Wysheid en dwaasheid se teenstrydige visies vir die daaglikse arbeid.

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-01-30
Text: 
Spreuke 6, 24, 26
Reference: 
Leer en laat leer 4
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

“Vele hande maak ligte werk” – is hierdie gesegde waar? O, vir seker! As die koster elke Sondag alleen die stoele onder die afdak moet uitpak, vat dit baie tyd. Maar as tien mense hom help, is dit sommer vinnig gedoen. Goed, maar wat dan van hierdie een: “Te veel kokke bederf die sous” – hier het ons presies die teenoorgestelde: as te veel mense dieselfde taak probeer verrig, dan veroorsaak dit net moeilikheid. Maar is dit dan óók waar? Ja, dis ook waar. ‘n Ander voorbeeld: “Uit die oog, uit die hart” – ons weet almal dat as iemand weggaan, dit nogal maklik kan gebeur dat jy van hom of haar vergeet. Maar wat dan van die gesegde “afwesigheid laat die verlange groei”? Is dit óók waar? Wel, vra maar vir ons jongmense wat in ‘n langafstand-verhouding is; hulle sal ongetwyfeld ja sê. Twee voorbeelde van gesegdes, wat die teenoorgestelde van mekaar beweer – en tog altwee waar is. Spreuke self gee vir ons nog ‘n voorbeeld hiervan. Spreuke 26:4: “Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie...” Maar onmiddellik daarna in vers 5: “Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid...” Nou, hoe nou? Moet ons die dwaas antwoord of nie?

 

Welkom, broers en susters, in die wêreld van die Spreukeboek. Ons het tot dusver in drie preke gekyk na ‘n paar lyne uit die inleiding (hoofstukke 1-9), en vandag kom ons by die egte spreuke – daardie kort, pittige uitsprake waarvoor die boek so bekend is. Maar voordat ons hiermee wegspring, is dit só belangrik dat ons eers die eie aard van hierdie uitsprake sal verstaan. Al te maklik kan ons hulle lees vir iets wat hulle nie is nie! In die eerste plek moet ons die spreuke nie lees asof dit wette is nie. ‘n Eenvoudige voorbeeld – wanneer ons in hoofstuk 19:6 lees: “die man van geskenke het ‘n hoop vriende”, dan moet ons nie daaruit die bedekte opdrag aflei dat ons gereeld en genoeg geskenke moet uitdeel nie! Dis nie hoe ons die spreuke moet lees nie. Die spreuke is in die meeste gevalle die gevolg van die spreukedigter se observasie van die werklikheid; die spreukedigter kyk na die wêreld om hom heen, en hy beskryf eenvoudig wat hy sien; hy beskryf die dinge soos dit ís. En soos die dinge is, kan in sommige gevalle natuurlik lei tot die gevolgtrekking: o goed, so moet dit ook wees (‘n opdrag, dus), maar dis nie altyd so nie. Daarom is die spreuke nie wette nie, en ons mag ook nie wette daarvan maak nie.

Die spreuke is, in die tweede plek, ook nie beloftes nie – beloftes in die Bybel (soos byvoorbeeld: elkeen wat in Christus glo se sondes sal vergewe word) geld oral en in alle omstandighede. Maar dit geld nie van die spreuke nie. Dink, byvoorbeeld, aan die spreuk wat ons vind in hoofstuk 22:6: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud geword het, daar nie van afwyk nie.” Almal van ons verstaan dat hierdie spreuk nie ‘n belofte is wat altyd en oral geld nie; hierdie spreuk help ons eerder om te verstaan watter belangrike rol ouerlike opvoeding in die lewe van ‘n kind speel, maar dit is geen waarborg dat kinders nooit daarvan sal afwyk nie – die kind het naamlik ook ‘n eie verantwoordelikheid. Of wat van die spreuk ‘vereer die Here uit jou goed ... dan sal jou skure vol word van oorvloed’ (Spr. 3:10) – ons almal verstaan dat dit nie beteken dat kinders van die Here altyd materiële welvaart sal beleef nie. In albei hierdie gevalle vertel die Spreukedigter wat dikwels in die praktyk gebeur: tipies sien ons dat kinders, wat goed opgevoed is, op daardie goeie pad sal bly wanneer hulle volwasse geword het; tipies sien ons dat mense wat die Here dien, geseën word op materiële gebied. Nie altyd nie, maar deurgaans.

Dus, die spreuke is nie wette nie, en dis ook nie beloftes nie. Die spreuke verwoord ‘n observasie van wat in die lewe van elke dag gebeur, ‘n eenvoudige moment-opname. En – baie belangrik! – die onus lê op ons om te onderskei waar en wanneer en hoe dit toegepas moet word. Wysheid is nodig om te weet wanneer om die dwaas wel te antwoord en wanneer om hom nie te antwoord nie. En as jy daardie wysheid nie het nie, dan word die spreuke nutteloos: “Soos die bene van ‘n lamme slap afhang, so is ‘n spreuk in die mond van die dwase” (Spr. 26:7); dus, wanneer ‘n dwaas met hierdie spreuke begin werk, dan help dit hom niks nie – want hy weet nie hoe nie. Wysheid – wat ons slegs verkry in die vrees van die Here (1:7, 9:10) – is nodig om te weet hoe om die Spreukedigter se observasies goed en reg toe te pas.

 

Goed, dit was belangrik dat ons net ‘n paar oomblikke spandeer aan hierdie saak: wat is die eie aard van die spreuke, hoe lees ons hulle, en hoe pas ons hulle toe? Nou, soos u waarskynlik weet, is die kort en pittige spreuke vanaf hoofstuk 10 redelik lukraak aanmekaar geryg. Daar is in die Spreukeboek (behalwe die oorhoofse struktuur) nie naastenby soveel struktuur soos wat ons in ander Bybelboeke vind nie. So, in plaas daarvan om hoofstuk vir hoofstuk deur die res van die boek te gaan, wil ek dit eerder tematies deurwerk, en per tema kyk of ons die gegewens uit die hele boek bymekaar kan bring. Vandag wil ek kyk na die tema van arbeid.

Tema: wysheid en dwaasheid se teenstrydige visies vir die daaglikse arbeid.

  1. Die luiaard
  2. Die vlytige

 

1. Miskien is dit goed om dit wat die Spreukeboek ons leer oor arbeid eers in die lig te plaas van hoe God die daaglikse arbeid oorspronklik bedoel het. Die Skrif begin met God se werk van skepping. Maar na die skepping het dit nie opgehou nie, want – sê Jesus in Johannes 5:17 – “my Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Ons het dus ‘n arbeidsame God – ‘n God wat onverpoos arbei in skepping en onderhouding en verlossing. Nou, God het ons gemaak om sy beeld uit te straal, om iets van Homself in hierdie wêreld te weerspieël – onder andere deur óns arbeid. God het die mens die opdrag gegee om te bewoon, te bewerk en te bewaak – dit was (en is nog steeds) die mens se werk; vanaf die begin is die mens geroep tot arbeid. Ongelukkig het Adam se val die menslike arbeid skade aangedoen. Werk het in baie opsigte onaangenaam geword, omdat die mens nou te doen kry met die ‘dorings en die distels’ van ‘n vervloekte aarde – ons kry te doen met die sleur, die pyn, die moeite van die daaglikse arbeid. Maar dit maak arbeid op sigself nie sleg nie – die werk wat jy elke dag doen (of dit nou betaalde werk is, vir ‘n baas of in jou eie maatskappy, óf jou werk as moeder en tuisteskepper, óf jou skoolwerk), al hierdie arbeid is nie maar net ‘n noodsaaklike kwaad nie. Nee, dis deel van God se goeie skepping dat die mens ‘n taak gekry het, dat hy mag arbei op hierdie aarde. Sien jou daaglikse arbeid in hierdie lig!

 

Nou, hierdie agtergrond moet ons in gedagte hou wanneer ons die Spreukeboek se behandeling van arbeid ondersoek. En dan bring dit ons in die eerste plek by die persoon van die luiaard. Die luiaard is sekerlik die mees komieklike figuur in die Spreukeboek – hy word in hoofstuk 26 vir ons voorgeskilder as iemand wat bang is om uit te gaan om te gaan werk, want net dalk kan ‘n leeu hom opeet (26:13, 22:13); en soos ‘n deur wat ronddraai op sy skarniere, net so draai die luiaard homself elke keer weer om om nog ‘n bietjie verder te slaap (26:14); en wanneer die luiaard sy hand in die gemeenskaplike sous-skottel steek, dan is hy te lui om die kos van daar af na sy mond toe te bring (26:15, 19:24). ‘n Mens glimlag eintlik by jouself as jy hierdie beskrywings hoor. Maar dit is allesbehalwe snaaks, broers en susters. Die Hebreeuse woord vir luiheid (of ‘traagheid’ – dis die ander woord wat gebruik word) beteken letterlik ‘nalatigheid’ of ‘bedrieglikheid’. Die Here wil hê dat sy kinders betroubare mense moet wees, Hy wil hê dat hulle op hulle pos moet wees. Maar luiheid is onbetroubaarheid, dis bedrieglikheid. En daarom sien ons hoe in hoofstuk 15:19 die luiaard (die bedrieglike) teenoor die opregte geplaas word. So sterk voel die Here hieroor: luiheid wys onbetroubaarheid, bedrieglikheid; ywer en vlyt wys betroubaarheid, opregtheid.

 

En daarom word die luiaard in hoofstuk 6 na die miere verwys, sodat hy by daardie klein skepseltjies kan leer. Miere het nie ‘n aanvoerder of ‘n opsigter of ‘n heerser nie, daar is nie ‘n leier wat sê ‘doen sus’ of ‘maak so’ nie – en tog is hulle altyd bedrywig, altyd aan die werk (6:7). Dis iets wat lui mense volledig mis – daardie inisiatief, daardie innerlike dryf. Die luiaard sal net werk as hy geforseer word. Sodra die baas nie kyk nie, doen hy sy eie dinge. Wanneer sy baas uitstedig is, kom hy laat by die werk aan en klok hy weer vroeg uit. Hy doen die absolute minimum. Die enigste inisiatief wat hy toon, is om die soort verskonings uit te dink waarvan ons in hoofstuk 26 lees.

In teenstelling tot die miere wat hulle voedsel voorberei in die somer en voorraad opslaan in die oestyd (6:8), is die luiaard iemand wat altyd uitstel, sonder enige beplanning maar net voortgaan; daar is altyd nog môre: moenie vandag doen wat jy môre kan doen nie (dis sy motto). Met die gevolg dat ons in hoofstuk 20:4 moet lees: “In die herfs ploeg die luiaard nie; en verlang hy iets in die oestyd, dan is daar niks nie.” Ja, dis die gevolg as jy nie vooruit werk nie, as jy nie beplan nie, as jy net die minimum doen.

En in dit alles het die luiaard die mooiste praatjies: “Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie handevou om uit te rus” (6:9-10), en hy dink hy is baie slim wanneer hy sulke dinge sê. Ja, “die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord” (26:16). Maak nie saak of al die wyses van die wêreld vir hom vertel hoekom werk belangrik is en hoekom dit waardevol is om trou en hard te werk nie, hy reken steeds dat werk die genietinge van die lewe in die wiele ry. En daarom is die luiaard altyd besig om na maniere te soek om maklik inkomste te kry, om ryk te word sonder dat hy al te hard daarvoor hoef te werk; hy val vir elke word-gou-ryk ‘scheme’. Maar sê Spreuke: “Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het armoede volop” (Spr. 28:19); en: “In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek” (Spr. 14:23). Die luiaard jaag nietighede na (plannetjies om maklik ryk te word), en as jy na hom luister, dan is daar altyd praatjies, altyd plannetjies, altyd ‘n nuwe ‘scheme’...

 

Gemeente, dit alles het die Spreukedigter geobserveer, raakgesien. Ag, en sien ons nie vandag maar presies dieselfde nie. Die luiaard bestaan vandag nog. Jy ry verby sy huis, en dan lyk sy erf soos wat die Spreukedigter die luiaard se land beskryf: “kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi” (Spr. 24:30-31). Daar is geen onderhoud nie, die plek val uitmekaar uit. En natuurlik het sommige mense meer finansiële middele vir onderhoud as ander. Maar onderhoud is nie ‘n kwessies van finansies nie, maar van roepingsbesef; dit is ‘n kwessie van oortuiging dat die Here jou roep tot arbeid; dit is die besef dat ons God ‘n God van orde is, wat ook van ons vra om binne ‘n sekere orde te lewe. Maar wie dit nie doen nie, se lewe en eiendom val uiteindelik uitmekaar uit. Dis hoe verwoestend luiheid is, gemeente: “hy wat hom slap hou in sy werk, hy is ‘n broer van ‘n verwoester” (Spr. 18:9). Luiheid maak stukkend – dit maak huwelike en gesinne stukkend, dit laat besighede ondergaan, dit laat huis en tuin verval, dit bring armoede: “Hy word arm wat met ‘n trae hand werk...” (Spr. 10:4), en “een wat traag is, moet honger ly” (19:15).

Maar die Here het sy manier om die luiaard te dissiplineer, broers en susters. Hy laat die luiaard die gevolge van sy dwaasheid ervaar (armoede, honger), en die Here wil hê dat hy hieruit moet leer: “Die honger van die werksman arbei vir hom, want sy mond jaag hom aan” (Spr. 16:26). Ja, uiteindelik moet elkeen eet – en die Here gebruik hierdie mees basiese behoefte om die luiaard te laat verstaan dat arbeid (harde, daaglikse werk) die weg is na die verkryging van voedsel. Arbeid – die daaglikse werk – is die manier wat die Here bepaal het vir die verkryging van my brood en my vleis en my groente. En óns ondermyn hierdie doel van God en ons doen die luiaard skade aan as ons hom in sy kwaad sterk – as ons maar bly uitdeel sonder om die oorsaak vir die armoede te bepaal. Paulus sê immers in 2 Thess. 3:10: “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Juis op hierdie punt het ons diakens geweldig baie wysheid nodig om te onderskei tussen daardie hulpbehoewendes wat deur omstandighede buite hulle beheer hulpbehoewend geword het, en diegene waar armoede die gevolg is van luiheid, van onwilligheid om te werk, van onwilligheid om sekere werke te doen, van onwilligheid om vroeg uit die vere te wees en die geleenthede te benut. Dis wysheid waarvoor ons diakens steeds weer moet bid. En dis wysheid waarvoor elkeen van ons moet bid wanneer ons hulpbehoewendes in ons omgewing teëkom.

Gemeente, laat ons op die gebied van arbeid en dagtaak nie die weg van die dwaasheid bewandel nie. Luiheid word uiteindelik nie beloon nie. Moet ook nie onder die illusie lewe dat daar maklike en vinnige maniere is om geld te verdien nie. Ywer, vlyt en hardwerkendheid – dit is die weg wat die Here bepaal het. Dít is die weg van die wysheid!

 

2. Ook hier kan weer na die mier gaan kyk. Ja, die mier is aan die een kant die teenpool van die luiaard, maar aan die ander kant sien ons in die mier ook iets van die karakter van die wyse persoon. Die wyse persoon is hardwerkend. Hy neem inisiatief en het nie nodig dat ‘n baas die hele tyd oor sy skouer hoef te loer nie. Omdat die wyse persoon werk om God te behaag – en nie in die eerste plek mense nie – daarom werk hy ewe hard, of die baas hom nou dophou of nie (Ef. 6:6). En net soos die mier, só beplan die wyse persoon ook vooruit: “Die planne van die vlytige is net tot voordeel...” (Spr. 21:5). Daarom is dinge soos versekering, ‘n mediese fonds, ‘n pensionfonds – mits dit nie ons vertroue van die Here alleen aftrek nie – nie op sigself verkeerd nie. Daarin sit iets van beplanning, vooruit kyk – dinge waaroor die Spreukedigter allesbehalwe negatief oordeel.

Jongmense, leer hieruit wanneer julle voorberei vir ‘n loopbaan. Die jong wyse persoon kies ‘n loopbaan waarin hy sy gawes kan gebruik om sodoende in die behoeftes van homself en sy gesin te kan voorsien; hy volg die nodige opleiding; hy is bereid om onder te begin en sy pad op te werk; hy verkry die nodige vaardighede, hy werk hard. Hy maak seker dat sy werk in goeie orde is en hy sorg dat die gereedskap van sy vak goed versorg is: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee”, so leer die Spreukedigter ons immers (Spr. 27:23). En dit alles maak van die wyse persoon ‘n uitstaande vakman: “Sien jy ‘n man wat vaardig is in sy werk – hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie” (Spr. 22:29). Dit is een van die groot herontdekkings van die Reformasie – die waarde van roeping, die waarde van elke beroep, wat uitgevoer word voor die aangesig van die Here. Jy hoef nie ‘n geestelike te wees om God in jou beroep te eer nie; jy hoef ook nie een of ander gesiene beroep of hoë posisie te beklee nie. Nee, sê Maartin Luther, “as ‘n eenvoudige, rowwe werksman of skoenmaker in sy huis sit, selfs al is hy vuil en selfs al ruik hy na sweet, maar hy dink by homself: God het my as man gemaak, en Hy het my ‘n huis, ‘n vrou en ‘n kind gegee, en Hy het my opgedra om hulle lief te hê en vir hulle te sorg deur my arbeid – só ‘n man het God se Woord in sy hart. En ook al stink hy aan die buitekant, van binne ruik hy heerlik!”

Sulke mense, só observeer die Spreukedigter, sal oorvloed geniet: “die hand van die vlytiges maak ryk” (Spr. 10:4). Beteken dit dat alle hardwerkende mense baie geld het? Nee, maar onthou hoe die spreuke werk – dit beskryf die wêreld soos dit oor die algemeen daaraan toegaan. Van tyd tot tyd wen luiaards die Lotto; en sommige hardwerkendes staar droogte, werkloosheid en mediese ongeskiktheid in die gesin. Maar nogtans geld die beginsel: diegene wat hard werk, floreer normaalweg. Diegene wat hard werk, gee normaalweg die leiding (Spr. 12:24); diegene wat hard werk, word gerespekteer (Spr. 22:29); diegene wat hard werk, geniet van die vrug van hulle arbeid (Spr. 16:26); diegene wat hard werk, geniet ‘n soete slaap (Pred. 5:11).

 

Maar, broers en susters, laat die hardwerkendes onder ons nou nie selfvoldaan agteroor sit nie. So maklik, so subtiel word ons trots en vat ons die krediet vir ons harde werk en die sukses wat dit meegebring het. “Laat jou werk aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word” (Spr. 16:3). Vertroue, gemeente – sonder vertroue op die Here beteken ons harde werk niks nie. Waar die Spreukedigter ons aan die een kant waarsku – soms op ‘n komieklike manier – teen die gevare van luiheid, moet ons ook waak teen die ander uiterste. En dit is om van ons werk en ons loopbaan alles te maak, met verwaarlosing van ons huwelike en gesinne en die eredienste op Sondae. Gaan lees maar daardie ander wysheidsboek – Prediker – om te sien hoe ook dít uiteindelik ‘n gejaag na wind is. Moenie van jou werk jou afgod maak, en intussen ‘n geestelike luiaard wees wat nie tyd het vir die dinge van die Here nie; moenie jou geestelike lewe verwaarloos soos wat die luiaard sy lande verwaarloos nie. Ja, dit is mense wat die dissipline het om van hulle besighede ‘n groot sukses te maak, maar wat die dissipline mis om ‘n gesonde gebedslewe te beoefen. Dis mense wat, net soos die luiaard, allerhande verskonings het: Eendag sal ek by die kerk betrokke raak; ek kan nie nou in die amp dien nie of ek kan nie nou Bybelstudie toe gaan nie, want iemand moet die ekonomie aan die gang hou. Nee, doen jou werk in die vrees van die Here – dan mag jy sy seën verwag.

--------------------

Gemeente, wees wys met die wysheid en vind ‘n gesonde balans. Jongmense, probeer om nou al gesonde gewoontes van selfdissipline en hardwerkendheid aan te leer. Lui kinders, as hulle nie reggehelp word nie, kan sommer maklik luiaards word wanneer volwasse is.

Mammas en tuisteskeppers, julle het een van die mees uitdagende van alle beroepe – jy het daarvoor self-dissipline nodig, sonder dat jy daarvoor betaal word. As jy nie hierdie self-dissipline het nie, kan jou huis maklik soos die lande van die luiaard begin lyk. ‘n Lui, ongeorganiseerde huisvrou plaas ‘n groot las op haar man, en stel ‘n swak voorbeeld vir haar kinders. Aan die ander kant, as die tuisteskepper uitblink, soos die vrou van Spreuke 31, dan ontvang sy eer van haar man, haar kinders, en van God.

Ouer lidmate, bejaardes, arbeid eindig nie met aftrede nie. Die persoon wat nie langer vir geld hoef te werk nie, kan nie maar net sy lewe aan ontspanning en plesier wy nie, maar behoort ewegoed produktief in die Here se diens te wees. Daar is baie geleenthede om steeds in diens van die Here te wees – in die kerk en in die gemeenskap. Die senior jare kan van die mees produktiewe wees.

Gemeente, laat elkeen van ons – van jonk tot oud – werkers wees in die Here se diens. Ons werk vir Hom en tot sy eer, daarvoor het Hy ons gemaak. Maar op die sewende dag het Hy gerus. Dit mag ons vandag ook doen, rus in ons Here Jesus Christus wat die verlossingswerk volbring het. Rus – om na te dink oor ons arbeid. Hoe gaan ek môre my werk doen? Hoe lank gaan ek werk? Hoe pligsgetrou gaan ek werk? Mag die Here vir ons hierin sy wysheid gee.

Amen

Liturgie: 

Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Amen.

Sing Ps. 43:3 en 5

Wet (+ HK, Sondag v/a 111)

Sing Ps. 15:1 en 5

Gebed

Doopsbediening

  • Lees formulier
  • Bediening
  • Dankgebed
  • Sing Skr. 15:1 en 6 (staande)

Lees:    Spreuke 6:6-11

            Spreuke 24:30-34

            Spreuke 26:13-16

Sing Ps. 104:13 en 14

Preek

Amenlied Skr. 50:2 en 3

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 49:2 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.