Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die Seun van Abraham

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2019-05-19
Text: 
Mattheus 1: 1 - 25
Preek Inhoud: 

Verbeel jou jy is ʼn Jood in die eerste eeu. Jy wonder of Jesus regtig die Messias is, koning of nie. Jy het Hom ʼn paar keer hoor preek en Hy het met soveel gesag gepraat. Jy het gesien hoe Hy mense gesond maak, wat almal geweet het blind of verlam was. En jy het sopas gehoor dat sy dissipels sê dat Hy uit die dood opgestaan het. Jy wou dit glo! Maar die godsdienstige leiers is reg.

  “Hoe kan hy die Messias wees”, sal hulle sê. Hy was die seun van ʼn skrynwerker, het in ʼn klein dorpie, Nasaret, waarvan niemand geweet het nie, gewoon – ver van Galilea. ’n Arm gesin, en Josef die skrynwerker was nie bekend nie. Dit kan nie die Messias wees nie. Dit is duidelik in God se Woord dat die Messias veronderstel is om uit die geslag van Dawid te kom. Die Messias moes in Betlehem gebore word.

Op ʼn dag hoor jy hoe iemand die boekrol lees wat deur een van sy dissipels geskryf is. Dit begin met die mees interessante woorde: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham.” En dan beskryf hy die hele geslagsregister wat wys dat Josef werklik ’n seun van Dawid is. Hy gaan verder en dan vertel hy dat hierdie man, alhoewel nie die biologiese pa nie, maar die wettige pa van Jesus is, en daarom is hy ʼn erfgenaam van Dawid se troon. In hoofstuk twee vertel hy dat die man nie in Nasaret gebore is nie, maar in Betlehem. En hy ondersteun selfs die stelling met skrifgedeeltes. Hy beweer dat God se eie woorde wys dat hierdie man die Een is wat in die ou dae reeds beloof is.

Jou hart spring in jou borskas. Miskien is Hy wie Hy sê Hy is! Matteüs het hom wel die beste geken, en hy sê dat hierdie man nie net ʼn arm skrynwerker se seun is nie, maar die seun van ʼn wettige erfgenaam van Dawid se troon. Die man is in Betlehem gebore. Hierdie man het die geskiedenis van Israel ervaar deurdat Hy vanuit Egipte geroep is om God se Woord te vervul. Hy is die Messias. Hy is die Koning. Hy is die middelpunt van die geskiedenis. God het elke gebeurtenis perfek bestuur volgens sy eie bepaalde gevolgtrekkings.

Vandag begin ons met hoofstukke een en twee, wat ʼn gedetailleerde voorwoord is wat omtrent elke hooftema in hierdie boek saamvleg. Dit wys dat Jesus die Messias is – die vervulling van die Ou Testament – die nuwe Moses, Josua, die ware Israel. Hoofstuk een handel oor wie Hy is en hoofstuk twee gaan oor waar Hy vandaan kom.

 

Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die Seun van Abraham

  1. Sy menslike familie
  2. Sy goddelike geboorte

 

Sy menslike familie

“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham”. Ons kan meer letterlik sê: “Die boek van die genesis van Jesus Christus.” Hierdie frase neem ons heeltemal terug na Genesis 2:4 waar staan: “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde”.

In daardie konteks wys die woorde dat hier iets nuuts besig is om te gebeur, ’n nuwe skepping. Tog is hierdie nuwe begin uit die oue gebore. God het nooit opgegee nie. Hy was op pad om sy regmatige regering oor die skepping, wat deur die sonde oorgeneem is, te herstel.

In die tyd wat Jesus gekom het, was dit in die lug voelbaar dat die koms van die Messias naby was. Die mense van God het gevoel asof die uittog nooit geëindig het nie, en hulle het gewag vir die Een wat hulle sal uitlei. ʼn Seun van Dawid wat die glorie van die koninkryk sal herstel. Met elke nuwe generasie wat uit die geslag van Dawid gebore is, het die verwagting geheers dat dit miskien die Een is...

Verbeel jouself jy besoek die Christelike sinagoge vir die eerste keer en hoor die eerste sin uit Matteüs se evangelie.

Die boek van Jesus die Messias, die seun van Dawid, die seun van Abraham. En dan kom die name. Meeste van die name ken jy, van die name aan die einde ken jy nie. Hierdie name verteenwoordig mense, maar hulle is meer as net mense. Hierdie name verteenwoordig die verbondsbeloftes van God. Hierdie name verteenwoordig beloftes wat teruggaan tot by Abraham.

Dit is waar jou Joodsheid werklik begin. In Genesis 12 roep God Abraham om sy familie agter te laat en ʼn volk te wees wat uitgesonder is vir Hom. God het hom beveel om sy gode agter te laat en die ware God te bely. Hy gee hom hierdie belofte in Genesis 12:2,3: “En Ek sal jou ʼn groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak dat jy ʼn seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”

In die lig van daardie ongelooflike belofte het ons die sin: “Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham.” Hierdie persoon sal die seën vir al die nasies wees. Ons sien dit ook. Ons sien dat, alhoewel dit beloftes vir die Jode was, was dit nie net vir die Jode nie, maar vir alle nasies en alle klasse. Ragab, Tamar en Rut was nie Joods  nie. Tog het hulle deel geword van Israel, en hulle lewens drasties veranderde lewens. Dit is nie normaal dat vroue in geslagsregisters verskyn nie. En die feit dat Matteüs hierdie vroue, en nie matriarge soos Sara, Rebekka, Lea en Ragel gekies het nie, wys dat hy besig is om ʼn punt te bewys. Die Evangelie is vir gebroke sondaars van alle nasies.

Hierdie dogters was nie biologiese dogters van Abraham nie, maar hulle was dogters van Abraham deur die geloof. Ons sal hierdie tema van kinders in die geloof sien terugkeer deur die evangelie van Matteüs. Dit word in Galasiërs 3:27-29 uitgelig: “want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” Hierdie name staan as getuienis dat die evangelie vir alle nasies is.

Die name in hierdie lys wys ook die morsige kant van ons Here se familie, en hulle groot behoefte aan ʼn verlosser. Jy weet mos, elke familie het die een oupagrootjie waaroor niemand wil praat nie. Die oom waarvan jy nooit hoor nie. Daar is Abraham wat meermale gelieg het dat sy vrou nie sy vrou is nie. Dawid was ʼn moordenaar, ʼn leuenaar en ʼn egbreker. Manasse het sy eie kinders geoffer.

Ja, Jesus kom uit ’n geslag van sondaars. Dit was die probleem. Hy het ons morsigheid betree, deel geword van hierdie morsige familie. Hy het hulle naam gedra om hulle daarvan te red.

Dit was nie net die familie van beloftes aan Abraham nie, maar ook aan Dawid. Jy onthou nog die beloftes wat aan Koning Dawid in 1 Kronieke 17:11 gemaak is: “En as jou dae vol is om heen te gaan saam met jou vaders, sal ek jou nakomelinge wat uit jou seuns sal wees, laat optree en sy koningskap bevestig. Hy sal vir My ʼn huis bou, en ek sal sy troon bevestig tot in ewigheid. Ek sal vir hom ʼn Vader wees, en hy sal vir My ʼn seun wees, en my goedertierenheid sal Ek van hom nie laat wyk soos Ek dit onttrek het aan hom wat voor jou gewees het nie. Maar Ek sal hom laat bestaan in my huis en in my koninkryk, tot in ewigheid, en sy troon sal vas staan tot in ewigheid.”

In vers 17 skryf Matteüs: “Al die geslagte dan van Abraham tot Dawid is veertien geslagte, en van Dawid tot die Babiloniese ballingskap veertien geslagte, en van die Babiloniese ballingskap tot Christus veertien geslagte.” In die Hebreeuse letter stem elke letter met ‘n getal ooreen. As jy na Dawid se naam in Hebreeus kyk, is dit “Dalet”, wat met nommer 4 ooreenstem, “Waw” wat met nommer 6 ooreenstem en “Dalet” wat met nommer 4 ooreenstem. Die nommer van Dawid se naam is 14. Matteüs verkondig deur hierdie geslagsregister dat die Koninklike Seun hier is! Die erfgenaam van Dawid se troon. Dawid se seun en Dawid se Here. Die Een wat vir ewig sal regeer. Hy is die groot 14. Hierdie teksvers wys ons ook in ʼn sekere sin dat die hele geskiedenis rondom hierdie man ontwerp en gesentreer is.

Die manier waarop die geslagsregister verdeel is, wys dit ook vir ons. Die beloofde lyn gaan op en bereik ʼn klimaks in Koning Dawid. Dan gaan dit al die pad af tot by die laagste punt van ballingskap en dan klim dit weer op na die groot Koning Dawid, naamlik Jesus.

Ek hoop julle verstaan dat mens nie Jesus sonder hierdie name kan verstaan nie. Dit is hoekom die Nuwe Testament hier begin. Jesus het ʼn geskiedenis. ʼn Diepgaande Joodse geskiedenis. Om te probeer om Jesus sonder die Ou Testament te verstaan, is soos om te probeer om ‘n boek te verstaan deur net die laaste hoofstuk te lees. Jy kan sommige daarvan verstaan, maar jy sal nie kan sien waar die karakters vandaan kom, wat gebeur het en hoekom dit gebeur het nie. Jy ken net die slot. Maar sy verhaal het nie net met die Jode begin nie. Glad nie. Hierdie man se verhaal het lank van te vore reeds begin, voordat daar Jode was. Voordat Abraham ooit bestaan het. Hierdie Man se verhaal het voor die geskiedenis al begin. En geskiedenis is eintlik sy verhaal. Hy was van ewigheid af, en Hy het na die mense wat Hy geskape het, gekom. Ons sien dit duidelik in die geboorte van Jesus. Daar was iets anders daaraan, nie soos al sy voorvaders nie.

Sy goddelike geboorte

Hy was die seun van Dawid, die seun van Abraham, maar Hy was meer. In Matteüs 1: 18-24 verduidelik Matteüs hoe Hy die seun van Josef was en dat Hy daarom volwaardige reg tot Dawid se troon het, en tog die Seun van God is.

Hy skryf in vers 18: “Die geboorte van Jesus Christus was dan so: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.”

Maria was volgens eed getroud. Met ander woorde, wettig getroud, maar hulle het nog nie die huwelik voltrek nie – hulle het nog nooit saam geslaap nie.

Dit is geen wonder dat Josef gesukkel het om dit te glo nie. Maria was die vrou aan wie hy sy liefde belowe het, die vrou wat sy kinders in die wêreld sal bring, vir hulle sal sorg en vir hulle sal opvoed. Maria was die vrou wat die huishouding sal beheer, en nou is sy ontrou bevind! Sy is swanger en daarom deur seksuele sonde bevlek. Hy het gedink hy het Maria geken – hy het dit nie van haar verwag nie – maar dit is moeilik om te glo sy was reg toe sy gesê het dat sy die Seun van God verwag. Hy was ʼn regverdige man, die skuld sal ook op hom rus omdat baie mense sou aanneem dat hy die pa is, selfs al weet hy dat dit nie so kan wees nie. So hy “het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei.”

Ek hou daarvan dat daar staan dat hy hom ‘voorgeneem’ het, asof hy daaroor gedink en gebid het. Ons lees in die volgende vers dat: “terwyl hy dit ingedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom.” Net ʼn praktiese punt: dit is die voordeel daarvan om iets te oorweeg voordat jy dit doen. Om die tyd te neem om te dink oor wat jy gaan doen voordat jy dit doen, skep tyd vir God om met jou te praat, deur woord en gebed. Veral as dit belangrik is, en dit is presies wat hier gebeur het.

ʼn Engel kom na hom toe en sê: “Josef, seun van Dawid”. Let op die ‘seun van Dawid’-verwysing – net hier, en nie in die ander evangelies nie, word Jesus die Seun van Dawid genoem. Vir in geval jy dit nou nog nie begryp nie, maak Matteüs dit nogmaals duidelik. Dit gaan hier oor die Koning van Israel. Hy gaan verder: “wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.” Wat die leser alreeds weet, word nou aan Josef vertel: “uit die Heilige Gees.” Ons raak so gewoond aan hierdie stellings dat ons nog skaars in verwondering hieroor staan. Sy dra die Een wat deur die Heilige Gees verwek is in haar skoot. Met ander woorde, as jy wonder wat dit beteken, Maria was die moeder van God die Seun, deur God die Heilige Gees, van wie God die Vader die pa is. Die Heilige Gees bring weer lewe in die wêreld. Die Heilige Gees maak die Een wat nog altyd bestaan, die Tweede Persoon, tot ʼn menslike wese. Die Geloofsbelydenis van Nicea sê dat Jesus vlees geword het deur die Heilige Gees. Ware lewe. Ewige lewe. Die hemel het na die aarde gekom deur middel van ’n fetus. Dit het nog nooit in die geskiedenis van die wêreld gebeur nie en dit sal ook nooit weer gebeur nie.

Ek pleit vir verwondering. Ons moet in verwondering staan oor die vleeswording. Ons moet in verwondering staan oor die werk van die Heilige Gees. Ons moet nie net die lewensbelangrike werk van die Heilige Gees raaksien nie, maar ook dat die werk van die Gees in Jesus Christus ʼn vleeslike werk is. Die werk van die Gees is tasbaar, liggaamlik en sigbaar. Die primêre werk word nie in ʼn soort eteriese geestelike gawe gevind nie (nie dat dit nie bestaan nie), maar die primêre werk van die Gees word in die skepping en herskepping gevind. Soms kan ons dinge oor-vergeestelik, maar mens kan nooit die geboorte van ʼn baba oor-vergeestelik nie. ’n Baba wat God is! Die Gees is teenwoordig en aan die werk in die wêreld. Een van die groot dwaalleringe in die kerk is dat die goddelike net in ‘n menslike tent kom woon het, en dat Hy nooit regtig mens was nie. Amper soos ’n tronk, en daarom is die liggaamlike onbelangrik. Dit kan nie meer verkeerd wees nie.

Johannes skryf: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God.” Hoe weet jy of ‘n kerk vol van die Gees is? Wanneer Jesus in al sy hemelse goddelikheid en al sy aardse menslikheid die fokus is.

So, Josef, gaan voort en trou met haar, want jy is nie die pa nie en niemand anders op aarde is die pa nie. God is die Vader, en die Heilige Gees is die skenker van lewe.

Die engel gaan verder en sê: “en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Soos wat ons doen: ons dink altyd dat ons groter probleme as ons eie sondes het. Ons dink ons het finansiële probleme, geestelike probleme, familieprobleme. Jesus het in die eerste plek nie gekom om ons daarvan te verlos nie, al daardie dinge is ʼn neweproduk van die hoofprobleem wat ons so maklik miskyk: SONDE.

Dit is die mensdom se grootste behoefte. Ons is sondaars. Verlore, blind. Self-versoek, gevangenis van die sonde. Met geen manier om daaruit te kom nie. Die sonde is basies die onmiddellike oorsaak van alles. Die Jode het ’n verlosser verwag.

Hy sal sy mense red. Ek is mal daaroor, ‘sy mense’. Die volk, of die mense, wat aan hom behoort. Sy eie. Wie is sy volk? Wel, dit is die groot vraag in Matteüs. “Sy volk” kry ’n hele nuwe betekenis in Matteüs. Die volk wat gedink het hulle het die reg om sy volk te wees, blyk inteendeel die teenoorgestelde daarvan te wees. Die mense wat hulle gedink het geen reg het om sy volk te kan wees nie, blyk sy volk te wees.

God het gekom om te doen wat ʼn mens nie kan doen nie. Skepper het deel van sy skepping geword – so wys Hy die omvang van sy regverdigheid, liefde en genade.

Ons lees in vers 22: “En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: ‘Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem’, dit is , as dit vertaal word: ‘God met ons.’” Emmanuel. Jesus is teenwoordig. Dit is wat elke verhaal in Matteüs so merkwaardig maak. Dit is nie wat hy doen of sê nie, maar dit is hoe hy alles doen en sê wat wys na wie Hy is. God met ons. Die konteks van hierdie vers lê in die Ou Testament in ʼn profesie wat uit Jesaja 7-11 kom . As jy dit gelees het, sal dit jou verstaan hiervan soveel ryker maak. Want al word ’n seun in Jesaja 8 gebore, wys Jesaja 9-11 dat daar nog ʼn Groter Seun sal kom: “want ʼn Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee en die heerskappy is op sy skouers, en Hy word genoem Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en versterk deur reg en geregtigheid, van nou af tot in ewigheid.”

God het na die aarde gekom. Die hemel het deur die skeiding gebreek; die sluier sal geskeur word. Dit is geen wonder dat Jesus se bediening begin met: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” In die lig van sy teenwoordigheid word alles kristalhelder vir die oë wat wil sien. Sonde. Oordeel. Hardheid van hart. Die heiligheid van God, en meer. In Jesaja 7-11 is hierdie Kind beide ’n seën en ʼn teken van oordeel. Immanuel sal vir die hele wêreld wees.

God is nog steeds hier. Hy het ons nie alleen gelaat nie. Hy sê self: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Dit is woorde wat ons broodnodig in ons tyd moet hoor. In ons lewe. Hy is met ons, Hy sal ons lei. Hy sal ons beskerm. Ons hoef nie te weet wat die pad vorentoe is nie, ons moet net sy hand soos ’n klein kindjie vashou en vertrou dat sy pad die beste is.

Dit is presies wat Josef gedoen het: vertrou en gehoorsaam. “En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem; en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het hom Jesus genoem.” As vader, gee Josef Hom sy Naam. Weer eens, die punt in Matteüs is vir die vierde of die vyfde keer, Josef is die seun van Dawid, en Jesus is Josef se seun. ʼn Tweede blik op Josef se gehoorsaamheid. Selfs ’n regverdige man moet van tyd tot tyd reggehelp word. Ons kan een ding besluit, maar as God ʼn ander pad kies, maak nie saak hoe dit lyk of watter bespotting ons ook al moet verduur nie, ons moet Hom gehoorsaam.

Geliefde gemeente, die storie van Jesus het lank voor sy lewe op aarde al begin. Die storie van Jesus is die Ou Testament. Dit is vol van die Man, jy moet net kyk. Hy vervul daardie geskiedenis. Hy is die beloofde Seun van Dawid. Maar Hy is meer. Jesus is Koning. Hy is Verlosser. Hy is God met ons. Hy het gekom om ons van ons sondes te verlos. Hy eis volkome lojaliteit, gehoorsaamheid en vertroue. Soos wat ons deur hierdie boek reis, bid ek dat julle Hom al hoe meer sal sien, en sy stem oor jou lewe hoor roep sodat jy dit kan neerlê en Hom volg.

Hoor die roepstem van die koninkryk!

Hef jou oë op na die Koning!

Laat sy lied soos ’n reukoffer

in jou oprys:

van hoe ryk God se genade is -

wat in Christus gekom het om almal

wat in sy onfeilbare genade vertrou,

te verlos.

 

Koning van die hemel, ons sal antwoord op U roepstem.

Ons sal dit volg deur hoop na die wêreld te bring;

gevul met passie, gevul met krag om redding in Jesus se naam

te verkondig.

 

Hoor die roepstem van die Koninkryk:

om na die verlorenes uit te reik

met die Vader se deernis;

met die verwondering van die kruis,

om  vrede en vergifnis te bring

en ʼn hoop van dit wat nog moet kom.

Laat die nasies hulle vertroue op Hom stel!