Blydskap vir jou vandag!

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-01-23
Text: 
1 Petrus 1:8,9
Preek Inhoud: 

Inleiding:

Kinders: maak Jesus jou bly of droewig?
Daar is baie blye liedjies wat jy dalk reeds geleer het:
‘Loof hom met die tromme’ en ‘My God is so groot’.
Daar is nog liedjies, soos:
‘Dit borrel in my, want ek is so bly, Jesus het my lief. Vir my het hy gesterf en gered van verderf. Hy neem weg my sondeskuld, dit borrel, dit borrel in my. Kom ons verheerlik sy naam! Die liefde van Jesus is wonderbaar’.

Jesus maak jou bly! Jy kan blye liedjies sing, want:
- Jesus is lief vir jou
- jy weet: Hy het vir my sondes gesterf, nou sal God my nie straf nie. Ek mag God my Vader noem!
- en die toekoms is opwindend: ons sien uit na die dag dat Jesus terugkom. Dan begin die heel mooiste tyd: alle siekte en dood en trane sal hy wegneem, en hy bring ’n nuwe wêreld. Dit sal alles weer mooi word!
Blydskap is ’n geskenk van Jesus. Dit is ’n kenmerk van christene: dat ons bly is. Het jy geweet blydkskap is deel van die vrug van die Gees?

Petrus skryf:
“Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”
2020 Vertaling sê selfs:
Julle jubel met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap!

Tema: Blydskap vir jou vandag!
1 - Almal wat glo, het hom lief sonder om hom te sien
2 - Hy maak jou geweldig bly.
3 - Spreek dit maar uit!

1  Almal wat glo, het hom lief sonder om hom te sien

Petrus was drie jaar lank in Jesus se geselskap en het hom met sy oë gesien, met sy ore gehoor en met sy hande vasgegryp.
Is hy verbaas dat ander mense (ons ingesluit) in Jesus glo sonder dat hulle (en ons) hom gesien het?
Ek weet nie of hy verbaas is nie, maar in sy woorde hoor ek dat dit opmerklik is:
Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie.
Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid.

Al die mense wat nie self vir Jesus liggaamlik ontmoet het nie, kan tog in hom glo – deur te luister na Petrus en die ander apostels.
Wie hulle woorde glo, deel in die gemeenskap met Christus, so sê Johannes in 1 Johannes 1,3:
Jesus, die Lewe, wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. En ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees.

Geloof kom dus deur te luister na die mense wat Jesus self gesien en gehoor het:
• Hulle het die brood geëet wat hy op ’n wonderlike manier vermenigvulig het.
• Hulle het sy liggaam aan die kruis sien hang en het hom hoor sê ‘dit is volbring’.
• Hulle was getuies van sy opstanding en het saam met hom geëet, en hulle vingers in die gate in sy hande gesteek.

God het hulle vir ons gestuur om oor Jesus te vertel. Ons kan vandag steeds die boeke lees wat hulle geskryf het: dis Gods middel om ons tot geloof in Jesus te lei.

Dit is goeie nuus: dis nie nodig om hom met jou oë te sien voordat jy hom ontmoet en in hom glo nie. Jesus kom na ons toe wanneer ons die woorde van sy apostels hoor en lees. Hulle het vir ons vertel, ons het die verkondiging van die goeie nuus van Jesus gehoor.
En die Heer wat in die woorde van die Skrif, die boek van God, na ons toe kom, is geloofwaardig, wonderlik, lofwaardig, en lieflik.

Onthou hoe besonders dit is dat Jesus sondaars uitkies en red!
Hy kyk nie of mense goed en netjies is en agting wêrd is nie. Hy het gekom om verloorders, wat skuldig is aan hul eie ellende en dood, te red.
Hy, die Skepper van die wêreld, het 33 jaar geleef en net tyd gehad om sy publieke missie te volbring, maar hy het tyd gehad vir klein kindertjies, hulle in sy arms gesluit en geseën.
Wie na Jesus toe kom, hoor die ontferming in sy stem, sien sy vriendelike aangesig, en word getref en verander deur sy liefde. In alles wat hy doen, wys hy sy nederige en vriendelike hart: die Vaderhart van God.

Ja, dit bly ’n wonder in ons tyd - mense is visueel georienteer, en baie mense dink hulle kan nie glo in iemand wat hulle nooit gesien het nie.
Ons mag vir hulle vertel dat dit tog moontlik is. Verbasingwekkend! Dis goeie nuus: jy dink jy sal nie in hom kan glo nie?
Ons kan vir hulle sê: ‘Ons glo in hom omdat hy voortreflik en uniek is. Hy is die redder wat ons nodig het.
En deur die krag van die evangelie en van die Gees van Jesus kan jy ook in hom glo!’
Nou luister ons na die tweede deel van die teks:
dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

2  Hy maak jou geweldig bly.

Hoor jy hoe uitbundig Petrus is?
Dis asof jy ’n pragtige vuurwerk kyk, en jy raak nie klaargekyk nie: wow, kyk daai vuurpyl! Die pers een: wonderlik. En die groen een, nog een! Wow, diep rooi en geel en wit…
Dit hou net nie op nie, dit ontplof orals; jou oë en ore skiet te kort om alles in jou op te neem en te geniet.

Die 2020 vertaling sê:
“julle jubel met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap”.

Dit vang goed vas wat die woord beteken. In Engels sê mens: ‘you are ecstatic, jumping of joy because of the inexpressible and glorious joy you receive.’

Mens raak sommer opgewonde, begeesterd as jy dit lees.
Is dít wat dit beteken om ’n christen te wees?

Hoor jy? Jesus wil vir my, vir ons almal, soveel blydskap gee!
En dit is nie iets wat net in die toekoms vir ons wag nie!
Petrus sê dit in die hede, in die teenwoordige tyd, nou, dadelik:
dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Die blydskap begin die moment dat jy op Jesus begin vertrou. Vandag reeds!

Ek het dit nie besef nie…
Ek kyk so dikwels na die dof kant van die lewe, my verwagtings is so laag.
Ek het gedink die vreugde sou eers begin wanneer Jesus terugkom…

En daarom loop ek soveel vreugde mis.

• Wat is die bron van ons blydskap?

Wat bring soveel blydskap?
Petrus praat in die eerste 12 verse van hoofstuk 1 oor die hede en die toekoms.
Hede en toekoms is aan mekaar verbonde.
Die hoop op die erfenis trek die toekoms in die hede, en dit reën blydskap.

Die hele gedeelte v.3-9 praat hieroor.
Petrus begin met ’n loflied op God, want hy het gelowiges wedergebore laat word. Die wedergeboorte is die begin van ’n nuwe lewe, die Gees gee vir gelowiges ’n nuwe hart.

Daardie wedergeboorte bly nie onsigbaar en onmerkbaar nie: ons is wedergebore tot ’n lewende hoop en ons is bestem vir ’n erfenis.
Beide gee vastigheid, en dit verander ons hele lewensuitkyk:
1) Die opstanding van Jesus waarborg ons lewe. Dit is die anker van ons hoop, want die lewende Heer deel sy lewe met jou. Dit lei tot vernuwing van ons lewe, nou!
2) Die erfenis is onverwoesbaar (v.4). Dit gaan nie verlore nie: dis permanent.
Maar.. daar is baie tyd tussen die eerste eeu en die terugkoms van Jesus. Hoe weet ons dat ons daardie erfenis regtig sal ontvang?
God bewaar die gelowiges deur die geloof. Almal dus wat in geloof aan die beloftes vashou en in geloof uitsien na Jesus se koms, sal virseker die erfenis ontvang!

• Nou reeds

Nou is daar iets besonders aan die gang.
Die erfenis is ’n toekomstige ding: ons verwag dit nog.
Maar Petrus sê: ons ontvang die doel vd geloof: ons redding.

Nou reeds, vandag. En daarom juis ons nou reeds met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Dit is snaaks!
Die redding is werklikheid, want Jesus het gely, hy het gesterf en hy het opgestaan. It’s a done deal. Ons is seker daarvan.
Na sy hemelvaart verwag ons die terugkoms van Jesus, en dan sal hy die redding volledig maak.
Dit word dan afgerond, volmaak.

• Siel = die hele persoon

Dalk dink jy by die woorde ‘die verlossing van ons siele’ aan die toekoms.
Maar die siel is hier nie ’n onderdeel van ons nie. Die siel is hier jyself, jou hele persoon.
Die uitkoms, die doel van die geloof is die redding van ons hele persoon.
Petrus maak geen skeiding tussen siel en liggaam nie. Beide v. 3 en v. 9 (psychè: siel?) gaan oor die redding van die volledige mens
Daardie hele pakket is die redding van ons siele: die redding van ons hele persoon, ons hele bestaan, alle aspekte van ons lewe.
Jesus maak dit nou reeds nuut, en sal dit by sy terugkoms finaal volmaak maak.

Dis is so so mooi aan die hoop van elke christen: die redding word nie na ’n toekoms geskuif wat ver weg is nie. Nou reeds woon blydskap in jou hart.
Want Jesus het opgestaan. Hy het sy Gees vir jou gegee. Díe Gees maak ons lewend in Christus en stort sy liefde en vreugde in ons harte uit.

• Slaggat

Daar is ’n groot slaggat wat ons moet vermy.
Baie mense dink dat ’n Christen nie in die moment kan leef en dinge kan geniet nie omdat hy heeltyd op die toekomsdroom gerig is en daaraan dink. Jesus roep ons om met blydskap te leef en uit liefde te leef.
Hoe leef jy vandag in hierdie wêreld? Is jy betrokke, is jy vernuwend besig gemotiveer deur die opstanding van Jesus?
Hoeveel christene dink nie dat social justice of omgewingsbewaring eintlik minder belangrik is nie? Dis dinge van hierdie aarde, en ag, die aarde sal tog vergaan…

Nee!
Onthou: elke ware gelowige is al klaar wedergebore, het ’n nuwe lewe van Christus ontvang en leef met die blydskap van Christus in hul harte.
Nou is dit ons roeping om as koninkryksburgers te leef, en vrede en regverdigheid en vreugde te saai. (dink aan bergrede: salig die vredestigters)

Met daardie blydskap in hulle hart kan gelowiges selfs verdrukking, vervolging, aanvegting en verdriet trotseer, perspektief behou, en steeds bly wees!

Dink net hoe baie mense probeer op hulle manier teenslae oorwin: hulle vertel vir ons dat ons nie in ons omstandighede moet vaskyk nie.
By vas, wees tough! sê mense wat die storms van die lewe getrotseer het.
‘Dink positief!’ sê die self-help ghoeroes. Dit is die krag van jou denke. As jy in jou drome glo, kan jy jou omstandighede oorwin en triomfeer oor teleurstellings. Dan is jou lewe die moeite werd.

Maar daardie oplossing is afhanklik van jou dinkkrag, en veral van jou wilskrag. Dis asof jy jouself aan jou eie hare uit die modder uit trek.
Maar wie waarborg vir jou dat jy dit kan regkry, en dat die toekoms regtig so blink is soos wat jy kan droom? Niemand.

Ons hoop op die erfenis, die glorieryke koninkryk van God, is vas veranker in Christus.
Daarom kan ons bly wees onder alle omstandighede.

3  Spreek dit maar uit!

• Onuitspreeklik: dus stil bly?

Nog een ding. As die blydskap heerlik en onuitspreeklik is, hoe kan ons dan daaroor praat?

Ons praat hier oor die geheim van die geloof: ons glo in Jesus, al het ons hom nie gesien nie.
Die geloof waarmee jy Jesus omhels, gee wel liefde en blydskap, maar dit bly ’n diep geheim:
- Ons sintuie kan nie waarneem wat ons glo nie;
- Ons ervaring van pyn, lyding, en verdriet weerspreek wat ons glo.

Dis hoekom soveel mense nie in Jesus glo nie!
Paulus sê in 1 Korinthiërs 2:
Niemand van die heersers van hierdie wêreld het (die heerlikheid) geken nie—want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie — maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.
Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar,
(1 Korinthiërs 2:8–10)

Tog kan ons dit in woorde uitspreek. God gebruik self baie woorde om die onuitspreeklike blydskap vir ons te beskryf, sodat ons dit mag ken en ontvang.
Ons woorde gaan te klein wees om die heerlikheid goed vas te vat, soos ’n broek wat jy in graad 3 gedra het, te klein is vir graad 6 of 8.
Woord skiet tekort, maar ons mag en moet tog woorde gebruik.

• Onbegrip, spot

Vir ons is dit al klaar ’n hindernis dat Jesus, sy koninkryk en die toekomstige erfenis onsigbaar is.
En vir ongelowiges is dit volledig ondenkbaar, dis nonsens vir hulle.
Mense sal jou spot omdat jou geloof so snaaks klink. Het dit jou reeds oorgekom? Dit sál gebeur as jy jou geloof ernstig neem, daaroor praat en dit uitleef.
Reken maar op onbegrip, bespotting en teenstand, en berei voor wat jy kan en wil sê. Dan kan jy die geleentheid die beste gebruik (Ef5,16: koop die tyd uit, omdat die dae boos is.). Hoe anders kan ongelowiges daaroor hoor, as christene stilbly?

Laat ons uit die Bybel leer hoe ons die onuitspreeklike in woorde kan uitspreek.
Ek dink ons kan meer tyd en energie spandeer om daaroor met mekaar te praat. Help mekaar om dit te verstaan en om dit onder woorde te bring. Probeer om jou blydskap uit te spreek en te wys!

Probeer maar om die kontoere van die onuitspreeklike vreugde te beskryf. Soos ’n sketsmatige tekening wat dinge ruweg sigbaar maak.
Ja, dit is onvolledig. Maar God het ons gemaak en gered om sy naam te eer. Wees bly met Christus, met jou redding, met die erfenis!
Spreek jou blydskap uit en moenie skaam wees nie.

Wees bly!
Dan eer jy Christus.
En jy sal verras wees: om jou blydskap uit te spreek, maak jou blydskap net groter!

Amen

Liturgie: 

Psalm 150: 1,2

Gebed

Psalm 40: 3,4

Lees: 1 Petrus 1:3-12

Skrifberyming 35

Preek:1 Petrus 1:8-9

Psalm 40:5

Sing Geloofsbelydenis

Gebed

Skrifberyming 33.