Deur die doop word verbondsgesinne geheilig

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2022-05-29
Text: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 26-27
Preek Inhoud: 

Elke keer as daar ‘n baba gedoop word, staan daar ‘n gesin hier voor in die kerk.

Die gesin is een van die basiese boustene van die gemeente.

In sy verbond werk God met gesinne.

Die meeste van ons het in ‘n gesin opgegroei, waar ons ouers ons die vrees van die HERE geleer het.

Dit is die belofte wat ouers by die doopvont aflê, dat hulle dit op hulle neem om hulle kind in die leer van die Skrif te onderrig en te laat onderrig.

Dit is ons jaartema – onderrig en laat onderrig – en dit het natuurlik alles met die doop te make.

 

Tema: Deur die doop word verbondsgesinne geheilig

 

Nou het die doop ongelukkig ‘n onderwerp geword wat verdeeldheid tussen sommige gelowiges veroorsaak.

Dit is nie die skuld van die Bybel nie, dit is die skuld van mense se gebruik van die Bybel.

Vanaand behandel ons die doop aan die hand van die Heidelbergse Kategismus.

Dit beteken egter nie dat die Kategismus aan ons voorskryf hoe ons oor die doop moet dink nie.

Die doel van die Kategismus is bloot om ‘n samevatting te gee van wat die Skrif oor die doop leer.

Kyk maar na al die Bybeltekste wat elke keer onderaan die Kategismusantwoorde staan.

Gereformeerdes word soms daarvan beskuldig dat hulle nie meer na die Bybel luister, as hulle hulle siening oor die doop verdedig nie, maar dat hulle net luister na hulle belydenisgeskrifte, wat menslike geskrif is.

Dit moet egter aan die begin van hierdie preek duidelik wees dat dit geensins die geval is nie.

En daarom gaan ons vanaand spesifiek kyk na enkele Bybeltekste, en nie net na die vertaling van daardie Bybeltekste nie, maar heeltemal terug na die oorspronklike taal waarin hulle geskyf is.

Die Kategismus help ons om terug te gaan na die Skrif.

Die Skrif is die enigste maatstaf vir waar en vals, vir die regte leer en lewe.

Daarom het ons vanaand weer verskillende Skrifgedeeltes gelees, wat spesifiek met die doop verband hou.

Wat al hierdie Bybelgedeeltes in gemeen het, is dat daar elke keer van ‘n gesin sprake is.

Ons kan ook sê: ‘n huishouding.

Meer spesifiek nog: ‘n Godvresende huishouding.

In al hierdie Bybelgedeeltes is daar sprake van gesinne met klein kinders.

Nou oor hierdie opmerking sal sommiges nie met ons saamstem nie.

Neem byvoorbeeld die tronkbewaarder van Filippi.

Mens sal moet aanneem – beweer hulle dan – dat as daar kinders in sy gesin was, dit ouer kinders moes gewees het, wat bewus al hulle geloof kon bely.

Die rede vir hierdie aanname is dat byvoorbeeld Baptiste glo in die sogenaamde geloofsdoop, en die verbondsdoop verwerp.

Hulle pas die Bybel by hulle siening aan.

Hulle lees die Bybel so dat dit by hulle siening pas.

En dit pas nie by hulle siening as die tronkbewaarder klein kinders sou gehad het nie.

Want klein kinders mag volgens hulle nie gedoop word nie.

Dus elke keer as ons in die Bybel oor iemand se gesin, oftewel sy huis of huishouding lees, sal ons moet aanneem dat daar nie klein kinders deel van was nie.

 

Hierdie is egter ‘n aanname.

Is dit waar?

Wel, ons mag nie ons eie menings aan die Bybel oplê nie, ons sal moet luister na die Skrif self, ons sal noukeurig moet lees wat daar staan.

Ons het vanaand ook ‘n gedeelte uit Johannes 4 gelees.

In vers 53 staan dat die koninklike beampte en sy hele huis geglo het.

Dit was in reaksie op Jesus se wonderteken.

Die koninklike beampte se seun was siek, het selfs op sterwe gelê.

Jesus het hom op ‘n afstand gesondgemaak.

Die koninklike beampte het nie getwyfel nie, maar geglo dat Jesus dit gedoen het.

Toe hy tuiskom, het inderdaad geblyk dat die seuntjie gesond geword het op daardie oomblik, die vorige dag op die sewende uur, toe Jesus dit gesê het.

In reaksie daarop het hy en sy hele huis dus geglo.

Huis kan hier ook met huisgesin vertaal word, soos die 2020-vertaling byvoorbeeld tereg doen.

 

Nou oor hierdie teks sê die Baptiste dat die beampte se seun nie ‘n klein kind kon gewees het nie, anders kon hy nog nie geglo het nie.

Almal in die huisgesin moes al volwasse gewees het – al was dit jong volwasse.

Wat egter opvallend is, gemeente, en dis hoekom ons hierdie gedeelte gelees het, is dat as mens na die oorspronklike Griekse teks teruggaan, hier ‘n woord gebruik word vir die seuntjie wat deurgaans dui op ‘n klein kind, meestal ‘n baba.

Die woord wat gebruik word is ‘n verkleinwoord.

Soos ons in Afrikaans kindjie het as verkleinwoord van kind.

Om dus te beweer dat die koninklike beampte se huisgesin geen klein kinders gehad het nie, is ‘n aanname wat nie uit die teks self kom nie.

Tussen hakies, daar is nog ander woorde in Grieks wat mens kan gebruik om na ‘n kind te verwys, woorde wat deurgaans na ‘n groter kind verwys, of woorde vir ‘n kind wat – soos dit in die grammatika bekend staan – ouderdom-neutraal is.

Daardie woorde het die evangelis Johannes egter nie gebruik nie.

Daarenteen is die woord wat vir die koninklike beampte se kind gebruik word, dieselfde woord as wat ons byvoorbeeld in Markus 10 lees: “En hulle het kindertjies na hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak ...” (Mark 10:13-15, sien ook Matt 19:13).

Die evangelis Lukas is nog duideliker as hy skryf: “En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring ...” (Luk 18:15).

Lukas gebruik hier ‘n woord wat spesifiek baba beteken.

Die pa’s het hulle baba’s op die arm gedra en na Jesus gebring dat Hy hulle kon seën.

Daardie woord wat Lukas gebruik kan selfs ‘n ongebore baba beteken.

Dieselfde woord is ook vir Jesus gebruik, toe Maria hom in doeke toegedraai het - Lukas 2:12).

Daar is dus geen twyfel daaroor nie dat die pa’s klein kindertjies na Jesus gebring het.

En as daardie woord dus ook vir die koninklike beampte se kind gebruik word, gaan dit oor ‘n klein seuntjie, van so ‘n leeftyd wat Baptiste weier om te doop.

Nou wat ek nou gedoen het, gemeente, is dat ek van ‘n hermeneutiese beginsel gebruik gemaak het om die Skrif uit te lê.

Die beginsel naamlik dat as iets in een teks dalk minder duidelik is, mens ‘n ander teks wat wel duidelik is, moet gebruik om die minder duidelike teks uit te lê.

Dus, orals waar ons die geskiedenis lees van ouers wat hulle kindertjies na Jesus gebring het, gaan dit dus oor klein kindertjies.

Die koninklike beampte en sy gesin, ook sy klein seuntjie, het geglo.

Natuurlik het die klein seuntjie nie ‘n volwasse geloof gehad nie, ons kom later daarop terug.

 

Nou gebruik Baptiste hierdie einste Bybelgedeeltes as bewystekste vir die gewoonte dat hulle klein kindertjies aan die Here opdra, let wel, kindertjies wat volgens hulle nog nie gedoop mag word nie.

Maar, om weer hierdie hermeneutiese beginsel te gebruik, as daar in Johannes 4:53 sprake is van ‘n huisgesin met ‘n klein seuntjie, dan kan ons ook daarvan uitgaan dat die huisgesinne van Lydia en van die tronkbewaarder van Filippi ook klein kinders gehad het.

Want dieselfde woord vir huisgesin word gebruik, in alle gevalle, by die koninklike beampte, by Lydia, en by die tronkbewaarder se gesinne.

 

Die geskiedenis van Lydia en die tronkbewaarder van Filippi het ons ook vanaand gelees.

Kom ons staan nog vir ‘n oomblik stil by die bekenis van die Griekse woord vir huisgesin.

Want net soos vir die woorde in die Bybel vir ‘n kind, is dit belangrik dat ons goed kyk na die oorspronklike Griekse betekenis vir die woord huisgesin.

Ons kan nie net ‘n bekenis daaraan toeken wat ons pas, of ons nou Gereformeerd of Baptis is nie.

Weereens, die Skrif moet die laaste woord hê.

En om die Skrif goed te verstaan, moet ons teruggaan na die oorspronklike Grieks, en goed bestudeer wat daar presies gesê word.

Die Griekse woord vir huisgesin het in daardie tyd spesifiek die volgende beteken:

Huisgesin, oftewel huishouding, het almal ingesluit wat deur bloed en deur huwelik aan mekaar verwant was, asook die slawe en slavinne wat permanent saam met hierdie familie in dieselfde huis geleef het, in kort almal wat onder die huisvader se gesag gestaan het.

Hierdie Griekse woord het letterlik dus daarna verwys dat daar ook kinders was.

Want as dit nie so was nie, sou Lukas nie hierdie woord gebruik het nie, dan sou hy ‘n ander woord gekies het.

Die eerste leser van die boek Handelinge, ons weet dat dit Theofilus was, iemand wat Griekssprekend was, het dus toe hy hierdie woord lees, verstaan dat daar ook kinders gedoop is.

Hy kon dit nie anders verstaan het nie, eenvoudigweg omdat Lukas gekies het om hierdie woord – huigesin – te gebruik.

 

En hy gebruik dus hierdie woord as hy in Handelinge 16 skryf oor die tronkbewaader wat hom met sy hele huisgesin verheug het dat hy tot geloof in God gekom het.

Tussen hakies, hier staan net dat hy tot geloof gekom het, en dat ook sy huisgesin daaroor verheug was.

As Baptiste beweer dat die hele huisgesin tot geloof gekom het, is dit ook ‘n onbewese aanname.

Verder noem Lukas dat Lydia en haar huisgesin gedoop is (Hand 16:14-15).

Dit kan nie hier om ‘n sogenaamde geloofsdoop gaan nie, dit was ‘n verbondsdoop, ouers en hulle kinders is hier gedoop.

 

En so gebruik Lukas hierdie woord verskeie kere in sy boek: Lydia en haar huisgesin, die tronkbewaarder en sy huisgesin, ook Cornelius en sy huisgesin (Handelinge 10 & 11).

Verder in die res van die Nuwe Testament byvoorbeeld Stefanas en sy huisgesin (1 Korinthiërs 1:16), en soos ons gesien het die koninklike beampte en sy huisgesin (Johannes 4).

Al hierdie huisgesinne het ook kinders gehad, en so is dit verstaan deur die eerste lesers.

 

Nou, geliefde gemeente, wil ek die vraag vra: Is dit eintlik so vreemd?

Wel, as mens na die geheel van die Skrif kyk – nee, glad nie.

Mens kan byvoorbeeld dink aan die bekende woorde van Josua: “maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Jos 24:15)

Hier praat Josua as die gesinshoof.

Dit is verbondstaal.

Hy sal sy gesin onderrig en laat onderrig om die HERE te dien.

Sy gesin sal toegang hê tot God se verbondsbeloftes, hy neem daardie verantwoordelikheid op homself.

Hy sal alles daaraan doen dat sy kinders, sy huisgesin, in die geloof opgevoed word.

 

Nou wil ek op hierdie punt vir ‘n oomblik ingaan op die onderskeid tussen verbond en uitverkiesing.

As Josua belowe dat hy en sy huis die HERE sal dien, praat hy nie oor elke individuele persoon in sy huis se uitverkiesing nie.

Maar dit gaan daaroor dat sy hele gesin in die verbond opgeneem is, en dat hy as gesinshoof sy verantwoordelikheid sal neem dat sy hele huis die HERE dien.

Hy sal sorg dat daar in sy huis geen plek is vir diens aan die afgode nie.

Later, as sy kinders grootgeword het, volwasse, sal hulle op hulle beurt verantwoordelikheid moet neem oor hulle eie lewe en die van hulle gesinne.

Ons moet verbond en uitverkiesing dus onderskei.

Al sorg Josua daarvoor dat sy huis die HERE dien, tog kan Josua nie daarvoor sorg dat elkeen van sy kinders salig sal word nie.

Dit gebeur slegs as sy kinders dankbaar ook self van hulle kant die eis van die verbond aanvaar, nadat hulle van kindsbeen af al die verbondsbeloftes gesmaak het.

 

Hierdie selfde beginsel vind ons ook ongewysig in die Nuwe Testament terug.

In 1 Korinthiërs 7:14 staan daar: “Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.”

Onder die woord heilig moet ons nie verstaan dat hulle salig of uitverkies is nie.

Die betekenis van die woord heilig is toegewy aan God.

Paulus bedoel hier: As daar ’n gelowige ouer in ’n huis is, dan word die hele huis toegewy aan God, dan geniet die res van die huis ook van die rykdom van die verbond, die beloftes, die vrugte wat daar voortkom uit die lewe met die HERE, al is dit slegs een ouer.

Danksy daardie een ouer word die hele huis geseën.

Dit wys mens hoe kragtig die HERE se verbond is.

Ook vir vandag is dit ’n groot troos.

Byvoorbeeld op die sendingsveld, waar dit dikwels gebeur dat net een persoon in ’n huwelik, een ouer, tot geloof kom en lid van die kerk word.

Maar ook onder ons gebeur dit soms dat kinders moet opgroei in ’n een-ouer huisgesin, of in ’n huisgesin waar een van die ouers nie kerklid is nie.

Nietemin rus die HERE se seën nog steeds op daardie huis, is dit geheilig deur die een ouer wat wel kerklid is!

 

As ‘n kind so in ‘n verbondsgesin opgroei, beteken dit egter nie dat daardie kind vanself, slegs op grond van die verbond, salig sal word nie.

Dus die feit dat hulle in die verbond is, deel van ‘n Godvresende huisgesin, slegs dit is nog nie vir hulle saligmakend nie.

Die Kategismus wys hierop in vraag en antwoord 72:

Is die uitwendige waterbad self dan die afwassing van die sonde?

Nee, want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes.

Soos wat ‘n kind opgroei, sal hy steeds meer die beloftes van God moet begin toeëien, sy eie maak.

Dit kan al op ‘n vroeë ouderdom begin.

In ‘n Gereformeerde huisgesin vat God elke kind by die hand, en soos wat dit opgroei, mag hy of sy al hoe meer lief vir die HERE raak.

Die HERE liefhê, dit is mos die wese van ‘n ware geloof.

En natuurlik is dit so dat die geloof van ‘n 2-jarige anders as die van ‘n 5 jarige.

En ‘n 10-jarige se geloof is ook weer anders as die van ‘n 16-jarige, of van ‘n volwassene.

God verwag van elke persoon ‘n geloof wat pas by sy spesifieke ouderdom.

‘n 4-jarige kleuter wat gehoorsaam is aan sy ouers, het ‘n ware geloof.

Sy geloof hou in dat hy sy ouers gehoorsaam.

En treetjie vir treetjie leer hy ook sy hemelse Vader ken en liefhê.

‘n 4-jarige het ‘n geloof passend by sy leeftyd, al weet hy nog niks van die Drieëenheid nie.

‘n Persoon wat 20 jaar is en openbare geloofsbelydenis afgelê het, van so ‘n persoon op so ‘n ouderdom mag wel verwag word dat hy weet en aanvaar dit wat die Skrif oor die Drieëenheid openbaar.

In Numeri 14:29 lees ons hoe God alle volwassenes, 20 jaar en ouer, in die woestyn gestraf het.

Maar aan almal onder 20 is genade bewys.

Van hulle het die HERE nog nie volle toerekeningsvatbaarheid geëis nie.

Dit is die werklikheid van God se genadeverbond.

Inderdaad, Hy is groot van genade.

Elke baba, ook in die verbond, is in sonde ontvang en gebore.

Maar as ‘n baba van gelowige ouers te sterwe kom, beërwe hy die hemelse heerlikheid.

God eis van so ‘n baba geen toerekeningsvatbaarheid nie.

Christus se soenverdienste geld ook vir daardie baba.

En soos wat ‘n kind opgroei, en steeds meer die voorregte van die verbond geniet soos dit aan hom by die doop beloof is, so groei hy ook in toerekeningsvatbaarheid.

Ja ons HERE is regverdig en genadig.

En as ‘n gedoopte kind volwasse geword het, mag hy van harte sy geloof in God Drieënig bely, en omarm wat elkeen van hulle vir Hom gedoen het en steeds doen:

Die Vader wat hom met alle goeie dinge versorg en alle kwaad van hom afweer of tot sy beswil beskik.

Die Seun wat hom in sy bloed was en reinig van al sy sondes en regverdig voor God stel.

Die Heilige Gees wat in hom woon en tot lewende lidmaat van Christus maak.

 

Wat ‘n rykdom geniet ‘n verbondskind tydens sy opgroeijare, en dan as jong volwassene mag hy of sy van harte self ook omarm wat die HERE gegee het.

Kom ons bid vir ons jongmense, dat hulle hierdie rykdom nie sal verag nie, dat hulle sal toeneem in geloof en liefde vir die HERE.

Kom ons bid dat elke jongmens wat gedoop word, oor rofweg twee dekades hier voor in die kerk sal staan, en van harte sy of haar geloof sal bely!

 

Maar gemeente, wat dus uit hierdie preek duidelik geword het, en dit op grond van die feit dat ons eenvoudig na die Skrif teruggegaan het – dit wat die Skrif ons leer oor die koninklike beampte en sy huisgesin, die tronkbewaarder van Filippi en Lydia en hulle huisgesinne, wat die Skrif ons leer is dat ons hierdie verbondsrykdom nie aan ons kinders mag onthou nie, dat ons die doop nie aan hulle mag onthou nie.

Soos die Kategismus skryf:

Hulle moet deur die doop as teken van die verbond in die kerk ingelyf word.

En dit is ‘n feit dat hulle daardeur onderskei word van die kinders van die ongelowiges.

Want omdat hulle in ‘n Godvresende gesin mag grootword, is hulle lewens al van jongs af geheilig, toegewy aan God en sy diens.

Deur die doop word verbondsgesinne geheilig, dit wil sê toegewy aan God en sy diens.

 

Geliefde ouers, voer julle verbondsbelofte uit.

Bring julle kinders, selfs julle klein kindertjies, na die Here Jesus toe.

Vat hulle van jongs af saam kerk toe, lees van jongsaf vir hulle uit die Bybel, en verduidelik aan hulle sodat hulle op hulle vlak kan verstaan, en leer hulle bid.

Onderrig hulle en laat hulle onderrig, sodat hulle steeds meer groei na ‘n volwasse geloof.

En geliefde gemeente, ons almal het saam met die ouers belowe om die kindertjies na Jesus te bring.

Die laat onderrig van die jeug sluit ons ook in.

Dink na, ook na aanleiding van hierdie preek, wat jy as gemeentelid vir die jeug van die kerk doen.

Oorweeg wat jy van vandag af vir die jongmense in die kerk sal doen.

So vorm ons saam ‘n gemeente wat geheilig is, toegewy aan God en sy diens.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 112:1,2

Gebed

Skriflesing: Lukas 18:15-17 & Johannes 4:43-54 & Handelinge 16:13-34

Sb 15:1-7

Preek n.Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 26-27

Preek

Ps 115:7,8

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 145:3,5

Seën