewig!

En daarom sal ons verskillende beproewinge met vreugde ervaar, want ons weet dat ons God ons daarin waardig ag om ter wille van Hom te ly!  Daarin weet ons dat die lewe in ons werk!  Daarin word ons weer daaraan herinner dat ons lewe geborge is met Christus in God.  En so gaan ons met vrymoedigheid hierdie week weer die wêreld in, in die wete dat ons niks het om te verloor nie en dat alles wins is.  Ons gaan dit vrymoedig binne terwyl ons die Naam van Jesus wyd  en syd verkondig in alles wat ons elke oomblik van elke dag doen. Totdat Hy weer kom!

Kom, Here Jesus!

Amen