Jesus Christus regeer vanuit die hemel

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2022-05-26
Text: 
Handelinge 1:9
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 1:9

 

Ons lewe in die digitale tydperk.

‘n Gevolg daarvan is dat ons gemonitor word,  orals waar ons gaan, en ook wat betref byna alles wat ons doen.

Dit het sy voordele.

Dit is deesdae veel makliker om te bepaal of iemand die waarheid praat of nie.

Byvoorbeeld, as iemand ‘n ander persoon vermoor het, en hy ontken dit, dan kan sy selfoon byvoorbeeld bewys dat hy op die toneel was die oomblik toe die moord plaasgevind het.

Maar die feit dat ons deesdae orals gevolg word, het ook sy nadele.

Google, Microsoft en Meta weet amper alles van ons af, waar ons heengaan, wat ons koop, wat ons belangstellings is.

Die bedoeling is om ons daarmee te help, maar wat as al hierdie inligting in verkeerde hande beland?

Google, Microsoft en Meta is gevestig in Amerika, waar daar streng reëls is met betrekking tot privaatheid van inligting.

Maar dit geld nie vir ‘n land soos China nie.

Is Chinese diensverskaffers soos Tiktok en Huawei se inligting wel veilig.

Want vir China geld veral die uitdrukking: “Big Brother is following you.”

 

Nou hierdie dinge kan mens bekommerd maak, maar gemeente, hierdie bekommernis hoef nie ons lewens te beheers nie.

Want vandag, op Hemelsvaartdag, herdenk en vier ons dat ons groot Broer, ons Here Jesus Christus, na die hemel opgevaar het.

Hy regeer vanuit die hemel.

Hy sien en volg alles vanuit die hemel.

Hy weet waar ons heengaan elke dag, Hy weet wat ons doen elke dag, Hy volg ons ook al is ons selfone en rekenaars afgeskakel, Hy kan selfs ons gedagtes volg!

En wat so geweldig is, is dat ons groot Broer onafgebroke in die hemel ons belange verdedig.

Nie net ons aardse tydelike belange nie, maar ons ewige geluk en saligheid.

Wat ‘n geweldige troos om te weet in hierdie digitale tydperk!

 

Tema: Jesus Christus regeer vanuit die hemel

1 Sy hemelvaart

2 Die waarde van sy hemelvaart

 

1 Sy hemelvaart

Hoe het die hemelvaart gewerk?

Hoe kon ‘n mens opstyg?

Hoe kon dit gebeur dat die swaartekrag van die aarde geen invloed op Hom gehad het, sodat Hy weer ondertoe geval het nie?

En, waarheen het die Here Jesus gegaan?

Hy het verby die wolke gegaan, maar daarna, hoeveel verder het Hy gegaan?

Dit is mos verskriklik koud daarbo in die lug, het die Here Jesus koud gekry?

Kan ‘n mens dit oorleef?

En, het die Here Jesus ook deur die osoonlaag gegaan?

Het Hy ook in die ruimte ingegaan waar daar nie meer suurstof is nie?

Hoe het dit gewerk?

Watter voorstelling moet ek daarvan maak?

Hoe ver is die hemel eintlik?

Ons weet dat die heelal ligjare groot is.

Een ligjaar is die afstand wat lig in een jaar trek, en gesien die spoed van lig, is dit ongelooflik ver.

Hoe lank het dit geduur voordat Jesus in die hemel aangekom het, totdat Hy kon plaasneem op die troon aan die regterhand van God?

 

Broers en susters, is dit vir u snaakse vrae?

As u in die kerk grootgeword het, het u miskien nog nooit aan hierdie vrae gedink nie; het u die hemelvaart gewoon vir waar aangeneem.

Maar dit is wel die vrae wat mense vra wat skepties is.

En as ons hulle wil help en lei na die geloof in Christus toe, sal ons wel antwoorde moet hê, of ten minste weet hoe om met hierdie vrae om te gaan.

 

Die Bybel openbaar aan ons die werklikheid van die hemel en die hel.

Die Bybel beskryf hierdie twee plekke vir ons met verskillende beelde.

Want hierdie plekke op sig is in ‘n ander dimensie, wat vir ons onsigbaar is.

Ons kan oor hierdie plekke niks meer sê nie, as net dit wat in die Bybel staan, die inligting wat die Bybel ons gee oor die hemel en die hel.

Dit is werklikhede wat vir ons gevoel moeilik gekombineer kan word met die natuurwetenskap.

Wel is dit so dat die Bybel ons leer dat ons bewus moet wees dat daar ander werklikhede is, wat die natuurwetenskap nie in staat is om waar te neem nie.

Die Bybel leer vir ons dat daar kragte bestaan, hemelse en helse kragte, wat baie invloed het op aarde, op ons lewe.

Die Bybel maak ons oë dus oop vir hierdie werklikheid.

Nou sal ‘n ongelowige kan redeneer.

Ja, maar as jy deur die oë van die Bybel kyk, dan het jy ‘n gekleurde bril op.

Dan sien jy dinge anders as wat hulle werklik is.

Natuurlik is dit so dat die Bybel ons leer om op ‘n bepaalde manier na alles te kyk.

Maar dieselfde geld ook vir ongelowiges.

Ook hulle het geleer om op ‘n bepaalde manier die werklikheid te verklaar, met hulle gekleurde bril op.

Die bril van hulle opvoeding, die bril van dit wat hulle lees, die aannames wat die natuurwetenskappe maak.

Dit is geensins so dat die sekulêre natuurwetenskappe onbevooroordeeld is nie.

Ook hulle maak keuses op grond van aannames wat nie bewys kan word nie.

As gelowiges erken ons ook dat ons nie alles kan bewys nie.

Christene kies in geloof om deur die bril van God se Woord na die wêreld te kyk.

En daarom, as ons in geloof daarvan uitgaan dat God die Skepper van die wêreld is, dan leer die Bybel ons om deur God se oë na hierdie wêreld te kyk.

En dan maak die wêreld sin, omdat ons daarna kyk deur die oë van Hom wat dit geskape het.

So leer ons om met respek om te gaan met die skepping, met jou medemens, met jouself.

So leer ons om ook bewus te wees van die magte van die kwaad.

Dat die duiwel bestaan en in staat is om jou in die afgrond van die hel in te sleep as jy nie weerstand bied nie.

Danksy God se Woord is ons bewus van die werklikheid van hemel en hel, van engele en duiwels, van goeie maar ook van bose kragte wat op aarde ‘n invloed het.

 

En dit bring ons terug by die vraag:

Hoe moet ek nou myself die hemel voorstel?

Is die hemel baie ver weg, of is dit naby?

Het Christus se hemelvaart ligjare lank geduur, of was dit ‘n kort reis?

Gemeente, dit is belangrik dat ons bewus bly van ons verstandelike beperkinge.

Enersyds sal mens kan sê:

Die heelal is onmeetlik groot.

Ons weet nie waar die einde van die heelal is nie.

Ons weet nie of die heelal ooit ophou nie.

Ons weet nie eers hoeveel sterre, hoeveel sterrestelsels daar is nie.

Ons as mense sal daarom ontmoontlik self na die hemel op soek kan gaan.

Net so min as wat ons die grense van die heelal kan bepaal.

As dit ooit moontlik sal wees om as mense te beweeg teen die spoed van lig, dan het ons as mense hoogstens 100 ligjare tyd om op soek te gaan na die hemel.

Want langer as 100 jaar leef ons nie.

 

En, om nog vir ‘n oomblik binne ons eie verstaanshorison te bly, sê nou maar die hemel is inderdaad ‘n plek êrens aan die uiteindes van die heelal, hoe lank gaan dit dan vat om daarheen te reis?

Hoe lank het Jesus se hemelvaart geduur voordat Hy daar aangekom het?

 

Gemeente, u begryp wel, as ons die hemel so benader, dan moet ons ‘n verkeerde voorstelling van sake hê.

Want dan haak ons vas binne die grense van ons menslike verstaanshorison.

Want in daardie geval sou die hemel een van die mees afgeleë plekke wees.

Baie ver weg vanaf die aarde, so goed as onbereikbaar.

‘n Plek waarheen jy baie lank sal moet reis, selfs al vlieg jy teen die spoed van lig.

Maar dan maak ons van die hemel dus ‘n verkeerde voorstelling.

Want dit wat ons in die Bybel oor die hemel lees, wek die indruk dat die hemel in sekere sin regtig naby is.

Wie tot God bid, mag daarop reken dat God dit onmiddelik hoor.

En vanuit die hemel regeer Jesus oor die aarde.

Hy sit nie êrens aan die einde van die heelal nie, maar Hy sien alles wat gebeur.

Hy is intens betrokke by alles wat op aarde gebeur.

En wie te sterwe kom, sê die Bybel, mag seker daarvan wees dat sy siel direk by sy Heiland Jesus Christus en die hemelse Vader aankom.

Dit is nie so dat daar ‘n jarelange reis na die hemel op ons wag nie.

Dus gemeente, dit sal nutteloos wees as ons onsself ‘n voorstelling van die hemel probeer maak binne die grense van ons menselike werklikheid.

Daarom laat ons ons lei deur God se Woord, wat die Bybel ons leer oor die vir ons onsigbare werklikheid.

Die Bybel kom tot ons in gewone taal wat ons kan verstaan.

God maak in sy Woord gebruik van beelde wat uit ons werklikheid kom, beelde wat vir ons bekend is.

Maar ons moet nie vashaak in hierdie beelde nie.

Ons moet nie redeneer, omdat God voorbeelde as vergelykingsmateriaal gebruik, dat die hemel daarom nie werklik bestaan nie.

God gebruik die beelde naamlik om binne ons begripsvermoë iets te verduidelik wat buite ons begripsvermoë val.

As God byvoorbeeld spreek oor die hemel as sy paleis, en oor sy troon, en oor sy troonsaal, dan help dit ons om iets te begryp van sy hemelse heerlikheid, al sal dit ongetwyfeld anders lyk as die mees skitterende troonsaal op aarde.

As die Bybel vertel dat die dissipels Jesus sien opvaar het na die hemel, totdat Hy agter ‘n wolk weggeraak het, beteken dit nie dat Hy daarna nog vir ligjare lank opgevaar het nie.

Jesus was ‘n mens, maar Hy het wel ‘n verheerlikte liggaam gehad.

Dit was vir Hom moontlik om, na sy opstanding, skielik tussen sy dissipels te verskyn, terwyl hulle saam was agter geslote deure.

Hy was net skielik daar, hulle het Hom nie sien binnekom nie.

 

Mens sou kon sê:

Dit was vir ons Heiland ook moontlik gewees om na die hemel gaan sonder dat sy dissipels Hom sien opstyg het.

Hy sou ook kon gesê het: Nou gaan Ek na die hemel, en dan het Hy net verdwyn.

Maar tog het die Heiland daarvoor gekies om sigbaar op te vaar na die hemel.

Die dissipels kon sien dat Hy opgeneem is, tot ‘n wolk hom aan hulle oë onttrek het.

Hoe die hemelvaart daarna verder gegaan het, agter die wolke, vertel die Bybel nie.

Hoe lank dit geduur het ook nie.

Ons weet wel dat tien dae later, op die Pinksterdag, Christus alreeds gesete was aan die regterhand van God, en dat Hy vandaar sy Heilige Gees uitgestort het.

En van daaraf, vanuit die hemel, vanuit daardie hemelse dimensie, regeer Hy sedertdien oor die aarde.

So is die hemel allesbepalend vir ons lewe op aarde.

Van daaruit is Jesus Koning oor die hele wêreld, en regeer Hy namens die Vader oor alle dinge, en lê alle skepsele in sy hand, sodat hulle sonder sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.

Dit is die volle werklikheid, vir ons onsigbaar, maar baie werklik, en baie prominent aanwesig.

Die hemel is onmeetlik groot, oneindig ver, maar tegelykertyd is die hemel ook baie naby.

En daarvoor is ons ontsettend dankbaar.

Met geloofsoë sien ons, en weet ons verseker, dat ons Heiland op die troon sit, in die hemelse dimensie, vanwaar Hy alles beheer.

Met die blote oog sien ons Hom nie.

Jesus het wel die oë van Stefanus, die eerste martelaar, geopen om dit te kon sien.

Vir ‘n oomblik, enkele oomblikke voor sy dood, het hy sig gekry op die hemelse dimensie.

Dit staan in Handelinge 7: “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. 
En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” (Hand 7:55-56)

Vir een oomblik het God die oë van Stefanus oopgemaak vir hierdie hemelse heerlikheid.

Net so het God ook die oë oopgemaak van enkele ander mense, waarvan ons in die Bybel lees.

Die apostel Johannes het ook die hemel geopend gesien.

Hy skryf daaroor in sy boek Openbaring.

Dink ook aan die drie dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes, toe hulle saam met Jesus was.

Toe het God ook vir ‘n oomblik hulle oë geopen sodat hulle Moses en Elia saam met Jesus gesien het.

Hulle het sig gekry op ‘n ander werklikheid.

Dink ook aan hoe God in die Ou Testamentiese tyd die oë van Bileam geopen het, sodat hy sig gekry het op die werklikheid van die engele.

Skielik het hy die engel raakgesien met ontblote swaard, wat sy donkie al lankal gesien het.

God het die oë van Bileam geopen, die man wat hom daarop beroem het dat hy heldersiende was, was blind vir die lewende God.

 

Met die blote oog kan ons Hom nie sien nie.

Maar die Bybel openbaar sy werklikheid aan ons.

Die Bybel openbaar die heerlike werklikheid van die Here Jesus se heerskappy vanuit die hemel.

Ons weet dat Hy daar is op die troon, ons groot Broer, waar Hy ons belange op die hart dra.

Van daaruit sorg Hy en beskerm Hy vir ons.

En ons weet ook – en wat ‘n groot troos is dit nie! – dat daar in die hemel ook al ons geliefdes is, hulle wat in Christus gesterf het.

Daarvoor is ons ontmeetlik dankbaar.

 

Dit bring ons by die tweede punt:

 

(Tema: Jesus Christus regeer vanuit die hemel

1 Sy hemelvaart)

 

2 Die waarde van sy hemelvaart

 

Die Here Jesus was ‘n heel ander Messias as wat die Jode van Hom verwag het.

Selfs sy eie dissipels het Hom aanvanklik nie verstaan nie.

Hulle het nie verstaan as Hy oor sy lyde, en sterwe, en hemelvaart gepraat het nie.

Hulle het daarop gehoop dat hulle ‘n belangrike posisie sou ontvang as Hy binnekort in Jerusalem die troon sou bestyg.

As Hy sou plaasneem op die troon van Dawid.

Daarom was hulle so wanhopig toe Hy gevange geneem is en gesterf het.

En selfs na sy opstanding uit die dood het hulle nog steeds verwag dat Hy op aarde die troon sou bestyg.

Enkele oomblikke voor sy hemelvaart het hulle nog gevra wanneer Hy nou as Koning oor Israel sou begin regeer:

Handelinge 1:6: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”

Tog was dit nie die plan van Christus nie.

Hy het naamlik ’n veel grote plan gehad.

Hy sou ’n veel groter heerlikheid ontvang, en dit het die dissipels toe nog nie besef nie.

Eers nadat Jesus na die hemel gegaan het, en nadat die Heilige Gees uitgestort is, het dit vir die apostels duidelik begin word:

Die heerlikheid van Jesus is soveel groter as wat ons ooit kon dink!

Want Hy regeer nou vanuit die hemel oor die hele aarde!

Hy regeer nie net as opvolger van Dawid oor die volk Israel nie.

Na Pinkster het hulle uiteindelik die uitspraak van Jesus in Johannes 16 begryp:

“Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan” (Joh 16:7).

Of wat Jeus in Johannes 14 gesê het:

“In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.” (Joh 14:2)

 

Hierna verwys vraag 49 van die Heidelbergse Kategismus – hoekom dit beter is dat Christus nou in die hemel is.

Wat die waarde daarvan is dat Hy vanuit die hemelse dimensie regeer.

Die Kategismus vat die Bybelse leer saam deur drie dinge te noem:

Ten eerste: Hy pleit vir ons by die Vader.

Hy is ’n voorspraak vir ons by die Vader.

Paulus skryf in Romeine 8: Jesus sit aan die regterhand van God en Hy bid vir ons.

Dink in hierdie verband aan die hoëpriester uit die Ou Testament.

Hy was ook ’n voorspraak vir die volk.

Slegs hy mog een keer per jaar die tempel binnegaan in die allerheiligste.

Een keer per jaar.

Daarenteen is Jesus elke oomblik voor God se aangesig.

Elke oomblik kan Hy vir ons versoening doen.

Elke oomblik dra Hy ons belange op die hart.

 

Ten tweede is Christus ons groot Broer.

Hy skaam Homself nie vir ons daar in die hemel nie.

In sekere sin is ons al in die hemel, omdat ons Verteenwoordiger, ons Voorspraak, al daar is.

Die Bybel noem Jesus die Hoof van die liggaam, en ons is die liggaam.

Dit wil sê ons het ’n duidelike verbinding met die hemel.

Die Hoof is al in die hemel.

En ’n groot deel van die liggaam is ook al in die hemel – al ons geliefdes wat in Christus ontslaap het.

En ten derde het Jesus vanuit die hemel die Heilige Gees as waarborg gestuur.

Die Gees werk in ons lewens om ons voor te berei op die toekoms wat vir ons wag.

Die Gees leer ons om te verlang na die toekoms.

Die Gees help ons om ons oë gerig te hou op ons groot Broer.

Hy is ons Hoof en ons volg as liggaam sy bevele op.

Vanuit die hemel regeer Hy oor die hele aarde.

Hy bring sy plan met die wêreld ten uitvoer.

Hy beskerm sy kerk.

 

Ons groot Broer hou ons dop, veel intensiewer as wat enige instansie op aarde ooit kan doen, hoe ver die digitale tegniek ook vorder.

Gelukkig maar, ons groot Broer is daar.

Daar is niks wat sy oë ontsnap nie.

Alles beskik Hy vir ons ten beste.

Wat ’n voorreg om te mag lewe, wetende dat sy vriendelike aangesig vanuit die hemel op ons neerkyk.

Dit is die goot waarde van die hemelvaart van ons Here Jesus Christus, wat ons vandag mag herdenk.

 

Amen.

Liturgie: 

(Hemelvaartsdag)

Votum

Seën

Ps 147:1-3

Gebed

Skriflesing: Handelinge 1:1-11

Ps 8:1-7

Teks: Handelinge 1:9

Preek

Sb 45:1,3,4,8

Gebed

Geloofsbelydenis: Lees Heidelbergse Kategismus Sondag 18

Ps 147:4,6,7

Kollekte

Sb 45:9-12

Seën