Te midde van ‘n sondige wêreld ontvang ons God se gawes met danksegging

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2022-05-22
Text: 
1 Timotheüs 4:4-5
Preek Inhoud: 

Preek: 1 Timotheüs 4:4-5

 

Onderrig en laat onderrig.

Die briewe aan Timotheüs kan ons veel leer oor geloofsoordrag.

Paulus skryf aan die jong Timotheüs, hy is besig om hom as ‘n ampsdraer toe te rus.

Terselfdertyd word ons deur die Heilige Gees onderrig en toegerus deur Paulus se briewe.

Onderrig hoe ons, as ampsdraers, as belydende lidmate, as ouers, ons kinders moet onderrig.

In Christus is daar ‘n nuwe lewe, soos Paulus skryf aan die begin van sy brief:

Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red (1 Tim 1:15).

Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore.

Maar soos aan Paulus, wat homself die vernaamste van alles sondaars noem, barmhartigheid bewys is, so is daar ook barmhartigheid vir my en jou, vir ons en ons kinders.

Dit is die fondament onder alle geloofsopvoeding.

Die blye evangelie van hoop.

 

Hierdie wêreld is vol van die sonde, dit is ’n gevaarlike plek en ons hou soms ons hart vas as ons dink aan in watter wêreld ons kinders in die toekoms sal moet leef.

Die afval neem toe.

Met alle digitale media is dit al hoe moeiliker om die sonde op ‘n afstand te hou.

Die verleiding van die sonde kom ongevraagd tot in ons binnekamers, tot in ons slaapkamers, op ons en ons kinders se selfone en noem maar op.

Maar laat ons nie doemdenkers wees nie, gemeente.

Want dit is nie wat ons uit ons teks leer nie.

Inteendeel, daar is hoop.

Ons teks straal optimisme uit.

Alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie.

 

Tema: Te midde van ‘n sondige wêreld ontvang ons God se gawes met danksegging

 

In die destydse wêreld waarin Timotheüs die evangelie moes bedien, was die verleidings en versoekinge nie minder as vandag nie.

Die losbandigheid het hoogty gevier in alle opsigte.

En in reaksie daarop het sommige Christene hulleself al hoe meer uit die wêreld teruggetrek.

Nie net losbandigheid het hulle afgekeur nie, selfs die huwelik het hulle onder verdenking geplaas.

Paulus skryf aan Timotheüs dat hierdie mense die gelowiges op ‘n dwaalspoor lei, as hulle die mense afraai om nie meer te trou nie.

Die apostel Paulus daarenteen roep op om te trou.

En so roep ons vandag nog steeds die jeug op om te begin met verhoudings, ‘n gelowige lewensmaat te soek, om te trou, om ‘n gesin te stig.

Ook al het ons sorge oor wat die toekoms gaan bring.

Tog roep ons die nuwe generasie op om te trou en kinders te kry, vertrouende op God se beloftes.

Ja hulle mag selfs met hoop en optimisme die toekoms tegemoet gaan.

Dit is goed om te trou.

Dit is goed om kinders te kry.

Dit is goed om van die lewe te geniet.

Dit is goed om alles met danksegging te ontvang.

Ook die huwelikslewe is heilig, toegewyd aan God, geheilig deur die Woord van God en gebed.

Wat die toekoms gaan bring vir elkeen van ons jongmense, dit weet ons nie.

Maar 50 jaar gelede het die ou mense onder ons ook nie geweet wat die toekoms sou bring nie.

Aan sommiges het die HERE ‘n maklike lewe gegee.

Ander moes dalk vroeg hulle eggenoot aan die dood afstaan.

Ander het dalk kinderloos gebly.

Die lewe met sy soet en suur ontvang ons uit God se hand, ons aanvaar dit, soos ons teks sê, met danksegging.

En ons besef dat ons in hierdie lewe nog nie die volmaaktheid gaan beërwe nie.

Hierdie besef help ons om dankbaar te bly, ook in moeilike tye.

 

Deesdae is daar baie mense wat wel die volmaakte van hierdie lewe verwag.

Dalk by gebrek aan geloof in ‘n toekomstige lewe.

As jy nie in die toekomstige volmaaktheid glo nie, dan raak hierdie lewe natuurlik geweldig belangrik.

Dan is hierdie lewe jou laaste kans om te geniet, om dinge te doen, om alles te sien, om alles te kan beleef.

One life, live it – soos die spreekwoord deesdae sê.

 

Maar so leer die Bybel ons nie om in die lewe te staan nie.

Die Bybel is soos ‘n bril wat ons opsit, waardeur ons meer sien as met die blote oog.

Soos ‘n 3D-bril wat jy opsit, waardeur jy ‘n film driedimensioneel kan kyk.

Met die Woord van God kry ons ‘n nuwe, ‘n ander perspektief op hierdie lewe.

Hierdie lewe is nie die een en al nie.

Hierdie lewe is ‘n kort voorbereiding op ‘n veel langer lewe wat op koms is.

 

Maar net soos wat daar vandag verskillende menings is oor hierdie soort dinge, so was dit vroeër ook al so.

Dit is juis die rede hoekom die apostel Paulus hierdie teks aan Timotheüs geskryf het.

Paulus was ‘n ou leraar, Timotheüs was ‘n jong leraar wat behoefte gehad het aan Paulus se adviese.

Op daardie stadium was Timotheüs as herder en leraar aktief in die stad Efese.

Paulus het in die verlede ook in Efese gewerk, en het die omstandighede daar goed geken.

In sy adviese aan Timotheüs waarsku Paulus hom vir leuenaars wat daar in Efese was.

Hierdie leuenaars was ook predikers, maar hulle het met ‘n heel ander boodskap gekom.

Hulle het heel anders gedink oor byvoorbeeld die toekoms, oor die lewe na hierdie lewe.

Hierdie leuenaars het byvoorbeeld beweer, mens kan dit in Paulus se tweede Brief aan Timotheüs lees, hfst. 2:18, dat die opstanding alreeds plaasgevind het.

Die Evangelie sê mos dat net soos Christus liggaamlik uit die graf opgestaan het, so sal elkeen wat in Hom glo, in die toekoms ook liggaamlik uit die graf opstaan.

Hierdie leuenaars, hierdie dwaalleraars, het die Evangelie se boodskap egter verdraai, met die gevolg dat dit heel anders geklink het.

Ja, het hulle vroom gesê, ons glo ook in ‘n opstanding.

Maar, wat julle dalk nie besef nie, hierdie opstanding het al plaasgevind.

Vir hulle was dit nie soseer ‘n liggaamlike opstanding uit die graf nie.

Vir hulle was dit eerder ‘n soort geestelike opstanding in jou lewe, waardeur jy anders begin te lewe.

Jy het nou al opgestaan.

Jy lewe nou al ‘n nuwe geestelike lewe.

En by hierdie nuwe soort geestelike lewe pas – het hulle geredeneer – ook ‘n nuwe soort lewensstyl.

En dan het hulle byvoorbeeld gedink aan Jesus se uitspraak, sien Mattheüs 22:30, “Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.”

Dus, het hulle geredeneer, as ons nou alreeds opgestaan het, dan mag ons nie meer trou nie.

Daarom het hierdie dwaalleraars die huwelik in Efese begin verbied.

Verder het hulle ook bepaalde voedsel verbied.

Dit het veral oor vleis gegaan.

Hulle het geredeneer: in hierdie nuwe soort geestelike lewe waarin ons nou opgestaan het, behoort ons weer soos die mense in die paradys te lewe.

Ons is mos nou weer volmaak, net soos in die paradys.

En, weet ons uit Genesis, in die paradys het God vrugte en sade aan die mens tot voedsel gegee, en nie vleis nie (Gen 1:29).

Vleis het eers na die sondeval en na die sondvloed gekom, toe eers het die mense begin vleis eet (Gen 9:3).

Dus, het hulle geredeneer, ons mag nou nie meer vleis eet nie.

Ons moet vegetariërs wees.

Dit is die volmaakte paradystoestand, het die dwaalleraars geredeneer.

En ons moet daarheen terugkeer, omdat die opstanding reeds plaasgevind het.

 

Maar, Paulus het dus vir Timotheüs teen hierdie soort dwaalleraars gewaarsku.

Hulle verdraai die boodskap van die Evangelie.

Hulle klink dalk baie vroom.

Dit klink dalk of hulle baie vroom en streng lewe, want hulle trou nie, en hulle eet nie vleis nie.

Maar eintlik verdraai hulle die boodskap van die Evangelie.

Die liggaamlike opstanding van Christus uit die graf verloën hulle, omdat hulle nie glo dat Christus die krag het om jou en my, elkeen wat in Hom glo, ook liggaamlik uit die graf op te wek nie.

En, dit gaan ons nie nou al nader aan die volmaaktheid bring, as ons in hierdie lewe afsien van die huwelik, of vegetariër word nie.

Al is ons nie van die wêreld nie, is ons nog steeds wel in hierdie wêreld.

As ons nie die hoop gehad het op die ewige lewe nie, dan was ons – soos Paulus in 1 Korinthiërs 15 skryf – die beklaenswaardigste van alle mense (1 Kor 15:19).

Want as gelowiges in hierdie wêreld sien ons dikwels af van baie genot, ons lewe ‘n lewe van toewyding.

Ons spandeer ons tyd om diensbaar te wees in die kerk, om ander te help wat swaarkry.

Die one life – live it lewenstyl is egter anders.

Sulke mense gebruik elke dag om die boksies te tiek van die dinge wat hulle graag wil doen.

Wat vir hulle lekker is.

Daarenteen doen gelowiges nie altyd wat vir hulle lekker is nie.

Ons soek in die eerste plek die koninkryk van God, vertrouende op dit wat Christus beloof het, dat op sy tyd alle dinge vir ons daarby gevoeg sal word.

Ook die huwelik, ook kinders kry, staan in hierdie konteks.

Al ons aktiwiteite word geheilig deur die Woord van God en die gebed.

Alles wat jy doen, kry daardeur ewigheidswaarde, as jy dit in geloof doen.

Al jou daaglikse aktiwiteite is ingebed, word gedra, deur God se Woord en deur gebed.

Lei jy ‘n biddende lewe?

Dan word jou lewe aan God geheilig.

Een van die eerste liedjies ons ons kinders leer, is so waar as dit hierdie boodskap eenvoudigweg soos volg saamvat:

Lees jou Bybel bid elke dag, bid elke dag, bid elke dag.

 

Dit is so waar, en ons leer dit vir ons kindertjies.

Maar doen ons as grootmense dit nog self?

Elke dag met gebed begin, elke dag met gebed afsluit.

En dan is jy elke dag aktief met allerhande besighede.

Maar al daardie allerhande besighede word geheilig, word aan God toegewy, omdat jy vir Hom lewe.

Omdat jy jou daaglikse aktiwiteite so kies en invul, dat hulle in ooreenstemming met die Bybel is.

 

Alles wat God geskape het, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie.

Hiermee ontken Paulus nie dat sonde en bederf in God se goeie skepping gekom het nie.

Maar hy waarsku slegs om die kwaad nie op die verkeerde plek en in verkeerde dinge te soek nie.

Om byvoorbeeld, soos die dwaalleraars in Efese gedoen het, huwelik en seksualiteit heeltemal af te skryf.

Of om byvoorbeeld vleis heeltemal af te skryf.

Ja hierdie dinge kan misbruik word, maar hierdie dinge op sigself is nie verwerplik nie, solank dit met danksegging en volgens God se wil gebruik word.

Huwelik... vleis... ons kan nog meer voorbeelde noem.

Voorbeelde uit vandag se tyd.

Neem televisie byvoorbeeld.

Baie ou mense was krities op televisie.

Hulle het geredeneer: ‘n Kerkmens kan nie ‘n televisie in huis hê nie ...

Want daar is so baie slegte dinge op televisie.

Tog, daar is ook goeie dinge op televisie.

Televisie moet goed gebruik word, met onderskeidingsvermoë, sonder om te vergeet dat televisie ook ‘n groot gevaar kan inhou.

Veral as jongmense nie goed begelei word, as hulle sommer enigiets kan kyk.

En presies dieselfde geld vir internet, selfone, facebook, instagram, ensovoorts, ensovoorts.

Dit is goed as ouers van tyd tot tyd hulle kinders se selfone afvat, sodat hulle kan leer om ook daarsonder te lewe.

Maar in die geloofsopvoeding is dit nie genoeg nie.

Ouers moet juis ook vir hulle kinders leer hoe om as ‘n gelowige verantwoordelik jou selfoon te gebruik.

Christus het nie die huwelik afgeskaf nie.

Hy het wel gesê: “Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” (Matt 5:28)

Selfone op sig is nie sondig nie, maar wel kan dit msbruik word om te sondig, as ’n jongmens – of as ’n ouer mens – dit gebruik vir pornografie.

Ons moet ons jeug leer om hulle selfone goed te gebruik.

Selfone is op sig nie verwerplik nie, dit kan ook met danksegging uit God se hand ontvang word.

Meer as ooit te vore kan ons nou die hele dag lank die Bybel op sak dra, en nie net nie, ook duisende preke wat toeganklik is binne enkele sekondes.

Wat ’n kragtige instrument om ons geloof te bou, en om die evangelie uit te dra!

Inderdaad ’n tegnologie wat ons tyd ons bied, wat ons met groot danksegging uit God se hand ontvang.

Ook ons selfone word geheilig deur die Woord van God en gebed.

Ons huwelike, ons huise, ons daaglikse arbeid, ons vakansies, noem maar op.

In hierdie lewe moet mens by alles die regte onderskeid maak.

Dit wat deur God geskape is, is goed, en dit is nie verwerplik nie.

Jy moet die goeie onderskei van dit wat sondig is.

Ja kan nie alles oor dieselfde kam skeer nie.

As gelowige moet jy die regte onderskeidingsvermoë aanleer, en ook toepas in jou lewe op elke situasie, op elke onderwerp.

 

Dit is wat ons probeer doen in die opvoeding van die jeug.

Al doen ouers dit dikwels met gebreke, al is ons dikwels kortsigtig.

Maar die Woord van die Here is wel volmaak.

Dit is ‘n helder lig wat skyn in ‘n onvolmaakte wêreld, ook te midde van ‘n opvoeding met baie gebreke.

Elke keer kan ons weer terugkeer, as ouers en kinders, grootouers en kleinkinders, na die lig van God se Woord.

Wie sy lewe daarvolgens inrig, wie elke keer weer bereid is om daarna te luister, kan gelukkig geprys word.

 

Hierdie kosbare Woord van God spreek van ‘n ewige lewe, spreek van opstanding uit die dood.

Oor die ewige lewe openbaar die Bybel vir ons lank nie alles nie.

Dit wat ons wel daaroor in die Bybel hoor, wys ons in ‘n bepaalde rigting.

Soos Jesus gesê het (Matt 22:30): “in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie”.

In die ewige lewe gaan ons verhoudings tot mekaar anders wees.

Tussen man en vrou, tussen ouers en kinders.

Mens kan dit ‘n bietjie vergelyk met hierdie lewe as jy jonk is en jy is kind van jou ouers en jy woon by hulle tuis.

As kind het hulle alles oor jou te sê.

Maar as jy volwasse geword het, verlaat jy die huis en word jy selfstandig.

Ja, hulle is dan nog steeds jou ouers, maar tog staan jy nou in ‘n ander hoedanigheid teenoor hulle.

Of nog ‘n voorbeeld: toe jy kind op skool was, was daar iemand, die onderwyser, wat jy byvoorbeeld juffrou genoem het.

As jy inmiddels volwasse geword het en jy sou haar vandag, baie jare later, weer ontmoet – en jy is nou al lankal uit die skool – dalk noem jy haar vandag nog steeds ‘juffrou’, tog is sy nie meer streng gesproke jou juffrou nie.

Die lewe beweeg aan, en die verhoudinge waarin ons tot mense staan, verander ook met die verloop van tyd en omstandighede.

 

As ons hierdie lewe met die toekomstige lewe vergelyk, kan mens ook sê: ja daar is kontinuïteit, daar is dinge wat dieselfde bly, aan die ander kant is daar ook dinge wat gaan verander.

Ons kan eintlik nog so weinig begryp van die volmaakte lewe.

Maar God se Woord, die Bybel, is wel duidelik dat daardie lewe op koms is.

Vir elkeen wat sy vertroue op Jesus Christus stel.

Ons mag daarna uitsien, hoe weinig ons dit nou nog kan bevat en plaas.

 

En vir die hede kan ons mekaar net oproep, net soos Paulus vir die jong Timotheüs opgeroep het:

Hou vas die kosbare skat wat julle gekry het.

“Bewaar jou goeie pand” (2 Tim 1:14).

Pand, of skat, of erfenis, hier word verwys na die kosbare Evangelie.

Dit is ‘n geskenk, onverdiend, gratis het jy dit gekry, maar tog so kosbaar!

Moenie dat iets of iemand jou geloof in die Evangelie wegvat nie.

Paulus verwys na Timotheüs se ma, asook na sy ouma, deur wie Timotheüs hierdie kosbare skat mog ontvang:

2 Timotheüs 1:5, daar skryf Paulus: ek herinner my “die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice, en wat – daarvan is ek oortuig – ook in jou is.”

Geliefde gemeente, mag, net soos by Eunice en Loïs die geval was, mag dit ook gesê word van ons en ons kinders en ons kleinkinders, dat daardie selfde kosbare skat oorgegaan het van generasie op generasie.

Dat die geloof mag voortleef in ons nageslag.

Dat ook hulle lewens geheilig, toegewy sal wees deur Woord en gebed.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 1 Timotheüs 4 & 6:3-21

Teks: 1 Timotheüs 4:4-5

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Watter dinge het die dwaalleraars in Efese verbied?
  2. Wat leer die Here Jesus ons oor die huwelik in hierdie lewe en in die toekomstige lewe?
  3. Watter weg het die HERE gebruik om Timotheüs tot geloof te bring?
  4. “Alles wat deur God geskape is, is goed.” Geld dit ook vir selfone? Geld dit ook vir atoombomme?
  5. Hoe kan selfone geheilig word deur die Woord van God en deur gebed? (1 Tim 4:5)
  6. Noem die 5 dinge waarvoor jy jou selfoon die meeste gebruik.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 63:3,4

Wet

Ps 86:6

Gebed

Skriflesing: 1 Timotheüs 4 & 6:3-21

Ps 78:1,2

Teks: 1 Timotheüs 4:4-5

Preek

Ps 34:4,6,7

Gebed

Kollekte

Ps 145:1,2,3,5

Seën