Die lewe in die koninkryk, deur die Koning gegee

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2019-09-08
Text: 
Mattheus 5 - 7
Reference: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

Wat ek vandag wil doen is om te preek oor die bergpredikasie.  Hierdie woorde is vandag net so lewendig soos die suurstof in hierdie lug en soos die bloed wat deur ons are pols.  Dit maak nie saak vir hoe lank jy al kerk toe gaan of hoe baie of min jy die Bybel bestudeer het nie, jy het waarskynlik al Jesus se  bergpredikasie gehoor.  Of miskien beter gestel: die preek oor die koninkryk.  Die preek oor ‘n lewe in die koninkryk.  Dit gaan oor ‘n koning wat sy onderdane aanspreek.  Hy wys aan hulle ʼn koninkryk wat nie aan hierdie wêreld behoort nie.   ʼn Koninkryk waar moraliteit nie beoordeel word volgens sigbare aksies nie, maar volgens die ingesteldheid van die hart.   ʼn Koninkryk waar die volgelinge die koning volg tot op die punt waar hulle soos die koning word.  Wanneer Hy sê:  “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.”  Hy bedoel nie net dat sy woorde nie sal verdwyn nie, maar dat sy Woord, die wet van sy Koninkryk, die gewenste effek sal hê en dat deur sy mag en genade mense verander sal word sodat hulle totaal anders is.  Alles sal volbring word, en die wet sal uitgeleef word deur 'n volk wat baie anders is.

Daar is basies twee punte waarna ek wil kyk.

Die lewe in die koninkryk, deur die Koning gegee:

  1. Die man wat preek
  2. Die mense wat volg

 

Die man wat preek

Die koninkryk van die hemel wat na die aarde gebring is in Jesus en uitgeleef word deur sy volgelinge, dit is die tema van hierdie hoofstukke.  Die tema van die koninkryk het telkens teruggekom in hoofstukke 1-4 en nou sien ons dit op belangrike plekke in die preek.  Die saligsprekinge begin en eindig met die koninkryk, dit kom terug in 5:17-20 waar dit die verhouding tussen die OT en die koninkryk bespreek.   En dit kom weer terug by die hart van die Onse Vader.  Daarna vind ons die idee weer by die klimaks van die gedeelte waar Hy die perspektief op die koninkryk bespreek (6:33), en dit word uiteindelik voorgehou as dit wat finaal binnegegaan moet word (7:21-23).  En die hele preek volg onmiddellik na die einde van hoofstuk 4 waar ons lees dat die primêre inhoud van Jesus se prediking die evangelie van die koninkryk is.  In hierdie lig moet ons ook die OT vergelykings lees.  Die doel van die wet en die profete was altyd die lang verwagte Messiaanse koninkryk.

In die eerste vers gaan Hy op teen die berg en, soos ʼn rabbi in daardie tyd, het Hy gaan sit en sy dissipels het na Hom gekom.    Hy het sy mond geopen en hulle geleer.  En dit sluit af met die woorde: “En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.”

Dit gaan oor gesag.  Daar is iets omtrent hierdie preek waar jy nie die persoon kan skei van dit wat gesê word nie.  Die Koning het gekom.  Dit is ʼn koninklike oomblik – waar die Koning sy volgelinge die vorm en karakter van sy heerskappy leer – dit wat die vorm en karakter van sy eie Persoon vorm.  Die persoon en die boodskap pas bymekaar.

Dit is moeilik om na ʼn prediker te luister wat jy nie respekteer nie, selfs al moet jy die woord hoor en nie die man nie.  Maar dit is nie die geval met hierdie Man nie.  Hierdie Man se woorde en persoon gaan saam.  Hy is aangekondig as die Koning en nou gee Hy die wet van die koninkryk.

Hy preek soos een met gesag – nie net gesag in terme van mag nie, maar morele gesag. Hy is die verpersoonliking van dit wat Hy sê.  En nou roep Hy sy volgelinge op om Hom op hierdie manier te volg.  Soos die eerbiedwaardige kerkvader Augustinus gesê het: “Die bergpredikasie is nie ʼn stel beginsels waaraan voldoen moet word buiten die identifisering met Jesus Christus nie.  Die bergpredikasie is ʼn verklaring van die lewe wat ons sal leef wanneer die Heilige Gees ons beheers.” 

As jy dus dink dat jy die preek kan verstaan sonder om te verstaan Wie spreek, dan maak jy ʼn groot fout.  Nie net sal jy klaaglik daarin misluk om te verstaan wat Hy bedoel nie, maar jy sal ook vir ewig daarvoor beoordeel word.  Want wanneer jy die Koning skei van die koninkryk – dan het jy alle reg verloor om deel van daardie koninkryk te wees.  Jy kan nie hierdie woorde gehoorsaam sonder om Hom eers te volg nie.  Dit is hoekom Matteus baie bewus sê dat Jesus met sy dissipels praat.  Hy praat nie met die skare in die algemeen nie, alhoewel hulle sy woorde hoor.  En sy woorde is aantreklik.

Ons ken Hom alreeds as die Seun van Dawid, die Seun van Abraham.  Ons ken Hom as die Redder, die Een wat sy volk van hulle sondes red, ons ken Hom as die geliefde Seun van die Vader op wie die Gees rus.  Ons ken Hom as ʼn prediker en ʼn onderwyser soos wat Israel nog nooit gesien het nie. 

Nou gaan ons verder met die uitsonderlike aansprake van hierdie Man. Hy maak in hierdie preek daarop aanspraak dat Hy die dade van alle mense sal oordeel.  Hy maak daarop aanspraak om die finale en hoogste outoriteit van die wet te wees.  Hy gaan verder en maak aanspraak op groter outoriteit as Moses.  Moses se wet kon slegs die buitekant reguleer, maar sy wet reguleer die binnekant.  Sy wet is die wet van die hart.

Soos wat Jeremia dit so pragtig stel:  “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE:  Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart;  en Ek sal vir hulle ʼn God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees.” (Jer. 31:33)

Ek wil hê dat julle moet oplet hoe baie maal Jesus na Homself verwys regdeur hierdie preek.  Kyk na al die ‘Ek’s’ en ‘my’s’.  Dit gaan oor Hom en sy Vader met wie Hy sê Hy een is.  Dit gaan daaroor om Hom te volg.  Om Hom te gehoorsaam.  Hy stel Homself op as die Een wat die hoogste outoriteit het en Hy wys die weg van die Koninkryk.  ʼn Innerlike lewe wat uiterlik skyn.  ʼn Lewe van nederigheid en krag in swakheid.  ʼn Lewe van vergifnis en vergewing.  ʼn Lewe van aksie.  ʼn Manier van lewe anders as die wêreld.  ʼn Manier van lewe onder die kruis van Jesus.  ʼn Manier van lewe wat vloei vanuit die kruis van Jesus.

As die uiteindelike Koning, en daarom ook die uiteindelik Wetgewer - gaan Hy die berg op en verkondig die aanbreek van ʼn nuwe manier van handel, ʼn nuwe manier van doen.  Nie nuut in die sin van dat dit nie voorheen nodig was nie, maar nuut in die sin dat Hy as die Koning dit wat onmoontlik was, moontlik sou maak.  Dit gaan nie net oor een of ander spirituele aksie nie, dit gaan oor ʼn egte daaglikse manier van lewe. 

 

Die mense wat volg

Kom ons skets die prentjie:  Jesus op die berg, die skare, en die dissipels.  Die mense sien Jesus saam met sy dissipels wat rondom Hom vergader het.  Tot redelik onlangs het hierdie mans hulself totaal met die skare vereenselwig, hulle was net soos die res.  Toe kom die oproep van Jesus, en onmiddellik het hulle alles agtergelaat en Hom gevolg.  Van toe af het hulle aan Hom behoort, liggaam en siel.  Nou gaan hulle saam met Hom, en volg Hom waar Hy hulle ook al lei.

Jesus roep sy dissipels en spreek die seëninge van die koninkryk oor hulle uit ten aanhore van die skare, en die skare word opgeroep as getuies.  Net soos wat die wêreld aanhou om getuies te wees van die koninkryk van God wat deur die kerk werk.  Die erfenis wat God aan Israel beloof het, word gegee aan hierdie klein kudde van dissipels wat Hy gekies het.  “Aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”  Die dissipels word geseënd genoem omdat hulle na die roepstem van Jesus geluister het en daarom sal hulle dit wat aan hulle beloof is, beërwe.

Jy sien, wanneer jy Jesus uit hierdie prentjie verwyder, dan verwyder jy God van die wet en maak die wet jou God.  Dit is in ‘n sekere sin dit wat Israel gedoen het.  Hulle het die wet hul God gemaak.  Dit was hulle probleem.  Dit is hart van moralisme. 

Maar ons kan ook nie die skaal na die ander kant swaai en die Wetgewer van die wet skei nie.  Dit sou anti-wetlik wees.  As Koning is Jesus die beliggaming van die wet.  In Jesus se dae sou die koning die wet en die wetgewer wees.  Die een wat die voorbeeld van die wet was en die een wat die wet sou gee.  En dit is in Hom wat ons gehoorsaam is.  Die bergpredikasie is nie ʼn moralistiese preek of prediking nie.  Dit is ʼn Jesus-gesentreerde preek.  En omdat dit ʼn Jesus-gesentreerde preek is, moet ons na Hom kyk as die manier om dit in ons daaglikse lewe uit te leef – om die toekoms na die hede te bring.  Om dit wat nog nie is nie, te bring tot wat alreeds is.

Soos Bonhoeffer sê:  “Dit was die fout van Israel om die wet in God se plek te stel, om die wet hul God te maak en hul God die wet.  Die dissipels is gekonfronteer met die teenoorgestelde gevaar om die goddelikheid van die wet heeltemal te ontken en God van sy wet te skei.  Beide foute het dieselfde gevolge.”  Ons kan versoek word om in laasgenoemde te verval en ‘n lewe van goedkoop genade te lei.  Waar ons lewe nie in ‘n aanhoudende staat van verandering is nie – en sodoende ly vir die koninkryk.

Dit is duur.  Dit is nie verniet dat die gedeelte net voor hierdie predikasie die roeping van die dissipels is wat alles agtergelaat het nie.  Dit is nie verniet dat hierdie predikasie direk aan hulle gerig is nie.  Dit gaan daaroor om alles ter wille van Hom te verloor.  Dit gaan daaroor om arm te wees, om te treur, om honger te wees, ens.  Dit is dure genade.  Dit is die teenoorgestelde van goedkoop genade wat Bonhoeffer so treffend beskryf:  “dit is die prediking van vergewing sonder dat bekering vereis word, doop sonder kerklike tug, nagmaal sonder belydenis, kwytskelding sonder persoonlike belydenis.  Goedkoop genade is genade sonder dissipelskap, genade sonder die kruis, genade sonder Jesus Christus, lewend en vleesgeworde.  Die kruis gooi sy skaduwee oor hierdie prediking.”

Nie alleen is vergewing sy genade nie, maar bekering en ware gehoorsaamheid aan Hom is genade.  Die doel van hierdie prediking is nie allereers om aan ons ons groot nood vir genade te toon nie, want dit is onmoontlik om te gehoorsaam.  Die eerste doel is om uit te wys dat in Christus en sy werk ons genade ontvang om hierdie lewe te leef.  As mense wat vernuwe en lewend gemaak is, is ons nie langer totaal verdorwe nie – maar ons het die krag van die lewende Koning om dit uit te leef!  Dit is onbeskryflike genade!  Hierdie lewe wat Hy ons hier wys, is die lewe van genade.  Dit is ongelooflik goed!

Hierdie predikasie het ʼn impak gehad op van die bekendste mense op aarde.  Tolstoy, waarskynlik een van die bekendste skrywers, het dit gesê:  “Ek het vir 55 jaar in hierdie wêreld geleef, en na 14 of 15 jaar van my kinderjare, vir 33 jaar van my lewe, was ek in die ware sin van die woord iemand wat in niks geglo het nie.  Vyf jaar gelede het ek tot die geloof in die leer van Christus gekom en my hele lewe het skielik ʼn transformasie ondergaan.  Dit waarvoor ek eers gewens het, het ek nie langer gewens nie.  Dit wat eers vir my goed gelyk het, het boos geword, en die boosheid van die verlede het ek as goed gesien.

Wat Tolstoy die meeste aangegryp het was die opdrag in die bergpredikasie om jou vyande lief te hê, maar sy eerbied vir die bergpredikasie het uitgebrei na al sy komponente.  Ons kan daaroor redekawel of hy tot verlossing geglo het, maar dit wys dat een van die grootste literêre figure van alle tye die bergpredikasie as ʼn leefbare dokument beskou het.

Bonhoeffer het met hierdie woorde saamgestem: “Tussen die dissipels en die beter geregtigheid wat  van hulle verwag is, staan die Persoon van Christus, wat gekom het om die wet en die ou verbond te vervul.  Dit is die fundamentele veronderstelling van die hele bergpredikasie.  Jesus manifesteer sy perfekte vereniging met die wil van God soos dit geopenbaar is in die Ou Testamentiese wet en die profete.  Hy kan in feite niks toevoeg tot die gebooie van God nie, behalwe dit, dat Hy hulle hou.”  En dit is net in Hom en deur sy werk dat Hy sy volgelinge in staat stel om die koninkryk van God binne te gaan.  Want dit is nie hulle wat hoor, maar hulle wat die wil van God doen wat sal binnegaan.

 Hoor jy dat dit gaan oor hulle wat nie net luister nie (die skare), maar wat volg soos die dissipels?  Wanneer jy dit vandag hoor sonder Christus, gaan jy die pad byster raak.  Ons Christus gebruik as middel tot redding.  Maar Christus is ons verlossing.  En in Hom word die verlossing geleef. Dit is die geredde lewe.  Elke ander geloof is bekommerd oor uiterlike optrede.  So lank as wat jy nie steel nie, uiterlik liefde en respek aan alle mense bewys, nie egbreek pleeg of pornografie kyk nie, nie lieg nie, dan sal jy goed wees.  Maar Christenskap sê dat almal hulle uiterlike gedrag gewoonlik kan verander.  Maar net Christus kan die hart verander sodat deur die hart die hele lewe getransformeer word.

Ten slotte:  Hierdie woorde is gespreek deur die Groot Kunstenaar, die Koning van die Koninkryk, deur wie “alle dinge ontstaan het” en “sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie”, die Een in wie “lewe was en die lewe was die lig van die mense”, – sekerlik, “die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie”.  Dit word algemeen aanvaar dat die ideale in hierdie predikasie van nature nie haalbaar is nie.  Is dit waar?  Is die enigste funksie daarvan om sonde te wys?  NEE, glad nie.  Die bergpredikasie mag ʼn ideaal wees, maar net so is die Liefdeshoofstuk (1 Korinthiërs 13) – daar is in elk geval baie minder kontroversie met die interpretasie van die Korinthiërs-teks. 

Ons glo nie dat daardie hoofstuk net daar is om aan ons te wys hoe liefdeloos ons is nie, maar dis ʼn oproep tot Christelike liefde.  Dat in Hom aan ons soveel liefde gegee is en dat ons daarom die liefde moet deel.  Ons word in hierdie predikasie in werklikheid opgeroep tot ʼn radikale en onwankelbare toewyding.  Ons hou daarvan om die ekstreme taalgebruik af te water, maar dit moenie so wees nie.  Dit is die pad van genade, dit is die pad van die pragtige lewe.  Dit is die pad van die Koninkryk van God.  Daar is ʼn misterieuse skoonheid in die bergpredikasie, en mans sowel as vrouens sal aanhou om aangetrokke te voel tot wat genoem word die “magnetiese berg”.

Soos een teoloog gesê het:  “Vir die moderne dissipel lyk dit die beste om die bergpredikasie te sien as die brug na die laaste dag”.  Of as die brug na die koninkryk van God in sy volheid.  Die brug is Christus in wie ons die perfekte wet van God sien en die heerlikheid van die dinge wat kom.  Die Christelike lewe gaan daaroor om oor daardie brug in die konkrete wêreld te stap.  Beginnende by die verlossing wat in Christus Jesus is deur sy versoenende bloed, begin die moderne dissipel sy/haar reis na die land van dinge wat kom, een tree op ʼn slag, en bewegende van heerlikheid tot heerlikheid, word hy/sy omskep na die beeld van die perfekte Christus.  Is die bergpredikasie leefbaar?  Ja.  Deur die krag van die opgestane Koning.  My gebed is dat my lewe en elke lewe in hierdie gebou dramaties hierdeur verander sal word.  Hy is 'n gids vir die lewe, maar slegs vir diegene wat toegewyd is aan die koninkryk van die hemele, en selfs dan sal jy sal altyd vind dat die reikwydte daarvan ons begrip oorskry.

Amen.