Beelddraer van sy Skepper

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2022-02-27
Text: 
Genesis 1:26-28
Preek Inhoud: 

Preek: Genesis 1:26-28

 

Die kerkraad het vir hierdie jaar weer ‘n tema gekies, naamlik:

Onderrig en laat onderrig.

Dit is in samewerking met die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn, en ons buurgemeente VGK Pretoria.

As ons besin oor hoe om ons kinders en die jeug in die algemeen, te onderrig en te laat onderrig, is dit belangrik om by die begin te begin.

En dit is die vraag: Hoekom bestaan die mens op aarde?

Wat is die mens se doel op aarde?

Waarvoor gaan ons ons kinders opvoed?

 

Tema: Die mens se doel op aarde is om beelddraer van sy Skepper te wees

 

Om hierdie vrae te beantwoord, neem ons ons uitgangspunt in die Bybelboek Genesis.

Eerstens, ons glo in ‘n God wat hemel en aarde geskep het, en ook die mens.

En omdat Hy die mens geskep het, is Hy die regmatige Een wat bepaal wat sy doel op aarde is.

Meer nog, die Here het die mens doelmatig geskape.

Ons liggame lyk soos hulle lyk, ons verstand, ons siel, ensovoorts, om ‘n doel te vervul.

As daar ‘n baba gebore word, dan bevat daardie baba reeds al die potensiaal om daardie doel te kan vervul.

As ‘t ware soos ‘n ongeslypte diamant, wat net nog nodig het om geslyp te word, om dit wat daarin sit, te voorskyn te laat kom en te laat skitter.

 

Wat die mens se doel op aarde is, lees ons reeds hier in Genesis, direk nadat die mens geskape is.

God sê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor alles op aarde.

Die mens kry ‘n unieke posisie op aarde, vergeleke met alle ander geskape dinge.

Die woord heers het vir ons ‘n negatiewe konnotasie gekry, maar dit is hier positief bedoel.

Dieselfde Hebreeuse woord word ook in Psalm 72:8 gebruik, waar die regeringstyl van die volmaakte koning in diens van God beskryf word.

En dieselfde geld ook vir die woord onderwerp in vers 28.

Ook dit moet gelees word binne wat in die konteks bedoel word.

Die Hebreeuse woord vir onderwerp kan sowel ‘n negatiewe as positiewe konnotasie hê.

In ‘n negatiewe konteks kan dit byvoorbeeld beteken om van iemand ‘n slaaf te maak, in die sin te onderwerp, of dit kan selfs beteken dat ‘n man ‘n vrou verkrag.

Maar so ‘n negatiewe lading het die woord hier in ons teks egter totaal nie.

Die woord onderwerp is hier juis positief bedoel.

Die mens moet bewind voer van see tot see, tot die eindes van die aarde, oor alle geskape dinge, diere, visse, voëls, bome, plante, ensovoorts.

 

Hiermee te make het wat ons ook in die teks lees, naamlik dat die mens na God se beeld geskape is.

Dit beteken nie dat die mens soos God lyk, wat uiterlike gelaatstrekke betref nie.

Die woorde wat hier vir beeld en gelykenis gebruik word, kan ook vertaal word as beeld van, of model van ...

Hierdie woorde moet in die konteks verklaar word, hoe dit verduidelik word in die woorde wat daarop volg, naamlik dat die mens – soos God – moet heers, moet regeer.

God is Gees, Hy is onsigbaar vir die mense-oog.

Om God se beelddraer te wees, beteken nie om fisies soos Hom te lyk nie, maar namens Hom te regeer, om Hom te verteenwoordig op aarde.

Ons is as ambassadeurs, ons is as onderkonings aangestel.

As mense beslis ons oor die beswil van diere en plante en bome, soos God oor ons beswil beskik.

Dit is ‘n uiters verantwoordelike posisie.

Vir hierdie verantwoordelike posisie het God die mens dan ook toegerus.

Al is die mens nie die grootste en sterkste vergeleke by al die diere nie, is die mens wel in staat om alle diere te onderwerp.

Hy het ‘n verstand gekry wat hom sterkter en magtiger maak as ‘n olifant, of as die magtige walvisse in die oseaan, of as die giftigste slange.
 

Adam en Eva kon hierdie groot taak om God se beelddraers te wees, egter nie alleen uitvoer nie.

Daarom het God hulle as man en vrou geskape.

Daarom het Hy hulle vrugbaar gemaak.

Daarom het Hy hulle die bevel gegee: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.

As hulle nageslag talryk sou word, sou hulle steeds beter in staat wees om hierdie Godgegewe taak te kan uitvoer.

 

Egter, u weet almal wat toe gebeur het.

In plaas van om God se beelddraers te wees, hulle taak volhoudend op aarde uit te voer, het hulle in diep sonde geval, in opstand teen hulle Skepper en Opdraggewer.

Wat ons uit Genesis kan opmaak, is dat hulle nog maar net ‘n klein begin gemaak het met hulle taakomskrywing as beelddraers, toe hierdie sondeval al plaasgevind het.

Na die sondeval het hulle sterflik geword, wat beteken het dat hulle deur eie skuld hulle Godgegewe taak op aarde nie sou kon voltooi nie, omdat hulle voortydig te sterwe sou kom.

Tot op vandag is dit nog steeds die geval, gemeente.

Ons is tereg verontwaardig as ons moet meemaak dat iemand in die krag van sy lewe moet sterwe.

‘n Jong man wat jare se opleiding agter die rug het, wat juis suksesvol begin word in sy beroep, maar dan word dit ineens kortgeknip.

Of ‘n jong vrou wat uit die lewe weggeruk word, terwyl sy nog volop besig is met die opvoeding van klein kindertjies.

Ons kan verontwaardig wees teenoor God.

Maar aan die einde van die dag is die waarheid dat ons as mense in sonde geval het, saam met Adam en Eva, en daarom sterflik geword het.

Dit is ons skuld dat ons ons opdrag op aarde nie enduit kan voltooi nie.

Ons het die dood oor onsself afgeroep.

 

Deur die sondeval is Adam en Eva van hulle titel gestroop.

Hulle mog nie meer onderkonings wees nie.

Pleks van beelddraers van God, verteenwoordigers van God op aarde, het hulle nou beelddraers van Satan geword.

Satan wat daarop uit is om alles wat God so mooi geskep het, stukkend te maak.

En is dit nie nog steeds so nie!

Die mens gebruik nie meer sy geskape talente om goed vir alles op aarde te sorg nie.

Hy misbruik nou sy talente om net vir homself te sorg, homself te verryk, sy eie belange na te jaag ten koste van ander mense, en ook ten koste van die skepping.

Die skepping raak al hoe meer gehawend.

Tereg vertoorn die HERE Hom hieroor.

Dit het tot ‘n dieptepunt gekom, net voor die sondvloed.

God het in sy reg gestaan toe Hy besluit het om die wêreldbevolking uit te roei en ‘n nuwe begin te maak.

 

Maar daar is nog iets wat Genesis ons leer.

Behalwe vir die lyn van God se straf wat soos ‘n rooi draad deur die geskiedenis begin loop, was daar ook ‘n ander lyn.

Die lyn van God se genade.

Dit het met die moederbelofte begin (Gen 3:15), en sy genade het ook geblyk toe Hy gekies het om Noag en sy gesin te red.

Met hulle het Hy toe ‘n nuwe begin gemaak.

En wat opval – Genesis 9:1-2 – is dat God aan hulle weer dieselfde opdrag gee as aan Adam en Eva.

Ook hulle kry die opdrag om vrugbaar te wees, te vermeerder en die aarde te vul.

Alle geskape dinge – diere, voëls, visse – word ook in hulle hand gegee.

Hulle sal vir die mens vrees, omdat die mens so magtig deur God geskape is.

Maar Noag en sy nageslag sal daardie magtige posisie ook moet gebruik om as beelddraers vir die skepping te sorg.

 

Dieselfde opdrag dus aan Noag as destyds aan Adam en Eva.

Juis aan Noag, die gelowige.

Hierdie opdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder word nie aan die ongelowiges gegee nie.

God het hulle juis laat verdrink in die sondvloed.

Hulle het hulle reg om op aarde te woon, verspeel.

Gemeente, hierdie feite is ook nog vir vandag relevant.

Nie alle mense op aarde, Christene en nie-Christene, kry die opdrag om te vermeerder nie.

Na die sondvloed is dit die werklikheid dat hierdie opdrag gegee word aan die gelowiges, hulle wat uit genade in hulle posisie as beelddraers herstel is.

Nie-gelowige ouers moet besef wat hulle doen as hulle kinders kry.

As hulle nie van plan is om daardie kinders op te voed om hulle Skepper te leer ken, en Jesus Christus te leer liefhê as hulle Verlosser nie, dan word sulke kinders grootgemaak vir die hel, as God nie genadiglik sou ingryp nie.

Laat ons eerlik wees, die aarde is veels te vol van mense wat net hulle eie belange soek, en dit ten koste van ander mense en van die hele skepping.

Dit is slegs deur ‘n opvoeding wat die jeug na Christus bring, dat van nature sondige kinders kan leer om hulle taak as verantwoordelike beelddraers weer op aarde te kan begin vervul.

En laat ons eerlik wees, ook as gelowiges, al is ons amptelik in ons posisie as beelddraer herstel deur Christus se betaling vir ons skuld aan die kruis, is ons uitoefening daarvan nog vol gebreke.

Deur die werking van die Gees in ons maak ons nog maar ‘n klein begin daarmee.

Tog mag die begin daar wees, en die skepping skep nuwe moed as dit merk dat daar ook mense is wat deur Christus vernuwe is, wat anders op aarde begin lewe, wat begin omgee, en dat daar kinders is wat opgevoed word om as verantwoordelike onderkonings op aarde te regeer.

 

En dit bring ons terug, gemeente, by die jaartema: onderrig en laat onderrig.

Soos ek gesê het, in hierdie preek begin ons by die begin.

Ons vra die vrae:

Hoekom bestaan die mens op aarde?

Wat is die mens se doel op aarde?

Want as dit helder is, dan word ook helder waarvoor, in watter rigting, ons ons kinders moet opvoed.

Wat is die doel wat ons met die opvoeding wil bereik?

Watter soort mens moet na om en by twintig jaar ‘afgelewer’ word, opgevoed deur sy ouers en deur ander?

Ons kan hierdie vraag begin beantwoord vanuit die mens se oorspronklike doel op aarde.

‘n Mens wat gereed is om sy taak as beelddraer op aarde te wil uitvoer.

Elke kind word in sonde ontvang en gebore.

Hierdie opvoeding sal dus nie net inhou dat ons hulle al die diere se name leer, en alles van wiskunde en fisika en aardrykskunde en biologie en en en nie.

Hierdie opvoeding hou primêr in dat hulle in staat sal wees om teen hulle sondige geaardheid te kan stry.

Want anders sal hy of sy ‘n egoïstiese mens word, wat nie ‘n verantwoordelike beelddraer sal kan wees nie.

Maar gelowige ouers leer hulle kinders om in Christus hulle sonde en opstand raak te sien en te bely, daaroor hulle te verootmoedig, hulle reiniging en saligheid buite hulleself in Christus te soek – soos die Doopformulier sê – en van Hom alles te verwag, ook om deur sy Gees vernuwe te word en so herstel te word en in staat gestel te word om hulle taak as beelddraer weer te kan uitvoer.

Sonder Christus kan geen mens, hoe goeie opvoeding en opleiding hy of sy ook ontvang het, ‘n rentmeester, ‘n onderkoning, ‘n beelddraer van God op aarde wees, soos God oorspronklik bedoel het toe Hy die mens geskape het nie.

Maar in Christus is ons ‘n nuwe skepping, ‘n herskepping.

Soos Paulus skryf in Kolossense 3:10: “julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.”

Die nuwe mens word weer beelddraer van sy Skepper.

Deur die krag van sy Gees kry ons dit weer reg om God en ons naaste lief te hê, kry ons dit reg om goeie, opbouende, edel dinge met en vir sy skepping te doen, om dit te beskerm en te bewaar teen die vernielsug van die Satan, en die vernielsug van hulle wat Satan se beelddraers is.

Deur die krag van die Heilige Gees mag ons die skepping weer begin ontwikkel volgens die potensiaal waarmee dit geskep is.

En dit is natuurlik ‘n pragtige, ‘n heerlike opdrag.

‘n Boer kan uit die grond haal wat dit kan oplewer, sonder om dit te oorbewei of te verarm.

‘n Chemikus kan verbindings wat reeds in die skepping verborge is, ontdek en nuttig maak.

‘n Ingenieur kan natuurwette gebruik, en kennis van materiale, om nuttige dinge te ontwikkel.

‘n Onderwyseres kan talente in kinders raaksien en ontwikkel, met die doel om hulle te vorm om eendag beelddraers te wees op daardie gebied waar hulle ‘n uitnemende prestasie sal kan lewer.

‘n Kunstenaar het die talent om werklik te kan waarneem.

‘n Musikus het die talent om die klanke van die skepping te gebruik om die mooiste musiek daaruit te tower, en skrywers en digters om dieselfde met woorde te doen.

En so kan ons aangaan en aangaan en aangaan.

Die skepping is oneindig ryk, en die moontlikhede in die skepping oneindig divers, waarvan daar nog maar net ‘n handjievol ontdek is.

Ja, ongelowiges doen ook ontdekkings.

Deur God se geduld voorkom dat dit in verreweg die meeste gevalle dat ongelowiges se optrede nie rampsalig word vir die mensheid en die aarde nie.

Maar as die mens volledig aan homself oorgelaat sou wees, sou hy alles wat hy ontdek, net vir sy eie belang gebruik, en dit lei uiteindelik tot vernieting van alles, of dit nou kennis is om atoombomme en wapens te maak, of mediese kennis om ou mense en ongebore babas dood te maak, of wat ook al.

En so sug die skepping en dra swaar aan die mens se opstand en uitbuiting.

Maar gelukkig, in Christus is daar ‘n nuwe begin gemaak.

Daardie nuwe begin het al in Genesis begin, na die moederbelofte, toe God Adam en Eva – al het hulle sterflik geword – uit genade – vooruitsiende op Christus se soenoffer – as sy beelddraers herstel het.

Daardie nuwe begin het onstuitbaar momentum gekry, toe Christus na die aarde gestuur is.

Daardie nuwe begin het onomkeerbaar geword, toe Christus alle skuld aan die kruis betaal het.

Daardie nuwe begin raak steeds meer sigbaar, soos wat die Heilige Gees die gelaat van die aarde vernuwe, en daarvoor ook hulle gebruik wat in Christus herstel is as beelddraers.

Daardie nuwe begin sal voltooi word met die herskepping, as Christus terugkom, en hemel en aarde een sal word.

 

Geliefde broers en susters, in hierdie groot konteks staan ook ons vandag, leef ons ons lewe, die jare wat ons toegemeet word in die 20ste en 21ste eeu, en dalk is daar onder ons ook hulle wat nog die 22ste eeu sal ingaan, as Christus nog nie teruggekom het nie.

As volwassenes sal ons dit nie meer beleef nie.

Maar die kinders wat nou gebore word, en wat ons tans besig is om op te voed, gaan dit nog beleef.

As ons dan lankal in die graf lê, sal hulle voortgaan om die lig van die Evangelie op aarde te laat skyn, nie net omdat hulle kerk toe gaan nie, maar juis ook as beelddraers in hulle beroepslewe.

En op hulle beurt sal hulle weer hulle kinders opvoed om goeie rentmeesters te wees, om nog dieper in die 22ste eeu ‘n lig op ‘n berg te wees in ‘n afvallige wêreld.

So gaan Christus voort om sy kerk te vergader.

Ons kry vandag die opdrag, juis as gelowiges, om vrugbaar te wees en te vermeerder.

Om nie net kinders te kry nie, maar hulle ook Godvresend op te voed en te laat onderrig.

Die kerk in die toekoms is nie van ons afhanklik nie.

Maar Christus skakel ons wel in, en juis as beelddraers gee Hy ons ‘n groot verantwoordelikheid.

Hy sal rekenskap eis, as ons nalaat om hierdie taak te doen.

Want hy, soos Jesus gewaarsku het, wat een van hierdie kinders in die verbond laat struikel, dis sal vir hom beter wees “dat 'n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.” – Mattheüs 18:6.

 

Gemeente, ons het ‘n begin gemaak met ons jaartema: onderrig en laat onderrig.

Ons het teruggegaan na die begin van die skepping.

Ons het die vrae gevra:

Wat is die doel van die mens op aarde?

Watter implikasie het dit vir hoe ons ons kinders opvoed?

Om ‘n goeie beelddraer, ‘n goeie onderkoning van God op aarde te kan wees, daarop is die opvoeding gemik.

In Christus is ons herstel in ons posisie en taak as beelddraers van God.

Sonder Hom sal ons dit nooit kan doen op so ‘n manier dat dit weer God se goedkeuring kan wegdra nie.

Deur sy Gees kry ons dit, al is dit treetjie vir treetjie, weer reg om goeie beelddraers te wees.

Daarom voed ons die jeug op om Christus-vervuld en Gees-vervuld te wees.

Dan sal die res ook regkom.

Ouers doen dit na die beste van hulle vermoë.

En omdat hierdie taak by verre te groot en swaar is vir een of twee ouers om alleen te dra, daarom laat hulle graag hulle kinders ook deur ander onderrig.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Genesis 1 & 9:1-7 & Kolossense 3

Teks: Genesis 1:26-28

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wat word in Genesis 1: 26 en 28 bedoel met die woorde heers en onderwerp?
  2. Wat beteken dit dat God de mens na sy beeld geskape het?
  3. Met watter doel het God Adam en Eva vrugbaar gemaak?
  4. In Genesis 1:26-28 leer ons wat God se oorspronkelike doel vir die mens op aarde was. Wat het dit met die opvoeding van kinders vandag te make?
  5. Watter boodskap het Jesus in Mattheüs 18:6 vir ouers wat nie hulle kinders Godvresend opvoed nie?
  6. Waarom is dit so belangrik dat ‘n ouer ‘n kind opvoed om Christus- en Geesvervuld te wees?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 8:1-4

Wet

Sb 50:4-7

Gebed

Skriflesing: Genesis 1 & 9:1-7

Ps 72:1

Kolossense 3

Ps 72:2,9

Teks: Genesis 1:26-28

Preek

Sb 36:1,2,5

Gebed

Kollekte

Ps 8:5-7

Seën