ʼn Gebroke en onbaatsugtige saligheid wat uitsien na ʼn perfekte salige toekoms

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2019-11-10
Text: 
Mattheus 5: 5 - 7
Reference: 
Saligsprekings
Preek Inhoud: 

Liewe gemeente,

die mans wat julle vandag hier voor julle sien is arm, treurende, sagmoedige, honger en dorstige mans.  Hulle is dissipels van Jesus en is oor julle gestel om julle voor te gaan in die weg van Jesus.  Die gebroke, geseënde weg.  En hul diepste begeerte is om julle na Jesus Christus te lei. Sodat hierdie hele kerk deur hierdie woorde gekenmerk word.

Hierdie gebroke, onbaatsugtige seëninge, nou en in die toekoms, moet helder sigbaar wees in hierdie gemeente.  Sien ons dit?  Of steek ons ons armoede weg, sien ons pyn en trane as iets wat die eenheid van die kerk versteur, nederigheid of sagmoedigheid as ʼn swakheid en honger en dors na geregtigheid as té ywerig?

As ons Jesus navolg, sal dit die realiteit wees.  Die salige realiteit.  Iets wat ander sal wil hê.  Wie begeer nie ʼn gemeenskap waar jy jou totale armoede in die Gees kan erken en nie geoordeel of bespot word nie?   Waar kan jy huil en treur oor jou en ander se verkeerde dade en jy word nie gevra om op te hou nie?  Daar waar alle mense nederig die beste soek vir ander, daar waar mense nie die regte van die meerderheid, die invloedrykes, die magtiges soek nie – maar die geregtigheid van God.

Jesus het hierdie pad gestap en dit so vir ons oopgemaak. Ons leef hierdie lewe alleen in eenheid met Hom.  Hierdie dinge sal meer konkreet en waar word hoe meer ons onsself volledig as dissipels toewy aan diensbaarheid soos wat dit hier geïllustreer word.

ʼn Gebroke en onbaatsugtige saligheid wat uitsien na ʼn perfekte salige toekoms:

1.  Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.

2.  Salig is hulle wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.

3.  En salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

 

Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe

Ek hoop dat jy op hierdie stadium die verbande sien.  Die armes van gees erken hul armoede op elke vlak.  Maar ook die armoede van die mensdom.  Hierdie erkenning van armoede het gelei tot ʼn biddende rou waar jy voortdurend die waarheid van Christus se kruis erken en vertroosting daarin vind.  Dit lei ons na die derde saligspreking.

Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.  Hierdie saligspreking is byna ʼn direkte aanhaling uit Psalm 37:11: “Die ootmoediges sal die aarde besit”.  Dit is interessant dat ons in Numeri 12:3 lees:  “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.” Moses was ʼn sagmoedige man.  Hy is die sagmoedigste man op aarde genoem!  As die belofte van Psalm 37 op iemand van toepassing sou wees, dan sou dit op hom wees!  Het hy die land beërwe?  Nee, nie toe Israel die land binnegegaan het nie.  Die sagmoedigste man voor Jesus kon nie die land binnegaan nie, want alleen Jesus kon die land vir sy volk oopstel – die beloofde land – die opstandingsland.

Jesus het self vir sy volgelinge gesê: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart.”  Christus is die vervulling van alles wat Moses veronderstel was om te wees.

Die Ou Testament praat van ʼn arm koning, ʼn sagmoedige koning.  Soos ons in Sagaria 9:9-10 lees: “Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ʼn oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ʼn esel ... Hy sal die strydwaens uit Efraim uitroei.”  Hierdie gedeelte verkondig ‘n arm koning wie se heerskappy nie afhang van wêreldse mag of politieke of militêre mag nie.  Nee, Hy kom aangery op ʼn nederige donkie.  Dit is presies die teenoorgestelde as die wêreldse konings.  Dit is die oproep tot die ouderlinge vandag!  Is daar ʼn diepe nederigheid in alles wat julle doen?  Is daar die begeerte om minder te word sodat Christus meer kan word?

Die woord sagmoedig beliggaam die wese van Christus se koningskap – uitegeleef in nederigheid, verhoog in eer.  ʼn Gebroke onbaatsugtige wat geseën word.  Hy het Homself verneder selfs tot op die punt om mens te word, selfs deur ʼn dienaar te word, en asof dit nie genoeg was nie, tot op die punt van die dood, en asof dit nog nie genoeg was nie, tot die dood aan ʼn kruis!  Maar dit was as gevolg hiervan dat Hy oorwin het en die beloofde land van die nuwe hemel en die nuwe aarde oopgemaak het deur die opstanding van die liggaam vir almal wat in Hom is.

Hoe laag sal jy buig?  Hoe diep sal jy jouself verneder om selfs net een van hierdie skape die liefde van Christus te wys?  Ons as Christene, maar veral die leiers, word geroep om ons lewe te gee.

Salig is die sagmoediges want hulle sal die aarde beërwe.  Dit is presies wat Jakobus sê: “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”  Inderdaad, net hulle wat verneder is, sal verhoog word en die koninkryk beërwe saam met die Koning.  Soos Sagaria verder sê: “Hy sal aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.” Hierdie koninkryk sal wees tot aan die eindes van die aarde.  Dit gaan oor die ingaan in ʼn nuwe lewe wat hier in gebrokenheid begin, in nederigheid van hart – maar eendag sal dit lei tot alle dinge wat nuut gemaak is!  ʼn Hemel en aarde, ʼn tuiste van regverdiges.

Ek dink dat die beste kommentaar op hierdie vers deur Matthéüs self gegee word aan die einde van sy boek in hoofstuk 25:34 waar Jesus sê: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af, want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee;  Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.  Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed, of dors en te drinke gegee?  En wanneer het ons U ʼn vreemdeling gesien en herberg gegee; of naak, en geklee?”

Dit is nederigheid – om niks vir roem en eer te doen nie, selfs nie eers te erken wat jy doen nie – maar om dit eenvoudig te doen omdat dit is wie jy is – jy ag ander se lewens eenvoudig net so belangrik as jou eie.  Jy sê dus: “Ons is onwaardige dienaars; ons het net ons plig gedoen.”

En wat is die Koning of Jesus se reaksie op mense wat op hierdie manier leef?  Pragtige woorde van belofte: “julle beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af!”  Hierdie koninkryk is gereed – dit is voorberei – en dit is aan die kom.  Liewe gemeente – sagmoedigheid is nie swakheid nie – dit is heilige nederigheid wat nie gryp na mag of invloed nie, maar soek om die geringstes te dien.  Verneder jouself voor die Here en Hy sal jou verhoog.  En eendag sal jy die woorde van jou Koning hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, gaan in in die vreugde van jou heer.”  Dit is die doel van die reis soos wat dit was die dag toe Israel Egipte verlaat het.  Dit was nie genoeg dat hulle die land van slawerny verlaat het nie – maar God het hulle na sy beloofde land gebring.

Jy sien, die land was altyd die doel – dit was altyd die finale bestemming.  Josua kon hulle nie die nuwe land gee nie, want hy kon dit nie van sonde vrymaak nie.  Slegs Jesus, die nuwe Josua, kon dit doen. Ons wag steeds vir die uiteindelike realiteit – in Christus is dit seker, maar ons sal uiteindelik eers ingaan wanneer elke laaste een van ons broeders en susters saam met ons kan ingaan.  Dan sal die hemel en die aarde aan die volk van God behoort.  Hemel en aarde sal aan die sagmoediges behoort.

Salig is die sagmoediges want hulle sal die aarde beërwe. Die sagmoediges is die gebroke en onbaatsugtige saliges wat die toekomstige nuwe hemel en nuwe aarde sal beërwe.

 

Salig is hulle wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word

Ons kom by die middelpunt van die saligsprekinge: die wat honger en dors na die geregtigheid. Al die saligsprekinge wat na hierdie een lei, is na binne gerig. Gesindheid van die hart, kan ons sê.  En hierdie een gaan beide oor die inwendige en uitwendige staat.  En dan volg die saligsprekinge wat oor die uitwendige vrugte van die eerste 4 gaan.

Was jy al ooit honger?  Wanneer jy honger is, is ‘n maaltyd so bevredigend.  En as dit lekker is – dan neem jy een hap en jy wil net meer hê.  Honger en dors is ʼn gesonde ding vir ʼn mens.  Dit sê dat ons moet eet en drink.  Dit herinner ons daaraan wat ons nodig het om te lewe.  As ons nie eet of drink nie, sterf ons.  Salig is julle wat honger en dors na geregtigheid.

Honger en dors is iets wat begeerte lewendig beskryf, soos die seuns van Korag dit uitskreeu: “My siel dors na die God, na die lewende God.”  Die woord geregtigheid kan beide bedoel word as die geregtigheid van God wat ons regverdig maak. Maar die klem behoort op die tweede gedeelte lê, om regverdig te wees as ʼn gevolg van God se werk.  Dit is wat byna altyd bedoel word in die boek van Matthéüs.

Salig is julle wat honger en dors na geregtigheid.  Dit is allereers ʼn inwendige honger en dors.  ʼn Honger en dors na geregtigheid in jou eie lewe.  Is jy honger, gemeente? Ouderlinge, diakens, is julle honger?  Regtig honger?  Wil jy geregtigheid sien geskied?  Of is jy tevrede net daar waar jy nou is?   As dit die geval is, dan besef ons nie ons eie armoede nie.  Laat ons honger wees vir geregtigheid in ons lewe, in hierdie gemeente.  Laat ons dit saam nastreef.

Hierdie mense is nie net honger en dors daarna dat hulle regverdig sal wees nie (dat hulle God se wil van harte sal doen), maar dat geregtigheid oral sal geskied, beginnende by hulself.  Alle ongeregtigheid grief hulle en gee hulle heimwee na die nuwe hemel en die nuwe aarde – die huis van die regverdiges.

En hulle wat hierdie geregtigheid begeer, sal versadig word.  Weer het ons hier ʼn gevoel van byna, maar nog nie heeltemal nie.  Jy is versadig en daardie geregtigheid het nou reeds ʼn gevolg in die wêreld, maar dit sal ook vervul word.  Die kerk, die volk van God, moet op die voorpunt wees in die stryd teen ongeregtigheid in hierdie wêreld.  En dit was altyd so – vanaf die tyd van die Romeinse Ryk toe geregtigheid verkondig is vir die armes en gebrokenes wat deur die samelewing verwerp is.  Toe hulle vroue op dieselfde speelveld as mans geplaas het in terme van waarde en waardig vir respek en eer.  Toe hulle die stryd teen slawerny gelei het.  Maar weer eens, die vloei van die saligsprekinge is belangrik. Ons veg nie hierdie stryd in ons eie krag nie, maar net in die erkenning van ons eie leegheid, terwyl ons ons eie ongeregtigheid betreur, en ons mag oorgee aan God.

Ons verlang na en stry vir die regverdigheid van God om hierdie aarde te vul, om hierdie aarde te regeer.  Ons roep daarna uit. Jesus gee ʼn wonderlike gelykenis hieroor wanneer Hy sê: Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ʼn Fariseër en die ander ʼn tollenaar.  En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, of ook soos hierdie tollenaar nie.

En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!”

Sien jy ‘n gebrek aan geregtigheid in jouself?  ROEP UIT! Sien jy ‘n gebrek aan geregtigheid in die wêreld?  Roep uit!  Kinders van God sal dit sien en meer daarvan begeer! Slegs hierdie geregtigheid lei tot regte verhoudings.  Met God en met mekaar.

A.W. Tozer het ʼn pragtige gebed geskryf oor die proe van God se goedheid en om meer daarvan te wil hê:  “O God, ek het u goedheid geproe, en dit het my dors gemaak vir meer.  Ek is pynlik bewus van my behoefte vir meer genade.  Ek is skaam oor my gebrek aan begeerte.  Ek verlang daarna om met verlange vervul te word; ek dors daarna om nog dorstiger te word.  Begin in genade ʼn nuwe werk van liefde binne in my.”

Salig is hulle wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word. Die hongeriges en dorstiges is die gebroke en salige hongeriges wat die koninkryk van die regverdiges sal beërwe.

 

En salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word

As ons besef hoe groot ons behoefte vir geregtigheid is, sal dit ons meer barmhartig teenoor ander maak.  Deur hulle nie te behandel soos wat hulle verdien nie, maar op dieselfde manier as wat God ons nie behandel volgens ons sondes nie.  Is jy barmhartig?  Van alle mense op aarde behoort ons wat in Jesus glo, die barmhartigste te wees.  Eerste om te vergewe.  Die verdraagsaamste met ander se sondes teen ons. Hoekom?  Omdat ons self so ʼn ongelooflike genade van God ontvang het.  Elkeen van ons het verskriklik en herhaaldelik gesondig teen die Heilige Een wat geen sonde in sy teenwoordigheid verdra nie.  Tog het Hy ons so liefgehad dat Hy sy Seun gestuur het om die plaasvervanger te wees vir die toorn wat ons verdien het.  Sy toorn het Hom geslaan in plaas van ons.  Jesus het ontvang wat ons verdien het en ons het ontvang wat ons nooit verdien het nie – Genade.

Ons moet barmhartigheid uitstort op die wat teen ons gesondig het.  Hulle wat ons seergemaak het.  Wat ons misverstaan het en nie ons punt kan insien nie.  Hulle wat daarop aandring dat hulle reg is en ons verkeerd.  Hulle wat nie besef dat hulle sondig nie.  Ons moet Jesus gereeld aanhaal: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”  Hulle besef nie hul sonde nie. Hulle sien nie hul trots en hardkoppigheid nie.  Hulle weet nie hoe erg hulle my seermaak nie.  Of miskien weet hulle, maar Vader, wees barmhartig met hulle soos wat U barmhartig met my is.  En help my om barmhartig met hulle te wees.  Soos John Piper sê, ons moet:

“Wees verstom daaroor dat jy die ontvanger van genade is – onthou en wees verstom daaroor dat ek en jy niks anders as die toorn van God verdien nie en in Christus niks anders as genade van Hom ontvang nie.  Wees verstom.  En bid dan dat God jou genadig sal maak teenoor die onverdienstelikes.  O, hoe mooi sal huwelike nie wees nie wanneer ons ophou om te dink oor wat ons verdien en meer dink aan hoe om genade te bewys – hoe om meer onverdiende goedheid aan mekaar te bewys. O, hoe mooi sal die gemeenskap van die kerk nie wees nie as ons almal voel ons verdien nie enige goedheid nie en dat ons oorlaai word met God se genade.  En hoe helder sal die evangelie nie skyn nie as ons die armes met Christus se genade verhoog.  Mag God diegene verhoog wat met vreugde die bediening van genade na die stede en nasies bring.”

Is jy verstom oor die genade wat jy van God ontvang het? Dink jy gereeld diep na oor die genade wat jy ontvang het?  Is jy ʼn barmhartige persoon – is dit wie jy is?  Nee, nie net iets wat jy doen nie, maar iets wat jy is?  Teenoor wie is dit vir jou die moeilikste om barmhartigheid te bewys?  Vra God om hulle te seën.  Ek en jy is nog nie perfek nie.  Ons het genade nodig in die toekoms.  Ons wil nie brûe verbrand wat ons later moet oorsteek nie.  Here Jesus, maak ons barmhartig, soos wat U barmhartig is.

Barmhartigheid beteken om mense beter te behandel as wat hulle van ons verdien. Vergifnis is ʼn tipe barmhartigheid.  So ook om iemand te help teenoor wie ons geen verpligting het nie, of om ons daarvan te weerhou om iemand se kwesbaarheid uit te buit. Barmhartigheid in al hierdie gevalle is die dryfkrag van Christus se menswording, dood en opstanding.  Deur Hom word ons sondes vergewe en ontvang ons self hulp deur die gawe van God se Gees (1 Kor. 12).  Die Gees se rede om aan ons barmhartigheid te bewys is eenvoudig dat God ons liefhet (Joh 3:16).

Aan hom wat dus barmhartig is, sal barmhartigheid bewys word.  Maar as daar geen barmhartigheid is nie, is daar geen barmhartigheid vir jou nie – want jou tekort aan barmhartigheid is ‘n teken daarvan dat jy geen idee het van hoeveel genade jy nodig het nie.

Liewe gemeente, Salig is die sagmoediges, die hongeriges en dorstiges en die barmhartiges.  Is dit drie karaktereienskappe van die manne wat julle hier voor julle sien?  Volg hulle dan soos wat hulle Christus volg!

Want hulle sal die aarde beërwe, hulle sal versadig word met geregtigheid en aan hulle sal oneindige barmhartigheid bewys word.

Amen.