Daar kom versoekinge op ons lewenspad om ons geloof heel en volmaak te laat word.

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-07-31
Text: 
Jakobus 1:2-18
Reference: 
Jakobus-reeks #1
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus, broers en susters,

Is jy ‘n volmaakte gelowige – iemand wat sonder gebrek is en niks kortkom nie? Nee! Maar dis mos ook nie wat die Here van ons vra nie? Wie van ons kan ooit in hierdie lewe volmaak wees? En buitendien, beland ons met hierdie vraag nie maar weer in die oeroue dwaling van werkheiligheid nie? Ons is mos gered deur Christus alleen, uit genade alleen, deur die geloof alleen? En dis juis vir onvolmaakte mense, mense met baie gebreke, mense wat baie kortkom, dat hierdie goeie nuus bedoel is. Gemeente, dis diskussietjies soos hierdie wat die rede is waarom Jakobus en Paulus dwarsdeur die geskiedenis – maar ook vandag nog! – dikwels teenoor mekaar geplaas is. Ook al het hierdie twee broeders, toe hulle in Jerusalem ontmoet het, aan mekaar die regterhand van gemeenskap gegee (Gal. 2:9), in hulle briewe (en in die teologie wat in daardie briewe vertolk word) staan hulle nogtans lynreg teenoor mekaar: Paulus is die man van die regverdiging deur die geloof alleen, Jakobus is die man van die regverdiging deur die geloof én die werke (Jak. 2:24); Paulus soek na hóórders van die woord, Jakobus soek na dáders van die woord (Jak. 1:22). Genade versus werke, Paulus versus Jakobus...

Is dit so, broers en susters? Ons natuurlike neiging as gereformeerdes is om te sê: nee, dit kan nie wees nie. Immers, ons aanvaar die eenheid van die Skrif – dat die Skrif een boodskap het, en dat die verskillende dele van die Skrif mekaar nie weerspreek nie, ook nie Paulus en Jakobus nie. Maar hoe moet ons dan die eie aard van Jakobus se brief verstaan? Ek dink ons kan dit die beste verstaan wanneer ons sien wat Jakobus se doel met sy brief is! Jakobus se doel is nie in die eerste plek om die evangelie uitgebreid uit te lê, soos wat ons in Paulus se briewe vind nie. U weet hoe Paulus se briewe werk, nie waar nie? Paulus wy deurgaans die eerste deel van sy briewe aan die leer, die leerstellige, die dogma – waarna hy in die tweede deel die praktiese, etiese gevolge daarvan verduidelik. Jakobus doen nie dit nie – nee, Jakobus veronderstel eenvoudig die leer! Ek sê nie dat Jakobus in sy brief nooit na die leer verwys nie, maar dis by hom baie meer implisiet aanwesig, onder die oppervlakte. Maar dis nogtans daar! Die evangelie is by Jakobus presies dieselfde as by Paulus – gaan kyk maar net na wat in Jakobus se lewe gebeur het. Dink, byvoorbeeld, aan 1 Korinthiërs 15:7 waar ons lees dat Jesus persoonlik aan Jakobus verskyn het na sy opstanding; Jakobus het ouboet Jesus as sy opgestane Heer ontmoet. Dis nie verniet dat hy Hom tweemaal in sy brief aanspreek as “onse Here Jesus Christus” nie (1:1 en 2:1). Here, Kurios, Jesus is Heer – so ken Jakobus Hom! En dink ook aan wat ons lees in Handelinge 15 (die kerkvergadering in Jerusalem) waarin Jakobus ‘n sleutelrol gespeel het – dis hy wat immers daarop aangedring het dat die heidene wat hulle bekeer het, nie belas moet word met allerhande wette en reëls nie, want hy het geweet dat sowel Jode as heidene deur die geloof gered word en nie deur onderhouding van die wette van Moses nie. Nee, broers en susters, met Jakobus se teologie was daar niks verkeerd nie. Maar Jakobus het ‘n ander doel met sy brief! Hy sê in feite vir sy lesers: julle ken die evangelie, ek hoef dit nie vir julle te herhaal nie. Maar lééf julle ook volgens daardie evangelie? Maak julle jul geloof in Jesus Christus ook heel en volkome deur ‘n lewe wat pas by die evangelie? Dís Jakobus se doel! Die geloof – my geloof, jou geloof – moet ryp word, moet heel word, moet volkome word deur ‘n lewe wat daarby pas. Ons sou dit die sentrale tema in die brief van Jakobus kon noem: God is een, God is heel, God is volmaak – óns moet dit ook wees: “sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (1:4). En daarteenoor staan die ‘dubbelhartigheid’ van vers 8. ‘n Heel/volkome geloof aan die een kant, ‘n verskeurde/dubbelhartige geloof aan die ander kant. Telkemale in die brief van Jakobus sien ons hierdie tema terugkeer.

Is dit nie een van die groot probleme van die kerk vandag nie, broers en susters? Dat ons nie heel en volkome in ons reaksie op die evangelie is nie? Dat ons dubbelhartig is, verskeur in ons lojaliteite – dat ons aan die een kant die Here wil dien, maar aan die ander kant steeds wil deelneem aan die dinge van hierdie wêreld? Dat ons nie heelhartig die Here wil dien nie? Is dit nie een van ons grootste probleme nie? Deur Christus alleen, uit genade alleen, deur die geloof alleen – ons mag dit nooit verloor nie! – ja, maar wat dan doen dit met ons? Dit is Jakobus se unieke bydrae tot die Nuwe Testament. En ons wil dit vanoggend uitdelf aan die hand van die eerste agtien verse.

Tema: Daar kom versoekinge op ons lewenspad om ons geloof heel en volmaak te laat word.

 

Die hoofgedagte / rooi lyn in ons Skrifgedeelte (verse 2-18) het te make met wat in ons Bybel (en in die 2020-vertaling) vertaal word as ‘versoekinge’ (verse 2, 12, 13, 14 – oral dieselfde Griekse woord). Jakobus is klaarblyklik bewus van “allerhande versoekinge” wat sy lesers oorval het (vers 2). Met ‘versoekinge’ dui Jakobus nie in die eerste plek op sondes nie – dis die beeld wat ons dikwels by die woord ‘versoeking’ het (‘n sonde wat op ons afkom en ons wil verlei). Maar die Griekse woord dui in hierdie konteks eenvoudig op moeilike omstandighede / swaarkry (ons sal later nog sien dat hierdie swaarkry tot sonde kan lei, maar vir eers dui dit eenvoudig op moeilike omstandighede). Nou, wat weet ons van hierdie swaarkry van ons broers en susters aan wie Jakobus skryf? Wel, reeds in die adres van sy brief (“die twaalf stamme in die verstrooiing” – vers 1) sien ons die eerste swaarkry – dit gaan hier oor Jode (simbolies: twaalf stamme) wat, as gevolg van hulle geloof in Jesus Christus, moes vlug. Handelinge 8:1: “En daar het in dié tyd [na Stefanus se dood] ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi (!) oor die streke van Judea en Samaria...” Handelinge 11:19: “Die wat dan verstrooi (!) was deur die verdrukking wat oor Stefanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenicië en Ciprus en Antiochië sonder om tot iemand die woord te spreek...” Dus, hierdie mense moes huis en haard verlaat (alles wat bekend was, agterlaat) en êrens anders ‘n heenkome gaan vind – die vlugteling-krisis van ons tyd gee ons hooplik ‘n klein bietjie begrip hoe diep traumaties dit moes gewees het: werk weg, besittings weg, kultuur weg, geliefdes weg. In verse 9-11 kry ons nog ‘n ander swaarkry: armoede. Dit is logies dat hierdie vlugtelinge finansieel nie vooruitgegaan het nie, maar eerder agteruit. Hulle was arm en moes dikwels onder die uitbuiting van rykes gebuk gaan. Die rykes en hulle uitbuiting is, terloops, ‘n tema waarop Jakobus in hoofstukke 2 en 5 weer sal terugkom. Waarskynlik, as ‘n mens kyk na hoofstuk 5:6, is sommige van die gelowiges doodgemaak vir hulle geloof. En uit hoofstuk 5:14 kan ons aflei dat daar ernstige siekte onder die gelowiges was. Voorwaar: allerhande versoekinge, allerhande swaarkry.

 

Hoe gaan ons om met swaarkry, broers en susters? Hoe gaan ons om met die dinge wat spanning in ons lewens veroorsaak? Die spanningspunte: ‘n kollega by die werk wat gereeld ongeskik is, ‘n eggenoot wat die lewe onhoudbaar maak, tieners wat net vir hulleself lewe, ‘n geyser wat bars, ‘n vermindering in salaris, ‘n skokkende diagnose by die dokter, ‘n werkstuk wat môre moet inwees, my eindeksamen, ‘n onderwyser wat ander voortrek... Dit is alles spanningspunte in die hede wat op ons lewens inwerk. Maar daar kan ook spanningspunte uit die verlede wees: jou ouers wat altyd baklei het terwyl jy opgegroei het, ‘n gebroke huwelik, seksuele misbruik, ‘n geskiedenis van verslawing. En dan kan daar spanningspunte in die toekoms wees: gaan ek ooit ‘n werk kry? Hoe gaan ek betaal vir wanneer my kinders universiteit toe moet gaan? Is daar ‘n toekoms vir ons in hierdie land? Wat gaan word van die kerk van die Here hier in die Moot? Verlede, hede en toekoms bring allerhande spanningspunte wat druk op ons uitoefen. Hoe gaan ons daarmee om? Hoe reageer ons daarop?

Jakobus wys in hierdie gedeelte dat hoe ons op die swaarkry (op die “allerhande versoekinge” van vers 2) reageer, nie te make het met wat buite / om ons heen aangaan nie, maar dat dit heel eerste te make het met wat binne-in ons aangaan. Nooit (!) is iets of iemand buite my die rede hoekom ek op my swaarkry reageer soos wat ek doen nie. Nee, of ek nou gelowig en vroom op my swaarkry reageer, of dat ek sondig en verkeerd op my swaarkry reageer, die dryf vir my optrede sit hierbinne! Dis so belangrik dat ons dít besef, gemeente! Hoe dikwels gebruik ons nie iets of iemand buite ons as verskoning nie? “Hy het my geterg, daarom het ek hom geslaan.” Of: “Ek het baie spanning by die werk, daarom dat ek so ongeskik met my vrou en kinders was toe ek by die huis gekom het.” Of: “Die regering doen sulke dom dinge, dis logies dat ek rassisties raak.” U sien: iets het gebeur of iemand het iets gedoen, en daarom... En die sekulêre sielkunde en die beradingsmetodieke van ons tyd, vererger hierdie denke. Altyd lê die probleem buite myself, altyd is daar iets of iemand anders wat die skuld kry.

En dan sê Jakobus vir sy lesers: “Moenie, as jy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie!” (vers 13) Dis natuurlik die hoogtepunt van hierdie afskuiwingstaktiek wat ons gebruik, dis die ergste vorm waarin die mensdom homself van sy verantwoordelikhede loswurm: dis God se skuld! Adam: dis die vrou wat U my gegee het! Nee, sê Jakobus, dis nie God nie, “want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie” (vers 13). En dan vat Jakobus ons vervolgens in verse 14 en 15 na die privaatheid van ons harte, en wys hy vir ons presies waar die probleem lê. Dis nie God nie! Dis nie ander mense nie, dis nie my omstandighede nie! Nee, “elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word” (vers 14). Sy eie begeerlikheid, sy eie begeertes! Dis interessant, net ‘n paar hoofstukke verder (in hoofstuk 4:1) maak Jakobus die punt van die begeertes baie konkreet wanneer hy vir sy lesers vra: “Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan?” Hoekom baklei julle so?, vra hy eintlik. En sy antwoord? “Dit kom van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer!” Ons tyd sal vir ons sê: dis vanweë swak kommunikasie-vaardighede! Of: dis omdat ons nie meer praat nie, maar altyd op ons selfone is. Dalk nie onwaar nie! Maar Jakobus vat ons na die hart en sê: dis julle begeertes, dit sit hier-binne!

 

Dis ‘n punt, broers en susters, wat die Skrif oor en oor en oor maak – op verskillende maniere: die probleem is hier binne! Esegiël 14 praat daaroor as die drekgode van die hart. In Mattheus 6:21 noem Jesus dit die skat van jou hart: daar waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. In Galasiërs 6 praat Paulus daarvan as die vlees of die Gees: ons harte word óf deur die vlees, óf deur die Gees beheer, en dít bepaal dan ons optrede: die werke van die vlees óf die vrug van die Gees. En dan die duidelikste van al die Skrifgedeeltes – Lukas 6:43-45: “Dit is nie ‘n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie ‘n slegte boom wat goeie vrugte dra nie. Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk ‘n mens tog nie vye nie, en ‘n mens sny ook nie druiwe van ‘n doringbos nie. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy harte te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.” Die manier hoe ek op druk en spanning en swaarkry reageer, het nie in die eerste plek te make met wat om my aangaan nie, maar alles met wat in my aangaan. Kyk na die vrugte (‘n persoon se optrede, sy reaksie, sy omgang met omstandighede), dan ken jy die boom en dan ken jy sy wortels: ja, dan ken jy die hart!

Drekgode, skatte, vlees/Gees, vrugte – dis alles verskillende maniere om dieselfde saak te beklemtoon. Jakobus noem dit: begeertes. Jou reaksie op jou omstandighede (wat Jakobus die versoekinge noem) word bepaal deur die begeertes van jou hart! En dan verduidelik Jakobus presies wat met die begeertes van ons harte gebeur. Hy vergelyk ons begeertes in vers 15 met ‘n vrou wat ‘n kind in die wêreld bring. Hierdie vrou het swanger geword. Hoe? Wel, wanneer ons aan die versoekings (die omstandighede in ons lewe) toegee (as gevolg van die begeertes van ons hart), dan vind daar bevrugting plaas. Die begeertes van my hart het omgang met my omstandighede – en dit bring ‘n ongewenste lewe voort. En wanneer daardie nuwe lewe volgroei is, dan word die kind gebore – die sonde! En net soos wat ‘n pasgebore babatjie groei, so groei die sonde ook. Die sonde word groter en sterker, en dit bring uiteindelik die dood voort (einde vers 15).

 

Maar dit is nie wat God wil hê nie, broers en susters. God wil hê dat dit anders moet wees. Nee, God wil nie noodwendig hê dat jou omstandighede anders moet wees nie – in sy wysheid en raad besluit Hy soms dat daar moeilike dinge op jou pad moet kom. Maar Hy wil hê dat ons anders daarop moet reageer. Want Hy is ‘n goeie God – van Hom kom elke goeie gif en elke volmaakte gawe (vers 17). En een van die mooiste gawes wat Hy aan mense skenk, is die gawe van die wedergeboorte. En nogmaals gebruik Jakobus die beeld van ‘n vrou wat ‘n kind in die wêreld bring (vers 18). Die geboorteproses van die sonde in vers 15 het uitgeloop op die dood. Maar die geboorteproses van die gelowiges bring nuwe lewe. God laat ons geestelik weergebore word. En Hy doen dit deur die woord van die waarheid (vers 18). Die apostel Paulus praat in Kolossense 1:5 ook van die woord van die waarheid, en dan noem hy dit “die evangelie”! Deur die verkondiging van die evangelie, deur die prediking van die kruis van Jesus Christus, bring God mense tot nuwe lewe, sodat hulle die eerstelinge van sy skepsele kan wees (einde vers 18). Die gelowiges is die begin van God se nuwe skepping. En dit begin alles hier in die hart! Op dieselfde plek waar die begeertes eers die sonde gebaar het, daar baar die Woord (die evangelie van Christus) nou nuwe lewe. Dis wat moet gebeur, broers en susters: hier binne moet daar verandering plaasvind! Dis nie in die eerste plek my omstandighede wat moet verander nie, dit is nie die versoekinge wat moet verdwyn nie, die verandering moet nie buite my plaasvind nie. Dit moet binne-in my plaasvind. My hart moet vernuwe word!

En dan kan ons anders begin omgaan met die omstandighede wat op ons pad kom (verse 2-4). Dan kan ons met blydskap (vers 2) begin raaksien dat God daardie omstandighede / daardie swaarkry gebruik om ons geloof te toets – dis wat in vers 3 met ‘beproewing’ bedoel word. God beproef / toets ons geloof, God wil ons geloof sterk maak – want hierdie toetsing, hierdie beproewing bewerk lydsaamheid (vers 3). Of anders gestel: dit bewerk volharding, uithouvermoë, stamina. En hierdie volharding moet, volgens vers 4, ontwikkel – dit moet groei en groei en groei, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. Sien jy hoe Jakobus die groeiproses van die geloof vir ons beskryf? Die geloof word getoets sodat ons uithouvermoë kry en volmaak kan word! In sy eerste brief sê die apostel Petrus dit op ‘n soortgelyke manier (1:7): “sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus.” Ja, die geloof moet soos ‘n edelmetaal gesuiwer word, sterk gemaak word – sodat ons volmaak kan wees by die wederkoms. “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet” – só sê Jakobus in vers 12.

 

“Maar ek weet nie hoe nie! Ek kry dit net nie reg om gelowig met my huisgenote om te gaan wanneer ek ná ‘n slegte dag by die huis kom nie; ek sukkel só om reg om te gaan met mense wat alweer ‘n nuwe kar ry, terwyl ek in skuld moet lewe; ek kry dit nie reg om rustig te bly wanneer my kinders my uittart nie; ek sê altyd die verkeerde ding vir daardie juffrou wat die ander kind voortrek! Ek kry dit nie reg nie!” Jakobus verstaan dit baie goed, en daarom sê hy in vers 5: “as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” Nadat hy in verse 2-4 die groeiproses van die geloof beskryf het, sê hy: “Maar ek weet dis moeilik! Vra daarom vir die Here om jou te help – vra vir sy wysheid! En moenie twyfel dat Hy vir jou sal gee wat jy nodig het om die versoekinge te kan weerstaan nie.”

In verse 9-11 maak Jakobus dit alles konkreet aan die hand van die voorbeeld van armoede en rykdom. Met die eerste oogopslag dink jy: wat het dit nou met die voorafgaande te make? Maar wat Jakobus doen, is om hier vir ons ‘n baie praktiese voorbeeld te gee van hoe ons – met die wysheid wat ons in verse 5-8 van die Here gevra het! – met die omstandighede in ons lewe behoort om te gaan. As jy arm is, hoe gaan jy daarmee om? Hoe reageer jy daarop? Wel, as jy aan die begeertes van jou hart vrye teuels gee om met hierdie omstandighede (die armoede) omgang te hê, dan gaan daar vir seker bevrugting plaasvind, ‘n ongewenste swangerskap – dit gaan vir seker sonde voortbring. In watter vorm ook al! Jy gaan dalk verlei word om te steel, jy gaan dalk op ‘n oneerlike manier meer wil kry, jy gaan dalk jaloers word op ander wat meer as jy het, jy gaan dalk met ryker mense vriende wil wees net omdat hulle ryk is... Maar hoe gaan jy – wanneer jy in geloof van die Here wysheid gevra het – om met jou armoede? Dan sê Jakobus in vers 9 aan die arme: wees bewys van jou hoë posisie! Hoewel jy sosiaal en maatskaplik dalk gering geag word, het jy ‘n hoë aansien by God! Jy mag reken op God se besondere sorg vir jou. Aan jou behoort die koninkryk van God (Luk. 6:20). Dit is jou roem, dit is jou vreugde!

En as jou omstandighede nou van dien aard is dat jy baie ryk is? Wel, ook dit is ‘n versoeking – ook dít kan so maklik tot sonde lei. So maklik kan jy hoogmoedig begin raak; so maklik kan jy dink dat jou rykdom jou die reg tot spesiale behandeling gee. Ook jy moet daarom van God wysheid bid. En hoe moet jy, met daardie wysheid van bo, met jou rykdom omgaan? Wel, sê Jakobus in vers 10, jy moet roem in jou geringheid. Jy is klein voor God – jou besittings, jou rykdom is so onseker; dit kan enige tyd van jou af weggevat word: “die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan...” (vers 11). Jou rykdom tel niks wanneer jy voor God staan nie. Roem daarom in jou geringheid – dis hoe jy jou versoeking weerstaan!

 

Gemeente, Jakobus se doel met sy skrywe is om by sy lesers heelheid, volkomenheid van die geloof te bewerk. En dit gaan hy in die res van sy brief nog op allerhande praktiese maniere uitwerk (en ons gaan dit in die res van hierdie reeks probeer uitwerk). Maar Jakobus begin heel eerste deur hier, in hoofstuk 1, te fokus op sy lesers se omstandighede. Is jou omstandighede die rede waarom jou geloof nog nie heel is nie? Nee! En daarmee wil niemand sê dat jou omstandighede maklik is nie, niemand ontken dat jou omstandighede soms bitter swaar kan wees nie. Maar jou omstandighede mag nooit die verskoning word vir sonde in jou lewe nie; jou omstandighede is nie die rede vir ‘n gebrekkige geloof nie. Dit begin hier in die hart. Wat broei en wat groei hierbinne? Die begeertes? Of die woord van die waarheid? Mag dit by ons almal laasgenoemde wees, gemeente. Mag die woord van die waarheid hierbinne groei, sodat my geloof in alle omstandighede die toets kan deurstaan, kan volhard, en volmaak kan word.

Amen

Liturgie: 

Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 84:1-3

Wetlesing

Sing Ps. 26:1 en 2

Gebed

Lees:   Jakobus 1:1-18 (fokus op vv. 13-18)

  • Jakobus, die (half)broer van die Here Jesus, wat eers nie in Hom geglo het nie, maar later tot bekering gekom het, en een van pilare in die vroeë Christelike kerk was (Hand. 12, 15, Gal. 1 & 2). Opmerklik: nie Jakobus, broer van Jesus Christus nie, maar dienskneg.
  • Twaalf stamme in die verstrooiing: 12 stamme van Israel = Jode, maar hier gaan dit oor die Jode wat in Christus glo – hulle is die nuwe Israel; en hulle is in verstrooiing (die diaspora) vanweë vervolging.

Sing Skr. 28:4

Preek

Amenlied Ps. 139:1, 2, 12

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 33

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.