Bekeer julle! Want die koninkryk van die hemele het naby gekom!

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2019-06-30
Text: 
Mattheus 3: 1 - 10
Preek Inhoud: 

Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom!  Dit is die boodskap van vandag as ons kyk na die Woord van God in Matthéüs 3:1-10.  Noudat die bekendstelling van Jesus as die seun van Dawid, die seun van Abraham, gebore in Bethlehem, die man van Nasaret, afgehandel is, gaan hy verder met die boodskap.  Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom!  Dit is presies dieselfde boodskap as wat Jesus gepreek het toe Hy sy bediening in hoofstuk 4:17 begin het en dit is dieselfde boodskap wat die apostels in Handelinge verkondig het, en dit is dieselfde boodskap wat ons vandag preek!

Bekeer julle!  Want die koninkryk van die hemele het naby gekom!

  1. Aankondiging en prediking
  2. Bekering en belydenis
  3. Konfrontasie en waarskuwing

Aankondiging en prediking

Ons lees in vers 1: “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judea gepreek.”  Hier in Matthéüs val die klem sterker op die prediking as op die doop.  Die woord wat hier gebruik word, kom van die stamwoord “herout”.  Johannes is ‘n herout, nie van die Romeinse koninkryk nie, maar van die koninkryk van die hemele.  Hy kondig aan dat die Koning gekom het, en met sy koms het die koninkryk van die hemele gekom!

Ons lees ook dat hy in die woestyn van Judea preek.  Die woestyn was ‘n plek van beproewing vir die Israeliete in die Ou Testament, ‘n plek van suiwering.  ‘n Plek van beproewing.  En om in die koninkryk in te gaan, moes hulle deur die water van die Jordaan gaan, net soos wat die Israeliete gedoen het toe hulle Kanaän binnegegaan het.

Sy boodskap vind ons in vers 2: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”  ’n Kort boodskap.  Ek is seker hy het meer gesê, maar al sy prediking kan opgesom word met die woorde: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is naby”.

Ons gaan later ‘n bietjie in meer detail kyk na wat bekering beteken en hoe dit lyk, dus ons laat dit eers daar.  Die koninkryk van die hemele is die heerskappy van God.  God het begin om sy heerskappy op die aarde te vestig.  Hierdie koninkryk hang saam met die koms van Jesus.  Dit gaan alles oor die goeie nuus van die deurbraak van die koninkryk van God.

Johannes sê die koninkryk is “naby”, of, beter nog, ons sou kon sê dit is “hier” of dit “het verskyn”.  God se beloofde heerskappy het begin – God neem nou die beheer.  Want saam met die ongetwyfelde alleenheerskappy van God besef ons dat alles nie was soos wat God dit in hierdie wêreld wou hê nie, en daarmee saam was daar die hoop op ‘n tyd wanneer God se heerskappy meer volledig en openlik onder die volke van die wêreld erken en geopenbaar sal word.  Dit is soos Sagaria sê: En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een. (Sag. 14:9)

Die gereelde gebed in die Joodse sinagoge in hierdie tyd was: “Mag God sy koningskap laat regeer in jou leeftyd en in jou dae en in die hele leeftyd van die huis van Israel, gou en spoedig.”  Die verlange na die groot nakomeling van Dawid was groot in die volk se verbeelding.  En dit is in hierdie wêreld in afwagting dat die herout van die koninkryk, Johannes, uitroep dat die koninkryk van die hemele naby is!

En Johannes eggo nie net die hoop dat dit sal kom nie; nee, die woord in die Grieks is in die voltooide teenwoordige tyd, wat dui op iets meer aktueel.  Dit is iets wat besig is om te gebeur.  Dit het gekom! Bekeer julle dus nou!  Daar is ‘n nuwe dringendheid in die boodskap, want die Koning het gekom!

Die koninkryk van die hemele was nie van hierdie wêreld nie.  Ten einde die koninkryk te betree, het die mense nuwe lewe nodig.  Die mense van die koninkryk van hierdie wêreld moes drasties verander: verstand, hart en wil.  Hulle moes plek maak in hulle harte vir die Koning se koms.  Soos die bekende lied lui: Joy to the world, the Saviour has come, let earth receive her King. Let every heart prepare Him room.  Is daar plek in jou hart om jou Koning te ontvang?  Maak plek! sê Johannes.  Bekeer jou van al jou sondes en keer terug na Hom toe.

Vers 3 sê Johannes is “die stem van een wat roep in die woestyn:  Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!”  Die konteks van hierdie aanhaling is Jesaja 40:3-4, waar ons lees dat hierdie stem roep: maak gelyk in die wildernis ’n grootpad vir onse God!  Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.  Ons is so gewoond daaraan om dit te lees dat dit maklik is om die radikale betekenis van hierdie tekskeuse te mis.  Want die een wat na hierdie stem kom, is nie spesifiek die Messias nie, maar God Self!  Dit sê: maak ‘n grootpad vir God gereed!  En dan verskyn God in Jesaja 40!  Hier is ‘n man wat ‘n gelyk pad moet maak vir die Een wat sal volg – naamlik GOD!   Op ‘n spesiale manier was hy ‘n herout van die komende redding – ‘n herout gestuur deur God om die koms van God aan te kondig!

Om dit te laat gebeur, moes die skewe en ongelyke harte van mans en vroue gelyk gemaak word!  En dit is wat gebeur!  Ons sien dat hier ‘n algehele bekering en hernuwing plaasvind, amper soortgelyk aan die tye van Elia, Nehemia of Daniël, toe die volk as geheel teruggekeer het.  Vers 5 sê nie: “en Zach, Henk, Bill, Sarah en Jill het gekom om Johannes te sien” nie, maar in plaas daarvan: “Jerusalem en die hele Judea en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe.”  Dit gaan oor die hernuwing van God se volk. 

Bekering en belydenis

Die toepassing van hierdie boodskap was eenvoudig maar hoogs ingrypend: Bekeer julle!

Daar is die ware verhaal van ‘n ou universiteitsprofessor wat elke Vrydagaand ‘n groep studente vir ete oorgenooi het.  Teen die deur van die professor se huis was ‘n klein ornamentele bordjie waarop twee woorde in groot hoofletters geskryf was: BEKEER JOU.

Toe ek hierdie verhaal lees, was ek lus om dieselfde te doen en dan bo die ingang van die kombuis ‘n ander bordjie te hê wat lees: “van die toorn wat sal kom” en uiteindelik in die sitkamer ‘n bordjie waarop staan: “waarom wag jy?!”  Vandag is dit dalk nie die beste benadering nie, want dit klink soos baie harde woorde.  En op ‘n manier is dit, want dit dui daarop dat daar iets is waarvan ons ons moet bekeer.  Maar die feit dat ek bekering kan preek, is een van die mooiste dele van die evangelie.  As daar nie bekering was nie, sou ons in ons sonde bly en al wat ek dan sou kon preek, is oordeel! 

In elke preek wat in die boek Handelinge deur die apostels gepreek is, is die boodskap “Bekeer julle” (Hand. 2:38; 3:19; 5:31; 8:22; 17:30; 26:20.)  Vanaf Petrus se eerste boodskap aan die Jode tot Paulus wat voor die Grieke staan, is die basiese boodskap dieselfde.  Bekeer julle.  Dit is wat ons moet hoor, en wat die wêreld moet hoor.  Ons vind dieselfde tema in al die briewe van die Nuwe Testament.

Dit is in wese die boodskap van die Skrif.  In lyn met al die Ou-Testamentiese profete.  Die woord wat hier gebruik word, impliseer ‘n totale verandering van denke, ‘n verandering in oordeel, ingesteldheid en gevoelens.   Die volledige agterlaat van ‘n vorige lewenswyse.  Dink na oor wat jy doen!  Oorweeg jou woorde!  Orweeg jou gedagtes!  Ek het verkeerd gepraat.  Ek het verkeerd gedoen.  Ek het verkeerd gedink.  My wil, my gedagtes en my gevoelens moet heroorweeg word in die weg van liefde.  Dink weer en dink reg.  Die ware bekeerling het nuwe gedagtes oor God en Christus, sonde en heiligheid, en van hierdie wêreld en die ander, anders as voorheen.  Hulle praat anders met mekaar; hulle behandel ander beter as hulself.  Die verandering van hart bring inderdaad ‘n verandering in die manier van dinge doen mee.

Dit is bekering volgens die evangelie, wat voortvloei uit ‘n sig op Christus, uit ‘n gevoel van sy liefde, en uit die hoop op kwystskelding en vergewing deur Hom.  Jy sien, jy hoef jou nie te bekeer om na Christus te kom nie, jy sal berou hê wanneer jy Christus sien.  Daar is geen ander voorwaarde nie behalwe geloof in Christus.  Maar 'n boom word geken aan sy vrugte.  En bekering is die vrug van die geloof! 

Die Koning is op pad!  Sien jy Hom?  Die teenwoordigheid van God se koninkryk is ‘n groot aansporing vir ons om ons te bekeer; bekeer julle, want jul sondes sal vergewe word.  Deur die oortuigingskrag van die Gees, keer terug na God deur ‘n manier van optrede wat reg en gepas is, en Hy sal deur Christus na jou terugkom deur middel van genade.

Daar moet baie gedoen word om die weg vir Christus in ‘n siel te baan, en niks is nodiger as die besef van sonde nie en die oortuiging dat ons nie deur ons eie geregtigheid gered kan word nie.  Mag jy die komende koninkryk sien en jou onwaardigheid besef.  Die weg van sonde en Satan is ‘n kronkelpad, maar om die weg vir Christus te baan, moet die paaie reguit gemaak word.  Hebreërs 12:13 sê: Maak reguit paaie vir julle voete.

Johannes self het ‘n lewe van selfverloëning gelei, soos ons lees in vers 4: “Hy het ‘n kleed gedra van kameelhare en ‘n leergord om sy heupe, en sy voedsel was sprinkane en wilde heuning.”  In hierdie opsig volg hy die leefstyl van die Ou-Testamentiese profete. In Sagaria 13:4 lees ons dat ‘n harige mantel kenmerkend was van ‘n profeet in die sesde eeu v.C.  In 2 Konings 1:8 lees ons ook dat Elia ‘n man was met ‘n harige mantel en ‘n leergordel om sy heupe.  Elia was ook ‘n man uit die wildernis wat ‘n herlewing gelei het ná ‘n besonder donker tyd.  Op hierdie manier berei Matthéüs ons voor op Jesus se woorde later wanneer Hy Johannes met Elia vergelyk.

Maar hierdie profete pas egter nie by die wêreld in nie, net soos hulle boodskap ook nie inpas nie.  Soos Hebreërs 11 sê aan die einde van die hoofstuk oor al die geloofshelde: Die wêreld was hulle nie werd nie. (Hebr. 11:38)

Ek hou van die profete, maar ek is nie seker hoe gemaklik ek daarmee sal wees om hulle vir ‘n koppie tee te nooi nie.  Kan jy jou indink dat Elia, Jesaja, Daniël, Esegiël of Johannes in jou sitkamer sit en jy bied hulle ‘n koppie tee of koffie aan (natuurlik met ‘n bietjie wilde heuning vir Johannes).  “Kan ek jou enigiets anders aanbied?”  Dit is moeilik om ‘n prentjie daarvan te vorm.  Dit is profete en as sodanig pas hulle nie perfek in ons sitkamers of ons wêreld in nie.  Die manne van God wat die Woord van God aan die mense uitdra is veronderstel om ons by tye te ontstel.  Ons ongemaklik te maak.  Hulle pas eenvoudig nie in ‘n sondige wêreld in nie.

Hopelik lei hierdie boodskap nie net tot ‘n ongemaklike gevoel nie, maar tot bekering en belydenis, soos die mense waaroor ons in vers 6 lees: “hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes”. Nuuskierigheid, en ‘n liefde vir nuwighede en variëteit, bring baie mense daartoe om na goeie prediking te luister en vir ‘n rukkie daardeur geraak te word, maar hulle onderwerp hulle nooit aan die krag van die koninkryksboodskap nie.  Diegene wat werklik Johannes se boodskap ontvang het, het van hul bekering getuig deur hulle sondes te bely.

Dit is weer eens nie ‘n nuwe boodskap nie.  Dit word regdeur die Skrifte gevind en kry bloot nuwe dringendheid in die lig van Jesus Christus se koms.  Deur sy genade word ons gebreek en oortuig, en roep ons uit in smart, skaamte en spyt, terwyl ons ons sondes bely en om vergifnis bid.  Psalm 32:5 sê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.  In Spreuke 28:13 lees ons: Hy wat sy ortrdinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.  In 1 Johannes 1:8, 9 lees ons: As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Is daar sonde in jou lewe?  Bely dit.  Vandag!  Glo my, daar is vryheid vir jou!  Christus het die straf vir jou sonde gedra – hoekom dra jy dan nog steeds daardie swaar las?  Bring dit in die ope!  Moenie langer daaraan vashou nie!  Die koninkryk van die hemele is naby!  Nou is die dag van redding!  Moenie langer wag nie!

En vir almal wat tot geloof kom, is daar die belofte van die doop.  Die beeld van NUWE LEWE, en die afsterwe van die ou lewe!  Gewoonlik was hierdie soort doop slegs vir die heidene wat tot die Jodendom bekeer is.  Maar Johannes was besig om die Jode soos heidene tot bekering te roep!  Daar is nie 'n spesiale groep mense wat nie nodig het om hul te bekeer nie.  Jode is ook geroep.  God se verbondsvolk.  Hierdie boodskap is net so van toepassing op ons, net soos wat dit in die gevangenis is.  Om Joods te wees, sou hulle nie red nie!  Om deel van die verbond te wees, sou hulle nie red nie.

Johannes het hulle met water gewas, ‘n teken dat God hulle sou reinig van al hulle ongeregtighede.  Deur die doop het hulle bely dat hulle almal van nature en deur hul lewenswyse besoedel was, en dat hulle nie deel kon word van God se volk tensy hulle van hul sondes gewas word in die fontein wat Christus sou oopmaak nie. Sagaria 13:1 sê: In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid.

Konfrontasie en waarskuwing

‘n Bediening wat mense oproep tot bekering sal enige prediker in die moeilikheid bring – want bekering suggereer dat die mense vir wie jy preek, hulle moet bekeer.  Met ander woorde, hulle is sondaars wat op die grootpad na die hel wandel, en Johannes die Doper staan daar in die middel van die grootpad en roep: “STOP! Bekeer julle!  Die koninkryk van God is hier; keer terug!”  Op die ou end was dit juis hierdie boodskap wat tot sy dood gelei het, want hy het dit verkondig aan armes en rykes, konings en onderdane.  Hy het die koning aangesê om hom te bekeer, en konings hou nie juis daarvan nie, hy moes hom dus in die tronk sit.

Maar dit is nie net konings wat nie daarvan hou om aangesê te word om hulle te bekeer nie; dit is ook die rykes en die magtiges en die selfvoldane geloofsleiers wat nie daarvan hou nie, soos ons hier en later sien.  Ons lees in vers 7: “Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom.”  Let daarop dat hulle gekom het na waar hy besig was om te doop, nie om gedoop te word nie.  Hy roep na hulle.

Jy kan jou voorstel waar hy by die Jordaanrivier staan en reageer op die skares wat na hom kom om gedoop te word.  Skielik bars die volgende woorde uit Johannes se mond: Addergeslag!  Wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?

Addergeslag!  Seuns van die Satanslang!  Wat dink julle doen julle as julle hier na die rivier afgeseil kom?  Dink julle ‘n bietjie water op jul slangvelle sal God se oordeel oor julle laat wyk?  Sjoe, is dit nie dalk ‘n bietjie sterk gestel nie, Johannes?

Dit is duidelik dat Johannes nie onderrig ontvang het oor hoe om vriende te wen, mense te beïnvloed en jou aantal sosialemedia-likes te verhoog nie.  Hy gaan meedoënloos voort teenoor die nuwe bekeerlinge:

Dra dan vrugte wat by die bekering pas.  En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.  Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome.  Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

Dit is jou lewe wat moet verander, nie jou vel nie.  En moenie dink jy kan staatmaak op jou verwantskap aan Abraham nie.  Om ‘n kind van Abraham te wees, is nie hier of daar nie.  God kan kinders uit klippe maak as Hy wil.  En dit is wat Hy eintlik besig is om te doen – Hy verander harte van klip in harte van vlees.  Want dit is nie jou vel wat tel nie, maar jou hart. En daardie hart sal homself wys deur sy vrugte!  Jy kan jou gedrag verander soveel soos jy wil, maar as dit al is wat jy doen en jou hart dink dit is God waardig, dan het jy net een sonde vir ‘n ander verruil.

Dit wat saak maak, is jou lewe – drink jy uit ‘n koninkrykshart en lewer dit vrug op?  Is dit groen en floreer dit? Want as dit dooie hout is, gaan dit vuur toe.  Een van die dinge wat so maklik in ‘n kerk vastrapplek kan kry, is ‘n gevoel van toe-eiening.  Ek is gered, want ek is gedoop en ek gaan kerk toe.  Dit kan orals gebeur! 

Dit is daardie houding van: “as ek net halfhartig die eerste deel van bekering gedoen het, as ek een keer in my lewe, so tien jaar gelede, my sondes bely het, dan is ek oukei.  Ek gaan hemel toe, selfs al lewe ek soos die hel.” Hierdie leiers het gedink dat, solank as wat die uiterlike goed lyk, kan hulle innerlik dink net wat hulle wil en God manipuleer om hulle te red!  Hulle het gedink hul vader Abraham sal by die poorte van die hel sit en enigiemand laat omdraai wat daarheen gestuur is.  As jy te sleg was, moenie bekommerd wees nie, Abraham sal nie toelaat dat jy daarheen gaan nie.  Dit is hierdie denkwyse en hulle versuim om ware bekering te soek wat meebring dat hulle veroordeel word.  En nou is daar ‘n nuwe dringendheid, want die koninkryk van die hemele het gekom.

Berouvolle mense wat die Evangelie werklik gehoor en verstaan het, wat deur God verander is, dra vrugte.  Dit is: hulle begin om God en hulle naaste lief te hê en hulle toon hierdie liefde deur hul lewenswyse.  Op dié manier wys mense dat hulle dissipels van Jesus Christus is, hulle bewys dat die Heilige Gees in hulle leef.  Liewe gemeente, dit is ons harte wat moet verander.  Nie die buitekant nie, maar die binnekant.  Ek ken nie jou hart nie.  Miskien het jy Christus al vir ‘n lang tyd gevolg, en het jy begin om dit as vanselfsprekend te aanvaar dat jy op die regte pad is.  Of jy is hier vir die eerste keer.  Wie jy ook al is en waar jy ook al is, ek bid dat jy in die proses van bekering is en steeds meer na Christus draai, want die koninkryk van God is hier.

Amen.