Die Evangelie is nie na die mens nie, maar geopenbaar deur Jesus Christus

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2017-07-30
Text: 
Galasiërs 1: 9 - 24
Preek Inhoud: 

Christenskap is 'n unieke geskiedkundige geloof. In Jesus Christus het God regtig na dieselfde aarde toegekom as waarop jy nou lewe. Hy het regtig gesterf, het waarlik fisies opgestaan en mense kon hom selfs sien opvaar na die hemel. Ook vandag is Paulus se verhaal net so werklik geskiedenis as dit wat jy gister gedoen het. Die Bybel se gesag is gegrond op geskiedkundige feite. Paulus sê hier: “Wat ek sê het gesag as gevolg van sekere onmiskenbare feite in my verlede.” Die bron van my gesag is Goddelik, wat homself openbaar in die Geskiedenis. Die Bybel is onfeilbaar omdat dit van God kom. Dit is Paulus se stelling: Die Woord wat ek verkondig, het die hoogste gesag en het nie ondersteuning van mense nodig nie.

Die argument vir hierdie gedeelte kan opgesom word in vers 11 en 12 waar hy sy stelling uitlê in drie negatiewes en een positiewe. Vers 11 en 12 “Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus”. Met ander woorde: “My evangelie (en my prediking) is nie van menslike aard nie en is nie gelei deur menslike redes en ambisies nie.” Dit is nie van hierdie wêreld nie, maar reg vanuit die hemel. Van Jesus Christus self wie se geskiedkundige lewe, dood en opstanding ons vandag nog vier.

 Die rede vir hierdie gedeelte is omdat die Galasiese leraars besig was om Paulus se karakter aan te val. Hulle sê hy het nie regtig gesag nie. As jy nie die persoon respekteer nie, sal jy ook nie respekteer wat hy sê nie. Geleerdes wil selfs vandag nog Paulus in ‘n swak lig stel sodat hulle nie hoef te luister nie. Hulle sê dat Paulus Christenskap uitgedink het. HY was slim. Hy het teologiese verdrae geskryf om die beweging te vestig en aanhangers te kry. Maar hier sê Paulus: “Nee, dis alles leuens. Ek het dit nie opgemaak nie. My boodskap, my evangelie kom direk van die opgestane Heer self. Dis asof Jesus Christus self praat! Ek het niks daarmee te doen gehad nie! Laat ek my lewensverhaal vertel om dit aan julle te bewys.”

In verse 13-14 sê Paulus: “Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodendom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het; en dat ek in die Jodendom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.” Ek was ‘n vervolger van God se kerk. Ek wou dit van die aarde af verdelg, glo my! Dit was nie my plan om ‘n apostel te wees nie. Die weg waarop ek op pad was het my nie voorberei om die kerk te dien nie; dit het direk teen die kerk van Jesus Christus ingegaan! Ek het geskiedenis, gemeenskap, etnisiteit en morele uitnemendheid belangrik gevind. Ek het waarde gevind in wat ek gedoen het, nie wat God gedoen het nie.

My plan was om ‘n navolger van Judaisme te bly, God se kinders te vermoor, die kerk te verwoes en ywerig aan die tradisies van my voorvaders vas te hou. Niks en niemand gaan in my pad staan in wat ek glo ‘n Godgegewe reg is vir God se verbondsvolk nie. Enige iets wat ‘n gevaar inhou vir die Joodse geloof moes verdelg word. Sien jy hoe Paulus gedink het? Ek was nie vir Jesus nie. Ek was vir Judaisme. Ek was my leeftydsgenote ver vooruit.

En dan vers 15: Maar ons het God! Jy sien die verskil. Ek het dit gedoen, ek het hier vordering gemaak, ek was regverdig wanneer dit kom by die wet. Besig om Christene te vervolg. MAAR GOD! God verskyn in die prentjie en alles verander. Slegs goddelike inmenging kan Paulus op ‘n ander weg plaas. Nou is ek nie meer die onderwerp nie, maar God. Wanneer God in die prentjie kom, raak alles wat jy voorheen gedink het SO belangrik was, skielik nie meer so belangrik nie. MAAR GOD! Wat het hy gedoen? Vers 15 “Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie.” “Voordat enige van die ander apostels apostels geword het, het God my gekies,” sê Paulus. God se opdrag vir die heidene (ek en jy) deur Paulus was nie ‘n nagedagte nie. God het nie na die 12 apostels gekyk en gedink: “Dit werk nie.” Dat Paulus ‘n apostel was, was nie plan B nie, dit was plan A. Hy het my vanaf geboorte afgesonder, reeds voor geboorte al. Eers het Hy my toegelaat om sy kinders te vermoor, tien jaar lank, en toe, – die Damaskus voorval! Jesus, die koning, tree op.

Hier het alles verander het. Hy was in een rigting op pad, maar God stuur hom in ‘n ander. Dit is waar hy op ‘n nuwe pad geplaas is. ‘n Prediker van die heidene, besig om God se genade te verkondig vir alle nasies onder die son. Dit is die reis van genade. ‘n Verhaal oor die ingryping van God.

Christus is geopenbaar in hom op die pad na Damaskus. Jy sal opmerk dat daar nie staan aan hom nie, maar in hom. Dit het deur sy hele hart gegaan, sy siel verander. God het in sy hart geskyn om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Christus (2 Kor. 4:6). Paulus moes erken, “As u iets is, dan is u alles, Here.” Paulus se godsdiens was VERBY: Al sy navolging, al sy sukses, sy uitstekende stamboom. Drek! Drek, in vergelyking met Christus. Hy het Christus ontmoet en gaan die wêreld vertel van hom. Hy gaan nie na Jerusalem om die ander apostels te gaan sien en bevestiging te soek nie! Hy is alreeds gesalf as ‘n apostel vir die heidene en hy gaan nie langer tyd mors om te kan begin werk nie! Hy het dadelik na Arabië gegaan en later teruggekeer na Damaskus.

Vers 17 sê: “En ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek en weer teruggekom na Damaskus.” Sy opdrag het nie van Jerusalem af gekom nie, maar van Christus. Sy opdrag was nie die Jode nie, maar die heidene. Waarom was dit vir hom nodig om na Jerusalem te gaan? Niemand het die evangelie met Paulus gedeel nie. Niemand het hom ‘n soort traktaatjie oorhandig nie. Niemand het vir hom die evangelie verkondig nie. Niemand het die weg van saligheid vir hom verduidelik nie. Daar was niks wat hy nodig gehad het om dubbelseker te maak nie. Hy kon dadelik begin met sy werk. Hy het die Christus gesien en het die spesifieke opdrag ontvang om na mense soos ek en jy te gaan – heidene.

God se genade word oor alle mense uitgestort! Nie net in Jerusalem nie, maar tot aan die eindes van die aarde! Die evangelie is vir my, vir jou! Jesus Christus het die weg na die heidene oopgemaak, nie deur die gesag van Jerusalem se kerk nie, maar deur sy eie gesag. Dit is hoekom hy ons in vers 18 presies vertel wanneer hy na Jerusalem gegaan het, net sodat mense kan weet dat die kerk van Jerusalem hom nie gestuur het nie.

Ons lees daar in vers 18-19: “Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom te bly; en ek het niemand anders gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.” Hy wou net kennis maak, sy hand skud, hom leer ken. Die punt is, hy het net ‘n kort tydjie gebly. Twee weke.

Sy afsondering van die kerk in Jerusalem is so belangrik vir die kerk om te verstaan, dat hy ‘n eed sweer in vers 20, “En wat ek julle skryf – voor die aangesig van God, ek lieg nie!” Partykeer hang daar leuens en onwaarhede oor ‘n dienaar van God se kop soos in die geval van Paulus, sodat mense nie meer na die boodskap luister nie, net vanweë die persoon. Dit plaas die Evangelie op die spel, omdat Paulus se naam op die spel is. Hy wou doodseker maak, dat wat hy skryf, sy lewensverhaal, nie as leuen afgemaak word nie. Dit is geskiedenis! My verhaal! God is getuie. So jy ignoreer my apostelskap op eie risiko.

Geagte kerk, hierdie woorde is waar. Geskiedkundig waar. Alles wat Paulus sê, is verewig met ‘n gelofte voor die troon van die almagtige God. Dit is waar. As dit waar is, dan is Paulus ‘n apostel. As hy ‘n apostel is, is sy boodskap onfeilbaar omdat die lewende Gees van Christus deur hom praat. As dit waar is, dan is dit wat hy duidelik maak in sy skrywe God se eie, eie woorde! Ignoreer dit, en jy ignoreer God. Luister daarna, en jy luister na God. Dit is die punt wat Paulus wil maak. Sy boodskap kom van Christus, nie van die Jode nie.

Inteendeel, nadat hy Sirië en Cilicië toe gegaan het, lees ons in vers 22, “en ek was persoonlik onbekend by die Christelike gemeentes van Judéa.” Dit lyk of hy sy werk, om apostel te wees vir die heidene, nogal ernstig opneem. Waar hy voorheen amper al sy tyd deurgebring het met die Jode, kom hy nou amper nie meer daar nie. So min, dat hulle hom nie eers persoonlik ken nie.

En nogtans! Nogtans! Hulle hoor hom preek! Vers 23-24: Hulle het net gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei. En hulle het God verheerlik in my.” Die kerk van Jesus Christus verbly en prys God wanneer hulle die evangelie hoor! Dit is een van die wonderlikste dinge om te hoor van mense wat suksesvol die evangelie versprei. Ons kan slegs God dank as ons hoor hoe die Evangelie deur sy kragtige werk soos ‘n veldbrand versprei deur hierdie wonderlike Afrika kontinent en deur Asië.

As ‘n Christen is dit moeilik om vandag God nie te prys en te verheerlik vanweë Paulus nie. Hy is, per slot van sake, deur die genade van God, die rede hoekom ons heidene almal hier sit vandag. Nie net vanweë sy werk tweeduisend jaar gelede nie, maar sy werk het vandag nog steeds krag – omdat sy woorde die woorde van Jesus Christus is!

Ons sit vandag hier omdat God hierdie man gebruik het. Ons is heidene en as Paulus se verhaal nie waar is nie, dan is ons nog steeds onder die wet – dan is die valse leraars reg. Maar as Paulus se verhaal waar is, dan is dit die egte lewensverhaal van ons begin, die ontstaan van die heidense kerk. Ons is heidene. Ons is anders. Ons is eens nie die kinders van God genoem nie. Danksy God mag ons nou kinders van God genoem word. Wanneer jy dit besef, is daar skielik nie meer ‘n taalgaping, kulturele gaping, landsgrens wat ons nie sal oorsteek om mense uit te nooi om saam met ons deel te neem aan Jesus Christus nie.

Geliefdes, wanneer ons netnou aan die tafel gaan, neem ons deel aan hierdie verhaal. Die verhaal van kerkbou van Jesus Christus. Ons kom elkeen met ons eie lewenservaring verenig as een in Jesus Christus. Ons gedenk dat hy dit alles moontlik gemaak het aan die kruis. Eendag sal ons vir ewig sy werk vier as mense in ‘n nuwe skepping. Paulus se hoofstuk was die begin van die heidenkerk en die laaste hoofstuk moet nog geskryf word. Vandag is die dag om deel te word van daardie verhaal. Om deel te raak van ‘n nuwe verenigde mensdom, nie gegrond op etnisiteit, taal of geskiedenis nie – maar gegrond op die diepgaande eenheid van Christus. ‘n Ware lewensverhaal wat verder reik as die ouderdom, wat reik tot in ewigheid. Laat ons dit vandag vier wanneer ons aan hierdie tafel gemeenskap het met Jesus Christus.

Amen.