Christus saai sy Woord op aarde

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2022-02-20
Text: 
Lukas 8:4-15
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 8:4-15

 

Daar is min gelykenisse wat so naby aan die werklikheid staan as hierdie een.

Toe ek op die sendingsveld gewerk het, het ek dit voor my oë sien gebeur.

En ook in gevestigde gemeentes sien ampsdraers dit keer op keer gebeur – hoe hierdie gelykenis waar word, hoe dit uit die lewe gegrepe is.

 

Tema: Christus saai sy Woord op aarde

 

Die saaier gaan uit, en soos dit in daardie tyd gewerk het, in die een hand het hy ‘n sak gedra waarin die saad was, en met die ander het hy hande vol koringkorrels geskep en dit uitgestrooi.

Deesdae word die saaiwerk deur masjiene gedoen, en sien mens hoe die koring of die mielies in reguit lyne groei.

Destyds was dit nie so nie.

Die koring het gegroei, daar waar die saad geval het.

Ons gaan later kyk na al die verskillende plekke waar dit geval het.

Maar wat voorop staan, is dat al die saad dieselfde is.

Al die saad kom uit dieselfde sak, en al die saadkorrels is van dieselfde kwaliteit.

Dus, as die saadkorrels op een plek nie opkom nie en op ‘n ander wel, is dit nie die saad se skuld nie.

As die koringaar op die een plek maar verlep lyk en op ‘n ander plek gesond en sterk, lê dit nie aan die saad nie.

Dit lê aan die plek waar die saad tereg gekom het.

Die saad is die Woord van God.

En die Woord is volmaak.

Dit staan voorop, en dit is die eerste wat Jesus noem, as Hy die gelykenis aan sy dissipels verklaar.

 

Die Woord van God gaan dus uit oor die aarde.

Christus is die Saaier, Hy bring die Woord.

Christus het ook saaiers in diens, wat sy Woord predik en uitstrooi tot die eindes van die aarde.

Maar, en dit is die boodskap in hierdie gelykenis, die saadkorrels, die Woord, is dieselfde.

Niemand kan, as hy verlore gaan, Christus verwyt, omdat Hy as Saaier lae kwaliteit saadkorrels gebruik het nie.

En, gemeente, tot op vandag saai Christus hierdie selfde Woord oor die hele aarde.

Sy Woord gaan uit, en dit keer nie leeg tot Hom terug nie (Jes 55:11), al dra dit nie op alle plekke vrug waar dit gesaai word nie.

 

Op ‘n dag soos vandag, Nagmaalsondag, kyk Christus na sy koringland.

Hy geniet van die vrugte wat gedra word, honderd-, sestig-, dertigvoudig.

En uit die vrugte kry ons opnuut sekerheid, dat sy Woord in ons werk, want anders sou ons nie vrug kon gedra het nie.

Die saad, sy Woord, is volmaak, dit is kragtig, dit bekeer die hart, dit verander die hart van klip in ‘n hart van vlees.

Kom ons dank Christus, gemeente, dat sy Woord in ons lewe verkondig word, en dat dit werksaam is en vrug dra.

Die Woord laat geloof, vertroue in Christus, in ons ontkiem.

En die nagmaal, as sakrament, versterk ons geloof.

Dis soos wanneer die saaier sy land besproei, waardeur die koringare weer nuwe krag kry, en nog meer vrug begin dra.

 

Maar wat ons vervolgens sien in die gelykenis, is dat die reaksie op die Woord verskillend is.

Christus noem vier verskillende plekke waar die saad val, en wat die reaksie op elke plek is.

Weer eens, op elkeen van hierdie plekke saai Christus, die Saaier, dieselfde saad.

Dit lê dus nie aan sy Woord dat sommige mense gelowig word en toegewyde lewens begin lei, en ander nie by daardie punt uitkom nie.

 

Christus begin met die ergste voorbeeld, dit is die saad wat op die pad val.

Die grond is daar nie sag en omgeploeg nie, dit is vasgestrap deur die voete van mense en pote van diere, en deur die wiele van waens.

Die korreltjie het geen kans om wortel te skiet nie.

Erger nog, daar waar dit op die pad lê, is dit perfek sigbaar vir die voëls, wat dan ook dadelik kom om dit op te pik.

Jesus se verduideliking is eenvoudig.

Hierdie mense hoor wel die Woord, maar die duiwel trap met sy pote direk daarop, en soos ‘n voël pik hy dit direk weg.

Die evangelis Mattheüs noem ook: hierdie mense hoor wel die Woord, maar verstaan dit nie.

Nou dis nie omdat die Woord aan hulle in ‘n vreemde taal verkondig word, dat hulle dit nie verstaan nie.

Dit is omdat daardie mens ‘n sondige hart het, omdat die duiwel vrye toegang tot daardie persoon se hart het.

Onmiddelik kan die duiwel kom en die Woord uit hierdie mense se hart wegneem.

Die saad kan nie eers begin wortel skiet nie.

 

Nou moet ons nie outomaties dink, gemeente: by hierdie groep mense hoort ek darem nie.

Want by elke groep wat Jesus hier beskryf, is daar ‘n boodskap ook vir ons.

Van nature is ons presies soos hierdie mense.

Saam met Adam en Eva het ons in sonde geval, ons het die Satan vrye toegang tot ons hart gegee, terwyl ons ons ore toestop om nie die Woord te hoor nie.

Van nature is my hart ‘n harde pad, waar geen saadjie ooit sal kan ontkiem nie.

Hierdie groep mense is nie net die buite die kerk, buite die verbond nie.

Hierdie Bybelgedeelte begin met die opmerking dat ‘n groot menigte bymekaar gekom het om na Jesus te luister, so baie dat Jesus in ‘n boot geklim het, sodat die mense Hom nie verdring nie.

Verreweg die meeste van hierdie mense, kan ons aanneem, was Jode.

Hulle was binne die verbond.

Hulle het almal saam die akker gevorm daardie dag, waarop die saad van die Woord gesaai is.

Hulle was almal gretig om na hierdie Wonderdoener te kom kyk, maar was hulle ook bereid om werklik na Hom te luister?

Byvoorbeeld die Fariseërs het hulle ore toegestop vir die Woord wat Hy gebring het.

Deur sy prediking, deur hierdie gelykenisse, het Jesus die skape van die bokke begin skei.

En dieselfde kan met ons, wat hier in die kerk sit, gebeur.

 

Ons kom nou by die tweede plek waar die saad geval het.

Dit was op die rots.

Dit het daar wel opgekom, maar omdat daar geen vogtigheid was nie, het dit verdroog.

Markus skryf, daar was wel ‘n lagie grond, dus die saad het het dadelik opgekom, maar die grond het geen diepte gehad nie.

Mattheüs skryf, toe die son opgaan, het die plantjie verskroei, want die wortels kon nie dieper groei agter die water aan nie.

Hierdie mense, sê Jesus, glo vir ‘n rukkie, maar sodra ‘n tyd van versoeking kom, val hulle af.

Versoeking dui hier spesifiek op ‘n tyd van verdrukking of vervolging ter wille van die Woord (Mark 4:17).

Ook hier gaan dit nie outomaties oor buitekerklikes nie.

Tye van verdrukking of vervolging is vir ons ook tye waarin ons geloof beproef word.

As jou werk van jou verwag om iets te doen wat nie strook met die Woord nie ...

As iemand anders jou in vertroue neem met ‘n lasterstorie ...

As iemand jou betrek in iets wat in wese diefstal is ...

Daar kan so baie voorbeelde genoem word, waar jou geloof in verdrukking kom, in die sin dat dit wat God se Woord van jou verwag, bots met wat jou omgewing van jou verwag.

En hoe gaan jy kies?

En dan praat ons nog nie eers oor direkte vervolging nie, want dit noem Jesus ook.

Hierdie is rotse, klipbanke, wat die geloof laat verdroog.

Weer eens, daar is niks fout met die saad nie.

Dit is die omstandighede waarin die Woord teregkom op aarde, waar die oorsaak lê.

Soos die uitdrukking sê, daar word op harde rotse geploeg.

 

Christus noem nog ‘n groep.

Die goeie saad van die Woord beland tussen die dorings.

Ja, die saad kom op, maar dit het kompetisie.

Die vogtigheid in die grond word opgeëis ook deur die onkruid, die dorings.

En dit geld ook vir die sonlig.

En gaandeweg word duidelik dat die dorings, die onkruid, vinniger groei, met die gevolg dat die koringaar verstik.

Nou hierdie dorings, sê Jesus, is die sorge van hierdie wêreld, en rykdom en genietinge van die lewe.

Die begeerte na ander dinge, skryf Markus (Mark 4:9).

Ook hier gaan dit nie net oor mense buite die kerk, mense wat nie die tyd kan uitspaar om kerk toe te kom, omdat hulle nog so baie dinge op hulle wenslysie het om af te tiek, of mense wat nie geld oorhou om aan die kerk te gee nie, omdat hulle stokperdjies te veel geld insluk, of dalk mense wat in elk geval so arm is, dat hulle voel hulle kan geen sent mis nie, of mense wat so besig is in hulle beroep, en daarom beswaarlik in die kerk kom, en so kan mens aangaan en aangaan met voorbeelde noem.

Maar aan die einde van die dag word sigbaar dat al hierdie ander dinge, of dit nou rykdom is, of alle genot wat die wêreld te biede het, of ‘n baie besige beroepslewe, of die sorge om kop bo water te hou, wat dit ook mag wees, al hierdie dinge is soos dorings en distels wat die koringaar van die geloof laat verstik.

Broer en suster, herken u nie ook baie hiervan in u eie lewe nie?

Hoe dikwels moet ons onsself net weer tot die orde roep, die prioriteite in ons lewe weer reg kry, al die onkruid uittrek wat die lewe in diens van die HERE begin verstik.

Uit onsself het ons niks om onsself op te beroem nie.

Ons is dikwels bekommerd oor hoe ons ‘n bestaan gaan maak in die toekoms in hierdie land.

Maar besef ons ook dat al ons sorge oor die materiële kant van die lewe, juis ook by ons die geloof kan laat verstik?

 

Jesus sluit sy gelykenis af met die saad wat in die goeie grond geval het, waar dit kon groei totdat dit begin vrug dra, selfs honderdvoudig.

Uit een koringkorrel kom ‘n halm te voorskyn waaraan honderd nuwe koringkorrels hang.

‘n Wonder op sig.

En ja, dit is ‘n wonder as daar mense is wat nadat hulle die Woord gehoor het, dit verstaan (Matt 13:13), dit aanneem (Mark 4:20), dit in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.

En juis op hierdie Nagmaalsondag mag ons Christus dank, omdat die velde wit is om te oes.

Sy Woord het nie leeg tot Hom teruggekeer nie.

Dit het vrug gedra, ook in ons midde.

Dalk nie by almal honderdvoudig nie, dalk by sommiges dertig- of sestigvoudig.

En soos ek alreeds genoem het, elke voorbeeld wat Jesus in sy gelykenis noem, waar die saad tereggekom het, is op ons lewe van toepassing.

Dit maak ons nederig, bring ons tot selfverootmoediging.

Maar met dankbaarheid mag ons ook sê dat hierdie laaste voorbeeld ook op ons van toepassing is.

Christus se Woord het ook vrugte voortgebring in ons lewens.

Dit is klaarblyklik so dat in ons lewens daar ook vrugbare grond is.

En dit is nie ‘n rede om hoogmoedig te word nie.

Want die simpele vraag, wie die grond voorberei het sodat dit vrugbaar geword het, maak ons nederig.

Soos ons uit ‘n ander gelykenis leer: Christus is die Tuinier (Luk 13:6-9).

Hy het die grond omgespit, Hy het mis gegooi.

Ja daar is niks wat ons het wat ons nie gegee is nie.

Dit maak ons diep dankbaar.

Dit laat ons nagmaal vier, met die oë gerig op Christus, Hy wat die Woord in ons lewe gesaai het, en Hy wat deur sy Gees die saad laat ontkiem en vrug dra in ons lewe.

 

Nou is daar nog een ding, gemeente, waaraan ek nie aandag bestee het nie.

Dit is die verduideliking van Christus hoekom Hy gelykenisse vertel.

Aan julle, sê Hy vir sy dissipels, is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken, maar aan die ander dat hulle siende nie sien nie, en al horende nie verstaan nie.

Dit klink nogal hard.

Jesus het selfs daarby gevoeg, soos deur Markus opgeskryf: sodat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie (Mark 4:12).

En in Mattheüs 13 staan daar ook nog by hierdie gelykenis: “hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.” (Mat 13:12)

Hierdie uitsprake van die Here Jesus is nie maklik om te verstaan nie.

Ons sal dit moet uitlê in die konteks van wat wel duidelik is in Christus se onderwys.

Dink aan die gelykenis van die talente – daar was hulle wat daarmee gewoeker het, daar was hulle wat dit begrawe het (Matt 25:18).

Ook moet ons dink aan Christus se konfrontasie met die Fariseërs.

Ook aan hulle is die Evangelie verkondig, reeds vanaf Johannes die Doper.

Maar daar het ‘n tyd gekom, toe hulle dit aanhoudend begin verwerp het, dat dit oor en uit was.

Die gelykenisse het soos ‘n tweesnydende swaard gewerk.

Die wat heilsbegerig was, het agtergebly en wou meer hoor.

Die ander het hulle vererg en wou nie verder luister nie.

Dit was nie die gelykenis wat die waarheid onbereikbaar gemaak het nie, dit was die trotse harte wat nie verder wou luister nie, wat nie heilsbegerig was nie.

 

Geliefde gemeente, julle wat hier in die kerk sit, julle is soos die dissipels.

Julle is bevoorreg om ook die verduideliking van hierdie gelykenis te hoor.

Ons mog die verduideliking selfs sien en proe met die nagmaal.

Aanvaar dit, laat die saad van die Woord ‘n edele en goeie hart in jou plant.

Vra of Christus met sy Woord naby jou sal bly, sodat jou geloof nie deur dorings verstik gaan word, of deur ‘n rots oppervlakkig gaan word, of deur ‘n harde pad van ongeïnteresseerdheid van jou af weggeneem gaan word nie.

In Christus mag, ja moet ons, aanhou groei en vrug dra.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Lukas 8:4-15

Teks: Lukas 8:4-15

Om hierdie preek te verwerk, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Waarvoor staan die saad in die gelykenis van die saaier?
  2. Hoe is dit wat Jesus vertel met die voorbeeld van die saad wat op die pad geval het, op jou lewe van toepassing?
  3. Hoe is dit wat Jesus vertel met die voorbeeld van die saad wat op rotsagtige grond geval het, op jou lewe van toepassing?
  4. Hoe is dit wat Jesus vertel met die voorbeeld van die saad wat tussen die dorings geval het, op jou lewe van toepassing?
  5. Hoekom het die Here Jesus gelykenisse gebruik om die mense te onderrig?
  6. Wat het die vrugbare grond met die nagmaal te make?

 

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 66:1

Wet

Ps 126:1,3

Gebed

Nagmaalsformulier 

Gebed (afgesluit met Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing) 

Nagmaalsviering

          Skriflesing: Lukas 8:4-15

          Sb 7:1,8,10

Lofverheffing

Dankgebed

Teks: Lukas 8:4-15

Preek

Ps 89:6

Gebed

Kollekte

Sb 43:4,5

Seën