Die Reformasie maak steeds saak!

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2017-07-09
Text: 
Galasiers 1:1-5
Preek Inhoud: 

Vandag gaan ons begin met ‘n reis deur die boek Galasiërs.  Die ou kerkvaders het meer kommentare geskryf oor Galasiërs as oor enige ander boek. Dit is al die top van die mas van die reformasie genoem, die magna carta van die vroeë kerk, die manifes van christelike vryheid, die onneembare vestingstad. Daar word genoem dat dit die geheim van die groot Reformasie was.

Luther het gesê: “Dit is my brief daardie, ek is daarmee getroud”. (Wie het nou kon dink dat Luther meer as een vrou gehad het?)

Ek kan nie aan een ander boek dink wat die heerskappy van Christus deur geloof alleen meer prys as hierdie klein briefie nie. Dus, kan daar ‘n beter manier wees om aan jou bediening ‘n stewige fondament te gee as om in Galasiërs te begin?

Die ander rede dat ek hierdie boek gekies het, is dat dit dié jaar die 500-ste herdenking van die Reformasie is – en hierdie ses hoofstukke sluit die Reformasie in.

Hierdie boek sal ons konfronteer met die evangelie, en jy sal of die opgestane Christus ontmoet, of jy sal nie. Jou hart sal verhard of saggemaak word. Maar jy sal dit nie doen nie, dit sal gebeur deur die bonatuurlike krag van die Gees. Dit is ‘n gawe van God.

My gebed met hierdie boek is dat ons dit sal deurwerk as ‘n familie, dat ons dit sal bestudeer en sal toepas op ons lewens, week na week. Dat ons saam sal bid dat God sal voortgaan om ons oë op Christus te rig, die Leidsman en Voleinder van ons geloof. Ek bid dat ons weer sal raaksien, of dalk vir die eerste keer, die diep en indrukwekkende waarhede van die Reformasie sal ontdek. Dat ons saam weer sal bevestig word in ons ryk Christelike erfenis, en dat ons uit dankbaarheid ligte sal wees wat die goeie nuus laat skyn vir die mense van Bellville en Kaapstad.

Ek het hierdie reeks preke die volgende titel gegee:

Die Reformasie maak steeds saak! Die Basis, die Inhoud, die Gevolg.

Ons sal ons vandag ‘n bietjie oriënteer en na die agtergrond en struktuur van die boek kyk.

Met ‘n paar uitsonderings kan ons die boek in drie hoofdele indeel. In hoofstuk 1 en 2 gaan ons kyk na die basis van die Reformasie, naamlik die betroubaarheid en die gesag van die Woord van God, soos uitgespreek deur mense. Dit gaan oor die eerste groot waarheid van die Reformasie: die absolute, unieke, hoogste gesag van die Skrif oor die pous, kerkrade, sinodes, klassisse, predikante, konings, koninginne, basies oor alles in die hele wêreld behalwe die drie-enige God self.

In hoofstuk 3 en 4 gaan ons kyk na die inhoud wat die Reformasie laat ontstaan het: daar gaan dit oor die tweede groot waarheid van die Reformasie: die kosbare evangelie van regverdiging deur die geloof alleen, deur genade alleen, op grond van Christus alleen, tot eer van God alleen.

Dit is die twee basiese waarhede en ek bid dat ek dit tot my laaste asem sal preek – Een is die formele beginsel (oor die gesag van dit wat ons sê) en die tweede is die materiële beginsel (wat ons sê en preek) en in die derde gedeelte vra wat daardie inhoud beteken vir ons lewe in hoofstuk 5 en 6.

Dit is waaroor hoofstuk 5 en 6 gaan – lewe wat gevind word in die werklikheid van Christus se dood en opstanding: naamlik ‘n lewe wat in Christus gevind word, deur die krag van die Gees. Want, u sien, die leer van die regverdiging uit die geloof alleen, in Cristus alleen, tot eer van God alleen, laat ons nooit alleen waar ons is nie – want die Heilige Gees kom langs ons staan en maak die werk van Christus ‘n kragtige en altyd aanwesige werklikheid in ons lewe.

Ek bid dat elkeen van julle aan die einde van die boek die boodskap van die evangelie so goed sal ken, en dat jy dit sal ken met jou hart, dat indien die kerk ooit sou afdwaal, jy kennis genoeg sal hê en vurig genoeg sal wees om moedig vir die Woord van Christus op te staan omdat jy weet dat as jy die waarheid van Christus verloor, jy alles verloor het.

Laat ons die boek bestudeer met dit in gedagte, terwyl ons daarop vertrou dat dit die woord van die almagtige God is, wat nooit leeg terugkeer nie. In hierdie preek sal ons ‘n inleiding gee vir die hele reeks preke. Ons sal na die datum van die brief kyk, dan die temas, en dan na die situasie wat Paulus aanspreek, en daarna sal ons in die eerste verse induik. Is julle reg?

Datering

As ons na die datum kyk is dit een van die eerste briewe wat Paulus ooit geskryf het, heel waarskynlik in November of Desember 48 of vroeg 49, voor die vergadering in Jerusalem. Dit mag selfs wees dat hy dit geskryf het op pad na  die vergadering in Jerusalem waarvan ons in Handelinge 15 lees!  Jy kan jou voorstel hoe hy na Jerusalem reis met die broeders waarna hy in vers 2 verwys. Sy liefde vir hierdie mense blyk uit sy verbasing en frustrasie dat hulle na ‘n ander evangelie afdwaal.  Met ‘n gebroke hart, gefrustreerd, en dalk ‘n bietjie kwaad skryf hy een van die mees hartstogtelike boeke in die Skrif.  Wie beweer dat Paulus slegs ‘n geleerde is, moet ‘n slag Galasiërs lees.

Waarom ek sê dat dit voor die vergadering in Jerusalem geskryf moes gewees het? Dit sou geen sin hê daarna nie, omdat die vergadering uitspraak gedoen het oor baie van die kwessies waaroor hy skryf. Wat dit beteken, is dat Paulus reeds 12 jaar se ondervinding het teen die tyd dat hy sy eerste brief geskryf het. Ek wonder hoeveel teoloë 12 jaar sal wag voor hulle met hulle blog begin waarin hulle al hul opinies begin lug oor die Woord van God en die teologie.

Temas

Die temas in hierdie boek kom voor in pare of teenoorgesteldes. In hierdie boek gee Paulus aan die Galasiërs en aan jou vandag ‘n aantal keuses. En jy moet of die een of die ander kies, daar is geen ander manier nie. God of die mens, Gees of vlees, vryheid of slawerny, Christus of die wet, geloof in Christus of die werke van die wet, nuwe skepping of die wêreld. Hierdie teenoorgesteldes eggo deur die hele boek Galasiërs en klink na deur die Skrif. Terwyl ander dinge wat vir die Jode belangrik was langs die pad agtergelaat word.

Besnydenis is nie meer ter sake nie, en ander dinge wat vir die destydse samelewing lewensbelangrik was, word uitgeskakel: soos Jood of Griek, manlik of vroulik, slaaf of vry. Die sleutel wat dit alles ontsluit, is die koms van Christus: in die besonder sy kruisiging en opstanding.

Christus is die hart van die evangelie; Christus is ook die hart van hierdie plofbare brief.

Noudat ons na die temas gekyk het, gaan ons nou kyk wat die situasie was wat aanleiding tot hierdie brief gegee het.

Die Situasie

Ons lees in Handelinge 13: 45 dat die Jode waaroor hy skryf hom teengestaan het uit pure afguns, en dit is waarom hulle Paulus beledig en alles weerspreek wat hy gesê het. Maar vanaf Handelinge 14 het dit al gou verander in ‘n teologiese geskilpunt en mense het begin kant kies. Hulle klink soos die Jode in Handelinge 15: 1 wat sê dat jy nie gered kan word nie, tensy jy volgens die Joodse oorlewering besny word. Dit was ‘n vorm van wettisisme. Hierdie Jode het begin argumenteer dat die boodskap nie van daardie mindere apostel Paulus kom nie, maar van die oorspronklike apostels in Jerusalem.

Paulus skryf aan hierdie kerke uit wanhoop, gefrustreerd deur die afstand van die gelowiges wat ‘n ander evangelie aanvaar het as wat hy aan hulle verkondig het. Die enigste vaste bron van inligting oor die situasie in Galasië is hierdie emosionele brief.  En baie van hulle omstandighede sal onbekend bly. Wat ons wel weet, is dat die kerke in Galasië, wat hoofsaaklik uit nie-Jode bestaan het, oorreed word om die Joodse kulturele tradisies aan te neem.

Paulus skryf teen sommige mense wat die evangelie van Christus vervals. Hulle verwar die Galasiërs en weerhou hulle om “aan die waarheid gehoorsaam te wees.”  Hierdie mense wil hê hulle moet sekere Joodse rituele ondergaan om hulle christelike ervaring te voltooi. Dit is asof ons sou sê iemand is tot ‘n mate gered, maar ons sou nie heeltemal bereid wees om hulle as broeders of susters te aanvaar nie, tensy hulle deel is van die Vrye Gereformeerde Kerke. Om werklik gered te word, moet hulle presies ons liturgie volg, net soos ons aantrek, dieselfde musiek speel, en dieselfde belydenis as ons hê. “NEE”, sê Paulus, jou identiteit word slegs in Jesus Christus en sy werk gevind, en in niks anders nie!

Hierdie brief gaan oor waar ‘n mens sy waarde vind – in jou gemeenskap of in Christus.

Wettisisme kan baie soos die christelike geloof lyk, dit kombineer die Christelike geloof net met iets anders, in hierdie geval met die Mosaiese wet as die hoogtepunt van bekering tot Christus. Dit was niks anders nie as ‘n ontkenning van die genoegsaamheid van die werk van Christus, en ‘n verdorwe verlange om iets aan sy werk toe te voeg deur werkheiligheid. Met ander woorde, die wettisisme van die Judaïste is meer as net ‘n probleem; dit het ‘n nuwe boodskap geword, ‘n ander evangelie. Dit is soos om vir ‘n bekeerde by ‘n preek van Billy Graham te sê dat hy of sy ‘n Baptis, Presbiteriaan of Gereformeerde moet word om sy verlossing te voltooi. NEE!

Die verlossing is voltooi op die oomblik dat ons ons geloof in Christus gestel het! Enigiets meer as dit en dit is nie langer ‘n onderwerping aan Christus nie, maar aan ‘n sekere groep. Sien u waarom hierdie boek so toepaslik is? Ons wil graag hê dat mense soos ons moet lyk. Ons maak hulle na ons beeld. Eerder as na die beeld van Christus.

Laat ons met dit in gedagte in die boek induik.

Outeur

Hoofstuk 1: 1 begin met: “Paulus, ‘n apostel nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het.” Daar is omtrent nie een gerespekteerde geleerde wat sal ontken dat Paulus die skrywer van die boek is nie.  Hierdie brief word eintlik gebruik as ‘n toetssteen vir Paulus se ander geskrifte. Hulle vergelyk die ander geskrifte met hierdie een om te sien of dit eg is. Ek wil hê u moet ‘n bietjie hieroor nadink – selfs geleerdes wat nie in God glo nie, glo nog steeds dat hierdie boek geskryf is deur iemand wat daarop aanspraak maak dat hy die opgestane Heer en Verlosser Jesus Christus ontmoet het. Dit beteken dat hierdie mense gedwing word om Paulus of mal of ‘n leuenaar te noem. U sien, mense moet wel die reputasie van die Skrif ondermyn sodat hulle nie na daardie woord hoef te luister nie. Dit sal ons uiteindelik nie verbaas nie, want die wortel van alle sonde is die poging om God se woord te ondermyn en verdag te maak. Het God werklik gesê …?

Dit is presies wat die mense in Paulus se dae gedoen het. In plaas van om te debatteer op teologiese gronde, het hulle probeer om sy reputasie te ondermyn. Niemand luister tog na iemand wat hulle nie vertrou of wat hulle minag nie. Hulle het hom ‘n etiket omgehang, sy reputasie as apostel vernietig.

In antwoord daarop sê Paulus: “… ek is ‘n apostel nie deur of weens mense nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.”  “Jy sien” het hy gesê “ek is nie gestuur om hierdie boodskap te verkondig deur die gemeente van Antiogië, of die mense in Jerusalem nie. Ek is gestuur as ‘n gesant deur die opgestane Heer en Koning Jesus Christus self, en God wat Hom uit die dood opgewek het.” Die apostel Paulus kom na die kerk toe, en na u toe in hierdie boek, met al die gesag en ondersteuning van die opgestane Christus wat hom neergeslaan het op weg na Damaskus. As jy daarmee wil stry, doen jy dit op eie risiko.

Die gesag waarmee hy praat was uniek vir die apostel. Hy is nie gestuur of in die amp bevestig deur ‘n kerk soos wat ek is nie.  Hy is ‘n apostel wat deur God gekies is.

Uit die staanspoor sê hy vir die kerk: Luister mooi!  Dit is Jesus Christus wat hier deur my praat!  Dit is nie my eie woorde nie!  Dit is die Woord van God wat van God af kom!

Mense sal vandag steeds sê dat Paulus die uitvinder van die Christelike geloof is. Jesus het liefde geleer, en Paulus het alles ingewikkeld gemaak deur sy teologiese strukture en Griekse denkbeelde. Sy prediking is nie regtig van God nie, sê hulle, maar prediking oor God.

Beslis nie!  sê Paulus aan die kerk van alle eeue. Moenie daardie onsin glo nie. Ek is ‘n apostel wat uitgestuur is deur Jesus en God die Vader. Ons sal in hierdie reeks preke gaan luister na iemand wat deur die Here Jesus Christus self onderrig is.

En tog, al was hy aangestel deur Jesus Christus, hy was nogtans nie ‘n alleenloper-teoloog nie – hy het gewerk en geskryf in gemeenskap. Hy was ‘n herder, maar nie ‘n herder wat op sy eie gewerk het nie, soos ons in vers 2 lees: “Paulus, ‘n apostel, nie vanweë of deur mense nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het – en al die broeders wat by my is.”

Sy gesag kom van God, en hy skryf in die gemeenskap van die geloof aan die kerke van Galasië.

Aan wie gerig?

Daar is reg deur die geskiedenis van die kerk baie gedebatteer oor aan wie die brief gerig was. Ek dink vir die boodskap van die boek maak dit nie baie saak aan wie dit gerig was nie, dus ek sal net sê dat ek glo dat daar sterk Bybelse bewyse is dat hierdie brief geskryf is aan die kerke wat Paulus besoek het op sy eerste sendingreis (Antiogië in Pisidië, Lystra, Ikonium, Derbe, sien Hand 13 – 14) Dit is die gebied wat ons nou as Turkye ken. Ons het die bewys in Handelinge 3 dat hy hierdie kerke besoek het, en dat hy weer teruggegaan het om hulle te versterk in Hand 14 : 22 – 25.

Wat sê hy vir hierdie kerke? “Genade en vrede aan julle van God ons Vader en die Here Jesus Cristus.”

Nie baie mense sien hierdie boek egter as ‘n boek van genade en vrede nie. As jy die eerste keer daardeur lees, lyk dit nie baie genadig of vreedsaam nie. Dit is omdat harde woorde soms genadig en vreedsaam is wanneer leiers ander mense buite die gebied van genade en vrede lei. Paulus dryf ons na die enigste plek waar ons genade en vrede kan vind – na Jesus Christus, en veral aan die kruis. En dit wys vir ons dat enigiets buite dit rede gee om alarm te maak. Luid en duidelik! Moenie soek na ‘n evangelie waarin Christus of die kruis nie in die middelpunt staan nie. Genade en vrede kan slegs in Christus gevind word.

Luister mooi - ek gaan eerlik wees: jy en ek is onwaardige, hulpelose sondaars. Jy doen nie net sonde nie, jy is ‘n sondaar. En daarom verdien jy die ewige dood en verdoemenis. Dit sou regverdig en dit sou eerlik wees. Kan ons dit almal van onsself sê? Kan ons dit toegee?

En nog ‘n ding: daar is net een uitweg. Die weg van die Waarheid en die lewe.

Sonder Christus is ons niks. Ons verloor alles as ons Hom verloor. As ons dit verstaan, dan sal ons die diepte van die seëning wat ons elke Sondag hoor, begin verstaan. As jy werklik uit genade leef, gaan jy werklik in ‘n nuwe lewe leef, ‘n herskape wêreld, ‘n nuwe mensheid – waar ons deur die kruis sterf vir die ou lewe en meer en meer opgewek word tot ‘n nuwe lewe. Dit is die werklikheid waarmee ons elke Sondag begin.

As ons genade verstaan, die gawe van God in Jesus Christus, dan sal dit ons vrede gee. Shalom. Totale heelheid, tevredenheid in alle omstandighede veral in lyde!

Daar is ‘n verband tussen die vlak waarin jy jou eie sonde en gebrokenheid sien en die vlak waarop jy Christus as Verlosser sien. Kyk diep in jou hart. En erken dat jy onwaardig is. Dit is juis op daardie laagtepunt dat Christus kom en sê: maar Ek is waardig. Ek is kragtig. Ek is volmaak. Laat Ek in jou plek sterf. Genade. Genade vir jou. Christus vir jou.

Genade en vrede vir julle! Vrede was die eerste woord wat die dissipels uit die mond van Jesus gehoor het!  Shalom! In die tyd van die opgestane Koning, geliefde gemeente, leef julle in die tyd van die genade en vrede!  Ek moet erken dat dit so moeilik is om hierdie geweldige verstommende werklikheid van genade en vrede te verklaar – Ek bid dat die Heilige Gees dit aan elkeen in hierdie gebou in die hart mag openbaar.

Waar kom hierdie genade en vrede vandaan?  Weer eens, dit kom deur Jesus Christus wat Homself oorgegee het vir ons sondes om ons te red uit hierdie bose geslag, volgens die wil van ons God en Vader. Jy sien, Christus verlos ons nie net van die sonde nie, maar plaas ons in ‘n nuwe werklikheid. Ons tyd is ‘n tyd van korrupsie, verderf en dood. Dit word oorheers deur die kwaad van oorlog, moord, verdrukking, slawerny, bloedskande en aborsie. Kerk van Kaapstad, julle behoort nie by daardie werklikheid, tot daardie wêreld nie, julle is gered deur die kruis. Deur die kruis het Jesus die wêreld van die duisternis binnegeval en julle daar uitgehaal!  Julle is sy oorwinningsbuit!  In Christus is die werklikheid dat ons nie meer onder die mag van die kwaad leef nie. Ons het reeds begin leef in die nuwe tydperk. Dit is ‘n waarheid wat nog ten volle werlikheid moet word, maar dit is nogtans waar!

Op hierdie punt in die brief is daar nog niks wat ons gedoen het nie, Paulus is net besig om te vertel wat God gedoen het in die geskiedenis. Hy het dit gedoen! Hy het dit alles gedoen! Sien u hoe mooi dit is! Hy het dit gedoen. Waarom? Eenvoudig om sy eer. Hy het dit gedoen sodat Hy alle eer ontvang. Sy heerlikheid is letterlik tot in alle ewigheid, wat in teenstelling met hierdie tyd, nooit sal ophou nie.

Jesus Christus – Hy is alles of niks. Hy kan nie sommer net iets wees nie.

Hierdie generasie moet net soos alle generasies herinner word aan die genoegsaamheid van die voldoening van Christus vir die hele mensheid.

Galasiërs blaas ‘n wekroep vir ‘n lewende gemeenskap met Christus eerder as net godsdienstige rituele, vir algehele vertroue in die Verlosser eerder as selfvertroue, vir onderwerping aan die lewende Christus eerder as onderwerping aan leerstellings, en vir ‘n lewe bekwaam gemaak deur die Gees eerder as een wat  gereël word deur wettiese rituele.

Is julle reg vir die reis, gemeente?

Die reis van groei in Christus deur sy Woord, tot sy eer?

Ek hoop so, want dit is ‘n ewige reis van lewe in Christus.

Amen.