Die hart van die koning is in die hand van die Here

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-06-19
Text: 
Spreuke 21:1
Reference: 
Leer en laat leer 8
Preek Inhoud: 

Broers en susters, jonk en oud,

“Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die Here” – só lees ons in Spreuke 16:1. En enkele verse later, in vers 9, lees ons iets soortgelyks: “Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die Here rig sy voetstappe.” Nogmaals in hoofstuk 19:21: “Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die Here, dié sal bestaan.” En weer in hoofstuk 20:24: “Die voetstappe van ‘n man hang van die Here af...” Oor en oor beklemtoon die Spreukedigter hierdie beginsel – ons mense kan beplan en bedink en oorweeg, maar uiteindelik bepaal die Here wat daar in ons lewens gebeur – en hoe ervaar ons dit nie dikwels nie!

Maar... in dieselfde hoofstukke lees ons iets wat ons laat wonder of daar nie ‘n uitsondering op hierdie reël is nie. Luister na hoofstuk 16:14: “Die grimmigheid van die koning is soos boodskappers van die dood…” Hoofstuk 19:12: “Die grimmigheid van ‘n koning is soos die gebrom van ‘n jong leeu, maar sy welgevalle is soos dou op die plante.” En hoofstuk 20:2: “die dreiging van die koning is soos die gebrom van ‘n jong leeu; wie hom vertoorn, verbeur sy lewe.” Hierdie verse skep die indruk dat die konings, die grotes van hierdie wêreld – net soos die leeu, die koning van die diereryk – niemand bo hulle het nie; dat gewone mense uitverkoop is aan hulle grille en giere; dat hulle kan doen net wat hulle wil.

En dit is ‘n gevoel wat bevestig word deur wat ons in die praktyk waarneem. Vladimir Poetin stuur sy troepe in Oekraïne in, en daar is niemand wat hom keer nie – en elke gewone Russiese burger wat durf om te protesteer, word gearresteer en in die tronk gegooi. Boris Johnson maak Covid-reëls vir die Britse volk, maar self steur hy hom nie daaraan nie; links en regs hou hy partytjie. En ons eie politieke landskap in Suid-Afrika lê besaai met voorbeelde van leiers wat reken dat die wet eenvoudig nie vir hulle geld nie... en wat skynbaar daarmee wegkom: na so baie jare van plundery en selfverryking – wat vir almal duidelik is! – is Jacob Zuma steeds op vrye voet; wat die hof ook al sê en verbied, Julius Malema sing steeds sy liedjie “vermoor die boere”; en tien teen een gaan president Ramaphosa wegkom met die duistere saak van die gesteelde $4 miljoen.

Kom ons wees eerlik, is daar nie maar uiteindelik twee stelle reëls in hierdie wêreld nie? Een wat geld vir die gewone man, en een wat geld vir die konings en die presidente? Ons teks vanmôre wil ons help om hieroor na te dink...

Tema: Die koning se hart is in die hand van die Here...

  1. God rig die waterstrome oppad na die koms van die groot Koning
  2. Wie is dan tog dié Koning?
  3. God rig die waterstrome vanaf die groot Koning na sy volmaakte Koninkryk

 

1. Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome – so lui Spreuke 21:1. Soos waterstrome – wat word presies hiermee bedoel? Wel, die vertaling is ‘waterstrome’ – en dit is nie verkeerd nie – maar iets soos ‘waterkanale’ (of net ‘kanale’) sou waarskynlik duideliker gewees het. Waterstrome skep die indruk dat dit hier gaan oor natuurlike riviere. Maar in die droë Palestina was daar nie baie hiervan nie. En dié wat daar wel was, is dikwels deur middel van ‘n sisteem van kanale herlei om die droeër gebiede te bevogtig en te besproei. Ons vind iets soortgelyks in die droë Namakwaland, waar die Olifantsrivier Besproeiingskema water verskaf aan boere, huishoudings en industrieë van daardie omgewing. En dís eintlik waarna die Spreukedigter hier verwys. Hierdie sisteem van kanale het water vanaf standhoudende riviere of bronne in verskillende rigtings na droeër dele gelei. En hierdie sisteem van kanale was eintlik baie eenvoudig om te beheer. Sonder moeite kon jy een kanaal toemaak en ‘n ander een oopmaak, sodat die water in ‘n ander rigting sou vloei. Hierdie sisteem van kanale kon dus baie maklik beheer word om die vloei en rigting van die water te bepaal. Nou, dít is die beeld wat in vers 1 gebruik word: die koning se hart (sy diepste besluitnemingsentrum) is soos ‘n kanaal – en die Here kan, as Hy dit wil en so besluit, daardie hart baie maklik in ‘n ander rigting laat gaan. Soos ons teks sê: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil” (Spr. 21:1).

 

Nou, die beginsel klink baie mooi, maar werk dit ook so in die praktyk? Doen die Here dit werklik? Die optredes van die Poetins en die Johnsons en die Zumas en die Ramaphosas van hierdie wêreld laat ons soms twyfel, nie waar nie? Dit lyk asof hierdie waterstrome vloei net waarheen hulle wil! Kom ons toets daarom in die eerste punt hierdie beginsel, wat die Spreukedigter vir ons gee, deur te kyk óf en hóé die Here in die Ou Testament – wat die konteks vir ons teks vorm! – werklik die harte van die konings gelei het, en waarop dit uitgeloop het. Dus, eintlik wil ek eeue se Ou Testamentiese kanale ‘n bietjie volg, sodat ons kan sien waarheen die water stroom. Die koning se hart is in die hand van die Here – kan ons dit aantoon?

* Ek begin met die hart van Farao, een van die eerste konings wat ons in die Skrif teëkom – wat weet ons van hierdie Egiptiese koning se hart en hoe die Here dit gelei het? Wel, ons weet vanuit Handelinge 7:10 dat die Here sy hart gelei het sodat hy Josef gunstig gesind was en hom onderkoning oor Egipte gemaak het. Dus, die Here laat die hart van die Farao in ‘n sekere kanaal vloei, sodat sy volk in ‘n tyd van groot hongersnood nie sou omkom nie, maar ‘n plek sou vind om te woon en kos om te eet. * Met ‘n latere Farao sou dit presies andersom verloop: sy hart sou juis deur die Here verhard word – dis weer ‘n heel ander kanaal waarin hierdie latere Farao se hart gelei word. Met die doel, volgens Exodus 14:4, dat die Here se heerlikheid vir almal sigbaar sou wees, en sodat sy volk uiteindelik uit Egipte kan trek na die Beloofde Land. * Ons spring ‘n  bietjie verder in die geskiedenis, en daar kom ons koning Agab teë, koning van die tienstammeryk – en gaan lees maar in 2 Kronieke 18:18-22 hoe die Here ‘n leuengees in Agab se profete gestuur het. Hoekom? Want die Here wou Agab verlei tot ‘n militêre veldtog wat uiteindelik tot sy dood sou lei. Die goddelose koning Agab se hart was volledig in die hand van die Here... tot sy eie ondergang! * Nie te lank daarna nie kom ons Tiglat-Pileser, die Assiriese koning, teë. Van hom lees ons in Jesaja 10:6 dat dit die Hére was, wat hom gestuur het om Israel vanweë hulle sondes te gaan straf: “om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ‘n vertrapping te maak soos modder van die strate.” Maar baie interessant, net in die volgende vers (vers 7) lees ons dat Tiglat-Pileser se eie motiewe anders was: “hy bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie...” – en tog lei die Here die water van Tiglat-Pileser se hart langs hierdie kanaal sodat doel uitgevoer word. * Nog later in die geskiedenis, aan die einde van die Babiloniese ballingskap waarin God sy volk laat gaan het, lees ons van koning Kores – Kores, wie se hart deur Gód gelei word om die volk na hulle land te laat terugkeer: “En in die eerste jaar van Kores het die Here ... die gees van Kores opgewek, dat hy ‘n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het om te sê: So sê Kores: Enigeen onder julle wat aan die Here se volk behoort – mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem ... en die huis van die Here bou” (Esra 1:1-3). * En wat van die Persiese koning, Artasasta, ‘n man bekend vir sy wreedheid en wispelturigheid. Maar die Here neig sy hart om Esra goedgesind te wees: “Deur my, koning Artasasta, is bevel gegee ... dat alles wat Esra, die priester, ... van julle vra, sorgvuldig gedoen moet word...” (Esra 7:21). * En dieselfde gebeur daarna met Nehemia, wanneer hy vir koning Artasasta om hout vra om die poorte en die mure van Jerusalem te herbou: “En die koning het my dit toegestaan volgens die goeie hand van my God oor my” (Neh. 2:8) – God se hand rig Artasasta se hart om hout te verskaf sodat Jerusalem herbou kan word! * En nog later sien ons dat die Here keiser Augustus lei om ‘n volkstelling te laat uitskryf, sodat vervul sou word wat deur die profeet Miga gespreek is, naamlik dat die Messias in Betlehem gebore sou word (Miga 5:1, Mt. 2:6).

 

Sien u, broers en susters, hoe die Here al hierdie koningsharte dwarsdeur die Ou Testamentiese geskiedenis (en ons sou nog baie meer kon noem) deur kanale laat vloei het – hulle het dit waarskynlik nie eens besef nie, hulle het waarskynlik gedink dat hulle besig was om hul eie harte te volg. Maar die Here was besig om hulle deur sy kanale te laat vloei; Hy was besig om gaandeweg die dor en droë landskap van die geskiedenis voor te berei, vrugbaar te maak. Waarvoor? Wel, wanneer ons al hierdie kanale – soos wat hulle kruis en dwars deur die geskiedenis vloei – na hulle eindpunt toe volg, dan beland ons uiteindelik saam met die wyse manne in Betlehem, waar ons saam met hulle hulde bring aan die Koning van die Jode. En as ons die kanale nog ‘n entjie verder volg, dan kom ons in Jerusalem aan, op Golgota, waar die Romeinse stadhouer, Pilatus, se hart so in God se hand is, dat hy op die bordjie bo die kruis skryf: “Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode”, ook al het die Jode hierteen beswaar aangeteken (Joh. 19:19-22). God het die harte van al die konings van die Ou Testamentiese periode – binne die volk Israel, maar ook buite die volk Israel – gelei; almal van hulle het hulle eie, unieke rol gespeel om ons te bring by die geboorte, die lewe en die sterwe van die groot Koning! Al die kanale stroom uiteindelik na Betlehem, na Jerusalem, na Jesus Christus, die groot Koning! Die hele Ou Testament, waarbinne die Spreukeboek sy plek het, bevestig daarom die wysheid van ons teks: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil” (Spr. 21:1) – na die groot Koning!

In ons derde punt gaan ons sien hoe die kanale van die groot Koning af weer verder vloei na sy volmaakte Koninkryk, ook via ons tyd. Maar kom ons staan nou net vir ‘n oomblik stil by die vraag: wie is tog hierdie Koning? Dit is ons tweede gedagte...

 

2. Alle kanale lei uiteindelik na Bethlehem en Jerusalem; alle koningsharte word deur God gelei om saam te werk aan die koms van die groot Koning. Maar wie is hierdie groot Koning eintlik? En wat maak van Hom die groot Koning? Wel, in alles voldoen Hy aan die koningskap wat deur die Spreukeboek vir ons geskets word. Onthou, die Spreukeboek is ‘n koningsboek, primêr geskryf deur ‘n koning (Salomo), met die doel om toekomstige heersers toe te rus. Natuurlik is dit nie die Spreukeboek se eerste doel om vir ons ‘n prentjie van ons groot Koning, Jesus Christus, te skets nie. Nee, Spreuke wys baie konkreet vir ons hoe ‘n goeie koning, ‘n goeie heerser, in hierdie wêreld behoort te regeer. Maar wanneer ons hierdie prentjie bo-oor die boeke Samuel, Konings en Kronieke sit, en die konings van Juda en Israel daaraan toets, dan moet ons erken: elkeen van daardie konings faal liederlik, niemand voldoen hieraan nie! En daarom is die prentjie ook ‘n hunkering, ‘n verlange. Kom ons kyk baie vinnig hoe lyk hierdie prentjie wat Spreuke vir ons skets...

 

‘n Goeie koning besit raad, en beleid, en insig, en sterkte – dít waarvan die Wysheid in hoofstuk 8:14 praat. ‘n Goeie koning regeer sy koninkryk met wysheid. Hy weet wat goed is vir die burgers van sy ryk, en hy het ook die sterkte (die mag) om dit tot uitvoering te bring.

‘n Goeie koning is regverdig – Spreuke 16:10: “Die beslissing is op die lippe van die koning; in die regspraak handel sy mond nie ontrou nie.” Dit beteken dat hy hom nie deur partydigheid of wins laat aflei van dit wat reg is nie.  

‘n Goeie koning het integriteit – Spreuke 16:11: “’n regte weegtoestel en weegskaal kom van die Here, al die weegstene in die sak is sy werk.” Onthou, dit was die koning se werk om die standaard gewig in die land vas te stel, en dit was sy werk om deur middel van inspekteurs toe te sien dat dit nagekom word. As hy daarom regverdig is, soos vers 10 sê, dan moet hy toesien dat dit ook in die alledaagse bedrywighede en handeldryf tot uiting kom.

‘n Goeie koning is moreel – Spreuke 16:12: “Dit is ‘n gruwel vir konings om goddeloosheid te doen, want deur geregtigheid word die troon bevestig.” Goeie konings laat hulle nie in met goddelose dade nie, hou hulle nie op met korrupsie of politieke magspeletjies nie. Nee, die goeie koning doen wat reg is.

‘n Goeie koning soek na waarheid – Spreuke 16:13: “Die konings het behae in regverdige lippe, en hulle het hom lief wat regte dinge spreek.” Om goeie besluite vir sy koninkryk te kan maak, het die goeie koning die feite nodig. En daarom omring hy homself nie met leuenagtige raadsmanne nie. Nee, hy soek akkurate rapporte en eerlike opinies van mense wat hy kan vertrou.

En ten slotte, ‘n goeie koning besit mag – Spreuke 16:14-15: “Die grimmigheid van die koning is soos boodskappers van die dood... In die vriendelike blik van die koning is lewe...” Hy besit die mag om die goeie te kan uitvoer, en die kwade te kan keer.

 

Spreuke bied hier vir ons baie konkrete, praktiese wysheid – waarna moet ons kyk om ‘n goeie leier te kan uitken? Wat moet ons oorweeg wanneer ons ons leiers kies? Maar nogmaals, gemeente, hierdie prentjie pas nie volmaak by enige aardse koning nie – selfs goeie konings soos Dawid, Hiskia en Josia voldoen nie aan hierdie prentjie nie. Nee, ons groot Koning, Hy na wie alle kanale in die Ou Testament gevloei het, Hy is die Een. Hy is die Een op wie die Gees van die Here rus: die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here, soos wat Jesaja profeteer (Jes. 11:2). Hy is die volmaakte Koning wat gekom het om sy Koninkryk hier op aarde te kom vestig. En as burgers van sy Koninkryk het ons alle belang daarby om te weet: geld ons teks ook vandag nog? Word die konings en die wêreldheersers se harte ook vandag nog soos kanale gelei? Kan die Poetins en die Zumas en die Ramaphosas van ons dag doen wat hulle wil, of is hulle harte in hand?

Kom ons kyk hierna in ons laaste gedagte: die kanale lei na hierdie Koning se volmaakte Koninkryk.

 

3. Gemeente, met die koms van ons Here, Jesus Christus, het die koninkryk van die hemele naby gekom – so getuig die evangelies (Mt. 3:17, 4:2). En met die hemelvaart het Christus sy plek op die troon ingeneem as die Koning van hierdie hemelse koninkryk. Maar wat weet ons van die vloei van die kanale van hierdie punt af verder? Is, noudat Christus op die troon in die hemel sit, die harte van die konings in hulle eie hande om te doen wat hulle self wil doen? Wel, wat sou u sê van Herodes – die koning wat Jakobus laat doodmaak en Petrus in die gevangenis gegooi het, maar wat deur wurms verteer word en sterf “omdat hy die eer nie aan God gegee het nie” (Hand. 12:23)? En wat sou u sê van die owerhede van Filippi, wat Paulus en Silas eers met stokke geslaan en in die gevangenis gegooi het, maar wat hulle daarna kom smeek om asseblief net die stad te verlaat (Hand. 16:39)? En hoe dink u het dit gekom dat die keiser van die Romeinse Ryk, daardie magtige en onvoorspelbare man, Paulus toegelaat het om vir twee jaar lank in sy eie gehuurde huis te bly en die evangelie te verkondig (Hand. 28)? En hoe het dit gebeur dat keiser Konstantyn in die begin van die vierde eeu ‘n Christen geword en, na eeue van vervolging, aan die kerk vryheid in die ryk gegee het? En wat het gemaak dat koning Henri VIII van Engeland, ‘n stoere Rooms-katoliek, die Protestantisme in sy ryk nie teengegaan het nie, maar eerder bevorder het? En hoe was dit moontlik dat Josef Stalin, ‘n kommunis en aarts-ateïs, in die 1940’s aan die kerke in die Sovjet-Unie ruimte gegee het om te vergader, om teologiese opleiding aan te bied, om kerkgeboue te herstel? Gemeente, in die Ou Testament het al die kanale gevloei na die koms van die groot Koning. Maar vanaf die koms van daardie Koning is dit nie anders nie – die kanale vloei nog steeds onder sy beheer, nou oppad na die volmaakte voltooiing van sy Koninkryk!

 

En dit moet ons anders laat kyk na die gesagsdraers van ons tyd – na die konings, na die presidente, na die politieke leiers. Ons kyk dikwels na hulle as mense wat bo die wet verhewe is; hulle kan maak en breek soos wat hulle wil. En dit maak ons sinies in die manier hoe ons oor hulle praat. En dit maak ons bevrees oor wat hulle ons kan aandoen. En dit maak ons negatief oor die toekoms van ons kinders in hierdie land. En dit maak dat ons as kerk dikwels sê: “Wel, doen julle wat julle wil (verkieslik in die ‘townships’), los ons net dat ons in ons middelklas-woonbuurte kan doen wat ons wil.” Maar dink u ons land se geskiedenis het vanself gekom waar dit vandag is? Of was dit dalk FW de Klerk wat die land uitverkoop het, soos wat baie Afrikaners dink? Dink u nie dat sy hart in die Here se hand was toe hy op 2 Februarie 1990 sy bekende toespraak by die opening van die parlement gehou het nie? En wat dink u – was Jacob Zuma se hart in die hande van die Guptas, of in die hand van die Here? En wat van Poetin se hart – was dit in die hand van die Here toe hy op 24 Februarie besluit het om Oekraïne binne te val? En daarmee ontneem ek geeneen van hierdie wêreldleiers hulle persoonlike verantwoordelikheid nie. Elkeen van hulle sal voor die Here verantwoording moet doen. Die profete wys dit telkemale vir ons: Assirië, Babilonië, Persië – instrumente in God se hand, maar daarmee nie van persoonlike verantwoordelikheid onthef nie. So is dit vandag nog steeds... Maar daar is ‘n dieper vraag vir ons as gelowiges: glo ons dat die wêreldleiers se harte in die hand van die Here is, en dat Hy die geskiedenis lei, soos waterkanale, oppad na sy volmaakte Koninkryk?

 

Ons braaivleis-praatjies getuig dikwels van iets anders, nie waar nie? Ons braaivleis-praatjies getuig dikwels van sinisme, van vrees, van negatiwiteit – en nie van geloof nie. En sonder geloof kan ons nie bid nie, broers en susters. Sonder geloof kan ons nie gehoor gee aan Paulus se oproep in 1 Timotheus 2:1 en 2 nie: “Ek vermaan dan dat smekinge, gebede, voorbedes, dankseggings gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is...” En sonder geloof kan ons nie gehoor gee aan sy oproep in Titus 3:1 nie: “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk.” En dink jy Paulus se owerheid was silwerskoon? Alles behalwe, Paulus het die kranksinnige Nero as sy owerheid gehad! Nero, wat Christene as fakkels in sy tuinpartytjies gebruik het! En tog roep Paulus op: bid vir hulle, wees gehoorsaam aan hulle! Want Paulus het Christus as sy Koning geken – Hy het geweet dat Christus waardig is om die boekrol van die geskiedenis oop te maak en sy seëls te verbreek – en so die kanale te lei na die voltooiing van sy Koninkryk! En ons moet elke keer weer daaraan herinner word: die leiers in ons land word deur God bestuur. Ook die negatiewe dinge, ook die afbrekende dinge, ook die dinge wat ons rustige middelklas-bestaan omkrap – die onteiening van grond, die beurtkrag, die swak munisipale dienste, die ras-beheptheid van ons regering, die BEE – al die kanale vloei presies soos Christus dit beheer. Oppad na die voltooiing van sy Koninkryk! Gaan staan gelowig in daardie stroom – bid vir die regering, getuig van sy heerskappy, en wees dankbaar om burger van sy Koninkryk te wees.

Amen

 

Liturgie: 

Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Amen.

Sing Ps. 72:1 en 6

Wetslesing

Sing Ps. 26:5-7

Gebed

Lees:   Spreuke 8:1-21

            Spreuke 16:10-15

Sing Ps. 93

Teks: Spreuke 21:1

Preek

Amenlied Ps. 20:5-7

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 72:8-10

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen