Die volmaakte woord van God wil ons geloof heel maak.

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-08-14
Text: 
Jakobus 1:18-27
Reference: 
Jakobus-reeks #2
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus, broers en susters,

In die eerste preek het ek, amper terloops, genoem dat ‘heelheid’ / ‘volkomenheid’ dié sentrale tema in Jakobus se brief is, en ek wil dit vanoggend sommer uit die staanspoor ‘n bietjie verder uitwerk. Dis belangrik dat ons hierdie tema goed sal verstaan, voordat ons by ons teks vir vandag kom.

Heelheid / volkomenheid – dit begin natuurlik by God self, en Jakobus maak dit op verskeie plekke in sy brief duidelik. Dink aan hoofstuk 1:17: Hy is “die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie” – God is nie die een dag so, en die ander dag anders nie; Hy is altyd dieselfde; sy karakter is volkome. Hoofstuk 2:19 sê verder dat God één is – daar is dus geen verdeeldheid in God nie, daar is geen verskeurdheid in God nie, Hy is een geheel, Hy is één. Dieselfde, maar dan toegepas op die wet, vind ons in hoofstuk 4:12: “die Wetgewer is één” – Hy is heel, Hy is volkome, met die gevolg dat ook sy wet een geheel is, sodat “wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, aan almal skuldig geword het” (2:10). U sien, die Wetgewer is een en sy wet is een geheel – ons kan nie sy wet opdeel, en dink dat as ons een van die tien gebooie oortree het, ons darem nog die nege ander onderhou het nie. Nee, wie een gebod oortree het, het die hele wet oortree, want God se wet is ‘n eenheid; dit is ‘n geheel. En omdat God heel is en sy wet een geheel is, daarom vra God ook my hele lewe – dít is presies Jakobus se punt wanneer hy in hoofstuk 2 gaan praat oor geloof sonder werke. Geloof sonder werke is nie ‘n heel geloof nie. Dit gaan vir Jakobus dus nie oor die werke, asof ons daardeur gered word nie. Nee, dit gaan vir hom oor die geloof – die gelóóf moet heel word. En geloof sonder werke is nie heel nie, dis nie volkome nie. Dieselfde heelheid wat die Here van ons verwag, sien ons in hoofstuk 4:4: “weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” Dis nie ‘n kwessie van: ek is ‘n bietjie ‘n vriend van God en ‘n bietjie ‘n vriend van die wêreld nie. Nee, dis óf die een, óf die ander. En as jy ‘n vriend van die wêreld wil wees, dan is jy ‘n vyand van God. Heelheid van lewe beteken dat ons volledig aan God toegewy is.

 

En teenoor hierdie voorbeelde van heelheid stel Jakobus die verdeeldheid, die dubbelheid. Dink aan sy unieke gebruik van die woord ‘dubbelhartigheid’ in hoofstuk 1:8 en 4:8. Dink aan die dubbelheid van ons spraak in hoofstuk 3: met ons tonge loof ons God en daarmee vervloek ons die mense; uit dieselfde mond kom seën en vervloeking (3:9-10). Die positiewe kant hiervan sien ons in hoofstuk 5:12: “laat julle ja ja wees, en julle nee nee.” Dubbelheid van spraak staan teenoor heelheid van spraak. En dink, as ‘n laaste voorbeeld, ook nog aan die stryerye en bakleierye wat die heelheid van die gemeente bedreig (4:1-2).

Dus, Jakobus se groot doel met sy brief is om die dubbelheid wat hy in die geloof en in die lewe van sy lesers raaksien, teen te gaan, en om heelheid van geloof by hulle te bewerk. In die eerste preek het ons gesien wat die rol van versoekinge is om ons geloof heel te maak. Vandag let ons op die sentrale betekenis van die woord.

Tema: Die volmaakte woord van God wil ons geloof heel maak.

  1. Neem daardie woord aan
  2. Sit daardie wet om in dade

 

In die eerste preek het ons gestop by vers 18. Ons het gehoor van twee moontlike geboortes wat hier binne-in ons kan plaasvind, en wat bepaal hoe ons met die omstandighede in ons lewe omgaan. Aan die een kant, wanneer die sondige begeertes hier binne met die versoekinge (met die omstandighede) in my lewe omgang het, vind daar bevrugting plaas, waaruit dan die sonde gebore word. En wanneer die sonde groei en tot ontwikkeling kom, bring dit die dood voort. Dis die een geboorte (1:14-15). Maar, het ons gesien, God wil iets anders in ons doen – Hy wil ons opnuut gebore laat word deur die woord van die waarheid. Dit is die ander geboorte, die wedergeboorte (1:17-18). En nou lyk dit asof Jakobus in vers 19 oorgaan tot ‘n heel ander onderwerp, en dit word bevestig deur die nuwe paragraaf in ons vertaling. Maar moenie jouself hierdeur laat flous nie. Want vers 19 sluit baie nou aan by vers 18. Vanaf vers 19 verduidelik Jakobus naamlik vir sy lesers hoe hulle die woord van die waarheid (waarvan vers 18 gepraat het) moet verwerk. Dus, wat moet Jakobus se lesers – en ons – met hierdie woord, waardeur ons weergebore word, doen?

 

Jakobus sê: wees gou om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. Dit is natuurlik – algemeen gesproke – ‘n baie goeie reël: jy het twee ore gekry en een mond, luister dus eers goed voordat jy praat. En in sy algemeenheid sal dit ons goed doen om na hierdie reël te luister. Maar Jakobus bedoel dit nie as ‘n algemene reël nie; nee, hy doen hierdie oproep spesifiek met die oog op die woord van die waarheid waardeur God ons weergebore laat word – en waaroor hy sopas in vers 18 gepraat het. Jakobus wil hê dat sy lesers baie deeglik na daardie woord (en die verkondiging daarvan) moet luister; hulle moet daarop konsentreer. Want wanneer die woord van die waarheid klink, dan open Gód sy heilige mond om wedergeboorte in ons te werk, en dan pas dit ons om goed te luister en God nie in die rede te val nie. Selfs wanneer daardie woord onaangename waarhede oor onsself vertel, selfs wanneer ons deur daardie woord aangespreek en vermaan word, selfs wanneer daardie Woord ons op sekere sondes in ons lewens wys (en dit is natuurlik wat Jakobus verder in sy brief gaan doen), dan moet ons nie te gou kwaad word nie. Daarmee bereik jy in elk geval niks voor God nie. Want kan die toorn van ‘n mens die geregtigheid voor God bewerk? (vers 20) Dink jy dat jy, deur kwaad te word, iets tot jou eie redding voor God kan bydra?

Nee, broers en susters, moenie kwaad word nie. Wanneer die woord jou aanspreek (op watter manier ook al: in die prediking, in jou persoonlike lees daarvan, in die huisbesoek), doen dan eerder afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid (vers 21). Die woord wat hier vertaal is met “afstand doen” kan in hierdie konteks dalk beter vertaal word met “uitruk” – ruk die vuiligheid en boosheid wat nog in jou lewe is, uit! Trek die onkruid uit die akker van jou lewe uit! Want die onkruid blokkeer die groei van die ingeplante (die woord wat Jakobus in vers 21 gebruik) woord in die menslike lewe. Wat in ons lewens moet groei, is nie die boosheid en die vuiligheid nie. Nee, daardie onkruid moet uitgeroei word, sodat die goeie plant kan groei; die sonde moet weg, sodat die Woord ruimte kan kry om te groei. Dié twee kan nie saam op een akker groei nie – altyd sal een van die twee die ander verslind. En daarom Jakobus se oproep: ontvang met ‘sagmoedigheid’ – dus met ‘n hart wat oopstaan vir die Here – die woord van God. Neem dit aan, want hierdie woord is in staat om ons siele te red – soos wat Jakobus aan die einde van vers 21 sê.

 

Ja, gemeente, hierdie woord is in staat om ons siele te red. Of in Paulus se woorde in Romeine 1: “die evangelie is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo...” (Rom. 1:16). Maar dan moet ons daardie woord ook aanneem, soos wat Paulus van die Thessalonicense getuig in 1 Thess. 2:13: “... toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, [het] julle dit aangeneem nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God.” Hulle het die woord ontvang, en vervolgens ook aangeneem as die woord van God! En dit geld die héle woord! Nie net daardie dele wat vir ons aangenaam is en wat ons gevoelens streel nie – daarom hou ons hier nie maar net liefdespreke en goedvoel-praatjies nie. Nee, ook daardie dele van die woord wat die lig laat skyn op dinge in ons lewens wat ons maar liewer verborge hou, ook die vermanings, ook die bestraffings – dit alles moet ons aanneem. Voordat jy daarom kwaad word oor iets wat jou in die woord aanspreek, voordat jy reageer – luister eers! Luister fyn! Stel jouself oop vir God se hele woord. En dit kan soms pynlik wees; ons eerste reaksie is dikwels: dis my lewe! Maar God wil daardie lewe – wat sonder Hom onherroeplik die sonde en die dood voortbring (vers 15) – daardie lewe wil Hy red. Luister daarom! Kom ons oefen dit nou prakties deur, in voorbereiding op volgende week se nagmaal, na daardie ongemaklike deel van die nagmaalsformulier te luister – die deel oor die selfondersoek (en daarmee saam die wet).

Sing Ps. 32:1 en 3; in die tweede plek: sit daardie wet om in dade.

 

2. Jakobus roep sy lesers op om, nadat hulle die woord aangeneem het, nou ook daders van die woord te wees. Die ingeplante woord wat in staat is om ons siele te red – die evangelie van redding! – moet nou ook vrugte begin dra. Die preke wat ons elke Sondag hoor, maar ook die brood en die wyn aan die nagmaal, moet gestalte kry, moet hande en voete kry, in die lewe van elke dag. En die nagmaalsformulier is hieroor baie duidelik en konkreet: “Omdat Christus, ons geliefde Saligmaker, ons eerste so uitnemend liefgehad het, moet ons ook aan mekaar liefde bewys en nie alleen met woorde nie, maar ook met die daad.” Sien u, die woord moet vrug dra… En dan bid die nagmaalsformulier ons ook nog die krag van God hierin toe: “Mag die barmhartige God en Vader van ons Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees ons daartoe help.” Inderdaad, broers en susters, mag die Gees ons hiertoe help… Want Jakobus maak in die res van hoofstuk 1 duidelik dat ons verhouding met die Here hiervan afhang.

 

Jakobus vergelyk naamlik die hoorder, wat nie moeite doen om ook ‘n dader van die woord te wees nie, met ‘n man wat na homself in die spieël kyk. En hy gebruik ‘n werkwoord wat daarop dui dat hierdie man baie noulettend besig is om na homself te kyk; hy kyk na elke detail van sy gesig – letterlik staan daar: die gelaat waarmee hy gebore is. Heel moontlik is dit ‘n verwysing na die sondige toestand waarin ons gebore word, die erfsonde in Adam waaraan elkeen van ons deel het. Die man waarvan Jakobus hier praat, sien hierdie toestand – hy sien homself vir wie hy werklik is. Maar nadat hy homself goed bekyk het, draai hy hom om en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Duidelik het dít wat hy gesien het nie ‘n groot indruk op hom gemaak nie; ook al het hy hoe goed en noukeurig gekyk, verdwyn die herinnering aan die beeld sommer vinnig weer.

Gemeente, so gaan dit ook met iemand wat slegs ‘n hoorder van die woord is. Van die preek, waarna hy sopas goed geluister het, bly daar nie baie oor in sy herinnering nie; die brood en wyn, wat hy sopas geëet en gedrink het (en wat vertel van die liggaam en bloed van Christus, wat Hy vir ons sondes gegee het), het duidelik nie ‘n groot indruk op hom gemaak nie. Hierdie is die soort mens wat sy sonde raaksien, en dan vervolgens dink dat hy baie godsdienstig is – want hy kyk mos gereeld in die spieël. Maar intussen is hy iemand – en op hierdie punt word Jakobus amper skrikwekkend konkreet – intussen is hy iemand wat nie sy tong in toom kan hou nie (vers 26). Hy is onwys in sy opmerkings, hy maak ander seer met sy woorde, hy is voordurend besig om oor elke saak te kibbel en te baklei. Jou godsdiens, jou vroomheid – sê Jakobus vir hierdie persoon – is waardeloos voor God (1:26).

 

Teenoor hierdie man wat wegloop en vergeet wat hy gesien het, plaas Jakobus die man wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid. Interessant, nie waar nie, dat Jakobus hier – byna ongemerk – die oorgang maak vanaf die (ingeplante) woord (verse 21, 22 en 23) na die (volmaakte) wet (vers 25). Hoekom doen hy dit? Wel, weereens gaan dit vir Jakobus oor heelheid! Die woord van God is heel, die woord is ‘n geheel – dié dele wat troos en bemoedig, maar ook die wet waardeur ons aangespreek en vermaan word. Ook die wet behoort by die woord wat in ons ingeplant word en wat in staat is om ons siele te red! En daarom kan Jakobus hierdie oorgang maak!

Nou, wat ons hier het, is die beeld van ‘n man wat homself vooroor buig om die boekrol wat voor hom op die tafel lê, goed te kan bestudeer. Hy maak seker dat hy verstaan wat die Here van hom eis, en hy gaan doen dit. En, gemeente, dan gaan dit hier nie oor wettisisme of moralisme wat van buite-af opgelê word nie, maar dit gaan oor die effek van die woord wat aangeneem word. Die ingeplante woord wat met sagmoedigheid aangeneem word, maak ‘n mens van binne-uit vry (immers, dit is die wet van vryheid!), en dit maak ons gewillig om konkreet God en die naaste te kan dien. Hierdie omsit van woorde in dade kom dus van binne-uit, die Gees skryf immers die wet – die wil van God – op ons harte (dis die belofte van die nuwe verbonde, Jer. 31:33), sodat ons oortuigde daders daarvan word. Nie slawe wat gedwing word nie, maar nuwe mense wat uit oortuiging doen wat die Here vra. Die Here roep ons dus op: “Neem die ingeplante Woord met sagmoedigheid aan!” Maar vervolgens vra Hy ook: “Bring dit nou tot uiting in die lewe van elke dag. Wys nou ook dat jy wedergebore is deur die woord van die waarheid!”

 

Jakobus maak dit in vers 27 konkreet deur te wys dat dít die mens is wat die wese en weduwees in hulle verdrukking besoek. In Jakobus se tyd was die wese en die weduwees by uitstek die mense wat in druk verkeer het; hulle was die verontregtes en die onbeskermdes in die samelewing. Dit gaan dus oor dié mense wat in die grootste nood verkeer, die swakkes en die kwesbares in die samelewing – teenoor húlle moet die ingeplante woord heel eerste in dade omgesit word. Hier lê dan ook die toets, gemeente. Is die ingeplante woord werklik met sagmoedigheid aangeneem en vind dit uiting in dade? Indien nie, moet u self dan nie om die bos lei ten opsigte van u eie saligheid nie… Maar laat dit by ons wees soos by die diaken Laurentius wat in die eerste eeu deel was van die gemeente in Rome. Toe hy tydens die vervolging onder keiser Decius gevra is om die skatte van die kerk aan die owerheid te oorhandig, was sy antwoord: die enigste skatte wat ons besit, is die armes. Laat die armes, die eensames, die verdruktes ons skat wees – en nie aardse rykdom nie (rykdom is, terloops, ‘n tema wat ons in Jakobus se brief nog ‘n paar keer gaan teëkom). Laat ons liefde teenoor mekaar en ons naaste bewys, nie net in woorde nie, maar ook met die daad.

‘n Tweede kenmerk wat Jakobus gee van die mens wat werklik sy geloof in dade omsit, is dat hy homself vlekkeloos bewaar van die wêreld (tweede deel van vers 27). Met die wêreld bedoel Jakobus dan die mensheid wat vreemd en vyandig teenoor God staan. Dit gaan dus daaroor dat iemand nie slegs ‘n Sondagschristen moet wees nie, iemand wat slegs onder die woord kom nie, maar dit moet ook uitwerking vind in sy lewe op Maandag by die werk, en tydens Vrydagaand se partytjie en Saterdag se sokkerwedstryd. Só iemand se vroomheid is rein en onbesmet voor God die Vader.

 

Gemeente, terwyl jy op hierdie oomblik die woord hoor, en wanneer jy dit volgende week aan die tafel gaan proe, gee die Woord van die Here aan jou ‘n penskets van twee soorte mense: enersyds die mens wat die ingeplante woord ontvang, maar wat toelaat dat dit in sy lewe oorwoeker word deur die onkruid sodat hy slegs ‘n hoorder bly; en andersyds die mens wat die ingeplante woord ontvang, en wat ruimte maak dat dit in sy lewe kan groei, wat sorg dat dit ook sigbaar word in dade. Wees soos hierdie tweede mens; maak ruimte dat die Gees, wat jou in ware gemeenskap met Christus laat lewe en jou in al sy rykdom laat deel, jou nou ook bring tot ware liefde in woorde, maar ook met die daad. Laat die effek van die woord sigbaar word in jou lewe. Laat die effek van die brood en die wyn, wat ons volgende week gaan geniet, in jou lewe deurwerk, lank nadat die smaak daarvan al verdwyn het. Buig jouself oor die woord, oor die prediking, oor die nagmaalstafel om goed te kan sien waar die ingeplante woord ook sigbaar moet word in jou lewe.

Dit is Jakobus se doel met sy brief! Onthou wat ek in die eerste preek gesê het: Jakobus veronderstel die evangelie, hy veronderstel die verlossende werk van Jesus Christus, hy veronderstel die genade van God in menselewens. Hy weet dat sy lesers goed daarmee bekend is. En vir ‘n deel veronderstel ek dit ook in die prediking van hierdie gedeelte. Ons hoor so dikwels die heerlike evangelie van genade – week na week na week. In die prediking, in ons persoonlike bybelstudies en gesprekke, in die huisbesoeke, in die katkisasie-klas. Die meeste van ons het die evangelie met moedersmelk ingekry – ons het al duisende preke gehoor, honderde kere die nagmaal gevier. En wat het dit uitgewerk? Lyk jou lewe nou anders as vyf jaar gelede, as tien jaar gelede, as twintig jaar gelede? Sien jy die groei in heiligmaking? Merk jy ook op dat jou geloof hoe langer hoe meer heel word? En ek is nie besig om ‘n werk-heiligheid te preek nie. Ek is besig om te doen presies wat Jakobus doen, naamlik om te vra: wat doen die woord van die waarheid met jou? Wat doen God se onmeetbare genade in Jesus Christus met jou taalgebruik? Wat doen die kruis met jou omgang met die swakkes en die vertraptes in die samelewing? Wat doen die goeie nuus met jou gebruik van drank en wêreldse vermaak? Wat doen God deur sy Woord met jou lewe? Dit is iets anders as om te sê: jy moet nou dit en dat gaan doen! Die preek sê nie: jy moet dit en dat doen nie. Die preek sê: wat doen die Woord met jou?

Mag die Woord so werk en mag ons onsself so daarvoor oopstel, dat in hierdie gemeente waar ons mekaar al so goed ken, en waar ons na al die jare al so gewoond geraak het aan mekaar (ag, ja, dis nou maar sy / haar manier), dat ons verbaas en dankbaar die verandering by mekaar kan opmerk. Ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord wat in staat is om julle siele te red, en word daders van die Woord. Mag God deur sy Gees ons hiertoe help...

Amen

Liturgie: 

Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 113

Gebed

Lees:   Jakobus 1:18-27

Sing Skr. 41:2, 4 en 5

Preek

  • Tydens die preek: selfondersoek + wetslesing
  • Sing Ps. 32:1 en 3

Amenlied Skr. 43:2 en 4

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 119:1, 4, 24, 29

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.