Die gemeente van Christus is heilig

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-03-20
Text: 
Johannes 17:17-19
Preek Inhoud: 

Inleiding:

Heilig: is dit vir spesiale christene, geestelike reuse?
Die Oosterse kerk het ikone, waarop heiliges afgebeeld word met ’n ring rondom hulle kop – ’n halo. Hulle is duidelik heilig!

Klink díe woord swaar, dalk bedreigend, vir jou? Voel dit onbereikbaar?
Wie van ons sal sê: ‘ek is heilig?’ Kan ons dit oor hierdie gemeente sê: ‘ons is heilig’?
Die kerk het in die geskiedenis al soveel verkeerd gedoen (kruistogte, Inkwisisie). Ook ons kerk is swak en sondig. Ons is dikwels gelykvormig aan die wêreld.
As ons sê ‘ons is heilig’, is dit nie verwaand nie?
Moet ons maar liewer stilbly, omdat ons net besig is om ons eie stert te prys?

Maar God noem jou en my heilig. En Jesus bid vir sy kerk, dat ons heilig word.

Tema:    Die gemeente van Christus is heilig
1 -    God begin
2 -    Hy gee toenemende toewyding aan Christus
3 -    Ons word
saam geheilig in die waarheid

1    God begin

•    Klein en onbetekenend – en tog heilig!

God begin. Dit blyk duidelik uit Eksodus 19 (voordat God die wet gee!):
   Julle is my eiendom uit alle volke.
   En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.

My eiendom. Heilig.
Dis hoe God die mense noem wat hy uit Egipte gered het.
Hulle was ’n klein volk, sonder ’n vaderland – hulle was selfs slawe in Egipte, en het op die punt van verdwyning gestaan.

Toe God mense gekies het om sy volk te wees, het hy die kleinste volk gekies. Hierdie Hebreeërs het niks gehad om mee te spog nie en was onbetekenend in die Midde Ooste.

Vir ons kinders kan ek ’n voorbeeld noem wat julle wel sal verstaan.
Julle het seker al gehoor ’n klub soos Man United sokkerspelers van ’n ander club vir miljoene Euros of miljarde Rande gekoop het. Dis baie geld, maar vir die nuwe club is dit die moeite werd: hulle sal geld maak, want hierdie speler speel so goed, dat die club kampioenskappe sal wen.
’n Sokkerclub sal die beste sokkerspeler uitkies, en sal dan met hom spog: ‘ons het Ronaldo.’ ‘Ja, maar ons het Messi!’

Israel mag Gods priesters wees, hy noem hulle heilig: hulle is die enigste nasie in die hele wêreld wat aan die Almagtige God toegewy is en sy eiendom genoem word.

Wat ’n voorreg is dit nie!

•    Die prys

Die kerk, die gemeente van Christus, het nie begin op ons inisiatief nie.
God het vir die nakomelinge van Jakob, Israel, uitgekies.
Hy het groot wonders gedoen om hierdie volk te bevry. God het 10 plae gestuur. Dit was ekonomiese rampe vir Egipte. God het die samelewing ontwrig en geteister, om sy volk uit te lei.
Hy het ’n volk uitkies en afsonder uit die wêreld, om hulle aan hom toe te wy. God het nie gesoek na waardige en veelbelowende mense nie, maar self hierdie mense voor die dood weggeraap (Egipte was besig met genoside!)
Hy het ’n volk van aanbidders - priesters – in die lewe geroep.

Die Nuwe Testament verkondig vir ons die groot geheim van die groot prys wat God betaal het om hierdie volk vir homself af te sonder: die kosbare bloed van sy Seun Jesus Christus. God het sy eie seun oorgegee in die dood, om ons, ’n klomp sondaars, te red.

•    God is heilig

Maar hoe kan dit? God is heilig. 
Dit beteken dat hy nie is soos skepsels nie, hy hoog verhewe, sy karakter is vlekkeloos en Hy het nog nooit enige leuen gepraat of enige verkeerde ding gedoen nie. Alles wat hy doen is reg. Hy is perfek. Die engele in sy aanwesigheid roep heeltyd: heilig, heilig, heilig!
In alles wat hy doen, bring hy eer aan sy heilige en gedugte naam.

Enigiemand wat aan hom mag behoort, wat sy volk genoem word en heilig verklaar word, is geweldig bevoorreg.

Want wie kan tot die heilige God nader?
Vir elke sondaar is God se heiligheid soos ’n vuur. Jy kan die vuurgloed nie hanteer nie, jy val dood neer. (Jesaja het uitgeroep: wee my, ek is ’n sondige mens, en ek het God gesien! (Jes6,5))
Die hele woestynreis wys vir ons die karakter van die mense wat God uitgekies het: hulle wil nie luister nie, is ondankbaar, is hardnekkig in hul verset teen God. As dit nie vir Gods geduld en genade was nie, …

Hoe kan God so ’n volk uitkies en heilig noem?

Dit is die eerste ding wat ons leer: 
Om ’n heilige volk te mag wees is genade.
Dis ’n wonderwerk.

Israel was onwaardig en God het hulle tog heilig genoem.

En vandag, vir ons, is dit net so.
Want God noem die christelike kerk ook heiliges:
Het jy dit gehoor in 1Kor1? Paulus skryf…

“aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here…”

Elke gemeente van Christus noem God heilig.
Die kerk word heilig genoem en dis ’n gemeenskap van heiliges.

Maar dis ’n klomp slegte mense!
Die gemeente van Korinte: lees die brief maar en jy vind heelwat ‘skeletons in the closet’.
Hulle en ons het God heilig verklaar.

Ons moet dit maar telkens weer onthou wanneer ons ons geloof bely of sing:

‘ek glo een heilige, algemene, christelike kerk, die gemeenskap van heiliges.

Dit moet ons harte bly maak: God noem ons heilig! Ons behoort aan hom. Ons mag die volk van die heilige, almagtige God wees! Dis ’n groot voorreg en eer vir ons!

Nog voordat daar enige spoor van verandering, van heilige gedagtes of woorde of dade in ons en in ander sondaars sigbaar is, noem hy ons reeds heilig.

Die beslissende begin van ons heiliging lê in God.

As jy die woord ‘heilig’ hoor, moet jy dus nie dink aan ’n swaar las wat jy moet gaan dra nie, maar aan ’n kroon wat God op jou kop sit.

Om heilig te wees is mooi, is aantreklik, is eervol en begerenswaardig.
Die woord ‘heilig’ moet dit dus by ons verwondering en blydskap oproep. 
As jy die hoë posisie en die groot voorreg wat God vir ons gegee het, besef, dan gaan jy met vreugde na hom toe, dan buig jy jou diep dankbaar voor hom neer, en dan maak jy jouself nederig beskikbaar in sy diens.

En in Joh17 lees ons die gebed van Jesus vir sy dissipels, sy volgelinge:

Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. (v. 6)
Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. (16)

Die dissipels van Jesus is uit God. En nou bid hy vir al sy dissipels:

Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. (17)

2    Hy gee toenemende toewyding aan Christus

As ons v. 17 en 19 saam lees, ontdek ons dat heiliging ook ’n proses is.

17: Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
19: Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.

Ons is dus ‘heilig’ in Christus: God noem ons heilig.
En ons word ook geheilig in Christus: God maak ons heilig.
Daar is ’n begin: die status, en ’n proses wat volg: heiliging, geheilig word.
God self maak sy volk heilig. Dis wat Jesus in sy gebed van die Vader vra.

In die OT reeds klink heeltyd die roep van God: “Wees heilig want ek is heilig.” (Lev11,44-45).

Dis duidelik nodig dat die mense wat heilig genoem word, verder geheilig moet word.

Wat is die heiligingsproses?

•    Afgesonder vir ’n spesiale doel

God het Israel uit Egipte bevry sodat hulle hom in die woestyn sou aanbid. (Eks 5,1 en 10,9)
Heiliging beteken dat jy afgesonder word vir ’n spesiale doel. Gods volk is uit die wêreld afgesonder om God te aanbid, in woorde en dade. Deur eredienste en daaglikse gehoorsaamheid.

•    illustrasie: skooldrag

Kinders het hulle skooldrag: jou uniform trek jy net aan as jy skool toe gaan. Nie Saterdae nie… Dit word altyd skoongehou. En na die vakansie word dit weer keurig gestryk.
Geheilig = spesiaal. Afgesonder.
Dis bedoel vir ’n spesiale geleentheid of doelwit.

Heiligmaking beteken vir ons vandag: toenemende toewyding aan Christus.

Heel persoonlik dus: toewyding aan Christus.
Hy is ons Heer, hy het ons met sy kosbare bloed gekoop. Daarom behoort ons aan hom, en het ons ’n verpligting om hom te gehoorsaam.

Die proses van heiligmaking beteken dat ons gelykvormig word aan Christus.
V. 19 sê mos dat Jesus hom vir ons geheilig het:

19: Ek heilig Myself (ek wy myself toe) vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.

Israeliete het dadelik gedink aan die hoëpriester, wat geheilig is vir sy taak in die tabernakel en tempel. Hy het wit linne klere aangtrek, en ’n turban op sy hoof, met die woorde ‘heilig aan die Here’. Hy was die duidelikste uitbeelding van heilig wees. Volledig toegewy aan die tempeldiens: offers bring en tot God bid.
Jesus is die laaste en perfekte hoëpriester. Hy het nie offers gebring vir sy eie sondes nie. Hy was volmaak gehoorsaam. 
Sy hele lewe, elke stap, elke woord, elke daad, was volledig aan God toegewy. Sondelose gehoorsaamheid. Totale toewyding.

Hy het hom geheilig, aan God toegewy, vir ons. Sy gehoorsaamheid is die grond van ons regverdiging en heiliging.

En nou maak hy ons soos hy is: hy maak ons gelykvormig aan hom: heilig.
Ons moet nog in toewyding (heiliging) groei.
Want daar is nog soveel onbegrip, verset, swakheid, hardnekkige sonde, selfgerigtheid.
Ons word wel heilig genoem, maar ons is glad nie heilig in alles wat ons doen nie.
Heiligmaking beteken vir ons vandag: toenemende toewyding aan Christus.

Dis presies wat Jesus vir ons vra in sy gebed:

17: Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Hoe doen God dit? Deur die waarheid: sy Woord.
Dit gaan ons in die laaste gedeelte hoor.

3    Ons word saam geheilig in die waarheid

Die proses van heiliging moenie ’n geheimsinnige proses vir gelowiges wees nie.
Dis wat gebeur as ons dink dat heiliging vir ’n paar super-christene is.

Dit het wel in die kerkgeskiedenis gebeur. Kloosterlinge het volledig aan die wêreld onttrek, ’n gelofte van armoede afgelê en dus geen persoonlike besittings gehad nie, hulle het op vaste tye gebid.
Daar is selfs iemand wat as die pilaarheilige bekend gestaan het. 
Is dit wat heiliging beteken?

Nee, Jesus bid juis nie dat sy volgelinge uit die wêreld weggeneem word nie, maar dat God hulle bewaar terwyl hulle in die wêreld sy missie uitvoer.
Hy het ons juis in die wêreld gestuur. Dis waar ons missie is: dissipels maak, die koningskap van Christus proklameer, en dis waar die heiligingsproses plaasvind. 

En hoe dan?

17: Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Dit is in die waarheid: dit is die Woord van God.

In die eerste deel van sy gebed het Jesus gesê dat hy Gods Woord vir sy dissipels gespreek het. So het hulle die ewige lewe ontvang: dit is nl. om God te ken, en Jesus wie die Vader gestuur het (v.3).

Met ‘waarheid’ en ‘u woord’ bedoel Jesus in elk geval die inhoud: kennis van God, van Christus die middelaar. 
Johannes vertel in sy evangelie dat Jesus in die gesprekke met die Jode heeltyd beklemtoon het dat hy die waarheid praat, dat hy (soos ’n profeet) gehoorsaam Gods woorde spreek.
Sonde het in die wêreld begin en heers deur die leuen van die duiwel. Net die waarheid van God kan die greep van die sonde op ons denke en ons dade Soos Jesus sê in Joh8,31-32:

As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Ook gaan dit oor die krag wat vir die heiligingsproses nodig is. Die enigste manier om te verander en geheilig te word, is deur die krag van Gods Woord.
Die evangelie is die krag van God tot redding van sondaars (Rom1,16-17). Hoekom? Omdat dit bekendmaak wat God gedoen het om ons te verlos. Jesus se verlossingswerk is die sentrum van die Woord van God. 
’n Oproep om jou lewe te verander (in jou eie krag) gaan niks help nie. Mekaar ’n skuldgevoel aanpraat en onder druk plaas om betere gedrag te wys, is hopeloos onvoldoende. Dalk probeer jy dit in die opvoeding van jou kinders, maar dit lei net tot korttermyn verandering, of ook tot skynheiligheid. Dit bewerk nl. geen verandering in die hart nie.
Sondaars is vas in hulle sondes, verblind, vyande van God, onmagtig om die sonde te oorwin. Net die evangelie van Christus, net díe waarheid kan jou en my red. Jesus het vir sondaars gely en gesterf, sy bloed het versoening bewerk tussen God en sondaars.

•    Ons is ingeskakel in díe proses

Dis nie nodig dat Jesus vir die Vader vertel hoe die heiliging moet plaasvind nie. (dis nie hoekom Jesus dit in v. 17 noem nie) Jesus bid met hierdie woorde, sodat ons mag weet hoe God ons heilig sal maak.
Hy doen dit dus deur die Woord van God, die evangelie van Christus. Daarom vind ons in die Bybel ook so dikwels die aansporing om die Woord te hoor, dit prioriteit te gee, dit in geloof te aanvaar, dit te bewaar, te gehoorsaam.
God maak ons heilig. Hy skakel ons in die proses in, deur ons aan te spreek, op te roep tot bekering, deur geloof in die Woord.

Daarom is Jesus se gebed vir ons ’n sterk aansporing om erns te maak met die Woord van God.
As jy die krag van die Woord nog nie ervaar het nie (daar is geen sprake van bekering en lewensvernuwing nie), bekeer jou. Neem die Woord wat jy vandag hoor, aan. Plaas vandag jou vertroue in Christus se offer, in sy bloed, in sy dood, dan word jy van jou sondes gered.
Redding gebeur nie omdat jy moeite doen om jouself te verander nie. 
Jy het nodig om die evangelie van genade te glo: omhels Christus as die enigste grond vir jou redding!

As jy daarna verlang om in toewyding aan Christus te groei, om meer gelykvormig te word aan hom, laat dan sy Woord in jou hart woon.

•    God maak ons saam heilig

Die heiligingsproses gebeur beide persoonlik en gesamentlik, soos die twee vlerke van ’n vliegtuig saam nodig is.
God roep ons om na die verkondiging van Christus te luister en dit gelowig te aanvaar en verwerk. Daarom luister ons saam na preke en bespreek dit saam – en vervolgens moet ons elkeen afsonderlik verder daaroor dink, dit persoonlik glo en in die week dit opvolg met gehoorsaamheid.
So werk die twee saam.

Daar is ’n wederkerigheid in hoe die Gees in ons gesamentlik en persoonlikk werk.

  • die preke wat jy hier hoor en die bybelstudies wat jy met ander lidmate doen, help jou om persoonlik die Bybel te verstaan; 
  • en die manier waarop jy by die huis met die Woord van God besig is, berei jou hart voor om die Woord hier te ontvang.

Dank God dat hy jou nie op jou eie laat aangaan nie.
Hy maak jou en my lede van die liggaam van Christus.
Christus bid vir ons. Glo dat God sy gebed verhoor en ons sal heilig in sy waarheid. Laat ons saam en persoonlik die Woord van God met ’n oop hart, met liefde, en met groot verwagting ontvang en gehoorsaam. 

Amen

Liturgie: 

Psalm 22:9-10

Lees:
-  1Koronthiërs 1:1-3
-  Eksodus 19:1-6
-  Johannes 17:1-23

Skrifberyming 9,4.5; 

Preek: Joh17,17-19
Skrifberyming 27,4.5

Lees geloofsbelydenis

Kollekte

Skrifberyming 3

Bybelgedeelte
17    Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
18    Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.
19    En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.

Besprekingsvrae
1. God is heilig. Waaraan dink jy as jy dit hoor? Klink dit mooi of moeilik?
o    Hoe kan jy Gods heiligheid omskryf?
o    Hoe sou jy dit só verduidelik dat ‘n kind dit kan verstaan? En vir iemand wat nie ‘n lidmaat van die kerk is nie?

2. Wat beteken dit vir jou dat die gemeente van Christus heilig is?
o    Omskryf dit in jou eie woorde. Bespreek dit daarna met mekaar. Is daar enige verskille in julle siening?

3. Is dit vir jou aantreklik om meer en meer aan Jesus gelyk te word?
o    Wat beteken dit konkreet? 
o    Hoe het die preek jou gehelp om dit beter te verstaan en daarna te verlang?

Doele vir die preek:
-    Verstaan wat heiliging is
-    ontdek dat heiliging mooi en aantreklik is
-    aanspoor om erns te maak met die Woord van God
-    God dank dat ons saam ’n heilige kerk is en meer mag word