Goeie Vrydag: God se Seun voltooi sy lydensweg hier op aarde.

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2019-04-19
Text: 
Johannes 19:28-30a
Reference: 
Goeie Vrydag 2019
Preek Inhoud: 

Dis ’n beproefde leermiddel om vir b.v. katkisante te vra: “As jy die kern van wat jy glo op jou duimnael moes skryf- wat sou jy skryf?”
Wat sou u skryf?
Ek sou die kernwoord uit ons teks van vanoggend skryf: “Volbring”. Dis in die Grieks ook net een woord pleks van die drie in Afrikaans. 
Ons Verlosser roep hier uit –na Hy eers gevra het om iets te mag drink sodat Hy dit nog heeltemal by sy positiewe en vir almal hoorbaar kon doen- dat Hy sy lydensweg end-uit geloop het. Hy het die program wat in die boek-rolle van die Ou Testament lank vantevore vasgelê was, voltooi.
In die Griekse teks word daardie woord self 3x gebruik. “Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles nou volbring was om die Skrif te volbring, gesê: ‘Ek het dors’” Om vervolgens, na ’n teug asynwater, uit te roep: “Volbring!”

Voel u nog, brs en srs, hoeveel daar in hierdie een woord opgesluit lê? Die opgelugte, dankbare en triomfantelike klank daarin? Ek mag u dit vanaand probeer aanwys. Ek sal dit in vier punte verdeel:

Tema:
Goeie Vrydag: God se Seun voltooi sy lydensweg hier op aarde. 
Ons sal hoor wat dit beteken

1.    Vir Homself
2.    Vir sy Vader
3.    Vir ons  
4.    Vir sy en ons vyande

Sing: SB 6:5,6 

1.    Wat dit beteken vir Homself

Ja, dit moet vir die Here Jesus ’n groot blydskap gewees het, brs en srs, dat Hy die wenstreep gehaal het. Want wie van ons kan sê hoe swaar die pad was wat Hy moes stap? Ons bely in sondag 16 HK dat dit ’n on-uitspreeklike lyding was. ’n Helse kwelling. 
Ons het niks van Christus se lydensweg verstaan as ons meen dit moes vir Hom nie so moeilik gewees het omdat Hy ook God was nie. Eintlik net kinderspeletjies. Was dit blote drama toe Hy met die sweet wat soos groot bloeddroppels op sy voorkop gepêrel het, in die tuin van Getsemanie vooroor gelê het en bid: “Vader, is dit nie moontlik dat hierdie beker by My verbygaan nie?” Nee, hier het die ene Mens doodsbang gehuiwer vir die lydens-beker wat sy Vader Hom aangereik het. Moes Hy nou hierdie gifbeker vol van God se verontwaar-diging en straf oor ons sondes, heelte-mal leegdrink? En Hy het presies geweet at dit sou beteken!  Hy moes van Getsemane Golgota toe gaan. En daar in die helse verlatenheid wegsink. Selfs sy eie hemelse Vader sou Hom nou verlaat. 

Maar Hy mog nie daarvoor wegskram nie. Dis dié dat Petrus Hom nie met ’n swaard mog verdedig nie: “Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?”
Dis dié dat Hy, toe hulle Hom aan die kruis vasgespyker het, nie die beker, wat die soldate Hom gegee het om te drink, mog leegdrink nie. Want dit was ’n verdowende drankie met gal-bittere mirre wat sy gees sou versuf, die ergste pyn versag en hom sou laat wegsak in ’n newelige roes. Hy mog nie. By sy volle bewussyn moes Hy vir ons die ewige straf aan liggaam en siel ondergaan. En wie van ons kan ook maar enigsins ’n voorstelling maak van wat dit moes gewees het?

Tog sal ons moet probeer, brs en srs, om iets daarvan te verstaan. Die hei-lige nagmaal se simbole is ook bedoel om ons daarby te help.
Dít is wat ek veroorsaak het.
“Verdien dan nie my sonde
die strieme en die wonde?
Ek wéét, ek weet: dit is vir my.
Die straf moes ek gelei het
en voor die poort gebly het
in pyn en smart en vrees”.

En as ons dan onthou dat Christus ’n mens soos ons geword het, in alles aan ons gelyk behalwe die sonde, sal ons ook iets daarvan kan verstaan hoe dit vir Hom moes gevoel het toe Hy kon uitroep: “Volbring!”.

Sing: SB 7:4

2.    Wat dit beteken vir sy Vader

Tog was Christus se uitroep “Volbring” nie in die eerste plek vir Homself bedoel nie. Christus het nooit in die eerste plek Homself gesoek nie. Maar sy Vader. 
“My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring", het Hy al taamlik aan die begin van op optrede in Israël laat weet. En daarom het sy worste-ling in Getsemané tog geëindig met die aanvaarding: “Laat nie my wil nie, maar u wil geskied, Vader”.
Sy Vader, wat eendag ook dankbaar en voldaan kon sê: “Dit is volbring”, na hy die hemel, de aarde en alles wat daarin is, geskep het. Maar wat daarna sy mooiste skepsel teen Hom in opstand sien kom het. Juis die mens het Hom op die hart getrap. En die mens het dit daarna male sonder tal aanhou doen, eeu in eeu uit: sout in die HERE se wond van ons sondeval vryf. Wys dat daar van God se oor-spronklike wonderlike bedoelings met hierdie wêreld en ons mense maar min oorgebly het. En wie van ons kan sê hoeveel verdriet ons God daarmee besorg het? En steeds besorg? Miskien moet ons meer daarby stilstaan. Doen u dit nog, brs en srs? Julle, jongmense: bepeins wat alles ons God aandoen? Wat Hy daarby moet voel? Skaam ons nog diep daaroor, sodat ons wel sou wil wegkruip van skuldbesef.

Jesus het geweet hoe dit vir sy Vader voel. Hy en die Vader is ook daarin een. Dis dié dat Hy aarde toe gekom het. Om ons by Vader weer te bring. En om weer kinders van ons te maak wat nie langer aanhoudend op sy hart trap nie, maar sy hart weer met vreugde vervul. Omdat hulle weer in liefde met Hom saamleef. Vader weer eer en respekteer. 
Hoe ’n vreugde moet dit dus vir Chris-tus gewees het toe Hy geweet het Hy het die pad wat Hy daarvoor moes stap end-uit gestap: “Volbring!”. Dat Hy nie halfpad genoodsaak was om tou op te gooi nie, maar deur die diepste diepte die pad na sy Vader terug weer oopgemaakl het. Vir ons.

Sing: SB 8:2

3.    Wat dit beteken vir ons

“Vir ons”- dit was my laaste woorde voordat ons die 2e vers van SB 8 gaan sing het. Want ja, ook vir óns het Christus aan die einde van sy lydens-weg uitgeroep, en dit deur een van apostels laat opteken: “Dit is volbring!”.
Hy het mos as die hoogste hoëpriester ons op sy skouers en op sy hart saam-geneem deur daardie diepste diepte van die hel, om ons by sy en ons Vader weer te bring. En Hy het dit reg gekry! Ons hoef self niks meer te volbring nie- Hy het klaar.

Daarom is daardie een uitroep “Volbring!” dit werd om as die kortste samevatting van alles wat ons glo op ons duimnael geskryf te word.
Want die Satan, wat ons eers van God afgerokkel het met die vooruitsig dat ons voortaan self sou kan bepaal wat reg en wat verkeerd is, probeer die mens sindsdien op allerhande manier wysmaak dat ons, as ons by God wil terugkom, dit nou ook self weer moet probeer regmaak by Hom. Het in Jesus se dae op aarde baie skrifkenners en priesters ook nie so gedink, en die mense geleer nie? ‘Jy moet sus maak en jy moet so maak’. En u onthou tog  Maarten Luther se worsteling om sy God genadig te stem? 
Hoe dikwels dink ook ons nog dat ons tog tenminste dit of dat moet volbring om vir God aanvaarbaar te wees? En hoe beangstigend is dit dan om tel-kens te besef jy skiet tekort daarin! God mag mos die liefde van ons héle hart verlang? En van ons héle ver-stand? Van ál ons kragte? ? Omdat Hy Self die ene liefde is.
Selfs aan die nagmaaltafel kan so ’n skuldgevoel ’n mens oorval. Dan staan die blyke van God se verreikende liefde voor ons op die tafel. Hoe skamel steek my liefde vir Hom daar-by af! En al probeer ek ook hoe, kry ek dit maar nie reg om ’n baie beter mens te wees nie.
Maar hoe bevrydend is dit dan om Christus ook vir u en my te hoor uitroep: “Dit is volbring!”. Hy het volmaak gehoorsaam in alle opsigte aan God se wet voldoen. Sy hele lewe as mens, maar ook in sy bereidwillige aanvaarding van God se doodstraf oor ons al oortredings van God se wet. As ons ons aan Hom toevertrou, as ook ons name soos edelgesteentes op sy hoëpriesterlike kleed staan, beskou God ons in Hom as nuwe mense. Asof ons ook self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir ons volbring het. 
Hy sê nou vir ons: jy hoef niks meer te volbring nie. Ek het.

Sing: SB 10:1,2

4.    Wat dit beteken vir sy en ons vyande

Sou die Here Jesus se uitroep “Vol-bring” nie ook vir Christus se vyande bedoel gewees het nie, brs en srs?
In die eerste plek die Satan. Hy het hierdie Goeie Vrydag finaal verloor. Hy het ons verloor. En die nekslag gekry.
Hy en sy duiwelse geeste is dan ook dadelik na Christus in die hemel weergekeer het, uit die hemel verwyder. Vir ewig. En sal eendag ook vir altyd van die aarde af verwyder word. 

En dit gebeur ook met almal wat deur die duiwel beheers word en aanhou weier om Jesus Christus as die weg terug na die Vader te aanvaar. Mense wat ons moet bestempel as sy en ons vyande.
Daar sal nog eenmaal die uitroep klink, dié keer van die troon in die hemel af, waar Christus nou as Koning heers: “Dit is volbring!” En dan kom daar ’n definitiewe einde aan alle op-stand teen God en sy Gesalfde. Spotters sal voortaan maar net kan huil en hul tande kners.
Maar ons mag dan plaasneem aan die tafel in Gods se Koninkryk om daar saam met Christus sy oorwinning te vier.
Sy uitroep “Volbring” aan die kruis waarborg dat daardie laaste “Volbring” eendag ook sal klink.

Amen.

Sing: Ps 2:6

Liturgie: 

Voorsang: Ps 69:1,4,6

Votum en groetseën
Psalm 98:1,2

Gebed
Skriflesing: Matteüs 27:33-45
Psalm 89:15
Teks: Johannes 19:28-30a

Inleiding verkondiging

Tema:
Goeie Vrydag: God se Seun voltooi sy lydensweg hier op aarde. 
Ons sal hoor wat dit beteken

1.    Vir Homself
2.    Vir sy Vader
3.    Vir ons  
4.    Vir sy en ons vyande

Skrifberyming: 6:5,6
Tydens die verkondiging:
Skrifberyming: 7:4            
Skrifberyming: 8:2
Skrifberyming: 10:1,2
Na die verkondiging
Psalm 2:6

Gebed

Kollekte

Skrifberyming: 8:1,4,5
Seën